Die Heilige Gees is die band van liefde wat my aan God verbind

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-05-28
Teks: 
Titus 3:4-7
Preek Inhoud: 

Titus 3:4-7

Ds HH van Alten - Sondag 28 Mei 2006

Lees: Tit. 2:11-3:11; Tit. 3:4-7
Sing: Sien liturgie

Tema: Die Heilige Gees is die band van liefde wat my aan God verbind. Hierin sien ons die Gees die volgende doen:

  1. Die Gees gee my wat Christus vir my verdien het
  2. Die Gees stel my as nuwe mens voor God
  3. Die Gees bly by my tot op die dag van God

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

‘n Sensitiewe onderwerp: die Heilige Gees. Ons jongmense kom gereeld daarmee in aanraking. Hulle vriende en vriendinne kom ná die naweek terug by die skool met verhale van pinksterdienste, mense wat letterlik omval en ander wat massaal begin lag deur die werking van die Gees. Ons kom in aanraking met mense wat vertel hoe ‘n familielid, wat graag rugby speel, en tydens ‘n wedstryd sy maagspier geskeur het, skielik sonder pyn in die lug kan spring en weer sy sport kan beoefen – ook deur die werk van die Gees. Ander het weer meegemaak dat tydens ‘n diens hele groepe mense in beswyming raak en onherkenbare klanke begin voortbring. Moeilike dinge om ‘n uitspraak oor te doen, maar tog spannend-aktueel! Wat sou ons belydenis hieroor sê…? Niks nie! Oor bogenoemde sake rep ons belydenis geen woord nie. Om die waarheid te sê, ons belydenisskrifte is oor die Heilige Gees opvallend kort. Die Kategismus byvoorbeeld, wy slegs ‘n enkele vraag en antwoord spesifiek aan die Gees, en artikel 11 van die NGB is een van die kortste artikels in hierdie belydenisgeskrif.

Maar wat is die rede hiervoor? Hoekom word daar in gereformeerde kringe nie altyd so uitgebreid en eksplisiet oor die Gees gepraat nie?

Dit is nie, en laat ons dit duidelik vir mekaar sê, omdat die Gees minder God sou wees as die Vader en die Seun nie. In die Geloofsbelydenis van Atanasius bely ons immers: “So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God; en tog is daar nie drie gode nie, maar een God. Net so is die Vader Here, die Seun Here, die Heilige Gees Here; en tog is daar nie drie heres nie, maar een Here. Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon afsonderlik God en Here te noem, word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode of heres te bely.” Hoewel ons dit nie ten volle begryp nie, bely ons dus op grond van wat die Skrif self leer dat Vader, Seun en Heilige Gees al drie volledig God is. Ook die Heilige Gees word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik (Mt. 28:19, 1 Kor. 13:13).

Maar tog bly die vraag: hoekom word daar in gereformeerde kringe so min op die Gees gefokus? Miskien word dit wanneer ons sien wat die spesifieke taak van die Gees is. Die Gees is naamlik die voltooier, die Een wat vol maak en afrond. Dit doen Hy binne die goddelike Drie-eenheid, maar dit doen Hy ook in die werk van skepping en verlossing. Kyk maar:

  • In die spesifieke werk van die Vader, naamlik die skepping en onderhouding van die wêreld is die Gees die Een wat met sy afrond-werk aan hierdie wêreld lewe en skoonheid gee: “U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut” (Ps. 104:30). En in Ex. 31 word Besaleël bekwaam gemaak om die tabernakel te kan bou, hy word met die Gees vervul, met wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid vir allerhande werk, om kunstige planne uit te dink – die tabernakel moet nie net gebou word nie, maar moet ook nog kunstig en mooi wees.
  • En in die spesifieke werk van die Seun, naamlik die verlossing van die wêreld en die mensdom, is dit die Gees wat die verlossende werk kom toepas en ons tot nuwe mense maak. Kyk maar na Esegiël 37 waar dit die Gees is wat in Esegiël se gesig die dal van beendere tot nuwe lewe wek (Es. 37:10).

Die Heilige Gees is dus die Voltooier en Afronder van die skeppende en verlossende werk van die Vader en die Seun. Hy werk nooit onafhanklik nie, maar altyd is Hy besig om die laaste hand te lê aan die werk van die Vader en die Seun. Hy doen nooit sy eie werk nie, maar altyd is Hy besig om die werk van die Vader en die Seun toe te pas. Hy plaas nooit die kollig op Homself nie, maar altyd plaas Hy die skynwerper op die Vader en die Seun, altyd soek Hy daarna om ons aan God te verbind. Dit is dan ook die tema vir die preek:

Tema: Die Heilige Gees is die band van liefde wat my aan God verbind. Hierin sien ons die Gees die volgende doen:

  1. Die Gees gee my wat Christus vir my verdien het
  2. Die Gees stel my as nuwe mens voor God
  3. Die Gees bly by my tot op die dag van God

1. Die Gees gee my wat ek in Christus het – hierin sien ons ‘n beweging vanaf God na die mens. Maar, kan die vraag wees, kom gemeenskap dan nie van twee kante af nie, is dit geen wedersydse verhouding nie? Hoor gemeente, die stem van die moderne mens met sy sug na selfontplooiing en eie verantwoordelikheid, die stem van my eie ek wat meen dat ek en God mekaar halfpad kan ontmoet.

 

Paulus praat ‘n ander taal in Titus 3: geen bondgenote wat mekaar halfpad ontmoet nie, maar die God van die Lig en elke sondige mens wat teenoor mekaar staan, hart teen hart. Kyk maar watter selfportret gee hy van elkeen van ons soos ons van nature is: onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot, boosheid en afguns en haat (vers 3) – pure duisternis. Halfpad ontmoet? Ons?!, wat sulke dinge nie net doen nie, maar tot in ons diepste wese so IS? Nee gemeente, laat die hedendaagse gees van selfontplooiing en persoonlike verantwoordelikheid ons nie aflei van die geheim van ons verlossing nie. Ons verlossing is ‘n eenrigtingstraat, en die rigting is nie opwaarts van die aarde na die hemel nie; nee, ons verlossing kom van bo-af. Lees maar Titus 3:5: Ons word nie gered op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na SY barmhartigheid het God ons gered.

 

Deur Jesus Christus… - sou ons dan verwag. Maar nee, Paulus voeg nie by wat ons verwag nie. Nie deur Jesus Christus nie, maar – lees ons – “deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees.” Maar hoe dan nou? Is Christus dan nie ons Verlosser nie, die een wat vir ons sondes gesterf en vir ons die nuwe lewe verwerf het?

Gemeente, die Woord van God leer ons hier iets waarvan ons belydenisgeskrifte ook deurtrek is, maar waarvan ons die belang dikwels nog so min besef, naamlik die TOEPASSING van die heil. Deur sy menswording, kruisdood, opstanding en hemelvaart het Christus alles vir ons VERWERF, alles VERDIEN, wat nodig is om weer mense van God te wees. Maar hierdie lyding, en ons sê dit met diepe eerbied, is ydel, nuttelose bloedvergieting, as dit nie ook deur die Gees op ons lewens toegepas word nie, as Hy nie met al sy mag hierdie verlossende werk ook op ons harte kom inbeitel nie. Wat help heerlike koel water as ons dit nie kan bereik om daarvan te drink nie? Wat help hout ons as ons nie die vuur het om dit mee aan te steek nie? Wat help ‘n lamp ons as ons nie die elektrisiteit het om lig te verskaf nie? En dit is nou presies wat die Heilige Gees kom doen. Hy voeg nie iets toe aan die werk van Christus nie – wat kan immers by hierdie volmaakte werk van ons Heiland gevoeg word, Hy wat Homself eenmaal geoffer het vir die sondes van die wêreld? Nee, die Gees kom pas daardie werk toe, Hy kom gee ons deel daaraan, Hy kom bewerk dat Christus se verdienste ons persoonlike besit word, dat daar ‘n onverbreekbare band ontstaan tussen my en Christus, die band van die geloof. Hy kom bewerk dat ons van NIEMAND anders wil weet nie as van Jesus Christus, en Hom as gekruisigde (1 Kor. 2:2). Die Gees bring die water by my lippe sodat ek kan drink en lewe, Hy ontsteek die vuur sodat daar warmte kom, Hy is die elektrisiteit waardeur die lig skyn in die duisternis van onverstandige, ongehoorsame mense wat in boosheid, afguns en haat gelewe het.

Slegs die Heilige Gees kan Christus en die nuwe lewe só naby aan ons bring dat ons die vrymoedigheid en die geloof het om te sê: “EK glo, Here!”, en “MY Verlosser leef!”. Nie individualisties nie, maar diep persoonlik binne die gemeente van Christus. Egte belydenis van geloof is persoonlik, eie, eie gemáák deur die Gees.

Wanneer Paulus in Titus 3:5 dus in plaas van Christus, eerder na die werk van die Gees verwys, dan staan dit nie in stryd of in teenstelling met die werk van Christus nie. Immers, in sy voltooiende werk kom gee die Gees aan my wat ek in Christus het. Christus self voorspel hierdie werkwyse van die Gees wanneer Hy in Johannes 16:14 sê: “Hy (die Gees) sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” Of in die woorde van ons doopsformulier: die Heilige Gees kom maak tot ons eiendom wat ons in Christus het. Die Gees gaan in sy werksaamheid nooit buite Christus om nie; trouens, Christus is self die Een wat die Gees ryklik oor ons uitgestort het (Titus 3:6). Ja, Hy is ook aan MY gegee… Sodat ek deur ‘n ware geloof aan Christus en al sy weldade deel kan kry – soos Sondag 20 dit sê.

Christus en al sy weldade… Gemeente, dit is ‘n diep persoonlike belydenis! Maar laat ons daarop let dat dit persoonlik bly en nie egoïsties word nie. So gou draai ons die volgorde om: eers die weldade en daarna… ja, dan is Christus al vergete. So werk dit nie, so kan dit ook nie werk nie. Die Gees lê allereers die band met Christus sélf en leer ons om Hóm lief te kry bo alles. ‘n Vrou wat haar man liefhet, sê ook nie vir hom dat hy haar maar kan verlaat as hy haar maandeliks net genoeg gee om ‘n goeie lewe te kan lei nie. Nee, ‘n vrou wat haar man werklik liefhet, soek hóm, ook al is dit in teëspoed en armoede. So verbind die Gees ons nie allereers met Christus se weldade nie, maar met Christus self! En wanneer die band met Christus dan ontstaan, ja, dan ontvang ons Christus nooit sonder sy weldade nie, dan volg dit Hom waar Hy deur die Gees deel word van ons lewe.

Die nuwe lewe gaan dus nie oor hoeveel ek daaruit kan haal nie, ook in die kerk soek ons nie die laagste pryse en die beste kopies nie. Nee, die Gees gee ons deel aan Hóm wat met die duurste prys, sy eie lewe, vir ons betaal het. Hy het Homself vir ons gegee (Titus 2:14) en dan, ja slegs dan, vind ons in Hom ALLES! Sien u hoe ingrypend die werk van die Gees is? Die Gees gee ons nie maar iets nie, nee, Hy verbind ons met Iemand.

Dit is die ware wedergeboorte waarvan Paulus in Titus 3:5 praat. Ons eerste geboorte deug nie, dit was ‘n geboorte uit Adam, uit die vlees, wat sonde is tot die dood toe. Die Gees sny die band met hierdie eerste lewensbeginsel af, Hy knip die naelstring van die sonde deur, en Hy verbind ons nou met ‘n ander bron, Jesus Christus. Meer nog, die Gees verbínd ons nie slegs met Christus nie, Hy is self die band waarmee ons met Christus verbonde is, via Hom word Christus en al sy weldade in ons uitgestort. Gemeente, dít is wat dit beteken as ons in geloof kan bely dat die Gees ook aan MY gegee is. Dit beteken dat ‘n lewenslyn aan my gegee is, ek is aan die Koning van die wêreld, die Redder van menselewens, verbonde!

En dán, broers en susters, mag ons bly wees en opgewonde raak oor die weldade wat deel is van die gemeenskap met Christus. “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook ALLES genadiglik skenk nie?” (Rom. 8:32). Deur die Gees word ons Christus deelagtig, en sal Hy dan saam met Hom ons nie ook alle weldade uit genade gee nie? Genade op genade! Dan stroom die weldade neer!

Gemeente, laat ons daarvoor waak om ‘n ongesonde sug te hê om die Gees te besit, laat ons waak teen ‘n ongesonde sug na allerhande gawes van die Gees. Want dit is nie hoe die Gees werk nie. Die Gees staan nie en roep om aandag te kry nie. Nee, die Gees gryp ons, en Hy bring ons by Christus, Hy dwing ons op ons knieë by die kruis, en sê: “Daar is jou Verlosser, daar kry jy alles wat Hy vir jou verdien het!”

Ons let nou in die tweede plek daarop dat die Gees my as nuwe mens voor God stel.

2. Die Heilige Gees stel my as nuwe mens voor God – hier sien ons ‘n beweging in die teenoorgestelde rigting, naamlik na God toe. Is dít dan die opening waarna elke mens soek om homself voor God te bewys? Is dít die geleentheid om, na die aanvanklike werk van God, nou my kant van die ooreenkoms na te kom? Helaas… Paulus wys in Titus 3:5 dat ook hierdie aspek van ons verlossing, wat ons normaalweg die heiligmaking noem, die werk van die Gees is.

Die Heilige Gees begin met die wedergeboorte, waarin Hy ons lewe aan ‘n ander bron verbind en ons so deel gee aan Christus en al sy weldade. Nadat Hy ons dan aan hierdie nuwe lewensbron verbind het, bring Hy ons ook tot ‘n nuwe lewensrigting. Die vernuwing is nie die teenprestasie van die mens nie, maar werk van die Gees wat Christus vir ons verdien het. Ja, ons hoor dit reg: ook die vernuwing en heiliging van ons lewens is die verdienste van Christus wat die Gees in my kom werk. Ons doopsformulier sê dit tog ook: die Gees maak tot ons eiendom wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe… Gemeente, laat dit ons tot deurdring, laat die Gees hierdie woorde van Paulus in Titus 3:5 op ons harte bind, met geweld as dit moet: “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie…”! Ons redding, ons volledige redding, en dit sluit ons heiligmaking in, is die verdienste van Christus wat die Gees in ons kom werk.

Wanneer die Gees dan die wedergeboorte en vernuwing werk, dan verander dit ook ons lewe. God neem ons wel soos ons is, maar Hy laat ons nooit soos wat ons is nie. Ons sien dit in hoofstuk 3 van Paulus se brief aan Titus. Rondom die kern van verse 3-7 waarin Paulus so helder verkondig wie ons was, wat nodig was om ons daaruit te verlos en wie dit gedoen het, staan in verse 1 en 2, en verse 8-11 die gevolge van hierdie vernuwing in die lewe van die gelowige: onderdanigheid aan owerheid en magte, gehoorsaamheid en bereidheid tot goeie werke. Ook volg nog die oproep om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys. En verder in vers 9: vermy dwase twis en stryery en moenie partyskappe verwek nie. Dit is op ‘n aantal baie konkrete punte wat die daaglikse vernuwing van ons lewe inhou: dat ons die regering van Suid-Afrika gehoorsaam, dat ons verder ook gehoorsaamheid bewys aan ons ouers, onderwysers en die baas by die werk, dat ons ons tong in toom sal hou en nie ander swart sal smeer nie, dat ons nie altyd aanvallend sal wees om met mense te stry nie, maar dat ons vriendelik sal wees teenoor almal en alle mense met sagtheid sal hanteer.

Dít is sigbare vernuwing; nee, ek sê dit verkeerd: vernuwing is immers altyd sigbaar. Daar waar die Gees werk, dáár bloei die lewe op, dáár kom kleur in die lewe. Onthou u nog, dit is die kenmerk van die werk van die Gees: Hy rond af, voltooi, en gee aan alle dinge hul ware skoonheid, ook aan mense soos ons…

bring die Gees ons dan voor God: heilige en nuwe mense. Nie uit onsself nie, nee, ons mag voor Hom pronk met die vere van ons Here, met die weldade wat Christus vir ons verdien het. Ons bely dit ook in artikel 24 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dat dit deur God se genade is dat Hy sy gawe wil bekroon. Ons goeie werke, die vernuwing van ons lewe, is Gód se gawe aan ons. Geloof in hierdie God gaan deur die liefde (dit is die Gees, die band wat ons met Christus verbind) oor tot dade. So bring ons voor God die lof van ons lippe en ons hande, so bring ons voor God ons hele lewe, so bring ons voor God wat syne is!

Gemeente, so omvangryk is die Gees in sy veroweringstog. Hy kom gee ons wat ons in Christus het, maar gevolglik stel Hy ons dan ook as nuwe mense voor God.

Ten slotte let ons nog daarop dat die Gees by my bly tot op die dag van God.

3. Hoe dikwels sien ons nog so min van hierdie nuwe lewe. Hoe min sien ons van die afsterwing van die ou mens, die hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom ook hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug (v/a 89 HK)? Hoe min merk ons iets van die opstanding van die nuwe mens, die hartlike vreugde in God deur Christus en ‘n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe? (v/a 90 HK). U weet dit tog? Daardie sonde waarvoor u elke aand om vergifnis vra, maar dan het u skaars die volgende oggend u voet uit die bed gesit, of u doen dit weer…

Maar gemeente, laat ons ook dan weer op die Gees let. Die Gees is immers die Trooster, die Parakleet. Hierdie woord beteken iets soos: “die een wat geroep is om te help”. Dit is opvallend dat Jesus in Johannes 14:16 die Gees beskryf as “’n ander Trooster”. Christus self is dus die Trooster, die Voorspraak, vir die gelowiges by die Vader in die hemel, die Gees daarenteen is dit in die harte van die gelowiges hier op aarde. Hy is die Een wat saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is (Rom. 8:16), hoeveel dinge in ons lewe ook al daar téén getuig. Ja, Hy getuig dit, Hy sê dit vir jou: “Jy is God se kind!” En, broers en susters, dit is dan ook ‘n ongelooflike troos om in geloof, (ja, in geloof, want dit wat ons sien is dikwels so anders), om in geloof hierdie getuienis van die Trooster na te spreek: “Ek is God se kind!”

As die versugting daarom weer oor u lippe kom: “Ek sien so min daarvan in my lewe”, laat die getuienis van die Gees, die Woord van God, u daarom bring by Hom wat alles vir u verdien het.

En dan bly hierdie Trooster nie slegs tydelik, om daarna weer te vertrek nie. Nee, Hy is ‘n Trooster wat ewig by ons bly. Dit staan in skrille kontras met die alombekende vraag onder ons: wie sê dat ek dit oor 10 jaar nog sal glo? Wie sê dit? Die remonstrante meen dat die mens hierdie vraag alleen sélf kan beantwoord. Hulle sê, en ek haal aan uit DL, hfst 5, vvd 1&2: “die volharding van die ware gelowiges is nie ‘n vrug van die uitverkiesing of ‘n gawe van God wat deur die dood van Christus verwerf is nie. God gee die gelowige wel genoeg krag om te volhard en is bereid om dit in hom te bewaar, mits die mens sy plig doen. Al is alles wat nodig is om in die geloof te volhard en wat God wil gebruik om die geloof te bewaar, ook in werking gestel, dan nog hang dit altyd van die oordeel van die wil af of die mens sal volhard of nie sal volhard nie”.

Voel u hoe slaan die onrus toe? God kan alles doen, en dan nog … hang dit van my af! Nee, gemeente, in verwondering mag ons bely dat die Gees die band met ons Verlosser NIE sal verbreek nie, dat God sy werk in my sál volbring, dat die Gees tot die einde toe by my sal bly. Dit is geen uitspraak van selfvertroue nie, want as dit oor onsself gaan, kan ons maar net in ootmoed bid: “Here, hou vas wat u hand begin het.” Maar dit is wel ‘n uitspraak van geloof. Geloof en ootmoed: geloof in God se trou, ootmoed oor ons eie onmag. Soos Dawid dit doen in Psalm 138:8: “Die HERE sal dit vir my volbring! U goedertierenheid, HERE, is tot in ewigheid [dit is die vertroue; maar dan ook die ootmoed]: laat nie vaar die werke van u hande nie!” Saam met die vaste vertroue gaan die bede: “Here, hou ons vas”, “Here, kom ons te hulp”, “Here, dra ons want ons kan nie self nie”, “sodat ons, volgens Titus 3:7, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe”.

Gemeente, die Heilige Gees is die bewys van God se lojaliteit, die bewys van God se voorneme om ons in totaliteit te verlos. Die Gees kom verbind my immers aan die Verlosser, Hy stel my rein voor die Vader, en Hy bly altyd by my. Allesomvattend, totaal, kom pas die Gees die nuwe lewe toe in my ellendige lewe. Daar is geen duimbreed van my lewe waaroor die Gees nie beheer neem nie. Elke hoekie en gaatjie van my lewe word vernuwe en lewend gemaak deur sy werk. Hy kom maak my lewe mooi! En ons kan dit sien ook… Skielik sien ons: Ek kon hierdie en daardie sonde oorwin; daardie broer, met ek altyd so vasgesit het, kan ek nou in liefde hanteer; die twyfels wat ek nog altyd gehad het, het stilgeword; kyk, die vrugte van geloof in my lewe! Gemeente, alles werk van die Heilige Gees, Hy wat vernuwe, versier, en eendag sal verheerlik! En daarom, broers en susters, bely ons ons geloof met die kerk van alle tye en plekke: Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 104:1, 17, 18 en 20
Wetslesing
Sing Ps. 6:1, 2, 4 en 5
Lees: Titus 2:11-3:11
Sing Skr. 14:1
Teks: Titus 3:4-7
Preek
Amenlied Skr. 14:2
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 138:2-4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)