Die afsluiting is ‘n wesenlike deel van die gebed

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-06-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52
Verwysing: 
HK 52b-0
Preek Inhoud: 

Sondag 52

Ds HH van Alten - Sondag 25 Junie 2006

Lees: Gen. 15:1-6, Gen. 22:10-1, Hebr. 6:13-20, Sondag 52b
Sing: Sien liturgie

Tema: Die afsluiting is ‘n wesenlike deel van die gebed. Ons let op:

  1. Die anker van ons gebed
  2. Die amen van ons gebed

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het gekom by die laaste sondagsafdeling wat handel oor die gebed. Dit handel oor die afsluiting van ons gebed. En laat ons maar eerlik vir mekaar sê dat dit dikwels van die mees verwaarloosde aspekte van ons gebed is. Nadat ons uitgebreid ons nood en moeites voor die Here neergelê het, word daar so vinnig-vinnig nog ‘n slot aan toegevoeg. ‘n Slot wat dikwels nie mooi deurdink is nie, een waarvan ons die implikasies ook nie ten volle besef nie. En daarom is dit so mooi dat die Kategismus deeglik hierby stilstaan, sodat ons kan besef dat ook ons laaste woorde saakmaak, dat ons die inhoud van elke woord moet besef en goed moet weeg.

Ek het die tema vir die woordverkondiging van vanaand soos volg saamgevat:

Tema: Die afsluiting is ‘n wesenlike deel van die gebed. Ons let op:

  1. Die anker van ons gebed
  2. Die amen van ons gebed

1. Ons het nou al ses die bedes gebid, ons het aan die einde van ons gebed gekom. Die inhoud van wat ons gebid het, is geweldig omvangryk; dit raak so baie aspekte, ons het so baie van die Here gevra. Kom ons gaan weer vlugtig daardeur.

Ons het gevra dat God se Naam geheilig mag word, d.w.s. dat Hy alle lof en eer mag ontvang vir wie Hy is en wat Hy gedoen het, dat Hy daardie lof vir Homself sal bewerk, maar dat Hy dit ook in ons sal werk om Hom te loof. Ons het gevra dat sy Koninkryk mag kom, d.w.s. dat alle skepsele hulself vrywillig aan sy genadeheerskappy sal onderwerp, en dat eendag, by Christus se wederkoms, sy Koninkryk finaal sal kom. Ons het gevra dat sy wil sal geskied, d.w.s. dat ons so in Christus, ons wynstok, ingeplant sal wees, dat ons vrugte van geloof kan voortbring, en dat ons hierin die voorbeeld van die engele in die hemel sal navolg. Ons het gevra vir ons daaglikse brood, waarmee ons erken het dat ons van Hom afhanklik is, en waarmee ons ook ons vertroue uitgespreek het dat Hy vir ons sal sorg. Ons het gebid om die vergifnis van ons sondes, d.w.s. dat ons met al ons gewig op Christus, ons Offerlam, sal leun, en dat ons daardeur ook die gesindheid mag vind om mekaar te vergewe. En ons het gevra dat die Here ons nie in versoeking sal lei nie, d.w.s. dat ons nie in hierdie wêreld met sy verleidinge gewortel sal word nie, maar dat ons as vreemdelinge agter Christus sal aangaan.

Baie dinge waarvoor ons gevra het… En ook as ons nie die Onse Vader bid nie, dan is ons gebede steeds gevul met baie dinge. U weet waarvoor u bid… Jy weet wat jy voor die Here neerlê… Dit is dikwels harte vol van hartseer en pyn, harte oorlaai met vrae en vreugdes, wat ons voor die Here leegmaak. Dit is dikwels dinge waarvan niemand anders weet nie, dinge wat ons miskien selfs nie vir ‘n sielsgenoot vertel nie. By die Here kom ons dikwels met die hele sak patats vorendag, en ons lê dit alles voor Hom neer. Ons maak ons harte leeg voor Hom, daar lê dit in ‘n hoop voor sy troon.

Maar gemeente, wat maak dat ons dit kan doen? Wat maak dat ons juis by die Vader hierdie hele berg met vrae en moeites en bekommernisse en vreugdes en elke dingetjie wat my pla, kan neerlê? Watter gronde het ons daarvoor? Watter pleitgrond het ons om ons gebede voor die Here uit te spreek? Watter reg het ons?

En dit is hier, broers en susters, waar blyk dat die afsluiting van ons gebed so ‘n onmisbare deel daarvan is. Die afsluiting van die Onse Vader kan nie van die res geskei word nie, want dit verskaf die pleitgrond, die rede waarom ons tot die Vader kan bid. Alles wat ons bid, alles waarvoor ons vra, kan ons tot die Vader rig, want aan Hóm, en niemand anders nie, behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in ewigheid! Ons kán tot ons hemelse Vader, want aan Hom behoort die koninkryk – dus, as Koning soek Hy die beste vir sy onderdane, Hy wil ons verhoor! Ons kán tot ons hemelse Vader, want aan Hom behoort die krag – dus, behalwe dat Hy ons wil verhoor, kan Hy ons ook verhoor! En ons kán tot ons hemelse Vader, want aan Hom behoort die heerlikheid, sodat wanneer ons bede tot sy eer en heerlikheid strek, Hy ons ook sal help!

Ons kan daarom nie die afsluiting weglaat nie, want dit verskaf die enigste rede hoekom ons tot die Vader kan bid. Kan ons vir enige skepsel vra wat ons in een van die ses bedes aan ons Vader vra? Kan enige skepsel God se Koninkryk laat kom? Kan ‘n mens my sondes vergewe? Nee! Kan ons vir onsself enige van hierdie bedes vra? Kan ek God se wil laat geskied? Kan ons onsself van die bose verlos? Nee! En daarom bid ons tot die Vader, “want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid.”

Gemeente, wanneer ons tot die Vader bid, dan doen ons dít waarvan die Hebreërskrywer praat in hoofstuk 6:19 – ons werp die anker tot binnekant die voorhangsel. U ken die beeld, ook die kinders weet hoe dit werk. Die kaptein van die skip gooi die anker tot op die bodem van die rivier of die see. Daar, op die bodem, moet dit inslaan en bly lê. Maar die anker dien slegs sy doel wanneer die bodem vas en betroubaar is. As die bodem onbetroubaar is, as die bodem geneig is om te verskuif of in te sak, dan sal geen kaptein sy anker op daardie plek uitgooi nie.

Nou gemeente, so is ons ook in hierdie wêreld. Daar is in hierdie wêreld geen vaste grond waarop ek kan bou nie. Alles verander, alles is bestem om te vergaan. Niks bly dieselfde nie. In hierdie wêreld kan ek dus nie ‘n kaptein wees wat my anker ondertoe uitgooi nie, want daar is geen bodem nie, of die bodem wat daar is, is onbetroubaar. Hier op aarde is geen vaste grond nie; ja, ons dink miskien soms so, maar telkens word ons weer teleurgestel deur dit wat ons as so vas en sterk en betroubaar beskou het. Nee, daar is slegs een manier om tog die anker in die bodem te kry, en dit is deur die anker boontoe te gooi. Dit klink na ‘n belaglike beeld, maar so praat die bybel daaroor. Die enigste bodem wat veilig en vas is, is in die hemel agter die voorhangsel.

Die voorhangsel was in die tabernakel en in die tempel as’t ware die skeiding tussen God en die mense. Daar was geen toegang agter hierdie voorhangsel moontlik nie; die sonde het die toegang versper. Maar gemeente, Christus, ons Verlosser, het deur sy dood en bloedstorting toegang vir Homself verdien, Hy het die reg verwerf om agter die voorhangsel in te gaan na God toe; Hy het as hoëpriester volgens die orde van Melgisedek ‘n volmaakte offer gebring, meer nog: Hy was self die Lam; sodoende kon Hy God se heiligdom betree.

En broers en susters, dáárom is die bodem daarbo so veilig en vas, want daarbo is ons Offerlam, die Lam wat geslag is – Hy is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof (Openb. 5:12); aan Hom, broers en susters, behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid. Aan Christus? Ja, aan Hom wat my goedgesind is, aan Hom wat die spykers in sy hande en voete verduur het, aan Hom wat God se toorn in my plek gedra het, aan Hom wat ter wille van my gespoeg en geslaan is, aan Hom behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid! En wanneer ons daarom in sy Naam bid, mag ons seker wees dat Hy al sy koninklike heerskappy, al sy oneindige mag, al sy goddelike heerlikheid sal aanwend om vir onsby die Vader in te tree.

Deur Jesus Christus het ons ‘n vaste bodem by die Vader! As mense wat in hierdie wêreld lewe, wat soms heen en weer geslinger word, wat soms worstel om bo te bly, het ons slegs een sekerheid: daar is die bodem bereid om die anker te aanvaar, daar is Vader bereid om na my stamelende gebed te luister en dit te verhoor, omdat Christus daar is om vir my in te tree. Sy verdienste maak dat God sê: “Kom maar my kind, neem die vrymoedigheid om met My te praat, alles vir My te vertel; Ek sal jou verhoor!” En daarom bid ek, daarom werp ek voor die Vader alles wat my pla, daarom giet ek voor Hom uit my hele hart, want daar is niemand beter om na my te luister nie, niemand beter wat my kan help nie, niemand beter om my te troos nie, as Hy wat deur Jesus Christus my Vader geword het nie.

Broers en susters, die laaste woorde van my gebed is nie onbelangrik nie; inteendeel, dit bring daardie gebed tot ‘n hoogtepunt, die bring dit tot ‘n klimaks, tot ‘n loflied, want alles wat ek gebid het, mag ek bid; alles wat ek gebid het, kan ek bid, want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid. Nie slegs vir vandag en môre nie, maar tot in ewigheid. Slegs by ons hemelse Vader is ons by die regte adres. En dit sal eendag blyk wanneer alles nuut gemaak is – dan sal ons nie meer hoef te smeek vir ons daaglikse brood, of die vergifnis van ons sondes, of dat ons van versoeking bewaar word nie. Maar wanneer dan die smeking stil geword het, dan sal nog wel die loflied bly: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!”

Ons let vervolgens op die amen van ons gebed.

2. Amen, daardie laaste woordjie van ons gebed, daardie woordjie wat vir die meeste van ons eintlik maar ‘n aanduiding is dat die gebed verby is, dat ons weer ons oë kan oopmaak. Maar gemeente, nou leer die kategismus ons dat die “amen” meer is as ‘n manier om vir mekaar te wys dat die gebed klaar is. Meer nog, “amen” is nie ‘n woord vir mekaar nie, maar ‘n woord vir God! Immers, ons hele gebed was ‘n gesprek met God, ‘n intieme gesprek waarin ek my hart voor hom blootgelê het. Nou is ook die laaste woordjie tot God gerig. Amen: dit is waar en seker (v/a 129).

Wat is waar en seker? My mooi gebed? Nee gemeente, ons sê nie van ons eie gebed dat dit waar en seker is nie. Waar en seker – dit geld van Gód se woorde, sy beloftes! Op God se woord sê ons amen! Maar… hoekom dan aan die einde van ons gebede? Omdat ons gebede veronderstel is om op God se woord gegrond te wees. Soos wat jy nie ‘n huis bou, voordat jy eers die fondamente gelê het nie, so kan jy ook nie bid as jy die fondament van God se Woord nie onder jou gebed is nie. Immers, dit is wat Sondag 45 ons geleer het: “Hoe moet ‘n gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word? Ten eerste moet ons alleen die enige ware God, wat Hom in sy Woord geopenbaar het, van harte aanroep vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid.” God stel dus eise aan my gebede: my gebede moet nie ‘n bewys wees van my welsprekendheid nie, van my vermoë om nood onder woorde te bring nie; nee, my gebede moet ‘n bewys wees dat ek baie mooi na God geluister het! My gebede moet wees op grond van sy Woord, sy beloftes – dáárop mag ons Hom aanspreek, dáárvoor mag ons vra.

Slegs wanneer ek eers God se Woord laat spreek het, en my gebed op grond daarvan gevorm het, slegs dán kan ons met vrymoedigheid “amen” sê! “Amen” – “Here, ek het eers na U geluister en nadat ek mooi geluister het, het ek gebid; en noudat ek klaar is, nou weet ek verseker dat U, omdat ek op grond van u Woord gebid het, my sekerlik sal verhoor!” “Amen” is dus ‘n uitspraak van geloof! Met amen gee ek aan God te kenne dat ek Hom glo op sy Woord. “Amen, Vader, u woord is waar en seker” – dit is ‘n daad van geloof.

Trouens, amen is die Hebreeuse woord vir geloof. In Hebreeus beteken “om te glo” dus: om-amen-te-sê! Kom ons kyk in dié verband na wat ons gelees het in Genesis 15.

Tot driemaal toe in Gen. 15:1-6 lees ons van die “woord” van die Here. In vers 1: “Ná hierdie dinge het die woord van die HERE in ‘n gesig tot Abraham gekom…”; in vers 4: “Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê…”; en in vers 5: “Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde…” Hierdie “woord” van die Here waarvan hier gepraat word, is nie sommer ditjies en datjies waaroor die Here met Abraham kom praat nie, die Here kom gesels nie maar net met Abraham nie. Nee, waarmee ons hier te doen het, is die Here se beloftes, sy toeseggings aan sy kinders!

Kyk maar – in vers 1 belowe die Here om vir Abraham ‘n skild te wees. In vers 4 belowe die Here vir die bejaarde Abraham dat hy ‘n erfgenaam sal ontvang wat uit sy eie liggaam sal voortkom. En in vers 5 belowe die Here dat Abraham se nageslag soos die sterre aan die hemel sal wees.

 

Geweldige beloftes, groot woorde, maar… kan die Here dit ook waarmaak? Sal Hy sy beloftes hou? Wel, blaai maar ‘n paar hoofstukke verder, na Genesis 22. Daar het ons die geskiedenis gelees van Abraham wat sy seun, Isak, moes gaan offer. Hieruit blyk dus dat die belofte van ‘n erfgenaam uit sy eie liggaam alreeds waar geword. Sara se lag daar in die tent was dus ‘n lag uit ongeloof, ongeloof dat die Here in staat is om uit die gestorwe moederskoot ‘n kind te verwek.

Maar dan is daar nog die ander belofte, naamlik dat Abraham se nageslag soos die sterre aan die hemel sal wees. Wat het daarvan geword? Wel, in Genesis 22:16 en 17, nadat Abraham bereid was om sy seun aan die Here te offer, herhaal die Here hierdie belofte. Hy sê daar: “Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is…”

Die Here herhaal dus sy belofte, en dan sweer Hy ook nog daarby! En presies hiervan maak die Hebreërskrywer melding in hoofstuk 6:13: “Want toe God aan Abraham die belofte gegee het, het Hy, omdat Hy by geen meerdere kon sweer nie, by Homself gesweer.” Wanneer jy sweer, dan beteken dit dat jy iemand tot getuie roep om te waak oor die waarheid en getrouheid van jou woorde. Jy vra daardie getuie om jou te straf indien jy nie trou aan jou woorde sou wees nie. Vir daardie getuie om te kan straf, moet hy egter nie jou mindere of ‘n gelyke wees nie, maar ‘n meerdere. Hy moet jou werklik kán straf. Maar toe God gesweer het, watter meerdere was daar waarby Hy kon sweer? Wie is God se meerdere? Tog niemand nie! En daarom moes God by Homself sweer.

Maar was dit nodig? Het God nodig om die waarheid van sy woorde, sy beloftes, met ‘n eed te bevestig? Nee, God is altyd betroubaar in wat Hy sê, God kan nie lieg nie. En tog doen Hy dit… ter wille van die erfgename van die belofte, ter wille van sy kinders wat op Hom wag. So was daar dus vir Abraham dubbele bevestiging: daar was aan die een kant die woord van God wat op sigself al betroubaar is, en dan was daar aan die ander kant ook nog die eed waarmee Hy sy woorde bevestig het. betoon God die onveranderlikheid van sy raad, gee Hy kragtige bemoediging aan sy kinders.

Gemeente, om ‘n lang verhaal kort te maak: God se woord, sy beloftes, IS betroubaar! Van sy kant af is daar géén twyfel of sy beloftes waar sal word nie, van sy kant af staan dit vas en seker! Die vraag is nou: hoe reageer óns daarop? Hoe het Abraham daarop gereageer? Het Abraham gereken: “Wel, laat ons maar eers sien wat daarvan kom”? Het Abraham getwyfel? Nee gemeente, ons lees van Abraham daardie pragtige getuienis in Genesis 15:6: “En hy het in die HERE geglo.” Letterlik staan daar: “En hy het in die Here ge-amen.” Is dit nie mooi nie? Abraham het “amen” gesê op hierdie geweldige beloftes van die Here, Abraham se reaksie was een van geloof. Abraham het nie geglo in dinge oor God nie, nee, hy het in God geglo; Abraham het nie amen gesê op dinge aangaande God nie, nee, hy het amen gesê tot Gód.

En gemeente, dít is wat ons doen wanneer ons ons gebed afsluit. Ons gaan staan bewustelik voor God se aangesig, en sê: “Vader, ek het alles vir U gesê, ek het my hart voor U uitgestort. En noudat ek klaar is met my gebed, nou sê ek: Amen. En daarmee bely ek dat ek U kén, dat ek verseker weet dat U u beloftes hou, daarmee bely ek my geloof dat U trou is aan u woord.” Met ons amen gee ons aan God te kenne dat ons Hom glo op sy beloftewoord: dit is waar en seker.

En gemeente, wanneer ons só ons geloof ten opsigte van God en sy Woord bely het, dán mag ons seker wees dat ons gebed ook sekerlik deur Hom verhoor sal word. Want dan het ons gebid ooreenkomstig sy woord, sy beloftes; dan het ons ‘n gebed gebid wat God behaag. Soos die gebou vasstaan op die fondament, so ook ons gebede op die woorde van die Here. En dan sê ons amen op sy woord, maar dan sê ons ook amen in die sekerheid dat Hy ons gebed sal verhoor. En nie êrens in die toekoms nie; nee, wanneer ons in geloof amen sê, dan is ons gebed nou, op hierdie oomblik verhoor!

Gemeente, laat ons leer om ons geloof in God se beloftes ook prakties vorm te gee in ons “amen”. Laat ons leer om “amen” te sê – hardop – nie slegs wanneer ons self die een is wat die gebed uitspreek nie, maar ook wanneer daar namens ons gebid word. Laat ons dit doen in ons gesinne – dat elke lid van die gesin saam hardop “amen” sê; laat ons dit doen in ons vergaderinge en hier in die erediens – dat elkeen van ons spontaan “amen” sê. U glo God tog op sy Woord? U glo tog dat sy belofte waar en betroubaar is? Nou, as op grond van daardie woord gebid is, wys dan maar u geloof. Sê maar die amen saam met die voorganger, antwoord God maar op sy Woord! En dan doen u dit nie vir die mense om u heen nie, nee, dan doen u dit teenoor God: “Ja Here, ek glo! Ek glo dat wat ons nou van u gevra het, waar sal word; ek glo dit baie sekerder as wat ek in my hart voel dat ek dit van U begeer.”

Amen

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 142:1, 2 en 4
Gebed
Lees: Genesis 15:1-6, Genesis 22:10-19, Hebreërs 6:13-20
Sing Ps. 110:5 en 6
Teks: HK, Sondag 52b
Preek
Amenlied Ps. 72:2, 10 en 11
Gebed
Belydenis van geloof
Kollekte
Slotsang Skr. 8:3-5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)