Die vurige gebed van die eerste gemeente

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-01-01
Teks: 
Handelinge 1:12-14
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Handelinge 1:12-14

Ds HH van Alten - Sondag 1 Januarie 2006

Lees: Hand. 1, Hand. 1:12-14
Sing: Sien liturgie

Tema: Die vurige gebed van die eerste gemeente.
    Ons stel die volgende 3 vrae:
        1. Wie het gebid?
        2. Waarvoor het hulle gebid?
        3. Hoe het hulle gebid?

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die eerste Januarie was in die tyd van die Romeinse Ryk die begin van die burgerlike jaar. Dit was trouens ook die dag waarop die hoogste staatsamptenare van die Ryk hulle amp aanvaar het. Hierdie dag is daarom as dag van vreugde gevier, waarby die burgers hulle dikwels aan uitspattighede oorgegee het. Die kerk het in weerstand hierteen die eerste Januarie kerklik begin vier as dag van Christus se besnydenis. Die eerste Januarie is immers agt dae ná die 25e Desember, en op die agste dag moes die seuntjies in Israel besny word. Ons het egter in gisteraand se preek al gesien dat die 25e Desember nie die dag van Christus se geboorte kon gewees het nie, en dat die eerste Januarie as dag van Christus se besnydenis daarom ook slegs simboliese waarde het. Wat die geval ook mag wees, dit is duidelik dat die kerk in die Romeinse Ryk ‘n alternatief probeer vind het vir die jolige, maar leë gefuif van die ongelowiges om hulle heen. Hierin is hulle vir ons ‘n voorbeeld hoe om vanaf dag een van die nuwejaar kerk van Christus te wees. Hoe is ons dit, broeders en susters – kerk van Christus vanaf dag een? Wat leer die Skrif ons oor die belangrikste aspekte van ons gemeente-wees?
Om antwoorde op hierdie vrae te kry, wil ons vandag en in die komende weke gaan kyk na die kerk van die allereerste begin, soos wat die Here deur die diens van Lukas in Handelinge daarvan vertel. Ons wil gaan kyk wat in daardie eerste jare sentraal gestaan het, hoe daar met probleme en konflikte omgegaan is, en hoe die Here in sy kerk gewerk het. wil ons leer en onsself toerus om in hierdie jaar ‘n gemeente te wees wat ryk is in geloof, liefde en goeie werke.

Kortliks eers ‘n inleiding op die boek Handelinge. Lukas sê in Handelinge 1:1: “Die eerste verhaal, Theófilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het tot op die dag dat Hy opgeneem is, … ” Die eerste verhaal, die evangelie volgens Lukas, gaan dus oor wat Jesus begin doen en leer het. Lukas se tweede verhaal, Handelinge, gaan egter oor Jesus se voortgaande werk van verlossing. In die boek Handelinge staan Christus dus sentraal; Handelinge vertel van die verowering van die sondige wêreld deur die verhoogde Christus! Dit doen Hy dan deur die kragtige werking van sy Gees, en die Gees maak weer gebruik van menslike instrumente. Maar sentraal staan Christus – Hy vergader sy kerk, vanaf Jerusalem, en wyer in Judea en Samaria, en uiteindelik tot by die uiterste van die aarde (Hand. 1:8). Ons sien hoe hierdie struktuur van Christus se opdrag in vers 8, deur Lukas ook in die boek Handelinge uitgewerk word – hoofstukke 2-7 speel immers af in Jerusalem, hoofstukke 8 en 9 in Judea en Samaria, hoofstukke 10-12 wys die eerste verkondiging aan die heidene en hoofstuk 13 en verder speel af in die wye wêreld tot in Rome. Ons kan die segetog van die evangelie op die voet volg vanaf Jerusalem tot in Rome, die hoofstad van die wêreldryk van daardie tyd. Daar stop Lukas se boek, maar Christus se werk gaan voort. Ook hierdie gemeente vandag is die genadige produk van die veroweringswerk van Jesus Christus tot aan die eindes van die aarde. Hy verower, deur die verkondiging van sy Woord, menseharte, en Hy voeg hulle saam in ‘n gemeente, ‘n kerk. Dit is hoe Hy dit in daardie eerste dae gedoen het, dit is hoe Hy dit vandag nog doen. Vandag wil ons let op die vurige gebed van die eerste gemeente.

Tema: Die vurige gebed van die eerste gemeente
    Ons stel die volgende drie vrae:
        1. Wie het gebid?
        2. Waarvoor het hulle gebid?
        3. Hoe het hulle gebid?

1. Christus het sy dissipels vir hulle laaste ontmoeting na die Olyfberg laat kom. Daar rig Hy hulle aandag op die taak wat vir hulle voorlê. Die dissipels verstaan dit egter nog nie goed nie; dit blyk uit hulle vraag in vers 6: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Hier spreek dieselfde verwagting as van die Emmausgangers in Lukas 24:21 waar hulle sê: “En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos.” Die Emmausgangers se verwagting was natuurlik ‘n teleurgestelde verwagting, omdat Christus kort daarvoor aan die kruis gesterf het. Maar noudat Hy opgestaan het, nou herleef dieselfde verwagting weer by die elf dissipels: is Hy nie miskien die Een wat die Koninkryk vir Israel weer gaan oprig nie?
Dit is belangrik om daarop te let dat Jesus nie die verwagting as sulks korrigeer nie, maar wel die gedagte dat dit nou sal plaasvind. Die voorkennis van die tyd waarop die herstel sal plaasvind, dit is by God alleen bekend. Jesus weerspreek dus nie die verwagting van sy leerlinge nie, maar dit sal langer duur as wat hulle gedink het. Vir Israel om herstel te word, moet daar eers ‘n beweging van Israel na alle volke plaasvind. Die evangelie, die goeie nuus moet eers na alle volke gaan, sodat daar ook by die heidene geloof en bekering kan kom. Só begin die herstel van Israel, die ware Israel, wat nie eksklusief bestaan uit Jode nie, maar wat eksklusief bestaan uit gelowiges, u en ek! In die kragtige beweging van die evangelie vanaf die sentrum van die Joodse volk, Jerusalem, tot aan die uiterste van die aarde, hierin het die dissipels hulle taak. Hulle is nou nie meer in die eerste plek dissipels, leerlinge, nie, maar hulle is nou apostels, gestuurdes, betrokkenes in die wêreldwye beweging vanaf Jerusalem, via Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.

‘n Geweldige groot taak – om voorlopers, leierfigure, in ‘n wêreldwye beweging te wees. Jesus self het hulle, tydens sy lewe op aarde, alreeds vir hierdie taak begin toerus, maar die wysheid om die regte woorde te spreek, die uithouvermoë om met hierdie taak voort te gaan, die insig om die gemeentes reg te lei, daarvoor het die apostels goddelike krag nodig – die krag van die Heilige Gees. En daarvoor stuur Jesus hulle na Jerusalem: gaan wag daar totdat die Heilige Gees oor julle kom… Glashelder is Jesus se opdrag, maar weereens sukkel die dissipels om hulle perspektief reg te kry. Wanneer Jesus na die hemel opvaar, vat dit twee engele om hulle oë van die verdwynende Christus af te trek en te rig op die weg wat vir hulle op aarde voorgelê het: “Gallilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (vers 11), maar julle het ‘n taak hier op aarde! En dan gaan die dissipels, in gehoorsaamheid, terug na Jerusalem.

En daar, in Jerusalem, vind ons hulle weer, al biddende en smekende! Maar nie alleen nie… Nee gemeente, gebed en smeking om die vervulling van God se beloftes (in hierdie geval dan spesifiek die belofte van die Heilige Gees) is geen apostelsaak nie. Gebed is geen predikante-saak nie. Gebed en smeking is ‘n gemeente-saak! Dit is ons saak, broeders en susters. Sien hulle daar bymekaar daar in die bo-kamer in Handelinge 1 – dis nie een of ander apostel-konverensie wat daar gehou word nie, nee, dit is die eerste gemeente wat op haar knieë gaan voor God.
* In die eerste plek sien ons daar die elf; hulle word by name genoem: Petrus en Jakobus en Johannes en Andreas, Filippus en Thomas, Bartholomeus en Mattheus, Jakobus, die seun van Alfeus, en Simon die Yweraar, en Judas die seun van Jakobus. Een ontbreek, Judas, wat, soos blyk uit vers 18, homself om die lewe gebring het. Maar, gemeente, dit is geen vanselfsprekendheid dat die ander elf daar is nie. U onthou miskien hoe die dissipels by Jesus se gevangeneming Hom almal verlaat en gevlug het (Matt. 26:56). Die Here Jesus het ná sy opstanding heelwat werk gehad om hulle almal weer bymekaar te kry. En nou is al elf hier bymekaar, nie vanweë hulleself nie, maar vanweë Christus se roepende liefde. Hulle is miskien die leidinggewende figure in Christus se wêreldwye veroweringswerk, hulle boodskap is die fondament waarop Christus sy kerk wil bou, maar ook hulle moet van God se genade lewe.
* Dan is daar die vroue. Die manier hoe Lukas verwoord dat die vroue daarby was, wys dat dit iets besonders was. Dit wil voorkom asof hy ‘n korreksie probeer aanbring op die gebruiklike manier van praat en dink waarin alleen die manne belangrik was. Lukas se woordkeuse wys dat die vroue hier naas die manne ‘n volwaardige plek in die gemeente ingeneem het. Hulle is ook deel van die vurige gebed van die eerste gemeente. By ‘vroue’ kan ons hier dink aan die vroue van die apostels, maar meer nog aan die vroue wat Jesus tydens sy lewe op aarde gevolg en versorg het (Luk. 8:1-3, 23:49, 24:10).
* En dan word Maria, Jesus se moeder, en sy broers nog apart genoem. Ook sy familie het sy volgelinge geword. Hulle wat op ‘n stadium gedink het dat Hy besig was om dit te oordoen, besig was om sy verstand te verloor, hulle het ook geleer dat daar in sy Naam alleen verlossing is. Sy bloedverwante het deel geword van die familie van gelowiges.

So sien ons hulle daar bymekaar – manne, vroue, leiers, familie. Almal saam die gemeente van die verhoogde Christus, besig om te bid. Niemand word hiervan uitgesluit nie. Want dit is wat Christus hier op aarde doen: Hy vergader ‘n kerk. En as kerk saam mag ons die Here aanroep, Hom aanspreek op sy beloftes, betrokke wees by die werk van Christus. Die feit dat die apostels die persone was wat fisies moes uitgaan om die evangelie te verkondig, het die gemeente nie onaktief gemaak nie. Voortdurend deur die boek Handelinge sien ons die eerste gemeentes op hulle knieë. Kyk na hoofstuk 2:42 – een van die kenmerke van die eerste bekeerdes was dat hulle volhard het in gebede. Kyk hoe bid die gemeente in hoofstuk 4:24 en verder wanneer Petrus en Johannes deur die Joodse Raad vrygelaat word. Let op hoofstuk 12:12 waar die gemeente in die gebed bymekaar was. Kyk hoe Paulus in hoofstuk 20:36 en 21:5 met die gemeente van Efese saam gebid het. Broeders en susters, laat ons van die eerste gemeente leer dat gebed nie ‘n saak van enkeles is nie, maar dat dit ‘n saak van die hele gemeente is. Almal saam kom ons voor die troon van God se genade, almal saam pleit ons dat God sy beloftes sal waarmaak, almal saam doen ons voorbidding vir die voortgang van die evangelie. En gemeente, hierdie gebed, die gebed van ons almal saam, is die basis waarvandaan ons in ons gesinne, in ons huise, in ons binnekamers die hande vou, die oë toemaak en tot God bid. Laat ons daarom die gebed van die gemeente nooit verwaarloos nie, maar besef dat dit ‘n kern-aspek is van ons antwoord op God se Woord, van ons weerklank op die klanke van die evangelie.
Ons het nou daarop gelet wie daar bymekaar was om te bid. Ons wil nou vervolgens daarop let waarvoor hulle gebid het.

2. Die eerste gemeente is daar in die bovertrek bymekaar omdat dit die bevel van Christus was. Ons lees in vers 4 dat Hy hulle bevel gegee het om nie van Jersualem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader. Uit verskillende verse in hoofstuk 1 blyk duidelik dat hierdie belofte van die Vader verwys na die koms van die Heilige Gees. Ons sien dit byvoorbeeld in vers 5: “Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.” Ook vers 8: “… maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom.” Die Heilige Gees is dus die belofte van die Vader, en die Een waarvoor die eerste gemeente in daardie spannende dae gebid het.

Want gemeente, dit was verseker spannende dae. Ons kan aanneem dat die lewe van die gemeente in baie opsigte bedreig is, dat hulle alleen gevoel het, dat hulle hartseer was oor Jesus wat weggegaan het. Maar is dit waarop hulle hul gebed gerig het? Hulle lewe, hulle eensaamheid, hulle hartseer? Nee, hulle rig hul gebed op die saak van Christus, op die taak wat hulle binnekort moet gaan uitvoer, op die koms van die Heilige Gees om hulle vir daardie taak toe te rus.
Broeders en susters, dit is so geweldig belangrik wat die gemeente in Jerusalem besig is om dáár in die bovertrek te bid. Hulle bid vir die koms van die Gees, hulle beroep hulle op God se belofte van die Trooster, want saam voel hulle verantwoordelik vir die taak wat Jesus hulle opgedra het in vers 8, naamlik om getuies te wees in Jerusalem, Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde. Saam wil hulle aan daardie taak begin, maar hulle besef ook al te goed dat hulle dit sonder die krag van die Gees nie kan doen nie. En daarom bid hulle as gemeente saam vir die koms van die Heilige Gees. Hy moet hulle toerus, sodat hulle hul werk in God se Koninkryk kan gaan doen. Dit is die eer van hierdie eerste gemeente – hulle was klein in getal, maar groot in krag. Die krag van die geloof, want hulle het hulself op sy beloftes beroep, omdat hulle vir sy saak wou ywer! Sien daarom raak, broeders en susters, dat elkeen van ons by die eerste gemeente se gebed betrek is. Hulle gebed het heilshistoriese betekenis, want hulle bid nie vir hulself en hul eie omstandighede nie. Nee, hulle bid vir die Heilige Gees wat hulle krag sal gee om getuies te wees, tot aan die uiterste van die aarde! Tot aan die suidpunt van Afrika. Ons broers en susters daar in Jerusalem – Petrus en Johannes en Thomas en Maria en noem hulle maar op – hulle het vir ons gebid. Dit is óns redding dat die eerste gemeente nie vir hulself gebid het nie, maar vir die koms van die Gees waardeur Christus se verlossende werk die ganse mensdom sou bereik.

Waarop rig ons as gemeente ons gebede? Het ons gebede nog ‘n gerigtheid op God en sy Koninkryk? Is ons gebede nog ‘n antwoord op God se beloftes? Heeltemal reg, die belofte van die koms van die Heilige Gees is vervul op die Pinksterfees – dit was dus ‘n baie spesifieke belofte vir daardie tyd. Maar gaan ons as gemeente nog in gebed op ons knieë om die Here te smeek vir die vervulling van die beloftes wat spesifiek vir ons tyd gegee is? Hoe besig is ons in ons gebede met die Koninkryk van God – een van die eerste bedes in die gebed wat die Here Jesus ons self geleer het? Hoe dikwels bid ons vir die wederkoms van ons Heiland – ‘n belofte wat spesifiek gegee is vir die kerk na Pinkster?

Gemeente, ons het soms soveel moeite om te bid. Ons weet nie altyd waarvoor om te bid nie. Maar die gemeente daar in Jerusalem het die stof vir hulle gebed eenvoudig gehaal uit die woord van die Here, uit wat Hy beveel en belowe het. Die Here Jesus het hulle konkreet beveel om getuies te wees tot aan die einde van die aarde, Hy het hulle konkreet belowe dat die Heilige Gees oor hulle sou kom om hulle krag te gee. En daarvoor bid hulle dan! Eenvoudig antwoord op die woord van die Here. Die Here se Woord, sy bevele en sy beloftes, gee inhoud aan ons gebed. Dit leer ons as gemeente om saam tot die Here te gaan, klein en groot, jonk en oud. Want ons gebed word dan nie in die eerste plek meer bepaal deur elkeen se persoonlike behoeftes nie – en hoe verskil elkeen van ons se behoeftes nie van mekaar nie – maar dan word ons gebed bepaal deur ons gemeenskaplike gerigtheid op Christus en sy Koninkryk. Ten slotte wil ons nog kyk hoe die eerste gemeente gebid het.

3. In vers 14 vind ons twee kernwoorde wat die geestelike lewe van die gemeente in Jerusalem gekenmerk het. Net soos by die woord ‘gebed’ is dit nie ‘n woord wat maar ;n enkele keer in Handelinge voorkom nie. Nee, ook hierdie woorde wys iets van ‘n lewenswyse by die eerste gemeente.

Eerstens vind ons die woord “eendragtig”. Ons vind dit ook in hoofstuk 2:1 en 46 waar van die gemeente gesê word dat hulle eendragtig bymekaar was. In hoofstuk 4:24 lees ons van die gemeente wat eendragtig hulle stem verhef en tot God gebid het nadat Petrus en Johannes deur die Joodse Raad vrygelaat is. En in 5:12 word van die gemeente gesê dat hulle almal eendragtig saam was in die pilaargang van Salomo. Eendragtig, dus in eenheid en geloofsverbondenheid. Gemeente, dit was eens anders by Jesus se volgelinge. Daar was ‘n tyd toe hulle met mekaar gewedywer het oor wie die belangrikste in die Koninkryk van God is (Mk. 9:30-37). Daar was ‘n moment dat Martha kwaad was vir Maria omdat sy al die werk alleen moes doen (Luk. 10:38-42). Daar was ‘n tyd toe die eenheid ontbreek het en alle dissipels in verskillende rigtings uitmekaar gespat het. Maar nou sien ons hulle verenig in hulle gerigtheid op God, in hulle gehoorsaamheid aan die bevel van Christus. Dit is ook die enigste gerigtheid wat werklik kan verenig. Gerigtheid op onsself en gerigtheid op die wêreld lei tot verdeeldheid, want ons soek dan niemand anders as onsself nie. En daar is so baie van ons wat dan elkeen homself soek… Maar wanneer ons almal saam God in ons visier het, dan bring dit mense saam in ‘n gemeente. Gemeente, die kuur vir verdeeldheid in die kerk van Christus lê nie in gesamentlike projekte en spanbou-sessies nie. Die kuur lê ook nie daarin dat ons oor alles saam moet stem nie. Eendrag word slegs verkry in die weg van die gerigtheid op die Here en sy Koninkryk, in die weg van gehoorsaamheid aan Christus. Broeder en suster, voel daardie band met jou mede-gelowige, nie omdat hy of sy noodwendig jou vriend of vriendin is nie, maar omdat hy en sy saam met jou die hande vou, die oë toemaak, en bid: Here, laat u Koninkryk kom. En leef dan ook daardie band deur die gemeente, deur mekaar, voortdurend op te soek.

Die ander kernwoord wat ons in vers 14 vind, is “volharding”. In hoofstuk 2:42 en 46 word hierdie woord gebruik met betrekking tot trou aan die leer van die apostels, asook in die gemeenskap, die breking van die brood en die gebede. En in 6:4 word gepraat van volharding in die gebed en die bediening van die woord. Dit gaan hier daaroor om aan te hou, uit te hou, tot die einde toe vol te hou. En dit is konkreet wat die gemeente in Jerusalem gedoen het. Tien dae lank volgehou en uitgehou in hulle biddende houding. En dit is nie asof hulle voor die tyd geweet het dat die vervulling van die belofte oor die koms van die Heilige Gees tien dae sou duur nie. Nee, hulle het God op sy woord vertrou, … en gebid en gewag. Gebid vir sy saak en sy Koninkryk, gebid met volharding!

Gemeente, hoe baie kan ons nie leer van ons broers en susters in die bovertrek daar êrens in Jerusalem nie… Die eerste gemeente was ‘n biddende gemeente. Watter groot krag gaan daar nie uit van ‘n biddende gemeente nie… ‘n Gemeente wat in alles op die Here gerig is, ‘n gemeente wat smekend na die Here kyk. Want die gebede van die gemeente is die manier waarop ons, nadat die Here tot ons gespreek het, Hom antwoord. Die Here praat met ons deur sy Woord, Hy kom na ons met sy beloftes, sy bevele, sy wonderlike nuus aan ons. En dan mag en dan moet ons antwoord, terugpraat, kommunikeer. Laat ons nie die kommunikasielyne verbreek deur nie te antwoord nie. Laat dit ons as gemeente nie eendag verwyt word dat die Here geklop, maar ons te lui was om oop te maak nie.

Die geestelike lewe van die eerste gemeente is as voorbeeld aan ons gegee hoe om ‘n biddende gemeente te wees: almal saam (niemand mag hiervan uitgesluit word of homself hiervan uitsluit nie), in antwoord op God se spreke (dus, nie egoisties nie, maar soekend na God se Koninkryk) eendragtig (dus, almal saam in hartlike verbondenheid) en met volharding (dus, sonder ophou). Gemeente, laat ons op ons knieë bly voor die Here, dan is ons op ons sterkste, want dan het ons die Here wat vir ons stry. Laat ons bly bid in ons bybelstudieverenigings en vergaderinge, in die erediens en ander byeenkomste. Laat ons die nood van hierdie gemeente, van die kerkverband, van ons land en van hierdie wêreld by naam en toenaam voor die Here gaan lê. Laat ons Hom aanspreek op sy beloftes dat Hy ons nie sal verlaat nie, laat ons die Here aanspoor om die wederkoms nie te lank uit te stel nie. Moenie die Here met rus laat nie, moenie swyg nie!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 144:1, 2, 5 en 6
Wetslesing
Sing Ps. 101:1, 4, 5 en 6
Gebed
Lees: Handelinge 1
Sing Ps. 48:1, 4 en 5
Teks: Handelinge 1:12-14
Preek Amenlied
Ps 123
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 33:2, 6 en 11
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)