Die Heilige Gees is die derde Persoon van die drie-enige God

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-10-30
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 11
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 11

Ds C Kleyn - Sondag 30 Oktober 2005

Lees: Johannes 14:16-19; 15:26-16:16; 1
Korinthiërs 2:10-16; Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 11.
Sing: Ps 139:1-3; Ps 143:8,9; SB 14; Apostoliese
Geloofsbelydenis; SB 24:6,7.

Tema: Die Heilige Gees is die derde Persoon van die
drie-enige God

  1. Hy is ’n Persoon
  2. Hy is ’n goddelike persoon
  3. Hy gaan uit van die Vader en die Seun
  4. Waarom hierdie belydenis so belangrik is

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Watter voorstelling het julle van die Heilige Gees? Dis nie so
moeilik om ’n voorstelling van God die Vader en van God die
Seun te maak nie. Die name Vader en Seun suggereer dat hulle
albei persone is. Die Seun van God het ook onder ons as mens kom
woon. Maar nou God die Heilige Gees. Hy word Gees genoem. Dit is
blykbaar tiperend vir Hom dat hy Gees is. En Gees beteken in die
Bybel ook asem of wind. Hy is so te sê die asem wat van die
Vader en die Seun uitgaan. Jesus se woorde aan Nikodemus in Joh 3:6-8
leer dat die Gees nie sigbaar voorgestel kan word nie. Daar sê
Jesus: “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit
die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou
gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy
wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en
waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.”
Die woord vir gees is dieselfde as die woord vir asem en wind.
Soos jy die wind nie kan sien nie, so is dit ook moeilik om die
Gees in beeld te kry.

Is die Heilige Gees dan wel ’n Persoon? Is Hy nie eerder
’n krag wat van God kom nie, ’n iets pleks van ’n
iemand nie? Sekere Skrifgedeeltes sou die indruk kan skep. Dink
aan Esegiël se visioen van die laagte vol droë bene. Daardie
bene kom weer tot lewe deurdat God gees in hulle gee. En dan sê
die Here tot sy volk: Ek sal my Gees in julle gee, dat julle
lewendig kan word (Es 37:1-14). Wanneer die engel die geboorte
van Jesus vir Maria aankondig, dan noem hy die Heilige Gees die
krag van die allerhoogste: “Die Heilige Gees sal oor jou kom
en die krag van die allerhoogste sal jou oorskadu” (Lk 1:35).
Handelinge 2 beskryf die uitstorting van die Heilige Gees op alle
vlees. Kan ’n Persoon uitgestort word? Die Heilige Gees word
ook as ’n vuur voorgestel in 1 Thess 5:19 wanneer Paulus ons
oproep: blus die Gees nie uit nie. Moet ons op grond van sulke
Skrifgedeeltes nie tot die konklusie kom dat die Gees net ’n
krag van God is, pleks van ’n Persoon nie?

Geliefdes, wanneer ons let op alles wat die Bybel oor die
Heilige Gees sê, dan word dit egter duidelik dat die Heilige
Gees inderdaad ’n goddelike Persoon is, net soos die Vader
en die Seun.

So verkondig ek vir julle:

Die Heilige Gees is die derde Persoon van die drie-enige God.

  1. Hy is ’n Persoon
  2. Hy is ’n goddelike persoon
  3. Hy gaan uit van die Vader en die Seun
  4. Waarom hierdie belydenis so belangrik is

Eers dan dat die Heilige Gees ’n Persoon is. Ons sien Hom
voortdurend as Persoon optree. In Joh 14-16 sê Jesus van die
Heilige Gees dat Hy sy dissipels alles sal leer en hulle aan
alles sal herinner; dat Hy van Christus sal getuig, dat Hy die
wêreld sal oortuig van sonde en van geregtigheid, dat Hy in die
volle waarheid sal lei, dat Hy sal spreek alles wat Hy hoor, dat
Hy Christus sal verheerlik en toekomstige dinge sal verkondig.
Iets wat net ’n krag is, kan al hierdie dinge nie doen nie.
In Handelinge lees ons bv van Hom dat hy getuig (5:32); dat Hy
spreek; dat Hy roep tot die amp, dat Hy Barnabas en Saulus
uitstuur (Hand 13:2,4); dat Hy Paulus en Silas verhinder om in
Asië die woord te verkondig (16:6,7). In Rom lees ons bv dat Hy
Jesus uit die dode opgewek het; dat Hy vir ons intree met
onuitspreeklike sugtinge (Rom 8:11, 26); dat Hy die offergawe van
die heidene heilig (Rom 15:16). In 1 Kor 2 lees ons dat Hy alle
dinge ondersoek; dinge openbaar; dat Hy weet wat in God is en dat
Hy ons leer (verse 10 -13). Al hierdie dinge kan net deur ’n
Persoon gedoen word.

Die Heilige Gees tree nie net as ’n Persoon op nie; maar
persoonlike eienskappe word ook aan Hom toegeskryf. Van Hom word
gesê dat hy ’n verstand het, ’n wil en gevoelens. Sou
Paulus van die liefde van die Gees kan praat as die Heilige Gees
net ’n krag sou wees? Sou van God gesê kan word dat Hy die
bedoeling van die Gees weet indien Hy nie ’n onderskeie
Persoon van die goddelike Drie-eenheid was nie Rom 8:27)? En hoe
kan ’n mens vir die Heilige Gees lieg en die Gees versoek
soos Ananias en Saffira dit in Hand 6 gedoen het? Kan jy die
Heilige Gees weerstaan, bedroef, smaad en laster as Hy nie
’n Persoon is nie? Kan jy sulke dinge doen aan ’n
onpersoonlike krag? Hoe kon bekeerlinge in die naam van die Vader
en die Seun en die Heilige Gees gedoop word, indien die eerste
twee Persone is en die laaste nie? Sou van die Here Jesus gesê
kon word dat Hy in die krag van die Heilige Gees na Galilea
teruggekeer het (Lukas 4:14) indien die woord Gees net krag sou
beteken? Die hele idee van daardie vers is dat die Heilige Gees
en sy krag van mekaar onderskei is. Hy het krag, maar is nie net
’n krag nie. So is daar ’n groot aantal verse in die
Bybel wat absurd sou wees as ons die woord Gees deur krag sou
vervang. Dis ook opvallend dat die Here Jesus in Joh 14-16 die
Heilige Gees nie as ’n onpersoonlik krag aan ons voorstel
nie, maar as ’n ander Trooster. Jesus belowe dat na sy eie
vertrek hierdie Trooster vir sy dissipels sal wees wat Hy vir
hulle was. Dis duidelik dat die Heilige Gees net so goed ’n
Persoon moet wees as Jesus self is. Die Gees moet immers Christus
se bediening op aarde voortsit as Christus se verteenwoordiger,
as die ander Trooster wat Christus se plek moet volstaan.

Nou die tweede gedagte: die Heilige Gees is nie net ’n
Persoon nie, maar ook ’n goddelike Persoon. Die Here Jesus
is God en dit sou verbasend wees as die Persoon wat Hy gaan stuur
om sy plek in te naam minder as dit sou wees. Wie sou vir sy
dissipels kan wees wat Jesus self was as Hy nie ook God is nie?
So is dit dan ook. Die Nuwe Testament gee ons vier duidelike lyne
wat wys dat die Heilige Gees God is, gelyk aan die aanduidings
wat ons gesien het met betrekking tot die godheid van Jesus
Christus.

Eerstens sien ons dat die Heilige Gees goddelike name ontvang.
Hy word God genoem. In Jes 6:8-9 hoor die profeet Jes die stem
van die Here God wat sê: Wie sal Ek stuur? Onmiddellik daarna
stuur die Here Jesaja met die woorde: Gaan sê aan hierdie volk:
hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk
nie ens. Paulus haal hierdie woorde aan in Hand 28:25-27. Daar
skryf Paulus dat dit die Heilige Gees was wat so gespreek het.
Die Heilige Gees blyk dus die Here te wees. Hy is God. Dieselfde
les kan geleer word deur Jer 31:33 met Hebr 10:15-16 te vergelyk.
In Jer 31 word die nuwe verbond deur die HERE aangekondig met die
belofte dat Hy die wet in hulle binneste sal gee en dit op hul
harte sal skrywe. In Hebr 10 word genoem dat die Heilige Gees
daardie woorde getuig. Daarom kan Petrus ook stel dat as jy vir
die Heilige Gees lieg, jy vir God lieg. Ons lees in Hand 5:3,4:
“Toe sê Petrus: Ananias, waarom het die Satan jou hart
vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die
grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue
gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie?
Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy
het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” Let daarop dat
Petrus hier die name Heilige Gees en God afwissel, hoewel hy nog
oor dieselfde persoon praat. Daarom kan Paulus ook sê dat as die
Gees van God in jou woon, jy ’n tempel van God is (1 Kor 3:16).

Die Heilige Gees ontvang nie net goddelike name nie. Hy blyk
ook goddelike eienskappe te hê. Wat van God alleen gesê word,
word ook van die Heilige Gees gesê. Niemand behalwe God is ewig
nie. Maar in Hebr 9:14 word die Heilige Gees die ewige Gees van
God genoem. Wie behalwe God is orals teenwoordig? In Ps 139 begin
Dawid om die Here aan te spreek. Daarna sê hy in vers 7:
“Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u
aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die
doderyk my bed, kyk, U is daar!” Dawid sê feitelik dat die
Gees oral teenwoordig is, nêrens kan hy God se teenwoordigheid
ontvlug. Dit kan nie van ’n skepsel gesê word nie.

God is alwetend. Die Heilige Gees blyk ook alwetend te wees.
Geen skepsel kan die dieptes van God ondersoek en weet nie. Die
Gees kan dit egter wel doen, want Hy is God. Ons lees in 1 Kor 2:
9,10: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in
die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het
vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees
geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes
van God.”

Gemeente, die Heilige Gees se godheid blyk ook uit sy
goddelike werke. Het God nie die mens gemaak nie? Tog hoor ons
Elihu sê: Die Gees van God het my geskape, en die asem van die
Almagtige maak my lewend.” (Job 33:4). Wie behalwe God kan
herskep? Tog lees ons in Ps 104:30 hoe die Gees die skepping
vernuwe, hoe Hy die saad elke jaar weer laat uitspruit en die
plante opnuut laat uitbot. Ons lees: “U stuur u Gees uit,
hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.”
Wie behalwe God kan dooies lewend maak en sondaars tot nuwe mense
verander? Tog word hierdie werk aan die Heilige Gees toegeskryf.

Ten slotte sien ons dat die Heilige Gees ook goddelike eer
toekom. In Mt 28:19 word die Heilige Gees op dieselfde vlak as
die Vader en die Seun geplaas: “Gaan dan heen, maak
dissipels van al die nasies, en doop hulle in die naam van die
Vader en die Seun en die Heilige Gees.” Dieselfde gebeur in
2 Kor 13:14: “Die genade van die Here Jesus Christus, en die
liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met
julle almal! Amen.”

Geliefdes, wie rustig die Skrifte lees kan nie anders as om
die Heilige Gees as ’n goddelike persoon te aanbid nie. Hy
word geken aan sy goddelike name, sy goddelike eienskappe, sy
goddelike werke en sy goddelike eer. Die Bybel is vol daarvan.
Die Heilige Gees is nie net ’n Persoon nie. Hy is God.

Nou die derde gedagte: die Heilige Gees gaan uit van die Vader
en die Seun.

Ons gaan eers daarna kyk dat die Heilige Gees “uitgaan
van” die Vader. Dis vir ons verborge, maar die Gees kom uit
die Vader uit. Maar van die Seun bely die kerk ook so iets: Hy is
deur die Vader van ewigheid af “gebore”. Sowel die Gees
as die Seun kom so te sê uit die Vader uit. Tog staan hulle
albei nie in dieselfde verhouding tot die Vader nie. En daarom
het die kerk twee verskillende woorde gekies: die Seun is gebore
uit die Vader, maar die Gees gaan uit van die Vader. Ons artikel
beklemtoon dat die Gees “nie gebore is nie”. Wat
presies die verskil tussen “gebore” en
“uitgaan” is, weet ons nie. Ons kan God nie deurgrond
nie. Tog leer die Skrif vir ons duidelik dat daar wel ’n
verskil is. Daarom is ons verplig om twee verskillende woorde te
gebruik. Dus uit eerbied vir die Skrif. Maar terselfdertyd erken
ons ons onmag om presies te weet wat die verskil is. Dit het God
nie aan ons bekend gemaak nie. Ons sien wel dat die uitdrukking
“gebore uit” goed pas by die naam “Seun”. En
dat die woord “uitgaan van” goed pas by die woord
“Gees”, wat “asem” beteken.

Die Heilige Gees gaan egter nie alleen uit van die Vader nie,
maar ook van die Seun. Hy word die Gees van die Vader genoem (Mt
10:20), asook die Gees van die Seun (Gal 4:6). In een sin sê
Jesus dat die Gees van die Vader uitgaan, en dat Hy, die Seun,
die Gees sal stuur. Hierdeur is dit ook duidelik dat die Gees van
die Seun uitgaan (Joh 15:26).

Waarom is dit so belangrik om te bely dat die Gees ook van die
Seun uitgaan? Om dit te ontdek, moet ons eers kyk na die
ontwikkeling van die Oosterse en Grieks Ortodokse Kerke. Hulle
glo wel dat die Gees uitgaan van die Vader, maar nie van die Seun
nie. Hulle plaas eintlik die Gees en die Seun langs mekaar. Maar
dan op só ’n manier, dat die twee min of meer onder die
Vader staan. Die Seun en die Gees is nie direk aan mekaar verbind
nie, want hulle kom elkeen afsonderlik uit die Vader uit. Hierdie
verkeerde leer het ernstige praktiese gevolge gehad. Daar staan
dan immers twee paaie vir die mens oop om in kontak met God te
kom: die pad van die Seun, én los daarvan die pad van die Gees.
Die Seun lei ons na God deur die Woord, deur suiwer preke. Maar
die Gees doen dit deur direk in ons harte te werk, los van die
Woord. Daardeur word godsdiens ’n saak van die gevoel. So
het die Oosterse kerke verval in oordrewe gevoelsvroomheid en
mistisisme. Hulle het gedweep met die Gees. Die direkte belewing
van die Gees sou alles beteken. Daarom het hulle dit nie meer so
belangrik gevind om die evangelie suiwer te preek nie. Want dis
tog alles slegs die buitekant. Dis baie belangriker of jy diep in
jou hart ’n vroom gevoel het. Dis ook geen wonder dat die
sektes al van vroeg af in die Oosterse kerke welig kon groei.

Ons glo nie aan twee afsonderlike paaie na God die Vader toe
nie. Daar is net één pad, en dis net Christus wat die Woord
genoem word. Die verkondiging van die Woord is net so goed gelaai
met die krag van die Gees as met die skatte van Christus. As daar
gepreek word, is die Gees aan die werk, maar Hy kry dit alles by
Christus (Joh 16:14,15).

Die strydpunt word aangedui met die Latynse uitdrukking
“filioque” = wat ook van die Seun uitgaan. Dit wys dus
na die Heilige Gees. Die Oosterse kerk ontken dit dus en daardeur
het ’n skeuring met die Westerse kerk in 1054 ontstaan, wat
tot vandag toe nie meer reggemaak kon word nie.

Nou die laaste gedagte: waarom hierdie belydenis van die
Heilige Gees as die derde Persoon van die Drie-enige God so
belangrik is.

Sonder die Heilige Gees as goddelike Persoon sou daar in
hierdie wêreld geen evangelie wees nie, geen geloof, geen kerk,
geen Christendom nie.

Eers dan sonder die HG sou daar geen evangelie, geen Nuwe
Testament wees nie. Wanneer Christus die aarde verlaat, vertrou
Hy sy saak aan sy dissipels toe. Hulle moet as sy getuies uitgaan
en alle volke tot sy dissipels maak. Die dissipels blyk egter
slegte leerlinge te wees. Hulle verstaan Christus se onderrig
dikwels nie. Sou Christus hulle aan hul lot oorgelaat het, wat
sou dan van hul getuienis geword het? Christus stuur egter vir
hulle die Heilige Gees om hulle in die volle waarheid te lei, om
hulle vir dwaling te bewaar, om hulle te herinner aan alles wat
Hy hulle geleer het en om aan hulle alles wat hulle nog moet weet
bekend te maak. Die Gees sal van Christus getuig en Christus
verheerlik. Die belofte is dus dat die dissipels deur die Gees
met een mond en met gesag God se Woord sal spreek oor die
Christus, net soos die Ou Testamentiese profete dit gedoen het.

Dit het dan ook so gebeur. Die Gees het volgens die belofte
die dissipels in die volle waarheid gelei. Wanneer Paulus oor die
heerlikheid van die evangelie van redding in Christus praat sê
hy: “God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar ... Ons het
ontvang ... die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God
ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met
woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met die wat die
Heilige Gees leer” (1 Kor 2:9-13). As die Heilige Gees net
’n skepsel was, sou Hy nie in die volle waarheid kon gelei
het nie. Ons sou dan nie seker kan wees dat wat Hy spreek werklik
die Woord van God is nie. Maar nou Hy ware en ewige God is, het
die Heilige Gees ons die Bybel gegee, die evangelie, die Ou en
Nuwe Testament. As die onfeilbare woord van God. Indien die HG
nie God was, sou die Bybel waardeloos wees.

Sonder die HG sou daar ook geen geloof, geen kerk en geen
Christendom wees nie. Ons is van nature dood in ons sondes. In sy
gesprek met Nikodemus wys Christus daarop dat niemand die
koninkryk van God kan ingaan nie tensy hy weer gebore word, uit
water en Gees. Die Gees open my geslote hart, verlig my
verduisterde verstand, versag my wil sodat ek die evangelie, wat
ek van nature afwys, aanneem. Die Gees vernuwe my hart en lewe.
Dis net iets wat God kan doen.

Niemand kan die waarheid van die Christelike geloof deur eie
argumentasie bewys nie. Dit kan net die Heilige Gees doen. Net
God die Gees kan ’n mens oortuig van die waarheid die
evangelie van Christus. Moenie dit vergeet nie. Net die Gees kan
geloof gee. Gestel dat die Gees nie God sou wees nie. Dan sou
elkeen van ons nog dood in ons sondes wees. En as ek nie tot
’n nuwe lewe opgewek is nie, dan kan ek nie glo nie, want
geloof leef nie in dooie harte nie. Dan sou daar dus geen geloof
wees nie, geen kerk en geen Christendom nie. En sonder geloof is
daar ook geen redding nie.

Laat ons dan die Heilige Gees aanbid as die derde Persoon van
die drie-enige God. Aanskou sy werk. Aanvaar sy getuienis van die
volle waarheid in die gesaghebbende woord van God. Laat jou
daardeur lei. Laat jou hart en lewe daardeur vernuwe. Laat die
Gees meer en meer die toon in jou lewe aangee. Dan sal jy geniet
van die vrug van die Gees soos liefde, blydskap en vrede.

Ons bely met die Geloofsbelydenis van Nicea: Ons glo in die
Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader
en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid
en verheerlik.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)