Die nagmaal is ‘n goddelike instelling

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-02-12
Teks: 
Lukas 22:7-23
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Lukas 22:7-23

Ds HH van Alten - Sondag 12 Februarie 2006 (Nagmaal)

Lees: Ex. 12:5-14, Luk. 22:7-23
Sing: Sien liturgie

Tema: Die nagmaal is ‘n goddelike instelling

        1. Die voorbereiding van die pasga
        2. Die instelling van die nagmaal

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Vanaf die eerste eeue van die kerkgeskiedenis, het die wêreld altyd vreemd gekyk na die gewoonte van die kerk om nagmaal te vier. So het heidense skrywers op ‘n amper sarkastiese manier gepraat oor die dode-maaltye van die christene. Maar gemeente, die nagmaal is nie maar een of ander maaltyd van mense nie. Nee, die kerk het dit deur die eeue gevier omdat sy nie anders kon nie, omdat sy vandag nog nie anders kan nie, want Christus self gebied ons om die nagmaal te vier. Ons lees immers in Lukas 22:19, die laaste woorde: “Doen dit tot my gedagtenis” – ‘n opdrag! En 1 Kor. 11, die instellingswoorde wat ons sopas in die formulier ook gelees het, maak duidelik dat dit nie slegs vir die eerste gelowiges bedoel was nie. Ons lees daar immers: “Want so dikwels as (en dan staan daar nie hoe dikwels nie, maar dit was stellig meer as 4 keer per jaar) julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.” So dikwels as EN totdat Hy kom – ons kan nie hieronder uit nie. Die nagmaal is ‘n goddelike instelling vir die kerk van alle eeue, vir die kerk totdat ons Here terugkom. Dit is dan ook die tema van die woordverkondiging op hierdie nagmaalsondag:

    Tema: Die nagmaal is ‘n goddelike instelling

        1. Die voorbereiding van die pasga
        2. Die instelling van die nagmaal

1. Jesus stuur vir Petrus en Johannes om die Pasga te gaan voorberei – so lees ons in Lukas 22:8. Vanuit die ander evangelies kry ons byna die indruk asof die dissipels, op die dag waarop die paasmaaltyd geëet is, vir Jesus moes herinner dat daar nog heelwat voorbereidings getref moes word voor vanaand se maaltyd. Die feit dat Jesus egter presies kan beduie waar hulle die maaltyd moes voorberei en hoe hulle daarin te werk moes gaan, wys dat hy lankal aan hierdie saak gedink, en moontlik in die geheim ook al afsprake gemaak het.

Nee, Jesus sou nie sommer die Pasga vergeet nie. Hierdie fees, onmiddellik daarna gevolg deur die fees van die ongesuurde brode, was immers die belangrikste 2 feeste in Israel. Dit het begin met die paasmaaltyd op die aand van die 14e Nisan, die eerste maand van die Joodse kalender. En vanaf die 15e tot die 21ste Nisan is dan die fees van die ongesuurde brode gevier, ‘n weeklange fees! Soos blyk uit Exodus 12 was die pasga nie ‘n fees wat deur die Israeliete uitgedink is nie, maar een wat God self voorgeskryf het. Op die vooraand van die uittog uit Egipte moes elke gesin teen die aand ‘n lammetjie slag. Die bloed van die lammetjie moes hulle aan die deurposte van hul huise smeer. Verder moes hulle die vleis van die lammetjie braai, en dit saam met ongesuurde brode en bitter kruie eet. En dit was nie sommer ‘n eenmalige fees nie, nee, die volk moes dit as ‘n ewige insetting vier (Ex. 12:14).

En so het dit steeds in Jesus se dae gegaan. Op die oggend van die die 14e Nisan was die hele volk hard besig met voorbereidings vir die pasga-maaltyd. Die huis moes van hoek tot kant skoongemaak word en alle suurdeeg moes uit die huis verwyder word – die fees van die ongesuurde brode was immers op die punt om te begin, en die Here het beveel dat daar tydens die fees geen suurdeeg in die huise mog wees nie. Vanaf drie uur die middag, nog steeds op die 14e Nisan, het elke gesin hulle lammetjie dan na die tempel gebring om daar deur die priesters geslag te word. Daar het waarskynlik lang rye mense gestaan, wat almal gewag het op hulle beurt om deur die priesters gehelp te word. Vervolgens is die geslagte lam saam met kruie, brood en wyn voorberei vir die maaltyd van dié aand.

Ons sien dus dat die Pasga uit twee dele bestaan het:
In die eerste plek was daar ‘n offer – die lammetjie wat geslag moes word, was ‘n offerlam. Ons lees in Ex. 12:26 en 27: “En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar? dan moet julle sê: Dit is ‘n paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het.” Die lammetjie wat geslag is en waarvan die bloed as teken op die deurpos gesmeer moes word, was dus ‘n offer van versoening – die Here se toorn is versoen en Hy het nie by daardie huis ingegaan om die eersgeborenes met die dood te tref nie.
In die tweede plek was daar ook ‘n maaltyd. Die maaltyd wat die Israeliete in die paasnag in Israel gehou het, was die maaltyd van verlossing. Hulle het in geloof daarop gereken dat die uittog sou plaasvind, die Here het dit immers belowe. Tydens die maaltyd is die nuwe gemeenskap met God en met mekaar gevier.
Dus, ‘n OFFER en ‘n MAALTYD – die twee dele van die pasga. En so het Jesus dit ook saam met sy dissipels gevier op die vooraand van sy sterwe, op die Donderdagaand voor Goeie Vrydag. Maar Jesus bring egter verandering in die pasga… Hierop let ons nou vervolgens, wanneer ons kyk na die instelling van die nagmaal.

2. In Lukas 22:15 lees ons dat Jesus, nadat Hy saam met die twaalf apostels aan tafel gegaan het, sy verlange uitspreek om hierdie pasga saam met sy leerlinge te eet, voordat Hy sou ly. Dit gaan vir Jesus hier nie oor een of ander tragiese afskeidsmaal voor sy sterwe nie; dis geen weemoedige: “Ag, dis ons laaste maaltyd saam nie.” Nee, Hy verlang daarna om juis hierdie pasga met hulle te eet, want dit is hierdie pasga wat Hy binne enkele oomblikke gaan verbind met sy lyding. Die Pasga was immers altyd ‘n maaltyd wat terugverwys het na die uittog uit Egipte, en na die bloed van die lammetjie wat vrystelling gegee het van die dood. En daarom was dit ook altyd ‘n fees êrens halfpad – dit was ‘n fees wat gewag het op vervulling, dit was ‘n fees wat gewag het op die ware Paaslam. En die historiese oomblik het nou aangebreek waarop Jesus hierdie Pasga gaan verander, gaan transformeer, tot vervulling gaan bring.

Op daardie oomblik reik iemand Jesus ‘n beker aan. En nadat Hy die beker geneem het, dank Hy en sê: “Neem dit en deel dit onder julle.” Hy self drink nie daaruit nie… ‘n Opvallende gebaar so aan die begin van die maaltyd. In vers 18 gee Hy die verklaring hiervoor: “Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie.” Terwyl Jesus enersyds daarna uitgesien het om die Pasga te eet, onthou Hy Homself andersyds van die drink van die wyn. Broers en susters, ons kan hierdie gebaar van ons Heiland sien as teken van die voorbereiding op sy lyding. Hy berei Homself voor deur Hom te onthou van die wyn as teken van vreugde. Ja, eendag, in die koninkryk van God, sal daar weer die vreugde wees, maar tans is daar vir Hom lyding. Tans is daar vir Hom lyding, want kyk maar, die beker word wel vir die apostels rondgestuur, hulle mag wel daaruit drink. Want deur sy lyding word die vreugde van sy apostels, van sy kinders vergroot. En in vers 19 en 20 wys Jesus nog duideliker dat sy lyding bestem is om die vreugde van sy volgelinge te vergroot: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word…”, “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.”

Gemeente, toe Christus op daardie Donderdagaand voor Goeie Vrydag die Pasga verander het in die nagmaal, het Hy dit vir ons gedoen, vir ons vreugde! Ons mag die wyn drink. Ja, Christus sal dit eers saam met ons drink in die koninkryk van sy Vader, maar ons mag, tussen alle hartseer en trane deur, alreeds ‘n voorsmaak hê van die oorvloedige vreugde wat Christus ons belowe het. Maar waarin lê daardie vreugde presies? Kom ons kyk nou nog kortliks na verse 19 en 20.

Ons Heiland neem die brood en die wyn, normale elemente van die Pasga-maaltyd, en Hy bring dit in verband met sy naderende dood. Opvallend – Hy maak nie die vleis wat op die tafel gelê het tot teken nie. Nee, slegs die brood en die wyn. Hierin sien ons dat Jesus se lyding aan die kruis die vervulling is van die Pasga-lammetjie wat geslag is, dat die nagmaal die vervulling is van die Pasga. Die Pasga was immers ‘n offer en ‘n maaltyd (so het ons in die eerste punt gesien). Maar Christus het self die offer geword, Hy was self die Lam,… en Hy het aan ons die maaltyd gegee. Die offer-karakter van die Pasga word deur Christus vervul, want die bloed van ‘n lammetjie kon tog nooit die sonde van die volk wegneem nie? Nee, Christus kom bring die volmaakte offer, eenmaal, voldoende! En daarom kan ons ook nooit sê dat ons nagmaal die karakter van ‘n offer dra nie. Ja, in Rome, daar is die eucharistie, die nagmaal, ‘n offer, daar word Christus elke keer weer aan die kruis gespyker. Maar vir ons, broers en susters, mense wat wil lewe vanuit die evangelie van versoening, is die nagmaal ‘n maaltyd, ‘n maaltyd van vreugde, wat berus op die offer van Christus. Met sy bloed bring Hy die nuwe testament, die Nuwe Verbond, tot stand – daardie verbond waarin ons bewaar word van die Engel van die dood, en verseker is van ons ingang in die beloofde land van die Godsryk.

Gemeente, Christus het vir ons ‘n vreugde-maaltyd ingestel. Daarom, wanneer ons die brood eet en die wyn drink, dan proe ons nie in die eerste plek sonde nie – dit is hoe dit soms lyk wanneer ons die sober gesigte aan die nagmaalstafel sien sit. Nee, dan proe ons die liggaam en bloed van ons Verlosser. Hy gee aan ons die vreugde-beker – vreugde oor die vergifnis van die mees gruwelike sonde, vreugde omdat ons die haat vir die ou lewe in ons voel groei, vreugde omdat ons die vrugte van die Gees in ons lewens begin raaksien. En daarom roep die nagmaalsformulier ons ook op: “Laat ons daarom bly wees, ons vreugde wys, en aan Hom die eer gee…”

Amen

Liturgie (oggend)

• Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.
• Sing Ps. 113 – tydens die paasmaaltyd in Israel het die volk altyd die psalms 113-118 gesing. In hierdie diens wil ons ook hierdie sogenaamde hallel-psalms sing.
• Wetslesing
• Sing Ps. 114:1, 2 en 4
• Gebed
• Nagmaalsformulier: Ons wil nou oorgaan tot die viering van die heilige nagmaal. Vir dié doel lees ons die formulier in die formulierboekie. Die nagmaalsformulier, wat kom uit die 16e eeu, is in verskillende dele verdeel. Ons sien bv. die instelling, die selfbeproewing, die uitnodiging en terugwysing ensovoort. Op die volgende aantal nagmaalssondae wil ek in die prediking graag agtereenvolgens by die verskillende onderafdeling stilstaan. Ons begin vandag by die “instelling” van die nagmaal. Kom ons lees eers hierdie eerste paragraaf van ons formulier.
• Lees: Exodus 12:5-14 Lukas 22:7-23
• Preek
• Sing Ps. 115:1, 7 en 8
• Lees res van die formulier.
• Terwyl die tafel in gereedheid gebring word, sing ons Ps. 116:5, 7 en 10
• Viering van die nagmaal
    o Eerste tafel – Ps. 117
    o Tweede tafel – Ps. 118:2 en 4
    o Derde tafel – Ps. 118:7 en 8
• Voltooi formulier & dankgebed
• Kollekte
• Slotsang Ps. 118:11 en 13
• Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)