God lei die kinderlose weduwee Rut na die losser Boas

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-09-10
Teks: 
Rut 3
Preek Inhoud: 

Rut 3

Ds C Kleijn - Sondag 10 September 2006

Lees: Levitikus 25:23-28; Deuteronomium 25:5,6;
Rut 3.
Sing: Ps 96:1,2,3; Ps 112:1,3,4; Ps 112:5,9; Ps
146:1,3,5; Ps 91:1,6.

Tema: God lei die kinderlose weduwee Rut na die losser
Boas.

  1. Naomi se plan
  2. Rut se lojaliteit
  3. Boas se reaksie

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe lees julle die geskiedenis van die teks? Soos geestelike
mense wat die dinge van die Gees verstaan? Of as natuurlike mense?
Die natuurlike mens lees hierdie verhaal soos hy enige ander
liefdesverhaal lees. Dan lag jy oor die ou vrou Naomi wat as
’n baie slim koppelaar hier optree. Of jy skeer die gek met
die jong vrou Rut wat ’n huweliksaansoek doen en wel op so
’n manier dat ons westerse mense dit verdag vind.

Geliefdes, dit word anders as jy die hoofstuk benader met
gedagtes wat deur die Gees gesuiwer is. Dis heeltemal anders
wanneer jy besef dat jy hier te doen het met goddelike openbaring.
Dan is daar geen rede om daaroor vuil grappe te maak nie of jou
daarvoor te skaam nie. Jy sien dan God aan die werk wat twee van
sy uitverkore instrumente by mekaar bring. En jy sien dan twee
gelowiges in aksie, wat nederig die weg van die Here volg.

Ek verkondig vir julle: God lei die kinderlose weduwee Rut na
die losser Boas.

  1. Naomi se plan
  2. Rut se lojaliteit
  3. Boas se reaksie

Om die teks te verstaan moet jy eers iets weet oor twee wette
wat God in sy liefde aan sy Ou Testamentiese kerk gegee het. Ek
bedoel nou die wet oor die lossing van mense en grond en die wet
aangaande die leviraatshuwelik of swaerhuwelik.

Eers die wet van die lossing. Wanneer ’n Israeliet arm
geword het en ’n deel van sy grond moes verkoop, dan moes
die naaste manlike familielid, indien moontlik, daardie grond
terugkoop sodat die grond in die familie bly. Die losser was
verplig om in die situasie van nood op te tree om te voorkom dat
die grond aan die familie sou verlore raak.

Dan was daar die leviraatshuwelik. Wanneer ’n getroude
man sonder kinders sou sterf, moes sy broer sy weduwee tot vrou
neem. Die eerste seun uit daardie huwelik is dan gereken as die
seun en erfgenaam van die oorlede man.

Deur hierdie wette van lossing en leviraatshuwelik het God
gewys hoe bedagsaam en sorgsaam Hy vir sy volk is. In sy liefde
het God die Israeliete gekies om sy volk te wees. God het die
land Kanaän tot ’n erfdeel aan hulle gegee. Hy het aan elke
familie ’n eie stuk grond as erfdeel toegeken. Dit was
’n waarborg van die ewige erfenis in die hemel.

Die Israeliete moes dit probeer verhinder dat ’n familie
weens armoede van sy familie grond geskei sou word. Deur die wet
van die lossing het God daarvoor gesorg dat al die moontlike
gedoen sou word om dit te voorkom.

Daardie gesinne en geslagte van Israel was dierbaar vir die
Here. Ondanks hul sondes en gebreke. Die Here wou nie hê dat
enige van die families sou verdwyn nie. Daarom mog mense hulle
nie daarby neerlê dat ’n familie lyn sou doodloop nie. Deur
die leviraatshuwelik het God reëlings getref om dit te voorkom.
Hoe wonderlik is God in sy liefde en sorg vir sy kinders.

Broers en susters, wanneer jy Naomi in aksie sien kom, dan
sien jy hoe sy hierdie barmhartige wette respekteer en toepas.
Naomi is bekommerd oor Rut se welsyn. Sy het nou vir ’n
rukkie uitgegaan na die land van Boas om are op te tel. Sy het
goed geboer. Die Here het ruim voorsien. Maar dit is geen toekoms
vir Rut nie. Sy behoort nie ’n kinderlose weduwee te bly wat
van die welwillendheid van ander afhanklik is nie. Bowendien sal
op hierdie manier Elimeleg se erfdeel uiteindelik in die hande
van ander val en sal Elimeleg sy huis en naam uit Israel verdwyn.

Daarom bedink Naomi ’n plan. ’n Plan wat beide die
nood van Rut en die van Elimeleg se geslag aanspreek: Rut moet
weer trou. Sy moet trou met een wat ’n losser van Elimeleg
sy erfdeel kan wees en wat wetlik die plek van Rut se oorlede man
kan inneem.

Wie is die losser? Blykbaar nie Boas in die eerste plek nie.
Daar blyk ’n familie lid te wees wat nog nader is as Boas.
Naomi moes dit geweet het. Tog stuur sy Rut na Boas. Waarom?
Waarskynlik omdat sy die voorsienigheid van die Here herken het.
Het Rut nie toevallig by die stuk land van Boas uitgekom nie? En
het Boas nie vir Rut en Naomi groot guns bewys nie? Hy het Rut
selfs genooi om saam met sy werkers te eet. Nou, hy is ’n
bloedverwant. Laat hulle hom vra om te help en om hulle te
beskerm.

So gebeur dit dat Naomi aan die einde van die oes haar plan
aan Rut bekendmaak. Let daarop hoe sy oor die huwelik met Rut
praat. Sy sê: “Sal ek nie vir jou ’n rusplek soek, dat
dit goed met jou kan gaan nie?” Naomi sien die huwelik as
’n rusplek vir Rut, as geluk vir haar, geborgenheid en
beskerming. Oor die algemeen vind vroue daarin hul vervulling,
hul bestemming in die lewe, in hul rol as vrou en moeder in die
gesin. Dis die algemene reël wat God vanaf die begin in plek
gesit het. Soos julle weet is daar ook uitsonderings op daardie
reël. Teenwoordig selfs baie uitsonderings. Sommiges ontvang nie
die huwelik nie of as hulle getroud is ontvang hulle geen kinders
nie. Dit kan ’n groot hartseer wees. Blykbaar het God iets
anders met hulle op die oog. Maar die algemene patroon bly:
deurgaans vind vroue hul plek en vervulling in hul rol as vrou en
moeder in die gesin. Hoe outyds klink dit in ons moderne ore.
Maar wat ’n seën was dit in die verlede en is dit nog in
die hede vir godvresende mense. Moderne geëmansipeerde vrouens
kyk neer op die rol van die vrou in die gesin en soek nuwe rolle
in die samelewing. Pleks om rus te vind, het hulle dikwels egter
net rusteloosheid gevind, rusteloosheid in hul eie lewe en in dit
van die gesinne. Laat ons dankbaar wees vir die rol wat God aan
die meeste vroue toebedeel het as vrou en moeder. En laat ons dit
bewaak tot heil van ons samelewing.

Gemeente, nadat Naomi oor ’n rusplek gepraat het in die
huis van ’n man, verwys sy na Boas. “Nou dan, is Boas
nie ons bloedverwant nie?” Naomi noem nie die feit dat hy
’n vermoënde man is nie. Beslissend is dat Boas hul
bloedverwant is. Want die wet van die Here praat van ’n
bloedverwant. ’n Bloedverwant wat die kinderlose weduwee kan
trou en so die familienaam en grond kan red.

Naomi het ’n wys en goed uitgedinkte plan. Vannag is dit
die geleë oomblik om ’n persoonlike ontmoeting tussen Boas
en Rut te reël. Vannag is Boas aan diens by die dorsvloer om
gars te dors en om daar die nag deur te bring om die graan teen
diefstal te bewaak. Laat Rut hierdie geleentheid aangryp.
‘Was jou dan, salf jou en trek jou netjies aan, sê sy vir
Rut. Dit word nie genoem met onsedelike bedoelings om Boas tot
sonde te verlei nie. Nee, dit is ’n passende manier vir een
wat ’n huweliksaansoek moet doen volgens God se wet, vir een
wat haar regte as kinderlose weduwee van ’n wettige losser
mag opeis. Rut moet heimlik na die dorsvloer gaan en wag tot Boas
klaar geëet en gedrink het. Sy moet sorg dat sy weet waar hy
gaan lê. Daarna as hy slaap moet sy soontoe gaan en aan sy voete
onder die kombers gaan lê.

Broeders en susters, is dit nie ’n onbehoorlike voorstel
van Naomi nie? Om ’n jongvrou in die nag uit te stuur om
onder die kombers van ’n man, wat daar by die dorsvloer
slaap, te kruip? In ons kultuur kan ons so ’n advies moeilik
waardeer. Dit klink ongepas en onsedelik. In ons seksverslaafde
wêreld wek dit verkeerde gedagtes op.

Tog is daar geliefdes in die lig van God se woord niks
onvanpas hierin nie. Onthou, Rut moet ’n beroep doen om haar
God gegewe regte. Sy moet Boas herinner aan God se wet aangaande
die leviraatshuwelik en die lossing. Rut moet dit ook doen onder
die beskerming van die duisternis sodat die eer en goeie naam van
Boas en haarself nie in gevaar kom nie. Dis beter dat niemand
iets sou weet van so ’n ontmoeting.

Bowendien moet jy besef dat die hele prosedure vol simboliese
gebare is. Gebare sê dikwels meer as woorde. Rut moet sy
voetenent oopmaak en daar gaan lê. Dit beteken ’n
huweliksaansoek. Sy wys dat sy sy vrou wil wees en dat sy die bed
met hom wil deel. In hierdie stadium ontbloot sy sy voete en lê
sy aan sy voete. Nie langs hom nie, maar aan sy voete. Dit
beteken: op hierdie oomblik kan ek nog nie u vrou wees nie. Ek
onderwerp my nederig aan u besluit. Ek is u smekeling en dienares.

In hierdie lig is daar niks onbehoorliks met Naomi se advies
nie. Naomi handel wys en versigtig. Dit sou eerder onvanpas
gewees het as Naomi ronduit vir Boas sou gevra het om met Rut te
trou. Dit sou Boas se eer aangetas het. Nee, Naomi moet baie
subtieler te werk gaan sodat Boas die eer aan homself kan hou.
Wat meer is: Naomi handel in geloof, in vertroue op God se woord,
op die voorsiening wat God in sy wette gemaak het.

Nie so lank gelede het Naomi Rut nog geadviseer ons haar geluk,
haar rusplek in Moab te soek in die huis van ’n ongelowige.
Asof daar onder God se volk niks vir Rut te vinde sou wees nie.
Nou, beskaam deur God se leiding en sorg, soek sy ’n huwelik
vir Rut in die Here, volgens die wet van God.

Wat Rut betref, sy wys opnuut volharding op die weg van die
Here. Dis die tweede gedagte: Rut se lojaliteit.

Gehoorsaam volg sy Naomi se goddelike raad. Probeer in te dink
wat dit vir hierdie jong vrou moes beteken het. Sy laat haar nie
lei deur haar gevoelens nie. Sy loop nie agter meer aantreklike
jongmanne nie. Sy onderwerp haar nederig aan Naomi se instruksies
en gaan na ’n man wat baie ouers is as sy. Sy is bereid om
haar nuwe familie verpligtings na te kom. Sy weet dat sy deel van
God se volk is. Sy waardeer hoe belangrik ’n mens se erfdeel
en ’n manlike nakomeling vir God se volk is. Daarom is sy
gewillig en bereid om haar deel te doen terwille van die Here en
Elimeleg se huis. Sy bly lojaal aan haar skoonouers en haar
eerste man. In geloof en gehoorsaamheid buig sy haar hoof en
belowe: alles wat u sê sal ek doen.

Ouers sowel as jongmense kan uit hierdie geskiedenis leer.
Eerstens ouers, wat kinders, jongmense in hulle sorg het. Ouers,
besef jul roeping om jul kinders in die weg van die Here te lei
ook mbt die keuse van ’n lewensmaat. Die situasie vandag is
baie anders as die van Naomi en Rut. Maar die beginsel bly
dieselfde. God se woord wys die norm aan. God sê duidelik dat sy
volk net in die Here moet trou, dws dat albei aan die Here moet
behoort en die Here dien. Daarom sal julle as ouers jul kinders
moet lei en waarsku teen ongewenste verhoudings en hulle moet
begelei na ware geluk in gehoorsaamheid aan die Here.

Jongmense, luister tog na die goeie leiding en waarskuwings
van jul ouers. Laat julle gevoelens nie jul vernaamste gids wees
nie. Gevoelens kan kom en gaan. Laat God se woord jul gids wees
wanneer julle ’n lewensmaat soek. Onderwerp jul gevoelens
aan dit wat God as die beste vir jou beskou. Wees nie wyser as
God nie. Volg nederig die pad wat Hy vir jou wys.

Rut volg Naomi se instruksies. Sy gaan stilletjies na die
dorsvloer, let op waar Boas gaan lê en wanneer Boas slaap, gaan
sy stilletjies na hom toe en gaan aan sy voete lê. In die middel
van die nag word Boas wakker. Tot sy skrik ontdek hy ’n vrou
by sy voete. “Wie is jy en wat soek jy?” Rut wys haar
kenmerkende houding. “Ek is Rut, u dienares.” ’n
Nederige woord. Sy erken haar afhanklikheid van hom. Sy is daar
tot sy diens. Rut probeer hom nie te verlei nie. Rut eis ook nie
vrypostig haar regte op nie.

Rut vra nederig haar beslissende vraag: “brei dan u
vleuel oor u dienares uit, want u is die losser.” Goed
gekose woorde. Die woord vleuel herinner Boas aan wat hy self vir
Rut gesê het toe hulle die eerste keer ontmoet het. Toe het Boas
vir Rut gesê: “Mag jou loon volkome wees van die Here, die
God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het.” Rut
herinner Boas aan sy eie woorde en stel hom voor die gevolge van
daardie woorde: “brei u vleuel oor my uit.” Eers is
daar gepraat van die vleuels van die Here. Nou praat Rut van Boas
se vleuel. Daarmee bedoel Rut nie net dat sy wil hê dat Boas vir
haar sal sorg en haar sal beskerm nie. In die konteks beteken dit
ook: trou met my, neem my as u vrou. Sy voeg daaraan toe, want u
is die losser. Dit is die grond vir haar versoek. Dit is wat haar
versoek so indringend maak.

Rut konfronteer Boas met die Woord van God, die wette van
lossing en leviraatshuwelik. Dit is nie ’n saak waaroor twee
mense volgens hul eie voorkeur kan besluit nie sodat die
persoonlike gevoelens of die gebrek daaraan deurslaggewend sou
wees. Nee, beslissend is dat albei hul verantwoordelikhede
teenoor die Here verstaan. Dat hulle Hom volgens sy woord wil
dien. En dit vra altyd die offer van jouself, selfverloëning.
Dis vandag nog so. As jy die Here wil volg en dien, dan moet jy
jouself verloën, ja selfs jou kruis op jou neem het Christus
later gesê.

Rut het haar versoek gedoen. Nou kyk ons na Boas se reaksie.
Die derde gedagte.

Boas se reaksie is baie bemoedigend. Geen teregwysing of
verwyt nie. Eerder: “Geseënd is jy deur die Here, my dogter.
Jy het jou laaste liefde beter gemaak as die eerste; omdat jy nie
agter jongmanne, arm of ryk, aan geloop het nie.” Met die
eerste liefde bedoel Boas die lojaliteit wat Rut teenoor Naomi en
haar huis bewys het deur haar eie familie en land te verlaat om
Naomi na Kanaän te volg. Dit was ’n daad van liefde wat
teen vlees en bloed ingegaan het. Rut het haarself verloën uit
lojaliteit teenoor haar skoonmoeder. Wel, die tweede liefde is
nog groter. Dit sou heel natuurlik gewees het as sy haar eie gang
sou gegaan het en die geselskap van jongmanne sou gesoek het om
’n ander man onder hulle te vind. Maar Rut volg die weg wat
die Here in sy wet bepaal het. Boas prys haar daarvoor. Sy is
bereid om ’n huwelik met die losser te soek ter wille van
Naomi se familie. Om daardie geslag te laat voortleef. Om die
familie naam en grond te behou. Dit is ware liefde en lojaliteit.

Boas erken Rut se toewyding aan haar nuwe familie verpligtings.
Hy prys haar daarvoor en stel haar gerus. Sy hoef nie bang te
wees nie. Hy sal die saak behartig. Haar saak het sy saak geword.
De lossing sal kom. Wie dit gaan doen, is nog nie seker nie. Daar
is ’n familielid wat nog nader as Boas is. En Boas gaan hom,
wat die eerste regte het, nie passeer nie. Hy moet eers betrokke
wees. Boas sal onmiddellik werk daarvan maak. Maar Rut mag
verseker wees dat as die man weier, Boas self die take van
’n losser op hom sal neem en haar sal trou. Hy bevestig dit
selfs met ’n eed. Hierin vertoon Boas groot welwillendheid,
geloof en liefde. Hy onderwerp hom aan die barmhartige wette van
die Here. Hy sou homself volgens die letter van die wet kon
onttrek het. Hy is mos nie die broer van Rut se oorlede man nie.
Maar Boas verstaan die gees van die wet en wil dit nakom. Hierdie
gesin in nood moet gehelp, gelos word. Die feit dat Rut ’n
Moabitiese is, is geen beswaar nie. Boas het haar toewyding aan
die Here en sy volk gesien. Hy mag hom nie terugtrek nie,
terwille van die Here nie.

Op Boas se uitnodiging bly Rut daardie nag naby hom onder sy
kombers aan sy voete. Sy moet nie in die midde van die nag huis
toe gaan nie. Dit sou onverantwoordelik wees. Bowendien sou die
poorte van Betlehem gesluit wees. Sy mag terwyl dit nog donker is
geniet van Boas se beskerming.

Let daarop hoe eerbaar beide Boas en Rut hulle gedra. Hulle
bewys Christelike selfbeheersing. Hulle gryp nie vooruit op die
huwelik nie. Hulle wag totdat hulle pad oop is volgens die wil
van die Here. In ons verseksde samelewing kan ’n mens
daarvan leer. God wil hê ons moet kuis en ingetoë lewe sowel
binne as buite die huwelik. Dis ’n leuen wat die moderne
media ons voorhou, naamlik dat alles moet kan solank as jy maar
van mekaar hou. Dis ’n gevaarlike en God en mens onterende
leuen. Laat ons tog ons gevoelens en verlangens aan God se wil
bly onderwerp tot eer van God en tot ons heil.

In die vroegoggend, voordat enige mens hulle kan herken,
vertrek hulle. Dis beter dat niemand weet van hierdie nagtelike
besoek. Mense sou hulle kan verdink van sedeloos gedrag en dit
sou die pad vorentoe kan verhinder. Voordat Rut vertrek gee Boas
haar ses mate gars. As ’n waarborg van sy welwillendheid
teen altwee vroue. Rut keer terug huistoe met gevulde hande.
’n Nuwe bemoediging vir beide Rut en Naomi. ’n Waarborg
dat die lossing sal plaasvind, die verlossing van armoede en die
dood. So hoor ons Naomi die gevolgtrekking maak: “hierdie
man sal nie rus tensy hy vandag nog die saak afgehandel het nie.”
Die losser sal in aksie kom. Die verlossing sal kom.

En, broers en susters, wat ons betref, ons het die waarborg
dat die volkome verlossing naby is. In sy dade as losser het Boas
die verlossingswerk van Jesus Christus mag voorafskadu. Soos Boas
die reg van lossing het, so ook Jesus Christus t.o.v. ons. Soos
Boas toe bewoë was oor die nood van die arme weduwees en tot hul
redding gekom het, so het Jesus Christus hom oor ons ontferm en
tot ons redding gekom. Soos Boas hom daarin deur die Here en sy
wet laat lei het, so het die Here Jesus hom in ons redding laat
lei deur die wil van die Vader. Julle mag vandag “die genade
van onse Here Jesus Christus (ken), dat Hy, alhoewel Hy ryk was,
ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede
ryk kan word” (2 Kor 8:9). Vanuit die hemel het Christus ons
kom soek, om ons as sy bruid te werf. Hy het ons met sy kosbare
bloed losgekoop uit die mag van die sonde en die dood. En as ons
opgestane Here rus hy nie totdat hy ons as sy bruid tot hom kan
neem, onder sy vleuels, in sy arms. Hy is besig met die laaste
voorbereidings vir die groot huweliksfees. Julle volkome
verlossing is naby.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)