Die beoefening van eenheid tussen christene van verskillende agtergrond

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-01-29
Teks: 
Handelinge 21:17-26
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Handelinge 21:17-26

Ds HH van Alten - Sondag 29 Januarie 2006

Lees: Hand. 21:8-30, Rom. 15:25-28, Hand. 21:17-26
Sing: Sien liturgie

Tema: Die beoefening van eenheid tussen christene van verskillende agtergrond
        1. Eenheid in gemeenskap (vv. 17-20a)
        2. Verskille binne die eenheid (vv. 20B-25)
        3. Nederigheid ter wille van die eenheid (v. 26)

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons sien dit soms in die besigheidswêreld dat ‘n maatskappy hom doelbewus rig op ‘n spesifieke bevolkings- of inkomstegroep. Die rede is dikwels dat die maatskappy daarvan oortuig is dat die produk wat hulle bemark suksesvol gaan verkoop onder daardie spesifieke bevolkings- of inkomstegroep. So byvoorbeeld moet ‘n mens nie probeer om duur digitale kameras in ‘n plakkerskamp te verkoop nie; en om skaatsplanke in ‘n bejaardesentrum te bemark is ook gedoem om te misluk. Die besigheidswêreld praat van marknavorsing – jy moet gaan kyk waar jou produk die meeste aftrek gaan kry, en op daardie mark rig jy jouself dan primêr.
Broers en susters, so gaan dit egter nie met die evangelie nie. God het nie nodig gehad om marknavorsing te doen nie. Die evangelie is byvoorbeeld nie gerig op ‘n sekere bevolkingsgroep nie, want aangesien alle mense sondaars is, het almal die evangelie nodig. Die evangelie is ook nie gerig op ‘n spesifieke inkomstegroep nie, want die blye boodskap van die verlossing kos niks nie, dis verniet. Die evangelie is dus gerig op die hele mensdom in die breedste sin van die woord – niemand is hiervan uitgesonder nie. Dit is dan ook die wonder van God se kerkvergaderende werk – alle volke, nasies en tale is hierby ingeskakel.

Dit bring mee, gemeente, dat die kerk nie homogeen is nie, dit wil sê, nie uit een tipe mens of kultuur bestaan nie. Nee, die kerk is dikwels ‘n mengelmoes van mense, tale en kulture. Soos min ander mense in die wêreld behoort ons, in Suid-Afrika, te weet wat dit beteken om met verskillende kulture en verskillende agtergronde kerk van Christus te wees. In ons kerkverband is daar swartes met hoeveel verskillende tale en agtergronde – gaan vra maar ‘n bietjie vir ons swart broeders en susters… Daar is kleurlinge met hulle eie kultuur en taal. Dan is daar natuurlik die blankes – en onder die blankes kan ons ook nog onderskeid maak tussen blankes met ‘n afrikaanse agtergrond, en blankes met ‘n nederlandse agtergrond.

Hoewel hierdie diversiteit ‘n bewys is van God se genade, bring dit egter ook uitdagings en probleme mee waarvoor ons as kerke in Suid-Afrika saam ‘n oplossing moet soek. Probleme van taal – watter taal praat ons op klassis- en sinodevergaderings, hoe gemaak met die taal wanneer een van die swart predikante in ons eredienste kom preek? Probleme van kultuur – verskillende gewoontes by byvoorbeeld huwelike en begrafnisse kan vrae oproep en moeite veroorsaak. Probleme van agtergrond – ons swart broers en susters kom uit ‘n agtergrond van onderdrukking en diskriminering, terwyl ons ‘n agtergrond het van bevoorregting en relatiewe welvaart. Hoe versoen ons hierdie probleme? Hoe leer ons om met mekaar te leef as kinders van die Here?

Moeilike vrae… En veral vir die kerke in Suid-Afrika lê hierin ‘n uitdaging om te soek na ‘n manier om een in die geloof te wees, ten spyte van die verskille. Die boek Handelinge kan ons verder help. In die afgelope weke het ons vanuit hierdie boek veral gelet op verskillende aspekte van ons gemeente-wees. Sake soos gebed, gehoorsaamheid, bekering en ondersoek van die Skrifte het aan die orde gekom. Maar vandag wil ons die kring effens wyer trek. Ons is immers nie kerk op ons eie nie. Ons is kerk saam met ander gemeentes wat ook die Here wil dien. Saam met hulle het ons onsself gevoeg in ‘n kerkverband. ‘n Kerkverband waarin swart, kleurling en blank verbonde is in die eenheid van die geloof. Hoe laat ons so ‘n diverse kerkverband egter in die praktyk funksioneer? Hoe sorg ons daarvoor dat ons nie slegs in naam ‘n kerkverband is, terwyl elkeen tog maar sy eie pad gaan nie? Hoe handhaaf ons die eenheid ten spyte van die verskille?

Tema: Die beoefening van eenheid tussen christene van verskillende agtergrond
            1. Eenheid in gemeenskap (vv. 17-20a)
            2. Verskille binne die eenheid (vv. 20b-25)
            3. Nederigheid ter wille van die eenheid (v. 26)

1. Paulus is besig om die laaste fase van sy derde sendingsreis af te rond. Ons lees in hoofstuk 21:8 dat hy na ‘n lang rondreis deur Klein-Asië en Griekeland eindelik weer voet aan wal gesit het in die omgewing van Palestina, naamlik in die stad Cesarea. In Cesarea word deur Agabus bekend gemaak dat Paulus in Jerusalem gevange geneem en in die hande van heidene oorgelewer sal word. Vir Paulus was dit waarskynlik nie nuus nie – hy het immers in 20:25 al aan die gemeente in Efese gesê dat hulle sy aangesig nie meer sal sien nie. Vir die gemeente in Cesarea is dit egter wel nuus, en hulle probeer Paulus oorhaal om nie na Jerusalem te gaan nie.
Paulus laat hom egter nie oorhaal nie, vir hom is daar slegs een weg – na Jerusalem. Daarheen moes hy immers gaan om saam met sy reisgenote die kollekte oor te bring wat hy onder die heidenchristene bymekaar gemaak het. Die insameling van hierdie kollekte het al baie jare terug begin; dieselfde Agabus wat hier in hoofstuk 21 van Paulus se gevangeneming profeteer, het alreeds in hoofstuk 11 geprofeteer dat daar ‘n hongersnood oor die hele wêreld sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius. En dan lees ons in hoofstuk 11:30: “En die dissipels het besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judea woon” Dus, toe het die insameling vir die gemeente in Jerusalem alreeds begin. En die beginsel daaragter – so lees ons in Romeine 15 – was, dat aangesien die heidene kon deel in die geestelike rykdom van die gelowiges in Jerusalem, daarom was hulle verplig om die broers en susters in Jerusalem met stoflike goedere te dien. Dwarsdeur Paulus se sendingreise het hy voortdurend die gelowiges uit die heidendom aan hierdie kollekte herinner – kyk maar na Romeine 15, 1 Korinthiërs 16 en 2 Korinthiërs 8 en 9.

En nou het die tyd gekom om hierdie kollekte oor te bring na die gemeente in Jerusalem, en daarom laat Paulus hom nie van die doel van sy reis afbring nie. Hy moet na Jerusalem gaan. Hy vertrek saam met sy reisgeselskap uit Cesarea na Jerusalem, ‘n afstand van omtrent 105 kilometer. Hulle het hierdie afstand waarskynlik oor twee dae afgelê en êrens in die middel tuisgegaan by Mnason, die ou dissipel waarvan ons lees in vers 16. Van Mnason af is dit op na Jerusalem.
Nou moet u uself voorstel, broers en susters, dat Paulus se reisgeselskap vir die grootste deel uit heiden-christene bestaan het, mense wat dus nie deel was van die Joodse volk nie. Hulle gaan saam met Paulus na Jerusalem, daar waar die moedergemeente van die christelike kerk was, om die kollekte van die gemeentes uit die heidendom oor te dra. Hoe sou hulle, christene uit die heidendom, ontvang word? Hoe sou Paulus, Christus se gesant onder die heidene, ontvang word? Sou die Jode die kollekte wat hulle saamgebring het, aanvaar? Hierdie is nie heeltemal onsinnige vrae nie, broers en susters. Die geskiedenis het immers al bewys dat dit vir die Jode moeilik was om hulle broers en susters uit die heidene onbevange te aanvaar. Kyk maar na Handelinge 10, waar Petrus, nadat hy aan Cornelius en sy huisgesin die evangelie verkondig het, verwyt word dat hy by onbesnede manne in die huis gegaan en saam met hulle geëet het. En wat van Handelinge 15? Wanneer Paulus daar verslag van sy werk onder die heidene doen, dan staan sekere Joodse gelowiges op, en beweer dat dit noodsaaklik is dat hierdie heidene besny moet word. En in Galasiërs 2 vertel Paulus dat dit vir hom nodig was om Petrus openlik teen te staan omdat hy, uit vrees vir die gelowiges uit die Jode, skielik nie meer bereid was om saam met die heidene te eet nie. Die eenheid van geloof oor volks- en kultuurgrense heen was dus ook in die vroeë kerk geen maklike saak nie. Ook daar het dit al met stryd en moeite gepaard gegaan. En daarom is dit ‘n spannende oomblik wanneer Paulus met sy reisgeselskap Jerusalem binnekom – wat sou gebeur?

En dan is dit so pragtig om te lees dat die broeders daar vir Paulus en sy geselskap met blydskap ontvang het. Hoe mooi moes dit nie gewees het nie om te sien hoe die broeders in Jerusalem die broeders uit die heidendom sonder argwaan, sonder voorbehoud, sonder reserwes kon ontvang. Deur op die eenheid in die geloof te konsentreer, was dit vir die broeders in Jerusalem moontlik om die verskille wat daar was, te oorbrug en egte gemeenskap te beoefen. Hierdie spontane begroeting, (dit is wat dit was, want die amptelike begroeting sou eers die volgende dag plaasvind) moes baie gedoen het om die bande te versterk en die vertroue te bevestig.
Soos ek sopas gesê het, die amptelike begroeting het die volgende plaasgevind by die huis van Jakobus, die broer van die Here Jesus. Hy het intussen die leiding in die gemeente van Jerusalem oorgeneem, en word deur Paulus in Galasiërs 2 ‘n pilaar van daaardie gemeente genoem. Dit is by sy huis waar Paulus, sê maar, die “kerkraad” van Jerusalem ontmoet het. Ook hier word oor en weer gegroet. Nadat dít afgehandel is, begin Paulus in detail vertel van die Here se werk onder die heidene. Ja, deur Paulus se diens, heeltemal reg, maar dit is uiteindelik die werk van die Here, en Paulus is ook nie skaam om dit so te benoem nie.
En gemeente, hier kom ons uiteindelik by die basis en opdrag van ons aanvaarding van mekaar, oor kultuur-, taal- en kleurgrense heen, naamlik dat dit die Here is wat hier werk. Dit is die Here wat mense tot geloof bring uit alle volke, nasies en tale. Dit is die Here wat mense tot geloof bring in Pretoria en Bethal, in Nellmapius en Soshanguve, in Belhar en Wesbank, in China en Indonesië. Hy doen dit, Hy sorg daarvoor dat al hierdie verskillende mense slegs een gerigtheid het, naamlik op HOM! En dan word die eenheid ‘n werklikheid, wanneer ons kan sien dat dit wat ons in die sondige werklikheid van elke dag uitmekaar dryf, dit wat ons mekaar laat vloek en doodmaak, dit wat ons mekaar laat wantrou, naamlik kleur en kultuur, dit vorm deur die geloof saam die kleurryke kerk van ons Here Jesus Christus! Deur hulle gesamentlike gerigtheid op die werk van die Here onder sowel Jode as heidene kon die broeders uit die Jode en die broeders uit die heidene mekaar vind, mekaar met blydskap ontvang, mekaar hartlik begroet, en die Here verheerlik vir sy werk van verlossing. Een in hul Verlosser! Wat ‘n wonder van die Pinksterfees!
Gepraat van die Pinksterfees – dit was ‘n ander rede waarom Paulus hom gehaas het om op tyd in Jerusalem te kom, want hy wou die Pinksterfees in Jerusalem vier – lees maar Hand. 20:16. En dit is die Gees van die Pinksterfees, die Heilige Gees, wat in Handelinge 2 deur Petrus só spreek dat almal dit in hul eie taal kon verstaan, wat ook hier só werksaam is dat gelowiges van verskillende agtergronde, verskillende kulture, mekaar met blydskap kan begroet. Die evangelie is nie gemik op ‘n spesifieke doelgroep nie… Ons let in die tweede plek op die verskille binne die eenheid.

2. Maar gemeente, terwyl die broeders nog so die Here verheerlik vir sy werk, dan is dit asof daar skielik ‘n vals noot in die lofsang insluip. Ons sien die fronse op die broers se gesigte kom wanneer hulle in verse 20 en 21 die volgende bekommernis na vore bring: “U sien, broeder, hoeveel duisende Jode daar is wat gelowig geword het, en almal is yweraars vir die wet. En hulle is aangaande u vertel dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie.”
God se werk onder die heidene word dus geloof, maar wanneer dit oor die persoon van Paulus gaan, sien die leiers van die gemeente ‘n potensiële probleem. Daar het naamlik ‘n gerug ontstaan dat Paulus die Jode sou leer om nie hulle kinders te besny nie en om ook nie volgens die sedes te wandel nie. Hierdie gerug is eenvoudig onwaar. Paulus se arbeid in die diens van Christus bewys juis die teendeel. Was dit nie Paulus wat, toe hy Timotheus saam met hom wou neem, hom eers besny het nie? Hoekom? Ter wille van die Jode! (Hand. 16:3). En in Handelinge 18:18 lees ons dat Paulus in Kenchreë sy hoof geskeer het, omdat hy ‘n gelofte gedoen het. Dit gaan hier oor die Nasireërsgelofte, waarvan ons in Numeri 6 lees dat dit ‘n vrywillige gelofte was, een waarvoor die Here deur die diens van Moses ‘n hele reeks voorskrifte gegee het. Die beskuldigings wat teen Paulus ingebring word, is dus nie waar nie.

Die leiers van die gemeente staan ook nie agter die beskuldigings nie, maar hulle besef terdeë dat hierdie beskuldigings wel probleme kan meebring. Die gelowiges uit die Jode wat nog streng volgens die wet van Moses geleef het, sou immers hul vertroue in Paulus se geloofwaardigheid kon verloor, en daardeur sou die saak van die evangelie onder die heidene skade berokken word. En daarom soek hulle na ‘n manier om die gelowiges uit die Jode daarvan te oortuig dat Paulus nie skuldig is aan die gerugte wat oor hom versprei is nie. Dit is duidelik dat die “kerkraad” van Jerusalem hulle al oor hierdie saak gebuig het, want die oplossing word sonder enige verdere nadenke voor Paulus gelê: “Ons het vier manne wat ‘n gelofte gedoen het; neem hulle en heilig u saam met hulle en betaal die koste vir hulle, sodat hulle hul hoofde kan skeer en almal kan weet dat daar niks is in wat van u vertel word nie, maar dat u self ook wandel as een wat die wet onderhou.” Van Paulus word dus twee dinge gevra: In die eerste plek moet hy homself heilig – hier gaan dit waarskynlik oor ‘n offer wat Paulus moes bring omdat hy sopas uit heidense lande na Palestina teruggekeer het. In die tweede plek moes hy die offers betaal wat deur vier gemeentelede, wat vrywillig die Nasireërsgelofte afgelê het, gebring moes word. Volgens Numeri 6 was daar ‘n hele aantal offers by die Nasireërsgelofte ter sprake, iets wat arm mense nie werklik kon betaal nie. Deur hierdie offers vir vier mense te betaal, sou Paulus sy goeie intensie teenoor die christene uit die Jode wys, en kon hy op dié manier die gerugte wat oor hom die ronde gedoen het, die nek inslaan.

Voordat ons verder lees om te sien of Paulus aan die versoek gehoor gegee het, laat ons eers hierby stilstaan. Paulus word gevra om hier iets te doen wat die wet van God nie voorgeskryf het nie, en wat hy daarom ook nie verplig was om te doen nie. Dit blyk ook uit die volgende vers (v. 25) wanneer van die gelowiges uit die heidene gesê word, dat hulle niks van dié aard moet onderhou nie. Hoe dan nou? Die Jode het hierdie wette onderhou en van Paulus word as welwillendheidsgebaar gevra om dit ook te onderhou, maar die heidene het nie nodig gehad om dit te onderhou nie… Het daar dan verskillende wette gegeld vir christene uit die jode en christene uit die heidene? Was daar verskillende soorte christene? Nee gemeente, die evangelie is vir jode sowel as heidene dieselfde – redding deur geloof in Jesus Christus, en onderhouding van God se goeie wet uit dankbaarheid.
Maar wat hierdie gedeelte ons wel leer, is dat daar verskille kan wees (en mag wees) tussen verskillende gelowiges. Solank hierdie verskille geen prinsipiële verskille is nie, dus solank hierdie verskille nie teen die Woord van die Here ingaan nie, dan is daar ruimte binne die kerk van Christus vir sodanige verskille. Ons het in die eerste punt gesien dat die gelowiges uit die Jode en uit die heidendom mekaar met blydskap kon begroet in die eenheid van die geloof, maar hierdie eenheid hef nog nie alle verskille op nie. Waar die Jode met hulle agtergrond steeds die wet van Moses onderhou het, is dit nie van die heidene verwag nie. Van die heidene is juis weer verwag om weg te vlug van die gevare wat in hulle konteks hulle van die geloof in Christus af kon trek – dinge soos afgodsoffers, bloed, diere wat verwurg is en hoerery (hierdie voorskrifte is tydens die apostelkonverensie in Handelinge 15 alreeds vasgestel).

Gemeente, sien u dat daar binne die eenheid van die geloof ook verskille kan bestaan? Eenheid beteken nog nie uniformiteit nie. Eenheid beteken dat ons ons met al ons verskille verbonde weet in die een Here Jesus Christus. Dan kan dit wees dat die een kultuur of groep dinge effens anders doen as wat ons dit doen. Dit kan wees dat ons swart broeders en susters, terwyl hulle sing, heen en weer dans en op hulle bybels slaan, terwyl ons stil sit en sing. Dit kan wees dat die gemeente van Pretoria die ‘amen’ ná die seën sing, terwyl dit by ons deur die predikant uitgespreek word. Dit kan wees dat by ons broers en susters in Nederland die ouderlinge die afkondigings lees, terwyl dit hier by ons deur die predikant gedoen word. Gemeente, wanneer die Skrif oor hierdie verskille nie duidelike riglyne gee nie, moet ons mekaar ook nie ons visie en ons gewoonte gaan oplê nie. Binne die grense van die evangelie en die wet van die Here is daar ruimte vir verskille tussen al die duisende gelowiges uit alle volke en nasies en tale – verskille wat ook uitkom in die gedeelte in Handelinge 21.
Ten slotte wil ons let op die nederigheid van Paulus ter wille van die eenheid.

3. Nou die groot vraag: wat maak Paulus met hierdie versoek van die leiers in Jerusalem? Streng gesproke was hy natuurlik nie verplig om hierdie versoek na te kom nie. Die gerugte teen hom was vals, en soos blyk uit vers 25, was die nakoming van die wette van Moses ‘n tipies-Joodse kenmerk wat nie op ander gelowiges afgedruk kon word nie. En tog voldoen Paulus aan die versoek. Ons lees in vers 26: “Toe het Paulus die manne geneem en op die volgende dag hom saam met hulle geheilig en in die tempel gegaan om bekend te maak dat die dae van die heiliging sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.” Presies soos die leiers in Jerusalem van hom gevra het. Hoekom? Paulus was dan so ‘n selfstandige apostel, in 2 Korinthiërs verdedig hy sy apostelskap teenoor die ander apostels, en hy was selfs bereid om die groot Petrus in die openbaar teen te staan… Miskien is ons heimlik effens teleurgesteld in Paulus dat hy so gou boedel oorgee en aan die versoek van die leiers van die gemeente gehoor gee – so lyk dit in elk geval vir ons.

Maar Paulus se beweegredes is baie dieper, baie wyser. Paulus volg die raad van Jakobus en die ander ouderlinge op om sodoende die vrede tussen die gelowiges te behou, hy is bereid om nederig te wees ter wille van die eenheid in die kerkverband van die eerste uur. Want dit is wat hier op die spel staan! Wanneer Paulus nie tot hierdie daad bereid was nie, dan was daar ‘n kans dat die gelowiges in Jerusalem die band met ander jode-gelowiges in die verstrooiing en met die heidenchristene sou verbreek. Ja, dan sou die saak van die Here skade ly! So bring Paulus in praktyk wat hy skryf in 1 Korinthiërs 9:20-23: “Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win. Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win, vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win (dit sien ons prakties in ons teksgedeelte). Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet – al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus – om die wat sonder die wet is, te win; vir die swakkes het ek soos ‘n swakke geword om die swakkes te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red. En ek doen dit ter wille van die evangelie…” Ter wille van die evangelie – hoor u dit, broers en susters. Daar is ‘n hoër doel as om ons eie wil deur te dryf, daar is meer op die spel as ons eie gewoontes en gebruike. Ja, ter wille van die evangelie soek ons die verbondenheid, soek ons die eenheid, beoefen ons die nederigheid. So gemeente, is ons kerk saam met swartes, blankes en kleurlinge in hierdie land, is ons kerk saam met soveel ander geure en kleure in die wêreld – een in geloof, een in Christus!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 145:2 & 3
Wetslesing
Sing Ps. 130 (eerste beryming)
Gebed
Lees: Handelinge 21:8-30, Romeine 15:25-28
Sing Ps. 133
Teks: Handelinge 21:17-26
Preek
Amenlied Ps. 87:2-5
Gebed
Kollekte
Slotsang SB. 9:1-3
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)