Die besondere ampsdraers is geskenke van God

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-09-17
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 30
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 30 &
31

Ds C Kleijn - Sondag 17 September 2006

Lees: Efesiërs 4:1-16; 1 Timotheus 3;
Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 30 & 31.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 95:1,2,4;
Ps 135:1,2,11; Ps 134:1-3.

Tema: Die besondere ampsdraers is geskenke van God

  1. Die goddelike aanstelling van die ampsdraers
  2. Die doel van die ampsdraers

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe beskou julle die ampte in die gemeente? Die woord amp het
soms ’n negatiewe klank. Dit word dan gesien as iets wat
star en formeel is. Vergelyk maar die besoek van een van jou
Christen vriende met die besoek van jou ampsdraer. Die eerste kan
as spontaan en oop ervaar word terwyl die laaste tog soms ietwat
formeel en gespanne ervaar kan word ook al het jy in albei
besoeke oor dieselfde geestelike sake gepraat.

Die vraag word soms selfs gestel: Is die besondere ampsdraers
in hierdie Nuwe Testamentiese bedeling nog wel nodig? Is die
Heilige Gees volgens Hand 2 nie op alle vlees uitgestort nie? Het
alle gelowiges nie die salwing van die Heilige Gees ontvang nie?
(1 Joh 2:20,27). Moet ons nie die besondere genade gawes van die
gelowiges en die amp van alle gelowiges benadruk nie? En kan die
besondere amp nie grotendeels gemis word nie?

Tog is dit opvallend dat God na die Pinksterfees die besondere
ampsdraers aan sy gemeente gee. Let maar op die gedeelte wat ons
uit Ef 4 gelees het. Daar word in vers 7 eers genoem dat aan
elkeen van ons die genade gegee is, volgens die mate van die gawe
van Christus. Dit gaan daar kennelik oor die genadegawes wat aan
elkeen gegee is. Elke gelowige ontvang sy eie gawes en funksies.
Wanneer Paulus egter in vers 11 die gawes van die verhoogde
Christus opsom, begin hy met die besondere ampsdraers. Christus
het na die hemel opgevaar en gawes, feesgeskenke, aan die mense
gegee. En wat is die eerste gawes wat Paulus noem? Die besondere
ampsdraers. “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as
profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars.”
Is dit nie opvallend in hierdie Pinksterbedeling nie? Sien jy die
ampsdraers as feesgeskenke van Christus? Dis hoe God dit vir ons
beskryf. Hierdie gawes speel blykbaar ’n fundamentele rol in
die opbou van die Christelike kerk.

Ek verkondig vir julle: Die besondere ampsdraers is geskenke
van God

  1. Die goddelike aanstelling van die ampsdraers
  2. Die doel van die ampsdraers

Vanuit die hemel bly Christus vir sy kerk sorg dra. So het Hy
sy twaalf apostels aangestel om namens Hom in hierdie wêreld op
te tree. Hulle bind die gemeentes uitdruklik aan hul woord.
Rondom hulle was daar ’n breër kring van mense wat ook
apostels genoem is. Hulle was met die twaalf gesaghebbende oog en
oorgetuies van die werk en opstanding van Christus.

Gemeente, alle latere ampte in die kerk het uit die apostelamp
voortgekom. As daar in Hand 6 probleme ontstaan oor die
versorging of inskakeling van die Grieks sprekende weduwees in
Jerusalem, dan verwys die apostels die gemeente nie na sy
mondigheid nie. Asof die gemeente voortaan self sonder tussenkoms
van die apostels en ander ampsdraers dergelike sake moet reël.
Nee, dan stel die apostels sewe nuwe funksionarisse aan, manne
soos Stefanus en Filippus, wat op ’n besondere manier vol
van die Heilige Gees en wysheid is.

Wanneer ons kyk na die sendingwerk van die apostel Paulus en
sy medewerkers dan sien ons dieselfde ontwikkeling. ’n Mens
sou kon gedink het dat die amp in die Nuwe verbond net beperk sou
gebly het tot die apostels wat die fondament van die kerk moes
lê. En dat hulle dan vir die gemeentes sou gesê het: Julle ken
nou die evangelie, julle het die apostoliese geskrifte, julle kan
nou as gemeente verder aangaan sonder besondere ampsdraers,
gewoon as Christene onder mekaar, sonder spesiale vaste
voorgangers.

Maar wat doen Paulus? Hy stel in die gemeentes wat Hy stig
onmiddellik ouderlinge aan om herders oor die gemeentes te wees.
Om die gemeentes voor te gaan op die pad van die koninkryk.
Hierdie funksie is ook nie net tydelik nie. Paulus gee in sy
pastorale briewe aan Timoteüs en Titus die opdrag om in
dieselfde lyn voort te werk. Telkens moet betroubare manne gekies
word, wat die funksie van ouderling en diaken kan waarneem. Die
kerk kan kennelik nie sonder vaste voortrekkers nie. Te midde van
mense met verskillende gawes is hulle persone met ’n vaste
bediening.

Orals in die Nuwe Testamentiese gemeentes word ouderlinge
aangestel. In die Nuwe verbond het die amp nie verdwyn nie. Die
Christelike gemeente is geen gemeenskap waarin elkeen gelyk is
aan die ander en waarin niemand leiding gee nie. Nee, Christus
het daar die leiding. Maar Hy bedien Hom van manne wat spesiaal
daartoe begaaf en aangewys is. Hulle is deur Hom met gesag beklee.
Hulle word geroep om die Woord te verkondig, om onderrig te gee,
om opsig oor die kudde te neem, om goeie leiding aan die gemeente
te gee.

Die amp van ouderlinge in die gemeente is nie iets wat die
mense self bedink het nie, soos soms beweer word. Dink aan wat
Paulus skryf in Hand 20:28. Daar neem Paulus op die strand van
Milete afskeid van die ouderlinge van Efese. Hy vermaan hulle
soos volg: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde
waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as
herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed
verkry het.”

Die ouderlinge van Efese is deur niemand anders as die Heilige
Gees aangestel. Dalk het Paulus by hul aanwysing ’n
belangrike rol gespeel, soos ook elders die geval was. Miskien
was daar ook ’n verkiesing van die gemeente gewees. In ieder
geval is hulle deur die Heilige Gees aangestel. Ook al wil sekere
mense beweer dat die Heilige Gees nie werklik belang in die amp
stel nie.

En dis nie net die Gees wat daarby betrokke is nie. In die
genoemde teks kom ook God die Vader en God die Seun ter sprake.
Dis die gemeente van die Vader waaroor dit gaan. En dis die bloed
van die Seun waardeur sy uit die sonde en die dood losgekoop is.
Om ouderling in die gemeente te wees het alles met die drie-enige
God te make. Hulle het hul aanstelling van Hom en hulle is vir
Hom as spesiale medewerkers aan die werk.

’n Mens sollisiteer nie vir die amp nie. Dis nie soos
politieke verteenwoordigers wat ’n verkiesingsveldtog hou om
stemme te wen nie. Dis teen die aard van die amp om stemme te
probeer wen om as ampsdraer ingestem te word. Ons belydenis sê
dan ook dat elkeen terdeë daarteen moet waak om hom met
onbehoorlike middele in te dring. Jy moet wag totdat jy deur God
geroep word, sodat jy van jou roeping oortuig kan wees en
sekerheid kan hê dat dit van God kom. Christus gee ampsdraers
aan sy gemeente deur sy Gees. Verseker, die Gees skakel daarby
wel die gemeente in. Jy kan as gemeente broers identifiseer wat
jy vir die amp geskik ag. Die gemeente bid en verkies. Op grond
van die uitslag van die verkiesing benoem die kerkraad. Tog is
dit in beginsel nie die gemeente nie, maar Christus wat
ampsdraers aan die gemeente gee. Daarom sê Paulus vir die
ouderlinge van Efese dat die Heilige Gees hulle aangestel het.

Daarom ken ons in die kerk geen demokrasie nie. Dis nie so dat
die ampsdraers die wense van die lidmate moet opvolg nie. Nie die
lidmate nie, maar Christus regeer die kerk. Daarom praat ons van
’n Christokrasie. As die ampsdraers eenmaal deur die Gees
aangestel is, dan moet hulle die instruksies van die Gees opvolg.
Hulle moet die wense van die Koning Christus vertolk. Hulle staan
in die eerste plek in sy diens. Ook al is dit ten dienste van,
dws tot heil van die gemeente.

Vir die ampsdraers beteken dit: besef julle hoë roeping.
Julle is deur God self geroep. Gaan die gemeente in namens jul
goddelike sender. Gee in sy Naam en met sy woorde leiding aan die
gemeente.

Vir die gemeente beteken dit: ontvang die ampsdraers as
gesante, dienaars van Christus. Ag hulle hoog vanweë hulle werk.
Onderwerp julle aan hul goeie leer en tug met die verskuldigde
gehoorsaamheid. Ondersteun hulle met woord en daad en met gebed
sodat hulle hul taak met vreugde en vrug kan doen.

Gemeente, hierdie goddelike aanstelling van die ampsdraers
beteken nie dat die ampsdraers hoog bo die ander gemeentelede
verhewe is nie. Hulle sal inderdaad met gesag moet praat en
handel. Maar tegelyk is hulle nie anders as diensknegte van
Christus en die gemeente nie. Hul gesag is nie meer as verleende
gesag nie. Telkens word in die Bybel benadruk dat hulle nie moet
heers nie maar dien. Net soos Christus nie gekom het om gedien te
word nie, maar om te dien (Mt 20:25-28).

Broeders en susters, wat die onderskeiding van die
verskillende ampte betref het ons reeds gepraat van die gewone
ouderlinge. Toe die apostels en hul direkte medewerkers verder
getrek het, het daar in die gemeente ’n behoefte ontstaan
aan manne wat kon voorgaan in die bediening van die woord en van
die sakramente. So het die figuur van die ouderling ontstaan wat
ekstra belas was met prediking en onderrig. Hierdie amp kom naby
aan die amp van herder en leraar wat in Ef 4: 11 genoem word. In
hul prediking en onderrig is hulle as herders besig.

Naas die ouderlinge kry ook die diakens ’n vaste plek. In
die verlengde van Hand 6 is hulle belas met die leiding oor die
sorg vir die armes. Van hul aanstelling lees ons nie so nadruklik
as van die van die ouderlinge nie. Tog word hulle in Fil 1:1 en
in 1 Tim 3 as ’n vaste en aparte kategorie werkers in die
gemeente genoem. Kennelik het hulle ’n vaste vooraanstaande
funksie naas die ouderlinge en gee hulle saam leiding aan die
gemeente.

So sien ’n mens dat daar vir sekere take in die gemeente
ampsdraers nodig is. Dit gaan hier oor die bediening van die
Woord en die sakramente, die onderrig, die opsig en die tug oor
die gemeente en die diens van barmhartigheid. Dit is blykbaar die
wil van God dat daar vir hierdie take in elke Christelike
gemeente voorlopers sal wees. Dit is nodig terwille van die
regering van Christus en die heil van die gemeente.

So kom ons dan by die tweede gedagte: die doel van die ampte.

Ons lees van die doel van die ampte in Ef 4 vers 12 "om
die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk.” Die ampsdraers
is gegee om julle, broers en susters, toe te rus vir jul
dienswerk. Blykbaar is alle lidmate dienaars in die kerk. Elke
lidmaat het ‘n dienende funksie. Moenie die dienswerk beperk
tot ’n klein groep van mense nie, bv tot die ampsdraers.
Dienswerk is ‘n funksie van die hele gemeente, die roeping
van alle gelowiges.

Die Griekse woord vir dienswerk is diakonia, waar ons woord
diaken vandaan kom. In die Nuwe Testament omskryf hierdie woord
die hele lewe van en in die Christelike kerk. Diakonia is vir die
ampsdraers en vir die huisvrou die ideale omskrywing van hulle
God gegewe taak. Die Christelike lewe is diens, diens aan God en
diens aan die naaste.

Te dikwels is mense geneig om die dienswerk te beperk tot
hulle wat offisieel benoem en bevestig is. Die offisiële
ampsdraers sou dan al die werk moet doen. Hulle sou alles agterna
moet loop. Hulle sou alle inisiatiewe moet neem. Hulle sou alle
probleme moet oplos. Hulle sou iets moet doen aan al die sondes
onder God se volk, selfs aan die verborge sondes. Die tug sou
heeltemal op hul skouers rus. Jy sou die kerk dan kan vergelyk
met ‘n skip vol toeriste wat deur die kerkraad bestuur word.
Die lidmate sou dan agteroor kan sit en geniet van die vaart
terwyl die kerkraad heen en weer moet hardloop om al die werk te
doen. Maar dis nie volgens die Skrifte nie. Die dienswerk is nie
alleen vir die ampsdraers nie. Die hele gemeente, dus elkeen van
julle word daartoe geroep.

Daartoe gee Christus aan elkeen ook sy geestelike gawes.
Paulus het dit genoem in Ef 4 vers 7. "Maar aan elkeen van
ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van
Christus." Let wel dat dit Christus self is wat aan elkeen
van julle sy besondere genade of gawe gee. Die apostel benadruk
dit in die genoemde vers. Die genade is gegee volgens die mate
van die gawe van Christus, dit wil sê, volgens die verdeling wat
Christus maak.

Wat is dan die besondere taak van die ampsdraers? Hulle moet
die gemeentelede toerus vir hul dienswerk. Die dienswerk is nie
iets wat ons outomaties doen nie. Van nature is ons nie lus om so
‘n nederige werk te doen nie. Ons moet daarom aangespoor
word deur die Gees van God. Die getroue ampsdraer is dus die man
wat die lidmate help en bemoedig om hul gawes te ontdek, te
ontwikkel en te gebruik. Die goeie ampsdraer wil nie die werk uit
julle hande wegneem nie. Inteendeel. Hy lei julle op en rus julle
toe om te dien volgens jul eie gawes. In sekere sin kan ons sê
dat die ampsdraer daar op uit is om homself oorbodig te maak. Die
lidmate moet aan die werk spring.

Die ampsdraers is soos instrukteurs. Ampsdraers, julle lei
nuwe rekrute op. Julle leer ander mense om die wapenrusting van
God te hanteer en hoe om te werk en te lewe as Christene in
hierdie wêreld. In jou pastorale sorg probeer jy om mense te
help om weer goed te funksioneer in kerk en koninkryk. Deur
middel van tug waarsku jy en roep jy hulle terug wat die diens in
God se koninkryk verwaarloos of weier. In jou diakonale werk rus
jy die gemeente toe en stimuleer jy die gemeente om diakonaal
besig te wees. As ampsdraer is jy nie die boodskapper vir die
gemeentelede nie. Jy hou toesig oor die gemeente. Jy besoek die
gesinne en die individuele lede om te sien of die saad van die
Woord besig is om vrug te dra. Jy bemoedig jou medegelowiges om
blye en dankbare Christene te wees nie alleen tuis nie maar ook
by die werk. Daarvoor moet jy as ampsdraer die Skrifte bestudeer
sodat jy in staat is om die lede te lei, te adviseer en toe te
rus vir dienswerk. Jy moet as ampsdraers die weg wys deur jou
woorde en dade. ‘n Baie verantwoordelike taak. Maar ook
‘n pragtige taak. Want jy het die lewende en kragtige Woord
van God tot jou beskikking. En Jesus Christus is jou sender.

Wat is dan die doel van dit alles? Die opbou van die liggaam
van Christus. As elke lidmaat geaktiveer word en sy dienswerk
vervul, dan word die kerk opgebou. Dan sien jy groei. Groei in
geloof en kennis – verstandelike en deurleefde kennis. Groei
in eenheid en volwassenheid. Soos Paulus skrywe in die verse 14-16
"sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe
geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering,
deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot
dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag
( ja die liefde bind saam), in alles sou opgroei in Hom wat die
Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam – goed
saamgevoeg en saam gebind deur die ondersteuning wat elke lid gee
volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate –
die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde."

Broer, suster, seun, dogter, as jy dit sien, sou jy die ampte
wat Christus aan jou gee, nie waardeer nie? Jy wil as gemeente
tog groei? Groei in geloof en liefde. Ontvang daarom ampsdraers
as feesgeskenke van Christus. Ontvang hulle as mense wat gegee is
om te help en te lei. Skakel hulle of besoek hulle wanneer jy
worstel met sekere dinge of wanneer jy God se leiding soek.
Bespreek die sake met hulle. Laat hulle jou help om besluite te
neem wat God behaag. Laat hulle jou bemoedig en jou rigting gee.
Gebruik die gawes wat God julle gegee het. Bemoedig hulle en bid
vir hulle sodat hulle werklik mag wees wat Christus wil hê dat
hulle moet wees. Ja, dit is belangrik dat ons as ampsdraers ons
bewys as leiers, herders en leraars, dienaars in die enge sin van
die woord, diakens. Dit het ook bemoediging en aanvuring nodig.
Wat ‘n seën vir die gemeente as daar so ‘n samespel
tussen ampsdraers en gemeentelede is. Dan word die onderskeie
gawes ontwikkel en aangevuur. Tot eer van God en tot opbou van
die kerk.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)