Die broederliefde as gebod

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-10-08
Teks: 
I Johannes 3:16-20
Preek Inhoud: 

1 Johannes 3:16-20

Ds HH van Alten - Sondag 8 Oktober 2006

Lees: 1 Joh. 3:11-24; 1 Joh. 4:7-21; Deut. 15:7-18; 1 Joh. 3:16-20
Sing: Sien liturgie

Tema: die broederliefde as gebod

  1. Die grond van die gebod
  2. Die uitvoering van die gebod
  3. Die gevolge van die gebod

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Verlosser,

Die Bybelse boodskap gaan dikwels lynreg in teen wat ons elke dag in hierdie wêreld teëkom. En dit maak dit moeilik om ‘n konsekwente christen te wees. Immers, ons leef voluit in hierdie wêreld, ons is betrokke by dinge in hierdie wêreld, ons maak gebruik van baie dinge wat die wêreld bied. En nou kom ons sondae in die kerk, en dan hoor ons ‘n boodskap wat haaks staan op dít waarmee ons gister en eergister gekonfronteer is. Miskien kom u dit nie meer agter nie, of erger, miskien stel die prediking dit nie duidelik genoeg nie, maar tog is dit so.

Neem nou byvoorbeeld wat ons gelees het in 1 Johannes 3: ons moet mekaar liefhê. Het u al ooit gehoor dat die wêreld leer: ons moet mekaar liefhê? Het jy al ooit gehoor dat jou ongelowige kollega of ‘n ongelowige medestudent sê dat liefde ‘n gebod is? Nooit nie! Nee, liefde kry in ons tyd ‘n totaal ander invulling: byvoorbeeld, my liefde vir ‘n vriend of vriendin taan nadat daar verskil van mening ontstaan het, en daarom laat val ek die vriendskap soos ‘n warm patat en soek ek ‘n nuwe vriendekring op; of, na drie jaar se getroude lewe voel ‘n man nie meer lief vir sy vrou nie, en gevolglik beëindig hy die huwelik en gaan hy verder met daardie ander vrou vir wie hy wél liefde voel; of, mense in kerke voel nie meer lief vir sekere lidmate in die gemeente nie, met die gevolg dat hulle die gemeente verlaat en ‘n ander gemeente opsoek.

Totaal subjektief – ek en my gevoel word die bepaler van wat liefde is; ek en my gevoel besluit vir wie ek lief is, en hoe lank ek daardie liefde kan volhou. In hierdie gees lewe ons, broers en susters; binne hierdie gees is ons kerk van Jesus Christus. En stadig, baie subtiel, werk hierdie gees homself in ons kerklike lewe in. En ‘n mens sien dit… Wanneer jy vir die jeug vra hoekom daar ‘n mate van onbetrokkenheid is, en hoekom hulle nie as eenheid funksioneer nie, dan word daar geantwoord dat die jeug almal so verskillend is – met die onuitgesproke implikasie dat dit daarom moeilik is om as eenheid saam te werk. En jy sien in die gemeente hoe lidmate ander negeer of nie met hulle kan saamwerk nie, omdat “hulle eenvoudig nie my tipe is nie”. En jy sien hoe konflikte tussen lidmate nie opgelos kan word nie, omdat hulle net nie die liefde kan opbring om die verskille te oorkom nie. Sien u, liefde word op so ‘n manier iets lydeliks – ek moet maar afwag om te sien of ek liefde kry of nie; en as ek dit kry, dan kan ek daarop reageer; indien nie, is daar nie veel wat ek daaraan kan doen nie; dan kan ek ook nie help as ek nie vir daardie persoon lief is nie.    

En dan, lynreg teenoor hierdie gees, leer die Gees van God: ons moet mekaar liefhê! In vers 23 lees ons selfs: “En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het.” Broers en susters, liefde is nie ‘n emosionele bevlieging nie; nee, dit is ‘n gebod, ‘n opdrag!

Tema: die broederliefde as gebod

  1. Die grond van die gebod
  2. Die uitvoering van die gebod
  3. Die gevolge van die gebod

 
1. Ons moet mekaar liefhê, dis ‘n gebod – dit het ons nou gekonstateer. En nou moet u oplet hoe ons, nadat ons van die eerste skrik van hierdie radikale boodskap herstel het, aan die werk spring, aktief raak. Immers, dit is tog ‘n gebod, dit is tog iets wat ons moet doen. En dit lê so reg in ons kraal om iets te wil doen. En dan sien ons oral in kerke die ontstaan van allerhande omgee-groepe en konferensies oor liefde; en die kerk raak soos ‘n bynes van allerhande liefdesdade en –aksies.  

Maar gemeente, dit is nie die manier waarop Johannes hierdie saak aanpak nie. Johannes gee nie ‘n ongefundeerde gebod om mekaar lief te hê nie; hy gee nie ‘n opdrag wat nêrens op gebasseer is nie. Reg vanaf vers 11 is dit alreeds duidelik. Johannes sê in vers 11 nie: “Want dit is die gebód wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê” nie. Hy gooi nie ‘n koue gebod in ons skote, en beveel ons om daarmee te gaan werk nie.

Nee, Johannes sê: “Dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het…” Die boodskap – Johannes gebruik hier ‘n woord wat in die Grieks nou verwant is aan die woord “evangelie”. Johannes presenteer sy boodskap dus nie in die eerste plek as ‘n wét nie, maar heel eerste as die evangelie! “Die boodskap wat julle van die begin af gehoor het” – dus, nie onmiddellik aan die werk spring nie, maar heel eerste stil word en luister na die boodskap wat van die begin af verkondig is. Dít kom eerste: luister na die boodskap, die evangelie van Gód se liefde wat bereid was om sy eie Seun op te offer; die evangelie van die Seun wat bereid was om Homself op te offer! 

En dit is ook presies wat Johannes in die eerste woorde van ons teks sê: “Hieraan (aan niks ander nie!) het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het” (vers 16). Sien u, God druk ons terug op ons sitplekke: “Gaan sit… kyk, luister – voordat jy allerhande uitreikaksies en liefdesdade van stapel stuur. Kyk, luister… na liefde vir jou!” Want “hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê” – so het ons gelees in hoofstuk 4:10-11. Sien u die rigting? Eers luister en kyk na God se liefde, en dán…

En gemeente, dit is nie slegs ‘n Nuwe Testamentiese boodskap nie, dit is ‘n bybelse boodskap. Kyk na Deuteronomium 15 wat ons saam gelees het. Ons sien daar duidelike gebooie wat die Here deur Moses in hierdie hoofstuk aan sy volk gee; aktiewe liefdesdade aan die armes en die slawe. Máár – sê die Here in vers 15 – dink daaraan dat jy ‘n slaaf in Egipteland was, en dat die HERE jou God jou verlos het; daarom beveel ek jou vandag hierdie saak. Die Here sê hier: “Dít is die grond vir my bevele – jy was sélf ‘n slaaf, jy was sélf arm, en Ek het aan jou my liefde bewys. Gaan doen jy nou net so!”  

En só begin ons ook elke Sondagoggend die wet van die Here, die wet wat ons beveel om God en ons naaste lief te hê. Dit is immers die samevatting wat Christus self in Mattheus 22 van hierdie wet gee: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Matt. 22:37-40). Die liefde is die samevatting en vervulling van die hele wet, van elkeen van die tien gebooie; elke Sondagoggend lees ons dit, hoor ons konkreet hoe ons God en ons naaste moet liefhê. Maar voordat God enige gebod opdra, voordat Hy enigsins aan ons die eis van die liefde voorhou, gee Hy éérs die grond: “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.” God se eie liefde vir sy volk is die grond van sy gebod tot liefde! God se liefde vir sondaars is die rede waarom Hy liefde kan eis!  

Gemeente, dit is dus duidelik dat ons by God die ware aard van die liefde moet leer; ons moet dissipels word in die leerskool van sy liefde. En dan sien ons wat ware liefde is! Liefde is om, soos God, bereid te wees om jou eie Seun op te offer; liefde is om, soos Jesus Christus, bereid te wees om jou lewe af te lê. Liefde beteken om “nee” te sê vir jou eie lewe, sodat iemand anders kan lewe. Dít is wat Jesus Christus gedoen het; Hy het sy lewe afgelê vir iemand anders, vir ons! Ons is die begunstigdes van hierdie optrede van Jesus Christus.

En vergelyk hiermee nou Kaïn. Kaïn was uit die Bose en is beheers deur haat. Haat – die teenoorgestelde van die liefde – gun die ander nie die lewe nie; meer nog, haat soek die dood van die ander. Kaïn het in sy haat die dood van sy broer, Abel, gesoek. Was Kaïn so uniek? Nee gemeente, Kaïn is die prototipe van elke mens, van u en van my. Hier op aarde, in die geslagslyn van Adam vind ons nêrens iemand by wie ons die kuns van die liefde kan leer nie. Dáárvoor moet ons boontoe kyk; boontoe, daar bo teen die kruis – dáár vind ons liefde; dáár vind ons Jesus Christus wat in sy liefde sy eie dood gesoek het, ter wille van ons. En as ons nog hoër kyk dan sien ons die Vader van Jesus Christus wat die dood van sy Seun gesoek het, ter wille van ons.  

Gemeente, ons sal nóóit liefde kan bewys as ons ons nie hierdeur laat leer nie! As God se liefdesbrief aan ons stil word hier in die gemeente, as sy Woord nie meer oopgemaak word in die huise en gesinne nie, as ons bybelstudieverenigings nie meer worstel met God se liefdesdade deur die geskiedenis nie – dan kan ons omgee-groepe en liefdesaksies inisieer tot ons blou word, maar dan sal hierdie gemeente nooit ‘n liefdesgemeenskap kán wees nie. Wanneer ons daarom opgeroep word tot liefde aan mekaar, laat ons voor alles stil word voor die ondeurgrondelike liefde van die Vader en van sy Seun. Slegs in sy liefde gaan ons – soos vers 14 sê – oor uit die dood in die lewe, en slegs dán kan ons mekaar liefhê.

Daarop let ons nou vervolgens: die uitvoering van die gebod.

2. Dit is belangrik dat ons sal besef dat Chrisus se uiting van liefde aan die kruis nie maar net ‘n demonstrasie was, waarna ons met verwondering kan bly staar nie. Christus is nie maar net ‘n demonstrasie-model wat ons by die skou kan gaan bewonder, en dit daarna by die huis self kan gaan doen nie. Nee, Christus se liefde is ‘n werksame liefde, dit werk iets uit, dit doen iets in die lewens van sy kinders. Dit verander God se kinders, sodat hulle oorgaan uit die dood in die lewe! – kyk maar vers 14. Ons wat dood was, mag weer lewe! En dan, wanneer ons opgewek is uit die dood en oorgegaan het tot die lewe, dán volg die oproep in ons teks dat ons, net soos Christus sy lewe afgelê het, nou ook ons lewens vir die broeders behoort af te lê.  

Broers en susters, hier vind iets plaas wat in ons oë totaal onlogies is. Christus verwerf vir ons die lewe uit die dood, net om dit oomblikke daarna weer van ons terug te eis. Hy gee die lewe, en onmiddellik vat Hy dit weer… Dit is waarskynlik hoe Abraham gevoel het toe hy vir Isak moes gaan offer. Skaars het hy, na ‘n leeftyd se wag en gebed, ‘n seun van die Here gekry, of die Here sê vir hom: “Gaan offer vir Isak.” En die Here maak baie seker dat Abraham besef oor wie dit hier gaan. Hy sê in Genesis 22:2 vir Abraham: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer…” Dis asof die Here dit invryf: jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak… Hoe seer moes dit Abraham nie gemaak het nie…

En dit is presies wat hier ook gebeur: Christus gee vir ons die nuwe lewe – hier is dit! – en net daarna die oproep: lê dit weer af! Wat is die sin hieragter? Gemeente, ons sien hier iets van Christus se onderwys in Mattheus 16:25, waar ons lees: “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit vind.” Christus gee dus vir jou die nuwe lewe, Hy het jou uit die donker dieptes van die geestelike dood opgetrek en jou vernuwe. Maar hoe behou jy daardie nuwe lewe? Deur krampagtig daaraan vas te klou, dit ten alle koste te beskerm? Nee, slegs deur dit aan Hóm terug te gee: “Here, U gee die lewe, hier is my lewe! Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees meer en meer.”

Wanneer Christus ons lewendig maak deur sy liefde, dan is dít die radikale wederliefde wat Hy van ons vra: gee my jou lewe! 

Nou is die kanse goed, broers en susters, dat daar ‘n beeld voor ons opdoem van martelaars wat bereid is om hulle lewens af te lê vir hulle geloof. Dit kan baie romanties lyk – ja, ek is bereid om my lewe af te lê. Dis maklik om te praat, wanneer ons nie oor ons geloof vervolg word nie; die kanse dat een van ons eendag op só ‘n manier ons lewens sal moet aflê, is skraal. Maar Johannes laat nie toe dat ons, deur so te dink, ontkom aan die oproep om ons lewens af te lê nie.

Nee, vers 17 van ons teks maak baie konkreet wat dit beteken om jou lewe af te lê: “Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?” Skielik is dit nie meer ‘n romantiese beeld van die verre toekoms nie; skielik sit die broeder en die suster, vir wie jy bereid moet wees om jou lewe af te lê, langs jou. Wat doen jy dán met die opdrag van Christus om jou lewe vir hom of haar af te lê? Sluit jy jou hart, die sentrum van jou ontferming en bewoënheid, vir hom of haar toe? Of maak jy jou hart oop sodat God se liefde, wat in jou bly, sigbaar word?  

Broers en susters, dit gaan hier oor praktiese liefde vir jou broeder en suster hier in die gemeente, in die kerkbank voor of agter jou: As jy ryk is en baie aardse goed het, en die broeder of suster langs jou ly gebrek, en jy het geen oog daarvoor nie, watter liefde wys jy dan? As daar alleenstaandes is, en jy verseg dit om hulle ‘n slag uit te nooi, is die liefde van God dan ooit in jou? As daar in die gemeente hulp gevra word vir persone of projekte, en jy gaan in totale onbetrokkenheid huistoe, wat het jy dan opgeoffer? As jy nie eens bereid is om jou lewe af te lê om by ‘n bejaarde broeder of suster te gaan kuier nie, dink jy regtig dat jy die moed sal hê om jou lewe op die brandstapel af te lê? Gemeente, wanneer Christus aan ons die lewe gee, verniet, dan vra Hy dat ons daardie lewe teruggee in liefdevolle sorg en diens aan mekaar, dan vra Hy dat ek bereid sal wees om my lewe af te lê in nederigheid teenoor my broeder of suster: “My broeder of susters, wat kan ek vir jou doen, waar kan ek jou help, ek stel my lewe in jou dien.” Dit, en baie meer, is immers wat Jesus Christus vir my gedoen het! 

En dan gaan dit nie slegs daaroor dat ons liefhet met woorde of met die tong nie. Jakobus stel dit so treffend in hoofstuk 2:15-16 van sy brief: “As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie – wat baat dit?” Woorde alleen is nie genoeg nie. Johannes roep op tot liefde met die daad en in waarheid. En dan dink hy moontlik terug aan die situasie in die eerste gemeente in Jerusalem waar die gemeentelde daadwerklik hulle besittings gedeel het, en waar niemand arm was nie! Daar, in Jerusalem, was daar nie slegs mooipraat nie, nee daar is opgetree, daar was dade. Dit is ook wat God van sy volk gevra het in die Ou Testament – ons het daarvan gelees in Deuteronomium 15. Die welgestelde Israeliet mog sy hart nie verhard en sy hand nie toehou teenoor sy arm broer (volksgenoot) nie. Inteendeel, hy moes sy hand wyd oopmaak, en hy moes gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte. Geen gedwonge gawes nie; nee, liefdevolle opoffering ter wille van jou broer – dit is wat die Here gevra het. Liefdevolle opoffering – hoeveel kom daarvan tereg, gemeente?

Ons let ten slotte nog op die gevolge van die gebod. 

3. Die Here wys deur Johannes ook nog wat die mooi gevolge is wanneer iemand die gebod tot liefde nakom. Op grond van die daadwerklike liefde tot hulle medechristene mog sy lesers wéét dat die verhouding tussen hulle en God gesond en reg was. Dit het vir hulle sekerheid gegee dat hulle gemeenskap met God suiwer en eg was. En vanweë hierdie sekerheid kon hulle hul gewete gerusstel wanneer geloofstwyfel kop uitgesteek het.  

En hoe ken ons dit nie, broers en susters, hierdie geloofstwyfel, die veroordelings en aanklagte van ons hart en ons gewete: “Is jy eintlik ‘n kind van die Here? Kyk hoe lewe jy… Wie sê ek gaan eendag die ewige heerlikheid beërwe?” Somtyds is hierdie aanklagte tereg, ander kere vals, afkomstig vanaf die “aanklaer van ons broeders” (Open. 12:10). Maar in beide gevalle hoef hierdie innerlike veroordelings ons nie onder te kry nie, broers en susters. Ons mag ons harte gerusstel voor sy aangesig. En dit kan ons slegs doen wanneer ons weet dat ons tot die waarheid behoort.

Wanneer ek die liefde vir my broeder en suster in my lewe raaksien, wanneer ek opmerk dat daar by my ‘n bereidheid is om myself vir die ander gemeentelede te gee, hulle te help, hulle by te staan in woord en in daad, dan mag ek daardeur sekerheid ontvang dat ek werklik by die Here behoort. Immers, hierdie ware, selfopofferende liefde kom tog nie uit myself nie; nee, dit is die bewys van die nuwe lewe wat die Gees in my werk. So sê Johannes dit ook in hoofstuk 4:12 en 13: “As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.” Gemeente, daar is dus fisies dinge in ons lewens waarop ons kan wys om ons daarvan te verseker dat ons werklik lewe met die Here lewe – nie slegs dinge wat ons gevoel het, of wat ons onsself verbeel het nie; nee, fisies dinge wat ons gedoen het! So bely ons dit ook in v/a 86 van die Kategismus: waarom moet ons nog goeie werke doen? Sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry…  

Sekerheid, ons kan ons harte gerusstel voor die Here. Deur die vaste kennis van ons verstand kan ons die twyfels van die hart stilmaak. En dit nie slegs vir vandag nie. Nee, Johannes wys in hoofstuk 4:17 en 18 dat die liefde ook vrymoedigheid gee in die oordeelsdag. Geen vrees vir die oordeelsdag nie, want vrees sluit straf in, maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite. Die egte verbondenheid met die Here word sigbaar in die liefde teenoor ons naaste, en dit gee volle vrymoedigheid om die dag van die Here tegemoet te gaan. Op die beslissende oomblik  van die oordeelsdag mag ons dan seker wees van ons verhouding met die Here. Hy het ons ‘n nuwe lewe gegee deur Christus se selfopoffering, ons het daardie lewe aan Hom teruggegee deur ons liefde vir ons broers en susters; en dan, by die wederkoms, dan kom gee Hy weer aan ons die lewe terug, die ewige lewe wat nooit meer vergaan nie. Wie sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind – vir ewig! 

Gemeente, die gebod tot liefde is miskien vreemd in ‘n wêreld wat op gevoelens ronddryf, maar wanneer ons daarna kyk in die lig van God se oneindige, allesomvattende liefde dan sien ons dat hierdie gebod heilsaam is vir elkeen wat glo. Heilsaam vandag, want dit herstel gemeenskap, dit maak bande tussen broeders en susters nuut. Maar ook heilsaam vir ‘n toekoms waar geloof, hoop en liefde bly – hierdie drie. Maar die grootste hiervan is die liefde. Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 122
Wetslesing
Sing Skr. 26:1, 2, 10 en 11
Gebed
Lees:  1 Johannes 3:11-24
      1 Johannes 4:7-21
      Deuteronomium 15:7-18
Sing Ps. 116:1, 5 en 10
Teks: 1 Johannes 3:16-20
Preek
Amenlied Ps. 133
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 21:4-6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)