Streef daarna om die egte oorwinning, die egte Nike, te behou

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-08-27
Teks: 
I Johannes 2:12-17
Preek Inhoud: 

1 Johannes 2:12-17

Ds HH van Alten - Sondag 27 Augustus 2006

Lees: 1 Joh. 2:3-17, 1 Kor. 10:1-13
Sing: Sien liturgie

Tema: streef daarna om die egte oorwinning, die egte Nike, te behou

  1. Die egte Nike (verse 12-14)
  2. Die vervalste Nikes (verse 15-17)

Broers en susters, gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wanneer ek die woord ‘Nike’ vir die jongmense noem, dan weet hulle onmiddellik waarvan ek praat. Miskien weet heelwat van ons ouer lidmate ook waaroor dit gaan, maar vir dié wat hierdie woord nie ken nie: ‘Nike’ is sekerlik een van die bekendste handelsmerke in sportklere en sporttoerusting; oral kom ons dit teë. Veral jongmense dra graag Nike-tekkies, Nike-hemde en Nike-broeke – sommige het sommer ‘n hele Nike-klerekas. Die jongmense weet ook dat dit baie geld kos om klere of sporttoerusting van hierdie handelsmerk te kan besit. Nike lewer hoë kwaliteit produkte, en vir daardie kwaliteit moet ‘n mens maar bereid wees om te betaal.

Maar as jy dan genoeg geld gespaar het om jou Nike-tekkies of –hemp te kan koop, dan wil jy darem ook weet dat dit egte Nike is. Ons sien naamlik dikwels dat bekende handelsmerke, soos Nike, nagemaak en sommer langs die pad verkoop word. Uiteraard is die kwaliteit nie dieselfde nie, en die prys gewoonlik ook nie. Maar as dit enigsins moontlik is, stap ons liewer met die ware Jakob rond, as wat ons met ‘n namaaksel moet rondloop.  

Hoekom sê ek dit alles? Wel, interessant genoeg kom ons die woord ‘Nike’ ook in ons teks teë. Natuurlik, nie die handelsmerk met die bekende logo nie, maar wel die Griekse woord nike. En dit is vanaf hierdie Griekse woord nike waarvan die handelsmerk ‘Nike’ afgelei is. Ja, Johannes het ook Nike geken… Hy gebruik hierdie Griekse woord in vers 13 en 14 as ‘n werkwoord, en ons vertaling vertaal dit met “oorwin”: “Ek skryf aan julle, jongmanne, omdat julle die bose oorwin het.” Dus, die Griekse woord nike beteken eenvoudig: oorwinning.

Johannes stel in ons teks die egte Nike, die egte oorwinning van die geloof, teenoor die vervalste Nikes, die valse oorwinnings wat langs die strate van hierdie wêreld te koop aangebied word. En Johannes maan sy lesers in hierdie gedeelte van sy brief om deeglik op die uitkyk te wees dat hulle die egte oorwinning, die egte Nike, behou, en hulle nie laat ompraat om die vervalste Nikes te koop nie. Dit is dan ook die oproep van ons teks:

Tema: streef daarna om die egte oorwinning, die egte Nike, te behou

  1. Die egte Nike (verse 12-14)
  2. Die vervalste Nikes (verse 15-17)

1. In die eerste aantal preke uit hierdie brief van Johannes het ons gesien hoe sterk Johannes daarop gefokus het om die dwaalleraars te weerlê. Omtrent elke stelling en bewering was ‘n reaksie op, of ‘n weerlegging van, dít wat die dwaalleraars geleer het.  En dit kon die indruk by die lesers gewek het asof dit meer oor die dwaalleraars as oor hulle, die gelowiges, gegaan het. Dit kon hulle laat twyfel het aan watter kant hulle nou eintlik gestaan het: was hulle aan die kant van die waarheid, of aan die kant van die dwaalleraars; Johannes was so intens besig om die dwaalleer te weerlê dat die gelowiges oor hulle eie posisie kon begin twyfel het. Johannes het hierdie vrae en twyfel by sy lesers sien kom, en daarom dat hy nou in die verse 12-14 spesifiek op die gelowiges fokus. Hy rig sy aandag nou spesifiek op sy lesers om hulle te bemoedig en aan te spoor.  

Voordat ons verder gaan om te kyk wat Johannes vir hulle sê, is dit miskien goed om net kortliks stil te staan by die manier waarop hy dit sê. Verse 12-14 is naamlik baie interessant opgebou. Ek wil daaroor twee opmerkings maak:

  1. In die eerste plek spreek Johannes drie groepe aan, naamlik die kinders, die vaders en die jongmanne. En elkeen van hierdie groepe spreek hy twee keer aan: die kinders word in vers 12 en die einde van vers 13 aangespreek, die vaders in die begin van vers 13 en die begin van vers 14, en die jongmanne in vers 13 en die einde van vers 14. Maar, broers en susters, moet ons nou by hierdie groepe dink aan verskillende ouderdomsgroepe? Dus, moet ons dit sien asof Johannes hier fisies die kinders in die gemeente aanspreek, daarna die ouer manne (die vaders) en ten slotte die jongmanne? Nee gemeente, immers, dit wat kenmerkend is van elkeen van hierdie groepe afsonderlik, is iets wat kenmerkend behoort te wees van elke christen. Ons kan in die verskillende groepe eerder verskillende aspekte raaksien van elke gelowige se geloofslewe. Ek sal dit hierna breër uitwerk.
  2. In die tweede plek is dit opvallend dat Johannes aanvanklik sê: “Ek skryf aan julle…” – dus, hy gebruik die teenwoordige tyd; maar dan skakel hy later oor na die verlede tyd: “Ek het aan julle geskrywe…” Ons hoef hieragter nie te veel te lees nie. Wanneer Johannes die teenwoordige tyd gebruik, dan verwys dit na daardie oomblik wat hy met sy pen in die hand besig is om hierdie woorde te skryf: “Nou, op hierdie oomblik, skryf ek aan julle…” Met die gebruik van die verlede tyd verplaas hy homself egter in die skoene van sy lesers; terwyl húlle besig is om hierdie brief te lees, is sy skryfwerk al iets van die verlede: “Ek het aan julle geskrywe…” Ons hoef dus nie verder enige waarde aan hierdie afwisseling te heg nie. Johannes gebruik dit eenvoudig ter wille van afwisseling.

Dit oor die struktuur… Maar wat sê Johannes inhoudelik in verse 12-14? Gemeente, Johannes soek daarna om sy lesers te bevestig, te bemoedig, in kernaspekte van hulle geloofslewe.  

Elke gelowige, sê Johannes in die eerste plek, behoort soos ‘n kind te wees. Hoekom? Want, broers en susters, kinders het ‘n soort, ja, kinderlike vertroue – ons ken almal hierdie uitsprake van kinders: “Juffrou sê…” of “My ma sê…” Kinders het ‘n soort vaste vertroue in die basiese dinge, ook wat die geloof betref: hulle klou sonder twyfel vas aan die eenvoudige beginsels van die geloof. En die basiese beginsel waaraan Johannes wil hê dat sy lesers moet vashou, is dat hulle sondes hulle vergewe is, omdat God hulle Vader is. Dit is wat Johannes hier aan die kinders toeskryf: “Ek skryf aan julle, kinders, omdat die sondes julle vergewe is om sy Naam ontwil.”

Dit is die mees basiese vastigheid van die geloof waarin Johannes sy lesers wil bemoedig. En dan is dit vir hom geen onsekerheid nie: “Móóntlik is julle sondes julle vergewe.” Nee, dit is die feite, dit is die toestand van die lewens van sy lesers: hulle sondes is hulle vergewe. Dit is die sekerheid waaraan sy lesers met kinderlike aanvaarding mag vashou. Sien u, die christen is nie iemand wat onseker is oor die vergifnis van sy sondes nie of wat maar hoop dat hy vergewe is nie. Nee, die christen wéét dat hy vergewe is. En, gemeente, dit is nie verwaand, soos sommige mense meen, om dit met stelligheid te beweer nie; en ons is nie nederig wanneer ons sê dat dit maar beter is om onseker oor ons vergifnis te wees nie, want, o, ek is so sondig! Nee! Ons vergifnis is immers om sy Naam ontwil! Christus en sy werk is die basis van ons sekerheid, en daar is tog niks onseker oor Hom of sy werk nie? Op die oomblik wanneer u in sy Naam voor God pleit, is u onmiddellik verseker van vryspraak! En gemeente, hierin mag ons, moet ons soos kindertjies wees – die basiese vastighede van die geloof moet ons aangryp en vir geen oomblik daaraan twyfel nie.  

Verder, sê Johannes, moet elke gelowige ook soos ‘n vader wees deur Hóm te ken wat van die begin af is. ‘Hom’ is dan Jesus Christus, want daar word na Hom, net soos in die eerste woorde van hierdie brief verwys as: “… wat van die begin af was.”

Maar hoekom moet elkeen van ons soos ‘n vader wees? Wel, dit is dikwels kenmerkend van die vaders van die gemeente, die ouer manne, dat hulle anders na Jesus Christus kyk as die jonger mense; ons, jonger mense, soek dikwels nog daarna om in die geloofslewe te kry, te ontvang, maar vir die ouer manne geld dikwels dat hulle verby die gawe na die Gewer leer kyk het; nie meer dit wat ek deur Jesus Christus ontvang nie, maar die persoonlike verhouding met Hom self staan dan sentraal. En nou sê Johannes dat dit vir elke christen geld dat ons soos die ouer manne, die vaders, moet wees. Dit is belangrik dat ons sal fokus op die kennis van ons Verlosser; Hóm eerste, en vervolgens al sy gawes.

En weereens is hierdie kennis vir sy lesers ‘n sekerheid: “Ek skryf aan julle, dat julle Hom ken! Ons het Hom dan aan julle verkondig.” Johannes laat geen twyfel toe nie. Dit is julle Verlosser, dit is julle kennis van Hom, dit is julle sekerheid! 

En ten slotte, sê Johannes, moet sy lesers ook soos jongmanne wees wat die bose oorwin het. Hoekom soos jongmanne? Wel, ons assosieer die jeug dikwels met krag en vurigheid om vir ‘n saak te veg. Vir die ouer mense geld dikwels dat hulle hierdie krag en fut al verloor het, maar die jongmanne – hulle is reg om die stryd op te neem. Johannes sê ook van die jongmanne in vers 14 dat hulle sterk is – jeugdige krag en strydbaarheid.

En só, sê Johannes, moet elke gelowige wees. Elke gelowige moet, deur die kennis van en verhouding met Jesus Christus, hierdie jeugdige krag en strydbaarheid hê. En ons het dit nie vanuit onsself nie, broers en susters, maar ons het dit omdat die woord van God in ons bly. Die woord van God – die woord van die lewe waarvan hoofstuk 1:1 gepraat het – dus, Christus self woon in ons deur sy Gees. Dít gee aan ons die krag om die stryd teen die Bose aan te gaan. En dan hoef óns nie die oorwinning te behaal nie, nee, dit is al behaal deur Jesus Christus self. Dit is wonderlik, dit gee elke keer weer nuwe krag, wanneer jy met die vyand gekonfronteer word, om te mag weet dat dit ‘n vyand is wat alreeds verslaan is. Dit is die posisie van elke gelowige: hulle kan in die stryd nie deur die vyand oorwin word nie, want hulle het Iemand in hulle midde wat reeds die oorwinning behaal het; hulle veg in die leër van die Oorwinnaar. Ook oor hierdie aspek van ons geloofslewe bestaan daar geen twyfel nie.  

Dit is dus drie kernaspekte, drie sekerhede, van die christen se geloofslewe wat Johannes hier aan sy lesers, aan elke christen, voorhou: soos klein kindertjies hou ons daaraan vas dat ons sondes vergewe is, soos volwasse gelowiges het ons kennis van ons Verlosser, soos sterk jongmanne kry ons die krag om die stryd te stry in die seëvierende leër van ons Here. Johannes laat geen twyfel toe nie: “Ja, die dwaalleraars maak dit vir julle moeilik, hulle probeer julle aflei van Christus, en daarom het ek so baie tyd daaraan bestee om hulle te weerlê; maar indien julle getwyfel het, hier is die sekerhede, die vaste sekerhede, vir elke gelowige.” Ons het die egte Nike, die egte oorwinning; en daar is duur betaal vir hierdie egte Nike, maar nie deur jou nie; nee, ons kan niks daarvoor doen nie, ons het dit vanoggend weer pragtig voor ons afgebeeld gekry: ‘n pap babatjie, totaal afhanklik, heeltemal ongeskik om enige iets te doen, en tog ontvang hy die sekere beloftes van God. Nee, ons kan niks daarvoor betaal nie, Jesus Christus het betaal met sy eie bloed.  

En so ontvang jy jou sekere posisie: elke dag wanneer jy opstaan, gaan jy jou daaglikse lewe in – gaan jy werk toe, gaan jy skool toe, doen jy die huishouding, soek jy jou vriende op – met die sekerheid: my sondes is vergewe, ek weet wie my Verlosser is, ek kan die goeie stryd gaan stry. Ons hoef nie bang te wees as ons die wêreld ingaan nie, want ons staan op vaste grond: ons het die egte Nike deur die geloof ontvang as ons eie!

Ons let nou vervolgens op die vervalste Nikes (verse 15-17). 

2. Johannes het skaars die sekerhede aan sy lesers voorgehou of hy voeg ‘n waarskuwing toe. Johannes het sy lesers daarvan verseker dat hulle die egte Nike ontvang het as hulle eie, maar hy weet ook dat daar baie vervalste Nikes langs die strate van hierdie wêreld verkoop word. En daarom rig hy ‘n soortgelyke waarskuwing as wat Paulus aan sy lesers rig in 1 Korinthiërs 10:12: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”

Gemeente, christene het ‘n geweldige sekerheid in die vergifnis van sonde, die kennis van hulle Verlosser en die oorwinning oor die Bose (soos ons in die eerste punt gesien het), maar daarmee het die verleidings nog nie tot ‘n einde gekom nie. Hoewel die vyand verslaan is, is die geveg nog nie verby nie. Dus, wees op julle hoede vir die wêreld waarin julle lewe – en wanneer Johannes hier van wêreld praat, dan gaan dit vir hom oor die boosheid van die lewe wat onder die heerskappy van die satan staan. En daarom sy oproep in vers 15: moenie die wêreld liefhê nie!

Johannes gee vervolgens twee redes vir hierdie oproep: in die eerste plek wys hy dat liefde vir die wêreld onversoenbaar is met liefde vir God, en in die tweede plek wys hy op die verbygaande aard van die wêreld teenoor die ewige toekoms vir dié wat die wil van God doen. Kom ons kyk nou na hierdie twee redes. 

In die eerste plek sê Johannes dat liefde vir die wêreld onversoenbaar is met liefde vir God. Hierdie uitspraak vind ons ook in ander bewoording elders in die Skrif. Dink maar aan Jakobus 4:4 waar ons lees: “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” En Jesus self sê in Mattheus 6:24: “Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” Liefde vir God en liefde vir die wêreld sluit mekaar dus wedersyds uit. Dit kan nie saamgaan nie. En dit is omdat die dinge van hierdie wêreld nie vanuit God kom nie, en daarom op gespanne voet staan met die diens aan die Here.

En dan wys Johannes van watter dinge hy hier praat:

  • Die begeerlikheid van die vlees – hier gaan dit oor die bevrediging van ons sinne; dit waarvoor ons liggame, ons sondige vlees lus het, daaraan moet – volgens die wêreld – voldoen word, hetsy deur middel van kos of drank of seks. En die samelewing is vol hiervan – ons word gebombardeer met advertensies waarin gefokus word op hierdie liggaamlik luste, gefokus word op ons sug na lekker kos, ons sug na drank, ons sug na die seksuele.
  • Verder wys Johannes op die begeerlikheid van die oë – hier gaan dit oor die tendens van elke mens om deur die uiterlike dinge vasgevang te word, sonder om na die egte waarde daarvan te soek. Dink hier byvoorbeeld aan Eva wat gesien het dat die boom goed was om van te eet, sonder om oor die konsekwensies na te dink; of wat van Agan wat deur ‘n mooi mantel verlei is, en daardeur teen die gebod van die Here ingegaan het; of dink aan Dawid wat van die dak van sy paleis af ‘n baie mooi vrou gesien het en daardeur tot sonde verlei is. Wees op die uitkyk hiervoor, broers en susters; toets dít wat jou oë sien, bepaal die egte waarde daarvan, nie slegs die uiterlike skoonheid nie.
  • Ten slotte wys Johannes ook nog op die grootsheid van die lewe – en hiermee wys hy op die geneigdheid van elke mens om te pronk met wat hy het en met wat hy bereik het. Die grootbek sit in almal van ons, reg om uit te spring wanneer die geleentheid hom voordoen. Hoe min ons ook al het of bereik het, altyd vind ons maar weer iets waarmee ons kan spog.

Broers en susters, ons kan Johannes se beskrywing van die wêreld in hierdie vers saamvat met drie woorde: sensualiteit, materialisme en selfverheerliking. Platter gestel: seks, geld en mag. Dit is waarvoor Johannes ons waarsku, want hierdie dinge is uit die wêreld, en kan nie met die diens aan die Here verenig worrd nie; dit is nie verenigbaar met die sekerhede van die geloof nie.

En tog, gemeente, bly die verleiding wat daar van hierdie wêreldse dinge uitgaan, so geweldig groot. Laat ons mekaar daarom vashou by die sekerhede van die geloof (waarin die eerste punt ons bemoedig het), en nie toelaat dat iemand van ons vasgevang raak in die skynsekerhede van hierdie wêreld nie. Laat ons ons kinders vashou by hierdie sekerhede! Komende Donderdag is daar weer ‘n ledevergadering van die skoolvereniging waar die onderwerp sal wees: die driehoek van kerk-skool-gesin. Laat hierdie driehoek by ons funksioneer om ons kinders voor te hou waaroor dit werklik in hierdie lewe gaan: dit gaan nie daaroor of jy Nike-skoene dra of watter flieks jy al gekyk het nie; dit gaan nie daaroor dat jy die mooiste klere en speelgoed het, en die beste geleenthede kry nie. Dit gaan oor die sekerhede van vergifnis van sondes, kennis van my Verlosser en oorwinning oor die Bose: laat dit, soos uit een mond, hier in die gemeente, by die skool, en in ons gesinne uitgedra word. Laat ons ons kinders hierdie Nike, hierdie oorwinning, gee, en laat ons hulle nie loslaat op die strate van hierdie wêreld om deur die vervalste Nikes verlei te word nie. Wanneer ons dit doen, wanneer ons aan mekaar en ons kinders die sekerhede van die geloof gee, dan gee ons aan mekaar iets van blywende waarde. En dit is dan ook die tweede rede wat Johannes gee waarom ons nie die wêreld moet liefhê nie.  

Johannes sê in vers 17: “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid…” – dus, ook daardie begeerlikheid waardeur ons so dikwels mislei word, die begeerlikheid van die vlees, die begeerlikheid van die oë, en die grootsheid van die lewe. Dit alles is slegs tydelik. Dit het daarom nie sin om jou lewe te bou op verganklike dinge nie. Jesus sê dit ook in Mattheus 6:19: “Moenie vir julle skatte bymekaar maak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie…” Dit alles gaan verby!

Die woord wat Johannes hier gebruik vir verbygaan, dui nie op die toekoms, asof dit lekker is om nou daarvan te geniet en eendag, ver in die toekoms, gaan dit verby nie. Nee, hy gebruik hier ‘n woord wat wys dat dit alreeds aan die verbygaan is. Hy het dit in hoofstuk 2:8 ook al gesê: “want die duisternis gaan verby, en die waaragtige lig skyn alreeds.” Die dinge van hierdie wêreld is in ‘n voortdurende proses van verrotting, desintegrasie. En wie hom met hierdie verrotting besighou, word self ook vrot; wie opgesluk word deur die wêreldse begeerlikhede, sal saam met daardie begeerlikhede verbygaan. So dikwels word mense, ook in die kerk, verlei om hulle lewens aan te pas aan die lewenswyse van hierdie wêreld, met die hoop dat daar uiteindelik geen oordeel sal wees nie. Dit is ‘n natuurlike neiging by almal van ons om onsself gemaklik te maak in die huidige wêreld, eerder as om onsself te verloën in die hoop op ‘n beter lewe. So dikwels soek ons ons sekerheid in dinge wat verbygaan. 

Maar gemeente, Johannes wys dat daar slegs een tipe mens is wat bly bestaan: hy wat die wil van God doen, hy bly vir ewig. Daardie mens, die gelowige, belê immers in sekerhede, belê in die egte Nike, in plaas van in die vervalste weergawe. Deur die wil van God te doen, volg hy die Oorwinnaar, die kind van God is in die span wat alreeds gewen het!

Kom ons lewe daarom in hierdie wêreld, broers en susters, met die sekerheid van die geloof, met ons belegging veilig in die bloed van Christus. Ons hoef nie uit die wêreld te gaan nie, ons hoef nie met jammer-dat-ons-leef houdings rond te loop nie, ons is nie skaam vir ons Verlosser of vir sy kerk nie. Maar laat ons nooit van hierdie wêreld word nie, nooit vir hierdie wêreld lief word nie. Laat die liefde vir God ons dryf, ons regeer. Dan ontvang ons eendag die oorwinning volledig; eendag sal ook die stryd wat nog oor is, verby wees! Kinders, dan sal vir julle, wat nou seker is dat julle sondes vergewe is, die stryd verby wees. Vaders, dan sal vir julle, wat julle Verlosser ken, die stryd verby wees. En jongmanne, dan sal ook vir julle wat die Bose oorwin het, die stryd verby wees! Dit is die sekerheid in die stryd, dit is die vreugde in oorlogstyd, dit is ons hoop in die grootste aanvegtinge!

Amen 

Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 36:2 en 3
Wetslesing
Sing Ps. 26:1, 2 en 4
Gebed
Doopsbediening en dankgebed
Sing Skr. 2:2
Lees: 1 Johannes 2:3-17
Sing Ps. 61:3-6
Teks: 1 Johannes 2:12-17
Preek
Amenlied Skr. 37
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 16:3, 4, 9 en 10. 
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)