Ester 2:12-17
Ds HH van Alten - Sondag 29 Oktober 2006
Lees: Exodus 19:14-18; Lukas 1:46-56; Ester 2
Sing: Sien liturgie
Tema: Ester se soeke na koninklike guns! Ons let agtereenvolgens op:
- Die voorbereiding
- Die ontmoeting
- Die verhoging
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Ons Kerkorde sê dat die heilige nagmaal ten minste eenmaal in drie maande gevier sal word. Dit sou dus meer gevier kon word; terloops, die gemeente in Kaapstad doen dit een keer elke twee maande, dus ses keer per jaar. Calvyn het daarvoor gepleit dat die nagmaal elke week gevier sal word. Toe die stadsraad van Geneve, wat in daardie tyd oor hierdie soort van sake beslis het, dit nie wou goedkeur nie, het hy gevra dat dit dan ten minste een keer per maand gevier sal word, maar die ideaal was vir hom steeds: elke week nagmaal. Die implikasie hiervan is wel dat die gemeente elke week ook voorbereiding sal moet doen, dat elke gemeentelid hom- en haarself elke week sal moet ondersoek. En sonder om nou te pleit vir ‘n weeklikse nagmaalsviering, wil ek tog die vraag stel: ons voorbereiding, is dit nie iets wat baie meer gereeld moet plaasvind nie? Moet ons nie voortdurend besig wees met voorbereiding op ons ontmoeting met die Here nie? Laat ons gaan kyk wat die Woord van die Here ons in die boek Ester hieroor leer.
Ahasveros, een van die hoofpersone in die boek Ester, staan in die geskiedskrywing bekend as ‘n wispelturige man. Aan die een kant was hy vrygewig en hartlik, maar aan die ander kant was hy wreed teenoor dié wat hulle teen hom verset het. Ons sien dit onder andere in hoofstuk 1 in die manier waarop Ahasveros die skone koningin Vasti hanteer het nadat sy geweier het om haar skoonheid voor haar dronk man en sy gaste ten toon te stel. Sonder om verder oor sy liefde vir haar na te dink, dank Ahasveros haar net daar en dan af! In die jare ná hierdie gebeurtenis was daar nie werklik tyd om haar te vervang met ‘n nuwe koningin nie, want Ahasveros was in ‘n oorlog teen die Grieke gewikkel. Nadat hy egter hierdie veldtog verloor het, het hy probeer om sy misnoeë en hartseer te verdryf deur ‘n nuwe koningin in die plek van Vasti te vind. Dit is dan ook in hierdie tyd dat ons teks hom afspeel. Ek het die teks soos volg saamgevat:
Tema: Ester se soeke na koninklike guns! Ons let agtereenvolgens op:
- Die voorbereiding
- Die ontmoeting
- Die verhoging
1. Ahasveros soek dus ‘n nuwe koningin. Of meer korrek: sy raadgewers het hom geadviseer om na ‘n nuwe koningin te soek. Dit wil voorkom asof Ahasveros intussen spyt is oor sy besluit om Vasti af te dank; hy verlang na haar. Sy dienaars, wat dit opgemerk het, stel daarom aan hom voor om ‘n nuwe koningin te soek wat hom sal behaag. En vir dié doel stel die koning beamptes in al die provinsies van sy ryk aan om al die mooi jongmeisies bymekaar te maak in die hoofstad Susan. Daar word hulle versamel in die sogenaamde vrouehuis, onder die toesig van Hegai.
Ja, niks verhoed Ahasveros om so op te tree nie. As Oosterse diktator het hy absolute mag oor al sy onderdane en hulle besittings gehad, ook oor hulle dogters… U kan u self voorstel watter drama hom afgespeel het in baie huise en gesinne in daardie tyd. Sommige ouers het miskien geswel van trots dat hulle dogter na die koning ontbied is; in ander huise was daar waarskynlik groot hartseer as ‘n jongmeisie, wat reeds lief was vir ‘n jongman, moes hoor dat sy nooit met die liefde van haar lewe sou kon trou nie…
Ook Ester, die weeskind en niggie van Mordegai, word saamgeneem. Ester was skynbaar ‘n pragtige meisie, en sy ontkom daarom nie aan die speurende oë van die koning se verkenningskommissie nie. Hulle vat haar saam na die vrouehuis, waar sy onder die wakende oog van Hegai kom. Ons sien egter hoe die Here bewerk dat Ester Hegai se guns wen, sodat hy alles moontlik doen om haar kanse voor die koning te bevorder. Hy sorg in die eerste plek daarvoor dat Ester so gou moontlik met die verpligte skoonheidsbehandeling kan begin, verder sorg hy ook vir ‘n spesiale dieet, en ten slotte gee hy haar ook die sewe beste slavinne om haar te help in haar voorbereiding.
Ons sien dus, gemeente, dat daar tydsame voorbereiding nodig was om voor die koning te verskyn. Ten minste ‘n jaar lank! Want ons lees in vers 12 dat elke meisie vir ‘n jaar lank met skoonheidsmiddele behandel is. Die eerste ses maande was daar ‘n gereelde massering met mirre-olie, en die volgende ses maande met verskillende soorte balsem en ander skoonheidsmiddele. Deur hierdie behandeling het enige vlekkies op die vel verdwyn, en het die vel ‘n pragtige ligte kleur aangeneem. Vandag is dit in om mooi bruingebrand te wees, maar in daardie tyd was ‘n ligte vel die skoonheidsideaal.
Maar nou moet ons nie dink: “Heerlik, massering vir ‘n jaar lank” nie. Nee, dit was tydsame, harde werk, daar in die harem van die koning. Dit was voorbereiding onder groot spanning, want ná die jaar moes elkeen van die meisies voor ‘n wispelturige koning verskyn. Elkeen het hard gewerk om die beste voor die koning te lyk, om die beste moontlike indruk op hom te maak!
Gemeente, vergelyk dít nou met die voorbereidings van die volk in Exodus 19, toe hulle die Koning van hemel en aarde ontmoet het. Hoe lyk die voorbereiding vir die ontmoeting met die Koning wat nie maar ‘n deeltjie van die wêreld regeer nie, maar oor álles heerskappy voer? Besonder sober… Geen jaarlange skoonheidsbehandeling nie, geen massering met mirre-olie en balsem nie. Nee, Moses kry van die Here twee dae om die volk te heilig, om hulle aan die Here te wy. En hoe moet Moses dit doen? Deur die volk hulle klere te laat was (vers 10). Sober en sonder vertoon…
Hoekom so ‘n groot verskil, gemeente? Hoekom sien ons aan die een kant ‘n aardse koning met beperkte mag wat eis dat alles moontlik gedoen moet word om sy harem mooi te kry, en aan die ander kant sien ons die Koning van die wêreld wat eenvoudig vra dat sy volk hulle klere moet was? Wel, hier sien ons nou die dwaasheid van die mense teenoor die wysheid van God: die dwaasheid van Ahasveros wat toelaat dat uiterlike skoonheid hom beheers, teenoor die wysheid van God wat baie dieper delf. Want, gemeente, die skoonheid van God se volk lê nie in hulle uiterlike nie, maar in die hart! God vra van sy volk dat, wanneer hulle Hom ontmoet, hulle die binnekant sal heilig; dat hulle sal skoonmaak waar dit saakmaak. En natuurlik moet dit ook uiting vind na buite, natuurlik moet dit sigbaar word, en daarom dat die volk ook hulle klere moet was, maar dit begin in die harte! Híér wil God skoonheid sien, want híér wil Hy sy volk ontmoet – van hart tot hart!
En dit is die rede waarom Jesus in Mattheus 23:25-28 die leiers van die volk op hardhandige wyse ontmasker: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word. Wee julle, … want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.” Die Here Jesus het die harte van die leiers getoets, geweeg, en te lig bevind… Want Hy het dieper gekyk as hulle lewenswandel; Hy het gesien dat hulle lewenswandel geen egte weerspieëling was van die toestand van hulle harte nie.
Gemeente, dit is dieselfde God waarmee ons vandag te make het; ons is verbonde aan die God wat die harte toets en weeg, ons staan in ‘n verhouding met die God wat jy nie kan flous met uiterlike vertoon nie. Ondersoek daarom jou hárt! Toets wat hier binne leef! Leef hier binne die warm liefde en oorgawe vir die Here, die opregte begeerte om Hom te dien? Of gaan dit by jou slegs oor uiterlike vertoon? Miskien is hier binne-in jou slegs vasgeroeste antwoorde en tradisies? Miskien het die lewende water van die evangelie by jou intussen ‘n ysblok geword – dit ís daar, maar dit leef nie meer nie… Of miskien leef by jou weerstand teen die evangelie, maar hou jy intussen maar die christelike front voor omdat pa en ma dit so wil hê…
Broers en susters, wees eerlik met jouself, vra jouself maar die eerlike vrae… Hier in die hart wil die Here voorbereiding sien plaasvind vir elke ontmoeting met Hom, in besonder ons ontmoeting volgende week aan die nagmaalstafel. Want ons ontmoeting is nie in die eerste plek met mense, wat deur ons uiterlike vertoon geflous word nie; nee, ons ontmoeting is met die lewende God wat die harte deursoek, wat die binneste van elke mens toets. En dan soek God nie ‘n volmaakte hart nie, maar wel ‘n opregte hart; Hy soek die liefde vir Hom, Hy ondersoek jou bedoelinge, jou intensies, Hy wil hier binne sien wat jou motiewe is. En dan moet dit sigbaar word in die eenvoudige gehoorsaamheid – natuurlik! – maar dit begin in die hart. Begin jou voorbereiding dáár!
Ons let vervolgens op die ontmoeting.
2. Nou moet ons versigtig wees hoe ons Ester se deelname aan Ahasveros se skoonheidskompetisie beoordeel. Ons kan maklik oordeel dat sy ook slegs gefokus het op die uiterlike, dat sy ook slegs daarop uit was om die koning te beïndruk. En inderdaad is daar ‘n aantal dinge wat vrae oproep. Ons sien byvoorbeeld dat Ester, op bevel van Mordegai, nie haar Joodse afkoms bekend maak nie (vers 10). Gevolglik kan sy, wanneer Hegai haar op ‘n spesiale dieet plaas, ook geen beswaar hierteen maak, soos wat Daniël en sy vriende gedoen het nie. En ‘n mens sou die wysheid hiervan kon bevraagteken; ‘n mens sou kon vra of vleeslike berekeninge hier nie ‘n groter rol gespeel het as die vertroue op God nie. Maar voordat ons Ester (en Mordegai) afskryf, is dit goed om tog ‘n bietjie verder te lees.
Ons sien naamlik in vers 13 dat al die meisies, wanneer hulle klaar was met hul jaar se skoonheidsbehandeling, een vir een na die koning moes ingaan. Maar hulle het nie leëhande gegaan nie. Nee, om die koning se indruk van hulle nog verder te verbeter, is elke meisie toegelaat om vanuit die vrouehuis enige iets saam te vat wat sy wou. As ‘n meisie gedink het dat sy met hierdie rokkie en daardie oorbelle die meeste indruk op die koning sou maak, dan was sy vry om dit te vat; as sy gemeen het om met hierdie duur parfuum en daardie verleidelike nommertjie die koning se guns te kan wen, dan was dit hare… Geld het geen rol gespeel nie, dit skatkis van die koning het daarin voorsien. Wát ‘n verleiding vir hierdie jongmeisies: enige klere en sierade wat hulle wou hê, was hulle s’n.
Waarskynlik het heelwat van die meisies hulle aan smakelose oordadigheid skuldig gemaak. Alles moes immers gedoen word om die koning se guns te wen. Elke meisie het naamlik slegs een kans gehad. Teen die aand het so ‘n meisie na die koning se privaat kamer gegaan, om weer die volgende oggend daaruit te vertrek. Maar nou was die meisie nie meer ‘n maagd nie, want gedurende die nag het die koning nie slegs kennis met haar gemaak nie, maar ook geslagsgemeenskap met haar gehad. En daarom het sy nie na die vrouehuis, onder toesig van Hegai, teruggekeer nie, maar is sy oorgeplaas na ‘n ander afdeling van die harem, waar al die vroue gebly het wat al met die koning geslaap het. Hierdie byvroue het onder toesig gestaan van Saäsgas. In die meeste gevalle het ‘n meisie die koning ná daardie een nag nooit weer gesien nie. Sy kon slegs terugkeer as hy uitdruklik na haar gevra het. As sy egter geen indruk op hom gemaak het nie, dan was sy gedoem om die res van haar lewe doelloos in die harem te slyt… Slegs een kans, en daarom moes alles moontlik gedoen word om die koning te beïndruk!
En op hierdie punt blyk dat daar tog meer in die jongmeisie, Ester, sit as wat ons aanvanklik gedink het. Want ons lees in vers 15 dat Ester, toe dit haar beurt was om na die koning in te gaan, niks ekstra wou hê nie. Sy gaan dink nie watter klere sy wil aantrek en watter grimering sy wil aansit nie. Wel vra sy vir Hegai se advies. Daar was ten slotte min mense wat die koning so goed geken het soos hy. Maar vir die res doen Ester niks ekstra om die koning te beïndruk nie. En dan lees ons aan die einde van vers 15: “… en Ester het guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het.” En só, in haar eenvoudige skoonheid, is sy na koning Ahasveros gebring.
Gemeente, dit is dieselfde wat die Here van sy volk gevra het: geen oordadigheid in uiterlike vertoon nie, maar die eenvoudige reinheid/heiligheid van die hart. Die Here sê eintlik: “Ek soek julle harte, en ja, was dan ook julle klere; maar moenie poog om my met uiterlike vertoon te beïndruk nie, want geen uiterlike vertoon kan verbloem wat hier binne leef nie!”
Broers en susters, sonder om Ester as rolmodel voor te stel, is dit belangrik om die ingesteldheid te sien waarmee sy voor die menslike koning, Ahasveros, verskyn het. Geen uiterlike vertoon nie, geen pretensies nie; sy laat haar nie omvergooi deur die bedrywigheid van die ander meisies nie.
En laat ons daarvan leer wanneer ons die Here, ons Koning, ontmoet. Hoe dwaas sou dit wees om voor die Here te probeer verskyn met die gedagte dat jy Hom kan beïndruk; hoe dwaas sou dit wees om die kerk binne te stap met ‘n kleed van goeie werke en verdienste om jou skouers. Nee, gemeente, wanneer ons voor die Here kom, juis ook wanneer ons volgende week na die nagmaalstafel toe kom, dan doen ons dit nie met prag en praal en vertoon nie; dan kom ons nie met die houding asof ons die Here iets kan bied nie, dan probeer ons nie swakhede in ons mondering wegsteek nie. Soos die nagmaalsformulier so pragtig sê: “Ons kom tog nie na die nagmaal om daarmee te kenne te gee dat ons in onsself volmaak en regverdig is nie. Inteendeel, ons erken juis noudat ons ons lewe buite onsself in Christus soek, dat ons midde in die dood lê.” Ons krag, broers en susters, lê juis dáárin dat ons alle selfgemaakte hulpmiddele afgooi en in die eenvoud van die geloof kom om Christus ons Verlosser te eet en te drink; ons redding lê daarin dat ons nie self die redding probeer aandra nie, maar dat ons na die redding toe gaan, dit aangryp in eenvoudige geloof. Heilig daarom die harte, ondersoek die binneste, maar moenie jouself mooier probeer maak as wat jy is nie; hier by die nagmaalstafel word jy mooi in Christus, jou Here!
En gemeente, ons Koning is nie een wat ons, nadat ons eenmaal voor Hom verskyn het, weggooi en nooit weer na ons kyk nie. Terwyl Hy wel die reg daartoe het! Niks in hierdie meisies het koning Ahasveros die reg gegee om hulle soos vuilgoed weg te gooi nie, wat ‘n verwoesting van jong menselewens! Alles in ons, egter, gee aan God die reg om ons vir ewig in die hel te gooi. Maar vir dié wat in totale afhanklikheid by Hom kom skuil, bewys Hy Homself ‘n genadige God. Hy neem ons op in sy Koninkryk, Hy verhoog ons, Hy gee ons eer – deur die verdienste van Christus. Kom proe dit volgende week in die brood en die wyn.
Ons let ten slotte op die verhoging.
3. Ons lees in vers 17: “En die koning het Ester liefgekry meer as al die vroue, en sy het guns en welwillendheid voor hom gevind meer as al die jongmeisies; en hy het die koninklike kroon op haar hoof gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti.” Ester styg bo al die ander meisies uit; sonder blink klere en juweliersware vind sy guns by die koning, en word sy tot koningin verhoog; sy word dus geen onbenutte byvrou êrens in die koning se harem nie, maar sy word die geliefde van die magtigste man van daardie tyd.
Gemeente, ons moet raaksien watter belangrike plek hierdie gebeurtenis in die heilsgeskiedenis, die geskiedenis van God met sy volk, inneem. In ‘n bybelboek waarin die Naam van God nie een keer genoem word nie, sien ons God tog op wonderbaarlike wyse aan die werk om die toekoms van sy volk te verseker. U ken die verhaal wat hierna gaan volg in die boek Ester: Mordegai wat nie voor Haman wil buig nie, Haman wat as gevolg daarvan volmag van die koning kry om alle Jode uit te roei, Ester wat haar posisie as koningin gebruik om vir haar volk op te kom, Haman wat aan sy eie paal opgehang word, en die Jode wat toestemming kry om hulleself teen hul vyande te verdedig. Gaan lees maar weer ‘n slag hierdie boek as geheel deur, en sien hoe die verskillende gebeure by mekaar aansluit.
Dit gaan hier dus nie in die eerste plek oor Ester nie; sy is nie maar die wenner van die mejuffrou Persië kompetisie nie. Nee, Ester word deur Gód verhoog ter wille van die voortbestaan van sy volk. Die volksbestaan van Israel was in gedrang deur die bedreiging van Haman, die vervulling van God se beloftes het gevaar geloop om verydel te word, die heil was op die spel. En dáárvoor skakel die Here vir Ester in – sy mag ‘n skakel wees in God se plan, sy mag as koningin by die koning gaan pleit dat die Jode nie uitgeroei word nie, sy word verhoog sodat die weg na die Messias oopbly! En daarom mag ons uit haar optrede lering trek, maar altyd binne die groter prentjie van Godse heilsplan.
Gemeente, honderde jare later word ‘n ander vrou ook ingeskakel, ook verhoog – nie as koningin nie, maar wel as die moeder van die Koning. En dan sing sy ‘n lofsang wat net so goed uit die mond van Ester kon gekom het: “My siel maak die Here groot en my gees is verheug in God my Saligmaker; omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het. Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy naam… Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog… Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink…” (Luk. 1:46-56).
So getuig Maria dat God die bewerker van die verlossing is, dat Hy die weg van die heil bepaal, selfs tot in die paleise van die heersers van hierdie wêreld. En hoe sien ons dit nie in Ester se geval nie… God het daarvoor gesorg dat die weg na die Verlosser oopgebly het, God het bewerk dat die verlossing deurgang kan vind, en dat ons daarin mag deel. Ons, vandag, is geen Ester en geen Maria nie, maar in Christus word ook ons verhoog! Verhoog tot die hoë posisie wat ons oorspronklik in die skepping beklee het, verhoog tot beelddraers, mense wat die heerlikheid van ons God mag weerspieël. Ons mag die volk van God wees, sy eiendom uit die hele mensdom, soos die Here in Exodus 19:5 vir Moses sê. Maar, gemeente, dan vra God dat ons werklik aan Hom sal behoort, werklik Hom sal liefhê met alles wat ons is en het, dan vra Hy ons hart. En dan hoef ons nie onssélf te verhoog deur by God op te daag met ons goeie werke en verdienste nie; nee, dan kom ons na Hom toe met die verdienste van Christus; in Hóm word ons verhoog, in Hóm lê ons redding!
Gemeente, laat ons in die komende week deeglik voorberei om die nagmaal te kan vier, om die brood en wyn uit die hand van die Gasheer self te kan ontvang. Ondersoek u lewe, wat dryf u, waar lê jou hart? Lees as familie, of op jou eie, die nagmaalsformulier; kyk na wat die Here van jou eis; toets jou lewe aan die lys van sondes wat daarin genoem word. En slegs dán is jou selfondersoek geslaagd, wanneer dit jou dryf om na die kruis van Christus te vlug, wanneer jy jouself na die nagmaalstafel haas omdat jy die liggaam en bloed van Christus so nodig het. Was dan jou klere en maak dit wit in sy bloed. Dan mag ons – soos Johannes sê in Openbaring 7:14-17 – God in sy tempel dien, dag en nag. En God sal sy tent oor ons oopspan. Ons sal nie meer honger en dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op ons val nie; want die Lam sal ons laat wei en ons na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van ons oë afvee!
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings – in vandag se erediens wil ons op verskeie punte stilstaan by die groot Reformasie van die 16e eeu wat ons komende Dinsdag, 31 Oktober, weer gedenk. Ons vertrou dat die Here hierdie erediens sal seën.
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 136:2, 19 en 20
Wetslesing (vir ‘n lang tyd het Luther gedink dat hy die wet van God moes nakom om daarmee verdienste voor God te bewerk. Totdat hy vanuit die boek Romeine verstaan het wat die geregtigheid van God beteken. Ons lees in Romeine 3:21 e.v…).
Sing Ps. 94:1, 6 en 8
Gebed
Lees: Exodus 19:14-18, Lukas 1:46-56
Ester 2, teks spesifiek verse 12-17
Sing Ps. 46:1, 3 en 6 (die bekende psalm wat deur Luther berym is)
Preek
Amenlied Skr. 1:1, 2, 4 en 6
Gebed
Kollekte (Die reformatore het radikaal gebreek met die Roomse gedagte dat die offergawes sou kon bydra tot die versoening tussen God en ons; by Calvyn het die kollekte die karakter van ‘n dankoffer aangeneem om aan God dank te bewys vir die verlossing. Op so ‘n manier wil ons ook ons kollektes aan die Here wy)
Slotsang Ps. 66:2, 4 en 8
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)