Die nabye woord van God wil bely word

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-04-02
Teks: 
Romeine 10
Preek Inhoud: 

Romeine 10:9

Ds C Kleyn - Sondag 2 April 2006

Lees: Romeine 9:30-10:15.
Sing: Ps 25:1,2; Ps 25:3,4; Ps 25:7; Ps 31:15,17,19;
Ps 89:6; Ps 89:1.

Tema: Die nabye woord van God wil bely word

  1. Die betekenis van die belydenis: dis naspreek
  2. Die inhoud van die belydenis: die Here Jesus Christus
  3. Die voorwaarde vir die belydenis: geloof
  4. Die vrug van die belydenis: redding

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Net nou hoop Albert en Nadine hul geloof voor God en die
gemeente te bely. Geen kleinigheid nie. Ook geen
vanselfsprekendheid nie. Dis ’n wonder van God se genade.
’n Duidelike bewys dat die woord van Christus naby ons is.
Daardie woord het ’n plek gekry in die harte van Albert en
Nadine. Daardie woord is op hul lippe gelê. Daardie woord lok
hul antwoord uit. Daaroor praat Rom 10:8 as dit sê: “Naby
jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” Daardie woord,
wat reeds ’n plek in jou hart en lewe gekry het, wil bely
word. Die klank van God se stem roep om die weerklank uit ons
monde.

So verkondig ek vir julle: die nabye woord van God wil bely
word

  1. Die betekenis van die belydenis: dis naspreek
  2. Die inhoud van die belydenis: die Here Jesus Christus
  3. Die voorwaarde vir die belydenis: geloof
  4. Die vrug van die belydenis: redding

Die teks praat van “met jou mond die Here Jesus
bely”. Wat beteken dit om te bely? Oorspronklik beteken die
woord dat jy dieselfde sê, iets naspreek, dat jy met iets
saamstem. As jy belydenis doen, dan is jy feitelik dus nie
origineel nie. Jy kom nie met ’n volstrek eie geluid nie.
Nee, jy praat iemand na. Jou belydenis dra die karakter van
’n antwoord.

Dit hoort, brs en srs, tipies by die verbond met die Here. In
die verbond is immers nie die mens die eerste nie. God is altyd
die eerste. Alle inisiatiewe gaan van Hom uit. Eers nadat God
aksie onderneem het, is ek in staat om iets te doen. Eers nadat
God gepraat het, kan ek praat. Hy moet dit eers voorsê.

Wanneer jy belydenis van jou geloof aflê, dan gaan dit nie in
eerste instansie om jou keuse nie, maar dan staan God se keuse
van jou sentraal. Jy beaam God se keuse, jy prys Hom vir sy keuse.
Dis nie my keuse wat deurslaggewend is nie, maar God se keuse.
Dis goed om dit in hierdie tyd hardop te sê. Tiperend vir ons
tyd is immers die gees van selfbeskikkingsreg. So van: ek kies
wat ek wil, ek beskik self oor my lewe, ek bepaal self die koers
van my lewe.

Hierdie gees van selfbeskikking raak ook die Christene.
’n Mens herken dit in die sterke beklemtoning van die
persoonlike keuse van die mens. Daarom het sommige Christene ook
probleme met die kinderdoop. Hulle dink dat jy eers vir God moet
kies, voordat jy gedoop mag word. By die doop staan dan die
godsdienstige mens met sy keuse sentraal. Alles sou daarvan
afhang, ook die keuse en beslissing van God. Dit kom eintlik
hierop neer dat God agter die geloofskeuse van die mens moet
aanloop. Eers moet die mens kies, dan kan God kies. Wat ’n
hoogmoed. Asof ek uit my eie in staat sou wees om vir God te kies.
Asof die heil van my keuse en aksie afhanklik sou wees.

Paulus het hierdie gedagte reeds in die verse 6-8 afgewys toe
hy daarop gewys het dat jy om die heil te kry nie self eers na
die hemel hoef op te klim nie of na die afgrond hoef neer te daal
nie. Die geregtigheid wat uit die geloof is, sê immers:
“Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar,
naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond
neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? Maar wat
sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.”
Wie dink dat hy eers ’n heksetoer moet verrig, maak die heil
van sy eie aksie afhanklik. Jy sou die heil dan self moet gaan
haal.

Maar, gemeente, Goddank, in die verbond is alles van die aksie
van God afhanklik. Hy het in Christus vir die heil gesorg. En Hy
het die heil na ons toegebring. Hy het dit naby gebring. Naby jou
is die woord, die woord van heil. Naby jou is die heil self. Jy
kan dit sommer vat. Jy mag die sommer glo. Meer is nie nodig om
voor God regverdig te wees nie.

Dat dit die weg in die verbond is, blyk dan ook uit die woord
bely. Om te bely is om na te spreek, antwoord te gee. Jy doen
niks meer nie, maar ook niks minder as om die sprekende God na te
praat nie. Die klank van sy stem ontvang weerklank.

Aan my belydenis gaan dus ’n geskiedenis van God se keuse
en liefde vooraf. Hy het sy woord naby gebring. Hy het my die
woord laat hoor, terwyl baie mense die woord nooit werklik hoor
nie. Hy het my daarin onderrig. Daardie woord het my bereik en my
antwoord wakker geroep. Sou daar dan nog ’n plek vir eieroem
wees, vir roem in my eie keuse en aksie? Nee, wie roem, moet in
die Here roem, in sy keuse en aksie. Hy het gepraat. Daarom kan
ek nie anders as sy woorde herhaal, bely nie.

Nou die tweede gedagte: die inhoud van die belydenis.

Dis opvallend dat Paulus in vers 8 skielik van die nabyheid
van die woord praat. Dit sou jy na die voorafgaande nie verwag
het nie. Daar in die voorafgaande was immers nie sprake van die
woord nie, maar van Christus. Die heil blyk in Christus vervat te
wees. Daarom word daar gesê: “Die geregtigheid wat uit die
geloof is sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die
hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die
afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring?”
Die geregtigheid uit die geloof sê dus: jy hoef Christus nie uit
die hemel of uit die afgrond te gaan haal nie. Jy hoef Christus,
die heil nie ver weg te soek nie.

Na hierdie woorde, sou jy verwag het dat Paulus sou sê: naby
jou is Christus. Dit volg logies uit die voorafgaande. Christus
is nie onbereikbaar ver weg nie, maar naby jou is Christus. Maar
pleks daarvan hoor ons: naby jou is die woord. Waarom so ’n
oorgang van Christus na die woord? Omdat Christus juis in die
woord aanwesig is. Die nabyheid van die woord impliseer die
nabyheid van Christus. Die woord is immers die woord van Christus.
As die woord naby is, dan is ook Christus naby, dan is die heil
naby.

Wel, as “bely” beteken om die woord na te spreek,
dan kan dit nie anders of die inhoud van die belydenis is
Christus. So noem die teks ook twee belydenis inhoude wat van
Christus praat. “As jy met die mond die Here Jesus bely en
met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy
gered word.”

Die belydenis moet die Here Jesus tot inhoud hê, oftewel: dat
Jesus die Here is. By die naam Jesus dink ons aan die historiese
Jesus soos Hy as mens onder ons mense verkeer het. Hy het self
uit die hemel neergedaal om as ware mens die heil vir ons te
verwerf. Ons bely nou dat hierdie Jesus die Here is. Hy is ons
verhoogde vors. Hy is met mag en heerlikheid gekroon. Aan Hom is
gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Wie Jesus dus as die
Here bely, gee hom die hoogste eer, die plek wat hom as Heer van
alle dinge toekom. Ek bely dat alles in die wêreld om hierdie
Here Jesus draai. Hy is die enigste en volkome redder en
regeerder.

Om hierdie Here te bely wil ook sê dat ek my aan sy
heerskappy onderwerp, dat ek erken dat Hy seggenskap oor my het,
dat Hy beskikkingsreg oor my het. Hierdie belydenis hou in dat ek
myself as sy eiendom ken. Hy het immers nie sommer my Here geword
nie. Hy het my daartoe losgekoop, losgeruk uit die heerskappy van
die duiwel. Hy het my bevry uit sy mag deur die prys daarvoor te
betaal wat daarvoor bepaal is, sy eie bloed. Ek is dus sy
duurgekoopte eiendom oor wie Hy seggenskap het. Dit alles word
bely as ek sê: Jesus is die Here.

In die Bybel word hierdie kernagtige belydenis meermale genoem.
1 Kor 12 noem daardie belydenis kenmerkend vir iemand wat deur
die Heilige Gees spreek. Daar skryf Paulus: “Daarom maak ek
julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus
’n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die
Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.” So ’n
belydenis is volop die werk van die Heilige Gees, wat die
weerklank van God se woord wakker roep.

Daardie woorde moet dan natuurlik wel na hul volle inhoud bely
word. Ons sê dit nie sonder rede nie. Die Wêreldraad van kerke
het hierdie belydenis ook as basis formule aanvaar. Hulle het
egter daardie woorde van sy Skriftuurlike inhoud beroof om soveel
moontlik sogenaamde Christelike kerke te kan verenig. ’n
Mens moet die belydenis dus wel so gebruik soos die Bybel dit
gebruik, na sy ryke inhoud. Daardie woorde omvat jou volkome
verlossing en verwagting. Jesus leef. Nadat Hy die versoening tot
stand gebring het, is Hy deur die Vader verhef tot Heer oor alle
dinge. Hy is ook jou lewende Vors.

Parallel met die uitdrukking “Jesus is Here” praat
Paulus ook van ’n glo dat God Hom uit die dode opgewek het.
Jy hoef jou verlosser nie uit die hemel te haal nie. Hy het self
neergedaal om jou verlossing te bewerk. Jy hoef jou verlosser ook
nie uit die afgrond, uit die doderyk, te haal nie. Hy het
opgestaan. Jou verlosser leef. Hy was dood – Hy het gesterf
vir jou sondes – maar tans leef Hy om sy verdienste na jou
toe te bring. Daarom naby jou is Jesus Christus. Hy is naby in
die woord. So word sy naam op jou lippe gelê. Jy gaan dit
naspreek: Jesus is die Here, Hy het opgestaan. Jou verlosser leef
en regeer.

Gemeente, daar is mense wat min waarde heg aan so ’n
geloofsbelydenis. Alles word aan jou voorgesê, jy hoef dit net
na te sê. Nee, dit lyk hulle niks nie. Dis nie persoonlik genoeg
nie. Te min kreatiwiteit van die mens, nie spontaan genoeg nie.
Die karakter van die belydenis impliseer inderdaad dat iets
voorgesê moet word. Sonder prediking en onderrig sou ek nie tot
my antwoord kom nie. Uit my eie kan ek dit nie bedink nie, en kom
ek nie daarby uit om Jesus as die Here te bely nie. God moet dit
eers voorsê. Daarna kan ek dit eers bely.

Dit impliseer egter nie dat die belydenis daarom nie
persoonlik sou wees nie. Dit moet ’n saak van mond en hart
wees. Dit moet uit ’n gelowige hart voortkom. Anders het dit
geen waarde nie. Hier het ons dan die voorwaarde vir die
belydenis: die geloof, dis die derde gedagte van die preek.

Paulus praat van mond en hart. Die woord, Christus, is nie net
in jou mond gelê nie, maar ook in jou hart. Naby jou is die
woord, in jou mond en in jou hart. Jy is daarin onderrig. Jy het
dit in jou hart gebêre. Jy moet die woord dan ook met jou hart
glo. Eers as dit met die hart geglo word, kan dit opreg met die
mond bely word. As my belydenis net ’n saak van my mond is,
dan sou die genoemde kritiek tereg wees. Dan sou die persoonlike
element inderdaad ontbreek. As dit nie uit my hart kom nie, dan
word my belydenis net ’n holle frase, onpersoonlik,
waardeloos. Maar as my belydenis uit die hart voortkom, dan is
dit volop ’n persoonlike saak. My persoon is dan volop
daarby betrokke.

Paulus wys hierop wanneer hy praat van glo met jou hart. Die
hart is in die Bybel die middelpunt van ons menslike bestaan. Dis
die bron, die uitgangspunt van al ons doen en late. So dien die
geloof en as gevolg daarvan jou belydenis ’n saak van jou
diepste persoonlikheid te wees. Jy moet met jou hele persoon glo.

En om te glo, is om God se woord, sy heil, die Christus aan te
neem. Dis God op sy woord vertrou ook al lyk dit asof die
werklikheid anders is. Die geloof sê: God het dit gesê, daarom
is dit so. Ek is seker van alles wat Hy in sy woord sê. Ek het
immers te doen met God wat die waarheid self is, God wat almagtig
is ook in sy genade en vir wie geen ding te wonderlik is nie.

Om so met jou hart te glo, is ’n saak wat dan jou hele
lewe deurtrek. Julle ken die gesegde: “waar die hart van vol
is, loop die mond van oor.” Die geloof kan nie swyg nie. As
ek met die hart glo, gaan ek as vanself met die mond bely. En dit
bly nie beperk tot woorde nie. My dade sal dit ook wys. Met woord
en daad sal Jesus Christus as Here bely word. Die geloof is iets
van die hele lewe.

Wie so glo en bely, mag die vrug van die belydenis ervaar,
naamlik redding. Dis die vierde gedagte.

Wat die wet nie kon gee nie, dit gee nou die geloof in die
Here Jesus Christus. In die gelese skrifgedeelte het Paulus langs
mekaar genoem die geregtigheid wat uit die wet is en die
geregtigheid wat uit die geloof is. Die geregtigheid wat uit die
wet is ken die reël: doen dit en jy sal lewe. Maar dan moet jy
die wet wel volkome naleef. Geen mens is egter daartoe in staat
nie. Daarom kan geen mens deur die wet gered word nie. Jy bereik
dit nie deur vir ander goed te wees en elkeen te gee wat hom
toekom nie, soos die humanisme beweer. Wat dit betref is die
Judaiste en die humaniste op dieselfde spoor. Albei soek hul
redding deur hul eie goeie werke.

Die Skrif leer ons egter dat dit ’n doodloop pad is. Die
wet onderstreep juis jou eie onmag. Ek is nie in staat om alles
te volbring nie. Die wet roep om ’n ander wat dit vir my kom
volbring. Dit roep om die ander Jesus Christus, wat die volbring
het. So word die tweede pad gewys: die pad van die geregtigheid
wat uit die geloof is. Wat die wet nie kon doen nie: jou red, dit
bring nou die geloof vir jou: jy ontvang langs die pad redding.
Dit is die enige pad wat uitsig bied. Want jy mag dan Jesus
Christus, wat God se reg vir jou volbring het, in geloof sien en
aanneem. In Hom besit jy redding van sonde en skuld, bevryding
van die oordeel, ewige redding. “As jy met jou mond die Here
Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek
het, sal jy gered word.” Daaraan is geen twyfel moontlik nie.
Dit word gewaarborg deur jou verhoogde en lewende Here. Jy hoef
nie eers van alles te presteer nie, jy hoef geen kunsgrepe uit te
haal nie om die heil in jou besit te kry nie. Dit is in die Here
Jesus naby gebring. Jy kan dit sommer so vat. Jy hoef dit net te
glo.

En “elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.”
Jy sal nooit teleurgestel wees nie, in tyd en ewigheid. Hy is die
enigste en vaste rots van behoud, deur God gegee. Met al die
sigbare en tasbare sekerhede wat jy hier op aarde soek, kom jy
uiteindelike bedroë uit. Hulle kan geen blywende sekerheid bied
nie. Juis op die kritieke oomblik sal dit blyk dat aardse
sekerheid jou in die steek laat.

Maar wie in die Here Jesus Christus glo, sal nooit beskaam
word nie. Daar sal nooit ’n oomblik kom waarop jy moet
konstateer dat jy jou vergis het nie. Die rots van behoud voldoen
aan alle verwagtings. Daar is waarborge vir lewe en sterwe.

Geliefdes, bly dan jou geloof op jou Here Jesus Christus rig.
Bly by die goeie belydenis. Die woord wat naby jou gebring is,
wil bely word.

Dit sal in die praktyk van die lewe nie altyd maklik wees nie.
Om die goeie belydenis onder alle omstandighede in woord en daad
gestand te doen, gaan nie vanself nie. Ons bly sondige en swak
mensekinders en daar word van alle kante aan ons getrek. Maar
bedink dit: die woord van God se genade, ja, die Here Jesus
Christus, is naby jou, in jou hart en in jou mond gelê. Jy kan
onder alle omstandighede op Hom staatmaak. Jy hoef maar te
luister na sy stem. Geen enkele moeite of krisis het dan die
laaste woord in jou lewe nie. Jy kan altyd weer opstaan en na die
Vader gaan en sê: “Ek hoor u stem, dit is vir my ’n
vertroude geluid, dit is op my lippe, dit beheers my hart en lewe.”
Hierdie pad is nie swaar nie. Dis eerder bevrydend. Verrykend.
Immers elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)