Die daaglikse omgang met die HERE

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-11-06
Teks: 
Spreuke 3
Preek Inhoud: 

Spreuke 3:5,6

Ds C Kleyn - Sondag 6 November 2005

Lees: Spreuke 3:1-18.
Sing: Ps 92:1,2; 119:1,2; SB 14 (na grootdoop);
Ps 105:5 (na kinderdoop); Ps 119:42,43; Ps 89:6,7 (na belydenis);
Ps 84:6.

Tema: Die daaglikse omgang met die HERE

  1. God se eis
  2. God se belofte

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe ervaar julle dit om kerk te wees? Hoe sien buitestanders
die kerk waarvan julle lidmaat is, ja, hoe sien hulle julle die
lidmate van die kerk? Daar is mense wat vind dat die kerk maar
een groot vertoning is. Binne die kerk sou daar baie
skynheiligheid wees. Lidmate wat dubbele lewens lei. Hulle sit
hier in die kerk, maar in die tussentyd, agter jou rug om, doen
hulle skandelike dinge. Kerk wees sou lyk op ’n soort
toneelspel. Die lidmate het hul rolle ingestudeer en speel saam.
Hulle doen wat van gereformeerdes verwag word. Daarom sit hulle
keurig in die kerk, 2 keer op ’n Sondag as dit kan. Daarom
neem hulle deel aan allerlei kerklike aktiwiteite. Maar dit is
dan ook alles. En dan durf hulle die mense aan te spreek wat nie
getrou is in daardie dinge nie. Hoe durf hulle, word gesuggereer.
Daardie sogenaamde afvalliges is tenminste eerlik, hoor jy mense
sê, hulle is opreg, hulle weier om die speletjie saam te speel.
Hulle weier om ’n mooi uiterlik vertoning te maak.

Broer, suster, seun, dogter, wat dink jy van so ’n
aanklag? Wat doen jy daarmee? Laat ons hierdie opmerkings nie
onmiddellik wegskuif nie. Laat ons terwille van God, sy kerk en
ons eie lewe hierdie klag ernstig opneem. Huigelagtige gedrag is
immers verskriklik vir die kerk en vir jouself. Dit kan selfs die
oorsaak daarvan wees dat mense weggedryf word, van die Here en sy
kerk weg. As die geloof en die kerk daaroor gaan dan wil hulle
liewer nie daarvan deel wees nie. Laat ons daarom onsself beproef.
Is dit moontlik waar dat ons soos toneelspelers net ons rolle
speel? Kan dit so wees dat ons skynheilig is, dat ons nie opreg,
van harte vir die Here leef nie, maar net maak asof? Die vrae is
ernstig genoeg. Dit raak die hart van die Christelike lewe. Dit
raak die hart van ons lewe in die verbond.

Vanoggend wil ek juis preek oor daardie lewe in die verbond.
Ek verkondig vir julle: die daaglikse omgang met die HERE

  1. God se eis
  2. God se belofte

Vanoggend het ons die voorreg om ’n aantal jong mense in
ons midde te hê wat openbare geloofsbelydenis wil aflê. Ons mag
ook die kinderdoop bedien aan Wynand Bouwmeester en die grootdoop
bedien aan Johan Botha. Ons verwonder ons oor God se werk.
Voordat ons gaan praat oor die eis van die Here is dit belangrik
om te let op wat God in jul lewens doen en gedoen het en Hom
daarvoor te dank. Die Here het ’n wonderlike pad met julle
geloop. Hy het julle by die hand geneem. Hy het homself aan julle
verbind in die genade verbond. Julle mog in Christelike gesinne
grootword. Hy het julle gelei op sy paaie sodat julle Hom mog
leer ken en dien.

God het met julle ’n pad geloop. In die verbond wil God
ook hê dat ons bewus en met vreugde ’n pad met Hom loop.
Die verbond het mos twee dele, ’n belofte en ’n eis.
God het belowe dat hy met julle deur die lewe wil gaan. Hy wil
dan ook hê dat julle van jul kant met Hom deur die lewe gaan.
Soos dit in die doopsformulier genoem word: "Daarom word ons
ook weer deur God in die doop geroep en verplig tot ’n nuwe
gehoorsaamheid. Ons moet naamlik hierdie enige God, Vader, Seun
en Heilige Gees, aanhang, vertrou en liefhê met ons hele hart,
met ons hele siel, met ons hele verstand en met al ons kragte;
ons moet van die wêreld afsien, ons ou natuur doodmaak en
’n godvresende lewe lei." In hierdie lig is dit pragtig
dat julle jong mense te kenne gegee het dat julle jul geloof wil
bely. Sien daar jul antwoord op die liefdesverklaring wat God vir
julle by jul doop gegee het. In antwoord op sy liefde wil julle
in liefde en trou saam met Hom deur die lewe gaan.

Nou die teks van vanoggend. Tipies verbondstaal. Daarin word
’n belofte en ’n eis genoem. Eers die eis: Vertrou op
die Here met jou hele hart ens. Daarna die belofte: dan sal Hy
jou paaie gelykmaak. Hierdie woorde kan ’n mens net verstaan
binne die konteks van die verbond wat God eensydig begin het,
maar wat Hy tweesydig wil laat wees.

As jy daar goed ook nadink dan is die feit dat God vanoggend
met sy eis na julle kom, opnuut ’n wonder van genade. Jy
vind dit dalk gewoon, maar dit is allermins gewoon. God self kom
na jou toe. Hy laat jou nie in die donker rondtas nie. Hy kom na
jou toe en wil jou die weg wys. Hy wil met jou omgaan. En jy mag
met Hom omgaan. Wat ’n wonder van genade. Danksy Jesus
Christus. Dit sou so anders kan wees. Wat is ons tog ryk
bevoorreg.

Van hieruit kom ons by God se eis: vertrou op die HERE met jou
hele hart. Die woord vertrou wys op sekerheid en vastheid. Soek
jou sekerheid en vastheid by die HERE. So kry jy vaste grond
onder jou voete. Want die HERE is nie die eerste die beste nie.
Hy is die onwankelbare getroue Verbondsgod. Hy het Homself bewys
as die altyd aktief aanwesige tot verlossing van sy volk. Het Hy
in die geskiedenis nie steeds opgekom vir sy volk nie. Jy kan in
hierdie Nuwe Testamentiese periode daaroor saampraat. Hoe het Hy
nie in sy Seun opgetree en ’n groot probleem (skuld)
aangespreek nie? Jesus Christus in wie jy die vergewing van
sondes en die ewige lewe mag ontvang. Sou jy in hierdie sondige
en gebroke wêreld by iemand anders blywende sekerheid en
vastheid kan vind?

Vertrou dan op die Here met jou hele hart. Nie met ’n
halwe hart of met 90% van jou hart nie. Nee met jou hele hart.

Die teks vervolg: en steun nie op jou eie insig nie. Insig is
op homself nie verkeerd nie. Dis tog pragtig as jy die vermoë
het om dinge te deursien, as jy slim is? Elders prys Spreuke
insig aan. God het jou ’n verstand gegee om dit goed te
gebruik.

Die teks waarsku egter nie teen die gebruik van jou verstand
nie, maar hy sê: steun nie op jou eie insig nie. Bou nie daarop
nie. Soek nie daarin jou houvas en sekerheid nie. Asof jou
toekoms van jou insig sou afhang. Asof jy jou toekoms met jou
verstand sou kan waarborg. Dink maar nie dat jy slim genoeg is om
buite God jou lewensweg te bepaal nie. Vir ’n rukkie kan dit
lyk asof dit goed gaan, maar jy sal uiteindelik struikel. Want
nie jou verstand of insig kan dit maak nie, maar die Here moet
dit doen. Hy is by die wisseling van tye en omstandighede die
enigste sekerheid en vastheid. Bedink ook dat jou verstand deur
die sonde benewel is en deur God se Gees gesuiwer moet word.

Vir baie is dit vandag ’n dwaasheid. Mense verwag alles
van die menslike intellek. Wat het die mens met sy wetenskap nie
alles bereik nie. Nee, sê mense, dit is nie God wat wonders doen
nie, maar die menslike verstand doen wonders. Dit bring
verlossing vir land, volk en teologie. Ja ook die laaste. Die
menslike verstand sal uitmaak wat in die Bybel waar of nie waar
is nie. Die saak word omgekeer. Die mens plaas homself op die
troon. Die mens gaan heers oor die Bybel. Wat die mens vind, dink
en voel, is deurslaggewend, bepalend. Pure rewolusie.

Die evangelie leer egter: nie die mens nie, maar God is Koning.
En die Bybel staan as waarheid bo die menslike verstand. Vandaar
die oproep van die teks: Vertrou op die Here met jou hele hart en
steun nie op jou eie insig nie. Gee jou oor aan die Here. Soek in
Hom jou sekerheid. In Hom jou Skepper en Verlosser.

Dit het ook gevolge vir jou lewenswandel. Daarom vervolg die
teks: Ken Hom in al jou weë. Ken die Here. Besef dat Hy oral
aanwesig is. Gaan met Hom deur die lewe. Reken in alles met Hom.
Laat Hom nêrens buite.

Spreuke praat van weë. Om te lewe is immers om jou weg te
kies. Om te leef is nie om jouself te laat gaan en dan maar sien
waar jy uitkom nie. Nee, om te leef is om te kies om ’n
sekere koers, weg te volg.

Ken die Here in al jou weë. Dit omvat jou hele handel en
wandel, al jou doen en late, werk en studie, liefde en
verhoudings, huwelik en gesin, die opvoeding van jou kinders, jou
omgang met mense, jou lewe in die gemeenskap van die kerk, jou
vryetydsbesteding, jou ontspanning en vakansie. Kortom, alles wat
ons lewens daagliks vul. Reken in dit alles met die Here. Vra na
sy wil en doen sy wil. Gaan biddend deur die lewe en met ’n
geopende Bybel. Die Here is daar nie net vir die Sondag nie. Nee,
Hy wil dat ons met hom omgaan alle dae van die week, in alles wat
ons doen, Hou Hom nêrens buite nie.

Broer, suster, seun, dogter, hoe gaan dit met jou lewe met die
Here? Het jy ’n lewendige verhouding met die Here? Reken jy
werklik met Hom in alles? Oorleg jy wel met jou God voordat jy
jou planne maak, voordat jy aan die werk spring? Of maak jy eers
jou keuses om daarna aan God te dink? Hoe gaan dit met jou
daaglikse Bybelstudie?

Neem jy in hierdie gejaagde lewe wel die tyd vir Skriflesing
en gebed as dit wat eerste nodig is, omdat jy die Here in alles
wil ken – in jou werk, maar ook in jou ontspanningstyd. Is
jou soek na werk wel ’n saak van jou omgang met die Here? Is
daar biddende oorleg met die Here mbt jou alleen wees en mbt jou
omgang met jou lewensmaat? Seuns en dogters, het julle jul keuse
van studie of werk ook tot ’n saak van die gebed gemaak? Ook
jou keuse van ’n ou of meisie? Ook jou vryetydsbesteding en
vakansie? Reken jy werklik met die Here in hierdie en in alle
dinge van jou lewe? Ken jy werklik die daaglikse omgang met die
Here?

Julle merk wel dat jy nie klaar is met die noem van ’n
aantal reëls nie, waaraan jy jou sou moet hou. Dit lyk soms asof
sommiges dink dat dit die oplossing is: formuleer konkrete reëls
vir allerlei situasies, maak ’n duidelike lys van moets en
moenies. Dit mag jy doen dit mag jy nie doen nie en dan sal dit
in orde wees met jou lewe met die Here. Niks is egter minder waar
nie.

Moenie my misverstaan nie. Ek sê nie dat reëls waardeloos is
nie. As ouers moet ons ons kinders duidelik leiding gee. Om dit
te doen moet jy soms duidelike reëls formuleer. Reëls het hul
waarde en kan nie gemis word nie. Wat ek wil sê is dit: Moenie
dink dat deur allerlei reëls te stel ons klaar is nie. In feite
deur allerlei reëls te stel kan julle dit te maklik vir mekaar
maak. Dit klink dalk teenstrydig. Jy ervaar die reëls moontlik
as moeilik. Neem bv die reël van sommige ouers dat jy, sê maar,
om 11 uur tuis moet wees. As jong mens kan jy groot moeite
daarmee hê. Maar feitelik is sulke reëls maklik genoeg om na te
leef. As dit alles sou wees, dan sou jy ’n volmaakte
Christen kon wees. Maar dit is nie alles nie. Moenie jou lewe met
die Here versmal tot gehoorsaamheid aan ’n stel reëls nie.
Neem bv die reël dat jy 11 uur by die huis moet wees. Waarborg
dit dat jou gedrag tydens die partytjie werklike Christelik gaan
wees? Natuurlik nie. God vra baie meer as die formele
gehoorsaamheid aan ’n stel reëls. Hy vra jou hele hart en
lewe. Luister maar na die teks: vertrou op die Here met jou hele
hart. Ken Hom in al jou weë. Jy is nog nie klaar nie wanneer jy
uiterlik doen wat van gereformeerdes verwag word nie. Jou hele
hart en lewe moet op God gerig wees.

Dis veral op hierdie punt dat ons in gevaar is. Ek wil wel
’n Christen wees, ek is bereid om my lewe in ’n sekere
mate aan te pas. Maar om my hele hart en lewe aan die Here te gee,
dit lyk vir my net te veel gevra. Ek wil ook sekere dinge vir
myself hou. Sodoende hou ek God dan buite sekere dele van my lewe,
bv buite my vermaak, die kuierplekke wat ek besoek, die musiek
waarna ek luister, die videos waarna ek kyk, die prentjies wat ek
in my slaapkamer ophang, die klere wat ek dra ens. God word
daarbuite gehou. Dit word dan as ’n private aangeleentheid
beskou. Dis iets wat ek self wil bepaal.

Maar broer, suster, seun, dogter wat bly dan oor van die
erkenning van die Here in al jou weë? Blyk die aanklag wat ek in
die inleiding genoem het dan tog waar te wees, in ieder geval ten
dele? Die aanklag dat ons net besig is om sekere rolle te speel
sonder dat ons godsdiens werklik ’n saak van ons hele hart
en lewe is.

Wat moet ek bv dink van uitsprake soos: “Ek weet dat as
ek daardie klere of skoene dra, daardie mening uit, ek deur die
groep aanvaar word. Is dit verkeerd? Ek dink gewoon nie daaroor
na nie. Niemand wil tog alleen staan nie. Ek sou dwaas wees om te
sê wat ek werklik dink, dan het ek geen lewe nie.” Of die
uitsprake: “As ek dink dat my maats, my vriende besig is om
dinge te doen of te sê wat nie tot eer van God of my naaste is
nie, sou ek nie daaraan dink om dit eerlik vir hulle te sê nie.
Dit sou my net isoleer.”

Geliefdes, is dit ’n ken van die HERE in al jou weë? Hou
jy dan werklik in alles met Hom rekening? Is dit nie eerder
’n vorm van slawerny nie. Jy is ’n slaaf van ander
mense, van die groep. Jy wil nie buitegesluit word nie, daarom
sluit jy God daarbuite. Daarom plaas jy God buite sekere dele van
jou lewe.

Broers en susters, seuns en meisies, let ons erns maak met ons
omgang met die Here. Die Here wil jou hele hart en lewe hê.
Vertrou op Hom met jou hele hart. Ken Hom in al jou weë. Nee,
dis nie maklik nie. Dit vereis baie moed en selfverloëning, maar
die Here wil dit in antwoord op die gebed gee. En as jy dit doen
sal jy deur die Here geseën word.

Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak. Dis
die belofte van ons teks.

Dan sal Hy jou paaie gelykmaak, dis ’n egte ou Oosterse
beeld. Daar het hulle nie ons gelyke, geasfalteerde paaie geken
nie. Vergelyk dit maar met baie van die paaie in die townships.
Klippe en puin kon sommer op die pad lê en dan is daar ook die
groot slaggate. Wel, die Here wil die puin vir jou opruim. En jou
pad begaanbaar maak, sodat jy veilig deur die lewe kan reis.

Blykbaar is dit nodig dat my paaie gelykgemaak word. Op jou
lewenspad kan daar allerlei struikelblokke lê. Dink bv aan wat
ek eerder genoem het, die groepsdwang, die mag van die groep. Jy
kan sommerso ontspoor. Jy wil nie uit die toon val nie, daarom
loop jy agter die groep aan, ’n syspoor in, op ’n
verkeerde pad. As jy egter die Here op al jou paaie ken, soek wat
Hy mooi vind, wat Hy wil, dan hou Hy jou op die regte spoor. Hy
effen jou pad. Hy bevry jou van moderne slawerny. Moderne
afgodery. Hy gee jou die vrymoedigheid om te sê dat jy dit nie
goed vind wat jou vriende of maats doen of sê. Hy gee jou die
moed om alleen te staan indien nodig. Het jy dan geen lewe nie,
soos die jongman gesuggereer het? Raak dit jou nie om te weet dat
God dit wel sien en dat Hy hom verheug nie, om te weet dat Hy aan
jy kant staan en voor jou uitloop? Raak dit jou nie om te weet
dat jy met die Here verder gaan, die almagtige getroue God van
die verbond, jou Skepper en Verlosser. Ondanks die moeite, die
eensaamheid en stryd mag jy jou in die Here verbly. Mag jy in Hom
sterk staan. Jy bly op die goeie pad. God effen die pad vir jou .
Hy lei jou reguit na jou heerlike bestemming.

Daar kan baie ander struikelblokke op jou pad wees: siekte,
verdriet, teleurstelling, eensaamheid, sonde. Dit kan jou lelik
laat struikel. As jy nie mooi oppas nie, kan dit fataal wees. Ken
egter die Here op al jou weë. Luister na Hom Laat jou deur Hom
lei. Soek Hom in gebed. Dan kom jy verder. Hy is besig om jou te
skaaf, te bemoedig , te vertroos en te vermaan. Hy is besig om
jou gedagtes weer op die goeie spoor te sit. Hy leer jou om die
dinge weer in die regte perspektief te sien. Hy is besig om die
struikelblokke op te ruim. Dit wil nie sê dat daar geen siekte,
verdriet of stryd meer gaan wees nie. Hy is besig om te sorg vir
’n veilige reis. Hy sal jou vir struikeling bewaar. Hy laat
die kwade ten goede meewerk. Nie dat ek dit onmiddellik herken
nie. In ’n dal word die sig meestal behoorlik belemmer. Maar
as jy Hom jou skepper en Verlosser soek dan kom jy verder. Dan
bly jy nie in die moeites vassteek nie. Dan kry jy weer uitsig.
Hy sal sorg. Niks sal jou dan aftrek van die doel van jou lewe:
’n behoue tuiskoms. Daarvoor sal Hy sorg.

As jy die Here egter loslaat, Hom buite jou lewe hou of buite
jou stryd en verdriet, dan vra jy om moeilikheid. Dan sal jy
maklik struikel en val. Dan loop dit verkeerd af.

Die verlore seun uit die bekende gelykenis het dit ervaar. Hy
het uit die vaderhuis weggeloop. Hy het gedink dat hy die sorg en
beskerming van tuis nie nodig gehad het nie. Hy kan homself wel
red. Hy het op sy eie insig gesteun. Toe het sy paaie krom geword.
Eers toe hy weer sy vader opgesoek het, is sy pad gelyk gemaak.

Daarom broers en susters, seuns en dogter, vertrou op die Here
met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in
al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)