God gee invulling aan Israel se dankbaarheid

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-05-07
Teks: 
Deuteronómium 8:10
Preek Inhoud: 

Deuteronómium 8:10

Ds HH van Alten - Sondag 7 Mei 2006 - Dankdag vir gewas en arbeid

Lees: Deut. 8, Matt. 3:13-4:4
Sing: Sien liturgie

Tema: God gee invulling aan Israel se dankbaarheid.
   
Ons let op sy:
            1. vaderlike lesse (vv. 1-6)
            2. onverdiende vrygewigheid (vv. 7-17)

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die meeste van ons het vandag ‘n vrug of ‘n paar vrugte saamgevat. Seuns en dogters, julle het miskien op julle eie ‘n vrug saamgebring en in die mandjies by die ingang gesit. En môre word dit deur die kinders van die Laerskool Johannes Calvyn na verskillende bejaarde-tehuise geneem om daar uit te deel. ‘n Pragtige gebaar! Maar, seuns en dogters, weet julle ook hoekom julle juis vandag ‘n vrug moes saamvat? Dis reg, dit is dankdag vandag.

Miskien onthou julle nog dat ons in November van verlede jaar biddag gehou het – dit was sê maar aan die begin van die landbouseisoen. Tydens hierdie biddag het ons die seën van die Here gevra oor die gesaaides en oor ons werk van elke dag – of dit nou werk op die lande was, of in die kantoor, of in die klaslokaal. Ons het daarin ons afhanklikheid van die Here bely vir die liggaamlike versorging. Want die Here ag Homself nie te hoog vir die liggaamlike versorging nie. Die Here maak nie, soos ons dikwels doen, ‘n skeiding tussen ons siel en ons liggaam nie. Nee, siel én liggaam is vir die Here belangrik. En wys die Here Jesus dit nie in Mattheus 9 nie? Vir die verlamde man voor Hom sê Hy eers: “Seun, hou goeie moed, jou sondes is jou vergewe.” En wanneer die skrifgeleerdes Hom dan van godslastering beskuldig, dan sê Hy: “Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sonde te vergewe – toe sê Hy vir die verlamde man: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.” Siel en liggaam! En dit is uiteindelik siel én liggaam wat by die wederkoms van die Here Jesus vervolmaak sal word. Ook jou liggaam is daarom vir die Here belangrik – dit is vir Hom belangrik wat jy eet en wat jy drink, wat jy aantrek en watter werk jy doen; dit is vir Hom belangrik dat jy jou werk geniet en dat jy lekker mag eet. En daarom het ons dit alles tydens die biddag aan die Here opgedra. 

En nou, broers en susters, staan ons ongeveer aan die einde van die landbouseisoen en wil ons die Here dank vir die oes en vir sy versorging van elke dag. Ons wil ons dankbaarheid aan die Here wys vir elke dag se kos, vir die werk wat ons mag hê en mag doen, en vir die liggaamlike versorging wat ons mag ontvang. En sulke dankdae is ‘n baie goeie gewoonte wat in die kerke ‘n plek gekry het. Só gou staan ons gereed om te bid vir dit of vir dat. Maar om daarna, wanneer ons gekry het waarvoor ons gebid het, ook weer te dank, is dikwels ‘n vergete hoofstuk. En selfs al gee die Here in sy wysheid nie waarvoor ons gevra het nie, dan nóg bly daar rede om te dank – vir alles wat ons wél mag hê. U sien, broers en susters, seuns en dogters, dankdag is geen oorbodige luukse nie, dankdag is die geleentheid om weer onder die indruk te kom van God se goeie sorg, elke dag, dankdag is ‘n geleentheid om weer invulling te gee aan ons dankbaarheid vir elke snytjie brood en vir elke rand en sent wat ons van die Here ontvang.

Ons wil vandag vanuit die boek Deuteronomium daarop let hoe die Here aan Israel se dankbaarheid invulling gegee het. Die tema vir die preek is dan ook: 

Tema: God gee invulling aan Israel se dankbaarheid. Ons let op sy:

  1. vaderlike lesse (vv. 1-6)
  2. onverdiende vrygewigheid (vv. 7-17)

Voordat ons verder gaan, eers kortliks ‘n inleiding op die boek Deuteronomium.

Deuteronomium is die laaste boek van die Pentateug; die Pentateug is die eerste vyf boeke van die Bybel, en die boeke waarvan Moses die outeur is. Met die boek Deuteronomium verkeer ons in daardie tyd van die geskiedenis waar Israel op die punt staan om die Beloofde Land binne te trek. Hierdie boek het dus sy ontstaan op ‘n baie strategiese punt van die heilsgeskiedenis.

En dit blyk ook uit die inhoud. Deuteronomium verplaas ons op die grens tussen twee wêrelde. Aan die een kant van die grens lê die slawehuis van Egipte en die dorre en droë woestyn, waaraan Moses die volk voortdurend in Deuteronomium herinner. En aan die ander kant lê Kanaan, ‘n land waarbinne Israel hom moet hou aan die wette van die Here om van die oorvloed van hierdie land te kan geniet. Verlede en toekoms kom op hierdie punt saam om die volk te deurdring van die besef hoe belangrik dit is om met hulle God te lewe. So lees ons in Deut. 6: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. En as die HERE jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met ‘n eed beloof het om jou te gee … neem jou dan in ag dat jy die HERE nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie. Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien.” (Deut. 6:4-7, 10, 12, 13). Baie belangrik wat hier vir Israel gesê word: dink aan hoe die Here met jou gehandel het in die verlede, en gaan lewe dan ook met Hom in die toekoms.

Gemeente, ons kan die boek Deuteronomium soos volg indeel: 1) die eerste vier hoofstukke is Moses se eerste toespraak – dit bevat ‘n historiese oorsig oor Israel se reis en ook ‘n oproep om die wet te onderhou; 2) in hoofstuk 5 vind ons die herhaling van die tien gebooie, soos ons dit ook in Exodus 20 vind; 3) vervolgens word elkeen van die tien gebooie uitgewerk in hoofstukke 6-26; ons teksgedeelte, hoofstuk 8, val binne die uitwerking van die eerste gebod: Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie;  4) hoofstukke 27-30 bevat die seën- en vloek-uitsprake; 5) en hoofstukke 31-34 bevat Moses se laaste woorde.

Nou terug na die tema van die preek. 

1. In verse 1-6 beveel Moses aan die Israeliete om binnekort, wanneer hulle in die beloofde land gekom het, nie te vergeet van die lesse wat die Here hulle tydens die woestyntyd geleer het nie. Moses herinner die volk aan die oefenskool van die woestyn. Hulle moet nie vergeet hoe die Here hulle in die woestyn verootmoedig het nie (ons vind die woord in vers 2, 3 en 16 – en dit beteken dat die Here hulle nederig en beskeie gemaak het; Hy het hulle klein voor Hom gemaak). En Hy het dit gedoen deur hulle veertig jaar lank in die woestyn te laat rondswerwe – stel uself voor: veertig jaar lank moet ons as gemeente in die karoo rondtrek… Dit  moes ‘n beproewing gewees het! En daarby het die Here hulle ook nog laat honger ly – kos was skaars in die woestyn, en dit is nie verniet dat die volk terugverlang het na die vleispotte van Egipte nie.  

Moses herinner die volk aan hierdie veertig moeilike jare, maar daarby wys hy ook dat dit nie verlore jare nie. Dáár, in die woestyn, het die volk lesse geleer wat rykdom hulle nie sou kon leer nie. In daardie jare was die Here vir sy volk soos ‘n Vader wat sy kinders, ter wille van hulle eie beswil, van tyd tot tyd moes dissiplineer. Gemeente, sommige lesse kan slegs in tye van moeite geleer word.   

En die groot les wat die Here sy volk wou leer, is wat ons vind aan die einde van vers 3, naamlik “dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan” (8:3).

En, broers en susters, u kan maar weet dat die Here begeer het dat sy volk moes lewe – Hy sê immers self in vers 1: “Al die gebooie wat Ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe…” Maar die volk moes leer dat “om te lewe” nie slegs beteken om te eet en te drink nie. En dit is so maklik om in so ‘n denkpatroon te verval – elke maand as die salaris weer binnekom, dan kan ons weer lewe; elke keer as ons die yskas weer van voorraad voorsien het, dan kan ons weer lewe. En so het die Israeliete waarskynlik ook gedink.  

En daarom dat die Here aan hulle manna gegee het om te eet. Manna – daardie voedsel waarvoor die volk later so siek en sat was dat hulle kon opgooi daarvan – maar dit was ook dié voedsel waardeur die volk afhanklikheid van die Here geleer het, want die manna het na die volk toe gekom het deur ‘n direkte bevel van die Here. So lees ons immers in Psalm 78:23-25: “En Hy het aan die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak; en Hy het manna op hulle laat reën om te eet en koring van die hemel aan hulle gegee. Mense het die brood van die engele geëet; Hy het hulle volop padkos gestuur.” Die volk moes leer dat hulle daaglikse voedsel, hulle porsie vir elke dag, slegs na hulle kom deur die Here se bevel, deur sy woord, en dat hulle daarom op Hóm moes vertrou! Want die manna het nie eers ‘n lang pad gestap vanaf die boer na die meelprodusent, en daarna na die bakker en uiteindelik na die winkel nie. Nee gemeente, die manna was so direk van die Gewer af, dat die volk nie anders kon nie as om te erken: God regeer, ons is van Hom afhanklik is, ons moet op Hom vertrou.  

Broers en susters, die Here se bevel, sy woord, is die hoogste oorsaak wat bepaal of en wat ons sal eet; die Here se bevel bepaal of ek vanmiddag ‘n heerlike maaltyd met my gesin sal geniet, die Here se woord bepaal watter verversings daar ná hierdie diens sal wees. En dáárom, broers en susters: ons lewe nie van brood alleen nie; nee, ons moet agter die brood terug gaan na elke woord wat uit die mond van die Here uitgaan. Dáárvan lewe ons! 

En dit is na hierdie uitspraak van Moses waarna die Here Jesus baie eeue later verwys het toe die satan Hom probeer verlei het. Die Here Jesus het sopas veertig dae en veertig nagte gevas (terloops, die ooreenstemming met die veertig jare in die woestyn is nie toevallig nie), en dan misbruik die satan die Here Jesus se honger om Hom te versoek: “As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.” As U die Seun van God is – die satan trek in twyfel wat sopas deur die Vader self gesê is by Jesus se doop in hoofstuk 3:17: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” Die satan se versoeking gaan nie oor klippe en brode nie; nee, satan versoek Jesus om die Vader se woorde in twyfel te trek. Maar Jesus weet dat die stem uit die hemel by sy doop absoluut waar en volkome betroubaar is: Hy is die Seun van God, en omdat Hy dit is kan Jesus ook volledig op die Vader vertrou om vir Hom te sorg. Jesus vat die Vader op sy woord, en daardeur weet Hy: Vader sal sorg! 

En dit is die les wat die Israeliete ook moes leer: vertrou op die Here wat belowe het om te sorg, wat gesê het dat Hy alles sal gee wat nodig is. Die mens se hele bestaan is afhanklik van God, van sy woord, sy bevel. Dit is wat die Israeliete moes leer uit daardie moeilike jare in die woestyn.

En dan wys die Here in Deut. 8:4 dat Hy ook sy woord hou: “Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie geswel nie.” Veertig jaar lank het die Here daarvoor gesorg dat die klere en skoene van die Israeliete ‘n ongewone duursaamheid behou het, en dat hulle voete as gevolg van die vermoeienis nie opgeswel het nie – ‘n teken van sy sorg, ‘n gevolg van sy bevel. “Erken dan in jou hart dat die HERE jou God jou onderrig soos ‘n man sy seun onderrig” (vers 5) – waardevolle lesse wat die Here sy volk geleer het. Hulle het op die punt gestaan om Kanaan binne te trek, hulle het uitgesien na die rykdom van die beloofde land, maar hulle moes nie vergeet nie dat die Here ook in die droë woestyn goed was vir hulle, vir hulle gesorg het.  

Gemeente, wanneer ons vandag dankdag vier, wanneer ons vandag aan die Here ons dankbaarheid wil bewys, laat ook ons dan nie vergeet om te reflekteer, terug te kyk na die tye van moeite en swaarkry in ons lewe nie, na daardie tye toe ons dalk elke sent moes omdraai. Laat ons die lesse wat die Here ons geleer het, nie vergeet nie. Laat dit ons klein maak, nederig. Want ons lewe nie in die eerste plek van brood en vleis en allerhande luukse artikels wat (ons moet dit erken) in hierdie gemeente oorvloedig aanwesig is, maar ons lewe van die woord van die Here, sy bevel, waardeur ons alles kry wat ons vandag het. Deur sy bevel word u salaris betaal, deur sy woord word die koskaste gevul: “Wat leef in water en op land, verwag hul spyse uit u hand. Ontsluit U dit, hul word verkwik; hou U dit toe, hul word verskrik” (Ps. 104:17, ber.).

Geliefde gemeente, lewe daarom bo alles van elke woord wat uit die mond van die Here uitgaan. Deur daardie woord word die ewige lewe ons toegesê – ons kon dit vanoggend sien by die doop van klein Dawid (“Ek wil vir jou ‘n God wees, jy mag my kind wees”), ons mag dit ook volgende week weer sien aan die nagmaalstafel (“Neem, eet…” en “Neem, drink almal daaruit…”). Maar broers en susters, deur daardie woord van die Here word ook die daaglikse lewe moontlik. Ons kry nie vandag meer manna nie, in ons wêreld loop produkte ‘n lang pad voordat dit uiteindelik op ons tafel beland, maar laat ons nie vergeet nie om die Here te erken, Hom ons dank te betoon, as die Een deur wie se woord ons mag eet en drink en werk.

Kom ons sing nou saam uit Ps. 78:1 en 9

Ons let nou in die tweede plek op God se onverdiende vrygewigheid.  

2. Die tweede helfte van Deuteronomium 8 teken vir ons ‘n geweldige kontras. Teenoor die droë woestyn is daar die goeie land, ‘n land van waterstrome (vers 7); teenoor die reis van veertig jaar sien ons dat die volk nou mooi huise mag bou en bewoon (vers 12); teenoor die honger in die woestyn gaan die volk nou ‘n land binne waarin hulle brood sonder skaarste sal eet, ‘n land waarin niks hulle sal ontbreek nie (vers 9). Dit is ‘n bewys van God se trou dat die volk na soveel jare van rondswerf in die woestyn (let wel: as gevolg van hulle eie sondigheid) tog deur die Here in die beloofde land gebring word.  

En watter pragtige land was dit nie. Moses teken die skoonheid van Kanaan in verse 7-10. Hy lê klem op drie aspekte van hierdie land: ten eerste wys hy op die klimaat van Kanaan. Terwyl Egipte uit woestyne bestaan, met slegs die Nyl wat vrugbaarheid verskaf, is Palestina danksy periodieke reën baie ryker aan water, ‘n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere. Ten tweede wys Moses op die opbrengs van die land. Hy noem koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate, asook olyfbome en heuning. En ten derde wys hy nog op die grondstowwe van Kanaan – yster en koper. Hierdie rykdom van Kanaan sal meebring dat die volk sal kan eet en versadig word, en die Here hulle God loof oor die goeie land wat Hy hulle gegee het (vers 10).  

Maar dan… die gevaar! Die groot gevaar dat God se genade uit die verlede vergeet word. In die afgelope veertig jaar het God sy volk uit Egipteland gelei, Hy het hulle deur ‘n groot en vreeslike woestyn gelei, deur giftige slange en skerpioene en ‘n dorsland sonder water, Hy het vir hulle gesorg deur water uit ‘n rots te gee en manne uit die hemel. En al hierdie tye van swaarkry was bedoel – so lees ons aan die einde van vers 16 – “om uiteindelik aan jou goed te doen.” Dus, die swaarkry was vir die beswil van die volk. Maar die gevaar is dat al hierdie blyke van God se genade vinnig uit die geheue verdwyn; wanneer ons deur die sake van elke dag besig gehou word, dan is dit so maklik om die genade van die verlede te vergeet. Moses waarsku Israel hier vir die gevaar dat die harte van die Israeliete nie meer nederig sal bly nie, dat hulle nie meer klein sal wees soos in die woestyn toe die Here aan hulle afhanklikheid van Hom geleer het nie, maar dat Israel hoogmoedig sal word, trots sal word: “My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe” (vers 17).  

Broers en susters, die aktualiteit van die Bybel is hier onmiskenbaar. Ons is nie die volk Israel wat op die punt staan om die beloofde land binne te trek nie, maar ons is wel gemeente van Christus, die ware Israel, wat deur sy verlossende werk die hemelse Kanaan mag beërwe. En watter rykdom gee die Here nie nou reeds aan ons nie, watter oorvloed ken ons nie nou al nie.

En dan praat ons nie vandag van die geestelike rykdom, die verlossing van die sonde en die uitsig op die ewige lewe nie, hoewel hierdie rykdom onontbeerlik is om ‘n goeie visie op alle aardse oorvloed te hê. Nee, ons praat vandag van die materiële welvaart in hierdie gemeente. Ons is waarskynlik die gemeente in die kerkverband met die grootste welvaart. Ons is waarskynlik die gemeente met die minste diakonale sorge. Ons het verlede jaar ‘n oorskot van oor die R100 000 op ons begroting gehad. Laat ons, soos Deut. 8:10 sê, die Here loof oor die goeie wat Hy ons gee! 

Maar waak dan ook vir die gevaar om Hom te vergeet. Waak vir die verleiding van die hoogmoed: kyk wat het ek opgebou, kyk wat het ons kontant gekoop – óns krag en die sterkte van óns hand het vir ons hierdie rykdom verwerwe. Nee, broers en susters, nie ons nie, maar die HERE! Laat ons daarom, in plaas daarvan om te roem in ons krag, met mekaar praat oor die Here wat die krag gegee het om so ‘n rykdom te verwerwe. Laat ons die Here lof en dank bring vir soveel oorvloed wat Hy ons, in trou aan sy beloftes, gegee het. Laat ons Hom dank vir die oes van die afgelope seisoen, vir die werk wat ons mag hê en kon doen, vir ons huise en ons goud en ons silwer.  

En hoe moet ons daardie dank bewys? Is die dankbaarheid ‘n gevoel wat ons hier binne ervaar? ‘n Emosie…? Nee broers en susters, gaan kyk na die Heidelbergse Kategismus, u belydenis. Die deel van die dankbaarheid begin in sondag 32. En vanaf hierdie sondagsafdeling tot aan die einde van die Kategismus word daar twee groot onderwerpe behandel: die wet en die gebed – die twee middele om aan God ons dank te bring. Die wet, die reël vir ons dankbaarheid, en die gebed, die vernaamste deel van die dankbaarheid.

Dank die Here, loof die Here, voortdurend in u gebede; elke dag weer vir elke dag se brood (daarom het ons die gewoonte om by elke maaltyd te bid en te dank); nooit vanselfsprekenheid nie, maar altyd erkenning van onverdienstelikheid. En leef dan ook ‘n lewe van dankbaarheid vanuit God se gebooie, waarvan Hy self in Deut. 8:1 sê: “Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig…” Deur op so ‘n manier ons dank te betuig hef ons die loflied van die skepping aan, die uitgang van die oggend en die aand wat juig, die heuwels wat in blydskap jubel, die kleinvee wat juigend veld toe gaan. Ja, alles jubel weer; dit sing en roem van alle kant, die goedheid van die HEER (Ps. 65).

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 65:2 & 3
Doopsbediening
Sing Ps. 105:5
Dankgebed en seën oor Woordverkondiging
Lees: Mattheus 3:13-4:4; Deuteronomium 8
Preek

  • Ná eerste punt – sing Ps. 78:1 & 9
  • Amenlied – sing Ps. 65:6-9

Wetslesing (as reël van die dankbaarheid)
Sing Ps. 1:1 & 2
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 36:2 & 3
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  
 
 
 
 

Liturgie: 

(kyk in preek)