Die band tussen Christus se eerste en tweede verskyning

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-09-10
Teks: 
I Johannes 2:28-3:3
Preek Inhoud: 

1 Johannes 2:28-3:3

Ds HH van Alten - Sondag 10 September 2006

Lees: 1 Joh. 2:28-3:10, 1 Joh. 2:28-3:3
Sing: Sien liturgie

Tema: Die band tussen Christus se eerste en tweede verskyning 

  1. Ons  voorbereiding
  1. Ons vrymoedigheid

Broers en susters, gemeente van Jesus Christus,

Ons het verlede week gesien hoe fel Johannes gestry het teen hulle wat die koms van Christus in die vlees ontken het. Dus, Christus se geboorte in Betlehem, sy lewe op aarde, sy dood aan die kruis, sy opstanding op die derde dag, sy hemelvaart voor die oë van sy dissipels – dit alles is vir Johannes nie bysake nie, maar kernaspekte van die evangelie. En Johannes is swart-wit wanneer dit kom by hierdie kernaspekte, hy tolereer geen afwyking nie. Dié wat hiervan afwyk, is vir hom anti Christus!

Gemeente, dit behoort daarom ook vir ons kernaspekte te wees – en daarom vier ons hierdie sentrale heilsfeite ook tydens die kerklike feesdae! Wanneer ons Kersfees, Goeie Vrydag, Paasfees en hemelvaartsdag as feesdae gedenk, dan bely ons daarmee vir mekaar en vir die wêreld: ons glo dat hierdie heilsfeite werklik plaasgevind het. Dan bely ons daarmee dat óns nie in staat was of is om na God te gaan om die verhouding met Hom te herstel nie, nee, Hy moes na óns toe kom, Hy moes by óns sy verskyning kom maak.   

En dit was nou presies wat die dwaalleraars, wat deur Johannes in hoofstuk 2 antichriste genoem word, maar net nie kon gryp nie. U sal onthou dat ons in die eerste preek uit hierdie brief ook al daaroor gepraat het – dit was vir die dwaalleraars onaanvaarbaar dat die hoë, geestelike God Homself so kon verneder om ‘n mens van vlees en bloed te word, dat Hy Homself verwerdig het om in hierdie stoflike en sondige wêreld in te kom. Nee, het die dwaalleraars gesê, die rigting is andersom – God kom nie af na ons toe nie, ons moet opgaan na Hóm! Sien u – wesenlik teenstrydige sienings! Watter een is reg? Styg ons op na God, of daal God af na die aarde? 

Om dit te beantwoord, kan ons vir die kinders ‘n vraag stel: jy is jou pa en ma se kind, jy is uit jou ma gebore. Is daar iets wat jy daaraan kon doen? Is daar enige iets wat jy bygedra het daardie dag toe jou ma aan jou geboorte geskenk het? Kan jy onthou dat jy hard moes werk die dag toe jy gebore is? Nee, jy was ‘n pap, weerlose babatjie, jy het geen bydrae tot jou geboorte gelewer nie.

Nou is dit opvallend dat Johannes sy lesers (waarby ons ingesluit is) in ons teks óók kinders noem – God se kinders! Hy sê in vers 29 selfs letterlik dat ons uit God gebore is! En dan stel ons weer dieselfde vrae as wat ons aan die kinders gestel het: is daar iets wat ons aan daardie geboorte gedoen het? Kan jy, kan u onthou dat u enige bydrae gelewer het tot u hemelgeboorte? Het ons hard gewerk aan ons wedergeboorte uit die dood van sonde en ellende? Nee, jou kindskap het jy nie aan jouself te danke nie. Jy was weerloos, totaal verlore in sonde, weggesak in die dryfsand van die dood… As jy ooit by God sou wou uitkom, dan sou God eers na jou toe moes kom; as jy ooit uit die hemel gebore sou word, dan sou dit vanuit die hemel moes kom! En dit is dan ook presies wat God gedoen het – jy is God se kind, jy is uit Hom gebore, slegs deur sy toedoen, slegs deurdat HyHom  genadig na jou toe neergebuig het.  

En hierdie besef bring Johannes in hoofstuk 3:1 tot ‘n verwonderde uitroep: “Kyk wat ‘n groot liefde…” Die woordjie wat hier in die Grieks gebruik word, dui in alle gevalle op verwondering. Ons sien dieselfde in Markus 13:1 waar Jesus en sy dissipels besig is om die tempel te verlaat, en dan sê een van sy dissipels: “Meester, kyk watter klippe en watter geboue!” Verwondering! In ons teksgedeelte is Johannes verwonderd oor die liefde wat God aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word. En as hy sê dat ons kinders van God genoem word, dan is ons dit ook; God gee ons hierdie erenaam, omdat ons dit is deur sy genade! En hierdie kindskap, broers en susters, hierdie geboorte uit God, het ons nie deur eie toedoen nie; óns het nie na God opgestyg nie, ons het nie voor sy troon verskyn en onsself gebaar nie; nee, God het by ons verskyn, Hy het na ons toe neergedaal. Dít is die oorsaak van ons kindskap –  Jesus Christus hét by ons verskyn, en Hy sal wéér verskyn.

Gemeente, na hierdie twee verskynings van ons Here Jesus wil ons vandag kyk, en sien wat dit in die lewens van die gelowiges werk.

Tema: Die band tussen Christus se eerste en tweede verskyning 

  1. Ons  voorbereiding
  1. Ons vrymoedigheid

1. Gemeente, Johannes het die vorige gedeelte afgesluit met die oproep in vers 27 om in Hom, dit is in Christus, te bly. En as oorgang na die volgende gedeelte herhaal hy hierdie oproep. En met hierdie oproep wil Johannes dieselfde sê as wat ons reg aan die begin van die brief al gesien het, naamlik dat ons die gemeenskap met God moet onderhou. Dít is immers waarvoor Christus op aarde verskyn het – om die gemeenskap met God weer te herstel, om die lewe met die Here terug te bring, om te sorg dat ons elke oomblik van elke dag intens by ons God betrokke is. Christus het verskyn sodat ons weer, soos Adam en Eva in die paradys, met God kan wandel; Christus het verskyn sodat Paulus se oproep in 1 Thessalonicense 5:17, “bid sonder ophou”, nie vir ons vreemd in die ore klink nie, maar natuurlik kom in ons lewe van elke dag; Christus het verskyn, sodat ons weer kinders van God kan wees.  

Bly daarom in Hom! – dit is die oproep. Hoekom? Hoekom doen Johannes hierdie dringende oproep? Wel, dit word duidelik uit die res van vers 28: “… sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.” Broers en susters, ons moet die beeld wat Johannes hier gebruik, goed verstaan.

Die woord wat in ons vertaling met ‘wederkoms’ vertaal is, is in daardie tyd algemeen gebruik vir ‘n belangrike persoon wat op besoek gekom het. In Johannes se tyd is hoogwaardigheidsbekleërs, en spesifiek dan die keiser, met besondere eerbetoon ontvang wanneer hulle ‘n besoek gebring het aan een van die stede van die Romeinse Ryk. Die gelowiges in Efese, aan wie Johannes sy brief skryf, was sekerlik op die hoogte oor die praktyke rondom so ‘n besoek – waarskynlik dat die keiser Efese selfs al vereer het met ‘n besoek.  

Die gemeente in Efese het daarom geweet dat dit ‘n geleentheid van uitbundige feesvieringe en groot vreugde was – veral in ‘n tyd waar mense die keiser nie elke tweede dag op TV of in die koerante gesien het nie. Hulle het egter ook geweet dat, om van hierdie dag ‘n vreugdevolle fees te maak, daar intense voorbereiding aan voorafgegaan het. Vandat die stad van die koms van die keiser gehoor het, het die bevolking ywerig begin om alles in gereedheid te bring – die stad is skoongemaak en opgeknap en die paaie is gelyk gemaak vir die keiser om binne te kom; verder is die nodige geskenke aangeskaf om aan die keiser te oorhandig, toesprake is geskryf waarin die keiser geprys en opgehemel word, en kleurvolle baniere is gemaak. Alles was in rep en roer, en daar was ‘n opgewonde gewoel. 

Wel gemeente, dít is nou presies wat Johannes wil hê! Johannes streef in hierdie gedeelte daarna dat die voorbereidings goed gedoen word. Op verskillende maniere roep hy sy lesers in hierdie verse op om goed voor te berei, sodat hulle gereed kan wees wanneer die Koning kom. Dit het hy alreeds in vers 28 gedoen: “Bly in Hom…” – geweldig belangrik! Dit is die kern van ons voorbereiding! Bly in Jesus Christus, Hy wat verskyn het om die lewe met God weer te herstel. En elkeen wat in Christus bly, is nie meer die mens wat hy was nie; nee, hy word nou soos Christus – dit kom daarin uit dat hy die geregtigheid doen (2:29 en 3:7) – dus, dat hy doen wat reg is in God se oë. Dit kom verder daarin uit dat hy homself reinig soos Christus rein is (3:3) – dus, dat hy voortdurend vergifnis soek in die bloed van Christus. En dan kom dit ook nog na vore in die liefde vir mekaar (3:10).

Johannes soek dus daarna dat die lewe en die lewenswandel van sy lesers skoongemaak en voorberei word vir die koms van die Koning, dat hulle gereed is om hulle Here te ontmoet. 

Broers en susters, in ons lewens as gelowiges is die voorbereidings vir die verskyning van ons Koning, Jesus Christus, van die grootste belang. Ons kan mos nie uitsien na sy koms, maar intussen geen voorbereidings tref nie; ons kan nie verwag dat Hy by sy koms geëerd gaan voel, wanneer ons Hom inwag asof Hy ‘n alledaagse verskynsel is nie, wanneer ons so besig was met die lewe hier dat daar nie tyd was vir voorbereiding nie; ons kan mos nie verwag dat Hy bly gaan wees, wanneer Hy by ons geen feesklere aantref nie.

En, gemeente, ons hoef nie te twyfel oor hoe Jesus Christus ons by sy wederkoms graag sou wou aantref nie. Immers, Hy wás al ‘n slag in ons stad, Jesus Christus het al op aarde verskyn, Hy het al onder die mense gewandel. En toe al het Hy duidelik gemaak wat Hy van ons verwag, en sy boodskappers het ons alles daarvan vertel. Johannes is ook een van daardie boodskappers, hy is ook een van dié wat aan ons oordra hoe Christus ons sou wou ontmoet – hy sê tot twee keer toe in verse 4-10 dat Christus verskyn het om die sondes weg te neem, Hy het verskyn om die werke van die duiwel te verbreek. En die implikasies daarvan vir ons is nie onduidelik nie; nee, Johannes wys in verse 6 en 9 dat, as gevolg van hierdie werk van Christus, sy kinders – ons dus – nie meer sondig nie. En daarmee bedoel Johannes nie dat ons glad nie meer sondes doen nie, maar hy gebruik hier ‘n werkwoordsvorm wat wys dat ons nie meer in die sonde leef nie, die sonde is by ons nie meer ‘n gewoonte nie. Die sonde is dus nie meer die heersende beginsel in ons lewe nie; inteendeel, ons word nou beheers deur haat vir die sonde, ons word nou beheers deur die begeerte om die geregtigheid te doen en mekaar lief te hê – kyk maar na verse 7 en 10.  

Gemeente, ons ken dus ons komende Here, Hy is aan ons verkondig – en ons kan daarom wéét hoe Hy ons wil ontmoet by sy wederkoms. En daarom moet ons nie wag met ons voorbereidings nie, ons moet nie uitstel en dink dat Hy nog lank nie kom nie; nee, ons moet in alle erns begin voorberei … volgens sy wense! Ons moet ons lewens en die lewe van die kerk skoonmaak, mooimaak, gereedmaak. Ons moet wees soos die vrou in Openbaring 19:7, wat haarself gereed gemaak het vir haar komende bruidegom – en waar het u al ‘n bruid gesien wat tevrede is met minder as die mooiste? En dit is wat ons Bruidegom van ons vra: die mooiste, die beste! Dit is daarom ook die mentaliteit wat ons moet beheers – ons wil voor ons Bruidegom die mooiste wees wat ons kan wees! En daarom, broers en susters, kan ons nie voortgaan in die sonde nie, ons kan nie Sondae kerktoe kom, maar deur die week soos elke ander mens in hierdie wêreld lewe nie, ons mag nie ons gawes en talente begrawe om dit by die koms van ons Heer onbenut aan Hom terug te gee nie; nee, ons moet wees soos die getroue en verstandige dienskneg in Lukas 12 wat wakker en waaksaam is wanneer sy heer onverwags daar aankom: “Gelukkig – sê Jesus in vers 43 – is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind.” Gelukkig is die gelowige wat by Christus se wederkoms op só ‘n manier voorberei het.

Kom ons sing nou van hierdie voorbereiding op die koms van ons Koning uit Ps. 24:3-5 

2. Gemeente, die periode tussen Christus se hemelvaart en sy wederkoms is ‘n periode van voorbereiding, gereedmaak; dit is ‘n periode waarin ons ywerig die gemeenskap met God moet beoefen, ywerig sy wil moet doen, ernstig moet wees oor ons diens aan Hom – op só ‘n manier berei ons voor vir sy wederkoms!

En gemeente, wanneer ons op só ‘n manier voorberei, wanneer ons sy wens volg in die wyse waarop ons met Hom lewe, wanneer ons in Hom bly en op so ‘n manier nuwe mense word – dán gaan ons met vrymoedigheid die verskyning van ons Here Jesus Christus tegemoet, dán lewe ons vandag reeds met die grootste sekerheid in afwagting op die koms van ons Koning!

Verstaan my goed, broers en susters, die voorbereiding op die koms van die Koning is nie óns werk waardeur ons vrymoedigheid sou kry nie; nee, so ‘n vrymoedigheid uit eie werke noem ons eerder oormoedigheid, so ‘n vrymoedigheid is eerder vrypostigheid. Nee, die voorbereiding waarop Johannes aandring, is om Christus te soek, sy eerste verskyning op aarde as my verlossing aan te gryp, myself in Hom voor te berei… En dan is Hy my sekerheid, dan gee Hy aan my vrymoedigheid, vandag reeds! 

Die woord wat Johannes hier gebruik vir vrymoedigheid, is parrhesia, en dit beteken letterlik: “alle spraak”. Dit gaan hier dus oor volledige vryheid tot spraak, vreeslose kommunikasie. In die antieke tye was hierdie parrhesia die grootste voorreg wat ‘n burger van ‘n Griekse stad kon gehad het. Dit het beteken dat jy in die vergadering reguit kon praat, eerlik jou sê kon sê – ‘n voorreg wat slawe nie gehad het nie. ‘n Man wat parrhesia gehad het, sou sonder vrees sy hart kon lug. As ‘n burger van die stad het hierdie reg tot vryheid van spraak jou moed gegee om met openhartigheid te spreek in die vergadering van die stadsraad.  

Wel, op dieselfde manier het die kerk, het elke christen, deur die bloed van Jesus Christus, groot vryheid en vrymoedigheid om te spreek. Vandag reeds mag ons, mag u en ek, vrymoedig * voor God en * in die wêreld ons sê sê.

Dit is ‘n vrymoedigheid, broer en suster, wat my met vertroue in my gebede tot voor die troon van God laat nader. Ons is immers burgers van die hemele, soos Paulus sê in Filippense 3:20: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus…” En omdat ons burgers van die hemele is, het ons reg van spraak ontvang voor God en voor sy Seun. As God se geliefde kinders is ons nie bang vir ons God nie. Inteendeel, ons het vrymoedigheid om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Christus – soos die Hebreërskrywer sê in hoofstuk 10:19. Sien u, sy bloed gee my vrymoedigheid, sy bloed gee sekerheid wanneer ek tot God bid, sy bloed gee my die vertroue om my hart voor God te lug. Ons gebede mag nie uit vrees stil word nie, ons mag nie ophou bid omdat ons meen dat dit ‘n te groot voorreg vir sondige mense is nie. Nee, dit is ‘n voorreg wat in Christus my reg geword het. Ek mag met groot sekerheid voor my God nader; ja, altyd in nederigheid, altyd in die besef dat ek maar mens is, maar tog met vrymoedigheid. Spreek u hart uit, broers en susters, praat met u God!

En gemeente, as ons daardie vrymoedigheid teenoor God het, dan het ons dit des te meer teenoor die wêreld! Christus se bloed gee my volle vrymoedigheid om vry-uit in hierdie wêreld te kan praat, om my sê te sê; of eerder: om Christus se sê te sê! Dit is daardie vrymoedigheid wat die apostels in Handelinge 4 aangespoor het. Ons lees in vers 31: “En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.” Vrymoedigheid in ‘n wêreld wat nie van Christus wil hoor nie, maar wat Hom tog so nodig het, vrymoedigheid omdat ons weet dat ons in Christus die lewe ontvang het. Wanneer ons met hierdie vrymoedigheid ons evangelisasie-taak op ons neem, dan hoef die kerkraad ook nie meer te worstel met die vraag of ons ‘n evangelisasiekommissie moet benoem of nie, want dan word elkeen van ons lewende getuies, vrymoedig in ons getuienis van Jesus Christus, selfs wanneer ons gespot word of aan gevare blootgestel is.  

Broers en susters, ek het vandag reeds volle vrymoedigheid; geen vrees wat my verhinder om voluit en in vreugde te lewe en te getuig nie; geen vrees wat keer dat ek voor God se troon gaan kniel nie; geen vrees vir eendag omdat ek dalk nie verlos is nie.

Nee, dan gaan ek sonder vrees die koms van my Koning tegemoet. ‘Maranata’ is dan geen woord wat vrees inboesem nie, maar ‘n woord waardeur ek hoop en verlange uitspreek: “Kom, Here Jesus! Kom, want ek verlang na U, ek verlang na die dag om U te ontmoet; ek is gereed daarvoor, ek is voorbereid op u koms, deur u bloed! Kom vinnig!” 

En dan weet ons nog nie presies wat hierdie ontmoeting met ons Here vir ons sal beteken nie. Johannes sê dit in vers 2: “… nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie.” Maar ons weet al dít: ons sal aan Hom gelyk wees, ons sal in sy heerlikheid deel. Soos Paulus dit so pragtig sê in Kolossense 3:4: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal ons ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” Ons sal nie wees soos die ongelowiges wat openlik deur Christus onteer sal word nie, ons sal nie veroordeel en verwerp en in skaamte weggejaag word nie. Nee, wie in Christus voorberei op sy wederkoms, gaan daardie koms opgewonde en vrymoedig tegemoet. Soos Charles Wesley so pragtig gesing het: “Vrymoedig gaan ek na die ewige troon toe, en eis ek daar die kroon op wat deur Christus my eie is!”  

Het u hierdie vrymoedigheid? Verwag u met opgewondenheid Christus se heerlike verskyning vanuit die hemel? Leef jy tans in Hom, het jy Hom lief, is jy gehoorsaam aan Hom? Staan jy in ‘n lewende verhouding met Christus, of is die geloof vir jou ‘n gewoontesaak, ‘n kultuur-ding? Het jy sekerheid dat as jy vandag sterf, jy met vrymoedigheid voor Christus kan verskyn? Dit kan gebeur… Ons hoor daagliks van mense wat skielik sterf; dink jy húlle het dit verwag? Natuurlik nie, en tog gebeur dit. Kan jy vandag daarom bely: Christus het my skaamte, my vrees, my skuld, my veroordeling vir altyd weggeneem deur sy offer aan die kruis? Kan jy sê dat jy al jou vertroue in Christus gestel het, en dat sou jy vandag sterf, jy veilig by die Here is? Kan jy saam met die apostel Paulus sê: “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins”? Dít is vrymoedigheid, broers en susters, dít is sekerheid, vaste vertroue! Dít is my enigste troos in lewe en in sterwe! Kom maar, Here Jesus, ek is veilig in u bloed! Maak maar U verskyning, ek het volle vrymoedigheid. 

Amen 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 115:7-9
Wetslesing
Sing Ps. 130:1, 2 en 4 (1e beryming)
Gebed
Lees: 1 Johannes 2:28-3:10
Kollekte
Sing Ps. 73:10-12
Teks: 1 Johannes 2:28-3:3
Preek

    • Sing na eerste punt: Ps. 24:3-5
    • Sing as Amenlied: Skr. 2:1 en 3

Gebed
Slotsang Skr. 24:2, 6 en 7
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)