Matthéüs 27:53
Ds HH van Alten - Paassondag 16 April 2006
Lees: Matt. 27:50-56, 1 Kor. 15:20-24
Sing: Sien liturgie
Tema: Die opgestane heiliges versterk die boodskap van Christus se opstanding
1. Hulle rangorde
2. Hulle taak
3. Hulle toekoms
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Op Goeie Vrydag het ons met mekaar die dood van ons Here Jesus Christus gedenk. Vanuit Matt. 27:50-52 was dit duidelik dat Christus se dood nie die einde was nie. God self het immers die bewyse gegee dat sy Seun die oorwinning behaal het; dat, alhoewel Hy gesterf het, Hy nie deur die dood verslind is nie. Meer nog, Hy het die dood verslind en die toegang tot die Vader weer oopgemaak het.
Tussen die verskillende evangeliste vind ons, in die vertelling van die gebeure ná Jesus se sterwe, groot variasies. Ons vind hier sekerlik die grootste aantal variasies binne die kortste tydsbestek binne die vier evangelies. So byvoorbeeld praat Lukas van twee engele by die graf, terwyl Markus slegs van een vertel. ‘n Ander voorbeeld: Mattheus vertel van Maria Magdalena en die ander Maria wat eerste by die graf gekom het, Markus noem daarby ook nog Salomé, en Johannes praat weer slegs van Maria Magdalena.
Hierdie verskille beteken egter nog nie dat die vier evangelies nie met mekaar versoen kan word nie. En gemeente, laat u daarom nie oorweldig deur argumente van Skrifkritici wat meen dat die evangelies, vanweë hierdie verskille, hul betroubaarheid verloor het nie.
Daar is baie goeie redes vir hierdie variasies. Een van die belangrikste redes vir die variasies is die feit dat ons op die paasoggend ‘n baie groot aantal mense vind wat betrokke is by die gebeurtenisse – ‘n mens kry dus vertellinge vanuit verskillende gesigspunte, verskillende perspektiewe – die een beklemtoon hierdie feit, die ander weer iets anders.
En daarby kom ook nog dat dit almal mense is wat redelik deurmekaar en verward was ná die dood van hul Meester. Wanneer ons, ten spyte van hierdie verwarring en vrees, in die vier evangelies tog één gladde verhaal sou gevind het, dan sou dit ook onnatuurlik gewees het. Nee, ons vind hier nie ‘n verhaal wat agterna deur al die evangeliste saam gladgestryk is nie, maar ons vind hier die eerstehandse getuienis van mense wat deur die emosionele gebeurtenisse van die laaste paar dae oorrompel is. Elke evangelis het sy eie bronne gebruik, mense wat naby aan die gebeure was, en elkeen van hierdie bronne vertel spontaan hoe hy of sy die gebeure op daardie oomblik opgemerk en ervaar het.
Uit die verskillende weergawes van die vier evangeliste kan ons die volgende gebeure op ‘n rytjie sit:
1. Jesus is deur Josef van Arimatea, met behulp van Nikodemus, met speserye versorg en in doeke toegebind, en daarna in ‘n nuwe graf neergelê;
2. nadat hierdie twee manne vertrek het, vorm ‘n aantal vroue ‘n wag by die graf; dit is op die aand van Goeie Vrydag;
3. ‘n derde gebeurtenis is die Jode wat op die sabbat wagte voor die graf laat plaas het;
4. vervolgens vind ons op die eerste dag van die week die aarbewing;
5. dit word gevolg deur die vroue wat aankom om die lyk met speserye en salf te versorg; hier word hulle met die engele en die leë graf gekonfronteer;
6. vervolgens vlug hulle en bring berig aan die dissipels wat oral en nêrens verstrooi was;
7 dan kom Petrus en Johannes en vind die graf leeg, soos wat die vroue vertel het;
8. en uiteindelik volg die verskillende verskynings van Jesus aan sy dissipels
Tot op daardie stadium kon die dissipels dit nog nie glo dat Jesus uit die dood opgestaan het nie. Hulle hou ook nie regtig vas aan sy woorde aan hulle toe Hy nog geleef het nie, naamlik dat die Seun van die mens oorgelewer moes word in die hande van mense, moes sterwe, en ná drie dae sou opstaan. Eers met Jesus se verskynings begin die realiteit insink: Jesus het waarlik opgestaan. Maar ook nie onmiddellik nie; nee, tot ses verskynings is nodig om al twaalf dissipels daarvan te oortuig dat hul Heiland leef.
Maar, broers en susters, Jesus Christus is nie die enigste wat in daardie gebeurtenisvolle naweek uit die dood opgestaan het nie. Op Goeie Vrydag het ons al gesien dat daar ontslape heiliges was wat opgestaan het, nadat hulle grafte deur ‘n aardbewing oopgegaan het. En op hierdie Paassondag wil ons let op die opstanding van ons Here Jesus in die lig van die opstanding van hierdie heiliges.
Tema: Die opgestane heiliges versterk die boodskap van Christus se opstanding
1. Hulle rangorde
2. Hulle taak
3. Hulle toekoms
1. Die aarde het gebewe, die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan. Dit het gebeur op Goeie Vrydag – so lees ons in Matt. 27:52. Maar dan lees ons in vers 53: “En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan…” Ná sy opstanding – wat het hulle dan in die tussentyd gedoen? Wat het hulle tussen Goeie Vrydag en Paassondag gedoen? Het hulle hul êrens skuilgehou? Miskien in Getsemane?
Gemeente, dit is belangrik hoe ons na hierdie opgestane heiliges kyk. Daar staan naamlik in vers 53 dat hulle “aan baie verskyn” het. Dit is ‘n besondere werkwoord, wat nie dui op ‘n toevallige ontmoeting nie. Dit is nie maar so dat hierdie opgestane heiliges toevallig bekendes in die straat teëgekom het nie. Nee, hulle het in die stad gegaan en aan baie “verskyn” – dit wys daarop dat hulle onsigbaar was en hulle nie aan almal vertoon het nie; slegs vir sekeres het hulle tevoorskyn gekom. Klink dit vreemd? Wel, so was dit tog met Jesus ook? Skielik het Jesus Hom aan mense vertoon of weer uit hulle midde verdwyn (Luk. 24:36. Matt. 28:9, Mk. 16:14, Joh. 20:26). Hierdie opgestane heiliges kan dus nie vergelyk word met Lasarus en die dogtertjie van Jairus nie, want hulle het nie in die gewone lewe teruggekeer nie. Hierdie opgestane heiliges het liggaamlik een of ander hoër lewe betree.
Dus, ter beantwoording van die vraag: waar het hulle hulself tussen Goeie Vrydag en Paassondag bevind?, kan ons in elk geval sê dat hulle hul nie in ons sterflike bestaan, wat beperk is tot die sigbare, opgehou het nie. Hulle het ook nie later weer tot die sterflike bestaan teruggekeer nie; hulle het dus nie weer gesterf en is ook nie weer begrawe nie.
Maar hoekom het hulle dan eers ná Jesus se opstanding verskyn? Hulle het dan al op Goeie Vrydag opgestaan, hoekom nou eers hul verskyning maak? Broers en susters, hierdie opgestane heiliges het gewag; gewag vir Hom in wie se krag hulle opgestaan het. Hulle het miskien voor Jesus Christus uit die dood opgestaan, maar Hy bly die eersteling. Soos Paulus in 1 Kor. 15:20 sê: Christus is die eersteling van dié wat ontslaap het. Kom ons kyk nader vanuit 1 Kor. 15 wat dit beteken.
In die gedeelte voor vers 20 het Paulus die mening bestry van sommige in die gemeente van Korinthe wat gemeen het dat Christus nie uit die dood opgestaan het nie. Met ‘n aantal hipotetiese stellings hou Paulus aan die gemeente die konsekwensies van hierdie denkwyse voor: As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; en as ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. En meerdere van sulke stellings.
Maar in vers 20 hou Paulus op met die negatiewe en stel die waarheid van die evangelie in positiewe terme: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode.” Paulus gebruik hier ‘n werkwoordsvorm wat daarop dui dat iets in die verlede gebeur het, maar dat die gevolge van hierdie aksie steeds deurwerk. Dus, Christus het in die verlede, amper 2000 jaar gelede opgestaan, maar hierdie opstanding het konsekwensies vir die hede en die toekoms. En daarom kan Paulus byvoeg in vers 20: “Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.” – daar sal dus nog baie meer volg, sy opstanding sal bly deurwerk, sal bly effek hê.
Die eersteling was in die Ou Testament die eerste en beste deel van die oes wat aan die Here geoffer is; dit was simbool daarvan dat die hele oes aan die Here gewy is. Wanneer Christus dus die eersteling van die opstanding genoem word, dan beteken dit dat saam met Hom uiteindelik die hele oes, al die gelowiges uit die dood sal opstaan, Hy deur die krag van sy Godheid, hulle deur die krag van sy opstanding!
En gemeente, daarom dat die heiliges wat op Goeie Vrydag opgestaan het as bewys van Christus se oorwinning aan die kruis, nie na vore kom tot ná sy opstanding nie, want Hy is in rangorde die eerste. Hulle hou hulself op die agtergrond om aan Hom die eer te gee. Hy het immers opgestaan deur sy eie krag as God, hulle het opgestaan deur die krag van sy opstanding! Alleen deur sy krag is hulle opgewek! En, broers en susters, hulle is die bewys daarvan dat sy opstanding krag het, dat sy opstanding effek het. Aan hulle is dit sigbaar dat Christus werklik die eersteling, die beste deel van die oes is, want die res van die oes is al besig om binne te stroom, dié wat in orde ná Hom sou volg, is al besig om in te kom. Dus, die feit dat daar drie dae verloop het tussen hulle opstanding uit die grafte en hulle ingang in die stad is niks minder nie as eer en lof aan die Heer wat werklik opgestaan het, nie deur iemand anders se krag nie, maar in sy eie krag. Hy het mag om sy lewe af te lê, Hy het mag om dit ook weer te neem!
Gemeente, vir ons wat onsself in hierdie sterflike bestaan bevind, is dit so ‘n geweldige troos en aanmoediging. Die dood is ‘n realiteit in ons lewe, ons word elke dag daarmee gekonfronteer in ons land; en somtyds kom dit baie naby in ons gemeente, families en gesinne. Maar dan gee die Here ons in hierdie enkele verse in Mattheus die versekering dat die opstanding van sy Seun nie maar ‘n gelukskoot was nie, dat dit tog nie uiteindelik sal blyk dat die eersteling eintlik maar van swak kwaliteit was nie. Nee, Christus is opgewek uit die dode – dit is ‘n werkwoord met blywende gevolge, blywende effek. En die effek is oombliklik! - ontslape heiliges wat hul Heer gevolg het op die Paassondag! En daarom mag ons weet: ook ons sal eendag opstaan, ook my pa en ma, my man en vrou, my seun en dogter – almal wat in die Here gesterf het, sal opstaan in die krag van Christus, en in navolging van ons broers en susters daar in Jerusalem. Want die dood kan ons nie vashou nie; die dood en die doderyk sal eendag gedwing word om nie slegs enkeles nie, maar al sy dooies vry te laat, elkeen wat aan Christus behoort by sy koms. Broers en susters, die dood bly onnatuurlik, dit bly ‘n indringer in ons bestaan, maar ons lewe nie by die vrees vir die dood nie, maar ons lewe by die werklikheid van die opstanding uit die dood.
Ons let vervolgens op die taak van die ontslape heiliges.
2. Ons lees dat die opgestane heiliges ná Christus se opstanding uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn het. Met die heilige stad word verwys na Jerusalem, maar ons praat daaroor meer in die laaste punt. Hierdie opgestane heiliges het dus Jerusalem ingegaan en daar aan baie verskyn. Dít was God se opdrag aan hulle. U kan daarvan verseker wees dat hulle dit nie uit hulleself gedoen het nie, want daarin was vir hulle geen voordeel nie. Dit is nie voordelig om in die hemel te wees en dan weer na die aarde te moet kom nie. Kyk maar wat Samuel vir Saul gesê het toe dié hom deur die dodebesweerster van Endor laat oproep het: “Waarom verontrus jy my deur my te laat opkom?” Nee, hulle kom nie uit hulself nie, Gód stuur hulle om Christus wil, ter wille van Christus en die getuienis van sy opstanding kry hulle weer hul liggame, word hulle opgedra om Hom te gaan verkondig.
Hulle taak was dus om te preek, om te preek vir die baie aan wie hulle verskyn het. Hulle moet verkondig dat Christus werklik opgestaan het, dat die leuen wat versprei is, naamlik dat sy dissipels in die nag sy liggaam gestel het, nie waar is nie. Of hierdie getuies gepraat het, weet ons nie, maar ook al het hulle geen woord gesê nie, tog het hulle gepreek vir die inwoners van Jerusalem! En nie slegs vir die gelowiges nie; nee, ons kan aanneem dat hulle ook aan ongelowige Jode verskyn het, miskien selfs aan enkele van die lede van die Sanhedrin wat Jesus laat kruisig het.
En stel uself voor watter indruk dit moes gemaak het… Eers was daar die oop grafte op Goeie Vrydag, en uit sommige van hierdie oop grafte het die liggame ontbreek. Net uit sommige, nie uit almal nie. En dit moes die Jode getref het: die grafte wat leeg was, was grafte van volgelinge van Jesus. Maar ag, miskien het sy dissipels dieselfde gedoen as met hulle meester: hulle het ook sy gestorwe volgelinge uit die oop grafte kom haal.
Maar dan, skielik staan hierdie gestorwe volgelinge lewendig voor hulle, skielik moet hulle die getuienis hoor dat die verhale wat versprei word, leuens is, dat Jesus van Nasaret werklik uit die dood opgestaan het! Heelwat Jode het waarskynlik by hulself gedink: “Het ons nie ‘n fout gemaak nie? Was hierdie Jesus nie dalk tog die Seun van God, soos wat Hy beweer het nie?”
Gemeente, dáárvoor het God die prediking van die opgestane heiliges gegee – sodat die inwoners van Jerusalem kon nadink oor wat gebeur het, sodat hulle tot besinning kon kom, sodat hulle tot geloof kon kom. Daarom was hierdie prediking ‘n blyk van sy genade, ‘n blyk van sy ywer om die harte van sy volk te wen. Maar waar hierdie genade nie omhels en aangeneem word nie, word die genade tot oordeel. Dit is die tweesnydende swaard, waarvan die Woord praat.
Dus, tot genade en tot oordeel. Tot genade vir dié wat die Here Jesus so verskriklik liefgehad het, maar wat in hierdie tyd so verward was oor die dood van hul Meester. Tot oordeel vir dié daar in Jerusalem wat die oorwinning en opstanding van die Here Jesus nie wou glo nie, ten spyte van die lewende bewyse voor hul oë!
Tot genade en tot oordeel – ook vandag!
Tot genade vir elkeen vandag wat aan die Woord wil vashou, maar wat gebombardeer word met ketterye wat Jesus se opstanding loën. Gemeente, moenie daarna luister nie. Wat het ons aan ‘n dooie Christus? Niks nie! As Christus nie opgestaan het nie, laat ons dan maar eet en drink want môre sterf ons. As Hy nie opgestaan het nie, beteken sy dood niks nie. Maar Hy het opgestaan, laat ons die woordelose getuienis van hierdie heiliges vashou. Vashou tot die einde toe! En dit is nog nie die einde nie. Die blote feit dat hierdie heiliges nog na die aarde kon terugkeer, is die bewys dat die saligheid nog nie volkome is nie. En die siele onder die altaar, waarvan Openbaring 6 praat, roep daarom ook: “Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?” (Openb. 6:10). En aan hulle word dan gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moet rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees. “Hoe lank nog?!” Dit mag miskien lank voel, ons verlang miskien na die opstanding van die dooies, ons geloof in daardie opstanding word miskien sterk aangeval, maar – soos Petrus skryf in sy eerste brief (3:9) – die Here is nie besig om die belofte van Christus se wederkoms as DIE LEWENDE te vertraag soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” In sy genade gee God nog tyd sodat die getuienis van Christus se opstanding, ook die getuienis van die opgestane heiliges daar in die strate en huise van Jerusalem, die wêreld oor kan klink tot behoud van vele.
Maar die prediking van hierdie opgestane heiliges is ook vandag gegee tot oordeel. Tot oordeel vir dié wat sy opstanding loën. En ons kry vandag nie meer opgestane heiliges om aan ons te getuig nie, maar ons het die getuienis van die Gees, God se eie Woord. As ons dit nie glo nie, gaan geen opgestane dooie ons oortuig nie.
Broers en susters, dit was hierdie opgestane heiliges se taak om te preek, die opstanding van Christus uit die dood te verkondig. Laat ons hierdie getuienis vashou. Laat ons hierdie getuienis met geloofsmoed uitdra. Die Heer het waarlik opgestaan! Ons let ten slotte nog op die toekoms van hierdie ontslape heiliges.
3. Ek het gesê ons gaan nog terugkom na Jerusalem. Jerusalem word in Matt. 27:53 die “heilige stad” genoem. So noem Mattheus hierdie stad ook in hoofstuk 4:5. En dit is nie sonder rede nie. Ons moet naamlik onthou dat dooies, as onreines, nie in die stad gebring mog word nie; daardeur sou die stad ook onrein word.
Maar… was die stad nie al onrein nie? Was Jerusalem nie al vuil van ongehoorsaamheid en ongeloof nie? Sê Jesus dit nie self in Matt. 23:37 nie: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!” En dan spreek Hy uiteindelik die oordeel uit oor hierdie stad wat Hom uitgespoeg het: “Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerk en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:43-44).
Die gunstige tyd – is dit nie wat ons hier vind nie? God wat sy opgestane getuies stuur om die stad te oortuig van Christus se opstanding uit die dood? Is dit nie gunstig nie? Is dit nie ‘n blyk van sy genade nie? Nee, hierdie stad is nie heilig nie, maar hulle kry wel geheiligdes daarbinne, opgestane heiliges! Mense wat gereinig is deur die dood van Christus aan die kruis, hulle word gestuur deur die God wat ywer vir die hart van hierdie stad. Hy smag daarna om hierdie stad te heilig deur geloof in Jesus Christus, Hy wil so graag hê dat hierdie stad, wat Hy uitverkies het, geheiligde inwoners sal hê. Maar gemeente, daarvan het in die stad Jerusalem nie so baie tereg gekom nie. En uiteindelik word Jerusalem ook verwoes deur die Romeine in die jaar 70 na Christus.
Maar weet u wat, eendag sal hierdie opgestane heiliges weer verskyn. Eendag sal hulle weer die stad ingaan, die heilige stad, die nuwe Jerusalem, waarvan Johannes in Openbaring sê: “… ek … het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” Die nuwe Jerusalem, daar sal hierdie getuies weer wees. Nie as voorskot, soos in Matt. 27 nie. Nie om te getuig van Christus se opstanding nie. Nie om te preek uit genade en tot oordeel nie.
Maar in die nuwe Jerusalem sal hulle wees saam met al die miljoene gelowiges, die ontelbare skare van geheiligdes! Daar sal hulle wees saam met jou en my. Dan val die betekenis wat hulle hier in Matt. 27 gehad het, weg; dan is hulle een van vele. Dan kry ons ‘n nuwe taak – hulle saam met ons – naamlik om die lof te besing van Jesus Christus! Want Hy is die een en alles, Hy het die sleutels van die dood en die graf. Hy is die eersteling van die dié wat ontslaap het!
Gemeente, Hy is ons getroue Getuie, die eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde!
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 148:1, 2 en 4
Wetslesing
Sing Ps. 85:3 & 4
Gebed
Lees: Matt. 27:50-56, 1 Kor. 15:20-24
Sing Ps. 16:1, 3 en 5
Teks: Matt. 27:53
Preek
Amenlied Ps. 9:6, 8, 9 en 10
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 39:1, 4 en 5
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 148:1, 2 en 4
Gebed
Lees: Matt. 27:50-56, 1 Kor. 15:20-24
Sing Ps. 16:1, 3 en 5
Teks: Matt. 27:53
Preek
Amenlied Ps. 9:6, 8, 9 en 10
Gebed
Belydenis van geloof
Sing Ps. 9:7
Kollekte
Slotsang
Skr. 39:1, 4 en 5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)