Die uiteindelike doel van ons lewe is die heiliging van God se Naam

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-04-30
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 47
Verwysing: 
HK 47-0
Preek Inhoud: 

Sondag 47

Ds HH van Alten - Sondag 30 April 2006

Lees: Joh. 17, HK Sondag 47
Sing: Sien liturgie

Tema: Die uiteindelike doel van ons lewe is die heiliging van God se Naam
    Ons let op:
            1. God heilig sy eie Naam
            2. God se Naam word ‘n skuilplek vir alle gelowiges
            3. God wil Homself in ons heilig

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het in Sondag 46 gesien hoe ons ons God mag en moet aanspreek: Onse Vader wat in die hemele is. Dit is hoe ons ons gebed begin. Nou volg die ses bedes van die Onse Vader, ses bedes waarvan die eerste drie gerig is op die verheerliking van God, en die tweede drie gerig is op ons behoeftes.

Onder hierdie ses bedes neem die bede om die heiliging van God se Naam die eerste plek in, want hierdie bede is uiteindelik die doel van alle ander bedes. In alle ander bedes vra ons iets met die oog op die heiliging van God se Naam. Dus, die kern, die hoogtepunt van ons gebed vind ons al reg hier aan die begin; dadelik by die eerste bede al bereik ons gebed sy piek. Kyk maar na die volgende bedes: laat u Koninkryk kom. Hoekom? Sodat u Naam geheilig kan word. En daarna: laat u wil geskied. Hoekom? Sodat u Naam geheilig kan word. En vervolgens: gee ons vandag ons daaglikse brood. Hoekom? Sodat ons die krag mag kry om u Naam te heilig. En gaan maar deur al die bedes – al hierdie bedes vra om gebid te word, sodat God se Naam geheilig kan word. Broers en susters, dit is uiteindelik die doel waarop nie slegs ons gebede nie, maar al ons dade, gedagtes en woorde gerig behoort te wees, dit is uiteindelik die doel van ons lewe, naamlik: die heiliging van God se Naam!  

Dit is ‘n groot uitspraak. Maar wat beteken dit presies: “Laat u Naam geheilig word”?

  • Om mee te begin: wat bedoel ons met God se Naam? Met God se Naam word enersyds na God self verwys, soos duidelik blyk uit Psalm 5:12. Daar lees ons: “… laat in U juig die wat u Naam liefhet.” U Naam – dit is duidelik dat dit hier oor God self gaan, Hóm het ons immers lief. Andersyds verwys God se Naam ook na sy eienskappe en na sy werke. Kyk maar na Exodus 34:14: “… jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers – ‘n jaloerse God is Hy.” Goddelike jaloesie is dus ‘n eienskap van God en dit kom ook uit in sy optrede, in sy werke. Dus, wanneer ons God se Naam heilig, dan heilig ons Hom self en alles waarvoor Hy staan en wat Hy gedoen het.
  • Maar wat beteken dit dan om sy Naam te heilig? Dit beteken dat God afgesonder word van, ja meer nog: uitgelig word bo alle afgode en ander onrein dinge, en dat Hy erken, geprys en grootgemaak sal word vir Wie Hy is, en wat Hy gedoen het. En hoe mooier as in die woorde van Romeine 11:33-36: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.” Dit is heiliging: om uit te sonder as volkome uniek, volkome ondeurgrondelik, volkome heerlik.

En as ons dít nou saamvoeg (dus, enersyds wat sy Naam beteken, en andersyds wat dit inhou om daardie Naam te heilig), dan verstaan ons waarom hierdie bede voorop staan in die Onse Vader. Laat u Naam geheilig word – dit is eenvoudig om aan God alle eer en lof te gee vir Wie Hy is en vir wat Hy gedoen het! En waarmee ons gebed begin, daarmee eindig dit ook: “Laat u Naam geheilig word.” Hoekom? “Want aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in ewigheid.” God word uitgesonder as die Een wat alle lof verdien!  

En dit is tog die hoogste doel van ons gebed? Dit is tog die hoogste doel van ons lewe? Of nie? Of is ons geloof in God dalk ‘n egoïstiese geloof wat slegs daarop uit is om te kyk wat ek daaruit kan haal? Miskien is die hoogste doel van ons lewe en geloof dalk om eendag in die hemel te kan kom? Miskien het ons ook verval in ‘n tipe verbruikersgeloof. Dink daaroor… Hoekom lewe u? Hoekom glo u?

Gemeente, wanneer Christus hierdie bede (laat u Naam geheilig word) as eerste op ons lippe lê, dan wys Hy vir ons wat die doel is van elke bede, elke daad, elke woord en elke gedagte van u as gelowige. Ons lewe om te loof! Of, in die uitbundige woorde van die Kategismus: “Gee dat ons … U heilig, roem en prys in al u werke, waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter!”  

Tema: Die uiteindelike doel van ons lewe is die heiliging van God se Naam.
    Ons let op:
            1. God heilig sy eie Naam
            2. God se Naam word ‘n skuilplek vir alle gelowiges
            3. God wil Homself in ons heilig

1. Broers en susters, wanneer ons hierdie bede bid, dan bestaan die gevaar baie gou dat die béde ‘n ópdrag word. “Laat u Naam geheilig word” – dit word baie gou: u en ek moet God se Naam gaan heilig. Maar dit is nie wat ons bid nie; dit is ook nie hoekom ons bid nie. In die gebed is ons nie op ‘n verskuilde manier besig om aan mekaar opdragte te gee nie. Die gebed hier in die gemeente mag ook nooit ‘n middel in die hand van die predikant word om nog ‘n laaste keer die gemeente te vermaan en tot aksie op te roep nie. Nee, ons gebede is gesprekke met God – in ons persoonlike gebede praat ons met God, loof ons Hom, vertel ons Hom van ons moeite en vreugde; en in die gemeentelike gebede verwoord die predikant die gemeente se lof op die Here, asook die sorge en vreugdes van die lidmate.  

Wanneer ons daarom die eerste bede bid, dan is dit werklik ‘n bede, ‘n oproep gerig aan die Here: “Laat u Naam geheilig word, sorg U daarvoor dat u Naam alle eer en lof kry.” Broers en susters, ons is hooplik deurdronge van die besef dat die Here daardie lof verdien – kyk maar na wat Hy gedoen het: Hy het alle dinge volmaak geskape, Hy het die waters met die holte van sy hand afgemeet, Hy het van die hemele met ‘n span die maat geneem, Hy het in ‘n weegtoestel die berge en die heuwels geweeg (lees maar Jesaja 40), Hy het ‘n volk uitverkies, Hy het daardie volk gedra en beskerm, Hy het sy Seun aan ‘n kruis laat spyker vir ons sondes, Hy gee ons sy Gees – Hy verdien die eer en die heerlikheid…!

Maar tegelykertyd besef ons ook dat ons vanuit onsself nie daardie lof na waarde kan bied nie; ons besef ons onwaardigheid om aan God die eer te gee wat Hom toekom. Soos dit so pragtig in Ps. 145:2 berym is: “Die HEER is groot, daar is geen sanggeluid wat ooit sy lof in volle waarde uit! Dit is ‘n see waar niemand in kan meet, dit is ‘n vloed waar ons geen grond van weet.”

En daarom is die eerste bede nie in die eerste plek ‘n opdrag nie, maar ‘n opregte bede, ‘n eerlike roep tot die Here: “Wie beter as U self weet hoe heerlik u Naam is – verheerlik dan U self!”

En dit is presies wat Jesus doen in Johannes 17. Kom ons kyk daarna.  

Jesus het sopas sy laaste onderwys aan sy dissipels afgehandel (Johannes 14-16), en nou volg in hoofstuk 17 sy afskeidsgebed. In hierdie gebed lê Hy sy lewenswerk voor aan die Vader wat Hom gestuur het, en beveel Hy sy leerlinge by die Vader aan, vir dié tyd wanneer Hy nie meer daar is nie. Jesus bid hier hardop in die teenwoordigheid van sy dissipels.

En dan is die eerste ding wat Hy vra: “… verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik…” Gemeente, is dít nou nie verhoring van ons gebed nie? Is God nie hier presies besig om te doen wat ons van Hom gevra het nie?

Vader en Seun – altwee God – gee aan mekaar die eer. Die Seun doen dit op die aarde – kyk maar vers 4: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” En die Vader doen dit in die hemel – kyk vers 5: “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.” God verheerlik God! God wat mens geword het, verheerlik God in die hemel, en God in die hemel verheerlik God wat mens geword het. God verheerlik Homself! Hy gee aan Homself die eer wat Hom toekom!  

En gemeente, dit doen Hy sonder ons mense, Hy het ons daarby nie nodig nie. Ons, mense, ken nie heerlikheid aan die Naam van God toe nie, daardie Naam is heerlikheid.

Maar meer nog, Hy doen dit nie slegs sonder ons nie, maar ook ten spyte van ons. Van die kant van die mens word die Naam van God slegs gevloek en gelaster. Maar desondanks, ten spyte daarvan, verheerlik God sy Naam.  

Maar miskien vra u: Wat het dit met my te make? Maak dit tog konkreet vir my lewe… En, gemeente, dán kom ons by die groot misterie van God se liefde. Want behalwe die feit dat Hy sonder en ten spyte van ons sy Naam heilig en verheerlik, doen Hy dit bo alles ter wille van ons. God heilig sy eie Naam vir ons. Kyk maar: 1) die Seun verheerlik die Vader op die aarde. Hoe? Deur sy opdrag te voltooi, kyk maar vers 4: “Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” Watter werk was dit: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar.” Christus verheerlik die Vader deur sondige mense by die Vader te bring en by Hom te bewaar. 2) En die Vader verheerlik die Seun. Hoe? Deur Hom, nadat Hy uit die dood opgestaan het, hemelse heerlikheid te gee, daardie heerlikheid wat Hy alreeds gehad het voordat die aarde geskape is (vers 5)!

Die Seun verheerlik die Vader, die Vader verheerlik die Seun, sodat elkeen wat glo gered mag word.  

Verstaan u gemeente, die bede om die heiliging van God se Naam is ‘n roep om verlossing. Wanneer God ons gebede verhoor en self sy eie Naam heilig, dit verheerlik, wanneer Hy Homself bewys as die Naam bo elke naam, dan beteken dit redding vir elkeen wat glo, dan mag elkeen wat in daardie Naam glo, deel in sy heerlikheid, dan word daardie Naam ‘n skuilplek vir elke gelowige.

Daarop let ons nou in die tweede plek: God se Naam word ‘n skuilplek vir alle gelowiges.  

2. Wanneer God, in antwoord op ons bede, sy eie Naam verheerlik, dan doen Hy dit ook ter wille van ons, juis ter wille van ons, dan word daardie Naam vir ons ‘n veilige skuilplek.

En daarvoor bid Christus ook in Johannes 17. Vanaf vers 9 beywer Hy Homself vir sy volgelinge, die dissipels; hierdie mense het God aan Hom toevertrou, en dit is vir Jesus ‘n groot geskenk. Die Meester voel geëerd met hierdie geskenk van God. En terwyl Hy op aarde was, het Hy hierdie geskenk, hierdie mense wat God aan Hom toevertrou het, mooi opgepas. Hy is immers die Goeie Herder, wat oor sy kudde waak om te voorkom dat daar skape wegraak of afdwaal. Daar was natuurlik een uitsondering – Judas, die seun van die verderf. Dit was egter nie as gevolg van Jesus se swak bewaring nie, maar sodat die Skrif vervul sou word (kyk maar verse 12-13).

Maar Jesus bly nie by sy leerlinge nie; nee, Hy gaan terug na die Vader. Hy moet sy dissipels loslaat, en daarom dra Hy hulle op aan die sorg van die Vader. Noudat Hy besig is om Homself van hierdie wêreld los te maak en na die Vader terug te keer, bly hulle agter. En hulle sal gekonfronteer word met ‘n agressiewe wêreld wat hulle sal haat. Jesus het dit net hiervoor in hoofstuk 15:19-20 ook duidelik gesê: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle… As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg.”  

En daarom, omdat Jesus nou na die Vader terugkeer en sy volgelinge op ‘n vyandige aarde agterbly, daarom bid Hy in vers 11: “Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het.” Jesus roep die heiligheid van God se Naam in om aan die dissipels veiligheid te bied; God se heilige Naam bied veiligheid vir dié wat by Hom skuil. Op Christus se versoek word God se Naam ‘n bolwerk van bewaring, ‘n vlugtelingsentrum te midde van ‘n vyandige wêreld. Soos die spreukedigter sê in hoofstuk 18:10: “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” Na hierdie Naam mag sy dissipels vlug – na God se Naam, daardie heerlike Naam, wat vertel van Wie God is en van watter wonderdade Hy verrig het.  

Broers en susters, meer as ooit leef ons vandag in ‘n vyandige wêreld. Nee, ons word nie meer op brandstapels verbrand vir ons geloof nie, ons word nie meer voor die wilde diere gegooi nie, maar subtiel en baie gevaarlik laat die satan, daardie brullende leeu, sy woede en sy haat vandag uitvloei oor die kinders van die Here. Ons is nie van hierdie wêreld nie, ons wil nie van hierdie wêreld wees nie, maar daarom haat die wêreld ons, daarom vervolg hulle ons om op allerhande maniere ons geloof te ondermyn. Kyk maar om u heen: die waarheid word verdraai, kerkgrense vervaag, die egtheid van God se Woord moet onderdoen vir my emosies en gevoelens, en kerklike tug word ‘n onding in ‘n wêreld waar elkeen sy eie mening mag hê. Onophoudelik soek die satan ons, begeer hy om ons siele gevange te neem met sy duiwelse verleidinge. Gemeente, sien die gevare waarin u leef! Jongmense, wees bewus van alles wat jou van die Here kan aftrek!  

Maar dan gee Christus hier in Johannes 17 vir ons so ‘n ongelooflike troos. Ons het ‘n skuilplek, ons het ‘n plek waarheen ons kan vlug, ons het ‘n plek waar ons veilig is: die heerlike Naam van die Drie-enige God! Vind skuiling in daardie Naam!

Maar wat beteken dit: skuiling soek in die Naam van God? Dit beteken dat u uself veilig en geborge weet by God teen alle aanslae van die satan en die wêreld. Maar daarvoor moet u God ken – soos die Kategismus sê: “Gee allereers dat ons U reg ken…” U moet dus weet waarvoor daardie Naam staan! U moet weet Wie God is, wat Hy gedoen het. Dit is nie genoeg om ‘n gevoel van veiligheid te hê nie – u moet dit weet vir ‘n feit! Gaan lees daarom die feite, gaan slaan die geskiedenis na, die geskiedenis waarvan in God se Woord vertel word, kom hoor die feite elke sondag hier in die erediens. Gemeente, hier in die kerk word die Naam van God aangebied as ‘n sterk toring waarheen u mag vlug. Onder die verkondiging, hier in die gemeente, is u veilig, vind u geborgenheid by die God wat liefde is en liefde gee, by Hom wat nie ons dood soek nie, maar ons lewe, by Hom wat in Jesus Christus ons Vader geword het, en ons mag dit oor twee weke weer sien en proe aan die nagmaal.   

En wanneer ek in daardie Naam veiligheid vind, dan ontdek ek dat ek nie die enigste is nie. Nee, die gemeenskaplike vlugteling-sentrum van God se heilige en veilige Naam skep in hierdie wêreld ‘n hegte gemeenskap, dit skep die kerk!

En Jesus bid dit in vers 11 vir sy dissipels, naamlik dat die heilige Vader hulle sal bewaar in sy Naam, sodat hulle een kan wees net soos die Vader en die Seun een is. Jesus se dissipels sal hoe langer hoe meer tot ‘n eenheid gesmee word wanneer hulle hul toevlug in God se beskermende Naam soek. En dit geld nie slegs vir die dissipels nie, want in verse 20-23 bid Jesus dat nie slegs die dissipels een sal wees nie, maar almal wat in sy Naam glo. Eenheid vir die kerk in die Naam van God.

En daarom, gemeente, wanneer ons gereeld in ons gebede op sondae bid vir eenheid in die kerk, dan bid ons nie vir eenheid op grond van historiese bande of volksbande nie, maar dan bid ons vir eenheid in die Naam van Hom by wie alle gelowiges skuil. Daarheen vlug ons, daar ontmoet ons mekaar, daar word ons onlosmaaklik aan mekaar verbind. Dit is wat ons hier in die gemeente saambind, u en ek soek skuiling in die heilige Naam van God. Kyk om u heen: mede-vlugtelinge…

Wanneer ons daarom bid: “Laat u Naam geheilig word”, dan bid ons tegelyk vir die kerk wat danksy daardie Naam bestaan, dan bid ons vir die eenheid van almal wat in daardie Naam glo.

Ons let ten slotte nog daarop dat God Homself in ons wil heilig.  

3. Hierdie vlugtelingsentrum, waarvan ons sopas gepraat het, is egter nie ‘n ongeorganiseerde spulletjie waar elkeen maar kan kom en gaan soos wat hy wil nie. Onthou, hierdie vlugtelingsentrum is God se Naam (God self), en daardie Naam is heilig, en daarom moet elkeen wat hierheen vlug, ook geheilig word.

Gemeente, dit is hoe die geloof werk – God vat ons soos wat ons is, ons hoef nie eers te verander voordat ons by sy Naam kom skuil nie, maar Hy laat ons nooit soos wat ons is nie. Die vader in die gelykenis omhels sy seun soos wat hy daar in al sy armoede aangekom het, maar dan laat hy hom nie met sy vodde rondloop nie; nee, hy beveel sy dienknegte: “Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ‘n ring vir sy hand en skoene vir sy voete” (Luk. 15). Net so gaan dit met ons ook – as die mees afskuwelike sondaars vlug ons na God toe, maar dan maak Hy van ons nuwe mense.   

En dit is presies wat Jesus bid in vers 17 van Johannes 17: “Heilig hulle in u waarheid…” Dus, maak van hulle nuwe mense. Maar, interessant, net daarna in vers 19 sê Hy: “En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.” Dus, terwyl Christus dit van die Vader bid, is dit tog Hyself wat dit doen.

Maar wat bedoel Jesus presies wanneer Hy sê dat Hy Homself heilig ter wille van sy kinders? Gemeente, dit gaan hier oor Christus se volkome toewyding aan God, ‘n toewyding wat Hom sy lewe aan die kruis gekos het. Deur daardie toewyding, daardie heiliging, bewerk Jesus vir al sy kinders die heiliging wat nodig is om in die Naam van die God, waar hulle skuiling gesoek het, te kan lewe. ‘n Pragtige boodskap: Jesus Christus maak ons heilig!

En met hierdie boodskap stuur Hy sy dissipels die wêreld in, soos Hy in vers 18 sê: “Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.” Die dissipels mag daardie boodskap, daardie woord van waarheid gaan verkondig.  

En gemeente, oral waar daardie woord van waarheid verkondig en geglo word, daar vind heiliging plaas. Want elke keer wanneer die Woord verkondig en deur u geglo word, wil God u heilig, wil Hy van u ‘n nuwe mens maak. God wil ons, wat by Hom kom skuil omdat sy Naam heerlik is, sodanig verander, dat ons al hoe meer begin om sy Naam te verheerlik. God wil al hoe meer die lof uit ons monde hoor, Hy wil al hoe meer die lof ontvang!

Wanneer ons dus bid: “Laat u Naam geheilig word”, dan vra ons God se verheerliking van sy eie Naam, maar dan vra ons ook: “Kom werk in ons, kom maak van ons die mense wat ons veronderstel was om te wees, kom heilig ons, sodat U deur ons geheilig kan word!”  

En gemeente, die heiliging, die verheerliking van God se Naam vra van ons dieselfde toewyding as wat ons by Christus gesien het. Ons sterf nie soos Christus aan die kruis nie – dit het Hy reeds vir ons gedoen – maar dieselfde lewensoorgawe, dieselfde toewyding wat Christus se lewe gekenmerk het, mag en moet nou ook in ons lewens sigbaar word. Christus het sy hele lewe aan God toegewy, ter wille van ons. En nou vra God van ons daardie selfde toewyding, Hy vra – volgens die tweede deel van antwoord 122 – ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke…

Elke aspek van u lewe moet daarop gerig wees om God se Naam te verheerlik – in u gesin, u werk, u ontspanning, in alles moet ons God se eer soek. In elke aspek van ons kerklike lewe moet ons daarna smag om God te prys. En laat dit nie so wees dat ons lewens rede aan die wêreld en die ongelowiges gee om God se Naam te laster nie. Nee, laat ons waarmaak wat Psalm 115:1 sê: “Nie aan ons, o troue God, aan u Naam alleen gee eer”. En soos Psalm 71:8 sê: “My mond is vol van u lof, die hele dag van u roem.”

Dit is ons roeping, die lof op God. Nie om iets daaruit te haal nie, nie om dalk ‘n winskopie los te slaan nie, maar omdat ons reeds alles gekry het. Ons het die Naam gekry wat alle heerlikheid in Homself het, ons het die Naam bo elke naam gekry om in te skuil, om nuwe lewensvolheid te vind – laat daardie Naam deur ons, die kerk, die vlugtelingsentrum van God, geëer en geprys word. Laat Christus eendag van hierdie gemeente en elke lidmaat kan sê wat Hy sê in Joh. 17:11: “Ek is in hulle verheerlik!”

Amen

Liturgie (oggend) 

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 71:9, 10 en 14
Wetslesing
Sing Ps. 17:1-3
Gebed
Lees: Johannes 17
Teks: HK, Sondag 47
Preek
Amenlied Ps. 145:1, 2, 3, 5 en 12
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 35
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)