As jy noukeurig let op die kerk, dan sal jy die Here loof.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-10-16
Teks: 
Psalms 48
Preek Inhoud: 

Psalm 48:13-15

Ds C Kleyn - Sondag 16 Oktober 2005

Lees: Openbaring 21:9-27; Psalm 48.
Sing: Ps 148:1,5; Ps 113:1,2; SB 45:1,10,12; Ps
48:1,5; Ps 123:1.

Tema: As jy noukeurig let op die kerk, dan sal jy die
Here loof.

  1. let goed op
  2. loof die Here

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Juis nou terwyl die IKGK hier gehou word, is dit goed om na te
dink oor die kerk en God daarvoor te loof. In Ps 48 word die kerk
aangeprys. Daar word gesing van die heerlikheid van die kerk.

Die heerlikheid van die kerk? Is dit ’n werklikheid? Is
die kerk werklik mooi? Baie mense beskou die kerk eerder as
’n deurmekaarspul, as ’n puinhoop. Kyk na al die
verdeeldheid, al die liefdeloosheid, die gemors van mense. Sou
ons nie eerder moet huil oor die kerk, kla oor haar ontrou, haar
verval, haar verdeeldheid nie?

Sommige mense sien geen toekoms vir die kerk nie. Hulle is
teleurgestel in kerkmense, in die ampsdraers van die kerk en in
haar dienste. Die kerk sou jou slegs verhinder in jou
geloofservaring. Hulle soek dit in die vrye groepe bv groepe met
’n charismatiese inslag. Hulle dink: so lank as jy maar
’n persoonlike verhouding met God het. Jy het die kerk
daarvoor nie nodig nie. God en die kerk word van mekaar geskei.

Geliefdes, wat is so opvallend in Ps 48? Dit: God en sy kerk
word nou aan mekaar verbind. Waaroor gaan die Psalm? Gaan dit oor
die Here of oor Jerusalem? Oor Sion se God of oor God se Sion?
Dis moeilik om te sê. Ons hoef ook geen keuse te maak nie. God
en Sion behoort by mekaar. Niemand mag die twee uit mekaar ruk
nie. Jerusalem is mos die kerkstad, die stad van ons God. So sing
die Psalm van die heerlikheid van Sion se God en van die
heerlikheid van Sion, die stad van God. Die lof is gelyktydig vir
God en vir sy stad. Die Here is groot en baie lofwaardig, vers 2,
en: Skoon is die berg Sion, die stad van die groot Koning, vers 3.
As jy jou God wil loof, sal jy ook sy stad, sy kerk, liefhê.
Tegelykertyd, as jy die kerk liefhet, sal jy die Here loof.

Ek verkondig vir julle: as jy noukeurig let op die kerk, dan
sal jy die Here loof.

  1. let goed op
  2. loof die Here

Geliefdes, is dit nie vreemd om te sing van die skoonheid van
die kerk nie? Tog nooi die Koragiete jou met entoesiasme uit om
’n toer rondom Sion te kom maak. Hulle wil graag jou gidse
wees om jou Jerusalem te laat sien. Kyk na die torings daar. Kyk
hoe baie daar is. Vergeet nie om te let op sy skanse nie, die
walle wat as versterking rondom die stad opgewerp is. Sien jy
daar die paleise, die versterkte geboue van prominente burgers?
Stap rustig rond. Neem die tyd om alles goed te bekyk. Prent dit
in in jou geheue.

Maar geliefdes, is wat jy sien dan so uitsonderlik? Torings,
skanse en paleise is ook in ander stede te vinde en dan nog
groter en mooier. Wat is Jerusalem in vergelyking met die groot
stede van die wêreld, bv vergeleke met Babel? In vergelyking met
die magtige en mooie stede is Jerusalem nie baie indrukwekkend
nie. En is die situasie vandag veel anders met betrekking tot die
kerk? As jy uitgaan van wat jy so op die oog af sien, dan beteken
die kerk nie baie in die wêreld nie. Geen massale, invloedryke
vergaderings nie. Niks besonders nie. Die eenvoudige vergaderings
van God se kerk word byna nie opgemerk nie. Dit trek nie die
aandag van die joernaliste nie. Die Maandag se koerante is vol
met ander dinge. Sport word as baie belangriker beskou. Is die
kerk dan so besonder?

Ja, sê die Koragiete: Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde
van die hele aarde is die berg Sion. Die kerk van Christus mag
ook die vreugde en heerlikheid van die hele aarde genoem word.
Hoekom? Wel, daar het jy die Here, die groot Koning. Sion is die
residensie van die groot Koning van die wêreld. God het Hom in
sy paleise bekend gemaak as ’n rotsvesting (vs 4). Vanweë
God se teenwoordigheid en hulp val Sion op as ’n veilige
rotsvesting, ’n sterk stad, onoorwinlik.

Ja, geliefdes, om dit te sien moet jy wel noukeurig kyk. Jy
moet goed oplet. Laat niks jou aandag ontglip nie. Anders sal jy
nooit Sion se glorie ontdek nie. Die torings, die skanse en die
paleise staan nie op sigself nie. Daar is ’n hele
geskiedenis aan verbonde, ’n hele geskiedenis van God se
bevryding en bewaring. God het daarvoor sorg gedra dat Jerusalem
in stand gebly het. In die verse 5-8 hoor ons die Koragiete
vertel hoe God die aanvalle van vyandelike nasies afgeweer het.
Vyande het planne gemaak om die stad te verwoes. Hulle het kragte
saamgespan en het saam opgetrek. Maar die Here het die
geallieerde magte verdryf. Sodra die Here op die toneel verskyn
het, het magtige leërs teruggedeins. Dapper soldate het skielik
gaan bewe van skrik. Hulle kon nie gou genoeg wegkom nie, hulle
het gevlug vir hul lewe. En die stad van God het ongedeerd gebly.

Ja, as jy die stad op daardie manier bekyk, dan sien jy sy
skoonheid. Wat ’n stad! ’n Goddelike wonder. Die
digters het die verhaal gehoor van God se magtige dade van
verlossing. Die vaders het daaroor gepraat. Hulle het daarvan
gelees in die heilige boeke. En hulle het dit ook met hul eie oë
gesien. God het sy stad bewaar. God het opnuut sy trou gewys. Hy
bevestig sy stad tot in ewigheid. As jy goed oplet dan kan jy nie
anders as om God te loof nie. Want in die stad wys God Homself in
sy heerlikheid.

So moet jy ook vandag goed oplet. Anders sal jy nooit die kerk
liefkry nie, laat staan dat jy ooit van die skoonheid van die
kerk sou kan sing. Wanneer jy vlugtig en oppervlakkig na die kerk
kyk, dan sien sy net mense, onvolmaakte mense, sondige mense. Kyk
maar na die broer of sus. Kyk maar na die dominee, die ouderling
of die diaken. Jy moes eers weet hoe hulle my behandel het of my
verwaarloos het. Kyk maar na die selfversekerde broer of suster.
Kyk maar na die pessimis wat vol twyfel rondstap. Kyk maar na die
opstandige broer of sus wat skynbaar nooit vrede met God se weg
kan maak nie. Kyk maar na die ondankbare lidmaat wat byna niks
anders doen as kla nie. Kyk maar na die onverstandige of
ongevoelige broer of suster wat sommer sê wat hy dink sonder om
rekening te hou met hoe die woorde oorkom, watter hartseer en
skade dit veroorsaak. Kyk maar na die oppervlakkige lidmaat, die
slappeling, wat behoorlik wêrelds oorkom. Ens ens. As jy net na
mense kyk dan sal jy nêrens kom nie. Jy sal heeltemal ontnugter
wees. Laat ons eerlik wees, elkeen moet maar by hom of haarself
begin. As ek na myself kyk, dan het ek genoeg rede om te kla. Ek
moet mos bely dat my lewe ver van volmaak is, soms selfs
aanstootlik. Nie iets waaroor jy ’n loflied sou ophef nie.

Broeders en susters, as jy vlugtig na die kerk kyk, dan sal jy
nooit die kerk werklik sien of verstaan nie. Dan sal jy net mense
sien, sondige mensekinders. Maar die kerk is nie net ’n
versameling van mense nie, nie ’n klub nie, gelyk aan enige
ander vergadering of geselskap nie. Nee, die kerk is die stad van
God. God se huisgesin. Daarom moet jy jou nie blind staar op
allerlei uiterlike dinge nie, deur net na mense te kyk nie.

Jy moet goed oplet om God se werk te ontdek. Spoor God se
voetstappe op, volg sy werk van vergadering en bewaring van sy
kerk. Dan sal jy in staat wees om jou in die kerk te verheug as
God se meesterstuk. Dan sal jy God se verkiesende liefde ontdek.
Dan sal jy sy krag sien waardeur hy nog steeds die harte en
lewens van mense vernuwe. Bly dit nie ’n wonder dat vyande
van God op hul knieë gebring word. Dis ’n wonder wat deur
God se Gees bewerk word. Vergelykbaar met die opwekking uit die
dood. Dis ’n nuwe geboorte van bo. Deur sy Gees open God
geslote harte en versag Hy harde harte. Hy keer lewens om. Hy
werk geloof en bekering.

As jy noulettend kyk, sien jy Christus dan nie besig om sy
kerk te vergader nie? Om sy kerk te bou op die fondament van die
apostels en profete? Op die fondament van die waarheid? Is dit
nie geweldig om te sien hoe Hy voortdurend besig is om mense in
sy gesin op te neem deur vir hulle geloof te gee. Hoe dikwels
gebeur dit ook nie dat kinders gedoop word nie. God lyf hulle in
in die christelike kerk. Hy bou sy kerk ook langs die pad van
huwelik en gesin. By hoeveel van die kinders sien jy ook nie
geloof en liefde vir God groei. So sien jy die gebou van God rys.
Ons is verbaas. Dis ’n wonder van God se verkiesing. ’n
Wonder van God se bewaring. ’n Wonder van God se Gees wat
lewend maak. Die kerk is mos nie ’n produk van mense nie.
Dis ’n huis van God, ’n woning van God in die Gees.

Broeders en susters, hoekom sien baie mense die skoonheid van
die kerk nie meer nie? Hoekom sien hulle slegs ’n
deurmekaarspul, ’n puinhoop? Het hulle wel goed opgelet? Het
hulle wel goed ag gegee op God se dade? Sy dade van bevryding en
bewaring? Sy werk van reformasie van die kerk? Die vyande was
altyd aktief. Hulle probeer om die kerk te verneder. Hulle
probeer om haar te laat val. Om haar te laat konformeer aan die
wêreld en opgesluk te laat word deur die wêreld. Maar keer op
keer het God tot haar redding gekom. Hy het die vyande gedwing om
hulle terug te trek. Hy het sy kerk gered. Hy het by die waarheid
bewaar. Hy het reformasies bewerk. Sodat die eenheid van die
geloof gehandhaaf sou bly. So onderhou Christus sy kerk in die
eenheid van die ware geloof.

Geliefdes, om dit te sien moet jy goed oplet, moet jy jouself
inspan om te kyk. Jy moet jouself op die hoogte stel van die
kerkgeskiedenis. Ongelukkig is daar vandag baie min kennis van
die kerkgeskiedenis. ’n Gevaarlike ontwikkeling. Want as ons
nie God se magtige dade raaksien nie, dan word ons kennis van God
vaag. Dan kan ek miskien baie oor Jesus weet, maar ek herken Hom
nie meer in aksie nie. Dan volg ek nie sy spore wat lei na sy
wederkoms nie, sy konkrete stappe van vergadering en bewaring van
sy kerk.

Geliefdes, let goed op God se werk. Verdiep jou in die
geskiedenis van die kerk. Ook al is dit op ’n eenvoudige
manier, jy sal geen spyt hê nie, tenminste as jy werklik in jou
God belangstel. Dit sal vir jou vreugde gee en bemoediging. Want
dit laat jou die stad van God sien, die kerk van ons Here Jesus
Christus, werklik ’n wonder. Ja, dit laat jou God self ook
beter in beeld kry. Dan sal jy wel nalaat om voortdurend oor die
kerk te kla, ook al is daar miskien groot bekommernis oor die
plaaslike gemeente. Dan bly jy nie steek in jou verdriet oor die
kerkskeurings, afskeidings, reformasies nie. Elke skeuring
veroorsaak inderdaad groot verdriet en pyn in persoonlike lewens,
in gesinne en in gemeenskappe. Onderskat dit nie. Woorde kan dit
nie beskryf nie.

Maar as jy goed oplet, dan sien jy meer en dan kan jy ook God
dank, ondanks die pyn van die skeiding. God het sy kinders in die
waarheid bewaar en Hy het ’n terugkeer na sy woord
bewerkstellig. Hy het reformasie gegee teenoor die deformasie,
die verval. Sou jy dan bly treur oor die nodige skeidinge wat
plaasgevind het? Ons treur wel oor ons sondes en tekortkomings
wat sigbaar geword het, ook in die situasie, tydens God se werk
van reformasie. Maar ons wil nie God vergeet nie wat die pad van
reformasie gewys het en wat mense op die pad gelei het. Hy wil
daarvoor geprys word. Hy wil die eer ontvang wat Hom toekom.
Daarom het ons die kerk lief. Daarom sing ons van haar
heerlikheid. Sou Christus in sy werk van kerkvergadering ’n
puinhoop daarvan maak? Hoe durf ons om dit te suggereer. Ons
mense is diegene wat die puinhoop teweegbring. So het selfs
Jerusalem by tye in ’n puinhoop verander.

Soms lyk daar min lewe en fleur in die sigbare kerk te wees.
Daar kan wettige redes wees om te kla. Kan jy dan nog met lof
praat van Christus se werk? Ja, ook in so ’n situasie kan
dit, want Christus gaan aan met sy Gees en Woord. Hy bly vir
homself ’n volk vergader wat tot die ewige lewe uitverkies
is. Hy bewaar altyd sy kerk deur die krisisse heen. Daarom is die
deurmekaarspul, die puinhoop ondraaglik. Jy kan jou nooit daarin
berus nie. Jy moet Christus volg in sy werk van kerkvergadering.
Met al jou wysheid en krag moet jy werk aan die herstel van die
mure, om weer iets moois daarvan te maak. In navolging van
Christus sal jy aan reformasie werk. Jy sal sy kudde soek waar sy
woorde van lewe te vinde is. Jy sal na die woord alleen terugroep.
Jy sal die eenheid in die ware geloof soek. Dit kan op ’n
sekere oomblik beteken dat jy moet breek met ’n
gedeformeerde kerk wat nie langer die naam kerk kan dra nie. Jy
kan nie gemeenskap bly onderhou met ’n gemeenskap wat die
stem van die goeie Herder Jesus Christus verag nie. Dink aan wat
Paulus skryf in 2 Kor 6:14-18. Laat ons dit saam lees.

Daarom is dit so erg dat mense bly sit in gemeenskappe waar
die waarheid en die leuen gelyke regte ontvang het, waar Christus
en Belial langs mekaar ’n plek ontvang het. Dit is
ondraaglik. As jy in so ’n situasie geen verwagting meer van
die kerk het nie, dan verwar jy twee dinge met mekaar. Jy is
besig om die gedeformeerde gemeenskap van mense met die kerk van
Christus te verwar. Die gedeformeerde gemeenskap het inderdaad
geen vooruitsigte nie, tensy dit homself reformeer. Die kerk van
Christus het egter altyd toekoms. As jy Christus in sy werk van
kerkvergadering volg, heel konkreet, sigbaar en hoorbaar deur sy
Gees en Woord, dan sien jy opnuut die lig. Jy is nie betrokke by
’n verlore saak nie. Christus self bevestig sy kerk tot in
ewigheid. Hy self sorg daarvoor dat dit voltooi word: mure van
jaspis en strate van suiwer goud. Hy is daarmee ingenome en laat
dit trots vir Joh sien: Kom, sê Hy, Ek sal jou die bruid toon,
die vrou van die Lam.

Sou ons dan nie noukeurig kyk nie? En ons daarin verheug nie?
Dan sal jy ook nalaat om te praat van my stad, my kerk. Sodra dit
my of ons kerk word, dan is dit nie meer kerk nie, maar ’n
menslike bedryf of klub. Die kerk is egter die stad van God, die
stad van die groot Koning. Hy is diegene wat besig is om die stad
so mooi en onoorwinlik te maak. As jy Jerusalem, die kerk,
liefhet dan sal jy ook die Here loof.

Dan sal jy uitroep: Halleluja, loof die Here. Dis wat gebeur
aan die einde van Ps 48. Waarom gee die Koragiete jou ’n
begeleide toer rondom Jerusalem? Waarom moet jy goed oplet, alles
goed opneem? "Sodat julle dit aan die volgende geslag kan
vertel" (vers 14). Wat moet jy dan aan die kinders vertel?
Wat jy gesien het natuurlik. Sion se veiligheid en skoonheid.
Maar wat is die belangrikste van dit alles? Luister maar na die
verse 14 en 15: "sodat julle dit aan die volgende geslag kan
vertel, dat hierdie God onse God is, vir ewig en altyd; Hy sal
ons lei tot die dood toe."

Ja, seuns en dogters, hierdie God is onse God. Jy leer Hom ken
uit sy werke. Kyk maar na sy stad, sy kerk. Hy is die God van
verkiesing. Uit al die stede van die wêreld het Hy die stad
Jerusalem uitgekies. Uit die hele menslike geslag het Hy vir
Homself ’n volk uitverkies. Hy verbind Homself met ’n
stad en ’n volk. Hoewel elkeen van ons die ewige dood
verdien het. Hy soek verlore sondaars soos ek en jou op. Hy wil
onse God wees. Hy wil met ons saamgaan. Dan sien jy iets gebeur.
Vyande lê jou voor. Hulle val aan. Hulle wil jou van God wegtrek.
Hulle wil jou laat val. Hulle wil God se handewerk stukkend maak.
Maar wat sien jy? God dryf die vyande terug. Hy hou jou vas.

Kyk maar na sy stad. Het Hy sy kerk nie bewaar deur alle
soorte krisisse heen nie? Ondanks die teenstand, bly die kerk
bestaan. Danksy God se ingryping, sy beskerming en bewaring.
Teenoor die verwoestende mag van die sonde het Hy sy groter mag
van bewaring gewys. Merk op sy trou en almagtige krag. Geen vyand
is te sterk vir Hom nie. Hy is die groot koning. Die Heerser van
die wêreld. Die Here van die leërskare. Wat legioene engele tot
sy beskikking het. Die God wat alle magte in hemel en op aarde
tot sy beskikking het. Vyandelike magte kan niks doen sonder sy
wil nie.

Wel, hierdie God is onse God. Ja, onse God. Wat ’n
magtige God het ons. Onvoorstelbaar groot en goed. Hoe het Hy sy
trou gewys. Sy trou teenoor sy volk. Die hele geskiedenis van die
kerk getuig daarvan. Jy kan altyd op Hom staatmaak. Hierdie God
is onse God vir ewig en altyd. Die onveranderlike God. Wat
dieselfde is gister, vandag en tot in ewigheid. Hy sal ons lei
tot die dood toe, tot die einde toe.

Wat wil jy nog meer? Wie sou so ’n Leier nie volg nie? So
’n Herder en Generaal? Sonder fout lei Hy ons na die groot
doel: die stad met twaalf fondamente, met sy mure van jasper en
sy strate van goud. Satan en sonde kan dit nie verhinder nie.

Broeders en susters, seuns en dogters, wie durf nog met
veragting oor die kerk te praat? As jy die Here liefhê, sal jy
ook sy kerk liefhê. En as jy die kerk liefhê sal jy jou God
loof. As jy noukeurig na Jerusalem, na die kerk, kyk, dan sal jy
die Here loof. Daarom: let goed op en loof die Here.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)