Die deug van die Christelike huisvrou

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-01-29
Teks: 
Titus 2
Preek Inhoud: 

Titus 2:5

Ds C Kleyn - Sondag 29 Januarie 2006

Lees: Spreuke 31:10-31; Titus 2:1-5.
Sing: Ps 33:1,2; Ps 33:8,9; Ps 115:7,8; Ps 128:1-4;
Ps 148:4,5.

Tema: Die deug van die Christelike huisvrou

  1. Sy sorg goed vir haar gesin en huishouding
  2. Sy is onderdanig aan haar man
  3. Sy is ’n sieraad vir die evangelie

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die besluite van die GKSA sinode oor die vrou in die amp het
die laaste weke nogal wat reaksie ontlok. Verskeie mense het op
’n meerderwaardige manier daarop gereageer. Hoe kon die
sinode tog so agterlik wees? Mense het ’n strooipop gemaak
en dit afgeskiet. Asof die mans net hulleself wil laat geld en
die vrouens in die kombuis en moederskamer wil opsluit. Dis
natuurlik nooit wat die GKSA sinode gesuggereer het nie. Dit het
net gegaan oor kerklike ampte en wie dit volgens die Skrif mag
beklee. Buite die ampte is daar baie ander funksies en take wat
’n vrou en wat dit betref ook die man kan verrig. Jou
waardigheid en diensbaarheid as man of vrou hang nie daarvan af
of jy in die kerklike ampte ’n plek inneem nie. Hoe
onbarmhartige en dwaas sou die gedagte wees. God het elkeen van
ons geskep met sy eie gawes en verantwoordelikhede.

Dis egter duidelik dat dit vandag ook vir die sogenaamde
Christelike wêreld onaanvaarbaar is om vroue uit die kerklike
ampte uit te sluit. Maak nie saak wat die Bybel daaroor sê nie.
Dit pas nie in ons huidige kultuur nie. Dis polities inkorrek.
Daarmee sou ons teen die vrou diskrimineer, haar verneder, haar
bevryding oftewel emansipasie ongedaan maak. Vanuit hierdie
gedagte word dan oor dikwels minderwaardig oor die werk van die
huisvrou gepraat. Om ’n betaalde loopbaan te hê sou baie
belangriker wees. Meer eervol wees. Ons prestasie gerigte denke
ag dit benede die stand van ’n opgeleide vrou om haar aan
haar gesin te wy. Laat iemand anders dit maar doen.

Gemeente, laat ons luister na wat die Here, ons skepper en
verlosser, hieroor sê. Laat ons luister na sy gesonde woorde wat
gesond is vir kerk en samelewing. Jong vrouens moet volgens
hierdie gesonde evangelie geleer word om hulle mans en kinders
lief te hê, ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, en aan hul
mans onderdanig sodat die woord van God nie belaster word nie. Na
vorige week se preek konsentreer ons nou op die deugde huislik en
onderdanigheid.

Ek verkondig vir julle: die deug van die Christelike huisvrou

  1. Sy sorg goed vir haar gesin en huishouding
  2. Sy is onderdanig aan haar man
  3. Sy is ’n sieraad vir die evangelie

Wat is dit om huislik te wees? Moet die huisvrou haar opsluit
in die huis of soos spottend gesuggereer word in die kombuis?
Moet sy haar hele dag vul met kook, was en skoonmaak? En is dit
haar onder alle omstandighede verbied om enige werk buite die
huis te doen?

Om die woord huislik reg te doen, moet ons onthou dat Paulus
in ’n heel ander situasie skrywe as wat ons vandag ken. Die
vroue op Kreta het ’n baie ander bestaan gehad as ons vroue.
Hulle het in die wingerd of op die akker gewerk. Hulle het die
wol van die skape verwerk. Hulle het gespin en geweef, waarvan
hulle klere vir hul gesin gemaak het of ook vir die handel. Hulle
het die kos versorg. En daarvoor moes hulle toe baie meer werk
verrig as vandag se vroue. Daarvoor moes hulle hout sprokkel,
koring maal, brood bak, bokke melk, kaas en botter maak. Dis
’n heeltemal ander bestaan as wat ons stedelike vroue ken.
Wanneer Paulus sê dat die vroue huislik moet wees, dink hy aan
al dergelike dinge. As ’n man ’n vrou gehad het wat
hierdie dinge nie kon of wou organiseer of doen nie, dan sou daar
van die gesin niks tereg kom nie.

Spreuke 31 gee ons ’n pragtige illustrasie van so ’n
huislike vrou. Hierdie vrou is geen sissie nie. Sy is werklik in
beheer van die huishouding. Sy doen nie alles self nie. Maar sy
reël wel alles. Sy verdeel die take. Sy is self ook nie vies vir
harde of vuil werk nie. Sy sorg vir klere vir haar man en kinders.
Sy doen baie op die gebied van handel en industrie. Nie omdat sy
graag ’n loopbaan buite die huis soek nie. Nee, sy het haar
gesin in die oog. Haar huisgesin is no 1 vir haar. Sy wil haar
gesin van allerlei goeie en nodige dinge voorsien. Sy wil goed
vir haar man, kinders en bediendes sorg. Hulle moet gelukkig wees.
Sy is egter nie net na binne gerig nie. Sy werk so te sê met
haar vensters en deure oop na die wêreld. Tuis funksioneer as
haar hoofkwartier. Van waaruit sy haar man en kinders vir die
wêreld toerus. Sy het ook oog vir die nood van ander. Ons lees
in vers 20: “Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en
sy steek haar hande uit na die behoeftige.” ’n Pragtige
voorbeeld van ’n huislike vrou.

Gemeente, die manier waarop ons vroue hierdie huislikheid
uitoefen, sal vandag baie anders wees. Die industriële rewolusie
het daarvoor gesorg dat allerlei take wat vroeër by die huis
gedoen is, na die fabrieke verhuis is. Ons vroue hoef nie meer te
spin en te weef nie, hoef nie meer self klere te maak nie, hoef
nie meer botter en kaas self te maak nie ens ens. Bowendien het
die moderne huisvrou baie meer hulpmiddels tot haar beskikking,
soos die wasmasjien, stofsuier, mikrogolfoond, koelkas en
elektriese naaimasjien.

Maar die beginsel bly dat ’n vrou huislik moet wees. Vir
die gehude vrou is die sorg vir haar gesin die eerste
verantwoordelikheid. Sy is geskep as hulp vir haar man en as
versorger en opvoeder van haar kinders, indien die Here die vir
haar gee. Na die sondeval word die vrou aangespreek juis ivm haar
moederskap, terwyl die man juis ivm sy moeitevolle arbeid vir
lewensonderhoud aangespreek word: met smart sal jy kinders baar.
So benadruk Paulus die moederskap van die vrou en daarby ook die
taak om haar huishouding te versorg (1Tim 2:15 en 5:14). Hier het
jy die eerste verantwoordelikheid van die gehude vrou: die sorg
vir haar huishouding. Trouens God het in die skepping van die
vrou reeds gewys dat sy as eerste in aanmerking kom vir die
versorging van die gesin. Die vrou dra ’n kind in haar skoot
tydens die 9 maande swangerskap en net moeder die vrou kan die
kind borsvoeding gee. Dit is dus nie sonder rede dat Paulus in
ons skrifgedeelte sy instruksies vir die jong vrouens begin met
die woorde dat hulle hul mans en kinders moet liefhê.

Ons huweliksformulier omskryf die woord huislik vir ons soos
volg: Jy moet aan jou gesin en huishouding die regte aandag gee.
Nie jou loopbaan nie, maar jou gesin en huishouding moet vir jou
die belangrikste wees. Jy mag jou gesin nie verwaarloos nie. Baie
take het in die gesinne van vandag ligter geword. Maar die taak
van die opvoeding het beslis nie ligter geword nie. Die wêreld
het baie onrustiger, meer verward en gekompliseerd geword.
Daarvoor moet die vrou haar man en kinders toerus en opvang. As
ma is jy die eerste verantwoordelike vir die voeding en opvoeding
van jou kinders. Jy is normaalweg die sleutel tot die kinders se
emosionele en geestelike groei met jou liefde, aanwesigheid,
troos en begrip. Jy is die eerste opvoeder en onderwyser. Moenie
die eerste jare van ons kinders onderskat nie. Hulle het dan baie
aandag en sorg nodig. Daardie jare is fundamenteel vir hul
verdere ontwikkeling en funksionering.

Laat ons daarom nie minderwaardig oor die werk van die
huisvrou dink nie. Daardie werk wat in toewyding en
selfopoffering in die gesin verrig word is fundamenteel vir kerk
en samelewing. Huisvroue is diegene wat so te sê gewillige,
ewewigtige, bekwame en gedissiplineerde werkers in kerk en
samelewing produseer. Moenie onderskat die langtermyn effek van
ma se onderrig en versorging van haar kinders nie. Hierdie
grootmaak van kinders, in ’n sfeer van liefde en
geborgenheid, bly die kinders by in hul verdere lewe. Huisvroue
produseer toekomstige leiers en stel mense in staat om as leiers
te funksioneer. Durf iemand nog praat van ’n minderwaardige
taak, ’n gemors van talent en onproduktief wees. Dis een van
die belangrikste en invloedrykste take in die wêreld.

Daarom is dit, broers en susters, pragtig as mas hulle voltyds
aan hul gesin kan wy. Veral tydens die eerste jare van die
kinders. Wanneer die kinders skool toegaan, kry jy as vrou meer
vrye tyd. Wat moet jy dan doen? By die huis bly sit en jou tyd
vul met onbelangrike dinge? Eindeloos by die bure of vriende gaan
kuier. Paulus waarsku juis teen ledigheid en praatsug(1 Tim 5:13).
Daar is in God se koninkryk soveel werk om te doen. ’n
Christen hoef hom nooit te verveel nie. So kan dit soms beter
wees om arbeid buite die huis te verrig. Vrywilligers werk of ook
betaalde werk. Dit kan soms ook ’n belangrike terapie wees.
Solank as die eerste verantwoordelikheid van die gehude vrou (teenoor
man en kinders) maar nie in gedrang kom nie. Wanneer die gesin
daaronder ly, bv wanneer die kinders dag in dag uit tuis kom
sonder dat ma (of pa) by die huis is en heeltemal aan hulleself
oorgelaat word, dan is ons verkeerd besig. Dan ontstaan ’n
ongesonde situasie. Dan moet aan die opdrag van die Here en aan
die belofte by die huweliksluiting herinner word, naamlik: jy
moet aan jou gesin en huishouding die regte aandag gee.

Ongelukkig leef ons in ’n gebroke wêreld, waardeur die
ideale situasie nie altyd bereik kan word nie. Soms is daar
sprake van siekte. Soms is daar dringende finansiële redes
waardeur die ma nie by die huis kan bly terwyl die kinders nog
klein is nie. Die kinders moet dan aan die sorg van ander
toevertrou word. In daardie gevalle is dit belangrik om te let op
die motiewe. Daar is ’n groot verskil tussen onwil en onmag.
As dit, bv net ’n kwessie is dat jy as vrou ’n loopbaan
wil hê en julle as gesin groter rykdom wil hê, dan moet dit
vanuit die Skrif aangespreek word. Die gehude vrou se eerste
verantwoordelikheid is immers haar gesin en nie ’n loopbaan
nie. En ons prioriteit moet nie wees om ryk in hierdie wêreld te
wees nie. As daar egter vir die egpaar geen ander keuse is nie en
hulle goeie aandag aan die opvang en versorging van hul kinders
gee, dan lê die saak heeltemal anders. Dan sal ons dit moet
respekteer en as gemeente ons hulp moet aanbied, waar moontlik.
Wanneer die huisvrou met kinders buite die huis werk, sal daar
altyd duidelike afsprake tussen die ouers en ouer kinders gemaak
moet word sodat die beste opvang gegee kan word en die minste
skade gely word. Almal sal hulle daarvoor inset en saam sekere
offers bring sodat die gesin so goed as moontlik funksioneer.
’n Mens wil die gesin mos nie verwaarloos nie. Daarvoor is
te veel op die spel.

Nou die tweede waarop ons sou let: Die Christelike huisvrou
sorg goed vir haar gesin en huishouding, dit was die eerste. Sy
is ook onderdanig aan haar man. Dis die tweede gedagte.

Die woord onderdanig is nie baie populêr in ons samelewing
nie, veral nie vir die verhouding man-vrou nie. Vanuit die
gelykwaardigheid van die vrou, word man en vrou as twee gelyke
vennote gesien. Hulle is nie net gelykwaardig nie, maar ook gelyk.
Wat Paulus hier skryf oor die onderdanigheid van die vrou sou
volgens baie net kultuurgebonde wees en dus nie vir ons tyd geld
nie. Paulus verwys egter na die skeppings-struktuur. God het die
man as hoof van sy vrou geskep. Wie daarby aan diskriminasie denk,
begryp nie waaroor dit gaan nie. Diskriminasie is ’n vrug
van die sonde, ’n verwringing van die skeppingsstruktuur.
Die diskriminasie van die vrou het eers begin toe die man sy
posisie as hoof misbruik het om oor haar te heers. Wanneer die
man homself ten koste van sy vrou laat geld, dan is dit ’n
vloek as gevolg van die sonde (Gen 3:16). Dis onaanvaarbaar en
moet bestry word. Die vrou is gelykwaardig aan die man. Hul
verhouding moet ’n verhouding van onderlinge liefde, respek
en trou wees. Dit beteken egter nie dat die vrou die leiding-gewende
posisie van die man in die huwelik nie meer hoef te erken nie.
Die geloof en die liefde hef God se gestelde orde in die lewe nie
op nie, maar herstel en heilig dit eerder.

Die vrou moet haar dus onderwerp aan die orde wat God ingestel
het. Dit het niks met minderwaardigheid te doen nie. God het
verskillende verantwoordelikhede gegee. God het die man tot hoof
van sy vrou aangestel. Een persoon moet die finale
verantwoordelikheid dra. As ’n vrou die gelyke van haar man
wil wees dan word sy ’n mededinger. Dan kom daar twee
kapteins op een skip. En dit is nie gesond nie. Gestel dat twee
mense met die motor reis en albei wil hul hande op die stuur hê
en dat die een dan reguit wil ry terwyl die ander regsaf wil gaan.
Dit sou groot moeilikheid beteken. Dis wat jy kry as man en vrou
gelyke verantwoordelikheid wil hê en mekaar se konkurrente word,
wat elk hul eie rigting wil volg en albei hul hande aan die stuur
wil hê. Net een moet stuur.

Nie dat dit deur die man van bo gedikteer word nie. Ons het
reeds gesê dat die huwelik ’n verhouding van onderlinge
liefde en respek moet wees. Die onderdanigheid van die vrou aan
haar man is dan ook heeltemal anders as die onderdanigheid van
jong kinders aan hul ouers en van slawe aan hul here. Die vrou is
geskep as ’n hulp op die man se vlak. Sy het baie om by te
dra. Sy het juis gawes ontvang om die man te help om te wees wat
Hy moet wees. Daarom sou dit onwys en onbillik wees as die man
niks in oorleg met sy vrou doen nie en die adviese van sy vrou
heeltemal ignoreer. Neem die verantwoordelikheid vir die gesin.
Die man is uiteindelik verantwoordelik. Van hom word gestel dat
hy sy huis en sy kinders goed moet regeer (1 Tim 3:4,12). Hy
staan aan die hoof in die gesin. Maar die vrou het juis tot taak
om vir haar gesin en huishouding sorg te dra. Hulle is dus saam
betrokke en dit sou nie verstandig wees as die man net dikteer
hoe alles moet verloop sonder om na sy vrou te luister nie. Sy is
die meeste betrokke by die uitvoering van die taak en sy het in
die reël meer insig in die situasie op grondvlak. Dis ’n
saak van onderlinge oorleg en waardering. Maar wanneer die oorleg
nie of nouliks plaasvind en man en vrou by die opvoeding en
versorging van die kinders ’n verskillende koers gaan volg,
gaan dinge verkeerd. Die vrou is as gelykwaardige hulp van haar
man geskep om die man te help om sy God gegewe roeping in gesin
en samelewing te kan vervul.

Broers en susters, hoe dit in die praktyk uitgewerk word, blyk
ook duidelik uit die optrede van die huisvrou uit Spreuke 31. Ons
lees daar: “Die hart van haar man vertrou op haar, en aan
wins sal dit hom nie ontbreek nie. Sy doen aan hom goed, en nie
kwaad nie, al die dae van haar lewe.” By al haar besighede
gaan dit vir haar nie om haarself nie. Sy plaas nie haarself
sentraal en verhef haarself nie bo haar man nie. Dis iets wat
maklik kan gebeur, veral as jy so ’n begaafde en bekwame
vrou is. Jy kan dan maklik jouself gaan soek, jou eie eer en
voordeel. Dis dan ook die kernprobleem in ons moderne tyd en
samelewing. Om jouself in liefde en toewyding weg te syfer en jou
te skik na God se ordening pas nie in ons tyd nie. Dit gaan teen
die selfsugtige tydgees in.

Dis egter opvallend dat die begaafde vrou van Spreuke 31 alles
doen ter wille van haar man. Dis vanweë haar trou teen hom dat
haar man heeltemal op haar kan vertrou. Hy weet dat sy huis en
gesin goed versorg is. Daarom kan hy rustig die publieke funksie
in die poorte van die stad vervul. Hierdie deugsame vrou ken haar
onderdanige, maar tegelyk baie belangrike, plek. Sy is werklik
’n hulp wat by haar man pas.

Maar wat moet jy as vrou maak as jou man nie in liefde en
respek met jou saamleef nie? Jou onderdanigheid word nie deur die
optrede van jou man bepaal nie, maar deur God se ordening. Wat
Petrus in 1 Petr 2:18 tot die diensknegte sê, geld ook hier:
“wees onderdanig, nie alleen aan die wat goed en vriendelik
is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.” Voor die vroue
word die moontlikheid dat hul mans ongehoorsaam is, ’n rede
te meer genoem om onderdanig te wees. Petrus vervolg: “Net
so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as
sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel
van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine,
godvresende wandel aanskou het” (1 Petr 3:1,2).
Ongehoorsames kan hul ore wel wil toesluit vir die Woord van God,
maar dit kan vir hulle nie onopgemerk bly as hulle die evangelie
in praktyk sien in die lewe van hul eggenotes nie. Daarom praat
Petrus van die aanskou van jul reine, godvresende wandel.

So kom ons by die laaste gedagte: die Christelike huisvrou is
’n sieraad vir die evangelie. Ons teks noem dit in die
negatief: “sodat die woord van God nie belaster word nie.”
Ons gedrag binne huwelik en gesin is nie net ’n persoonlike
saak nie. God se woord en eer is in geding. Uit ons gedrag blyk
die egtheid van ons geloof en die krag van die evangelie. Die
apostel is juis besorg oor die indruk wat die lewe van die
gelowige maak op die buitestaanders. Hy wil nie hê dat die woord
van God in diskrediet kom en belaster word deurdat gelowiges in
hulle leefwyse te kort skiet nie. Die wêreld beoordeel die
Christelike leer volgens wat hulle sien van die gedrag van die
gelowiges. Laat daarom elkeen van ons so lewe dat daar nie aan
die woord van God afbreuk gedoen word nie. Laat ons huwelike en
gesinne juis voorbeeldig wees, ’n sieraad vir die evangelie,
iets waarop die wêreld jaloers kan wees. Watter kragtige
getuienis kan van ons Christelike huwelike en gesinne uitgaan in
’n wêreld vol verwarring en gebrokenheid. Aan die ander
kant as die huwelik ’n voortdurende toutrekkery is en die
gesinne deur onderlinge gebaklei gekenmerk word, watter skade lei
nie net die gesin nie maar ook die Christelike getuienis.

Ten slotte, huisvroue, mas besef dat julle een van die
belangrikste en invloedrykste take in die wêreld het. Jy is die
hulp van jou man, wat hom kan help om as man van God te
funksioneer in kerk en samelewing. Jy is die bron van nuwe lewe,
die sleutel vir die kinders se groei en ontwikkeling as kinders
van God. Jy is die eerste opvoeder en onderwyseres. Jy is soveel
dinge. Moenie jou daaraan steur dat die samelewing dit vandag nie
meer waardeer nie. Moenie jou daaraan steur dat by tye jou eie
man dit nie lyk te waardeer nie en dat jou kinders soms rebels is.
Om ’n huisvrou of ma te wees is nie maklik nie maar dit is
fundamenteel werk. Die toekoms van kerk en samelewing hang so te
sê daarvan af. Manne, seuns en dogters waardeer jou vrou en ma
vir wie sy is en wat sy doen. Help haar by die taak wat God haar
opgedra het sodat sy dit met vreugde kan doen. So sal julle
geseën word en God se naam geprys.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)