Volg Jesus op sy reis!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-11-05
Teks: 
Lukas 9
Preek Inhoud: 

Lukas 9:57-62

Ds HH van Alten - Sondag 5 November 2006 - Nagmaalsviering & Belydenisaflegging

Lees: Lukas 9:51-62, Lukas 9:57-62
Sing: Sien liturgie

Tema: Volg Jesus op sy reis!

  1. Hierdie reis lei na die hemelryk
  2. Hierdie reis laat die dood agter vir die lewe
  3. Hierdie reis beteken die beste sorg vir ander

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Lukas 9:51 is ‘n belangrike skarnierpunt om die struktuur van Lukas se evangelie goed te begryp. Ons lees daar: “En toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis.” Vóór hierdie vers was Jesus voortdurend in die noorde van Israel besig om sy werk te doen; vanaf vers 51 egter rig Hy sy aangesig om na Jerusalem te reis waar Hy uiteindelik gekruisig sou word. En die hele gedeelte vanaf 9:51 tot rofweg hoofstuk 19 is ‘n beskrywing van daardie reis. Een lang reisbeskrywing! Jesus se uitsprake in ons teks (verse 57-62) word dus uitgespreek aan die begin van hierdie reis.  

Nou is dit opvallend om te sien dat hierdie selfde uitsprake in Mattheus se evangelie op ‘n ánder tydstip ‘n plek kry. Maar, interessant genoeg, ook in ‘n reis-situasie! Ons lees in Mattheus 8:18: “En toe Jesus groot menigtes rondom Hom sien, het Hy bevel gegee om te vertrek na die oorkant” – en dan volg basies diesélfde gesprek as in ons teks. Dit is dus nie heeltemal duidelik in watter konteks Jesus oorspronklik hierdie uitsprake gemaak het nie, maar wat wel duidelik is, is dat Jesus hierdie uitsprake telkens in reis-situasies gebruik. En dit het te make met die aard van hierdie uitsprake, want dit gaan daarin oor die bereidheid om Jesus tydens sy reis te volg. Jesus gee dus, by ten minste twee geleenthede, wanneer Hy op die punt staan om op reis te gaan, aanwysings vir elkeen wat sy volgeling wil wees. Ons wil vandag op hierdie aanwysings let.

Tema: Volg Jesus op sy reis!

  1. Hierdie reis lei na die hemelryk
  2. Hierdie reis laat die dood agter vir die lewe
  3. Hierdie reis beteken die beste sorg vir ander

1. By die gelowiges wat, hier in Lukas 9, oppad is om saam met Jesus na Jerusalem te trek, is daar nog groot onduidelikheid oor die einddoel van hierdie reis; dus, wat presies die doel van Jesus se reis is, weet hulle nie. Dit blyk al net hiervoor in Lukas 9:44 en 45: daar kondig Jesus sy komende lyding aan, maar – so lees ons in vers 45 – “hulle het hierdie woord nie verstaan nie, en dit was vir hulle bedek, sodat hulle dit nie sou begryp nie…”

Maar alhoewel hulle die einddoel van sy reis nie verstaan nie, is daar tog een onder sy volgelinge wat byvoorbaat al sê dat hy Jesus sal volg, waar Hy ook mag gaan! Hy weet dus nie waarheen Jesus gaan nie, maar kom wat wil, hy gaan saam! Jesus se antwoord op hierdie lojaliteitsbetuiging is veelseggend: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.” Nou moet ons nie dink dat Jesus hier kla omdat Hy geen onderdak het nie – slegs by uitsondering is aan Hom onderdak geweier, soos in die geval van die Samaritane in vers 53.   

Nee, Jesus kla hier nie oor die onderdak wat Hy ontvang het nie, maar Hy wys wat die program van sy lewensreis is, Hy wys wat sy reisplan is! Hy wys vir sy volgelinge dat Hy Homself nie hier op aarde ‘nestel’ nie. Hy is immers “die Seun van die mens”, die seun van Adam – Hy moet buite die paradys rondswerf oppad na die dood as straf op die sonde van die mens; dit is deel van sy taak as tweede Adam om te sterf sonder ‘n rusplek (Hy het selfs nie ‘n graf gehad nie, hulle moes Hom uiteindelik neerlê in die graf van ‘n vreemde).

En, gemeente, nadat Hy hierdie taak voltooi het – dus deur die dood heen – is die einddoel van sy reis steeds nie hier op aarde nie. Sy eindbestemming lê verby hierdie lewe, verder as hierdie aarde waar mense hulself ‘nestel’ in huise en paleise, in rykdom en weelde, in aardse genot en plesier. Nee, Jesus is oppad na sy opneming in die hemelse heerlikheid (dit is ook waarop vers 51 dui). En wat sy lojale volgeling dus baie goed moet besef, is dat volgelinge van Jesus Christus bereid moet wees om in diens te staan van ‘n Heer wat verder reis as die jakkalse en die voëls. Jesus skiet nie die bereidheid van sy volgeling af nie, maar Hy laat hom deeglik besef wat dit alles behels om Hom te volg, want Hy reis deur die dood heen na die hemel!  

Julle het vanoggend bely dat julle bereid is om die Here te volg waarheen Hy ook al gaan. Jesus skiet dit nie af nie; inteendeel, vanoggend is daar fees in die hemel oor hierdie belydenis, maar besef waarheen julle Heer julle vat. As ons Jesus Christus wil volg, dan moet ons enige verknogtheid aan hierdie aarde afsterf, dan moet jy jou ou lewe afsterf, dan moet jou lewe hier nie belangriker wees as jou lewe in Christus nie, want dan is jou eindbestemming nie meer hier op aarde nie; nee, wie Jesus Christus volg, se eindbestemming is in die ryk van die hemel.

En besef dan ook baie mooi hoe jy daar kom. Want Petrus was ook bereid om Jesus te volg, hy sê in Johannes 13:37 selfs dat hy sy lewe vir Jesus sal gee. En dan antwoord Jesus: “Sal jy jou lewe vir My gee? Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou, die haan sal sekerlik nie kraai voordat jy My drie maal verloën het nie.” Hoe bereik ons dus die einddoel van die reis? Nie deur eie krag nie, broers en susters, nie deur óns belydenis dat ons ons lewens vir Jesus Christus sal aflê nie; nee, ons bereik dit slegs deurdat Hy sy lewe vir ons afgelê het. Kom daarom na die nagmaal! Kom eet die brood en kom drink die wyn, die liggaam en bloed wat Christus vir ons afgelê, kom kry die padkos vir die reis na die hemelse heerlikheid!

Ons let vervolgens daarop dat hierdie reis die dood agterlaat vir die lewe.

2. Jesus is skaars klaar om met die een volgeling te praat, hom te onderrig oor die einddoel van die reis, of ‘n ander volgeling kry die opdrag: “Volg My.” Die man, wat deur Jesus aangespreek word, is enige tyd bereid om hierdie opdrag te gehoorsaam, maar al wat hy vra is of hy nog die begrafnis van sy pa kan gaan bywoon. Ons moet hier nie, soos sommige, dink aan ‘n periode van langer as ‘n jaar waartydens die bene vanuit die tydelike graf in die permanente graf oorgeplaas is nie; ons moet ook nie dink dat die man die afsterwe van sy pa nog wil afwag nie. Nee, hy vra slegs ‘n enkele dag verlof vir ‘n begrafnis, en daarna is hy volledig beskikbaar om Jesus te volg.

In die lig hiervan is die Here se antwoord skokkend: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe…” Dus: laat die dooies vir hulleself sorg. Duidelik is dat die man hierdie begrafnis maar moet laat vaar. En daarmee beveel Jesus iets wat haaks staan op die sedes van daardie tyd, sowel binne as buite Israel. Vir Jode en heidene was dit naamlik ‘n ereplig om vader en moeder te begrawe. Alle ander pligte is vir ‘n wyle opsy geskuif om aan hierdie plig te kan voldoen. Maar nou sê Jesus vir sy volgeling dat hy hierdie primêre kinderplig opsy moes skuif vir iets anders…

Gemeente, vir die dissipels is hierdie woorde van Jesus hard, maar dit dwing hulle tot ‘n keuse: óf Jesus vra hier onmenslik baie, óf Hy het goddelike volmag om dit te kan vra. Hierdie woord van Jesus is slegs aanvaarbaar wanneer Hy die Messias sélf is, die Seun van God! En indien dít die geval is, dan spreek uit hierdie woorde van die Here, wat soveel siekes genees het en dooies opgewek het, geen ongevoeligheid nie, maar iets anders! Dan spreek uit hierdie woorde van die Here Jesus ‘n triomfantlike en hoopvolle stemming! Vir Jesus word die dood onbelangrik, ‘n stadium wat agtergelaat kan word. Teenoor die dooies wat mekaar maar moet begrawe, staan die lewendes wat vir mekaar die lewe mag gee – en daarom kry hierdie man ook die opdrag van Christus om uit te gaan en die koninkryk van God te gaan verkondig. Teenoor die groot begrawer – die dood – staan Jesus Christus wat na die lewe lei! Wie agter Jesus Christus aan die reis aanpak, word vanaf die graf weggelei en kom uiteindelik saam met die Seun van God op ‘n begraafplaas-lose nuwe aarde!  

Waarskynlik het Jesus se volgelinge hierdie raaiselagtige uitspraak eers ten volle verstaan die dag toe hulle gesien het dat die graf, waarin Jesus neergelê is, leeg is. Broers en susters, ons mag vanuit húlle getuienis weet dat Jesus Christus opgestaan het uit die dood, die dood oorwin het. Elkeen wat Hom vandag navolg, moet homself daarom nie meer besighou met die dood nie, nie meer fokus op die dood nie.

Natuurlik begrawe ons ons geliefdes, maar ons doen dit as mense wat die lewe verwag vir ons gestorwe geliefdes. Natuurlik, as Christus nie binnekort terugkom nie, sal ons ook sterf, maar ons sterf as mense wat kan getuig dat ons die lewe ontvang het! En ons kon dit, by die afgelope gemeentevergadering, pragtig sien – hoe die eerste christene hulle grafte in die katakombes laat beskilder het met bybelse taferele wat hulle verwagting van die opstanding en die ewige lewe uitgebeeld het. Lewe – deur die graf heen!

Gemeente, ons lewensrigting is nie meer een wat lei na die dood nie; nee, ons lewensrigting is agter die Lewende aan. Ons laat die dood agter vir die lewe! In julle openbare geloofsbelydenis, spreek julle daarom ook uit dat julle vandag vir die lewe kies. ‘n Pragtige keuse. ‘n Pragtige belydenis: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” Gaan verkondig dit nou ook, gaan verkondig dat ons Here leef, dat ons nie die vlees en bloed van ‘n dooie eet nie, maar van die Lewende! Gaan verkondig die Koninkryk van God, wees lewende getuies in jul reis agter Christus aan!

Ons let ten slotte daarop dat hierdie reis die beste sorg vir ander beteken. 

3. Daar is ook nog ‘n derde volgelinge wat sy lojaliteit teenoor Jesus uitspreek. Hy is bereid om Jesus as sy Heer te volg. Hy is selfs bereid om afskeid te neem van almal in sy huis. Gesin en familie word agtergelaat vir die groot reis wat nou onderneem gaan word. Al wat hy vra is dat hy afskeid kan gaan neem van sy geliefdes. Jesus se antwoord is nog skokkender as in die vorige geval: die man kry geen verlof om afskeid te neem nie, hy mag selfs nie terugkyk na wat agter hom lê nie.

Ons weet vanuit die evangelies dat Jesus altyd positief geoordeel het oor sorg vir ouers en familie. Hoewel hierdie woord dus kru klink, kan dit in die mond van Jesus nie beteken dat Hy minagting van eie familie voorstaan nie. Wat beteken dit dán? 

Wel, Jesus vergelyk ‘n volgeling van Hom met iemand wat op die punt staan om te begin ploeg. Iemand wat begin ploeg, moet nie die hele tyd terugkyk nie, maar moet konsentreer op wat voor hom is. Anders gaan hy niks gedoen kry nie, anders gaan hy uiteindelik nie kan saai en oes nie, en dan gaan hy ook nie sy gesin kan onderhou en versorg nie. Die beste manier hoe hierdie ‘boer’ sy liefde vir sy gesin kan wys, is nie deur die hele tyd agtertoe te kyk na hulle nie, maar deur te konsentreer op sy werk, vooruit te kyk, sodat hy uiteindelik kos op die tafel kan bring.

En so is dit ook met dié wat Christus op sy reis volg. Hierdie reis lei na ‘n doel wat al ons gedagtes in beslag neem. En daarom moet ons volledig konsentreer op die reisdoel, juis ter wille van ons geliefdes. Jesus maak hier dus geen teenstelling tussen aandag vir geestelike dinge, en sorg vir die aardse dinge nie. Nee, wie ploeg, doen dit immers uiteindelik in belang van sy gesin by die huis. Nou ja, dieselfde geld vir die gelowige wat op die reis agter Christus aangaan: hy vestig álle aandag op Hom, ook ter wille van die toekoms van sy geliefdes. Om vorentoe te kyk, om jouself op Christus te konsentreer, is die beste en belangrikste wat jy kan doen vir almal wat agter jou staan!   

En daarom, broers en susters, julle wat vanoggend belydenis afgelê het: oefen julleself om vooruit te kyk na die doel van julle reis; fokus julleself op Christus wat alreeds die doel bereik het; konsentreer jouself – in bybelstudie en gebed, deur middel van die prediking en gesprekke – op die Koninkryk van God! Só doen jy jou geliefdes ‘n groot guns, want só vat jy jou geliefdes saam op die reis na die hemel, hetsy dit jou man of jou vrou, jou kinders, jou vriende, miskien selfs jou ouers, is. Rig jou aandag verby hierdie lewe op die ewige lewe – slegs só kry hierdie lewe sin, slegs só word hierdie lewe nuut 

Gemeente, moenie die reis agter Jesus Christus aan ligtelik vat nie. Dit is ‘n reis wat keuses vra, keuses soos wat julle vandag gemaak het. Dit is ‘n reis wat alles van jou vra, jy kan dit nie halfhartig doen nie. Maar dit is ‘n reis met soveel wins! Dit is die moeite werd om op reis te gaan agter Christus aan, dit is regtig die moeite werd. Jy wen uiteindelik deur God se genade die lewe! Hou mekaar op die reispad, hou hierdie jongmense op die reispad, en julle: hou ook ons op daardie pad.

Amen

Liturgie (oggend)
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.
Sing Ps. 62:1, 5 en 8
Gebed
Openbare belydenis van geloof aflegging
Sing hulle toe (staande): Ps. 134:3 en 4
Lees: Lukas 9:51-62 (teks vv. 57-62)
Preek
Sing Ps. 27:4-6
Kort Nagmaalsformulier (verwerk wet hierin)
Terwyl die tafel in gereedheid gebring word, sing ons Ps. 23:3 (2de beryming)
Viering van die nagmaal

  • Eerste tafel – Ps. 145:1-3
  • Tweede tafel – Ps. 145:5-7
  • Derde tafel – Ps. 145:10-12

Voltooi formulier & dankgebed
Kollekte
Slotsang Ps. 150
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
Oorhandiging van boekies

Liturgie: 

(kyk in preek)