Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-10-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 8
Verwysing: 
HK 8-0
Preek Inhoud: 

Sondag 8

Ds HH van Alten - Sondag 1 Oktober 2006

Lees: Openbaring 1:1-8;  Geloofsbelydenis van Athanasius; HK Sondag 8
Sing: Sien liturgie

Tema: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer (art. 3 van die Geloofsbelydenis van Athanasius)

  1. God is naby ons
  2. Die nabyheid van Hom wat is en wat was en wat kom
  3. Die nabyheid van die sewe Geeste
  4. Die nabyheid van Jesus Christus

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons almal ken die term “Drie-eenheid”; ons bely die Drie-eenheid, die feit dat God drie Persone in een Wese is. Ons bely dit in artikel 8 en 9 van die NGB, ons bely dit in Sondag 8 van die Kategismus, ons bely dit uitvoerig in die Geloofsbelydenis van Athanasius wat ons saam gelees het. Maar gemeente, hoe funksioneer die Drie-eenheid prakties in u lewe? Wat beteken die feit dat God drie Persone in een Wese is vir u lewe in die gesin, by die kantoor, saam met vriende?  

Vir baie mense is die leer van die Drie-eenheid ‘n stukkie hemelse wiskunde – en daarby nog slegte wiskunde ook. Baie wil eerder hierdie gekompliseerde manier om oor God te dink heeltemal los, en hulself net met God besig hou. Ten slotte, die Nuwe Testament praat glad nie so gekompliseerd oor God nie; inteendeel, dit praat oor God in baie eenvoudige terme. Thomas Jefferson, die derde president van die VSA, het hierdie gevoel baie goed verwoord. Hy het gesê: “Wanneer ons ontslae raak van die onbegryplike gebrabbel oor die Trinitariese rekenkunde dat drie een is, en een drie is; wanneer ons die kunsmatige stellasie omgooi wat opgerig is om die eenvoudige Jesus te verberg; in kort, wanneer ons alles wat sedert Jesus se dae geleer is, verleer, en terugkeer na sy egte en eenvoudige leer, dan sal ons waarlik sy dissipels wees.”

Voel u ook so? Voel u ook asof hierdie moeilike leer van die Drie-eenheid die eenvoudige lewe met die Here bemoeilik en onaangenaam maak? Voel u ook asof die genade en die vrede wat die Here gee, sy wonderlike liefde, versmoor word deur ‘n leer wat ons tog nie kan verstaan nie, en wat vir ons verder ook niks beteken nie? Miskien… Maar dink bietjie hieraan: as jou pa of ma, as jou man of vrou, jou meisie of kêrel, op ‘n dag vir jou sê: “Weet jy, ek stel belang in wat jy doen en wat jy vir my kan beteken, ek wil graag weet van jou werk en wat jy daagliks doen, maar wie jý werklik is, dit maak vir my niks saak nie.” Nodeloos om te sê dat dit gaan seermaak, nodeloos om te sê dat jy dit nie gaan aanvaar nie. Wel, God aanvaar dit ook nie. God aanvaar nie dat ons sy dade aanskou en dat ons in Hom glo omdat Hy vir ons vergifnis van sonde en die ewige lewe gee, maar dat ons verder nie belangstel in wie Hy is nie. God aanvaar nie dat sy diepste wese vir ons onbelangrik is nie. God lê Hom nie daarby neer dat Hy alle moeite doen om Homself aan ons te openbaar, en ons dan ons eie beeld van Hom maak nie. En daarom, gemeente, het die kerk vanaf die begin daarvoor gestry om God reg te verstaan, het sy teen alle kettery daarvoor gestry om God te eer vir Wie Hy werklik is! Nie as dooie leer nie, maar as werklikheid vir die lewe van elke dag. Laat ons daardie spoor nie verlaat nie!  

En daarom gaan ons nie vandag die 8ste Sondag van die Kategismus oorslaan nie. Ons gaan nie, omdat hierdie Sondagsafdeling ons voor allerhande moeilikhede stel, die maklike uitweg kies en na Sondag 9 spring nie. Nee, ons gaan stilstaan en worstel met die rykdom van die Drie-eenheid. Nie om dit ten volle te verstaan nie, maar om dit te glo. Dit is immers waaroor dit in Sondag 7 gegaan het: Wat is ‘n ware geloof? Ons glo die Drie-eenheid, ek bely dit vir my lewe van elke dag.

Tema: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer (art. 3 van die Geloofsbelydenis van Athanasius)

  1. God is naby ons
  2. Die nabyheid van Hom wat is en wat was en wat kom
  3. Die nabyheid van die sewe Geeste
  4. Die nabyheid van Jesus Christus

1. “Die Openbaring van Johannes” – so staan die laaste bybelboek bekend. Maar eintlik is dit verkeerd; dit is ‘n naam wat later deur mense bo-aan hierdie boek toegevoeg is. In vers 1 wys Johannes self baie duidelik met wie se openbaring ons hier te doen het: die openbaring van Jesus Christus. Hierdie is dus nie die openbaring, die onthulling, van ‘n mens nie, hoe belangrik hierdie mens ook al was; nee, Jesus Christus is die Gewer van hierdie openbaring.

Maar dan is dit interessant om in verse 1-3 te sien dat Jesus Christus nie die eerste Gewer van hierdie openbaring is nie; nee, Hy is een van die skakels in ‘n ketting. Want ons sien dat Jesus Christus hierdie openbaring van God ontvang het. En nadat Hy het dit van God ontvang het, het Hy dit weer deurgegee aan sy engel; dié het dit weer te kenne gegee aan Johannes, sy dienskneg. Uit die begin van vers 3 wil dit voorkom asof Johannes dit vervolgens aan die voorlesers van die verskillende gemeentes deurgegee het, en die voorlesers het dit weer aan die gemeentes voorgehou. Ons sien dus ‘n duidelike lyn: God-Christus-engel-Johannes-voorlesers-gemeente. Daar is ‘n ononderbroke ketting tussen hemel en aarde. Só kom God met sy openbaring baie konkreet tot by sy kinders hier op aarde.

En meer spesifiek nog: tot by die sewe gemeentes in Asië (vers 4). Sewe fisiese gemeentes is die adres van God se openbaring, sewe kerke ontvang sy onthulling. Kyk maar na vers 11 van Openbaring 1: Efese, Smirna, Pergamus, Thiatire, Sardis, Filadelfia, en Laodicea. Sien u, sewe kerke met name, met adresse; aan hulle moet Johannes hierdie brief stuur. En as ons die geografie van daardie tyd ‘n bietjie ken, kan ons selfs die roete voorstel wat hierdie brief gevolg het: vanuit Efese via die hoofweg na die noorde om by Smirna en Pergamus uit te kom; van daaruit via die Magistrale hoofweg na die suid-ooste waar Thiatire, Sardis, Filadelfia en Laodicea aangedoen word; en dan vanaf Laodicea via die pad deur die Meanderdal na die weste, terug na Efese.

Effens spekulatief? Miskien… maar tog konkreet! God kom met sy openbaring tot by die sewe gemeentes in Asië. Daar moet elkeen van die voorlesers dit aan die gemeentes voorhou. En as ons die simboliek van Openbaring ken, dan weet ons dat sewe die getal van die volheid is. Die sewe gemeentes van Asië verteenwoordig dus die hele christendom, ook ons hier vandag. Ook die gemeente van Pretoria-Maranata, in Koekoekweg (Bergtuin), ontvang die openbaring van God. Net so konkreet soos wat God by Efese, Smirna en die ander gemeentes gekom het, so kom Hy ook by ons. En net so konkreet soos wat God se openbaring by die apostel Johannes gekom het, en van hom af by elke voorleser in die gemeente, so konkreet kom Hy ook by elke lidmaat, by elke gesin, by elke huwelik wat sy Woord oopmaak om daaruit te lees.  

Maar, gemeente, wat is die inhoud van hierdie openbaring? Openbaring klink altyd so geheimsinnig… Gaan dit miskien hier oor een of ander hemelse boodskap, ‘n geheimboek? Nee, gemeente, hierdie openbaring kom wel uit die hemel, maar dit gaan oor die dinge hier op aarde. Hierdie openbaring gaan, volgens vers 1, oor die dinge “wat gou moet gebeur”, dit gaan oor die geskiedenis hier op aarde tussen Christus se hemelvaart en sy wederkoms. Dáárvoor doen God die moeite om van die hemel af neer te buig en tot by ons te kom; Hy kom onthul aan ons die hooflyne van die geskiedenis, ook die geskiedenis waarin óns tans leef. Dus, geen openbaring oor bo-aardse dinge nie, geen boodskap wat niks met ons werklikheid te make het nie. Nee, God kom onthul aan ons wat gaan gebeur in die geskiedenis van hierdie wêreld, Hy kom openbaar aan ons dat Hy oor hierdie geskiedenis volledige beheer uitoefen – daaroor gaan dit in die boek Openbaring.

En vir sy kerk van alle tye, vir sy gemeente wat ‘n naam en adres het – en wat in hierdie geskiedenis moet lewe – gee God in vers 4 sy genade en vrede. Genade – dit is God se guns wat ons glad nie verdien nie; sy welwillendheid teenoor ons, danksy die vergifnis van ons sondes wat Hy verniet aan sondaars gee. En vrede – dit is die herstel van die band tussen God en ons, ‘n band wat vanweë die sonde verbreek is. Genade en vrede – dit wens Johannes nie slegs sy lesers toe nie, maar dit word daadwerklik aan ons geskenk deur die God wat tot by ons kom.  

Gemeente, in hierdie eerste verse van die openbaring van Jesus Christus sien ons dat God nie ver van ons af is nie. Nee, in alles bewys Hy Homself as die God wat naby is: Hy bring sy openbaring tot by óns, sy openbaring gaan oor óns werklikheid, en Hy gee vir óns sy genade en vrede. Vir u as gelowige, vir ons as gemeente, is God daarom nie ‘n idee, ‘n teoretiese begrip, nie; ons filosofeer nie oor ‘n afstandelike God nie. Nee, ons bely God, soos wat Pascal dit gedoen het in die sewentiende eeu. Na Pascal se dood het hulle die volgende woorde op ‘n stuk perkament aan die binnekant van sy jas vasgenaai gevind: “God van Abraham, God van Isak, God van Jakob; nie van die filosowe en van die geleerdes nie. Sekerheid. Sekerheid. Gevoel. Vreugde. Vrede. God van Jesus Christus. My Here en my God.” Dit, gemeente, is die werklikheid van die God wat Homself aan ons openbaar – nie ver nie, maar baie konkreet en baie naby!

Daar is daarom geen rede om te sê dat wie God is vir ons onbelangrik is nie; Hy kom stel Homself immers lewensgroot hier voor ons, ons kan Hom nie mis nie!

Kom ons kyk daarom nou wie hierdie God is wat so naby ons kom. Ons let in die eerste plek op die nabyheid van Hom wat is en wat was en wat kom.  

2. Johannes mag in vers 4 namens God aan die sewe gemeentes, en daarom aan die wêreldwye kerk, genade en vrede uitdeel. En die eerste Persoon van die God van wie ons genade en vrede ontvang, word beskryf as “Hy wat is en wat was en wat kom”.

Gemeente, hierdie aanduiding herinner sterk aan wat ons ook vind in Exodus 3:14 [lees Ex. 3:13-17]. In Exodus 3 ontmoet die Here vir Moses by die brandende doringbos, terwyl die volk swaarkry in Egipte. En dan noem God Homself “EK IS”, en Hy doen dit om daaraan te herinner dat Hy trou is aan die belofte wat Hy aan Abraham gemaak het, naamlik dat Hy vir Hom ‘n God sal wees en vir sy nageslag na hom. God het daardie belofte aan Abraham gemaak, en nou gaan Hy dit ook konkreet in Israel se benarde situasie waarmaak, Hy gaan dit bewys deur hulle te verlos uit die hand van die Egiptenare. EK IS – dit wil sê: “Ek verander nie; dit wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob belowe het, dit doen Ek!” EK IS – dit wil ook sê: “selfs in die toekoms sal Ek my beloftes hou, julle kan op My staatmaak, Ek bly altyd dieselfde vir my volk!”  

En nou mag Johannes in Openbaring 1:4 híérdie titel gebruik om God te prys vir sy trou. Hy is die een wat was – Hy was daar by die skepping, Hy was al daar voor die skepping; Hy was daar toe Abraham sy land en sy volk moes verlaat om na die wildvreemde te trek; Hy was daar toe die volk deur die Rooisee getrek het om van Farao en sy magte te ontkom; Hy was daar toe die volk in ballingskap gevoer is; Hy was daar toe ons Heiland gebore is, Hy was daar by sy kruisdood, opstanding en hemelvaart. Hy was ook daar toe jy gebore is; Hy ken jou by die naam, Hy het immers self jou naam genoem toe jy gedoop is – toe was Hy al daar, toe al het Hy gesê: “Ek is jou Vader, jy is my kind.” 

Maar, gemeente, bo en behalwe dat Hy was, is Hy ook – Hy is nou in beheer van hierdie wêreld, Hy bepaal nou wie sterf en wie lewe, wie wen en wie verloor. Hy is nou by jou, Hy is by jou in die vrae wat jy mag hê, Hy is by jou met jou hartseer, Hy is by jou om in jou vreugde te deel en om jou trane af te vee. Hy is nou by om jou om te versorg met alles wat jy nodig het. Hy is nou hier as dieselfde God wat deur alle eeue heen trou was aan sy wonderlike beloftes!

En in die toekoms dan? Ook dan sal Hy wees, broers en susters! Interessant is egter dat Johannes nie sê dat Hy “sal wees” nie; nee, Johannes praat van Hom wat is en wat was en wat aan die kom is! Die God wat nou by jou is, is dus nie maar besig om af te wag en toe te kyk nie. Inteendeel, Hy is die God wat besig is om te kom. Waar sy aanwesigheid in ons lewens – in die verlede en vandag – sigbaar en tasbaar is, sal dit binnekort volmaak wees. Dan sal ons Hom van aangesig tot aangesig sien. Want, Hy kom! 

Gemeente, dit is die eerste Persoon van ons God: Hy wat is wat was en wat kom. Hy sê van Homself in vers 8: “Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde…” Hy is dus van ewigheid tot ewigheid; voor Hom was daar niks nie, ná Hom sal daar niks wees nie. Hy omvat die totale geskiedenis, van begin tot einde, Hy omvat elke menselewe van begin tot einde. Hy omvat jou lewe, van begin tot einde. Geen onbetrokkenheid van hierdie eerste Persoon nie. Volle betrokkenheid van Hom wat die Almagtige is. Egte nabyheid van die Alfa en die Omega. Genade en vrede van God die Vader!

Ons let vervolgens op die nabyheid van die sewe Geeste. 

3. Die tweede Persoon van die God van wie ons genade en vrede ontvang, word beskryf as “die sewe Geeste wat voor sy troon is”. Soos by die sewe gemeentes, funksioneer die getal sewe ook hier as getal van die volheid. Die sewe Geeste dui op die volheid van die Heilige Gees wat in die hemel voor God se troon. Ons kry soortgelyke beelde ook in Openbaring 4:5, waar die Gees vergelyk word met sewe vuurfakkels wat voor die troon van God brand, en in Openbaring 5:6, waar die Gees vergelyk word met die sewe horings en die sewe oë van die Lam wat in die middel van die troon staan. Al drie hierdie beelde van die Gees (1:4, 4:5 en 5:6) kan teruggevoer word na Sagaria 4 [kom ons lees saam Sag. 4:1-6]

Gemeente, in hierdie vyfde gesig van Sagaria sien ons ‘n kandelaar wat deur twee olyfbome van olie voorsien word. Ons kan sê dat die kandelaar hier dui op Serubbabel wat in diens van die Here die tempel moet herbou. Maar waar moet Serubbabel die krag hiervoor kry, veral in die aangesig van soveel weerstand? Hoe moet hy hierdie taak volbring? En dan wys die Here dat die kandelaar slegs kan bly brand vanweë die konstante vloei van olie vanuit die olyfbome. Die Gees is die een wat Serubbabel krag gee: “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees!” Serubbabel hoef nie ‘n tempel te bou vir ‘n ver-af God nie; Hy hoef nie te bou vir ‘n afstandelike Heer nie. Nee, hy word direk gevoed deur die Gees van God self. 

Gemeente, die Gees is dus God se krag in hierdie wêreld. Die Gees is God se werksame teenwoordigheid by sy volk! En dit is baie belangrik in die konteks van die boek Openbaring. Johannes gaan binne enkele hoofstukke begin om die hooflyne van die geskiedenis uit te spel. En daar gaan verskriklike gesigte na vore kom – gesigte oor die duiwel, die bees, die bose magte; gesigte oor rampe en moeites en verwoesting. Hoe gaan God, gesien die onweerstaanbare mag van die bees, sy heerskappy hier op aarde vestig? Hoe moet God se kinders, hoe moet sy kerk in sulke omstandighede staande bly? Hoe moet hierdie gemeente staande bly terwyl ons selfs op hierdie oomblik aangeval word deur die satan? Hoe kan u staande bly teen allerhande verleidings? Jongmense, hoe moet jy bly staan teen seksuele verleidings, verleidings van verkeerde vriende, drank en dwelms, geld en rykdom? Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur sy Gees!  

Gemeente, die Gees word van voor die troon van God af uitgestuur oor die hele wêreld, ter wille van God se volk, sy kerk. Die sewe Geeste word uitgestuur na die sewe gemeentes. Die Gees woon dus in die kerk! Die Gees is die vuurfakkels voor die troon van God wat die hele aarde verlig. Ook hier, aan die suidpunt van Afrika, hier in Pretoria, verlig die Gees. Van voor God se troon kom bring Hy God se genade en vrede na ons toe, kom bewerk Hy dit in ons harte. Die Gees is die een wat God se genade en vrede kom toepas; Hy laat ons glo dat hierdie onverdiende genade, hierdie nuwe vrede met God, ook vir ons is! Hy is die Een wat hier in ons woon, sodat ons kan staande bly teen die verleidings, sodat ons ook begin lewe soos mense wat die genade in vrede van God ontvang het. So naby kom die Gees, die tweede Persoon van ons God wat Johannes hier noem. Geen onbetrokkenheid van hierdie tweede Persoon nie. Volle betrokkenheid van Hom wat voor die troon van God is. Egte nabyheid van die sewe Geeste in die sewe gemeentes. Genade en vrede van God die Heilige Gees.

Ons let ten slotte op die nabyheid van Jesus Christus.  

4. Die derde Persoon van die God van wie ons genade en vrede ontvang, is Jesus Christus. Van Hom gee Johannes drie beskrywings: “die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde.” Hierdie titels vind ons al drie terug in Psalm 89:28 en 38 [lees Ps. 89:28 en 38]. In Psalm 89 vind ons ‘n beskrywing van die Here se kneg Dawid; maar dit gaan ook oor meer as Dawid. Immers, alles wat hier beskryf word, kan nie van Dawid geld nie; dit wys vooruit, na Jesus Christus. Hy is die een wat na die aarde toe gekom het om as volkome betroubare Getuie God se boodskap van verlossing en nuwe lewe vir die mense te bring; Hy is die Een wat oor daardie boodskap gekruisig is en so God se toorn oor die sonde gedra het; Hy is die Een wat opgestaan het uit die dood, wat as eerste die ban van die dood gebreek en daardeur die opstanding van baie ander dooies verseker; Hy is die een wat deur God verhoog is tot Heerser oor al die konings van die aarde, hulle almal moet voor Hom buig.  

Gemeente, die rede waarom Johannes hier vir Jesus Christus as die derde Persoon behandel, is waarskynlik sodat Hy sonder onderbreking kon oorgaan tot die lofprysing wat nou volg: “Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” Deur sy werk hier op aarde mag ons, gemeente, deel in Jesus Christus se koninklike en priesterlike waardigheid. Ons mag konings en priesters voor God wees, in hierdie ampte mag ons in die geskiedenis lewe. En daarvoor kom aan Hom, wat tans heers as Owerste oor die konings van die aarde, alle heerlikheid en krag tot in alle ewigheid.  

Gemeente, die nabyheid van Jesus Christus hoef skaars verduidelik te word. Hy het dan een van ons geword, ‘n mens van vlees en bloed; Hy het onder ons gewoon. Geen onbetrokkenheid van hierdie derde Persoon nie. Volle betrokkenheid van Hom wat hier op aarde van God se liefde getuig het en wat die dood oorwin het; volle betrokkenheid van Hom wat nou as ons Koning die hele geskiedenis in sy hand hou. Egte nabyheid van die Een wat ons liefhet en ons van ons sondes was in sy bloed. Genade en vrede van God die Seun.  
 
Wat beteken die Drie-enige God vir jou? ‘n Dooie leer wat die lewendige geloof belemmer? Of het jy vandag iets leer sien van die rykdom van die een God in die Drieheid en die Drieheid in die eenheid? Hy is nie ver nie, elkeen van die drie Persone is baie naby, is betrokke by jou lewe. Maak dit self konkreet: sien hoe die Vader die beloftes wat Hy by jou doop gemaak het, handhaaf; Hy is jou Vader, Hy sorg vir jou, Hy het ‘n verbond met jou. Sien hoe die Seun vir jou vergifnis verdien het, elke sonde wat voor die Vader bely word, daarvoor tree Hy in; sien hoe Hy daardeur ewige lewe vir jou bestem het. Sien hoe die Gees hier in jou woon en God se genade en vrede tot in jou lewe bring, ‘n lewe oppad, ‘n lewe by die universiteit, ‘n lewe waar jy jou huiswerk doen, ‘n lewe waar jy intiem met jou man en vrou verkeer.

Gemeente, genade en vrede – dus, vergifnis en ‘n nuwe lewe – is slegs by Hóm te vinde. Soek Hóm! Moenie jou eie beeld van God najaag nie, moenie dink dat daarin genade en vrede is nie. Nee, soek God soos wat Hy Homself bekend gemaak het. Want Hy kom weer, met die wolke, in die Persoon van Jesus Christus. Almal sal Hom sien, ook hulle wat Hom aan die kruis gehang het. En dan sal al die geslagte van die aarde rou bedrywe – hoekom? Omdat hulle Hom nie vroegtydig aanvaar het nie; hulle sal rou bedrywe oor hulleself. Maar vir dié wat in hierdie lewe alreeds berou en bekering toon, is daar genade en vrede. Daardie gelowige mag met ‘n geruste hart uitsien na Christus se koms.

Gemeente, wanneer die Drie-enige God ons groet met genade en vrede, dan antwoord sy hele volk: Aan Hom die heerlikheid en die krag, nie slegs hier in die kerk nie, maar tot in alle ewigheid; dan antwoord sy hele volk saam: Amen! 
 

Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 29:3 en 4
Wetslesing
Sing Ps. 15:1, 4 en 5
Gebed
Lees:  Openbaring 1:1-8
          Geloofsbelydenis van Athanasius
Sing Skr. 25
Teks: HK, Sondag 8
Preek
Amenlied Ps. 89:11 en 14
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 27:1 en 4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)