Ons word opgeroep om die lof op ons Koning te besing

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-04-02
Teks: 
Sagaría 9
Preek Inhoud: 

Sagaria 9:9-10

Ds HH van Alten - Sondag 2 Aprilt 2006

Lees: Sag. 9:1-10, Matt. 21:1-11
Sing: Sien liturgie

Tema: Ons word opgeroep om die lof op ons Koning te besing
            1. Loof
Sy nederige majesteit
            2. Loof Sy
swaard van vrede
            3. Loof Sy
wêreldwye heerskappy

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Dit is opvallend hoe ons in ons gedagtes soms ‘n beeld van iets kan hê, maar
dat die werklikheid dan baie anders is as die denkbeeld wat ons gehad het. ‘n
Mens kan miskien ‘n beeld hê van ‘n sekere land, en as jy dan eenmaal in daardie
land kom, dan moet jy erken: “Dit is heeltemal anders as wat ek myself dit
voorgestel het.” Of jy kan as kind ‘n beeld hê van ‘n kwaai oom, en wanneer jy
dan ouer word, besef jy dat die oom glad nie so kwaai is as wat jy gedink het
nie. Ons kan dus in ons gedagtes denkbeelde hê wat nie strook met die
werklikheid nie. En soms leer ons dit insien, maar ander kere bly ons met
daardie verwronge denkbeelde leef.
Só het baie Jode in Jesus se tyd ook ‘n verwronge denkbeeld gehad. Wat was
hierdie verwronge denkbeeld? Wel, kom ons begin met ‘n stukkie historiese
agtergrond.

In die tyd tussen Haggai, Sagaria en Maleagi (die laaste drie profete van die
Ou Testament) EN die lewe en optrede van Jesus Christus lê ongeveer 400 jaar,
wat ons die intertestamentêre tydperk noem, dus die tydperk tussen die Ou en
Nuwe Testament. Dus, wanneer ons in ons Bybels van Maleagi na Mattheus blaai,
dan slaan ons ongeveer 400 jaar se geskiedenis oor. Ons ken hierdie geskiedenis
gedeeltelik vanuit die boek Daniël, maar ook vanuit die apokriewe boeke van die
Makkabeërs en vanuit die geskiedenisboeke van Flavius Josefus.
In hierdie periode tussen die Ou en Nuwe Testament was die Jode vir die grootste
deel onder die heerskappy van ‘n ander mag: eers onder die mag van die Persiese
Ryk, daarna onder die mag van die Griekse Ryk van Alexander die Grote,
vervolgens onder die mag van die Siriese koning, Antiochus Epifanes, en ten
slotte onder die mag van die Romeinse Ryk, ‘n toestand wat in Jesus se tyd nog
nie verander het nie. Daar was egter een ligpuntjie in hierdie eeue van
onderdrukking, naamlik die tyd van die Makkabeërs. Die Makkabeërs was ‘n Joodse
familie wat rondom 160 v.C. die leiding geneem het in ‘n opstand teen die
vreemde oorheersing. Hulle het die vreemde oorheersers verslaan, en Jerusalem en
die tempel herower. Die bekendste leier tydens hierdie opstande was Judas, die
Makkabëer. En van hom lees ons in 2 Makkabeërs 10:7 hoe die mense met palmtakke
geswaai het toe hy ná sy oorwinning oor die Siriese soldate Jerusalem
binnegetrek het.

Tydens Jesus se lewe en optrede op aarde is die glorieryke Makkabeërtydperk
egter al weer ‘n hele paar jaar verby. Die Romeinse Ryk het intussen die
wêreldmag oorgeneem, en ook Palestina was onder hulle heerskappy. Maar die hoop
om ook van hierdie onderdrukkers bevry te word, het onder die Jode nog nie
getaan nie. Steeds was daar die verwagting: Wie sou hulle van hierdie heidene
kom verlos? Wie sou hierdie keer Jerusalem bevry?
En dan is daar skielik Jesus, die man uit Nasaret, wat oor ‘n tydperk van 2 tot
3 jaar die tonge los gehad het met wonders en tekens en allerhande kragtige dade,
sodanig dat die Joodse leiers in Johannes 12 moedeloos moet erken: “Kyk, die
hele wêreld loop agter Hom aan.” (Joh. 12:19). En dis Hy wat, net nadat Hy
Lasarus ten aanskoue van baie omstanders uit die dood opgewek het (Joh. 11), op
‘n esel se rug gaan sit om Jerusalem binne te trek. “Hoe kan dit dan anders –
hierdie is die man wat ons van die Romeine kom verlos, Hy is ons verlosser!” Wie
neem dit die Jode kwalik dat hulle so geredeneer het? Dit moes vir hulle déjà
vu gewees het – ‘n man wat die volk aan die praat het met wonders en tekens,
en Hy trek Jerusalem binne… Kom, laat ons palmtakke gryp en laat ons hom met
vreugde Jerusalem binnelei – ons Koning!

Broers en susters, dit was die denkbeeld wat die Jode in hulle koppe
gehad het. Was dit ‘n regte denkbeeld? Ja, as jou verwysingsraamwerk die
geskiedenis van die Makkabeërtyd is, dan was dit sekerlik ‘n regte denkbeeld.
Maar is dit die raamwerk wat God gegee het? Het Hy sy volk gebied om hulle
Messias-verwagting te vorm ooreenkomstig die Makkabeërtydperk, ‘n stukkie
geskiedenis waarvan Hy in sy Woord eintlik bittermin bekendgemaak het? Nee, en
daarom was die Jode se denkbeeld ‘n verkeerde denkbeeld. Hulle het vir hulself
‘n idee gevorm van wie en wat hulle Koning behoort te wees, naamlik een wat
hulle van hul aardse onderdrukkers kon verlos, een wat die aardse Jerusalem kon
herstel. En sy lof het hulle besing: “Hosanna”.

O, hulle was heeltemal reg om Hosanna te sing, want Jesus was die Koning,
maar nie die Een wat hulle in hulle koppe gehad het nie. Nee, Hy was so totaal
anders as hulle denkbeelde; Hy was nie die aardse redder nie, Hy was die Koning
soos wat God dit in sy wysheid bepaal het.
Wat is u beeld van ‘n koning, broer en suster? Het u dit in u kop? Wel, hou u
‘denkbeeld’ in gedagte… En dan gaan kyk ons wat sê die Skrif oor ons Koning. Wie
is Hy volgens God se eie Woord?! Waarskynlik het ons ook ‘n verkeerde denkbeeld
wat bygestel moet word…

Tema: Ons word opgeroep om die lof op ons Koning te besing
            1. Loof
sy nederige majesteit
            2. Loof sy
swaard van vrede
            3. Loof sy
wêreldwye heerskappy

1. Sagaria 9 begin met ‘n oordeelsaankondiging oor Sirië, Fenisië en
Filistea (verse 1-7). Oor hierdie volke gaan die Here ‘n groot onheil bring.
Hierdie profesie het moontlik sy vervulling gevind in die tyd van Alexander die
Grote, wat tydens sy oorwinningstogte hierdie volke onderwerp het. Maar let wel,
gemeente, uiteindelik is dit die Here wat hier optree. Kyk maar vers 4: “die
Here sal hom in besit neem en sy skans in die see werp…”, en vers 6: “so sal
Ek dan aan die trotsheid van die Filistyn ‘n einde maak.”
Maar in teenstelling tot die volke wat verneder word, sal Israel deur die Here
self beskerm word. Israel sal deur God se hand in stand gehou word, totdat die
groot Koning na Sion kom! Dit word vir die volk, wat sopas uit ballingskap
teruggekeer het, ‘n heerlike vooruitsig; en hulle word opgeroep: “Verheug jou
grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem!” Hoekom? “Kyk, jou
Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar…” * Regverdig, d.w.s.
sy heerskappy sal een wees waar die goeie beloon en die kwade gestraf word; en
dan ook * ‘n oorwinnaar of ‘n verlosser, d.w.s. hy sal sy
onderdane verlos en beskerm.

Dit is tog wat ons van ons Koning verwag? Regverdig en ‘n oorwinnaar! Ons
sien dit al voor ons… die imposante koning op sy perd, die skare sing die
oorwinningslied, niemand waag dit om kwaad te doen nie, almal buig voor hom neer.
Maar gemeente, hierdie ‘denkbeeld’ word wreed versteur wanneer ons verder lees
in vers 9: “nederig en Hy ry op ‘n esel – op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.”
Is dit nou ons Koning? Ja gemeente, dit is ons Koning! Het u miskien ‘n ander
denkbeeld gehad? Wel, dan is dit nodig om ons denkbeeld by te stel ooreenkomstig
die profesie van Sagaria 9. Want skynbaar weet ons Koning niks van prag en praal
nie; skynbaar is Hy nie die imposante figuur op sy perd nie.
Nee, Hy is nederig – en dit beteken nie slegs dat Hy ‘n nederige houding het nie,
maar dit beteken in die eerste plek dat Hy ook uiterlik gering is; dus, gering
en nederig, soos Jesaja daarvan profeteer in hoofstuk 53:2: “Hy het geen
gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms,
dat ons Hom sou begeer nie.” En hierdie geringheid kom uit in die feit dat Hy
nie op waens en perde ry nie, maar op die vul van ‘n esel. In die tyd voor die
koningskap van Dawid en Salomo was die esel die gewone rydier vir alle mense,
maar geleidelik is perde en waens ingevoer as tekens van koninklike heerlikheid.

Maar ons Koning ry op ‘n esel, Hy is vir die oog ‘n geringe mens.

Gemeente, vra van die Here oë van geloof, sodat ons kan sien dat juis hierin
ons Koning se majesteit lê! Sion, Jerusalem, die kerk van vandag word opgeroep
om te juig oor die geringheid van ons Koning, want in daardie geringheid lê u en
my verlossing! Was hierdie Koning ‘n gekroonde monarg, een wat hoog bo ons
verhewe was, dan sou die armes en dié in nood nie met vertroue tot Hom gekom het
nie, want Hy sou nooit die nodige begrip vir ons moeite en hartseer kon opbring
nie; was ons Koning Een wat geen leed en aanvegting geken het nie, dan was Hy
onbereikbaar vir ons wat met soveel leed en aanvegting stry. Gemeente, elke
gelowige wie se hart gebreek is met berou oor sy sonde, en met verdriet oor
dinge wat in sy lewe gebeur of gebeur het, besef waarom dit nodig was dat ons
Koning op ‘n esel moes ry.
Dit was sodat Hy ons kan verstaan en sodat Hy ons kan red!

  • En broers en susters, ons Koning verstaan. Hy verstaan u moeite, Hy weet
    van elke traan wat u stort, Hy weet met watter sondes jy worstel, Hy weet hoe
    jy sukkel om die aanslae van die satan af te weer, Hy verstaan en Hy voel saam
    met jou…
  • En dan red Hy ook! Want op sy esel in Mattheus 21 was Jesus Christus opweg
    om die laaste fase van sy lydensweg te begin – dit was die Maandag net voor
    Goeie Vrydag. Nog vier dae, dan sal Hy deur die leiers aan die kruis gespyker
    word. Daartoe het Hy Homself oorgegee om ons te verlos. Paulus beskryf dit so
    pragtig in Filippense 2:6-8: Hy wat God is, het Homself ontledig deur die
    gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in
    gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word
    tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Gemeente, só is ons Koning, nie met prag en praal nie, maar in kleinheid en
nederigheid. Mattheus noem dit in hoofstuk 21 “sagmoedigheid”. Dit is wat dit
is: ‘n Koning met sagmoedigheid; Hy het majesteit, maar nie majesteit wat
afskrik nie; Hy besit hoogheid en mag, maar ‘n hoogheid en mag wat selfs vir die
grootste sondaar toeganklik is; Hy besig heerlikheid, maar nie ‘n heerlikheid
wat deur sy glans verblind nie. Ons kan met al ons moeite, met al ons sondes, in
al ons swakheid by Hóm kom, want Hy was nederig en het op ‘n esel gery –
Hy verstaan!
Waak dan daarvoor, dat wanneer ons Koning die esel verkies, sy gemeente, ons dus,
nie op perde wil ry nie. Laat ons nie die prag en praal verkies of die hoë
posisies opsoek nie. Laat ons versigtig wees met al die rykdom wat in hierdie
gemeente aanwesig is. Maar meer nog: laat ons ook met ons geestelike rykdom nie
begin pronk nie, spog met die feit dat ons so regsinnig en trou aan die Here is
nie. Maar laat in ons die gesindheid wees wat ook in Christus Jesus, ons Koning
was. Want só wil Hy ons verlos, só mag ons by Hom kom. Laat ons sy nederige
majesteit loof! In die tweede plek word ons opgeroep om sy swaard van vrede te
loof.

2. Ons het gesien dat die Here deur Sagaria geprofeteer het dat ons
Koning op ‘n esel sou ry, ‘n profesie wat ook vervulling gevind het in Christus
se intog in Jerusalem op die rug van ‘n esel. Hierdie esel was ‘n teken van sy
geringheid en nederigheid. Maar die esel dui ook op nog iets anders, naamlik dat
die ryk van hierdie Koning ‘n vrederyk sal wees. Christus wil niks
weet van die perde en waens waarmee hierdie wêreld oorlog voer nie; dit blyk ook
duidelik uit die eerste gedeelte van Sagaria 9:10: “En Ek sal die strydwaens uit
Efraim en die perde uit Jerusalem uitroei, en die strydboog sal vernietig word…”
Gemeente, Christus is nie uit op oorlog nie; selfs wanneer Hy op die punt staan
om gevange geneem te word en Petrus sy swaard uittrek, dan beveel Christus hom
om sy swaard terug te sit in sy skede. Want Hy het nie gekom om oorlog te maak
nie, maar Hy het gekom om aan die wêreld vrede aan te bied.

Maar broers en susters, hoe doen Hy dit? Bied Hy sy vrede aan deur eenvoudig
boedel oor te gee? Laat ons nie mislei word om te dink dat die vrede wat
Christus kom aanbied, alle vorme van geweld uitsluit nie. Wat ons Vredevors
afwys, is die geweld van hierdie wêreld met sy wapentuig en oorloë. Want
daardeur verower jy miskien lande, en jy verower hulpbronne, en jy verower mag –
kyk maar na die oorloë in ons wêreld – maar jy verower nog nie menseharte nie.
En daarvoor het Jesus gekom, om menseharte te wen vir die Vader in die hemel,
daarvoor het Hy Homself oorgegee, daarvoor het Hy met die esel die pad na
Jerusalem aangedurf om aan die kruis te gaan sterf.
En daarom wys hy alle wêreldse vorme van geweld af. Maar self kom Hy met die
swaard van die Woord. Dít is die wapen waarmee Hy oorlog voer,
dít is die wapen waarmee Hy tot in die diepste van menseharte indring
om vrede tussen God en mens te bewerk, dít is die wapen waarmee Hy
skeiding maak tussen “‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en
‘n skoondogter en haar skoonmoeder” (Matt. 10:35-36). Dít is die tipe oorlog wat
Jesus voer, naamlik ‘n keuse vir of teen die evangelie. Dit is die stryd wat Hy
met elkeen van ons aangaan, ‘n stryd om die ou mens in ons te verslaan, sodat
die nuwe mens, die verloste mens weer kan lewe.

Gemeente, ons Koning voer ‘n oorlog van ‘n totaal ander aard as waaraan ons
gewoond is; Hy voer oorlog sodat daar vrede tussen God en mense kan kom. En dit
is daardie oorlog wat ons as kerk van Christus in navolging van ons Koning mag
voer. Ons is geen voorstanders van die oorloë wat hierdie wêreld voer nie,
hoewel ons wel soms hieraan moet deelneem. Maar ons is nie passifiste nie; nee,
ons veg met die swaard van die Woord, ons voer oorlog met die evangelie, elke
sondag, elke keer wanneer ons getuies van Christus is, elke keer wanneer ‘n
sendeling uitgaan – ja, want die vrede wat Christus bring, is nie slegs vir
onsself nie; ons lees immers in vers 10 dat Hy vrede aan die nasies sal
verkondig.
Elke keer wanneer die Woord van die Here klink, dan gaan die kerk die stryd met
die ongelowige wêreld aan, dan soek ons saam met Christus die vrede vir ander
wat daardie vrede nog nie ken nie. En daarom soek Christus in die kerk nie
strydlustiges en vegters nie; nee, Hy soek getuies, mense wat die evangelie van
vrede bring, mense wat nie op allerhande maniere die geloof by ander wil inhamer
nie, maar wat eenvoudig, nederig, en sagmoedig vertel wie ons Koning is.
En gemeente, dit is ‘n stryd tot bloedens toe; ons veg om mede-broers en -susters
by Christus te hou, ons veg om ongelowiges by Christus te kry. Dit
is ‘n harde stryd, ‘n stryd teen ‘n meedoënlose teenstander, maar gemeente, dit
is ook ‘n stryd waarvan die uitslag al beslis is deur ons Vredevors op sy esel,
ons Koning aan die kruis, wat nie ‘n vegter of oorlogsugtige was nie, wat nie
geskreeu of sy stem op die strate laat hoor het nie, maar wat eenvoudig vertel
het Wie Hy is, en wat Hy kom doen het!
Laat ons Hom loof vir sy swaard van vrede!
Ten slotte word ons nog opgeroep om sy ewige heerskappy te loof.

3. Ons lees in Sagaria 9:10b: “en sy heerskappy sal wees van see tot
see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde.” Oor watter seë dit
hier gaan, is nie heeltemal duidelik nie. Miskien moet ons nie aan bepaalde seë
dink nie, maar eerder aan die hele wêreld wat deur seë begrens word. Dit sluit
immers aan by die volgende sinsnede wat sê dat sy heerskappy sal strek van die
rivier (waarmee dan die Eufraat bedoel word) tot aan die eindes van die aarde.
Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat hier na die wêreldwye heerskappy van die
Koning verwys word. Sy heerskappy is universeel, alles val onder sy mag.
Is dit wat ons verwag het ná die eerste en tweede punt? Het ons ‘n wêreldwye
heerskappy verwag toe ons die geringe en nederige toestand van ons Koning gesien
het? Het ons ‘n universele heerskappy verwag toe ons gesien het dat dit nie met
oorlog nie, maar met die verkondiging van die evangelie bereik sou word? Miskien
herken u nou dat ook ons denkbeeld van ‘n koning verkeerd is. Ons verwag groot
krygsmag, groot luister en glorie, groot oorwinningstogte. Maar gemeente, ons
Koning bereik sy wêreldwye heerskappy op ‘n ander manier: in die gestalte van ‘n
dienskneg het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood van die
kruis. En daarom, omdat Hy hierdie, in menslike oë, dwase roete gevolg
het, daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo
elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie wat in die hemel en
die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat
Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader (Fil. 2:9-11). En
daarvoor verdien Hy alle lof; daarvoor verdien Hy alle eer. Al wat kruip en roer
en sweef, al wat asem het en leef… Halleluja, loof ons Koning!

Gemeente, oor minder as twee weke vier ons die hoogtepunt van ons Koning se
dienskneg-gestalte, sy vernederende sterwe aan die kruis. Dit het gebeur,
eenmalig. Hy het egter uit die dood uit opgestaan en sy getuies uitgestuur om
aan alle volke, nasies en tale hierdie boodskap van vrede te verkondig – ook ons
is daarmee besig. Daarna het Hy na die hemel opgevaar om as Koning te gaan sit
aan die regterhand van die Vader. Broers en susters, ons lewe dus vanuit hierdie
vervulde profesie van Sagaria 9:9-10. Meer nog, ons lewe hang af van hierdie
vervulde profesie.
Maar gemeente, vervulling van profesieë geskied dikwels in fases. In die
profesieë vind ons dikwels ‘n gedeeltelike vervulling, met ‘n volledige
vervulling in die toekoms. En dit is wat ons hier ook vind in Sagaria 9. Die
gedeeltelike vervulling is soos volg: Ons het ‘n Koning wat ons moeite en stryd
verstaan omdat Hy self gering en nederig was, ons het ‘n Koning Wie se
heerskappy strek oor die hele aarde, ons het ‘n Koning Wie se boodskappers die
aarde deurkruis met die verkondiging van vrede.

Maar intussen leef die kerk, elke gelowige wat ‘n onderkoning is van die
groot Koning, nog in verdrukking in hierdie wêreld. Die kerk is ingedruk tussen
die groot magte van hierdie wêreld, die Antichris doen sy werk met geweld en lis,
die satan gaan rond soos ‘n brullende leeu. Die stryd teen die sonde woed in ons,
die gevolge van die sonde slaan nog verskriklik diep in ons lewens in.
En daarom sien ons met verlange uit na die volledige vervulling van Sagaria 9:9:
“Kyk, jou Koning kom na jou” Inderdaad, ons Koning het gekom in
geringheid en nederigheid, maar ons Koning kom weer, hierdie keer met eer en
heerlikheid. Dit is die vaste belofte vir die kerk van die Nuwe Testament. ‘n
Belofte waarvan ons die tekens om ons heen kan sien: rampe, oorloë, hongersnood.
Nee, gemeente, ons raak nie moedeloos wanneer ons hierdie dinge sien nie. Ons
sien in hierdie wêreldgebeure die sekere bewys: ons Here kom! En daarom ook die
oproep aan die kerk vandag: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o
dogter van Jerusalem!” Ons is Sion, ons is Jerusalem – ons mag
juig en bly wees, want ons Koning kom!

En na Hóm sien ons uit; die belofte van Sagaria 9 word ‘n bede in ons
mond: “Kom Here Jesus, kom gou.” Maranata! Kom terug na die aarde, betoon Uself
die oorwinnaar wat U is. Roei uit die strydwaens en die perde, vernietig die
strydboog. Sodat vrede kan terugkeer in U paradys, sodat God en die mens weer in
harmonie kan lewe, sodat die trane van ons oë afgevee kan word, sodat daar geen
hartseer en moeite en sonde sal wees nie, sodat U alles en in almal sal wees.

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.
Amen.
Sing Ps. 97:4 en 7
Wetslesing
Sing Ps. 62:1, 2, 4 en 5
Gebed
Lees: Sagaria 9:1-10, Matt. 21:1-11
Sing Ps. 118:13 en 14
Teks: Sag. 9:9-10
Preek
Amenlied Ps. 2:4 en 6
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 72:2, 9 en 11
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die
gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)