Die gesonde leer transformeer die lewe in ’n gesonde en voorbeeldige lewe

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-01-22
Teks: 
Titus 2
Preek Inhoud: 

Titus 2:2-6

Ds C Kleyn - Sondag 22 Januarie 2006

Lees: Titus 1:10-2:15.
Sing: Ps 92:1,2; Ps 38:1,15,17; Ps 34:6; SB 24:2,3,6;
Ps 92:6,7.

Tema: Die gesonde leer transformeer die lewe in
’n gesonde en voorbeeldige lewe.

Ons sien hoe dit uitgewerk word tav die

  1. ouer mans
  2. ouer vroue
  3. jonger vrouens
  4. jonger mans.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Besef julle wel hoe ryk julle is met die woord van God? Paulus
praat van die gesonde leer. Titus moet allerlei groepe mense in
die gemeente voorhou wat in ooreenstemming met die gesonde leer
is. Die onderwys van die Skrifte is gesond. Soos ons praat van
gesonde voedsel. Hierdie leer is nie vermeng met gifstowwe nie.
Dis onvervals, deugdelik, suiwer. Vry van dwaling. In Titus 1:13.14
word die positiewe “sodat hulle gesond in die geloof kan
wees” deur die negatiewe verklaar “en hulle nie besig
hou met Joodse fabels en gebooie van mense wat van die waarheid
afwyk nie.”

Let daarop dat die gesonde leer in die enkelvoud genoem word.
Dis ’n eenheid. Een leer. Teenoor ’n meervoud van
menslike leringe, fabels en gebooie. Een leer met as hart die
verlossing in Jesus Christus, die reddende genade van God.
Hierdie gesonde leer maak ’n mens gesond. Laat jou wel voel.
Dit laat jou gesond in die geloof wees. Maar van daaruit het die
ook ’n impak op jou lewe. Soos verderflike leringe ’n
negatiewe impak op die mens se lewe het, so het die gesonde leer
’n positiewe impak op jou lewe. Dit transformeer jou lewe.
Jy gaan anders lewe. Jou gedrag word daardeur anders. Opbouend.
Harmonieus. Gesond. Christelik. Voorbeeldig.

Gemeente, in teenstelling met die dwaalleraars wat opvattings
voorstaan wat “van die waarheid afwyk” en wat
lewensverwoestend is, moet Titus spreek wat by die gesonde leer
pas. Hy moet die gemeente weerbaar maak sodat hulle ook self teen
die vyande weerstand kan bied. Daarom moet hy verskillende groepe
binne die gemeente aanspreek. Die groepe word volgens ouderdom en
geslag ingedeel: ouer mans, ouer vroue, jonger vrouens en jonger
mans. Wil jy ’n leeftyd aan die groepe verbind, dan kan jy
ruweg sê dat die ouer mans en vroue bo die 40 of 45 jaar is,
terwyl die jonger vrouens en mans tussen 15 en 45 jaar is.
Kinders word hier nie uitdruklik genoem nie. Net volwassenes word
aangespreek. Dit hang saam met die doel om die gemeente weerbaar
te maak. Daarin het juis die volwassenes ’n
verantwoordelikheid. In die besef van hul verantwoordelikheid sal
hulle dan ook die kinders opvoed en lei in die gesonde leer en
lewe.

Laat ons nou kyk na wat Paulus vir die verskillende groepe sê.

Ek vat die boodskap as volg saam:

Die gesonde leer transformeer die lewe in ’n gesonde en
voorbeeldige lewe.

Ons sien hoe dit uitgewerk word tav die ouer mans, ouer vroue,
jonger vrouens en jonger mans.

Titus moet die ouer mans leer om nugter te wees, waardig,
ingetoë, gesond in die geloof, in die liefde, in die lydsaamheid.
Laat ons as mans bo die 40 ons hieraan meet. Herken jy dit by
jouself? Herken die gemeente, inklusief die jong mense dit by jou?
Herken die mense daarbuite dit in jou? As hulle dit nie herken
nie, wat moet hulle wel van jou geloof en van die evangelie dink?
Om ’n voorbeeld te wees is so belangrik in ons gesinne en
samelewing. Sonder dit beteken al ons godsdienstigheid niks nie.

Eers moet ek dus nugter wees. Die woord beteken letterlik dat
ek nie aan die drank verslaaf is nie. Daardeur sou my
oordeelsvermoë benewel word. Ek moet inteendeel in alle
omstandighede ’n helder oordeel kan vorm, my lewe inrig
volgens die wysheid en besonkenheid wat met die jare kom.

Ek moet ook waardig wees. My karakter en gedrag moet sodanig
wees dat dit in positiewe sin by ander opval sodat dit by ander
respek afdwing. Daarvoor moet ek eerlik en opreg in my houding en
optrede teenoor ander wees.

Ek moet tewens ingetoë wees. Dit wys op bedagsaamheid en
selfbeheersing. Ek moet beheers en verstandig optree. Daarvoor
moet ek my gesonde verstand gebruik en my nie laat beheers deur
allerlei gevoelens of hartstogte nie. Myself nie onmiddellik en
impulsief laat lei deur alles wat op die eerste gesig so
aantreklik lyk nie. Ek moet eerder oor die gevoelens of
hartstogte heers, myself beheers. Daarin moet ek goed gebruik
maak van my gerypte insig en lewenservaring as ouer persoon.

Broers en susters, durf jy van jouself te sê dat jy nugter,
waardig en ingetoë is? Is dit wat die jong mense in ons oueres
herken?

Wat die godsdienstige lewe betref, noem Paulus verder dat die
ouer mans gesond in die geloof, in die liefde en in die
lydsaamheid moet wees. Gesond in die geloof. Met ’n kragtige
en weerbare geloof. Wat nie sommer wankel nie. Suiwer in die leer.
Jy laat jou blykens hoofstuk 1:13,14 nie sommer deur allerlei
menslike gedagtes lei nie. Jy is fris en sterk in jou geloof.
’n Voorbeeld vir jongeres.

Gesond in die liefde. Gesond in jou liefde tot God en jou
naaste. Jy weet hoe om onderlinge verskille te hanteer. Jy speel
die bal en nie die persoon nie. Jy respekteer ook die onderskeid
tussen die sonde en die sondaar. Jy haat die sonde, maar jy het
die sondaar lief. Jy straal liefde uit in die verhoudings binne
en buite die gemeente. Opnuut ’n voorbeeld vir die jongeres.

Gesond in lydsaamheid. Dit wys op geduld en volharding
waardeur jy dit as Christen uithou, ondanks alles. Ondanks alle
frustrasies en moeites wat jy ondervind. Jy verdra geduldig die
lyding van die teenwoordige tyd. Ook al word jou geduld in ons
land op allerlei wyse op die proef gestel. Jy verval nie in
’n negatiewe houding nie. Jy weet hoe om as ’n Christen
positief om te gaan met die moeites. ’n Voorbeeld vir jou
omgewing.

Hierdie drie begrippe dien as samevatting van die hele
godsdienstige lewe. Dit gee so te sê die grondpatroon van die
Christelike lewe aan. Jy is gesond in die geloof, in die liefde
en in die lydsaamheid. Dit kom so ongeveer ooreen met wat Paulus
elders noem: geloof, hoop en liefde.

As ouer mans moet jy juis kragtens jou leeftyd ’n
voorbeeld vir ander wees. Dis egter geen vanselfsprekende saak
nie. Wie oud word, word daardeur nie outomaties gesond in die
geloof en die liefde en die volharding nie. As dit waar was, was
dit vir Paulus nie nodig gewees om dit te skrywe nie. Ook as ons
oud word, kan ons geloof versiek, ons liefde verkil en ons geduld
en volharding afneem. Daarom is dit geen oorbodige saak dat Titus
die ouer mans hierdie heilsame norme van die gesonde leer voorhou.
Die gesonde leer wil jou lewe transformeer sodat dit gesond en
voorbeeldig word, ’n voorbeeld vir ander binne en buite.
’n Voorbeeld vir ons jong mense en samelewing. Is dit wat
ons is?

Nou die oproep tot die ouer vroue. Die ouer vroue moet in hul
gedrag wees soos dit die heiliges betaam. Die woord wat hier vir
gedrag gebruik word kan dui op die innerlike geestesgesteldheid
sowel as die uiterlike voorkoms. Daarom moet ons albei
moontlikhede in gedagte hou. Die bedoeling is dat die uiterlike
voorkoms, kleredrag en houding, ’n weerspieëling is van die
innerlike gesteldheid of lewensopvatting. Jy moet aan die ouer
vroue kan sien dat hulle ’n lewe voer soos dit die heiliges
betaam. Die Christen vrou is heilig, deur God afgesonder van die
wêreld en in sy diens gestel. Dit moet dan aan jou te sien wees
dat jy in diens van God staan. Dat jy bewus is van die heilige
teenwoordigheid van God. En jou dienooreenkomstig gedra.

Dit hou o.a. in dat jy nie mag kwaadspreek nie. Die Here
waarsku reëlmatig teen die versoeking om kwaad te praat. Dis
iets wat maklik gebeur. Dit kan ’n besonder verleiding wees
vir ouer vroue wat nie meer soveel verpligtings in die lewe het
nie. Hulle het so te sê meer tyd daarvoor. Om kwaad te spreek is
egter ’n ernstige saak. Dit stig baie onheil. Ja, dit is
duiwels, diabolies, soos die oorspronklike woord ook letterlik
aangee. Kwaadsprekery is duiwelswerk. Waar kwaad gepraat word,
word tweedrag gesaai. Dit verwoes die gemeente of die
gemeentewerk. Dit breek af. Dit is moordend. Daarom behoort dit
tot die gesonde norme om nie kwaad te praat nie.

’n Ander ernstige versoeking is die misbruik van sterk
drank, wat blykbaar nie net by die mans voorgekom het nie, maar
ook by die vroue. Juis by die klein wyn partytjies het dit
blykbaar gebeur dat ouer vroue hul bure of ander mense se goeie
naam afgebreek het. Dis onvanpas vir Christen vroue.

Die doel van jou lewe as ouer vrou is veel verhewener. Jy moet
daarna streef om lerares van die goeie te wees. Met woord en daad.
Hoewel die leer en regeer amp in die kerk nie vir hierdie susters
bestem is nie, het hulle tog ’n geweldige taak in die
gemeente. As jy oud word, val daar dikwels baie dinge weg wat die
lewe gevul het: jou werk, die versorging van jou kinders. Dan kan
jy in ’n leegte val. Maar jy hoef jou nie te verveel nie,
sê Paulus. Jy hoef jou tyd nie in ledigheid deur te bring nie.
Wees maar leraresse van wat goed is. Laat jou leefwyse en
voorbeeld vir ander ’n les van die goeie wees. Praat met
ander oor die diens van die Here. Dink veral aan die jongeres.
Uit jou meerdere ervaring, ryke lewenswysheid en geestelike insig
kan jy aan die jonger vroue raad en leiding gee.

Gemeente, volgens die teks is dit die opdrag van die ouer
vroue in die gemeente om die jonger vrouens te onderrig en te lei.
Die teks noem die roeping van die jong getroude vrouens. Dis
egter opvallend dat dit nie in die eerste plek dominee Titus is
wat hierdie jong vroue moet leer nie. Die dominee moet met die
ouer vroue praat, wat op hulle beurt die jong getroude vroue sal
onderrig. Dit sluit natuurlik nie uit dat die predikant ook direk
met die jonger vrouens praat nie. In 1 Tim 5:1 roep Paulus
Timotheus op om die jonger vrouens soos susters te vermaan in
alle reinheid. In ons teks word egter die taak van die ouer vroue
benadruk. Die ouer vroue in die gemeente, getroud of ongetroud,
het ’n verantwoordelikheid teenoor die jonger vrouens,
’n sekere “amp” om te vervul. Daar is goeie rede
hiervoor. Die ouer vroue kan doen wat ’n predikant of
ouderling as man nie kan doen nie. Hulle kan oor sekere dinge
praat waaroor ’n manlike ampsdraer nie kan praat nie. Daarom
het hulle in ons sustergemeente in Soshanguve ook amptelik
’n groep vroue aangestel wat vir die jong vrouens in die
gemeente leiding en hulp kan gee. Dis ’n natuurlike saak dat
jonger vrouens makliker na ouer vroue gaan. Vanweë hul ervaring
en lewenswysheid kan die ouer vroue die jonger vrouens beter
bystaan en lei in die meer intieme sake van die lewe. Dit geld
vir die ouer vroue wat moeders is en wat daarom ook uit eie
ervaring kan praat. Maar nie net vir hulle nie. Ook ongehude
vroue en vroue sonder kinders kan baie beteken in die lewe van
dogters en jong vroue. Dink maar aan die rol wat onderwyseresse
soms vervul. Hulle moet dan die geleentheid gebruik om die jonger
vrouens te leer om hul mans en kinders lief te hê en om alle
dinge te doen waartoe ons teks hulle oproep.

Jy moet as ouer vroue niet net met woorde leer nie. Jy word
ook geroep om deur jou voorbeeld te leer. Die jonger vrouens sien
in die gedrag van die ouer vroue ’n patroon wat hulle kan
volg, veral in die gedrag van hul moeders. Dit is veral die
gedrag van die ouer vroue teenoor ander, teenoor hul eie mans en
kinders wat ’n invloedryke voorbeeld vir die jonge vrouens
is. Die voorbeeld wat jy as ma vir jou dogters gee is die mees
effektiewe onderrig, ten goede of ten kwade. Van hul vroegste
jare moet dogters groot word in ’n gesin waarin hul ma se
verhouding tot hul pa en die kinders Christelik is soos dit die
heiliges betaam. Deur hul eie lewe moet die ouer vroue, veral die
moeders, leraresse van wat goed is wees. Anders beteken hul
woorde niks nie.

Wat moet die jonger vrouens dan geleer word? Ons teks noem as
eerste dat hulle versigtig moet wees. Waarskynlik is hierdie
vertaling ’n misverstand. Dit lyk meer voor die hand te lê
om te vertaal: sodat hulle die jonger vrouens steeds weer daaraan
herinner dat hulle hul mans en kinders moet liefhê. Die eerste
is dus dat jy as jonger vrou jou man moet liefhê. In ’n
wêreld waarin die huwelik uit liefde geen reël was nie, is dit
’n belangrike norm. Trouens ook in vandag se wêreld waarin
daar die persepsie is dat ’n huwelik dood is wanneer die
eerste verliefdheid verdwyn het. Sowel toe as nou is die baie
ongesond om hierdie Bybelse norm te verwaarloos.

Dis opvallend dat hier die liefde as eerste genoem word. In
ander Skrifgedeeltes val juis die nadruk op die onderdanigheid
van die vrou. Die liefde bly egter die eerste en groot gebod.
Sonder liefde sal jy ook nooit op ’n goeie Christelike
manier onderdanig kan wees nie. Liefde is die fundamentele deug
in die huwelik. Soos dit ook die basiese deug is in die
verhouding van die kerk as bruid tot Christus ons bruidegom. Hoe
sou jy jou aan Christus onderwerp, sonder liefde. Liefde is
onmisbaar. Maar dan wel liefde soos die Bybel daaroor praat,
liefde as ’n bewuste keuse om die beste vir die ander te
soek.

Broers en susters, seuns en dogters, hiermee waak die Bybel
ook teen ’n valse romantisering van die huwelik waartoe jong
mense soms geneig is. Gevoed deur liefdesromans, videos en flieks
droom sommiges van ’n huwelik wat net sonskyn is en vol van
emosionele en hartstogtelike liefde. Met daardie fantasieë gaan
hulle die huwelik in. Wanneer die werklikheid tot hulle deurdring,
stap hulle al gou uit die verhouding uit en vra ’n
egskeiding aan. Die Bybel gee ’n realistiese beeld van die
huwelik. Nie dat die Bybel ’n vyand van hartstogtelike
liefde is nie. Lees maar die Bybelboek Hooglied. Die Bybel hou
ons jong vrouens die volle waarheid voor. Vanweë die sonde sal
die getroudes bekommernisse, moeite en verdriet nie vryspring nie,
sê ons huweliksformulier. Daar is die sonde en sy gevolge wat jy
altyd in rekening moet bring. Jy en jou maat is nie volmaak nie.
En as die Here kinders gee dan weet jy dat jy ook moeite en
verdriet kan verwag by die voortbring en opvoeding van die
kinders. En selfs jou liefde vir jou man sal nie altyd ’n
emosionele en spontane liefde wees nie. Dis nie sonder rede dat
ons teks sê dat ouer vroue die jong vrouens moet leer om hul
mans lief te hê nie. Dit kom nie vanself nie. Dit moet geleer
word. Dis ’n opdrag. Dit is dus nie in die eerste plek
’n emosionele spontane liefde nie. Verliefdheid is nie iets
wat jy op bevel kry nie. Hierdie liefde waaroor God praat is in
die eerste plek ’n keuse van jou wil. Jy kies om die beste
vir die ander, in hierdie geval jou man, te soek. Jy wil hom help
om te wees wat hy moet wees. ’n Man van God. Die huwelik
moet deur daardie self-opoffende liefde gedra word. Want die
sjarmante man wat jy getrou het, sal gou wys dat hy nie sondeloos
is nie, maar ’n swak en sondige mens, wie jy nie altyd
maklik kan liefhê nie. As dit goed is sal daardie liefde dan ook
die emosionele liefde weer aanwakker en voed.

Dieselfde geld vir die liefde vir die kinders. Jong vrouens
moet leer om hul kinders lief te hê. Dit is nie altyd
vanselfsprekend nie. Emosionele liefde kan soms onder druk kom.
Deur siekte of deur moeilikhede. Sodat jy op ’n sekere
oomblik geen liefde voel vir jou kind nie. Miskien laat jou kind
jou bloed kook. Moet jy dan jou kind liefhê? Ja seker. Gelukkig
maar. Dit is die gesonde pad. Dit pas by die gesonde leer. Jy
moet ook in sulke omstandighede jou kind liefhê, dws jy moet ook
dan die beste vir jou kind bly soek. Dit kan beteken dat jy die
kind ’n goeie pak moet gee of ’n teregwysing. Maar dit
sal dan in liefde bedien word, nie in haat of onbeheerste woede
nie.

Verder moet die jong vroue ook ingetoë wees en kuis. Moenie
jou deur jou gevoelens laat heers nie. Moenie oorhaas dinge sê
of doen nie. Dit kan net skade veroorsaak. Wees bedagsaam. Tree
beheers en verstandig op. En op seksueel gebied, nie buite God se
orde optree nie, nie uitdagend vir ander mans wees nie, maar trou
aan jou eie man.

Die jonger vrouens moet verder geleer word om huislik te wees,
goed en aan hul eie mans onderdanig. Omdat daar nog baie is wat
ons hieroor kan sê, juis in verband met die wêreld waarin ons
vandag lewe, wil ek hierdie laaste gedeelte van vers 5 tot
volgende week laat oorstaan.

Ons gaan vir nou oor na vers 6 waar die jong manne aangespreek
word: “Vermaan die jong manne net so om ingetoë te wees.”
Die vermelding is hier maar kort. Baie van wat reeds gesê is vir
die ouer mans en vroue en vir die jonger vrouens geld egter ook
vir die jong mans. Dink aan die woorde net so. Hulle moet net so
aangespreek word. Dat net die een deug ingetoënheid vir hulle
genoem word beteken dus nie dat hul gedrag nie belangrik is nie.
Ook die jonger mans het ’n belangrike plek en
verantwoordelikheid in die gemeente en in die gesinne. Hulle moet
in alles beheers en verstandig optree. ’n Sieraad vir die
evangelie. ’n Voorbeeld vir kerk en wêreld.

Gemeente, ons het nou verskeie deugde genoem wat die ouer mans
en vroue en die jonger mans en vrouens moet wys. Laat ons ons
lewe en gedrag tog daaraan toets. Dit is hoe die lewe wat deur
die gesonde leer getransformeer is, daaruit moet sien. Tydens
hierdie lewe sal ’n mens hierdie beeld nooit volmaak herken
nie. Maar die begin, die verandering moet sigbaar wees. Die
gesonde leer is tog nie iets doods nie? God se reddende genade
het tog aan ons verskyn? En waarom het dit verskyn? Tog om ons te
leer om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën,
ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te
lewe? Onthou die genade is die reddende genade, dis die genade
wat jou na liggaam en siel wil red. Laat die genade jou dan ook
werklik beheers en red. Dan kan die Christelike houding en gedrag
nie uitbly nie. Dan het jy iets om die mense rondom jou te wys.
Dan het jy iets om die jong mense, om die kinders te wys. Die
gesonde leer transformeer mos die lewe in ’n gesonde en
voorbeeldige lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)