Selfs in Christus se dood lewer God reeds bewyse van sy oorwinning

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-04-14
Teks: 
Matthéüs 27:50-52
Preek Inhoud: 

Matthéüs 27:50-52

Ds HH van Alten - Goeie Vrydag 14 April 2006

Lees: Matt. 27:32-56
Sing: Sien liturgie

Tema: Selfs in Christus se dood lewer God reeds bewyse van sy oorwinning
            Bewys 1: Die hemel gaan oop
            Bewys 2: Die grafte gaan oop

Geliefde gemeente van ons Here en Verlosser, Jesus Christus,

‘n Mens wonder soms wat deur die koppe gegaan het van Jesus se volgelinge toe Hy daar aan die kruis op Golgota gehang het. Dit is asof hulle so half eenkant staan – Mattheus en Markus vertel dat hulle die kruisiging van ver af aanskou het, terwyl Lukas vertel dat al sy bekendes ver weg gestaan het. Dit is slegs Johannes wat enkele van Jesus se geliefdes effens nader aan die gebeure bring. Maar in die geheel kry ons die indruk dat vrees en verbystering veroorsaak het dat Jesus se volgelinge hulself van die sentrum van gebeure onttrek het en in ‘n groepie die tafereel gade geslaan het. Vrees en verbystering – vrees dat hulle dalk met Jesus geassosieer kon word en dieselfde lot sou moes deurmaak, verbystering oor die manier waarop hulle Meester besig was om aan sy einde te kom. Niemand van sy volgelinge storm tot by die kruis om vir die Here Jesus op te kom nie, niemand trek sy swaard om vir die Meester te veg nie. Hulle beskou Hom as ‘n sterwende.
Ja, daardie aand toe almal al weg is huistoe, en die volgende dae toe die rus in die stad teruggekeer het, toe kom sy volgelinge, en in besonder die vroue, in aksie. Toe staan hulle gereed met die doeke en die speserye en die salf om Hom op ‘n goeie manier te begrawe. Hulle hanteer Hom as ‘n gestorwene.

Maar voordat ons nou ons koppe skud oor hierdie optrede van Jesus se volgelinge en sê: “Julle kon tog geweet het dat sy dood nie die einde is nie, Hy het dit dan self vir julle gesê” – laat ons onsself afvra: hoe kyk ons na Jesus se sterwe? Ja, ons weet Hy het aan die kruis gehang vir ons sondes, ons weet Hy het opgestaan, en dat sy opstanding die oorwinning oor die satan en die dood beteken, maar daardie moment van doodgaan, daardie oomblik waarin ons Here Jesus die laaste asem uitgeblaas het – hoe kyk ons daarna? Hoe dink ons daaroor? Hoor ons ook by Christus se dood, soos iemand ‘n slag geskryf het, vir ‘n oomblik ‘n skaterlag van die satan? ‘n Skaterlag van die satan, sy oomblik van glorie. Miskien ‘n kort oomblik, maar tog… wie anders kan sê dat hulle, al was dit vir ‘n kort oomblik, God in die stof laat byt het? Maar gemeente, dit is nie waar nie. Satan het geen skaterlag geken nie, God laat satan vir geen oomblik met rus nie, daar is geen rede vir satan om te juig nie. Want selfs in sy dood lewer God reeds die bewyse van Christus se oorwinning. Dit is dan ook die tema vir die verkondiging op hierdie Goeie Vrydag:

Tema: Selfs in Christus se dood lewer God reeds die bewyse van sy oorwinning
            Bewys 1: Die hemel gaan oop
            Bewys 2: Die grafte gaan oop

1. Mattheus beskryf in vers 50 die oomblik van Jesus se sterwe met baie sober bewoording. Met die keuse van sy woorde wys hy duidelik dat Jesus se sterwe nie iets is wat Hom oorval het, sonder dat Hy dit kon keer nie. Nee, Hy wil sterwe, dit is ‘n daad van Homself. Dit blyk in die eerste plek uit die feit dat Hy net voor sy sterwe nog met ‘n groot stem geroep het. Hy het nog krag in Hom – Hy sterf dus nie van uitputting nie, Hy is nie bewusteloos nie. Wat Jesus geroep het, word hier in Mattheus nie genoem nie, maar vanuit Lukas 23:46 weet ons dat dit hier gaan oor sy laaste woorde: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” En dit is dan tegelyk die tweede rede waaruit blyk dat Jesus se sterwe ‘n daad van Homself is, naamlik dat Hy self sy gees oorgee in die hande van die Vader. Mattheus sê dat Hy die gees gegee het.
Tot op die laaste oomblik is Christus, ten spyte van sy menslike swakheid, ten spyte van sy aftakeling, tog in beheer van sake. Soos Hy self sê in Johannes 10:18: “Niemand neem dit [my lewe] van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem.”

En dan… dan sterf ons Heiland. Dit wil voorkom asof die gordyn gesluit het oor die veelbewoë lewe van Jesus van Nasaret; ‘n mens sou verwag dat Hy sy laaste woorde gespreek het, en dat dit van sy kant af sou stilraak. Maar dit is nie wat gebeur nie – dit raak nie stil van sy kant af nie, sy dood bring God in beweging, onverwagse kragte kom op die aarde los. Almal moet sien en hoor en voel dat Christus se dood nie die einde is nie. Hy is Oorwinnaar, selfs tot in die dood!
Die eerste bewys hiervoor, waarvan Mattheus ons vertel, is dat die voorhangsel van die tempel geskeur het op die oomblik van Christus se sterwe. By hierdie voorhangsel moet ons dink aan die groot gordyn wat in die tabernakel en tempel skeiding gemaak het tussen die Heilige en die Allerheiligste.

Die Allerheiligste – dit was die woonplek van die Here. Alles aan hierdie ruimte het gewys op die heiligheid van die Here wat hier gewoon het: die afmetings, die kosbare materiaal en die sierlike bewerkings. Hier was die troon van die Here, die ark van die verbond. Hier het die Here tussen die cherubs gewoon. Gemeente, dit was dan ook die rede waarom in die Allerheiligste geen mens mog kom nie.
Daar was dus duidelik skeiding tussen God en sy volk. Die mens kon nie sommer so die woonplek van die Allerhoogste betree nie, en dit was logies! Wat is daar in die sondige mens wat hom die reg gee om voor die aangesig van die Heilige God te kom? Op watter gronde staan hy wanneer hy die woonplek van die Almagtige betree? Nee broers en susters, die mens wat dit sou waag, sou sekerlik sterwe, sou sterwe in die ontoeganklike lig van die Heilige God, sou verteer word deur die vuur van God se heiligheid. En daarom was daar die voorhangsel, om skeiding te maak tussen die Heilige God en sondige mense.
Die enigste manier waarop die volk van die Ou Verbond tot God kon nader, was deur middel van die hoëpriester. Een keer in ‘n jaar, tydens die groot versoendag, het die hoëpriester vir ‘n oomblik die voorhangsel weggeskuif om daaragter in die Allerheiligste vir homself, sy gesin en die hele volk deur die bloed van ‘n bokkie versoening te doen. Een keer in ‘n jaar, en daarna het die voorhangsel vir die res van die jaar weer toegeval – vir die res van die jaar was die voorhangsel die verskriklike simbool dat die toegang tussen God en mens nog geslote was. Die weg na die heiligdom was nog nie geopen nie, werklike versoening het nog nie plaasgevind nie! Die volk het onder ‘n geslote hemel geleef! Die voorhangsel was simbool van die sonde wat skeiding gemaak het tussen God en sy volk.

Maar gemeente, die voorhangsel was ook nog simbool van iets anders. Die Hebreërskrywer leer ons naamlik in hoofstuk 10:20 dat die voorhangsel ook simbool was van die vlees van Christus. Die voorhangsel het die Israeliet dus nie slegs herinner aan sy bloedrooi sonde wat hom van God geskei het nie (terloops, die materiaal waarvan die voorhangsel gemaak is, was ook bloedrooi), maar die voorhangsel het ook die belofte ingehou van die Verlosser wat die weg deur sy vlees, deur die voorhangsel, na die heiligdom sou kom oopmaak.

En gemeente, dit is presies wat gebeur tydens daardie oomblik van Christus se sterwe: soos die voorhangsel op die groot versoendag weggeskuif moes word, sodat die hoëpriester in die Allerheiligste kon ingaan, so moes die vlees van Christus, daardie vlees waarin Hy ons sondes gedra het (1 Petr. 2:24), weggeskuif word. Dit beteken: sy vlees (sy liggaam) moes verbreek word, sodat daar ‘n opening kon kom na die Allerheiligste toe.
Daar is egter een groot verskil: elke keer wanneer die hoëpriester in die Ou Verbond die voorhangsel weggeskuif het om na die Allerheiligste te kan deurgaan, het dit weer agter sy rug toegeval. Maar toe ons Here Jesus se vlees weggeskuif is, toe sy liggaam, waarin Hy die sonde gedra het, afgebreek is, toe het Hy vir altyd die skeiding tussen God en mens weggeneem. Die voorhangsel het in twee geskeur; die gordyn wat skeiding gemaak het tussen God en sy volk het verdwyn. Jesus Christus ontsluit deur sy vlees die toegang tot die binneste heiligdom, Jesus Christus maak deur sy liggaam die hemel vir ons oop. En God self het dit erken, God self het dit aanvaar – want, so lees ons in Matt. 27:51, die voorhangsel skeur van bo tot onder. ‘n Méns kon miskien nog die voorhangsel van onder tot bo skeur, maar van bo tot onder in ‘n Allerheiligste wat ten minste ses meter hoog was… Nee, daarvoor was goddelike hande nodig. En niks het God meer vreugde verskaf as om Christus se offer te aanvaar en die skeiding uit die weg te ruim nie. God self kom van agter die gordyn te voorskyn; God neem die inisiatief, in antwoord op die versoenende werk van sy Seun; God sê: “vir lank genoeg was ek verborge vir my volk, vir lank genoeg het die gordyn, die sonde skeiding gemaak, Ek tree na buite!”

Gemeente, wanneer Christus die laaste asem uitblaas, dan hef God self die oorwinningsbanier op: “My Seun het oorwin! Weg met die sonde, weg met die skeiding!” Ons leef onder ‘n oop hemel, ons het vrye toegang tot God, soos wat die Hebreërskrywer so pragtig stel in hoofstuk 10:19-22:
“Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan (en ons het daardie vrymoedigheid! Hoe?) deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid,…”
Dit is heerlike taal wat die Hebreërskrywer hier gebruik: vrymoedigheid, volle geloofsversekerdheid. Het ons dit? Gaan ons met so ‘n houding na God in die hemel? Wanneer ons bid, dink ons daaraan dat ons nie slegs hoef te hoop dat ons gebed God êrens daarbo bereik nie, maar dat ons almal saam en elkeen afsonderlik tot voor God se troon mag gaan om daar ons nood en ellende voor Hom neer te lê? U, ons, mag soos die engele in Jakob se droom op en neer klim met die leer van God se beloftes! Gemeente, Christus het met sy kruisdood die skeiding tussen God en ons afgebreek; die deurgang na die Vader is lewensgroot voor ons, Jesus Christus, die gekruisigde. Laat ons die geskeurde voorhangsel as sigbare bewys van Christus se oorwinning in die geloof aangryp.
Laat ons daarom nie deur ons sondes en swakhede nuwe blokkades opwerp nie, nie deur ons kleingeloof en ongeloof die toegang weer versper nie, nie toegee aan die wêreldbeeld van ons tyd wat meen dat daar niks buite en niks agter ons wêreld is nie. Nee, laat ons leef as Nuwe Testamentiese kerk, kerk wat leef onder ‘n oop hemel, kerk wat met vrymoedigheid en volle geloofsversekerdheid kan ingaan na die altaar van God, na die God van ons jubelende blydskap!
(Sing ná die eerste punt Ps. 43:3 en 4)
Die tweede bewys van Christus se oorwinning is dat nie slegs die hemel nie, maar ook die grafte oopgaan.

2. Mattheus vertel dat daar op die moment van Christus se sterwe ook ‘n aardbewing gevolg het. Die aarde het gebewe en die rotse het oopgeskeur. In vers 52 lees ons dat, as gevolg van die aardbewing, die grafte ook oopgegaan het, en baie liggame van die ontslape heiliges opgestaan het. Ons betrek vers 53 nog nie hierby nie, dit laat ons vir sondag wanneer ons Christus se opstanding uit die dood gaan vier; chronologies volg vers 53 ook eers op Christus se opstanding.
Daar is sommige geleerdes wat vers 52 ook ná Jesus se opstanding wil plaas, maar dit sou vreemd gewees het waarom Mattheus dit dan juis hier in die verhaal gevoeg het. Nee, vers 52 kan ons chronologies plaas presies op die oomblik van Christus se afsterwe – op daardie oomblik skud die aarde, skeur die rotse, gaan die grafte oop, en kom daar baie liggame te voorskyn.

Dus, reeds op Goeie Vrydag kon die mense van Jerusalem die oop grafte sien en bemerk dat heelwat van hulle leeg was. Toe reeds kon die mense van Jerusalem die verbinding gelê het: Jesus se sterwe op Golgota – die leë grafte van mense wat in Hom geglo het! En daarom is dit belangrik om vers 52 in hierdie konteks te lees, en nie drie later op die paassondag nie. Nee, in hierdie oomblik van sterwe gee God, naas die geskeurde voorhangsel, nog ‘n tweede bewys dat Jesus Christus die oorwinning behaal het – gestorwe heiliges staan op uit die dood! Christus se sterwensuur het vir hierdie ontslape heiliges ewige bevryding gebring; wanneer Hy die dood ingaan, kom hulle daaruit!

Selfs op daardie oomblik van Christus se sterwe bewys God dat Hy die sleutels van die dood en die doderyk in sy hand hou; vir geen oomblik mag die satan skaterlag nie. “Nee satan, wanneer Christus die graf ingaan, dan kom enkele gelowiges daaruit.” Enkeles, ja, maar dit is die bewys dat God die mag oor die dood behou! Satan kry geen oomblik kans om te juig nie, selfs nie vir die drie dae waartydens Christus in die graf gelê het nie. Want onmiddellik by sy sterwe word enkele van sy volgelinge uit die kloue van die dood gehaal. Volgelinge, heiliges – waarskynlik mense wat in Jesus se tyd tot geloof gekom en gesterf het. Hulle word opgewek as sigbare bewys van Christus se oorwinning aan die kruis. “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” – dit moet voortdurend klink; selfs nie tydens die drie dae in die graf mag hierdie oorwinningskreet stilraak nie! Nee, juis dan hef God dit in al sy krag aan: “Kom heiliges, volgelinge van die Meester, staan op!”

Gemeente, daarom is dit so belangrik om te sien: aan die kruis is die oorwinning behaal, aan die kruis word God se toorn gestil, word die versoening bewerk, word die vrye toegang tot God ‘n werklikheid. Aan die kruis! En daarom sien ons in Openbaring 5 Hóm wat oorwin het ook as die Lam, asof Hy geslag is. Nie ‘n Oorwinnaar met perde en ruiters en skilde en swaarde en ‘n kroon nie. Nee, ‘n Lam asof Hy geslag is – Hy het oorwin, Hy het gekom om die boek oop te maak, en aan Hom word ‘n nuwe lied gesing, Hy is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.
Gemeente, dit is die dwaasheid van die woord van die kruis in die oë van ongelowiges. Hulle begryp nie hoe ons in ‘n gekruisigde Verlosser kan glo nie. Ons begryp dit miskien ook nie altyd nie, maar ons glo dit, ons glo in Hom, ons bely Hom as die krag en die wysheid van God. En ons kan die bewyse van sy oorwinning ook lewer!
In die optrede van God op die oomblik van Christus se sterwe, lê vir die wêreld die sigbare en tasbare en voelbare bewyse van sy oorwinning. Ja, op Paassondag was daar ook ‘n aardbewing, maar verder was daar geen bewyse nie. Meer nog, daar is selfs ‘n leuenverhaal versprei dat sy dissipels Jesus se liggaam in die nag kom steel het. Nee, met sy sterwe, toe God en, deur Hom, die kragte van die natuur in beweging gekom het, was dit sigbaar aan die voorhangsel, was dit voelbaar in ‘n aardbewing, was dit sigbaar in die grafte – hierdie Jesus, Hy is werklik die Seun van God, Hy is die Oorwinnaar, selfs in die dood.

Broers en susters, laat ons met hierdie boodskap lewe, uitstaan in die wêreld. Die boodskap van die kruis is miskien dwaasheid in die oë van die wêreld, maar laat ons hierdie boodskap nie verloën nie. Ons het geen enkele rede om onsself bo hierdie boodskap te verhef nie, want – soos Paulus in 1 Korinthiërs 1 sê – ons is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie. En tog het God dít wat in die wêreld onedel, verag en niks is nie, uitverkies om te deel in die dood van sy Seun! Sy Seun wat in hierdie wêreld ook geen gestalte of heerlikheid gehad het nie, ook geen aansien gehad het nie, ook geen voorkoms gehad het nie, ook verag en verlaat is. Ons mag deel in sy dood, vir ons sondes – daarvoor het God ons uitverkies! Maar meer nog, wanneer ons deel in sy dood, dan deel ons ook in sy oorwinning, dan deel ons in die wins wat Hy verkry het, dan mag ons deur Hom vrylik na die Vader gaan (die geskeurde voorhangsel is daarvan die bewys), dan mag ons deur Hom weet dat die lewe ons deel is, vandag én by sy wederkoms (die opgestane heiliges is daarvan die bewys). Nou reeds is die oorwinning behaal!
En daarom maak ons nie skeiding tussen die strydende kerk op aarde en die triomferende kerk in die hemel nie. Nee, ons is vandag al die triomferende kerk! In stryd, ja – ons beleef dit ook, ons ken die stryd wat die kerk en elke gelowige moet voer. Ons ken die stryd in ons eie kerkverband, ons weet wat dit van ons vra om vas te bly staan in die waarheid, ons beleef die oorlog teen die sonde in ons eie lewe.
Maar ons voer geen verlore stryd nie, ons is nie onseker oor die uitkoms nie. Nee, op Golgota is die beslissende veldslag gelewer. Daar het ons aanvoerder ons tot ‘n onverwagse oorwinning gelei, selfs al het sy dissipels eenkant, ver weg gestaan en hulle Meester as ‘n sterwende beskou. Ons aanvoerder is die Oorwinnaar, ons stry onder die vaandel van Hom wat bekleed is met ‘n kleed wat in bloed gedoop is, die bloed van die kruis, en sy Naam is: Die Woord van God! Daardie Woord verkondig ons, daardie Woord glo ons!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 113
Wetslesing & 1 Joh. 1:8-2:2
Sing Ps. 124
Gebed
Lees: Mattheus 27:32-56
Sing Skr. 6:6 & 7
Teks: Mattheus 27:50-52
Preek:
• Na punt 1 – Ps. 43:3 en 4
• Amenlied – Skr. 8:1 en 2
Gebed
Geloofsbelydenis (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 138:3 en 4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)