God laat Rut skuiling vind onder sy vleuels

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-08-27
Teks: 
Rut 2
Preek Inhoud: 

Rut 2

Ds C Kleijn - Sondag 27 Augustus 2006

Lees: Rut 2.
Sing: Ps 17:1,2; Ps 38:1,15,17; Ps 17:3,4; Ps 71:12,14;
Ps 61:3,4,6.

Tema: God laat Rut skuiling vind
onder sy vleuels.

  1. Hy laat haar sy voorsiening vir die armes aanvaar
  2. Hy laat haar die gemeenskap van die heiliges ontdek
  3. Hy laat haar vol terug huis toe keer.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wanneer ’n mens Rut 2 oppervlakkig lees, sou jy kan dink
dat Rut die onderwerp van hierdie hoofstuk is. Jy lees
voortdurend van Rut se aksie en waartoe dit lei. Dis ’n
innemende verhaal van ’n landelike toneel. Rut kom toevallig
uit by ’n stuk land wat aan Boas behoort. Dis nie opsetlik,
volgens ’n vooropgesette plan nie. Vooraf weet Rut niks oor
hierdie Boas nie. Sy gaan gewoon op stap en kom toevallig uit by
die stuk land wat aan Boas behoort. Daar ontmoet sy Boas vir die
eerste keer. Daardie kontakte lei uiteindelik tot ’n huwelik
tussen Boas en Rut en daarmee ook tot die lossing van Elimeleg se
huisgesin. Ons ontvang ’n pragtige verhaal van die edele en
nederige jong vrou Rut.

Maar gemeente, is dit waaroor alles hier gaan? Die meeste
verhale bewaar hul geheim tot die laaste bladsy. Hier in Rut 2
onthul die geïnspireerde skrywer die geheim onmiddellik aan die
begin van die verhaal. Die hoofstuk begin met die opmerklike
woorde:”Naomi het ’n bloedverwant gehad van haar man sy
kant, ’n vermoënde man, uit die geslag van Elimeleg, wie se
naam Boas was.” Voordat die skrywer die geskiedenis van Rut
se optel van are beskryf, vestig hy ons aandag op Boas. Hy wag
nie daarmee totdat Boas op die toneel verskyn nie. God wil hê
dat ons reeds vantevore iets weet van Boas. Waarom? Sodat ons God
se leiding en sorg in hierdie geskiedenis sou raaksien. Sodat
wanneer Rut later vir Boas ontmoet op ’n manier wat vir haar
toevallig lyk, ons die waarheid mag weet. Agter die skynbare
toevallighede van gewone daaglikse ontmoetings, is God besig om
sy voorsienigheid tot uitdrukking te bring. Vanaf die begin het
God iemand reeds op die oog wat in hul nood sal voorsien.

Luister na wat God oor Boas sê. In die eerste plek is Boas
’n bloedverwant van Elimeleg, uit sy geslag. Dis presies wat
Naomi en Rut nodig het. Hulle het allenig uit Moab aangekom,
sonder mans. Ook al het Naomi nog niks in gedagte nie, ook al
weet Rut nog niks daarvan nie, God het ’n persoon gereed vir
haar: ’n bloedverwant. Deur die woord bloedverwant kom die
losser in die prentjie: die man wat Elimeleg se familie besit en
familie naam kan los, die man wat die grond terug in die familie
kan bring en wat kan sorg vir ’n erfgenaam, ’n seun om
die familie naam voort te sit.

Die tweede ding wat ons oor Boas leer, is dat hy ’n
vermoënde man is. Dis ook iets wat Naomi en Rut nodig het. Hulle
is nie net allenig nie, maar ook arm weduwees. God het ’n
vermoënde man gereed vir hulle, ’n familielid wat
oorvloedige middele het om die erfdeel terug in die familie te
kry en om die arm weduwees te versorg.

Die eerste vers van Rut 2 plaas die hele geskiedenis dus in
’n sekere lig. Dit wys dat God hier aan die werk is, God wat
die eenvoudige dade van ’n jong vrou gebruik om sy planne
uit te werk. So is God self die onderwerp van hierdie hoofstuk.

Ek verkondig vir julle:

God laat Rut skuiling vind onder sy vleuels.

  1. Hy laat haar sy voorsiening vir die armes aanvaar
  2. Hy laat haar die gemeenskap van die heiliges ontdek
  3. Hy laat haar vol terug huis toe keer.

Terug in Betlehem sê Naomi: “Leeg het die Here my laat
terugkom.” Daarmee bedoel sy eerstens: die Here het my man
en kinders van my weggeneem en my as ’n kinderlose weduwee
agtergelaat. Dit beteken ook: Ek is nou sonder bestaansmiddele.
Naomi en Rut is arm. Hulle het niemand wat vir hulle sorg nie en
hulle kan hulleself nie onderhou nie. Wat moet hulle doen?

In hierdie situasie kom Rut in aksie. In geloof het Rut haar
keuse vir die enige ware God en sy volk gemaak. In sy genade het
God haar die geloof gegee – Hy het haar uitverkies, sodat sy
as gevolg daarvan haar beslissende keuse kon maak. Ondanks al die
terugslae, ondanks die onsekere toekoms wat haar in Kanaän wag,
was Rut vasbeslote om by Naomi te bly, by haar volk en haar God.

Eenmaal in Betlehem bly Rut die Here volg, ondanks die
ontmoedigende verwelkoming onder God se volk. Wanneer die
kosprobleem duidelik word, neem Rut die inisiatief. Sy sê vir
Naomi: “Laat ek tog die land ingaan en are optel agter die
een in wie se oë ek genade sal vind.”

In sy wet het die Here vir die armes voorsiening gemaak. Die
Here het homself gewys as ’n sorgsame God, wat niemand
verwaarloos nie. Hy het reëlings getref sodat elkeen in Kanaän
versorg sou kan word. Daarom het Hy bepaal dat snyers op die land
’n deel van die oes moes los, inklusief die rande van die
graan velde, sodat die armes iets het om op te tel. Die snyers
mog nie teruggaan vir die graan wat hulle gemis of laat val het
nie Dit was bestem vir die ellendige, die arme en die vreemdeling.
Hulle mog dit wat oorskiet vrylik optel. Dit was ’n reg wat
God vir die armes in sy land gegee het.

Broeders en susters, daar was geen nasie in die wêreld wat
sulke regverdige en bedagsame wette gehad het nie. Niemand wat in
die land van die Here geleef het, mog onversorg bly nie. Hierdie
reg van die armes was tegelykertyd ’n plig vir die boere.
Hulle moes hierdie voorsiening van God waarmaak en die armes die
geleentheid gee om die oorgeblewe graan op te tel. Julle sal
verstaan dat dit nie altyd gebeur het nie. Veral nie in die tyd
van die Rigters, toe elkeen gedoen het wat goed was in sy eie oë.
Die armes het dit geweet en Rut is ook bewus daarvan. Wanneer sy
haar wens uitspreek om op pad te gaan om are op te tel, voeg sy
daaraan toe: “agter die een in wie se oë ek genade sal vind.”
Sy besef dat dit nie vanselfsprekend is dat sy welwillend bejeën
word nie en dat sy in groot mate afhanklik is van die guns van
die boer.

Rut neem die inisiatief om die land in te gaan om are op te
tel. Sy aanvaar nederig die voorsiening van die Here vir die
armes. Sy deins nie terug vir harde werk nie.

Ja, broers en susters, moenie hierdie daad van Rut onderskat
nie. Dit was vernederend werk. Dit was die weg van die armes. Jy
het jouself oorgelewer aan die welwillendheid van ander. ’n
Welwillendheid wat nie oral teenwoordig was nie. Hoe sou hulle
Rut ’n Moabitiese behandel? Bowendien, wat ’n
vermoeiende werk, dikwels met slegs ’n skrale opbrengs. Om
die hele dag in die warm son te werk en voortdurend vooroor te
buk om are een vir een op te tel.

Maar Rut aanvaar hierdie moeilike en vernederende werk. Sonder
om te kla. Dankbaar. Sy sit nie agteroor en wag totdat ander na
hulle toekom met ondersteuning nie. Sy keer ook nie terug na Moab
toe, waar sy in haar ouerlike huis voldoende sou kan ontvang. Sy
volhard in haar geloof. In geloof volg sy die pad wat God vir die
armes beskik het, maak nie saak hoe moeilik en vernederend dit
vir die vlees is nie.

Bowendien, wanneer sy uitgaan om haar God gegewe regte toe te
eien, doen sy dit in nederigheid. Sy eis nie haar regte op nie.
Sy vra eers beleefd vir toestemming aan die snyers en sy wag vir
hulle gunstige antwoord. Sy sien selfs die optel van die
oorgeblewe are as ’n guns, as ’n genadige voorsiening.

Gemeente, jy sou wens dat so ’n houding vandag meer
aanwesig sou wees. So ’n nederige aanvaarding van God se
voorsiening. Dit gebeur dat mense wat in die Skrifte grootgeword
het, en dus baie meer as Rut die Moabitiese oor God weet, soms
kla of pruil omdat hulle voel dat God hulle tekort aandoen. Hulle
is nie tevrede met dit wat God vir hulle gee nie. Hulle kan nie
aanvaar wat uit God se hand kom nie – o.a. finansiële of
materiële teenspoed. Omdat hulle hul nie onder God se magtige
hand kan verneder nie, weier hulle om werkies te aanvaar wat
hulle as benede hul stand beskou. Ja, hier kan ons maklik deur
die gees van die ongeloof, van die wêreld besmet word. Wie is
nog bereid om moeilike en oënskynlike minderwaardige werk te
aanvaar vir ’n lae inkomste? Daar is mense wat verkies om
hul hande op te hou en te bedel pleks om hul hande uit hul moue
te steek. Rut het anders hierna gekyk en het in geloof gehandel.

En, gemeente, hoe is dit vandag met die aanvaarding van hulp
van die diakens wanneer daar nood is? Sien ons dit soms nie as
’n skande om van die diakens te ontvang nie? Onthou egter,
dit is God se Nuwe Testamentiese voorsiening vir die behoeftiges,
’n voorsiening wat met dankbaarheid aanvaar moet word. Dink
jou in: die Here sê vir jou: Ek het jou in die moeilike
omstandighede laat kom, Ek het jou die weg gewys waardeur Ek jou
in daardie omstandighede wil versorg, maar jy antwoord: nee
dankie Here, ek sal op ’n ander manier, ook al is dit
onwettig, myself voorsien. Dit kom neer op ’n weiering van
God se sorg. Rut aanvaar nederig die voorsiening wat God vir haar
tref. God laat haar dit in geloof aanvaar.

Nou die tweede gedagte: God laat Rut die gemeenskap van die
heiliges ontdek.

Deur dankbaar God se weë te volg ontvang Rut die troos van
die gemeenskap van die heilges.

Rut het nie geweet waar sy die guns van die boer sou ontvang
nie. Die teks sê nadruklik dat sy gelukkig op ’n stuk land
afkom wat aan Boas behoort. Menslik gesproke ’n
toevalligheid. Maar volgens God se openbaring: deur God beplan.
Hy het dit so gelei. ’n Blye verrassing vir Rut. Wat ’n
ontvangs! ’n Wonder.

Hoe wonderlik is dit om die gemeenskap van die heiliges te
sien funksioneer. Onthou dit was in die tyd van die Rigters.
’n Tyd van geestelike verval en selfsug: elkeen het gedoen
wat goed was in sy eie oë. Die vrees van die Here was skaars.

Maar ook in daardie bose dae het God vir homself ’n
oorblyfsel bewaar, mense wat hom waarlik gedien het en sy verbond
bewaar het, ook in hul daaglikse omgang. Hoor hoe Boas sy werkers
groet: “Mag die Here met julle wees!” Hoor hoe hulle
hom antwoord: “Mag die Here u seën.” Waar hoor jy nog
sulke erkenning van die Here in die kontakte tussen werkgewers en
werknemers? In ons moderne samelewing het ons onderlinge omgang
die neiging om baie oppervlakkig te wees. “Hoe gaan dit?”
“Kan nie kla nie”. Asof God niks te make het met ons
normale alledaagse lewe nie. Die groet waarmee Boas en sy werkers
mekaar begroet, wys dat God betrokke is by die alledaagse lewe en
werk. Hy wil in alles erken word.

Nee, ons hoef dit nie te idealiseer nie. Dit was normale
arbeiders wat daar op die land gewerk het. Sondige mense. Later
waarsku Boas hulle om Rut nie lastig te val nie. So ’n
opmerking sê voldoende. Tog groet hulle mekaar in die naam van
die Here. Hulle groet wys dat hulle broers in die Here is. Hulle
band met die Here gee diepte aan hul band met mekaar. Daar is
geen klasse stryd tussen werkgewer en werknemer nie. Albei weet
dat hulle voor die aangesig van die Here en in diens van die Here
lewe. Hy gee aan elk sy eie verantwoordelikheid. In sy diens is
hulle een, aan mekaar verbind in liefde.

Gemeente, sulke woorde moet as musiek in Rut se ore geklink
het. Rut het tot nou toe baie moeite en teleurstellings ondervind.
Maar nou hoor sy mense mekaar in die naam van die Here groet. Nou
sien sy eindelik iets positiefs in die verhoudings onder God se
volk. En daar eindig dit nie.

Nadat Boas sy werkers gegroet het, wys hy dat hy ook aandag
vir ander op sy land het. Ook vir die vreemdeling. Dis wat die
Here van hom vra. Sy volk moet die vreemdeling liefhê, want
hulle self was vreemdelinge in Egipteland (Deut 10:18,19). So gee
Boas aandag vir Rut. Nadat hy ’n goeie getuienis oor haar
gehoor het, gaan hy na haar toe en praat met haar op ’n
vriendelike en bemoedigende manier.

Rut is in ’n kwesbare posisie. Sy is heeltemal afhanklik
van die welwillendheid van ander. Boas stel haar gerus. Bly hier,
sê hy, hier is jy veilig. Moenie bang wees vir die jongmanne nie.
Ek het hulle aangesê om jou nie lastig te val nie. En wanneer jy
dors is, gaan na die waterkruike toe en drink van die water wat
die werksmense vir hulle geskep het..

Wat ’n bewys van liefde en deernis vir die ellendige. Rut
weet nie wat haar oorkom nie. Wat ’n genade! Sy is een en al
nederigheid. Sy erken Boas se grootmoedigheid. Sy buig haar diep
voor Boas en sê: “Waarom is u so goed vir my en stel u
belang in my, ’n buitelander.” Sy besef dat sy niks
verdien nie, sy is net ’n vreemdeling. Maar Boas korrigeer
haar. Hy vertel haar wat hy oor haar gehoor het. Hy het gehoor
van haar keuse vir die Here en sy volk. Hy het gehoor van haar
toegewyde sorg vir haar skoonma. Sy het haar familie en vriende,
haar gode en land verlaat om by Naomi te bly. Boas verwelkom haar
as ’n lid van God se gesin onder wie se vleuels sy kom skuil
het. As ’n lid van God se huisgesin verdien sy hierdie
liefdevolle sorg.

Soos Abraham het Rut haar familie en haar vader se huis
verlaat om na ’n ander land te gaan, sonder om te weet wat
die toekoms sou bring. Sy het die geloof van Abraham gevolg. En
so ontvang sy die seën van Abraham, loon van die Here.

Die Here Christus het belowe dat wie sy vader en moeder en
familie terwille van Hom verlaat, honderd maal soveel sal ontvang.
Soms staan God se volk, die kerk en Christene, die vervulling van
hierdie belofte in die pad. Soos ons gesien het by Rut se
ontvangs in Betlehem. Wie hom by die volk van God aansluit
verlaat die vorige kring van familie en vriende. Dit bly ’n
baie moeilike stap. Moenie dit onderskat nie. Natuurlik kom
daarvoor wel iets in die plek. Nuwe broers en susters, nuwe
vriende. Maar dit het tyd nodig. In so ’n situasie is ekstra
aandag en liefde van die kant van die gemeente nodig. Boas sê
vir Rut: “Mag die Here jou daad vergelde, en mag jou loon
volkome wees van die Here, die God van Israel, onder wie se
vleuels jy kom skuil het.” ’n Pragtige verwelkoming vir
hierdie vreemdeling wat alles verlaat het om haar by God se volk
aan te sluit.

Boas praat nie net mooi woorde nie. Hy set dit om in dade.
Tydens etenstyd nooi hy Rut om saam met die werkers te eet. Hy
self bied haar gebraaide koring aan. Wat sy van die kos oorhou,
mag sy huis toe neem. Boas gee ook stilletjies vir sy werkers die
opdrag om ekstra graan te laat val sodat sy voldoende het om op
te tel. Boas doen baie meer as wat die wet voorskryf. Hy vervul
sy roeping in liefde vir God en sy naaste. Die liefde maak hom
vindingryk en vrygewig. So ervaar Rut iets van die ware
gemeenskap van die heiliges.

Nou die derde gedagte: die Here laat Rut vol terug huis toe
gaan.

In geloof het Rut haar by God se volk aangesluit en haar
toevlug onder God se vleuels gesoek. Hy sal sorg. In vertroue op
Hom het sy Sy spesiale voorsiening vir die armes aanvaar. Sy het
uitgegaan om are op te tel. Die Here stel haar nie teleur nie. Sy
ontvang sy seën. Haar hande word gevul. Na ’n dag se werk
kom sy tuis met ’n efa (ongeveer 13 kilogram) eetbare gars
plus die oorskotte van die maaltyd. Naomi kan haar oë nie glo
nie. Selfs voordat sy verneem waar Rut opgetel het, roep sy uit:
“Mag hy geseën wees wat in jou belang gestel het.”
Hulle is albei verbaas en dankbaar. Nadat Rut haar die hele
verhaal vertel het, prys Naomi die Here: “Mag hy geseënd
wees deur die Here, wat sy guns aan lewende en dode nie onttrek
het nie.” Wanneer Rut die naam van Boas noem, val die
oogklappe van Naomi se oë af. Sy word ’n ander vrou. Sy
breek uit in lof, in lof op die Here, op sy goedheid en trou.
Naomi sien nou hoe goed en getrou God is. Met leë hande het
hulle uit Moab gekom. Hulle het netnou hier in aksie gekom en die
Here vul reeds daardie hande.

Leeg het die Here my laat terugkom, het Naomi by haar
terugkeer in Betlehem gekla. Sy het geen man en geen seuns meer
nie. Nou hoor ons ’n heeltemal ander liedjie: guns van die
Here aan lewendes en dooies. Hoe is dit moontlik? Wel, soveel kos
op die eerste dag op die land is ’n wonder. En dit van
iemand wat baie meer kan doen as net kos verskaf. Van ’n
moontlike losser. Dis veelbelowend. Naomi verklaar vir Rut in
vers 20: die man is ons nabestaande, hy is een van ons lossers.
Daar kom weer uitsig, nuwe perspektiewe. ’n Toekoms vir
Elimeleg se huis en geslag, grond en naam. “Mag hy geseën
word deur die Here wat nie nalaat om sy guns of trou aan lewendes
en dooies te bewys nie.” Die Here se guns en trou bly altyd
bestaan.

Ons hoor ’n ander Naomi. By haar terugkeer was sy bitter:
“Noem my nie Naomi nie: noem my Mara, want die Almagtige het
my baie bitterheid aangedoen.” Nou sing sy van God se trou.
God self het hierdie verandering by haar tot stand gebring. Wat
ons mense onmoontlik ag, bring God tot stand. Dit geld ook vir
vandag. As die Here ingryp kan die mees bittere persoon opgewonde
raak en God prys. Die sak vol gars van Boas se erf af, open Naomi
se oë, open haar hart en haar mond. Sy prys nou die Here vir sy
verbondstrou.

Die Here open deure waar dit lyk asof alles doodloop. Die Here
baan die weg na die heerlike toekoms vir die huis van Elimeleg.
Hy doen dit deur die eenvoudige en nederige dade van Rut, die
Moabitiese, en deur die liefde en trou van sy lidmaat Boas.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)