Die tiende gebod roep ons op tot vergenoegdheid in die Here

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-02-26
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 44
Verwysing: 
HK 44-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

HK Sondag 44

Ds HH van Alten - Sondag 26 Februarie 2006

Lees: Ps. 23, HK Sondag 44
Sing: Sien liturgie

Tema: Die tiende gebod roep ons op tot vergenoegdheid in die Here, want:
        1. Hy is my Herder
        2. Hy is met my
        3. Hy is my Gasheer

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die tiende gebod het in die geskiedenis van die kerk al heelwat aandag gekry. Een van die redes hiervoor is die feit dat die Rooms-Katolieke en die Lutherse kerk reken dat ons by die tiende gebod met twee aparte gebooie te make het. En dit is omdat hulle, wat vir ons die eerste en die tweede gebod is, saamgevoeg het tot een gebod, en daarom êrens anders ‘n splitsing moes aanbring om tog by tien gebooie uit te kom. En dit doen hulle dan by die laaste gebod. Wat dus vir ons die tiende gebod is, is vir hulle die negende en die tiende gebod.

‘n Ander, en belangriker, rede vir die aandag vir die tiende gebod, is die feit dat daar verskil bestaan oor waaroor dit nou werklik gaan in die tiende gebod.
Sommige sien die tiende gebod as blote uitbreiding van die sewende gebod (“jy mag nie egbreek nie”) en die agste gebod (“jy mag nie steel nie”). As uitbreiding op die sewende gebod word dan gestel: jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie. En as uitbreiding op die agste gebod volg: jy mag nie jou naaste se goed begeer nie. Dit is egter onwaarskynlik – ons het immers reeds by die behandeling van die 7e en 8e gebod die ‘begeerte’ na ‘n ander se vrou en na ‘n ander se goed ter sprake gebring.
Ander weer sien die tiende gebod as samevatting van al die voorafgaande gebooie. Maar waarom sou die Here dit dan as aparte gebod gegee het? Dat die tiende gebod met al die ander gebooie te make het, kan ons nie betwis nie, maar om die tiende gebod ‘n blote samevatting te noem, is te eenvoudig.
Nog weer ander meen dat die tiende gebod bloot betrekking het op wat in die hart leef. Die gebruik van die woord “begeerte” in die bybel wys egter dat dit nie slegs oor die innerlike gaan nie, maar dat dit wat in die hart leef ook openbaar word. So lees ons in Josua 7, ná die val van Jerigo, die volgende woorde van Agan: “Ek het naamlik een mooi mantel uit Sinear by die buitgoed gesien en twee-honderd sikkels silwer en een goudstaaf van vyftig sikkels in gewig, en ek het dit begeer en dit geneem.” Dit wat hier binne leef, kom ook uit.

Nee, broers en susters, ons moet die betekenis van die tiende gebod in ‘n ander rigting soek. Die tiende gebod is nie maar ‘n toevoegsel by die sewende en agste gebod nie, dit is ook nie maar ‘n samevatting van die ander nege gebooie nie, dit is ook nie slegs iets van die hart nie. Nee, die tiende gebod omvat die hele wet, en dit raak die hele mens. Die tiende gebod het te make met die totaalsom van die verhouding van die mens tot sy God en sy naaste. Dit sal duideliker word, wanneer ek aan u die Woord van die Here rakende die tiende gebod verkondig onder die volgende tema:

Tema: Die tiende gebod roep op tot vergenoegdheid in die Here miskien is vergenoegdheid vir die kinders ‘n effense moeilike woord. Hiermee bedoel ons tevredenheid. Om ‘n voorbeeld te gebruik: as jou ouers vir jou ‘n verjaarsdag geskenk koop, dan moet jy nie bly rondkyk om te sien of daar êrens nog geskenke wag nie. Nee, dan moet jy tevrede wees met wat jy gekry het, jy moet daarmee vergenoeg wees. Die tiende gebod roep ons op tot hierdie vergenoegdheid, maar dan nie vergenoegdheid met ons verjaarsdag geskenk nie, maar vergenoegdheid in die Here.
Dus, weer die tema: Die tiende gebod roep op tot vergenoegdheid in die Here, want:
            1. Hy is my Herder
            2. Hy is met my
            3. Hy is my Gasheer

1. Psalm 23 begin met die bekende woorde: “Die HERE is my herder…”. Wat was die herder in Israel? Die herder was in Israel die persoon wat die skape moes oppas. Hy moes die skape van kos en water voorsien. In die lente, na die winterreëns was daar genoeg weiveld net buitekant die dorp. Maar daarna moes die herder met sy kleinvee na beter weivelde trek en na plekke waar daar waterbronne was. Dit was lang reise deur onherbergsame gebiede, ter wille van die welstand van die skape. Tydens hierdie reise moes die kleinvee ook voortdurend teen die gevare van wilde diere beskerm word; leeus en bere was volop in daardie geweste. As een van die skapies tydens die reis moeg geraak het, het die herder hom op sy skouers gedra. In die eensaamheid van die veld het daar uiteraard ‘n nou band tussen die herder en sy skape ontstaan. Enersyds het die herder sy skape so goed geken dat hy onmiddellik geweet het as die skape iets makeer. Andersyds het die skape hul herder so goed geken dat hulle sy stem uit baie ander kon uitken en daardie stem gevolg het.

Gemeente, so ‘n herder is die Here vir Dawid in Psalm 23, Een wat werklik die belang van sy skaap op die hart dra. En daarom kan Dawid ook bely: “… niks sal my ontbreek nie.” Dit beteken vir Dawid dat hy alles wat hy nodig het, van die Here kry; hy kom niks kort nie. Dawid illustreer dit vervolgens deur die beeld van die herder met sy skape voort te sit: “Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.” Die herder sorg dus daarvoor dat sy skape in die jong, sappige gras kan gaan wei; ook weet hy waar om vir sy skape vars water te kry sodat hulle hul dors kan les. Hierdie eersteklas versorging gee aan die skape rus en nuwe krag.
Die hele dag deur is die herder besig om te dink: waar kan ek die beste weiveld vir die skape vind, waar is daar vars water waar die skape se dors geles kan word. Terwyl die skape rus vind deur die goeie sorg van die herder, is al weer besig om môre en oormôre te beplan. Hy soek voortdurend, sonder ophou, na die beste vir sy skape. Daarvan merk die skape niks op nie – want hulle het rus, hulle is tevrede by die groen gras en die heerlike water.

Gemeente, só is die Here vir Dawid! Alles wat Dawid nodig het, daarin voorsien die Here. Hoewel Dawid dit nie hier noem nie, gaan dit hier uiteraard ook oor liggaamlike sorg. Die Here sorg ook vir die kos wat ons daagliks eet, die werk wat ons mag verrig, en die huis waarin ons mag woon. Maar Dawid kyk verder as dit, hy sien nie slegs die fisiese en liggaamlik nie, maar veral ook die geestelike. Hoe gaan dit hier binne-in my? Kyk die Here ook daarna? O ja, Hy verkwik my siel (vers 3)!
Broers en susters, die HERE sorg vir my na liggaam en siel! Hy is die Drie-enige God wat in al my behoeftes voorsien. Hy is my Vader wat ‘n ewige genadeverbond met my oprig, my tot sy kind en erfgenaam aanneem, my met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van my wil afweer of tot my beswil beskik. Hy is die Seun wat my in sy bloed was en reinig van al my sondes; Hy maak my een met Homself in sy dood en opstanding, sodat ek van my sondes bevry en voor God regverdig gereken word. En Hy is die Heilige Gees wat in my woon en my tot lewende lidmaat van Christus wil maak; Hy maak tot my eiendom wat ek in Christus het, naamlik die afwassing van my sondes en die daaglikse vernuwing van my lewe, sodat ek eendag volkome rein ‘n plek ontvang in die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe.
Herken u hierdie woorde? Dit is die woorde wat by u doop uit die doopsformulier voorgelees is. Só ‘n God het ons, só sorg Hy vir my – niks sal my ontbreek nie!

Gemeente, wanneer ons hierdie beeld leer verstaan, leer insien dat die Here in alles ons Herder is, dan vind ons vergenoegdheid in Hom, dan is ons tevrede om maar net deur Hom neergelê te word in groen weivelde en gelei te word na waters waar rus is. Wanneer ons besef dat die herder alles vir sy skape doen, die beste vir hulle soek, dan volg ons Hom gewillig. Wanneer ons met verbasing opmerk dat die Goeie Here, ons Here Jesus Christus, bereid is om sy lewe vir sy skape af te lê (Johannes 10:11), dan luister ons gehoorsaam na sy stem.
En dit is dán, broers en susters, wanneer ons die tiende gebod leer verstaan – die tiende gebod gaan daaroor om genoegsaam te wees met die feit dat die HERE my Herder is. Genoegsaamheid in die Here, want Hy gee genoeg, want Hy gee my alles vir hierdie lewe en die ewige lewe. En dit is dán wanneer ons leer om die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God die nek in te slaan, om altyd en hartgrondig vyande van die sonde te wees, soos die kategismus in antwoord 113 sê. Ons begeertes en gedagtes teen die gebooie van die Here is immers altyd ‘n soeke na selfhandhawing en selfversorging. Ons oortreding van God se wet is telkens maar weer ‘n poging om ons selfstandigheid teenoor die Here te bewys. Maar die Here leer ons in Psalm 23 om soos skape te wees, om blindelings ons Herder te volg, wetende dat Hy die beste vir my soek, wetende dat niks my sal ontbreek nie.

En gemeente, wanneer ons hierdie Herder volg, dan volg vanself daardie begeerte tot alle geregtigheid waarvan die Kategismus praat. Die Here is immers my Herder wat my lei in die spore van geregtigheid. Die spore van geregtigheid – dit is die regte pad, die pad wat lei na die doel.
In die tweede plek let ons daarop dat die Here met my is!

2. Gemeente, die eerste deel van Psalm 23 kan die indruk skep asof dit met die gelowige wat by die Here skuil, altyd goed gaan. Hy mag wei in groen weivelde, hy word gebring na waters waar rus is, hy word verkwik en hy word in die regte spore gelei. Maar Dawid bring ons in vers 4 terug na die realiteit. Die herder in Israel was maar al te goed bewus van die omgewing waardeur hy sy skape moes lei: die smal klowe met die oorhangende rotswande, en diep ravyne waar die lig nouliks deurgedring het. Hier het roofdiere gesoek na prooi om te verslind. Hierdie gevaarlike plekke word vir Dawid ‘n beeld van die skrikwekkende gevare wat hom enige oomblik kan oorval. Dawid weet dat, alhoewel die Here sy herder is, Hy nie daarom vrygestel is van allerhande gevare nie. Maar ten spyte van hierdie potensiële gevare vrees hy geen onheil nie, “want U is met my”. En hoe is die Here met Dawid? Deur sy stok en sy staf.

Die stok was meestal in die vorm van ‘n knuppel; in die dik punt van die knuppel is klippies of spykers ingekap om, wanneer dit nodig was, wilde diere of rowers op die vlug te jaag. Die herdersstaf daarenteen was ‘n lang en dun stok met ‘n haak aan die punt; hiermee is die skape wat wou afdwaal weer terug in die kudde gebring. Die stok en die staf was dus bedoel om die gevare wat van buite-af gedreig het, teen te werk, en om die afdwaling wat van binne-uit opgekom het, te voorkom. So is die skape sowel teen gevare van buite as teen hulleself beskerm. Die stok en die staf van die herder het die skape op die moeilike, maar regte pad, bewaar, sodat hulle by die groen gras en helder water kon uitkom.

Gemeente, wanneer ons deel is van die kudde van ons Goeie Herder, is ook ons nie outomaties gevrywaar van enige gevare nie. Die aanslae van buite-af word nie minder wanneer die Here ons Herder is nie. Inteendeel, dit word juis meer. Die satan soek juis daarna om die kinders van die Here aan te val. Op allerhande slinkse maniere soek hy daarna om ons geloof te ondermyn, ons gehoorsaamheid aan te tas en ons tot sonde teen die wil van die Here te bring. Maar die gevaar dreig nie slegs van buite-af nie. Ook van binne-af is ons nie immuun nie. Ons is geen volmaakte gelowiges nie, ons bely ook dat ons die volmaaktheid nie tydens hierdie lewe sal bereik nie. En daarom dat die Kategismus ook sê dat selfs die allerheiligstes, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar ‘n geringe begin het van die nuwe gehoorsaamheid aan die Herder. Ons is steeds geneig om ‘n prooi van ons eie self te word.

En juis hieroor, gemeente, omdat ons hier op aarde steeds aan die aanvalle van die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur onderhewig is, daarom kom ons soms in ‘n dal van doodskaduwee, daarom kom ons soms in situasies waar die sonde ons van alle kante bedreig, ons aanpor, ons trek. En hoe sterk trek die sonde nie – ons weet dit, ons ervaar dit. Hier in ons harte, waar slegs God kan sien, voer ons die stryd; daar in ons binnekamers, waar geen mens van weet nie, worstel ons tot trane toe. Maar, broers en susters, weet dan dat u nie alleen deur hierdie dal gaan nie, weet dat u ‘n Herder het wat voorloop, wat sy skape nie sal verlaat nie. Bely daarom ook saam met Dawid: “Ek sal geen onheil vrees nie!” Nie omdat ek so sterk is nie, nie omdat ek in myself die krag besit om die sondige magte te weerstaan nie, maar omdat die Here by my is, omdat Hy my Herder is!
Hy veg met sy stok teen my vyande, Hy gaan die stryd met hulle aan. En die uitslag is nie onseker nie; inteendeel, die oorwinning is alreeds behaal. Ons Goeie Herder het sy lewe afgelê ter wille van my, sy skaap. Hy het gesterf sodat ek deur hierdie dal van doodskaduwee heen kan kom, sodat ek lewendig anderkant uit kan kom en die heerlike groen gras en vars water kan bereik. Dit doen ons Herder met sy stok. Maar ook met sy staf bewaar Hy my van onheil, bewaar Hy my van myself. Ek het so dikwels nodig dat die Herder my met die haak van die herdersstaf om die nek beetkry en my terugbring in die kudde, weg van die gevare, weg van die sonde.

Gemeente, hier op aarde is die dal van doodskaduwee ‘n realiteit vir elke gelowige. En hoe diep is daardie dal nie soms nie… Hoe donker kan die duisternis om ons heen nie wees nie… Die sonde slaan so diep in, maak soveel dinge stukkend! En as ons nie self gruwelike sondes begaan nie, dan ly ons onder die gevolge van gruwelike sondes. Ons kan nie daaraan ontkom nie, maar ons kan wel daar deur kom wanneer ons van die Here alles verwag, wannneer ons onsself in vergenoegdheid aan Hom oorgee – dit is immers wat die tiende gebod vra: moenie begeer na ander dinge nie, moenie begeer om jou krag êrens anders te soek nie, maar gee jouself oor aan jou Herder. Dan weet ek: Hy is by my, met sy stok en sy staf troos Hy my, lei Hy my. En as ek moeg word, dan dra Hy my.
Maar die dal van doodskaduwee sal nie my dood word nie!
So sien ons hoe die tiende gebod ons naby aan die Here hou, styf teen Hom, sodat die gevare wat ons bedreig, ons nie kan oorwin nie – Hy is met my!
Ten slotte let ons nog daarop dat die Here ook ons Gasheer is.

3. Gemeente, Psalm 23 bied in verse 5 en 6 die heerlike perspektief van die aankoms by die bestemming. Die skape wat deur ravyne en klowe, deur onherbergsame gebied en deur doodsgevare heen die herder se roepstem gevolg het, kry skielik die heerlike groen weivelde en kabbelende stroompies te sien. Die bestemming is bereik. Dawid beweeg hier egter weg van die beeld van die herder met die skape; hy gebruik hier ‘n nuwe beeld, dié van die gasheer wat vir sy gas ‘n vreugdemaaltyd voorberei. En die Gasheer is die Here self. Hy berei vir sy kinders die maaltyd – en dit terwyl die teenstanders staan en toekyk. Die Here ontvang sy kinders met heerlike salfolie en met ‘n oorwinningsbeker wat oorloop van ‘n verkwikkende drank.

Gemeente, dit is die vreugdemaaltyd vir dié wat hulself in vergenoegdheid aan hul Herder oorgee, dit is die perspektief vir dié wat hul begeertes teen die wet van die Here kruisig, vir dié wat, hoe gebrekkig dan ook, die ernstige voorneme het om nie alleen volgens sommige nie maar volgens al die gebooie van God te lewe. En laat ons dit nie slegs beperk tot die ewigheid nie. Immers, so lees ons in vers 6: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe.” My hele lewe deur word ek gevolg, letterlik: word ek agtervolg, deur die Here se goedheid. Ja, die seën van die Here bly by ons, dit sal van ons nie meer wyk nie. En ons mag by die Here bly in lengte van dae.

Gemeente, sien u watter belofte die tiende gebod in hom dra. Die tiende gebod trek nie in die eerste plek ons aandag af van die huis en vrou van my naaste en sy dienskneg, diensmaagd, sy os of sy esel of enige iets anders nie. Nee, die tiende gebod fokus ons aandag juis voor alles op die Here. Die Here, my Herder, by wie ek vergenoegdheid vind. Die Here wat vir my in alles die beste soek, waardeur ek elke begeerte of gedagte teen enige gebod van God verloor. Die Here wat by my is, en waardeur ek geen onheil vrees nie. Die Here wat vir my ‘n vreugdemaaltyd berei.
En ja, hier op aarde is die vreugde nooit volmaak nie; inteendeel, ons vreugdebeker is dikwels nog vermeng met ons trane. Maar ons kry die perspektief van die Here dat eendag die vreugde volmaak sal wees, dat eendag die vreugdebeker puur sal wees. En daarom dat ons ook so verlang na die bruilofsmaal van die Lam, daardie ewige vreugdemaaltyd waarvan ons lees in ons nagmaalsformulier!

Broers en susters, ons het aan die einde gekom van ons behandeling van die tien gebooie vanuit die Heidelbergse Kategismus. En watter hoogtepunt bereik ons nie in die tiende gebod nie. Want die tiende gebod sê nie: “Nou ja, julle het gehoor wat die Here van julle verwag, gaan en doen dit nou” nie. Die tiende gebod werp ons nie terug op onsself nie. Nee, die tiende gebod werp ons op die Here. Vind alles, al jou vergenoegdheid, in HOM! Hy is jou Herder wat in alles vir jou die beste soek, Hy is met jou in beskerming teen aanvalle van buite en van binne, Hy is jou Gasheer wat die maaltyd tans maar ook in die ewigheid voorberei en aanbied. Die tiende gebod lui: “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.” Lê hierdie begeertes af, en stel in die plek daarvan die begeerte, die verlange na die Here, jou God! Vind in Hom vergenoegdheid!

Amen

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 81:1-3
Gebed
Lees: Psalm 23
Kollekte: ons het sopas gelees: “U maak my hoof vet met olie, my beker loop oor” – ons kry dus baie van die Here. Laat ons daardie oorvloed nou ook weer uitdeel in die kollekte wat nou opgeneem sal word. Daarna sing ons saam Ps 23, al die verse.
Sing Ps. 23
Teks: HK, Sondag 44
Preek
Amenlied
Ps. 63:2-4
Belydenis van geloof
Sing Ps. 145:1-3, 5
Gebed
Slotsang Ps. 32:4-6
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Liturgie: 

(kyk in preek)