Die roeping van die gelowiges om hulle by die ware kerk aan te sluit

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-01-22
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 28
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 28

Ds C Kleyn - Sondag 22 Januarie 2006

Lees: Handelinge 2:37-47; 2 Korinthiërs 6:11-18;
Efésiërs 4:1-16; Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 28.
Sing: Ps 84:1,2; Ps 84:3,4; SB 27; Ps 22:9,11.

Tema: Die roeping van die gelowiges om hulle by die
ware kerk aan te sluit

  1. Waarom is dit belangrik – die erns van die roeping
  2. Wat hou dit in – die inhoud van die roeping
  3. Wat is die keersy daarvan – die keersy van die
    roeping

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

By art 27 het ons in verwondering gekyk na die algemene
Christelike kerk, as God se wonderwerk, ’n vervulling van sy
belofte aan Abraham, naamlik dat Hy in Abraham se nageslag al die
nasies van die aarde sou seën. Ook ’n verhoring van
Christus se hoëpriesterlike gebed. So is daar dan die katolieke
of algemene kerk wat oor die hele wêreld versprei en verstrooi
is, maar nogtans met hart en wil en deur die krag van die geloof
in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig is.

Ons art praat nou verder hierdie selfde kerk. Die art begin
mos met ’n verwysing na hierdie heilige vergadering waarvan
die vorige art ’n beskrywing gegee het. Art 28 sluit dus nou
aan by art 27. Hierdie art maak dus nie die oorgang van die
onsigbare kerk na die sigbare kerk, soos sommiges suggereer nie.
Ons het reeds by art 27 daarop gewys dat dit daar nie gaan oor
’n onsigbare kerk nie. Die art praat wel van ’n
wêreldwye kerk, ’n kerk wat ons nie kan oorsien nie, maar
wat ons wel kan sien en ervaar in die plaaslike gemeentes. Juis
in die plaaslike gemeentes, daar waar die gelowiges onder die
bediening van Woord en Sakrament saam geroep word, ontmoet ons
die katolieke kerk. Wel, in art 28 gaan dit oor hierdie algemene
Christelike kerk wat plaaslik byeenkom.

Art 27 praat dan van die kerk as gawe en werk van God. So
praat art 28 van ons roeping tov hierdie kerk. Daaroor wil ons
vanaand dan ook God se Woord vir julle bedien.

Ek verkondig vir julle: die roeping van die gelowiges om hulle
by die ware kerk aan te sluit

  1. Waarom is dit belangrik – die erns van die roeping
  2. Wat hou dit in – die inhoud van die roeping
  3. Wat is die keersy daarvan – die keersy van die
    roeping

Waarom moet ek my by die ware kerk aansluit? Die eerste sin
van ons art gee daarvoor die rede aan. “Aangesien hierdie
heilige vergadering ’n versameling is van hulle wat verlos
word en daarbuite geen saligheid is nie”, daarom moet ek my
by hierdie vergadering aansluit. Hier word die kerk ’n
versameling van verlostes genoem. Ook al word julle as gelowiges
persoonlik geroep en ook persoonlik deur hul geloof gered, julle
staan nie op jul eie nie. Op die eerste Pinksterdag roep Petrus
die Jode op: bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word.
Die doop is ’n teken van inlywing in die Christelike kerk.
Petrus roep hulle ook op: laat julle red uit hierdie verkeerde
geslag. Daardie gedeelte eindig dan met die mededeling: En die
Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is (Hand 2:37-47).
So praat ons belydenis van die kerk as ’n versameling van
hulle wat verlos word en roep alle gelowiges op om hulle daarby
aan te sluit omdat daar alleen redding te vinde is.

Gemeente, daardie eerste woorde van art 28 is groot woorde:
hierdie vergadering is ’n versameling van verlostes en
daarbuite is geen saligheid nie. Dit het heel wat tonge losgemaak.
Kan ons sulke groot woorde wel verantwoord? Kom ons luister na
die Skrifte en probeer dit te verstaan in die lig van die Skrifte.
Die kerk word in die Bybel ’n heilige volk genoem, wat God
deur die bloed van sy Seun as sy eiendom verkry het. Die kerk
word die huis van God en die gemeente van die lewende God genoem.
Die kerk is die kerk van God. Wil jy van by hierdie God en by sy
Seun Jesus Christus behoort, dan soek jy tog gemeenskap met sy
kerk wat Hy vergader en verlos? Die Psalms praat ook van die
vergadering van die regverdiges en van die kring van die opregtes
en die vergadering (Ps 1 & 111).

Die heil van God in Christus is vir hierdie gemeente of volk
bestem. God se bedoeling is nie om net individuele persone te red
nie, maar ’n volk. Die Redder word Jesus genoem omdat Hy SY
VOLK van hulle sondes sal verlos (Mt 1:21). Van hierdie Redder
sê Paulus later: “Soos Christus ook die gemeente liefgehad
en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit
gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die
gemeente voor Hom kan stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of
iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sal wees (Ef
5:25-27).

Gemeente, omdat God sy heil aan sy volk belowe en skenk,
daarom sien ons ook dat mense van buite kom om daar die heil te
kry. Dink bv aan Ragab die hoer uit Jerigo en Rut die heidin uit
Moab. Hulle het by God en by sy volk die heil gesoek, daar waar
God en sy heil te vinde is.

Dat daar buite die kerk geen heil te vinde is nie, is ook
omdat die evangelie wat in die kerk verkondig word, so eksklusief
is. Daar word mos die enige naam van redding verkondig. Soos
Petrus en Joh vir die Joodse Raad sê: “En die saligheid is
in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die
hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word
nie (Hand 4:12). Joel het reeds van die heil geprofeteer en van
die plek waar dit te vinde is: “En elkeen wat die Naam van
die Here aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in
Jerusalem sal daar ontkoming wees” (Joël 2:32). Op die
Pinksterdag het die Heilige Gees die gemeente tot sy woning
gekies. Die gemeente word ’n heilige tempel genoem, ’n
woning van God in die Gees.

Broers en susters, dit mag duidelik wees dat ons in ons
belydenis nie teveel sê wanneer ons sê dat die kerk ’n
versameling van verlostes is en dat daarbuite geen saligheid is
nie. Maar beteken dit dan dat daar buite die sigbare kerk niemand
salig word nie? Skryf ons dan elkeen buite die kerk af as
verlorenes? Julle moet goed let op wat ons bely. Ons bely nie:
buite die kerk sal niemand salig word nie, maar buite die kerk is
geen saligheid. Dit is nie dieselfde nie. Of daar buite die kerk
mense salig word, lê in God sê hand. Ons mag Hom daarin nie
bind nie. Maar God bind ons wel aan die kerk, daarom sê ons na
die Skrifte dat daar buite die kerk geen saligheid is nie. God
het vry gekies om sy woord van versoening aan die kerk toe te
vertrou, om deur die prediking hulle wat glo te red. Daardeur het
Hy ons aan die kerk en haar prediking gebind.

Die beeld van die herder met sy skape kan dit duideliker maak.
Die skape moet hulle by die kudde voeg, want daar waarborg die
herder beskerming en versorging. Daar mag jy geniet van lewe en
oorvloed. Deur woord en sakrament. Daar word Christus se gawes
aan elkeen uitgedeel vir onderlinge opbouing. Daar is byvoorbeeld
ook die ouderlinge wat deur die Heilige Gees aangestel is, om ag
te gee op die kudde, om as herders die gemeente van God te
versorg (Hand 20:28).

Die woorde buite die kerk geen saligheid moet as ’n
ernstige waarskuwing verstaan word. Om te voorkom dat iemand val,
sê ons al by voorbaat as waarskuwing: Pasop, jy gaan val! Om te
voorkom dat ’n skaap wegloop op soek na avontuur, sê die
goeie herder: buite hierdie kudde is jy verlore. En om te voorkom
dat jy jou sal onttrek aan die beskerming wat Christus vir jou in
sy kerk bied, klink die waarskuwing: buite die kerk is daar geen
saligheid nie.

Laat ons ook oppas dat ons die woord saligheid nie beperk tot
hemel toe gaan nie. Dit gaan ook oor die saligheid wat jy nou
reeds binne die kerk mag geniet. Hierdie saligheid word deur die
prediking van die woord en deur die sakramente uitgedeel.
Daardeur word jy vertroos en bemoedig, daardeur leer jy steeds
weer om te geniet van die vergewing van sondes en die vernuwing
van jou lewe, deur Christus se bloed en Gees. Die nagmaalsviering
word selfs ’n voorsmaak genoem van die vreugde wat gaan kom.
Gelowiges wat kla dat hulle in ontroue kerke klippe vir brood kry
en tog daar bly sit, benadeel hulself en mis baie saligheid.
Hulle mis die lewe en oorvloed, die blydskap en vrede wat God
juis vir sy kerk wil gee.

Gemeente, om eksklusief van die kerk te praat as plek van
behoud is heeltemal anders as om in hoogmoed en valse gerustheid
uit te roep, soos die Jode dit gedoen het: Die Here se tempel,
die Here se tempel, die Here se tempel is dit (Jer 7:4). Dis
bedrieglike woorde. Asof God se belofte onvoorwaardelik aan
hierdie kerk-adres verbind. So sien jy ook dat sekere mense in
hul kleingeestigheid die kerk beperk tot hul eie eksklusiewe
groep, soos allerlei sektes dit gedoen het en nog doen. Ons sou
dieselfde doen as ons sou sê dat buite die VGK daar geen
saligheid is nie. God het sy heil nie aan die kerk uit hande
gegee nie. God het Homself nie onvoorwaardelik aan een kerk-adres
verbind nie. Dit sou hoogmoedig wees om dit te dink. Die lou
gemeente van Laodicea moet Christus se dreigende woorde hoor:
omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond
spuug (Openb 3:16). God kan ’n gevestigde gemeente uit sy
mond spuug om êrens anders waar jy dit nie sou verwag het nie,
skielik ’n ander gemeente te laat ontstaan.

Dit neem egter nie weg dat jy as gelowige jou wel by die ware
kerk van Christus moet voeg om die heil te ontvang nie. Daar word
die heil bedien. Dis die norm. God bind ons daaraan. Maar self
bind Hy hom nie so daaraan nie dat Hy met sy Woord en Gees
nêrens anders is as binne die konkrete, sigbare kerk met sy
ampte nie. God is magtig om uit klippe kinders van Abraham op te
wek. En die Heilige Gees kan en het met sy nie gebonde Woord
buite die konkrete ampsdiens sondige mense tot wedergeboorte
gebring en tot ’n lewende geloof. Laat ons nie klein van ons
God dink nie. En sy werk in bekrompenheid nie versmal nie. Aan
die ander kant laat ons die roeping om ons by die ware kerk aan
te sluit nie ignoreer nie. Dis ’n ernstige saak waaraan die
Here ons bind.

So kom ons by die tweede gedagte: wat die roeping inhou.

Die inhoud van die roeping word omskryf as: “almal is
verplig om by die heilige vergadering aan te sluit en hulle
daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur
hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam –
aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus
Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee
het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien.” As
jy hierdie omskrywing lees, dan word dit duidelik dat elkeen van
ons aangespreek word. Dis nie net vir mense wat buite die ware
kerk verkeer nie. Dis ook vir mense wat in die kerk is. Ons kom
as gemeente saam onder die bediening van die woord. Die roeping
om die eenheid van die kerk te bewaar deur ons aan sy leer en tug
te onderwerp, ons nek onder die juk van Christus te buig en
volgens ons gawes mekaar te dien, raak elkeen van ons. Om net as
lidmaat in ’n plaaslike kerk ingeskryf te wees is nie genoeg
nie. Om die eenheid van die kerk te bewaar is baie meer. Dit
beteken gehoorsaamheid, betrokkenheid, diensbaarheid. So raak
hierdie oproep jou as jy bv slordig in die kerkgang is, omdat jy
die samekoms waar die vergewing en vernuwing verkondig word,
minag. Dis nie sonder rede dat ons in die brief aan die Hebreërs
lees: “laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos
sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en
dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebr
10:25). Kerkgang is ’n ernstige saak. Hier wil God sy heil
uitdeel.

Die roeping om die eenheid van die kerk te bewaar word deur
individualisme bedreig. Ons artikel is geskryf teen die
agtergrond van die godsdienstige individualisme van die
wederdopers. Die kerk sou goed genoeg vir die gewone mense wees,
maar die verligte siele sou dit nie nodig het nie. Hulle sou
daarbo verhef wees. So praat ons belydenis van mense wat hulle in
selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig hou. Niemand,
wat sy stand of status ook al is, mag hom in selftevredenheid van
hierdie vergadering afsydig hou nie. Maak nie saak of jy ’n
hoë posisie in die samelewing beklee, of intellektueel ver bo
die ander uitspring, of selfs geestelik verder as die ander
gevorder het nie. Die roeping geld elkeen, sonder uitsondering.
God vergader een volk uit alle range en stande, met ’n
verskeidenheid aan gawes en moontlikhede. Dit sou hoogmoedig wees
om jou van die gemeenskap afsydig te hou. Elke gelowige, hoe
geleerd of hooggeplaas hy ook al mag wees, behoort lewenslang
’n leerling van Christus te wees in die skool van die
Heilige Gees. Niemand het dus die reg om dit benede sy stand te
ag om hom deur gebrekkige mense te laat onderrig nie. Kerkgang is
ook ’n saak van nederigheid, voor God en voor die mense. Jy
laat jou lei en versorg deur Christus, wat daarby gewone mense
inskakel. Jy onderwerp jou aan die kerklike leer en tug en jy
buig jou hals onder die juk van Christus.

Broers en susters, vandag kry ’n mens te doen met ’n
vergelykbare houding teenoor die kerk. Jou keuse vir Christus is
die belangrikste, word dan gesê, maar die keuse vir die kerk is
net bysaak. Solank jy maar glo en as Christen lewe, daarvoor kan
jy ook wel sonder die kerk, so word gesuggereer. Jy kan tog ook
self bid en Bybellees? So het jy vandag baie mense wat hulleself
Christen noem, maar hulle van die kerk afsydig hou. Dis waar dat
jy tussen Christus en die kerk moet onderskei. Christus maak
salig, nie die kerk nie. Tog is die kerk wel Christus se
instrument en volk. Daarom mag jy nooit uit die onderskeid tussen
Christus en sy kerk konkludeer dat jou kerklidmaatskap nie
belangrik is nie. Juis in die eerste punt het ons vanuit die
Skrifte aangetoon hoe belangrik die kerk is, juis vir ons band
met Christus en die saligheid. Daar, in die kerk wil God jou
beskerm en onderhou.

Hier wil ek nog daarop wys dat ons belydenis duidelik oog het
vir gelowiges wat nog nie by die kerk is nie. Hulle is wel van
die kerk maar nog nie in die kerk nie. Daarom is daar ook die
nadruklike oproep aan alle gelowiges om hulle by die kerk aan te
sluit. God se bevel is ’n heilsame gebod. Dit beskerm teen
godsdienstige hoogmoed en individualisme. Wie hierdie roeping
ignoreer, handel in stryd met die bevel van God, so bely ons in
die laaste sin van die art. Ons oordeel nie oor die behoud van so
’n gelowige buite die kerk nie. Dit kom ons nie toe nie.
Daardie oordeel kom net God toe. Nietemin is en bly dit ’n
sonde om in stryd met die bevel van God te handel. Dieselfde
goeld vir plaaslike kerke of kerkverbande wat nie belangstel in
ander getroue kerke nie, maar ’n independente houding wys.
Hulle handel in stryd met die bevel van God. Daarom is dit
volgens art 28 NGB ook ons roeping om te bly strewe na groter
eenheid en samewerking met ander getroue kerke van Christus.

Nou die derde gedagte. Die keersy van die roeping. Hier verwys
ek na die woorde: “Om dit beter te kan doen, is dit volgens
die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei
van hulle wat nie aan die kerk behoort nie.” Die eenheid van
die kerk word nie net deur individualisme bedreig nie, maar ook
deur ’n binding aan mense wat feitelik nie aan die kerk
behoort nie. Wie word bedoel met hulle wat nie aan die kerk
behoort nie? In elk geval nie die huigelaars wat in art 29 genoem
word nie. Van huigelaars kan ’n mens immers nie afskei nie.
Jy weet nie eers wie hulle is nie. In die 16de eeu word daarmee
die sogenaamde papiste bedoel wat die leer van Christus losgelaat
het en die erediens met hul eiewillige seremonies vervals het.
Art 28 is tipies ’n woord wat tydens ’n proses van
reformasie gespreek is. Baie ware gelowiges, veral in Frankryk,
het dit nie gedurf om hulle van die rooms katolieke kerk los te
maak nie. So ’n stap sou vir hulle ernstige gevolge kan hê.
Daarom het hulle heimlik God volgens die gereformeerde leer
gedien, maar in die openbaar lid van die roomse kerk gebly.
Hierdie mense word nou opgeroep om hulle af te skei van hulle wat
nie aan die kerk behoort nie.

Die roeping tot afskeiding gaan uit van ’n situasie
waarin mense wat die werk van Christus teenstaan, die kerk
oorheers en dit so tot valse kerk maak. Hier word dan nie langer
Christus se stem gehoor nie, maar die stem van die vreemde
waarvan jy jou moet afkeer (Joh 10:5). Die heilige kerk van
Christus is dan op ’n ander plek te vinde waar die woord van
God in sy heerskappy herstel is. Daarom is daar die roeping om
jou af te skei van die gemeenskap wat nie werklik kerk van
Christus is nie en jou te voeg by die ware kerk (sien 2 Kor 6).
Dit geld ook vir getroue kerke binne ’n ontroue kerkverband.
Dis nie maklik nie, veral nie in ’n tyd van vervolging nie,
soos in die tyd van die Reformasie. Maar dit is wel heilsaam. God
soek mos jou saligheid, dat jy hier en nou reeds van sy heil kan
geniet en daarin mag groei. Christus vergader, beskerm en
onderhou sy kerk mos in die eenheid van die ware geloof.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)