Die erfsonde: elkeen is in sonde ontvang en gebore

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-04-30
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 15
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 15

Ds C Kleyn - Sondag 30 April 2006

Lees: Levitikus 12; Romeine 5:12-21;
Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 15.
Sing: Ps 28:6-8; Ps 51:1-3; Ps 130:1,2 (2de
beryming); Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 130:3,4 (2de beryming).

Tema: Die erfsonde: elkeen is in sonde ontvang en
gebore

  1. Is dit werklik waar?
  2. Hoe kom dit daar?
  3. Hoe kom ek daarvan af?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons belydenis noem die erfsonde ’n oorgeërfde gebrek
waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is.
Elkeen is daarmee besmet. Elkeen word daarmee gebore. Toe ek
gebore is, was ek reeds sondig, verdorwe. Ja, nog eerder, ek was
dit reeds in die moederskoot, vanaf die eerste oomblik van my
bestaan. Ek was vanaf my eerste oomblik nie net sondig nie, maar
ook skuldig. Ons belydenis sê daarvan dat dit so afskuwelik en
gruwelik voor God is dat dit rede genoeg is om die menslike
geslag te verdoem. God reken die verdorwenheid toe as skuld,
sodat selfs die ongebore kindertjies van nature skuldig teenoor
God staan, aan God se oordeel onderworpe is. Tot in die wortel
van my bestaan is ek sondig en skuldig. Dis wat erfsonde
impliseer.

Kom ons kyk nou na die tema: die erfsonde: elkeen is in sonde
ontvang en gebore

Ons werk met drie vrae

  1. Is dit werklik waar?
  2. Hoe kom dit daar?
  3. Hoe kom ek daarvan af?

Kan jy dit voorstel? ’n Ongebore baba reeds sondig en
skuldig? So ’n kindjie het tog nog niks verkeerds gedoen nie?
Ja so ’n ongebore kindjie kan tog nie eers verkeerd doen nie?
En as die kindjie gebore word, word dit nie onskuldig gebore nie?
Hoe kyk jy na die pasgebore baba in die wieg? As sondig en
skuldig? As daar iemand onskuldig lyk, dan wel daardie teer en
lief kindjie in die wieg. Lyk dit nie belaglik om van so ’n
babatjie te sê dat hy heeltemal verdorwe en skuldig is nie? As
so ’n kind ouer word en slegte dinge begin doen, dan kan ons
voorstel dat jy van sonde en skuld praat? Maar daarvoor, reeds in
die moederskoot? ’n Mens kan dit moeilik indink. Moet ons
nie met Pelagius saamstem dat ’n kind blanko gebore word nie,
soos ’n onbeskrewe vel papier. ’n Mens kan daardie vel
papier met goeie letters vol skryf, dan kry jy ’n goeie kind
maar as jy daardie papier met slegte letters vol skryf dan kry jy
’n slegte kind. Die kind leer mos van sy ouers en opvoeders,
goed en kwaad. Die sonde ontstaan dan deur navolging van die
slegte voorbeelde. ’n Kind wat onskuldig gebore is, kies dan
self vir die kwaad wat hy sien of hoor. En so gaan dit maar aan
in ons versiekte samelewing. Kon jy die kinders maar in ’n
beskermde omgewing grootbring sonder enige blootstelling aan die
sonde. Is dit nie ’n meer aanneemlike verklaring van die
sonde en verdorwenheid wat ons in ons menslike samelewing ontdek
nie?

Gemeente, ons kan hierdie verklaring verstaan. Dit lyk
aanneemlik, wanneer jy dink aan die kinders wat nog in die
moederskoot is en wanneer jy kyk in die wieg van ’n
pasgebore baba.

Maar wie bepaal of die erfsonde werklik waar is? My sondige
hart? My verblinde verstand? My gevoel? Moet ons daarvoor nie by
God wees nie, God wat lig is, God die volmaakte Skepper en
Verlosser van ons lewe? Ek kan die vraag: “Is die erfsonde
werklik waar?” net na waarheid beantwoord as ek na God
luister, as ek my buig onder die gesag van sy woord. Wat sê God
dan vir ons?

Ons het saam Levitikus 12 gelees. Daarin word sekere bepalings
aangaande ma’s wat geboorte geskenk het aangeteken. ’n
Ma het ’n kindjie in die wêreld gebring. Soos ons ma’s
ons in die wêreld gebring het. Na die geboorte van ’n seun
was die ma 40 dae onrein. Tydens dié dae mog sy niks wat heilig
was, aanraak nie. Sy mog nie die heiligdom binnegaan nie. Die
publieke erediens, die kerkdienste, was dus vir haar verbode,
totdat die dae van reiniging verby was. Eers na die 40 dae van
reiniging was die ban opgehef en was sy weer welkom in die
erediens. Na die geboorte van ’n dogtertjie was die periode
selfs 80 dae. Om weer toegang tot die tempel te kry moes sy eers
’n reinigingsoffer bring: ’n jaaroud lam as brandoffer
en ’n jong duif of tortelduif as sondoffer. As sy ’n
lam nie kon bekostig nie, dan mog die brandoffer ook ’n duif
in plaas van ’n lam wees. Sy moes die offer by die ingang
van die tent van samekoms bring. Die priester sou dit dan in
ontvangs neem en vir haar offer. Daarna was die ma weer rein
verklaar en het sy weer vrye toegang tot die heiligdom gehad.

Gemeente, waarom hierdie streng voorskrifte vir die ma’s?
Ons hoef regtig nie te soek na ’n mediese verklaring nie,
asof die voorgeskrewe tydperk vir die herstel van die ma nodig
sou wees. Wie sal kan beweer dat ’n vrou na die geboorte van
’n dogter twee maal so lank vir herstel nodig het as na die
geboorte van ’n seun?! Hierdie verskil laat sien dat God die
wet nie oor gesondheidsredes ingestel het nie.

Waarom dan die tyd van onreinheid en die offer van reiniging
daarna? Was dit miskien minderwaardig of selfs sleg vir ’n
vrou om ’n kind te baar, dat sy daarvoor moes boet door
middel van ’n afsondering van 40 of 80 dae? Was dit so
’n ernstige sonde dat sy daarvoor ’n sondoffer moes
bring? As ons lees hoe die Bybel oor die huwelik en die
kinderseën praat, dan weet ons van beter. Die huwelik, die
seksuele omgang binne die huwelik, en die kry van kinders word in
die Bybel juis gewaardeer as skone gawes van God. Dit is nie
minderwaardig, sleg of sondig nie, nie iets waarvoor jy jou moet
skaam nie. Inteendeel!

Waarom dan die onreinheid van die ma 40 dae lank na die
geboorte van ’n seun? Gemeente, hier sien ons God besig as
ons leermeester. God wil sy volk van die erns van die sonde bewus
maak. Die sonde waarin elke mens, dus ook waarin jy en ek, gebore
is. Hierdie voorskrifte met betrekking tot die ma dien as ’n
baie indringende prediking van die erfsonde. Die leer van die
erfsonde was vir die Israeliete nie ’n abstrakte en vae
leerstuk soos dit dikwels onder ons die geval is nie. Wie dink by
die geboorte van ’n lief babatjie nog werklik aan die
erfsonde? Die Jode is voortdurend daaraan herinner. Geen ma wat
pas geboorte geskenk het, kon toegang tot die tempel verkry
voordat die dae van haar reiniging verby was en sy ’n
reinigingsoffer gebring het nie. Dit is veelseggend. By elke
geboorte, by elke wieg was daar die herinnering aan die sonde.
God sê: jy mag nie voor My verskyn nie, want die vloek van die
sonde is weer op die nuwe geslag oorgedra. Ons hoor Job sug: Ag,
kon maar ’n reine voortkom uit ’n onreine – nie
een nie."(14:4). Die bron van die lewe is deur die sonde
verdorwe. Na die sondeval kan jy as man en vrou slegs die vloek
en die dood aan jou kinders oordra. Elke kind wat aan jou verbind
is, is ’n kind van die dood, in sonde ontvang en gebore. Bo
die kraambed en bo die wieg hang die vloek.

Broers en susters, julle word elke keer weer daaraan herinner
wanneer ’n baba gedoop word. Die doopsformulier en die
sakrament self herinner ons daaraan dat ons kinders vuil, onrein,
sondig is, ja selfs aan die ewige oordeel onderworpe is. Hierdie
woorde is hard en skerp. Dit moet ons diep tref. Van nature is
ons kinders aan die verdoemenis onderworpe, kandidate vir die hel.

Om dit duidelik te maak is die ma in dit Ou Testament onrein
verklaar. Sy het ’n kind voortgebring wat aan die ewige
oordeel onderworpe is. Daarom die reiniging 40 dae lank by
’n seun en 80 dae lank by ’n dogter. ’n Droewige
saak. ’n Herinnering aan die voortgaande vloek. ’n
Vloek oor ma en kind.

Letterlik praat Lev 12 slegs oor die ma. Sy word onrein
verklaar. As die dae van haar reiniging verby is, moet sy die
offer bring. Tog is die kind ook by die reiniging van sy ma
betrokke. Sy moet die offer bring vanweë haar kind. Bowendien is
in daardie periode ma en kind een. Hulle bly bymekaar. Die kind
kan nie sonder sy ma, wat hom steeds weer voed, nie. Daarom gaan
die ma nie sonder haar kind na die tempel nie en die kind nie
sonder sy ma nie. Maar dit beteken dat die onreinheid van die ma
ook die weg van die kind na die tempel blokkeer. Die kind kry
alleen saam met sy ma toegang tot die tempel door middel van die
reinigingsoffer.

Dawid het die taal hiervan verstaan toe hy uitgeroep het:
“Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my
moeder my ontvang” (Ps 51:7). Let daarop hoe Dawid in
daardie Psalm hierdie verwysing na die erfsonde gebruik. Dawid
kla homself aan. Hy het ’n afskuwelike misdaad begaan. Maar
hierdie sonde staan nie alleen nie en kan ook nie verklaar word
omdat hy ’n verkeerde voorbeeld gevolg het nie. Dawid gaan
in sy gedagtes terug na sy vroeëre jare, sy jeug, tot by sy
geboorte en nog verder terug, tot waar sy lewe begin het. En
reeds daar ontdek hy die sonde. Wanneer hy daaroor nadink, roep
hy uit: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde
het my moeder my ontvang”. Dawid weet dat hy in die diepste
wortel van sy bestaan verdorwe is. Hy maak daaruit nie die
gevolgtrekking dat hy geen skuld aan dit alles het nie – hy
is nou eenmaal so gebore. Is dit nie hoe mense vandag dikwels hul
verlede hanteer nie, om hulleself vry te pleit. Ek is nou eenmaal
so, ek het nou eenmaal so groot geword, of sulke slegte ervarings
in my jeug gehad. Dawid verwys na sy geboorte en jeug juis met
die teenoorgestelde doel. Hy sien daarin nie ’n verskoning
nie, maar juis ’n verswaring van sy skuld. Die verlede maak
sy situasie juis baie erger, omdat sy ongeregtigheid alreeds
dateer van voor sy geboorte. Hy vind nêrens in sy lewe ’n
ongeskonde gedeelte nie. Dawid aanvaar sy aangebore sonde as
skuld voor God. Want as hy uitroep: “en delg uit al my
ongeregtighede” (Ps.51:11), dan bedoel hy daaronder ook die
ongeregtigheid waarin hy gebore is.

Gemeente, hierdie erfsonde blyk die wortel te wees waaruit
allerlei soorte sondes ontstaan. Dis soos ’n giftige fontein
waaruit die sonde aanhoudend opborrel. So kom Dawid van die sonde
wat hy daadwerklik gedoen het uit by die sonde waarin hy gebore
is, die erfsonde. Tot in die wortel van my bestaan is ek verdorwe.
So praat die Here daarvan.

So sien ons dat die erfsonde werklik waar is. Maar hoe kom die
erfsonde daar? Dis die tweede gedagte.

Ons belydenis verwys na Adam: “Ons glo dat die erfsonde
deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag
uitgebrei het.” Ons kan aanvaar dat Adam gesondig het. Maar
hoe kan God dan elkeen van ons aanspreeklik hou vir Adam se
oortreding? Kan ons dit help dat Adam gesondig het? Kan die
ongebore kindertjies daarvoor aanspreeklik gehou word en daarom
skuldig gereken word?

Mense het geprobeer om ons band met Adam in sy sonde en skuld
op verskillende maniere te verklaar. Eers is daar die sogenaamde
realistiese verklaring. Volgens hierdie verklaring het ons
inderdaad vóór ons geboorte self gesondig. Om dit te
verduidelik, verwys mense na Hebreërs 7:1-10. Daar word die
geskiedenis van Gen 14 aangehaal. Daar lees ons dat Abraham
’n tiende van die buit wat hy op die vyande behaal het, aan
Melgisedek gegee het. Hieruit konkludeer Hebr 7 dat die Leviete
feitelik deur Abraham die tiendes gegee het. “En, om so te
sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee;
want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisedek hom
tegemoetgegaan het.” Die realistiese verklaring verklaar ons
betrokkenheid by die sondeval dan so: soos die Leviete Melgisedek
tiendes betaal het deur in Abraham se lendene aanwesig te wees (ook
al is hulle eers jare late gebore) so was ons in die lendene van
Adam aanwesig toe hy gesondig het. So het ons deelgeneem aan Adam
se ongehoorsaamheid.

Dan is daar nog ’n verklaring wat die bondgenootskaplike
verklaring genoem word. Volgens hierdie verklaring was Adam die
hoof van die menslike geslag. Wat hy gedoen het is bepalend vir
die hele mensdom, die hele menslike geslag volg hom daarin na.
Dit kan vergelyk word met ’n koning wat ‘n
oorlogsverklaring aflê. Daardeur is nie net die koning nie, maar
ook sy hele volk in staat van oorlog. So sou Adam dan namens ons
as verbondshoof opgetree het, en daardeur sou elkeen van ons as
deel van die menslike geslag daarin betrek wees.

Nie een verklaring bevredig volledig nie. Nie een beantwoord
alle vrae oor hoe ek aanspreeklik kan gehou word vir ’n daad
wat gebeur het voordat ek gebore was. Ons moet eenvoudig glo wat
die Bybel sê oor die sterk verbindingslyn tussen Adam en ons. En
dat die Here daarin volkome regverdig is. Ons artikel verklaar
nie hoe nie, maar bely wel dat Adam se oortreding ons raak.

Broers en susters, wat ons erfskuld noem in verband met Adam,
is uniek. Ons kan dit nie heeltemal gelyk stel aan skuld dra van
wat ons ouers of voorouers verkeerd gedoen het nie. Ons
verhouding met en tot Adam is volkome uniek. In Rom 5:12 raak
Paulus ’n sensitiewe saak aan. Hy sê dat deur een mens die
sonde in die wêreld ingekom het, en so ook die dood, omdat almal
gesondig het. Albei is waar: Die sonde is aan Adam verbind, maar
val nie buite ons verantwoordelikheid as sondaars nie. Adam het
geval, maar ons kan ons nie verontskuldig nie. Alle sonde wat die
mensdom nog sou opbou in die toekoms, is in Adam se val inbegrepe.
God sien die mensdom in sy totaliteit. Ons doen nie net sonde nie,
ons is sondig en skuldig.

Rom 5 benadruk juis die eenheid van die mensdom. God behandel
ons nie as los individue nie, maar as deel van die ou of nuwe
mensheid. Terwyl Adam die hoof of verteenwoordiger van die ou
mensheid is, is Christus die hoof of verteenwoordiger van die
nuwe mensheid. Die ongehoorsaamheid of gehoorsaamheid van die een
werk deur in diegene wat aan hulle behoort. Aan die een kant die
daar die deurwerking van die sonde. Deur een mens het die sonde
en so ook die dood in die wêreld ingekom. Deur een misdaad het
dit vir alle mense tot veroordeling gekom. Deur die
ongehoorsaamheid van die een mens is baie tot sondaars gestel, of
word baie tot sondaars gereken. Aan die ander kant lees ons: Deur
die genade van die een mens Jesus Christus, het die genade van
God vir baie oorvloedig geword. Deur die gehoorsaamheid van die
Een sal baie tot regverdiges gestel word.

So kom ons uit by die derde gedagte: Hoe kom ons van die
erfsonde af? Dit sal reeds duidelik wees dat dit net deur Jesus
Christus moontlik is. Daar is uitsig, daar waar die sonde en die
dood heers.

Kom ons gaan weer terug na Levitikus 12. Die reinigingsoffer
het nie slegs van sonde gespreek nie, maar ook van versoening. So
dikwels as daar in die voorhof ’n duif geoffer was, is daar
gewys op die bloed van Jesus Christus, die lam van God wat die
sonde van die wêreld wegneem (Joh.1:29). Die ma was weer rein
verklaar. Sy het weer toegang tot die huis van God gekry op grond
van die bloed van Jesus Christus, wat eenmaal op die kruis sou
vloei. So was die wet ’n tugmeester na Christus toe. Die
mense moes opkyk na Hom wat werklik sou verlos van die sonde, ook
van die erfsonde.

Gemeente, agter elke Christelike huwelik, agter elke
Christelike geboorte staan Jesus Christus. Hy versprei sy lig oor
die kraam-sale, oor die babawiegies. Wat ’n ryke troos vir
ons as ouers. Ja, Hy versprei sy lig oor ons hele lewe, in voor
en teenspoed, in sonde en stryd. Hy verlos van die vloek. Daarom
behoort ons kinders gedoop te wees. Hoewel hulle in sondes
ontvang en gebore is, is hulle nogtans in Christus geheilig.

In ons artikel word ook na die doop verwys. In die konteks is
hierdie verwysing verstaanbaar. Die erfsonde is die verdorwenheid
waarmee ons gebore word en die doop is altyd die vroegste
publieke bemoeienis van God met ons. Daarom ontstaan die vraag
watter invloed dit op die erfsonde het. Die Rooms-Katolieke kerk
beweer dat die doop inderdaad die verdorwenheid van die erfsonde
ophef. Daarteenoor bely ons dat die erfsonde nie deur die doop
“geheel en al” vernietig word nie.

Maar wat bedoel ons daarmee? Kan die doop dan die erfsonde ten
dele vernietig? Hier moet ons goed let op wat met die doop bedoel
word. Die doop is teken en seël van God se beloftes. In die doop
belowe God vir ons die vergewing van die sondes en die vernuwing
van ons lewe. Hierdie belofte maak God ook wáár in die lewe van
Sy kinders! Daarom is die teken en dit wat daarmee aangedui word,
baie nou aan mekaar verbind. Selfs so dat die doop soms die
afwassing van sondes self genoem word. Die afwassing van ons
sondes deur Christus se bloed en Gees. Wel, van die doop as
afwassing van sondes word gesê dat dit die erfsonde nie geheel
en al vernietig nie. God gryp wel in in my lewe deur Christus se
bloed en Gees, deur my sondes te vergewe en my lewe te vernuwe,
maar dit beteken nie dat die erfsonde hier en nou totaal opgehef
word nie. Ek is nog verre van volmaak. Die sonde bly tydens
hierdie lewe nog voortdurend opborrel. Selfs Paulus wat so
’n buitengewone bekering ervaar het, roep uit: “Ek,
ellendige mens!” (Rom. 7:24).

Die erfsonde bly dus nuwe sondes produseer soos ‘n
giftige fontein. Selfs die doop met die beloofde vernuwende krag
van die Gees, bring daarin geen drastiese veranderings nie. Dis
lyk ’n hopelose situasie. Maar hierdie skuldige
verdorwenheid word jou as kind van God ewenwel nie tot
verdoemenis toegereken nie, sê ons belydenis, maar deur sy
genade en barmhartigheid vergewe.

Wat is, broers en susters, dan die doel van die vergewing? Dat
ek onverskillig sou word? Dat ek “in die sonde gerus sou
slaap” met die gedagte dat die sondes tog nie toegereken
word nie? Die teenoorgestelde is waar. Die Psalmis sê:
“Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word.” (Ps.130:4).
Hy sê nie, dat die sonde nie so erg is nie omdat God dit tog
vergewe. Hierdie kwytskelding kos immers vir God die bloed van sy
Seun. Elke keer as God my sondes vergewe, moet ek dit in gedagte
hou, dat hierdie vergewing betaal is met die lyding en sterwe van
Jesus Christus. Daardeur besef ek hoe vreeslik die sonde vir God
is.

Die belydenis eindig met die woorde: “die besef van
hierdie verdorwenheid” laat die gelowiges dikwels “sug
in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te
word”. Met “hierdie liggaam” word my hele aardse
bestaan bedoel. My héle bestaan word voortdurend geraak deur die
mag van die dood. Vanweë die sonde. Die sonde trek my weg van
God en so ook van die egte lewe weg. Daarom sug Paulus: “Wie
sal my verlos van die liggaam van hierdie dood”. Is dit ook
hoe jy dit beleef? Ken jy daardie verlange?

Gemeente, die erfsonde blyk nog steeds ’n lewende en
verskriklike werklikheid te wees. ’n Bron van allerhande
sonde. Dit gaan terug op die sondeval. In en met Adam het ons
gesondig. En net deur Christus se bloed en Gees sal ek eendag
heeltemal daarvan bevry word.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)