Die Here roep sy volk op om sy huis te herbou

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-02-26
Teks: 
Haggai 1
Verwysing: 
Haggai 1 (2006)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Haggai 1

Ds HH van Alten - Sondag 26 Februarie 2006

Lees: Gen. 3:6-15, Ps. 132, Hag. 1
Sing: Sien liturgie

Tema: Die Here roep sy volk op om sy huis te herbou. 
Ons let op 2 aspekte:
        1. Die volk se nalatigheid en die ellendige gevolg
        2. Die Here se oproep en die heerlike gevolg

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Oor ‘n bietjie minder as twee maande ontvang hierdie gemeente kerkvisitasie. Tydens so ‘n visitasie word ondersoek ingestel na die welstand van die gemeente en na die voortgang van die amptelike werk, en word die ampsdraers en gemeente bemoedig en aangespoor.
Op 29 Augustus in die jaar 520 voor Christus ontvang die gemeente in Jerusalem ook kerkvisitasie; daar word vrae aan hulle gestel, vrae wat ‘n eerlike antwoord soek. Dit is egter ‘n visitasie van ‘n ander aard as waaraan ons gewoond is. Die vrae wat gevra word, is nie vrae uit belangstelling nie. Die antwoorde is vir die vraagsteller nie onbekend nie. Die gesag waarmee die visitasie verrig word, is nie ‘n gesag van: “Kom ons help mekaar, kom ons waak saam oor die kudde van die Here” nie. Nee, die gemeente in Jerusalem kry besoek van die profeet Haggai; hy kom doen visitasie by die volk met die gesag van die God wat hom gestuur het. Op só ‘n manier kom God sélf by sy volk. Die Lewende God wat sy volk uit ballingskap gelei het en wat weer onder hulle wil woon, kom besoek sy volk. Hy wil aan hulle ‘n paar direkte vrae stel; Hy wil hulle laat nadink oor hulle lewe met Hom. En dan kom God nie maar met ‘n paar aanbevelings aan die einde van sy visitasie nie, Hy lewer nie maar net sy adviese nie. God se visitasie is ‘n oproep aan ‘n nalatige en ongehoorsame volk.

Die datering in vers 1 help ons om te sien dat Haggai se visitasie op ‘n nuwemaansdag plaasgevind het. Elke eerste dag van die maand moes die volk spesifieke offers aan die Here bring. Dit was dus ‘n feesdag in Jerusalem en almal het gereed gemaak vir ‘n erediens op die tempelplein. Ja, ‘n erediens op die tempelplein… Ironies, want daar was miskien ‘n plein, maar van ‘n tempel was daar werklik geen sprake nie. Dít is dan ook die doel van die visitasie van die Here: hoekom woon julle in betimmerde huise terwyl my huis in puin lê? ‘n Direkte vraag wat vra vir ‘n eerlike antwoord.
Die volk gee dan ook die antwoord: “Here, die tyd is nog nie reg dat u huis gebou moet word nie.” Kort en kragtig: “Here, die tyd is nog nie ryp nie.” Was die volk nie miskien reg met hulle antwoord nie? Aan die een kant was daar die politieke situasie in Babilonië wat die Jode ook geraak het. Verder was daar die Samaritane wat hulle lastig geval en ‘n struikelblok in hulle werk was. En dan was daar natuurlik die eie lewensonderhoud: die teruggekeerde ballinge moes sorg dat hulle weer ‘n dak bo hulle koppe kry. Dit het ekonomies ook maar gesukkel, want daar was juis in daardie tyd droogte in die land en die oeste was nie ‘n baie groot sukses nie.

Gemeente, herken u uself in die gemeente van Jerusalem? - “Here, die tyd is nog nie reg nie” en dan het ons goeie redes om dit te sê: dit gaan swaar by die werk, ons werk lang ure; die kinders moet deur universiteit kom; die druk om te presteer in die studies hou ons voltyds besig; hierdie en daardie moet nog aangekoop word; die tyd om na mekaar om te sien in die gemeente ontbreek net, wat nog te sê van tyd vir die saak van die Here… Genoeg redes om te sê: “Here, nie nou nie” Wie sou dit nie kon verstaan nie? Maar die Here laat deur Haggai ‘n duidelike “nee” hoor teen die antwoord van die volk: “Nee, daar IS tyd, daar moet tyd wees, want Ek wil by julle woon.” Hy roep daarom ook die volk op om Hom te gehoorsaam.

Tema: Die Here roep sy volk op om sy huis te herbou.
Ons let op twee aspekte:
            1. Die volk se nalatigheid en die ellendige gevolg.
            2. Die Here se oproep en die heerlike gevolg.

1. Die volk mag weer terugkeer na hulle land. Ons lees van die bevel van koning Kores in Esra 1. Hy het toegelaat dat die Jode na hulle land mag terugkeer en hy het bevel gegee dat hulle bure hulle moes ondersteun met silwer en goud en vee en allerhande vrywillige gawes vir die huis van die God wat in Jerusalem is. Dit is nie die goedhartigheid van koning Kores wat hom hierdie besluit laat neem het nie. Hierin was hy dienskneg in God se hand. Ons lees in Jes. 44 van hierdie genade van die Here; kyk maar wat sê die Here in vers 28 van Kores: “Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word.” Kores doen dus wat God behaag en dit behaag God dat sy volk weer sal terugkeer na hulle land om daar weer sy tempel te herbou.

Dit moes ‘n heerlike boodskap vir die volk in ballingskap gewees het, want dit was vir hulle die bewys van God se goedgunstigheid teenoor hulle. Dit was vir die volk duidelik dat die Here weer by hulle wou woon.
Gaan maar die geskiedenis van die volk na en kyk hoe verskriklik dit vir die volk was as die Here nie meer in hulle midde wou woon nie.

  • Ons sien dit in Exodus 33:3 ná die sonde met die goue kalf waar die Here sê: “…want Ek sal in jou midde nie optrek nie, omdat jy ‘n hardnekkige volk is…” En die reaksie van die volk daarop? “Toe die volk hierdie onheilspellende woord hoor, het hulle getreur; en niemand het sy versiersels aangesit nie.” (Ex. 33:4)
  • Ons vind dit ook tydens die ballingskap; hoor hoe kla Jeremia daaroor in Klaagliedere 3: “Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord” (v. 8) en “U het Uself in ‘n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie.” (v. 44)

Dit was verskriklik vir die volk om te moet lewe sonder die teenwoordigheid van God.

En dán, in Esra 1, die heerlike bevel van Kores: gaan herbou die huis van die Here. Ja, dit was vir die volk ‘n wonderlike boodskap, want dit was duidelik dat die Here weer by hulle wou woon. Die tempel was deur die eeue die sigbare bewys van God se teenwoordigheid; daar het dit bo-op die berg Sion gestaan, almal kon dit sien; daar het die Here gewoon; daar in die allerheiligste was die verbondsark, die troon van die Here. Daarheen kon die gelowige van die Ou Testament opkyk en weet: my God is in my midde.
En nou mag die volk daardie sigbare teken herbou. Die Here het sy volk dus nie vergeet nie.

Maar daar is meer…
Die herbou van die tempel was nie slegs die bewys dat die Here weer in die midde van sy volk wou kom woon nie, dit was ook die bewys dat die Here weer met sy volk gemeenskap wou hê; die lewende omgang tussen God en sy volk mag weer ‘n aanvang neem. Wanneer die tempel herbou is, sou die volk weer daar binne mag kom. Hulle sou weer die sentrum van die lewende omgang tussen die Verbondsgod en sy Verbondsvolk kon betree om daardie gemeenskap te beoefen. Gemeente, die volk sou weer erediens kon hou, want onthou, dit was hier in die tempel waar die volk soos ‘n bruid met haar Bruidegom omgang gehad het. Hier het sy die woorde van verlossing gehoor, hier het sy sy lof besing deur psalm en lied, hier het sy Hom bly gemaak met die reukwerk, hier het sy haar vrywillige gawes aan Hom gebring, hier het sy haar verootmoedig met haar offers wanneer sy gesondig het, hier het sy haar Bruidegom in heiligheid ontmoet…
Verstaan u nou waarom daar in Psalm 132:3-5 van Dawid gesê word dat hy so geywer het om ‘n huis vir die Here te kry, want in die huis van die Here was die sentrum van die Ou Testamentiese erediens; hier het die mens weer besef wat dit is om mens te wees in ‘n lewende verhouding met sy God. Van hieruit mag die Israeliet met sy God gaan lewe: op die landery, in sy gesin en met sy buurman. In die tempel het die Israeliet op ‘n heel intieme manier sy God ontmoet en het dit hom gehelp om aan sy lewe van elke dag vorm te gee. Dit was die sentrum vanwaaruit die gewone lewe gevloei het.

Gemeente, sien u nou hoekom ons Genesis 3 gelees het? God se betrokkenheid by sy volk, is nie maar iets van 520 voor Christus nie. Nee, direk na die sondeval soek God die mens op: “Mens, waar is jy? Adam en Eva, kom hier! Kom hier, sodat ek vyandskap kan stel tussen julle en die satan – dit is julle redding!” En later in die geskiedenis: “Abraham, kom hier sodat ek my verbond met jou kan oprig en my beloftes aan jou kan gee.” En nog later: “Moses, só moet my tabernakel lyk; gaan bou dit presies so in al sy detail, want daarin wil Ek by julle woon.” En aan Dawid gee die Here sy belofte dat Salomo sy huis sal bou en Salomo doen dit. En dan tydens die ballingskap gebruik God Kores as instrument om vir sy volk te sê: “Gaan herbou my huis!” Sien u die lyn van God se betrokkenheid by die mens regdeur vanaf Gen. 3?

Daarom dat die blydskap by die terugkerende deel van die volk so groot was. Hulle het ook hulle dankbaarheid gewys deur by hulle terugkoms vrywillig en oorvloedig silwer en goud te gee om die huis van die Here weer te kan oprig (ons lees daarvan in Esra 2:68-69). Ons lees ook in Esra 3 dat die volk by hulle terugkoms weer ywerig begin het om die erediens te reël: die altaar is weer opgerig, die huttefees en die ander feestye is weer ingestel, klipkappers en skrynwerkers is ingehuur vir die herbou van die tempel en hulle het selfs die fondamente van die tempel gelê. Alle tekens was daar dat die volk begeer het om weer aan die lewe met die Here vorm te gee, om die woonplek van die Here te herbou, sodat daar gemeenskap kon wees.

Maar dit is sover as wat dit gekom het, want dan begin die probleme. Juis in daardie tyd verhinder die Samaritane die bou van die tempel (lees maar Esra 4); dit was waarskynlik ook ongeveer in daardie tyd wat daar onrustigheid in Babilonië ontstaan het en dan was daar natuurlik ook die eie onderhoud en swak oeste wat die aandag opgeëis het, sodat die volk verontskuldigend en met vrymoedigheid kon sê: “Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word nie.” (Haggai 1:2).
En dit is dán dat die Here sy profeet stuur om sy volk hulle nalatigheid voor oë te hou, want niemand beter as Hyself weet hoe lewensgevaarlik dit is om die omgang met Hom te moet ontbeer nie. Ja, bekommernisse sal daar wees, moeites sal die volk nie gespaar word nie, maar wie die Here en die omgang met Hom moet ontbeer, ontbeer die lewe. Daarom moet die tempel gebou word!

En daarom dat Haggai die volk ook baie skerp aanspreek: “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?” (v. 4) Die Here vra hier eintlik: “Het julle wel tyd vir julle eie onderhoud, maar nie vir My nie? Wel, kyk dan maar ‘n bietjie wat julle alles oorkom het.” Dan begin die Here om aan die volk te wys wat die ellendige gevolg van hulle nalatigheid is (lees maar vers 5-6 en vers 9-11). Waar die volk hierdie rampe as rede aangevoer het om te sê: “Here, nog nie nou nie”, daar wys die profeet dat hierdie rampe juis die uiting van God se misnoeë oor die volk se traagheid en nalatigheid is. Volgens die volk gaan dit maar moeilik en dáárom kan hulle nie nou aan die tempelbou dink nie. Dit is tog logies en verstandig? Wie kan nou aan ‘n tempel bou sonder geld? Dit is nie onwil nie, maar onmag, het die volk gesê. Hierdie kamtige wysheid van die volk sê: “Ons gee nie, want ons het nie”; nee, sê die Here: “Julle het nie, want julle gee nie”. Die volk sê: “Ons bou nie, want die tye is so sleg”; nee, sê die Here: “Die tye is so sleg, omdat julle nie bou nie”. Die Here wys dat Hy die Een is wat die volk straf oor hulle nalatigheid; dit was Hy wat gesorg het dat die hemel sy dou ingehou en die aarde sy opbrengs teruggehou het; dit was Hy wat droogte oor alle gewasse en oor die mense en die diere en oor alle arbeid van die hande gebring het. Waarom? “Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop.” (vers 9b) Ja, die Here straf sy volk omdat hulle nie na die lewe met Hom hunker nie. Dan is die rampe nie oorsaak van hulle onwil nie, maar straf op hulle onwil.

Maar geld dit dan altyd dat die volk wat sy heiligdom nie bou nie, arm word? Is dit altyd so dat die volk wat wel sy heiligdom bou, voorspoed ken? Nee, die omgekeerde gebeur dikwels. Daarom is armoede nie die noodsaaklike gevolg van ongehoorsaamheid nie; ook is rykdom nie die noodsaaklike gevolg van gehoorsaamheid nie.
Maar die profeet Haggai wys op iets wat wel ‘n gevolg is van ongehoorsaamheid en nalatigheid, naamlik die vloek van God. Kyk maar wat sê die profeet in vers 6: daar is dié wat baie geëet het, maar nie versadig geword het nie; daar is dié wat gedrink het, maar nie vrolik geword het nie; daar is dié wat hulle geklee het, maar nie warm geword het nie; daar is dié wat loon ontvang het, maar wat nie die nut daarvan getrek het nie. Die werklike bevrediging het dus begin ontbreek; die werklike lewensvreugde het verdwyn.

Dit is ook dié vloek wat oor die volk gekom het omdat hulle die huis van die Here in puin laat lê het, omdat hulle nie gehunker het na die omgang met God nie. Dáároor straf die Here hulle. Dan is hulle grootste nood nie die nood van gespanne politieke omstandighede of die nood van opstandige Samaritane of die nood van lewensonderhoud nie, maar dan is hulle grootste nood dat hulle nie allereers die koninkryk van God soek nie.

Gemeente, sien u die ellendige gevolg van ongehoorsaamheid en nalatigheid in die lewe met die Here?
In die gemeente wil die Here vandag by ons woon en met ons gemeenskap hê; ons mag erediens hou en Hom loof in sang en lied; ons mag die Woord van verlossing hoor wat aan ons verkondig word; hier mag ons gemeenskap met God hê; in die gemeente leer ken ons die gemeenskap van die heiliges waar ons mekaar mag opbou en mekaar mag dien met ons gawes. Gemeente, dít is die manier waarop die Here by sy volk wil woon; dit is langs hierdie weg wat die gelowige leer sien wat dit beteken om weer mens te wees soos wat God dit bedoel het. Nalatigheid dáárin beteken verbreking van die gemeenskap met God, dit beteken ‘n lewe sonder God… Dit beteken dat die huis van die Here in puin bly lê…
Daarom gemeente, gee ag (in u eie lewe en in die lewe van die gemeente) op wat u wedervaar het: het u gesaai, maar min ingebring? Het u geëet, maar nie versadig geword nie? Het u gedrink, maar nie vrolik geword nie? Het u uself geklee, maar nie warm geword nie? Het u uself vir loon verhuur, maar nie die profyt daarvan geniet nie? Bemerk u ‘n geestelike armoede by uself? Bekeer u dan; begin weer bou aan die puin van die huis van die Here; soek Hom waar Hy te vinde is en vind dan die rus van die werklike lewe met u God!
Dit is die oproep van die Here waarop ons nou in die tweede plek let.

2. Gemeente, dit is belangrik om te sien dat dit vir die Here nie in die eerste plek oor die tempel, die gebou, gaan nie. Salomo besef dit maar al te goed wanneer hy by die inwyding van die eerste tempel, in 1 Kon. 8:27, sê: “Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.” Salomo besef dat God nie in menslike geboue vasgevang kan word nie; hy besef daarom ook die nietigheid van hierdie gebou, …. en tog het hy dit gebou… Hoekom? Hoekom moet die volk ook nou ná die ballingskap weer die tempel herbou? Omdat dit die woonplek is wat God begeer het (kyk maar Psalm 132:14); want dit was op hierdie manier wat die Here by sy volk wil woon; langs hierdie weg word die oproep van die Here in Gen. 3:9 (“waar is jy?”) gerealiseer.
Dit was die wysheid van God dat daar ‘n huis sou wees waar Hy in die midde van sy volk sou woon, waar die volk erediens sou hou. En dit is die wysheid van God dat daar vandag ‘n gemeente sal wees, ‘n geestelike huis, waar God deur sy Gees en Woord in ons midde wil wees, waar die evangelie van Jesus Christus verkondig mag word en waar daar deur die soenbloed van Jesus Christus weer omgang tussen God en sy gemeente mag wees. En dáárom kom die oproep na die volk deur die profeet Haggai: “Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis…” (vers 8a). Gemeente, dit is die oproep wat tot die volk gekom het. Voel u die dringendheid van daardie oproep? Voel u die aktualiteit van daardie oproep vir ons vandag? Die Here wil dat ons die gawes wat ons van Hom ontvang het, sal gebruik sodat sy gemeente gebou mag word. En dan verskil daardie gawes in aard en in hoeveelheid van persoon tot persoon. Vir die een beteken dit om onderrig te gee in die gemeente, vir die ander beteken dit om die kerkgebou te onderhou. Die een kan R500 vir die Here gee, die ander R50. Die een werk met sy hande in diens van die Here, en ‘n ander weer op ‘n ander manier. Maar die oproep bly: bou my huis, want daar wil Ek by julle woon!

En dan verbied die Here nie sy volk om hulle eie huise te bou nie. Wanneer Nehemia baie jare later in Jerusalem kom, dan vind hy dat die mense daarin min was en dat die huise nie opgebou was nie (Neh. 7:4) en dan neem hy maatreëls om die stad verder te bevolk (lees maar Neh. 11:1 e.v.). Die volk mag dus hulle huise bou en hulle mag die oeste insamel en opgaar, maar as daarmee die Here se huis vergeet word, dan getuig dit van ‘n ingesteldheid waar die lewende omgang met God verruil word vir die omgang met die dinge van hierdie wêreld.
Daarom staan ons arbeid in hierdie wêreld, ons benutting van aardse goedere, ons aanwending van ons geestelike gawes altyd in die kader van ons diens aan God en die opbou van sy gemeente.

In die laaste gedeelte van Haggai 1 sien ons die gevolge van die profeet se oproep by die vólk. Daar kom reaksie. Die volk sien hulle sondes raak. Daar kom dus insig by die volk, daar kom besef van hulle nalatigheid. Daar kom ook besef van wat hulle deur hulle eie sondigheid ontbeer het. Hulle het die lewe met die Here verruil vir ‘n lewe in hierdie wêreld met sy bekommernisse en moeites. Hierdie bekommernisse en moeites het die geneigdheid om ons in te trek en in te sluk in ‘n draaikolk waar jy perspektief verloor, waar jy die sig op die gesonde en vrugbare lewe met die Here verloor. Maar ons sien hier dat die Here die oë van die volk open, nie slegs die oë van die leiers nie, maar die oë van die hele volk. Hulle leer weer sien hoe lewensbelangrik dit is om God in hulle midde te hê en om ook met Hom te lewe.

En dan staan die volk vervul met vrees voor die aangesig van die Here. Hulle besef skielik dat al hulle pragtige argumente teen hulle getuig; dit is juis ‘n bewys van hulle onwil.
Die skuldbesef en bekering wat die Here werk, gaan nou ook oor in daad. Die leiers en die hele volk begin daadwerklik met die bou aan die huis van die Here, hulle God. En weet u wat so pragtig is: hulle mag dit doen met die belofte van die Here: “Ek is met julle, spreek die Here” (vers 13). Dit beteken hier dat die Here weer met sy seën by hulle is. Ja, die werk aan die tempel geskied onder die seënende hand van die Here. Wie in gemeenskap met God leef, ervaar ook werklik God se seën. Psalm 132 wys dit ook so pragtig. Die Here sê in vers 14: hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer. En lees dan maar rustig die volgende verse (15-18) - lees die verse. Gewone, alledaagse dinge waarmee die Here ons seën: voedsel, brood, blydskap, beskerming teen vyande.
Maar meer nog: die “Ek is met julle” van Haggai 1:13 is tegelykertyd ook die Immanuel-belofte; Immanuel, God met ons – God wat in die Ou Testament eers in ‘n tabernakel en later in ‘n tempel gewoon het, kom deur Jesus Christus, die Immanuel, nog nader aan ons. En toe Christus aan die kruis die laaste asem uitblaas, toe skeur die voorhangsel van bo na onder – die tempel (hierdie tempel waaraan die volk in Haggai weer begin bou het) was uitgedien, maar God se bemoeienis met ons mense was nie uitgedien nie; nee, daar begin dit eers in alle erns. Die boodskap van lewe moes toe aan alle mense verkondig word, sodat God in ons midde kon woon.

Gemeente, God wil by u woon; hier, kontkreet in u alledaagse omstandighede, met alle moeites, hartseer en swaarkry, hier waar die finansies druk en die politiek ons aandag beheers, hier waar ander mense ons verhinder in ons diens aan God – hier wil God by ons woon. Bou daarom sy huis; moenie verskonings soek nie; werk met u gawes in God se diens. En dan het ons die heerlike belofte van die nuwe hemel en die nuwe aarde waar God self in al sy heerlikheid by ons sal woon; die lyn van Gen 3 loop via Haggai 1 in al sy heerlikheid uit op wat ons lees in Openbaring 21:3,4: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 36:2 en 3
Wetslesing
Sing Ps. 1:1 en 4
Gebed
Lees: Gen. 3:6-15, Psalm 132
Sing Ps. 132:1, 2, 3 en 5
Teks: Haggai 1
Preek
Amenlied
Ps. 132:9-11
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 84:1, 3 en 6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)