Christus is ons enigste en volmaakte Voorspraak

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-08-27
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 26
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 26

Ds C Kleijn - Sondag 27 Augustus 2006

Lees: Lukas 22:24-34; Hebreërs 7:23-28;
Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 26.
Sing: Ps 66:1,7; Ps 110:1,2,5; SB 27; Ps 62:1,4,5.

Tema: Christus is ons enigste en volmaakte Voorspraak

  1. die motief vir Christus se voorbede
  2. die grond vir sy voorbede
  3. die inhoud van sy voorbede

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe ervaar julle die voorspraak van Jesus Christus? Wat
beteken dit vir julle? Is dit ’n werklikheid vir julle in
jul daaglikse lewe? Iets waar jy elke dag rekening mee hou, iets
wat jou elke dag troos?

Art 26 van die NGB is die laaste art wat gaan oor Christus se
verlossingswerk. Hier word Christus as ons Voorspraak bely. Ons
kry ’n lang artikel. Hoewel die artikel wel staan teen die
agtergrond van die Roomse praktyk om heiliges aan te roep, moet
’n mens die artikel nie sien as net ’n polemiek teen
die Roomse kerk nie. Dis ook niet net ’n negatiewe afwysing
van die Roomse standpunt nie. Hier word op ’n priesterlike
toon gepraat. De Bres sien mense voor hom wat deur hul terugkeer
na die woord van God hul heiliges verloor het en wat moet hoor
dat hulle nog baie meer daarvoor in die plek gekry het. Christus
– en niemand anders nie – is die Middelaar wat ons
direkte toegang tot God verleen. Hy is die enige en volkome
Middelaar wat vir ons intree. Die beste Voorspraak wat ’n
mens kan verlang.

Ek verkondig vir julle: Christus is ons enigste en volmaakte
Voorspraak

  1. die motief vir Christus se voorbede
  2. die grond vir sy voorbede
  3. die inhoud van sy voorbede

Wanneer jy aan Christus en sy verlossingswerk dink, waar dink
jy dan aan? Is dit nie die kruis wat onmiddellik in ons gedagtes
opkom nie? En inderdaad, die kruis is die klimaks in Christus se
verlossingswerk. Daar het Hy alle geregtigheid vir ons vervul.
Daar het Hy versoening tot stand gebring. Die HK wys daar dan ook
op dat die Woord van God en die sakramente ons geloof rig op die
enige offer van Christus aan die kruis as die enigste grond van
ons saligheid. Dis die hart van die evangelie. Tog moet ons
daarvoor oppas dat ons nie by die kruis stop nie. Nadat Christus
sy werk aan die kruis voltooi het, het Hy verder gegaan met sy
werk van verlossing. Nadat Hy op Goeie Vrydag sy bloed vergiet
het, het Hy op die Pinksterfees sy Gees uitgestort. Meer nog,
Christus is vandag nog besig. Daarom, as jy aan Christus dink,
dink ook aan die werk wat Hy nog steeds vir jou doen. Christus se
werk aan die kruis moet opgevolg word. So is Christus vandag
besig om die werk wat Hy aan die kruis verrig het, vir ons toe te
pas.

In Heb 7:25 lees ons die woorde: “Daarom kan Hy (dws
Jesus Christus) ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan,
omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” Let goed op
daardie woorde. Daar staan nie net: Daarom kan Christus volkome
red die wat deur Hom tot God gaan nie. Vir ons gevoel vat dit die
hele verlossing saam. Deur sy offer red Christus ons volkome. Dit
is die kern van die Bybelse boodskap. Maar ons moet ook let op
wat daarna in die teks genoem word. Luister maar opnuut: daarom
kan Christus ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat
Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Waarom kan Hy my volkome
red? Omdat Hy altyd leef om vir my in te tree.

Hierdie woorde word genoem in verband met Christus se
priesterskap volgens die orde van Melgisedek. In sy priesterskap
gaan Hy ver uit bo die priesterskap van Aäron. Christus se
priesterskap is nie erflik nie. Dit gaan nie op ander oor nie.
Christus vervul dit tot in ewigheid. Daarom kan Hy ook by die
troon van die Vader ons voorspraak wees. Hy leef altyd om vir ons
te pleit. Dit word nie net terloops genoem nie. Nee, ons volkome
redding is daarvan afhanklik. Christus kan daarom volkome red
omdat Hy altyd leef om vir ons in te tree.

Gemeente, ons sien in Christus se priesterskap die twee take
van die Ou Testamentiese priesters verenig. Hulle het geoffer en
vir die volk gebid. Christus het sy offer gebring. Sonder daardie
offer is daar geen redding nie. Maar die ander deel van sy
priesterlike werk hoort eweseer by die redding, naamlik die
voorbede. Juis omdat Hy priester volgens die orde van Melgisedek
is en altyd leef, kry sy voorbede in die hemel so ’n
geweldige betekenis vir ons redding.

Die voorbede is maar nie ’n geskenk waarvan ons nou en
dan kan geniet nie, waardeur ons nou en dan gesterk en vertroos
word. Dit behoort by die werk wat Christus vir ons, sy volgelinge,
doen. My redding sonder Sy voortdurende voorbede is ondenkbaar.

Die Roomse kerk het gemaak asof Christus baie ver weg is en so
groot is dat jy as mens bang vir hom sou moet wees. Hulle het van
Jesus ’n harde en strenge regter gemaak. Sodoende het hulle
nog ’n aantal tussenpersone nodig, heilige mense wat digter
by die mens sou staan as Christus en wat Christus se toorn sou
keer. Daaronder sou Maria, die moeder van Jesus, die belangrikste
wees. So bestaan daar ’n skildery uit die Middeleeue waarin
Christus en Maria albei op die rand van die hemel sit. Na elkeen
van hulle loop daar van die aarde af ’n leer. Langs beide
lere probeer mense om omhoog te klim. Hulle wat langs die leer
wat na Christus lei, klim, val van skrik van die leer af sodra
hulle naby Christus kom. Maar wie langs die leer van Maria klim,
word vriendelik ontvang en na Jesus gelei. Wat ’n
verdraaiing van die evangelie! Wat ’n armoede!

Daarteenoor bely ons in ons artikel: “Want daar is
niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat
groter liefde vir ons het as Jesus Christus nie.” Hoe het Hy
nie sy opofferende liefde vir ons gewys nie? Kan jy iemand vind
wat soveel vir ons oorgehad het? In liefde vir ons het Hy mens
geword. Hy het sy heerlikheid in die hemel prysgegee en homself
ontledig. Hy het in liefde die lyding aanvaar tot aan die dood
aan die kruis. In die lig van daardie liefde moet ek ook sy
voorbede sien. Dieselfde liefde wat Hom op aarde beweeg het,
motiveer hom ook vandag om vir my te bid. Daarom hoef ek die
grootheid van sy persoon en werk nie te vrees nie. Sy grootheid
word deur sy liefde gekenmerk. Agter sy selfontlediging lê
dieselfde motief as agter sy voorbede: uit liefde wil Hy sy volk
red.

Wat ’n miskenning van sy liefde is dit dan om naas Hom of
in sy plek nog ander pleitbesorgers en tussengangers te soek.
Daarmee word die unieke betekenis van sy voorspraak tot ons
redding verloën. Christus is die enigste en volkome voorspraak.
Broeder en suster, besef tog sy werk as voorspraak in jou lewe
van elke dag. Laat jou daardeur vertroos en versterk. Hy is mos
tot jou redding daagliks besig om vir jou te pleit.

Nou die tweede gedagte: die grond vir Christus se voorbede.

Ons bely in ons artikel: “As ons dus moes soek na ’n
ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon
vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons
afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was? En as ons een soek
wat mag en aansien het, wie besit soveel daarvan as Hy wat aan
die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op
die aarde het? En wie sal eerder verhoor word as die eie,
geliefde Seun van God?”

Wat het Christus nie vir ons gedoen nie! Hy het sy lewe vir
ons afgelê terwyl ons nog vyande was. Hy kom nie met leë hande
by sy Vader in die hemel nie. Hy tree binne die allerheiligste
woning van God met sy eie bloed, met die bewys van betaling. Die
Vader beloon Hom dan ook deur hom die ereplek te gee aan sy
regterhand. Dit maak hom die mees geskikte pleitbesorger.

Wat is dan die grond van sy voorspraak? Dit is die werk wat Hy
as Lam van God gedoen het. Dit is ook die heerlikheid wat Hy
daarna ontvang het. Daarmee verklaar die Vader immers dat Hy
Christus se offer vir ons sondes aanvaar het.

Daarom wil Christus nie net nie, maar kan Hy ook by die Vader
vir ons intree. Hy kan wys op sy werk wat Vader reeds aanvaar het.
Alle geregtigheid is vervul. Hy het alle reg om vir ons te pleit
en om verhoring van sy voorbidding te verwag. Wat ’n
belediging is dit dan om ’n ander middelaar te soek wat
nader aan ons sou staan! Hy het homself met ons vereenselwig. Hy
het ons vlees en bloed aangeneem. En in ons menslike natuur alle
geregtigheid van God vir ons vervul. Wat wil jy meer hê?

Sou daar iemand wees wat dit beter as Hy kan doen? Hy besit
alle mag in hemel en op aarde. Hy is deur die Vader self met
heerlikheid en eer gekroon. En sou daar iemand wees wat eerder
deur die Vader verhoor sou word as die eie geliefde Seun van God?
Sou die Vader sy eie geliefde Seun se voorbede weier? Ons het
’n heel besondere en unieke Middelaar. Gewoonlik is ’n
middelaar ’n derde persoon wat as tussenganger tussen twee
partye optree. Hierdie Middelaar tussen God en mens is egter nie
’n derde party nie. Hy is albei partye in een persoon. Hy
verenig immers die goddelike en die menslike natuur in een
persoon. Hy is een met God die Vader en een met ons, een van ons.
Kan daar ’n beter middelaar as Hy wees? Hy staan aan God se
kant, Hy is God se eie geliefde Seun en Hy staan aan ons kant.
Vader sal sy geliefde Seun wat alles volbring het nie weier nie.
En Hy, wat mens geword het, weet presies wat ons mense nodig het.

Prys God die Vader dat Hy ons so ’n Middelaar geskenk het.
Prys God die Seun vir die Middelaar wat Hy is. Prys Hom vir sy
bemoeienis met en ter wille van ons. Wat ’n liefde en genade.
En watter rus en sekerheid gee dit ons in ons aanvegtinge en
stryd hier op aarde. My saak word in die hemel bepleit deur een
wat weens sy volbragte werk en heerlikheid alle reg op verhoring
het.

Nou die derde gedagte: die inhoud van sy voorbede.

Christus kan ons volkome red omdat Hy altyd leef om vir ons in
te tree. Waarop is sy voorbede dan gerig? Dis gerig op ons
redding. In 1 Joh 2:1 lees ons: “As iemand gesondig het, ons
het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die
Regverdige.” Christus se voorspraak rig hom op die vergewing
van sondes. Wie ken nie die worsteling met die sonde nie? Hoe
dikwels val ons nie in sonde nie? Ons weet: dit mag nie, maar
voordat ons dit besef, het ons weer gesondig. Hoe vertroostend is
dit dan om te hoor: as jy gesondig het, het jy Jesus Christus as
Voorspraak by die Vader. In hom is jou vergewing gewaarborg. Jy
hoef nie moed te verloor nie of wanhopig oor jou sondes te word
nie. Sien op Jesus Christus, jou Voorspraak. Laat Hom jou saak
bepleit.

Christus se voorbede rig hom nie net op die vergewing van
sondes nie. In Rom 8:34 praat Paulus ook van hierdie voorbidding.
Daar is dit die klimaks van sy redenering: “Christus Jesus
is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook
aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” Dit
gaan hier oor die toe-eiening van die geregtigheid van Christus.
In die lig van Rom 6-8 is die inhoud van Christus se voorbede die
lewe uit die geregtigheid van Christus. So het dit betrekking op
my kind van God wees en my diens in sy koninkryk. So het dit
betrekking op my bewaring van die bose en my vrymoedige omgang
met God. Dat ek uit die geregtigheid lewe en in die geloof mag
groei. Elke faset van my redding is so voorwerp van Christus se
voorbede.

Gemeente, dis duidelik dat my saligheid nie net rus in
Christus se werk op Golgotha nie. Dit rus ook in Christus se
blywende voorbede. Besef ons dit wel voldoende? Daaruit mag ek
krag put, troos ontvang. Daardeur mag ek die vrede ervaar wat
alle verstand te bowe gaan. Ja, daardeur mag ek ervaar dat ek,
’n sondaar, gered is. Christus het nie net alles vir my
volbring nie, Hy is ook nog vir my besig met sy voorbede.

Kyk maar terug in jou lewe. Sien jy daar die vrug van Christus
se voorbede? Het jy, ondanks al die versoekinge of ondanks al jou
opstandigheid, jou geloof behou? Het jy uit ’n geestelike
depressie weer tot Christus teruggekeer? Het jy jou sondes leer
raaksien en het jy jou skuld voor God en jou naaste bely? Ervaar
jy, ondanks jou eie swakheid, die krag van die geloof? Ervaar jy
opnuut wat dit beteken om bly in die Here te wees? Bemerk jy
’n groei in jou geloof? Agter al hierdie dinge lê Christus
se voorbede. Dit geld vir jou as gelowige, maar ook vir die
gemeente. Is jy as gemeente tog ’n lig? Het jy as gemeente
tog die waarheid en die geloof behou? Sien daar die vrug van
Christus se voorbede.

Gemeente, ons het ’n voorbeeld daarvan gelees in die
geskiedenis van Petrus. Voordat Petrus die Here drie maal
verloën het, waarsku Christus hom: “Simon, Simon, kyk die
Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het
vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie.” Satan het
Petrus inderdaad gesif soos koring. Petrus het sy Meester drie
maal verloën. In die greep van Satan het Petrus deur ’n
diep dal gegaan. Maar was hy heeltemal aan Satan oorgelewer? Het
hy heeltemal afvallig geword? Nee, want Christus het vir hom
gebid dat sy geloof nie sou ophou nie. Ons lees van die vrug van
Christus se voorbede in Lk 22:62. Nadat Petrus Jesus drie maal
verloën het en hy die haan hoor kraai het, het hy sy sonde erken
en in trane uitgebars. Ons lees: “En Petrus het buitetoe
gegaan en bitterlik geween.” Sien daar die bewys daarvan dat
Christus se voorbede vir Petrus deur die Vader verhoor is.
Hoeveel te meer sal Vader die voorbede van sy Seun vir jou en my
verhoor, nou Hy in heerlikheid aan sy regterhand sit.

Maar gemeente, is dit nie te maklik nie? Skakel Christus se
voorbede ons gebed nie uit nie? Die teendeel is waar. Christus se
voorbede sal juis daartoe lei dat ons des te vuriger gaan bid. Sy
voorbede en ons gebed konkurreer nie met mekaar nie. Christus se
voorbede ondersteun ons gebed. Wanneer jy as ouer vir jou kinders
bid, doen jy dit in die hoop dat die kinders ook self sal bid. Ja,
jou gebed vir hulle is selfs dikwels daarop gerig dat jou kinders
self weer sal gaan bid. So is Christus ook met ons besig om ons
by die verlossing te bewaar.

Christus, my Voorspraak, verstaan ook presies wat in my lewe
aangaan. Hy is nie ver van hierdie lewe van ons verwyder nie. Hy
het self ook op hierdie aarde geleef en gely. Daarom het Hy ook
volkome begrip vir ons huidige situasie op aarde. Ons artikel
beklemtoon dit met twee tekste uit Hebreërs, omdat dit so
belangrik is. “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy
die help wat versoek word” (Heb 2:18). En: “Terwyl ons
dan ’n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan
het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis
vashou. Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons
swakhede medelyde kan hê nie, maar een wat in alle opsigte
versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met
vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons
barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd
gehelp te word” (Heb 4:14-16).

Word ek tans op enige manier versoek? Dan mag ek dit rustig
aan my Vader voorlê, want Christus was self in alle opsigte
versoek. Het ek weer in sonde geval? Dan mag ek dit ook aan my
hemelse Vader vertel, want Christus ken en verstaan my swakheid
teenoor die krag van Satan se versoekinge. In die teenwoordigheid
van my hemelse Vader tot wie my gebede opgaan, herinner Christus
die Vader aan die swakheid van die menslike vlees, herinner Hy
die Vader aan sy soenoffer aan die kruis en sy werk van vernuwing
deur sy Gees. Christus vra die Vader om my sondes te vergewe op
grond van sy volbragte werk en om krag te gee om staande te bly
in my stryd teen die sonde. En Christus se voorbede is effektief.
Wat Christus ook al vra, skenk die Vader. Wat ’n bemoediging
om dit te weet. My sondes kan my laat aarsel om na God te gaan,
kan my laat twyfel of God my wel verhoor. Maar onthou: God self
sê vir my dat ek met vrymoedigheid na sy troon van genade mag
gaan en dat ek alles wat ek op my hart het aan Hom mag voorlê.
Ek hoef niks te verswyg nie. Ek mag Hom vertel van my persoonlike
stryd, van my oorwinnings en nederlae. Die Here verstaan, Hy
luister, Hy gee krag om aan te gaan, om staande te bly.

Broers en susters, hoe heerlik is dit om so ’n Voorspraak
daar by die Vader te hê. Dieselfde liefde wat Hom op aarde
gemotiveer het om vir my, ’n vyand, te sterwe, motiveer hom
vandag om vir my te bid voor die troon van God die Vader. Hy het
ook alle rede om vir my te pleit en om te verwag dat dit verhoor
sal word. Die grond van Sy voorspraak is mos die werk wat Hy
reeds volbring het en die heerlikheid wat Hy daarna as loon van
die Vader ontvang het. En wat is die inhoud van Sy voorbede? My
volkome verlossing. Die vergewing van my sondes en die vernuwing
van my lewe. Hoe heerlik is dit om, te midde van die stryd, so
’n evangelie te ken! Ja, om so ’n Voorspraak te hê.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)