Christus is die vervulling van die seremoniële wet

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-08-20
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 25
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 25

Ds C Kleijn - Sondag 20 Augustus 2006

Lees: Galasiers 3:15-4:11; Nederlandse
Geloofsbelydenis, Artikel 25.
Sing: Ps 31:1,3,5; Ps 46:1,6 (na belydenis); Ps
132:9-11; Ps 40:3,4; Ps 40:5,8.

Tema: Christus is die vervulling van die seremoniële
wet

  1. die karakter van die seremoniële wet
  2. die einde van die seremoniële wet
  3. die blywende waarde van die seremoniële wet

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die voorgaande artikels het dit gegaan oor Christus se werk
van versoening, regverdiging en heiliging. In die volgende
artikel sal dit gaan oor Christus se werk as voorspraak. Waarom
dan daartussen hierdie artikel oor die Ou Testamentiese wette en
seremonies? Pas dit hier wel? Wanneer jy goed let op die
voorgaande artikels, dan sal ontdek dat dit daar gaan oor die
genoegsaamheid van die offer van Christus. Hy het daarmee alle
geregtigheid vervul. Daarom tel my goeie werke nie mee nie. Die
goeie werke is net vrugte van Christus se werk. Ek mag volkome
rus vind in die werk wat Christus vir my gedoen het. Die werk is
klaar en dit is voldoende. Hier kom dan ons artikel in die
prentjie: Christus se versoeningswerk aan die kruis was so
kompleet dat die offers en seremonies van die Ou Testament
heeltemal vervul is. Ons het geen offers en geen priesters meer
nodig nie. Met hierdie artikel onderstreep ons dus die
genoegsaamheid van Christus se werk.

Dis duidelik dat hierdie artikel die Rooms Katolieke leer en
praktyke aanspreek. In die Rooms Katolieke erediens word allerlei
seremonies uit die tyd van die Ou Testament in stand gehou. Kerke
word tot heilige plekke en priesters tot heilige persone gewy;
heilige handelinge word verrig in die bring van die misoffer, en
in allerlei reinigings en wydinge; dan is daar allerlei vasdae en
baie feesdae oftewel heiligedae. Vandaar die engelse term
holidays. Daarbo het hulle nog baie meer seremonies toegevoeg
soos die brand van kerse, die slaan van ’n kruisteken,
rosekrans gebede, beeldeverering ens. Hulle het teruggekeer tot
’n soort Jodendom wat Christus juis afgeskaf het.

En broers en susters, moenie dink dat dit alles ver van ons af
wegstaan nie. Daar is onder Christene voortdurend die neiging om
houvas te soek in allerlei seremonies en rituele. Uiterlike
seremonies en rituele (dat jy sekere dinge op ’n sekere
manier doen) gee mense dikwels ’n vertroud en veilig gevoel.
Die vastheid word dan in die ritueel gesoek en nie by Christus
nie.

Ek verkondig vir julle die tema van ons artikel: Christus is
die vervulling van die seremoniële wet

  1. die karakter van die seremoniële wet
  2. die einde van die seremoniële wet
  3. die blywende waarde van die seremoniële wet

Wat bedoel ons met die seremoniële wet? Die wette word
dikwels onderskei in wette aangaande heilige plekke (die
tabernakel en tempel), heilige persone (priesters en leviete),
heilige handelinge ( die offers, reiningingswette, spyswette,
besnydenis) en heilige tye ( die sabbat en sabbatsjaar, die
jubeljaar, Paasfees, Pinksterfees, die groot versoendag, die
huttefees).

Ons artikel praat van die seremonies en heenwysings van die
wet. Daarmee word verwys na die uitgebreide tempelgebeure rondom
die rokende altaar en offerende priesters. Hulle word heenwysings
genoem en voorafskaduwing. Met hierdie voorafskaduwing word
skaduwee-beelde bedoel: hulle beeld ’n werklikheid uit wat
aan die kom is. Die Bybel self gebruik hierdie beeldspraak. In
Kolossense 2:17 lees ons dat die ou voorskrifte (oor eet, drink
en feesdae) slegs “’n skaduwee is van die toekomstige
dinge, maar die liggaam (die werklikheid) behoort aan Christus.”
Die seremoniële wette is een en al skaduwee. Dit maak dit nie
waardeloos nie, maar jy moet wel besef dat die werklike waarde in
die toekoms lê. Dis ’n skaduwee van die toekomstige dinge,
die toekomstige heil in Christus. So word in die brief aan die
Hebreërs (8:5 en 10:1) die wet ’n skaduwee van die
toekomstige weldade genoem en van die priesters gesê dat hulle
’n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge bedien. Daar
word beskrywe hoe die Hoëpriester, een maal per jaar, op die
Groot Versoendag, in die Allerheiligste van die Tempel ingegaan
het, om so na God te gaan (Hebr. 9:1-10). Dit was ‘n swak
afskaduwing van wat Christus eendag sou doen, want Hy sou net
‘n eenmalige offer bring. En Hy het ook na God gegaan in die
Hemel en mog daar vir altyd bly, sodat Hy vir ons ‘n ewige
verlossing sou verwerf (Hebr. 9:11,12). Die skaduwee-beelde van
die seremoniële wet het, so te sê, ’n pragtige skildery
gevorm. Dit het aan Israel aanskoulike onderwys gegee oor die
versoening met God deur Christus.

Hierdie hele skaduwee-agtige wette of seremonies, wys dus na
Christus. Christus is die eintlike Priester en die enigste Offer
wie se bloed van alle sondes reinig (Hebr. 10:11-14). Met Hom het
die Jubeljaar werklik begin (Luk. 4:21) en Hy is die ware Paaslam
(1 Kor. 5:7). So was die Sabbat ’n skaduwee van die rus wat
Christus sou kom gee en die spyswette ’n skaduwee van die
reinheid van die lewe deur Christus.

In die Ou Testamentiese erediens het die versoening wat
Christus sou kom bring, sentraal gestaan, hoe dit sou gebeur,
maar ook wat die versoening sou beteken: naamlik die vrede met
God. Juis in die seremoniële wette kom sterk tot uitdrukking
hoeseer die wet ook evangelie is. God se Ou Testamentiese volk is
daardeur voorberei op en gelei na die koms van Christus.

Gemeente, hierdie seremoniële wette was nie net beelde van
die versoening in Christus nie, dit het die Jode ook daarvan
verseker dat daar vir hulle versoening was. Die gelowiges van die
Ou Verbond mog daarop vertrou dat daar by die Here vergewing was
en dat Hy hulle lewe sou heilig, net so seker as wat die bloed
van die offerdier gevloei het en die reiniginge plaasgevind het.
Hulle is egter ook voortdurend daarop gewys dat nie die offers en
wassinge self dit bewerk nie. Net deur geloof in God se beloftes,
in God se beloofde Verlosser, sou hulle die voorafgebeelde heil
verkry.

In Rom 10: 4 word Christus die einde van die wet genoem. Wil
jy die betekenis van die wet reg ken dan moet Christus ken. Jesus
Christus en die wet het alles met mekaar te doen. Wat was die
doel van die wet? Om ons as ‘t ware aan die hand na Jesus
Christus te lei. So lees ons in Gal 3:24: "Die wet was dus
ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word
uit die geloof." Alles wat die wet leer, alles wat dit
beveel, alles wat dit belowe het Christus tot doel. In al sy dele
sien die wet op Christus. Niemand kan dus die wet buite Christus
verstaan nie. As jy dit doen, doen jy tekort aan die waarheid van
die wet. In Joh 5:46 sê Jesus Christus tot die Jode: "Maar
as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My
geskrywe." Dit is telkens die probleem met die Jode. Hulle
hanteer die wet as ’n selfstandig geheel, los van die
Wetgewer, wat die Verlosser van sy volk is. Hulle misken God se
bedoeling met die wet. Hulle wil nie weet van Jesus Christus nie.
Daarom oorskat hulle hulself en soek hulle ’n eie
geregtigheid. Hulle dink dat hulle hul geregtigheid deur hul
gehoorsaamheid aan die wet moet verdien. So word die wet oorskat
en gesien as die pad van selfverlossing. So word die wet ’n
harde, ondraaglike juk. Daarom se Paulus van die Jode dat hulle
die wet van geregtigheid nie bereik het nie ook al het hulle dit
nagejaag (Rom 9:31).

Laat elkeen die wet dan na Christus toe uitlê. Anders kry jy
dat die OT as wet en die N.T. as evangelie gesien word. Asof
mense in die O.T. deur die wet gered kon word en ons in die N.T.
deur genade gered word. Dit is in stryd met die Skrif.

Kyk maar na die Skrifgedeelte wat ons uit Galasiërs gelees
het. In die gemeentes van Galasië was daar Judaiste wat die
seremoniële wet na die koms van Christus wou handhaaf. Hulle het
gesê: Dis waar dat God aan Abraham heilsbeloftes gegee het. Maar
hoe kan jy die beloofde heil ontvang? Net op een manier, naamlik
deur die wette van Moses te onderhou.

Dis waarteen Paulus in sy hele brief aan die Galasiërs skryf.
Paulus benadruk dat die belofte van verlossing net deur die
geloof vervul word. Maar wat dan van die wette wat God soveel
honderde jare na Abraham aan Moses gegee het? Waarom het God dit
by die belofte, wat Hy aan Abraham gegee het, gevoeg? Het die
wette daarmee nie bo die beloftes voorrang gekry nie? Beslis nie,
sê Paulus. Die verbond met sy beloftes bly staan. Dis die
uitgangspunt van God se handelinge met sy volk.

Die wet is bygevoeg weens die oortredinge, sê Paulus. Dit is
nie maklik om net van beloftes te lewe nie. Daarom het God sy
volk omtuin deur die wet en hulle so van die heidene afgesonder.
Dis so maklik om die grense te oorskry. Daarom word die grense
skerp afgebaken. God sit sy Ou Testamentiese volk onder ’n
dwangbuis van voorskrifte, onder ’n strenge tugmeester. Die
wet het Israel onder strenge tug geplaas. Alles is voorgeskryf.
Alles moet streng gehoorsaam word, anders kom daar strawwe, soms
baie sware strawwe, tot die doodstraf toe. Op daardie manier wou
God met die wet sy volk vir afval bewaar, vir die terugval in die
heidendom, vir afval van die ware geloof. Israel was as kerk
’n jonge kerk. Nou, kinders moet jy met gebooie en verbooie
omring, anders loop dit verkeerd met hulle.

Bowendien wil God aan die jonge kerk duidelik maak dat die weg
van die wet nooit die weg van verlossing kan wees nie. Negatief
moet die wet Israel leer dat die mens in sy sonde en eiewaan die
pad tot die heil nie oopsluit nie, maar eerder versper. Die wet
kan absoluut nie as weg tot die heil dien nie. Daarom beteken die
wet op homself die doodsvonnis vir die mens. Die wet roep om
iemand anders wat wel die wet kan volbring, die mens Jesus
Christus. So is Christus die einde of doel van die wet. Alles
roep om die Christus en vind in Hom sy vervulling. Positief moet
die wet Israel dus leer om na Christus te vlug. Juis die strenge
wet sny die hoop op ’n ander verlossing as Christus radikaal
af. So verstaan ons Gal 3:24: “die wet is dus ’n
tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit
die geloof.

Gemeente, die wet het die Ou Testamentiese kerk dus onder
strenge tug gehou tot die koms van Christus. Na die koms van die
Christus, die inhoud van die geloof, is ons nie meer onder
’n tugmeester nie. Deur die volheid van Christus se Gees is
die kerk geen kind meer nie, maar volwasse. Die seremoniële wet
het vir ons sy krag verloor. Die tallose seremonies en
heenwysings geld nie meer nie. Dink aan die voorskrifte van rein
en onrein, insake die erediens in tabernakel en tempel. Die
seremoniële wet het sy tyd gehad tot die Pinksterdag. Paulus sê
ook nadruklik dat die wet ons tugmeester tot Christus was (verlede
tyd). Die funksie van die wet was net tydelik, vir die Ou
Testamentiese kerk tot Pinkster. Ons hoef nie meer te leef onder
gebod op gebod en reël op reël nie. Ons is vry in Christus.

Nee, dit het niks met losbandigheid te doen nie. Wanneer jy
volwasse word en nie meer onder reëltjies gehou word nie, word
verwag dat die wet in jou hart geskrywe is. So moet dit in die
Nuwe Verbond by ons wees: Vry van die wet as tugmeester, omdat
Vader se heilige wil nou van binne uit, vanuit my hart, my lewe
beheers. Juis daarin blyk my mondigheid en volwassenheid van die
geloof.

Gemeente, ons artikel is baie reguit as dit gaan oor die vraag
of hierdie afskaduwing nog moet aanhou. Dit word op drie maniere
ontken: die seremonies het “opgehou”, dit het “tot
‘n einde gekom” en daarom moet dit “onder die
Christene afgeskaf word.” Die Bybel dui self die offisiële
beëindiging van die wettige tempeldienste aan, deur die
wonderlike skeuring (van bo na onder) van die tempelgordyn. Dit
was tydens die sterwe van Christus (Matt. 27:51). Dat God self
die ou voorskrifte opgehef het, word bewys in Sy bevel aan Petrus
om van die onrein diere te eet (Hand. 10:9-16).

Die skaduwee-beelde word nie sommer afgeskaf nie, maar het
plek gemaak vir Hom wat afgebeeld word: Christus. Dit het onnodig
geword, omdat Christus in Eie Persoon verskyn het. Christus self
het die versoening tot stand gebring, wat eers deur die
seremonies uitgebeeld is. Dan verlang jy tog nie terug na die
beelde nie? As jy die ou seremonies tog wil handhaaf en na die
prentjies wil bly kyk, dan ignoreer jy vir Christus self en
beledig jy Hom. Daarom het Paulus die Christene van Galásië
skerp verwyt, omdat hulle die voorskrifte van Moses, hoofsaaklik
die besnydenis, wou handhaaf. Paulus beskuldig hulle daarvan, dat
hulle hul laat verlei het “na ‘n ander evangelie toe,
terwyl daar geen ander is nie” (Gal. 1:6,7). In hoofstuk 5:2-4.
skryf Paulus: (LEES DIT). As jy vir jou sieleheil die seremonies
wil handhaaf, dan verloor jy Christus, dan het Christus vir jou
geen nut nie en dan het jy jou losgemaak van Christus. Ernstige
woorde. Daarom verklaar ons artikel drie keer dat daardie
voorafskaduwing verby is. Dit gaan hier oor die genoegsaamheid
van Christus, oor die verlossing in Christus alleen.

Gemeente, nadat die artikel beklemtoon het, dat “alle
voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het”, vervolg hy:
“Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in
Christus Jesus bestaan: In Hom het hierdie seremonies en
heenwysings juis hulle vervulling.” Wat word bedoel met
hierdie waarheid en inhoud van die skaduwee-beelde? In die
skaduwee-beeld van ‘n boom herken ons die boom self. Hierdie
boom is, so te sê, “die waarheid (= die werklikheid) en
inhoud” van daardie skaduwee. En so is Christus die waarheid
of werklikheid en inhoud van die seremonies en heenwysings van
die wet.

Ons moet dus oppas vir twee uiterstes. Al moet ons die
voorafskaduwing nie handhaaf nie, mag ons dit ook nie verag nie,
want dit het ‘n blywende “waarheid en inhoud”.
Daarom kan dit ons help om die Evangelie beter te leer verstaan.
Die skouspel van die Priester, wat een keer per jaar (en nie
sonder offer nie), voor God se aangesig mog verskyn, werp ‘n
verduidelikende lig op die versoeningswerk van Christus. Die Ou
Testament werp ‘n helder lig op die Nuwe Testament, maar ook
die omgekeerde is waar. Hulle maak alles van mekaar duidelik. Die
rede hiervoor is dat hulle albei dieselfde “waarheid en
inhoud” het, naamlik Jesus Christus (Joh. 5:39).

Die Wederdopers het die Ou Testament verwerp. Daar teenoor
gaan ons voort “om die getuienisse van die wet en die
profete te gebruik.” Christus en Sy apostels het hulle
telkens daarop beroep. Die grootste deel van die brief aan die
Hebreërs sou jy nooit verstaan het, sonder die kennis van die Ou
Testament nie. Maar selfs die laaste Bybelboek, wat praat oor
toekomstige tye, wemel van aanhalings uit die Ou Testament. Ons
artikel noem twee doele waarom die Ou Testament gebruik moet word:

Eerstens, “om ons in die evangelie te bevestig”. Dit
beteken: om ons nog méér sekerheid te gee dat die Evangelie
betroubaar is. As jy met toewyding die Ou Testament lees, kry jy
ook ‘n dieper insig in die Nuwe Testament. Hoe sou jy die
vervulling van God se beloftes verstaan en God se trou daarin,
sonder om die Ou Testamentiese beloftes te ken en God se gang
deur die heilsgeskiedenis? Jy raak steeds meer beïndruk deur die
pragtige eenheid van die Bybel, en so ook van die betroubaarheid
daarvan. Jy ervaar al hoe meer dat die Evangelie jou vaste grond
onder jou voete gee.

As tweede doel vir die gebruik van die OT word genoem:
“om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens
sy wil in te rig”. Dit beteken, dat God ook reeds in die Ou
Testament bekend gemaak het, hoe Hy vandág nog gedien wil wees.
Dit is wel opvallend, want Hy eis van ons nie letterlik dieselfde
as van die Jode in daardie tyd nie. God het sy Nuwe Testamentiese
gemeente mondig gemaak, waardeur ons vandag ’n groter eie
verantwoordelikheid ontvang. Hy skryf nie meer alles letterlik
voor nie. Byvoorbeeld: in die ou verbond het God tiendes van sy
volk geëis, plus die eerstelinge en allerlei ander offers. Aan
daardie eis is ons vandag nie gebind nie, maar God verwag van ons
dat ons na vermoë milddadig sal gee, want Hy het die blymoedige
gewer lief (2 Kor. 9:6,7).

Gemeente, ons kan dus baie uit die Ou Testament leer oor hoe
God gedien wil word. Daar leer ons hoe die gelowiges van ouds in
vertroue op God en in gehoorsaamheid aan Hom geleef het. Daar
leer ons hoe ons sondige mense voor die heilige God mag en
behoort te verskyn. Daar leer ons om af te sien van die vertroue
op ons eie werke, op ons seremonies en rituele. Daar leer ons om
uit die geloof te lewe. Ja, daar leer ons om alles van Christus
te verwag, om rus te vind in sy volbragte werk. Daar leer ons om
Christo-sentries te lewe. Alles is mos uit Hom, deur Hom en tot
Hom. Aan Hom kom alle eer toe.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)