In die geskiedenis van die owerspelige vrou verdedig Christus God se reg

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-03-12
Teks: 
Johannes 8
Preek Inhoud: 

Johannes 8:1-11

Ds C Kleyn - Sondag 12 Maart 2006

Lees: Johannes 8:1-11; Jeremia 17:5-13.
Sing: Ps 95:1; Ps 32:1; SB 2:2 (na doop); Ps 95:4;
Ps 36:1,2; Ps 36:3.

Tema: In die geskiedenis van die owerspelige vrou
verdedig Christus God se reg

  1. 1. Hy ontmasker die huigelary van die aanklaers
  2. 2. Hy vermaan die aangeklaagde om nie weer te sondig nie

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat doen jy wanneer jy ontdek dat ’n persoon in sonde
geval het? Hoe reageer jy wanneer jy hoor oor iemand se
mislukking? Watter houding wys jy?

Wat doen jy as jy ontdek dat een van jou kinders geval het?
Hoe benader jy jou kind?

Die geskiedenis van ons teks kan ons help om ons houding te
bepaal. Hier ontmasker Christus die huigelary van die aanklaers
sodat hulle wat oordeel, in ’n nederige gees sou oordeel.

Ek verkondig vir julle: In die geskiedenis van die owerspelige
vrou verdedig Christus God se reg.

  1. 1. Hy ontmasker die huigelary van die aanklaers
  2. 2. Hy vermaan die aangeklaagde om nie weer te sondig nie

Hier het ons ’n vrou wat op owerspel betrap is. Mense het
haar op heter daad betrap. Die skrifgeleerdes en Fariseërs bring
haar by Jesus en vra sy opinie oor hoe met haar gehandel moet
word. Hulle sê: “Meester, hierdie vrou is op heter daad
betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet
beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?”

Broer, suster, as so ’n vraag vir jou gestel sou word,
hoe sou jy reageer? Sou ons in so ’n geval van owerspel nie
onmiddellik benadruk dat streng teen die sonde opgetree moet word
nie? Die OT het duidelike uitsprake oor die straf op sulke
sondige gedrag. Owerspel verdien die doodstraf. So ook ander
misdrywe soos godslastering en afgodery.

Die Bybel is duidelik genoeg. As ons toe geleef het sou ons
gesê het: daar is geen manier dat ons so ’n ernstige sonde
ongestraf kan laat bly nie. Dis ’n kwessie van eerbied vir
die Skrif. Wat sy gedoen het, is heeltemal verkeerd. Bowendien,
is dit publieke kennis. As ons nie die voorgeskrewe straf toedien
nie, sal die eer en goeie naam van die gemeente in geding wees.
Verder moet ons in rekening bring die impak wat dit op ons jong
mense kan hê. Jong mense is vinnig daarin om huigelary en
dubbele standaarde te ontmasker. As ons ons oë toesluit vir wat
hierdie vrou gedoen het, gaan hulle dink dat ons toegeeflik
teenoor die sonde is. En hulle sou dit kan gebruik as ’n
verskoning om te doen wat hulle wens. Mede ter wille van ons jeug
moet ons ’n sterke standpunt teen die sonde inneem.

Gemeente, is ek reg wanneer ek sê dat ons onmiddellik sou
konkludeer dat hierdie vrou gestenig moet word? Hoe kan Jesus dit
dan laat by ’n berisping: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan
heen en sondig nie meer nie?

Laat ons noukeurig na die situasie gaan kyk. Vers 6 wys
waaroor dit hier gaan. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs stel
nie werklik belang in hierdie vrou wat op heter daad betrap is
nie. Hulle wil Jesus vang. Hulle is besig om ’n val te stel
om Jesus te vang. Hulle wil iets kry waaroor hulle Jesus kan
aankla. Dis bekend dat Jesus ’n vriend van tollenaars en
sondaars is. Hy gaan om met die sogenaamde skorriemorrie van die
samelewing. Hoe sal hy dan reageer op hierdie strikvraag? Sal hy
die wet van Moses handhaaf en eis dat hierdie owerspelige vrou
gestenig moet word? Of sal hy die kant van die sondares kies? Sal
hy haar veroordeel of haar vrylaat? As hy haar vrylaat dan het
hulle ’n wettige aanklag teen hom. Op grond daarvan sal hy
dan deur die Joodse raad veroordeel kan word en as ’n
oortreder van God se wet gebrandmerk kan word. As hy aan die
ander kant sê: “stenig haar” sou hy aangekla kan word
vir aansporing tot aksie wat teen die Romeinse reg ingaan.

Die Joodse leiers bring die vrou na Jesus: “Meester,
Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig. Wat
sê u? Sal ons haar stenig?”

Wat doen Jesus? Jesus buk neer en begin om met sy vinger op
die grond te skryf. Waarom doen Jesus dit? Probeer hy gewoon tyd
te wen omdat hy nog nie goed weet wat om te sê nie? Wys hy net
dat hy nie in daardie vrae belangstel nie? Bowendien, wat is dit
wat die Here Jesus op die grond skryf? Dit word nie uitdruklik
vir ons gesê nie. Watter verklaring ons ook al gee, moet pas
binne die konteks. En die konteks wys duidelik op die huigelary
van daardie selfvoldane skrifgeleerdes en Fariseërs. Hulle stel
hulleself voor as verdedigers van die wet. Maar hulle koester
moord gedagtes. Die hele vertoning is opgesit as ’n komplot
om Jesus dood te maak.

Dis opvallend dat Joh in hierdie gedeelte die skrifgeleerdes
uitdruklik met die naam noem. Dis die enigste keer dat hy dit
doen. Dit des te opvallender as jy bedink dat die ander
evangelies daardie titel dikwels noem. Deur daardie titel net in
hierdie gedeelte te noem benadruk Joh dat hierdie manne goed
bekend is met die Skrifte. Hulle is die vakkundiges, wat die
Skrifte op hul duim ken.

Wel, met daardie grondige kennis van die Skrifte, moet
Christus se skryf op die grond hulle wel aan die dink gesit het.
Dit moet vir hulle die woorde van Jer 17:13 voor die gees geroep
het, die woorde naamlik: “o Here, Verwagting van Israel!
Almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op
die aarde geskryf word; want hulle het die Here, die fontein van
lewende water, verlaat.”

Hierdie woorde moet des te meer in hul gedagtes opgekom het in
die konteks van die huttefees wat netnou gevier is en in hoofstuk
7 beskryf word. Tydens daardie Fees van die Jode het hulle die
daaglikse ritueel geken van water wat uit die vywer van Siloam
geput is, in optog na die tempel gebring is en in die kom langs
die altaar uitgegiet is. In aansluiting op hierdie ritueel het
die Here Jesus op die laaste dag van die fees gesê: “As
iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink. Hy wat in My
glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy
binneste vloei (Joh 7:37,38).

Hierdie woorde is net vars in hul herinnering, wanneer
Christus hom buk om op die grond te skrywe. Sou ’n mens wat
die Skrif byna uit sy kop ken, dan nie dink aan Jer 17:13 nie
“O Here, Verwagting van Israel, almal wat u verlaat, sal
beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word;
want hulle het die Here, die fontein van lewende water, verlaat.”

Wat beteken die woorde? Letters wat op die grond of aarde
geskryf word, sal vinnig uitgewis word vanweë mense wat daaroor
loop en reën en wind. Daardeur sal die skrif vinnig onleesbaar
wees en verdwyn.

In Lukas 10:20 praat Christus oor mense wie se name in die
hemele opgeskryf is. Wees bly dat julle name in die hemele
opgeskryf is. Daardie name is daar vir ewig. Hulle kan nie
uitgewis word nie.

Maar hulle wat op die aarde of grond geskryf is, sal nie bly
bestaan nie, maar verdwyn, vernietig word. En dit geld vir
diegene wat die Here, die fontein van lewende water, verlaat. En
dis presies wat die skrifgeleerdes en Fariseërs doen. Hulle
verwerp die Here Jesus, die fontein van die lewe.

Wel, gemeente, sonder om ’n woord te sê konfronteer die
Here Jesus die skrifgeleerdes met die ernstige waarskuwing van
Jer 17. Hulle beskuldig daardie owerspelige vrou, maar hulle is
self besig om die Here te verlaat. As hulle hul nie bekeer nie,
sal hulleself vernietig word. So is Christus se stilswyende skryf
op die grond in daardie konteks veelseggender as woorde.

As ’n mens nog verder let op die woorde van Jer 17 dan
ontdek jy dat daar nog meer is wat op die skrifgeleerdes en
Fariseërs van toepassing is. Neem Jer 17:5: “So sê die
Here: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm
maak, terwyl sy hart van die Here afwyk.” En vers 9:
“Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit;
wie kan dit ken?” Hoe dikwels het die Here Jesus nie
gewaarsku om nie daarop te vertrou dat hulle kinders van Abraham
is nie, om nie op die vlees te vertrou nie? Hoe vroom het die
skrifgeleerdes nie gelyk toe hulle met die owerspelige vrou by
Jesus gekom het nie? Maar hoe bedrieglik is hul hart. Hulle word
nie gedryf deur liefde vir God se wet nie, maar deur haat teenoor
die Here Jesus en deur die begeerte om Jesus dood te maak. Deur
sy ietwat misterieuse optrede dwing Christus hulle om oor
hulleself en hul bedoelings na te dink.

Die skrifgeleerdes en Fariseërs wil egter nie stop en dink
nie. Hulle wil ’n direkte antwoord op hul vraag. Hulle bly
op ’n antwoord aandring. Wat sê u? Stem u saam met Moses?
Sal ons haar stenig soos die wet van Moses bepaal?

Die Here Jesus kom weer regop en sê: “Laat die een van
julle wat sonder sonde is, die eerste ’n klip op haar gooi.”
Daarna buk Jesus weer neer en skryf hy weer op die grond. Met
daardie woorde het Christus hulle volkome ontwapen. Die aanklaers
verdwyn een vir een, die oudstes, die kerkleiers eerste. Hulle
het niks meer om te sê nie. Hulle het geprobeer om Jesus te vang,
maar hy het hulle in hul korrupsie gevang. Wat kan hulle anders
doen as om stilletjies weg te loop? Hulle wou nooit daardie vrou
stenig nie. Hulle wil nie by die Romeine in die moeilikheid kom
nie. Hulle wou net ’n aanklag teen Jesus kry. Maar nou
kaarts Jesus dit na hulle terug. Laat die een van julle wat
sonder sonde is, die eerste ’n klip op haar gooi. Hulle is
nie bereid om hulle eie skuld te erken nie. Daarom loop hulle weg
en laat hulle Jesus alleen met die owerspelige vrou agter.

Jesus rig hom tot die vrou en laat haar gaan met die vermaning:
gaan heen en sondig nie meer nie.

Gemeente, beteken dit dat die Here Jesus die sonde van
owerspel nie ernstig opvat nie? Leer hy ons dat die sonde nie
gestraf hoef te word nie? Dit kan nie die bedoeling wees nie.
Niemand het die sonde sterker veroordeel as Hy wat sonder sonde
is nie. Hy het nooit sonde goedgepraat nie. Hy doen dit ook nie
teenoor die owerspelige vrou nie. Hy vermaan haar: gaan heen en
sondig nie meer nie. Hou op met die sondige gedrag. Breek
radikaal met die sonde. Verbeter jou lewe.

Jesus verontagsaam ook nie die wet van Moses nie. Die wet eis
die doodstraf vir sulke misdade. Christus sê dan ook dat ’n
klip gegooi moet word. Maar hy formuleer dit op ’n
indringende, persoonlike manier: Laat die een van julle wat
sonder sonde is, die eerste ’n klip op haar gooi. Wanneer
die aanklaers almal wegloop het Jesus geen keuse as om die saak
te laat rus nie. Daar is geen getuies om die eerste klip te gooi
nie soos die wet voorskryf. Deur die onttrekking van die getuies
verval die regsaak.

Die Here ontken dus nie dat die sonde van daardie vrou die
doodstraf verdien nie. Wat die Here wel doen is om te wys dat
daardie aanklaers totaal onbevoeg is om as regters op te tree, om
die reg van die Here uit te voer.

Hulle staan self skuldig voor die Here. Is hulle nie juis
besig om moordplanne te beraam teen die Persoon voor wie hulle
die owerspelige vrou plaas nie? Hul sonde is baie ernstiger as
dit van die owerspelige vrou. Bowendien, hulle is nie eers bereid
om self die wet van Moses toe te pas nie. Maar hulle dring daar
wel op aan by Jesus. Hulle stel hulleself voor as vrome,
onskuldige mense. Huigelagtig maak hulle asof hulle die groot
verdedigers van die wet van Moses is, terwyl hulle feitelik die
wet nie naleef nie. Hul harte is vol van bedrog en korrupsie.
Christus ontmasker hulle huigelagtige gedrag. Hy stel hulle aan
die kaak as groot sondaars. Daarom is hulle nie geskik om regters
te wees nie. Hulle staan self skuldig.

Broers en susters, dit is goed dat jy sonde sien as iets wat
verskriklik is, as verfoeilik. Solank as dit nie net geld vir die
sondes van ander nie. Solank as jy nie teenoor en bo jou naaste
staan as regter nie. Laat ons liewer naas hulle staan as hulle
mede sondaars.

Skiet ons dikwels nie tekort hierin nie? Die sondes wat ons in
ander verfoei, kan soms sondes wees waaraan ons self skuldig is.
Ons kan soms baie sensitief en opgewonde wees oor die sonde van
ander terwyl ons gelyktydig gerieflikheidshalwe ons oë toesluit
vir ons eie sondes. Laat elkeen van ons sy hart op God se
operasie tafel neerlê. Wat bly daar dan oor wanneer God sy skerp
mes daarin set? Sou jy dan so hard en liefdeloos die sondaars in
jou midde verfoei? Wanneer jy sommige mense oor medesondaars hoor
praat, kry jy soms die indruk dat daardie aanklaers byna
volmaakte mense moet wees. Natuurlik is dit nie waar nie. Dit kan
selfs so wees dat diegene wat die felste op ander se sondes
reageer, self baie op hul gewete het. Dalk is hulle nie skuldig
aan dieselfde sonde nie. Maar is die ander sondes waaraan hulle
skuldig is nie net so sleg nie, bv die sonde van die tong,
minagting, liefdeloosheid. Waarom is ek so skerp en fel oor die
sonde van ander? Is dit om my eie sondes te verberg? Dan is dit
maklik en goedkoop om ander wat op ’n sonde betrap is of
waarvan sekere sondes openbaar geword het, neer te haal. Dit voel
miskien goed om rugbaar te maak hoe sleg daardie persoon is sodat
elkeen dit kan hoor. Dit laat my dalk braaf voel. Maar dit is
’n lawwe daad. Vergelykbaar met die gedrag van die
skrifgeleerdes en Fariseërs wat ’n publieke vertoning van
die owerspelige vrou maak terwyl hul harte vol van bedrog en
moord is.

Onthou die geskiedenis van Dawid. Hy het ernstig gesondig
vanweë sy begeerte na Batseba. Hy het met haar owerspel gepleeg
en die dood van haar man gereël. Maar wat doen dieselfde Dawid
wanneer die profeet Natan in ’n gelykenis praat van die
sonde van ’n ryke man wat ’n arme man van sy enigste
ooilam beroof het? Dawid is hoogs verontwaardig, woedend. Dis
’n pragtige voorbeeld van hoe ons sondige hart op die sondes
van ander kan reageer terwyl onsself eintlik so skuldig is. Natan
ruk die masker van Dawid se gesig weg. Hy ontmasker hom in sy
sonde: jy is die man! Wat ’n genade van God. Dit was Dawid
se redding.

Broer, suster, as jy sterke gevoelens oor die sondes van ander
het terwyl jy nie gelyktydig jou eie sondes hardhandig aanspreek,
is jy skuldig aan huigelary. Die grootste blyke van
verontwaardiging kom soms vanuit harte wat nie geleer het om te
sê: dank u Here vir u vergewende genade.

As ek eenmaal God se genade en vergewing geproe het, sal ek
beheers wees in my oordeel oor ander. Ek het self God se ewige
oordeel verdien, maar pleks om God se brandende toorn te ervaar,
proe ek sy grenslose liefde en genade. Wat ’n verskil maak
dit in ons houding na ander toe.

Geliefdes, wat ons as Christene pas, is afwysing van die sonde:
gaan heen en sondig nie meer nie, maar ook liefde en erbarming
vir die sondaar. Dink aan die liefde en erbarming wat God vir jou
gewys het. Mag die geskiedenis van ons teks jou dit leer. Die
Here Jesus het die sonde gehaat. Maar hy het liefde vir die
sondaar gewys. Die owerspelige vrou is op heter daad betrap. Sy
was die objek van publieke verontwaardiging. Sy is totaal
verneder. Pastoraal vermaan die Here haar, maar hy open ook nuwe
perspektiewe: Gaan, verbeter jou lewe. Breek met die sonde. Maak
’n nuwe begin.

Die Here Jesus is vol van erbarming na die sondaar toe wanneer
hy bedink waartoe die sonde lei. Wat Jesus boweal haat is
hoogmoed en huigelary. Dat jy nalaat om nederig van gees te wees.
Hulle wat dink dat hulle gesond is, het die geneesheer Jesus
Christus nie nodig nie.

Broer, suster, hoe benader jy dan iemand wat in sonde geval
het? Met die woorde van Gal 6:1 kan ons se: “as iemand
ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat
geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid,
terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.”
Jy vertel die dinge nie verder nie. Jy verneder nie die sondaar
nie. Nee, jy help hom reg in ’n gees van sagmoedigheid. Dis
wat mens, wat geestelik is, doen.

Hoe reageer jy dan wanneer jy sien dat een van jou kinders met
sekere sondes of swakhede worstel, miskien selfs diep val? Help
reg in ’n gees van sagmoedigheid. Let op jouself. Besef dat
jy self ook maar ’n swak en sondige mensekind is. Onthou die
versoekings wat jy self ook deurstaan het en die tye waarin jy
self geval het of byna geval het. Besef die groot genade wat God
jou bewys het. Dan sal jy in staat wees om jou kind in sy of haar
stryd teen die sonde te help. Jou eie ervaring kan jou help om
gepaste adviese te gee. Daardeur kan jy meer sensitief wees en
begrip toon. Jy kan dan langs hulle staan en hulle help in die
stryd van die geloof.

Geliefdes, laat elkeen uit hierdie geskiedenis leer om
huigelary te haat en af te sweer. Wees eerlik met jouself teenoor
God en mense. Wees billik teenoor jou naaste. Lei en help mekaar
reg in ’n gees van sagmoedigheid. In die besef van jou eie
swakheid en God se oorvloedige genade.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)