Die HERE, Hy is God!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-05-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 50
Verwysing: 
HK 50-0
Preek Inhoud: 

Sondag 50

Ds HH van Alten - Sondag 28 Mei 2006

Lees:  1 Kon. 16:29-34; 1 Kon. 18; HK Sondag 50
Sing: Sien liturgie

Tema: Die HERE, Hy is God!

  1. Hy versorg sy kinders
  2. Hy bring sy volk tot erkenning
  3. Hy leer ons om ons vertroue op Hom alleen te stel

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het verlede week die eerste drie bedes, wat gerig was op God en sy heerlikheid, afgerond. Ons het gelet op die bede om die heiliging van sy Naam, wat uiteindelik die doel van ons lewe is. Ons het verder gekyk na die bede om die koms van sy Koninkryk, dus dat sy genadeheerskappy in hierdie wêreld en in ons eie lewens steeds meer sal toeneem. En ons het ook gekyk na die bede dat sy wil sal geskied, dit wil sê dat ons aan Christus verbonde sal wees, om van daaruit God se geopenbaarde wil uit te leef soos wat die engele in die hemel dit doen.

En nou kom ons by die tweede groep van drie bedes, wat gaan oor ons en ons nood: gee ons vandag ons daaglikse brood, vergewe ons sondes, lei ons nie in versoeking nie. Maar gemeente, nou moet ons baie versigtig wees. Hierdie twee groepe van drie bedes elk word naamlik baie gou twee aparte wêrelde waarvan die eerste God se wêreldjie is, en die tweede ons wêreldjie. En dan begin ons ons gebed deur vir God en sy sake te bid, net om daarna met ‘n hele rits van sorge, behoeftes en klagtes vanuit ons wêreldjie vorendag te kom.

Ons mag ‘n onderskeid maak tussen hierdie twee groepe van drie bedes elk, maar ons mag hulle nooit van mekaar skei nie. Hierdie twee groepe bly op mekaar betrokke, bly aan mekaar verbonde. Die bedes vir die heiliging van God se Naam, die koms van sy Koninkryk en die navolging van sy wil is nie iets vir ‘n ander eeu of ‘n ander wêreld nie; nee, dit is vir my, hier op aarde, waar ek my daaglikse brood verdien, hier waar ek so dikwels weer in sonde val, hier waar ek deur die Bose versoek word. En andersom: ons bedes vir ons daaglikse brood, en vergifnis van sondes, en verlossing van die Bose staan nie los van God se Naam en sy Koninkryk en sy wil nie. Inteendeel, ons bid hierdie dinge, juis sodat sy Naam geheilig word, sodat sy Koninkryk mag kom, en sodat sy wil kan geskied.

Die bedes wat gerig is op God en sy heerlikheid is dus betrokke op die bedes wat gerig is op ons en ons nood, net soos wat God betrokke is op die mens, en die mens betrokke is op God. Jy kan die twee nie van mekaar skei nie. Jy kan nie God van die mens af weghou deur hom in die hemel toe te sluit nie, want ons bely immers dat die aarde aan die Here behoort; en jy kan ook nie die mens van God af weghou nie, want “waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?” (Ps. 139:7) God en mens is op mekaar betrokke, ook wanneer dit kom by ons daaglikse brood.

Tema: Die HERE, Hy is God!

  1. Hy versorg sy kinders
  2. Hy bring sy volk tot erkenning
  3. Hy leer ons om ons vertroue op Hom alleen te stel

1. Broers en susters, vanuit 1 Konings weet ons dat Omri en sy seun Agab voor die Here gesondig het soos geen ander konings voor hulle in Israel gedoen het nie. Spesifiek Agab het uitgestaan. Ons lees in 1 Kon. 16:30: “En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat kwaad is in die oë van die HERE, meer as al sy voorgangers.” Maar, wat het hy dan gedoen? In die eerste plek het Agab Isebel as sy vrou geneem. Sy was die dogter van die koning van Tirus, Et-Baäl, wat deur moord die troon van Tirus bemeester het. Agab het sekerlik meer vroue gehad, maar Isebel word spesifiek genoem omdat sy die een was wat hom tot die baäldiens verlei het. Ons lees dat Agab vir die Baäl ‘n tempel laat bou en ‘n altaar opgerig het.

Hierin het hy verder gegaan as sy voorgangers: al sy voorgangers het naamlik Jahwe vereer; ja, wel op eiewillige wyse d.m.v. die beeldediens – en dit was sonde in die oë van die Here. Maar Agab gaan nog ‘n stap verder; Agab stel in die plek van die enigste ware God, Jahwe, ‘n totaal ander God, Baäl! En daarom lees ons in 1 Kon. 16:33 dat Agab meer gedoen het om die HERE, die God van Israel, te terg as al sy voorgangers.

En net om dit te bevestig word in vers 34 nog ‘n voorbeeld toegevoeg: al die jare het die volk ag gegee op die vloek wat die Here deur Josua uitgespreek het oor die man wat die mure van Jerigo sou herbou, en skaars is Agab aan bewind… of Jerigo word deur Hiël herbou, ten koste van sy oudste en sy jongste seuns. Ons kan aanneem dat Agab die dryfveer agter hierdie projek was…

En gemeente, dit is in hierdie goddelose omstandighede dat Elia, die profeet van die Here, moet optree. Hy moet die woord van die Here spreek in ‘n tyd toe dit donker geword het in Israel, toe die godsdiens van die volk ‘n duiwelse rigting ingeslaan het. En Elia word deur die Here na Agab gestuur met woorde van straf: “So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!” (1 Kon. 17:1) Gemeente, hierdie strafaankondiging moes Agab hard getref het – dit was nie slegs ‘n straf van een jaar nie, nee, verskeie jare lank sou daar droogte wees. En nie slegs sou die reën wegbly nie, maar ook sou daar nie dou wees nie. Die land word swaar deur die Here getref vanweë die afval en die ongehoorsaamheid.

Maar wat dan van die gelowiges? Wat dan van dié wat trou gebly het aan die Here, die kerk van daardie tyd? Moes hulle nou saam lei onder die straf wat die Here oor die land gebring het? Want ja, die hongersnood sou hulle ook tref… Laat die Here sy volk dan in die steek? Nee gemeente, artikel 27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis verwoord dit so pragtig: “… hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms ‘n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het – soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie voor Baäl gekniel het nie.”

Spesifiek hierdie tyd, waarin Elia moes optree, word deur die opsteller van die belydenis uitgesonder as ‘n baie gevaarlike tyd – en juis in hierdie tyd bewaar die Here sy kerk, ook liggaamlik. Hy gee hulle die krag om in die geloof te volhard, maar Hy gee hulle ook hul daaglikse brood. Broers en susters, ons staan verstom as ons in 1 Kon. 17 en 18 sien op watter wonderbaarlike wyse die Here in sy kinders se daaglikse onderhoud voorsien het. In hierdie hoofstukke vind ons direk na mekaar drie gevalle waarin God sy besondere sorg vir sy kinders bewys:

  • Eerstens is daar Elia self – hy moet ná sy strafaankondiging vlug en homself gaan wegsteek. Maar… die Here self voorsien die onderduikadres – die spruit Krit. Uit die spruit voorsien die Here aan Elia water om te drink, en elke oggend en aand kom daar kraaie aangevlieg wat hom van brood en vleis voorsien. Die Here gee aan Elia sy daaglikse brood, dit is: Hy versorg hom met alles wat vir die liggaam nodig is!
  • In die tweede plek word ons vertel van Elia en die weduwee van Sarfat. Ja, ook buite die grense van Israel sorg God vir sy kinders. Ons ken daardie pragtige stukkie geskiedenis van die weduwee se meel en olie wat, op die Here se woord, maar net nie minder geword het nie. En daardeur het die Here vir Elia gesorg, maar ook die weduwee en haar seun word daardeur van die hongerdood gespaar. Ook die weduwee en haar seun kry van die Here hul daaglikse brood, dit is: Hy versorg hulle met alles wat vir die liggaam nodig is!
  • En dan ‘n derde bewys van God se sorg… Op ‘n wonderbaarlike wyse het die Here daarvoor gesorg dat Obadja, wat die Here baie gevrees het, tog hoof van Agab se paleis gebly het. En hierdie Obadja word ‘n instrument in God se hand om honderd profete van die Here in ‘n spelonk weg te steek toe Isebel hulle wou uitroei. En daar versorg Obadja hulle met brood en water. Daar versorg die Here self hulle met brood en water. Hy gee aan hulle hul daaglikse brood, dit is: Hy versorg hulle met alles wat vir die liggaam nodig is!

Sien u gemeente, die Here sorg vir sy kinders, sy kerk. Ook liggaamlik! Dawid bely hierdie sorg van die Here in Psalm 37:25: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” En gemeente, omdat ons dít weet, dít bely, daarom kán ons ook bid, daarom moet ons ook bid – nie uit gewoonte nie, maar in volle afhanklikheid – : “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” In volle afhanklikheid, ook as die kaste vol is en die bankrekening sterk staan. Want ja, ons uiterlike omstandighede is anders as dié van Elia en die weduwee van Sarfat en die honderd profete van die Here, maar in wese het ons hierdie bede net so hard nodig soos elkeen van hulle. In wese het ons ook nodig dat die Here sy kraaie stuur om ons ontbyt en ons aandete te bring, in wese het ons ook nodig dat die Here ons oliekannetjie en ons meelpot vul, in wese het ons ook nodig dat die Here aan ons brood en water bring. Elkeen van God se kinders, dié wat diep in die skuld is en nie weet waar die volgende maaltyd vandaan gaan kom nie, maar ook die rykes wat in luuksheid lewe, elkeen is afhanklik van die eiehandige sorg van die Here, elkeen moet ons leer bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood.

In die tweede plek let ons ook daarop dat die HERE, wat God is, sy volk tot erkenning bring.

2. Ná drie en ‘n halwe jaar droogte in die land, stuur die Here weer vir Elia na Agab. Agab is die oorsaak van die droogte en hongersnood in die land, maar die Here wil graag sy volk daarvan verlos. En daarom Elia se voorstel om op die berg Karmel bymekaar te kom. Daar moet dan twee altare gebou word, een vir Baäl en een vir Jahwe. En dan moet die priesters van Baäl bid dat hy hulle offer aan die brand sal steek, en Elia sal bid dat die Here sy offer aan die brand sal steek.

Gemeente, dit is belangrik om daarop te let dat Elia, en deur hom die Here, hierdie byeenkoms baie fyn beplan het. Dit sien ons wanneer ons op die verskillende elemente let. Eerstens word hierdie byeenkoms gehou op die berg Karmel, in die tweede plek daag Elia die baälpriesters uit om vuur van die godheid af te verkry, en ten slotte gaan dit daaroor om die godheid te vind wat die langdurige droogte kan breek met reën. Alles spesialiteite van Baäl!

Baäl was immers die god wat op die berge sy woonplek gehad het – ‘n mens sou dus verwag dat hy daar op die hoë berg Karmel oppermagtig sou wees, dat geen ander god hom op sy eie terrein kan oorwin nie. Baäl is verder beskou as die god van vuur – hy sou dus die aangewese godheid wees om sy volgelinge se offer aan die brand te steek. En daarby was Baäl by uitstek die god van reën, storm en donderweer – dus, wie beter om die droogte te breek.

Broers en susters, die Here vat Baäl op sy tuisveld voor sy tuisskare aan, Hy spreek dié punte aan wat veronderstel is om Baäl se forté te wees: berge, vuur, reën. Op hierdie skynbaar ongelyke speelveld moet beslis word: wie is werklik God?

En dit sodat die volk kan ophou om aan twee kante mank te gaan – dit is letterlik wat in vers 21 staan: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes…”. Elia vergelyk die volk met iemand wat aan beide kant mank is, en wat daarom by elke tree heeltemal na die ander kant toe oorval – heeltemal na die linkerkant en heeltemal na die regterkant. So beweeg die volk heen en weer tussen twee onversoenbare gode. Jahwe en Baäl is onverenigbaar, en dit moet nou vir eens en vir altyd blyk wie werklik God is, sodat die volk kan kies: “As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!” Maar hou op om aan altwee te wil klou, soos wat dit julle pas… Hou op om volk van Jahwe te wil wees, maar as die reën wegbly te vlug na die reëngod…

Gemeente, ken ons nie hierdie gehinkery nie? Ons wil kinders van die Here wees, maar wanneer dit kom by ons daaglikse brood en en ons toekoms en ons pensioen, dan skielik is daar ander gode om te help: Absa en Sanlam en verskeie beleggingsfondse. Dan skielik belê ons ons vertroue êrens anders, dan skielik is die rente êrens ander baie beter. En bring hierdie afgode rus, bring dit sekuriteit? Wel, kyk maar net na die baälpriesters…

Vol selfvertroue begin hulle die naam van Baäl aanroep, hulle is vol moed dat hy die verwagte vuur sal gee. Hy is immers die god van die berge, hulle staan hier op die berg Karmel so te sê in sy sitkamer. En verder… hy is mos die God van die bliksem en die reën? So, as hy net vir ‘n oomblik sy stem laat bulder, dan sal die vuur en die reën neerval… hoe moeilik kan dit wees?

Maar helaas… Van die oggend tot die middag roep hulle Baäl aan: “o Baäl, gee ons antwoord”, maar niks gebeur nie. En naderhand begin Elia met hulle te spot: “Roep bietjie harder, hy is seker in gedagte, miskien is hy met vakansie, miskien slaap hy.” Maar wat die baälpriesters ook al doen, niks help nie. Selfs wanneer hulle hulself stukkend kerf tot die bloed uitspuit, dan nog bly dit doodstil van Baäl se kant af. En uiteindelik gee hulle moed op.

Broers en susters, oor die manier waarop Elia te werk gegaan het met sy offer, en die manier waarop die Here geantwoord het, sal ons in die laaste punt weer terugkom, maar hier kan ons slegs die feit vasstel: toe Elia gebid het, het die Here geantwoord… Ons lees in vers 38: “Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek” (vers 38). Die Here dwing sy volk deur sy almagtige optrede tot die erkenning: “Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God!” Die Here herstel deur sy optrede die mankement by sy volk, sodat hulle reguit kan loop, reguit agter Hóm aan. En gemeente, dít is wat die Here soek! Nie mense wat halfhartig agter Hom aan kom nie, nie mense wat louerig is nie, nie mense wat op twee gedagtes hink nie, maar mense wat wéét deur ervaring, maar meer nog – mense wat gló op grond van die Woord: dít is ons God!, mense wat erken: Hy is die enigste bron van alles wat goed, en al ons sorg en arbeid en al sy gawes kan ons niks baat sonder sy seën nie.

Gemeente, laat ons reguit agter ons Vader aanloop. Laat ons op Hom vertrou om na liggaam en siel alles te gee wat nodig is. Laat ons by elke snytjie brood, elke koppie tee, bely: “Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God” – en dan is Hy dit volledig, in alle opsigte. Dan is Hy dit nie slegs vir ons geestelike welstand nie, maar dan is Hy dit ook vir ons liggame, vir ons daaglikse brood, vir die reën uit die hemel.

Ons wil ten slotte nog daarop let dat die Here ons leer om ons vertroue op Hom alleen te stel.

3. Gemeente, Elia se optrede tydens hierdie dramatiese gebeure, is om die minste te sê: verstommend. Ná die poppespel deur die baälpriesters begin hy met ‘n paar opvallende handelinge. Eers herstel hy die altaar van die HERE – duidelik was daar dus ‘n altaar van die Here op die berg Karmel wat oor tyd heen verwaarloos geraak het en afgebreek is. Hiermee wys Elia dat die God wat hy nou gaan aanroep geen vreemde God is nie, maar dieselfde Een wat deur die eeue as die God van Israel aanbid is. En hy bevestig dit wanneer hy hierdie altaar herstel met twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders (vers 30-31). Nadat Elia die altaar herstel en die hout en offerdier in gereedheid gebring het, lees ons van ‘n volgende opvallende handeling. Asof sy posisie hier op Baäl se tuisveld nie alreeds benard genoeg was nie, laat hy ook nog twaalf kruike met water op die brandoffer en die hout uitgiet, sodat alles sopnat en deurweek is; hier is geen bedrog moontlik nie. En ten slotte gaan bid Elia, presies op die tyd dat normaalweg in die tempel die aandoffer gebring word. Hy handhaaf dus die orde van die erediens soos die Here dit self ingestel het. En sonder allerhande drama en toneelspel spreek hy dan in gebed tot die Here.

Gemeente, sien u die vertroue van Elia? En dit is geen vertroue wat hy in homself vind nie, nee, dit is vertroue in die God wat homself deur al die eeue van Israel se geskiedenis geopenbaar het. Die God van Abraham, Isak en Jakob – dié roep hy aan. Die God wat met die twaalf seuns van Jakob verder gegaan het as sy volk – daardie God se altaar herstel hy weer met twaalf stene. Die God wat ingestel het dat daar elke oggend en elke aand ‘n spysoffer moes wees – by dié God se instelling hou hy wanneer hy sy gebed juis op daardie tydstip tot die Here rig. Eenvoudige vertroue… Elia hoef niks buitengewoons te doen nie, hy hoef nie abnormale handelinge uit te voer nie, hy hoef nie sy liggaam tot bloedens toe stukkend te kerf nie. Nee, die Here sal gee wat nodig is, die Here sal voorsien, en daarom kan Elia in alle rus bid: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat U hulle harte tot U laat terugkeer.” Elia lê in alle vertroue hierdie hele saak voor die Here, laat Hy dit doen, laat Hy vir sy eie Naam en eer optree!

En ook daarna wanneer Elia van die Here reën verwag, dan weer gaan bid hy. Ons lees in vers 42 dat hy hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek het. Ook hier verwag hy weer alles van die Here, ook hier vertrou hy op die Here alleen!

Gemeente, dit is wat ons doen wanneer ons in geloof bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Ons trek ons vertroue van alle skepsele af en ons stel dit op God alleen. Ons maak onsself los van die houvas van finansiële sekuriteit en alles wat daarmee saamhang. Ons hoef nie in onrustigheid rond te hardloop en onsself te kasty nie, ons hoef onsself in ons daaglikse arbeid nie sodanig te dryf dat ons daaglikse brood daarvan afhang nie, ons hoef nie snags besorgd rond te rol omdat ons nie weet of ons genoeg gaan hê nie. Is dit simplisties? Nee gemeente, dit is vertroue op die Here. Selfs wanneer die water van die altaar afdrup, dan nog mag ons vertrou dat God die vuur sal verskaf. Selfs wanneer ons omring word deur baälpriesters, mense wat ons wil aftrek van die eenvoudige vertrou op God en ons vertroue êrens anders op wil fokus, dan nog mag ons sterk wees in ons Here. Ook al is ons hoe ryk, dan nog is ons bedelaars, wat met bakhande voor die Vader kom, en bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Amen

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 111:1-3
Gebed
Lees: 1 Konings 16:29-34, 1 Konings 18
Sing Ps. 127:1 en 2
Teks: HK, Sondag 50
Preek
Amenlied Ps. 37:15, 16, 23 en 25
Gebed
Belydenis van geloof
Sing Ps. 111:4 en 5
Kollekte
Slotsang Ps. 146:1-3, 5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)