Die orde en tug van die kerk

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-09-24
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 32
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 32

Ds C Kleijn - Sondag 24 September 2006

Lees: 1 Korinthiërs 5; 1 Korinthiërs 14:26-40;
Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 32.
Sing: Ps 97:1,2; Ps 97:6,7; Ps 50:7,11; Ps 19:5,6;
Ps 84:5,6.

Tema: Die orde en tug van die kerk

  1. Die nuttigheid van ’n vaste orde in die kerk
  2. Die grens van ’n vaste orde in die kerk
  3. Die tug as onderdeel van die orde in die kerk

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe ervaar julle die kerkorde en allerlei ander kerklike
reëls en afsprake? Binne die kerkverband is daar allerlei
reëlings getref waaraan ons as kerke ons gebind het. Laat ek
enkele voorbeelde noem wat juis betrekking het op ons eredienste.
Ek lees die artikels 65-68 van die Kerkorde. Ook binne die
plaaslike gemeente ken ons allerlei reëlings bv mbt die
verkiesing van ampsdraers.

Die vraag kan gestel word: is die kerkorde en al die ander
reëls wel nodig? Sterker nog: Is dit eintlik wel geoorloof in
hierdie Nuwe Testamentiese bedeling? Is God se Woord en Gees nie
genoeg as basis vir ons kerklike handelinge nie? Doof ons met al
die reëls die Gees nie uit nie? Maak ons daarmee nie alles te
formeel en te strak nie? Dwing ons daarmee die kerke en die
lidmate nie in ’n knellende keurslyf nie? Belemmer ons
daarmee nie die spontaniteit en beweeglikheid nie? Is daar so nog
wel ruimte vir die persoonlike belewing en insette?

Gemeente, die manier waarop die kerkorde en alle ander
kerklike reëls beleef word, sal afhang van hoe die reëls gelees
en gehanteer word. Waarom het ons die reëls? En hoe hanteer ons
hulle in ons kerklike lewe?

Kom ons kyk hierna aan die hand van art 32 van die NGB.

Ek verkondig vir julle die orde en tug van die kerk

  1. Die nuttigheid van ’n vaste orde in die kerk
  2. Die grens van ’n vaste orde in die kerk
  3. Die tug as onderdeel van die orde in die kerk

Ons artikel noem dat dit nuttig en goed is om onder mekaar
’n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die
kerk in te stel en te handhaaf. As jy dink dat ’n kerkorde
nie nodig is nie, dan sluit jy jou oë vir die werklikheid. Dit
is naamlik onmoontlik om as gemeenskap te funksioneer sonder dat
jy onderling bepaalde reëlings tref. God het in sy Woord nie in
besonderhede voorgeskryf wat ons presies moet doen en hoe ons die
dinge moet doen nie. Hy het net algemene beginsels vir ons gegee,
wat ons prakties vir ons situasie moet uitwerk. Die vorm waarin
ons sekere dinge doen sal ook nie by alle tye of gemeenskappe pas
nie. Tog moet ons ooreenkom hoe ons die dinge in die kerklike
lewe gaan doen. Calvyn sê nugter dat dit net nooit sal gebeur
dat alle kerkmense saam dieselfde sal dink dat iets mooi en goed
is nie. Daarom moet daar baie dinge goed vasgestel word. Anders
sal daar net wanorde en eiewilligheid heers.

Neem as voorbeeld die vrae: Hoe dikwels gaan ons eredienste
hou, wie mag in die eredienste voorgaan, wat sing jy tydens die
eredienste, hoe word iemand tot die amp toegelaat, wat doen jy
met mense wat afwyk van die Skriftuurlike leer. Om goed te kan
funksioneer moet jy sekere reëlings daarvoor tref. Sonder
dergelike onderlinge afsprake, word die kerk ’n deurmekaar
spul en hou dit daarmee op ’n gemeenskap te wees. Om ’n
kerk as gemeenskap in stand te hou is dit daarom nuttig en goed
om ’n bepaalde orde op te stel en te handhaaf.

Gemeente, deurslaggewend is veral dat die Bybel self ons leer
dat daar ’n goeie orde moet wees Dink aan wat ons in 1 Kor
14 gelees het. Daar gee Paulus verskillende praktiese aanwysings
hoe tydens ’n erediens gehandel moet word: die kerk van
Korinte ontvang ’n kerkorde in die klein. In die kerk van
Korinte het mense hulle nie aan mekaar gesteur nie. Elkeen het sy
eie gang gegaan. Daar was ’n sekere wedywer tussen lidmate
met verskillende genadegawes. Die een met sy besondere gawe het
die ander met sy spesifieke gawe probeer oortref. Soms het daar
meer as een mens gestaan en in tale gespreek of geprofeteer.
Selfs aan die Nagmaalstafel het die ryk mense nie vir die armes
omgegee nie. Maar so mag dit nie wees nie. Daarom stel Paulus in
hoofstuk 11 allerhande reëls op vir die viering van die Nagmaal,
terwyl hy in hoofstuk 14 allerlei reëls vir die erediens opstel.

Die groot motief vir hierdie orde is: “Want God is geen
God van wanorde nie, maar van vrede” (14:33a). Die
teenstelling wanorde – vrede is veelseggend. Die wil sê dat
die orde alleen nie die einddoel is nie, maar die vrede. Kerklike
reëlings dien nie net die orde nie; dit sou net ’n koue,
formele saak kan wees. Nee, sê Paulus: kerklike reëlings dien
die vrede. Dit gaan daaroor dat die gemeentelede in harmonie met
God en met mekaar lewe. Paulus stel dus nie reëls vir die
erediens vas om die lidmate in ’n keurslyf in te druk en om
hul vryheid te kortwiek nie. Hy doen dit om te voorkom dat die
liefde en opbou skade ly en die Gees bedroef word.

Dit gaan ten diepste oor die eer van God. God is ’n God
van vrede, nie van wanorde nie. Wanorde, verwarring hoort by
Satan. Rondom God is net harmonie, vrede, dat alles en almal op
sy plek staan en tot sy reg kom. Moenie dink dat Paulus die Gees
van God aan bande wil lê deur sy reëlings mbt die erediens nie.
Die teendeel is waar. As Paulus dit nie sou gedoen het nie, en
die wanorde wat daar in Korinte geheers het sou toegelaat het,
dan sou Hy juis teen die Gees van God gehandel het. Goeie reëls
wil juis ruimte skep vir God se woord en Gees. In ’n
chaotiese situasie kan dit gebeur dat die een hom ten koste van
die ander laat geld. As gevolg daarvan raak die goeie verhoudings
en opbou van die gemeente versteur. Daardeur word die Gees
bedroef. Daarteenoor bring ’n goeie kerkorde strukture tot
stand wat harmonie in die onderlinge verhoudings bring en ruim
baan maak vir God se Woord en Gees.

God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede.
Vandaar ook die aansporing in 1 Kor 14:40: Laat alles welvoeglik
en ordelik toegaan. Laat alles stylvol en in goeie orde verloop.
In die konkrete situasie vir die kerk van Korinte beteken dit:
moenie deurmekaar praat nie, maar laat elkeen sy beurt afwag.
Laat daar orde en reël in die samekoms van die gemeente wees. In
hierdie teks lê die regverdiging van ’n vaste orde in die
kerk. Daarom begin ons kerkorde met die aanhaling van daardie
woorde: “In die gemeente van Christus behoort alles ordelik
te geskied.” So word duidelik aangegee dat ons met die
reëls wat in die kerkorde volg, Paulus se opdrag in dade wil
omsit.

Broers en susters, by die aanvaarding van die kerkorde, erken
ons ook die werk van God se Gees in die geskiedenis. Paulus
waarsku in 1 Kor 14 teen ’n selfsugtige en eiemagtige
optrede wat hom bo die ander gemeentes verhef. Ons moet blykbaar
rekening hou met die gewoonte in alle kerke. In vers 33 skryf
Paulus: “Want God is nie ’n God van wanorde nie, maar
van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges. En in vers
36 lees ons die indringende retoriese vrae: “Of het die
woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen
gekom?” Jy moet nie dink dat die woord van God van jou
uitgegaan of alleen tot jou gekom het nie. Ons is nie die
moederkerk, waarvan die Woord van God uitgegaan het nie. Ons is
ook nie die enigste kerk tot wie die woord van God gekom het nie.
As ons alleen in die wêreld gestaan het, sou ons moontlik ons
eie gang kon gaan. Maar ons is net soos die kerk van Korinte, een
onder baie kerke. Die kerkgeskiedenis het voor ons begin en
eindig nie met ons nie. Daarom moet ons rekening hou met wat in
alle kerke gebeur. Geen plaaslike kerk mag hom vry en onafhanklik
van sy susterkerke beskou nie.

In die loop van die kerkgeskiedenis het kerkmense en kerke op
allerlei praktiese probleme moet reageer. Deur skade en skande
het hulle daarby wys geword. In die proses is hulle deur die Gees
van God verlig. Dis immers ook deur die Gees dat mense oor
praktiese insig en wysheid beskik. In die bepalings van die
kerkorde vind ons ’n neerslag van die wysheid wat in die
loop van die tyd opgedoen is.

Dit sou daarom dwaas wees om aan die bestaande kerkorde
agteloos verby te gaan. Daarmee sou ons weier om te leer van die
praktiese ervaring van die voorgeslag. Met as gevolg dat ons op
die mees basiese punte met val en opstaan weer ons weg sou moet
soek. Dit sou getuig van ondankbaarheid teenoor God se Gees. Hy
is uiteindelik die bron van al die wyse insig. Ook tov praktiese
reëlings kan ons voortbou op wat die kerk deur die Gees geleer
het.

Maar beteken dit nou, broers en susters, dat ons blindelings
maar moet aanvaar wat ons kerkvaders in die verlede vir ons
gereël het? Hier moet ons let op die grens van ’n vaste
orde. Dis die tweede gedagte.

Ons moet besef dat nie alle kerklike reëls van Godsweë ons
opgelê is nie. Daar is in die kerkorde afsprake geformuleer wat
reëlreg op die Skrif gebaseer is. Neem art 3: “Niemand mag
een van hierdie ampte vervul sonder dat hy wettig daartoe geroep
is nie.” Of die artikels 21 en 22 oor die taak van
ouderlinge en diakens wat direk die Skrif naspreek. Of art 36:
“In alle kerke sal daar ’n kerkraad wees.” Of
artikels 72 en volgende “die kerklike tug sal na die Woord
van God en tot sy eer bedien word.” Sulke reëls geld in
alle kerke. Nie omdat ons dit nou eenmaal so in die kerkorde
afgespreek het nie. Maar omdat dit op grond van die Skrif so moet.
Ons hoor daarin die wil van die Here self.

Ons het egter ook baie bepalings en reëls wat nie reëlreg op
die Skrif teruggaan nie, maar eerder ’n praktiese uitwerking
bied van ’n Bybelse beginsel of selfs volledig teruggaan op
wat mense in ’n bepaalde situasie vir die kerklike lewe
raadsaam ag. Dis dus mensewerk. Met hierdie bepalings wou die
vaders die lewe in die kerke positief dien. En wat hulle
vasgestel het, is as bindend aanvaar omdat dit vir daardie tyd en
situasie die mees wyse weg beskou is.

Maar gemeente, as dit vandag sou blyk dat sommige bepalings
die opbou van die gemeente frustreer en in die pad staan, pleks
om te dien, dan moet ons daardie bepalings rustig durf verander.
Die kerkorde en kerkreg is daar immers om die kerklike lewe te
laat bloei en nie om dit te blokkeer nie.

So ’n ontspanne houding tov die kerkreg lê heeltemal in
lyn met wat ons in art 32 van die NGB bely. Die artikel wys
daarop dat dit nuttig en goed is om onder mekaar ’n bepaalde
orde in te stel en te handhaaf. Daarby aansluitend word egter
onmiddellik gewaarsku dat die regeerders van die kerk “tog
noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons
enigste Meester, vir ons ingestel het nie.” Daarmee is die
grens van ons vryheid om reëls op te stel aangedui.

Die doel om ’n vaste orde te hê heilig nie die middele
nie. Laat ek ’n voorbeeld noem. Party kerkgenootskappe
verkies ’n hiërargiese organisasie. Hul plaaslike gemeentes
is net onderafdelings van die landelike kerk soos ’n mens bv
plaaslike afdelings het van ’n landelike politieke party.
Die plaaslike gemeentes val dan onder ’n steeds hoër
bestuur, waarvan die sinode die hoogste bestuur is. Al sou ons so
’n struktuur nuttig en prakties vind, moet ons hierdie
stelsel tog verwerp. Hoekom? Omdat die Heilige Gees geen klassis
of sinode oor sy kerk aangestel het nie, maar net ouderlinge wat
plaaslik regeer. Die deurslaggewende vraag is nie wat vir mense
nuttig of effektief lyk nie, maar wat wil Christus. En daarom sal
ons “tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat
Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie.”
Die groot voorwaarde is dat Christus Heer en Meester in sy kerk
bly.

Art 32 vervolg dan: “Daarom verwerp ons alle menslike
versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien
en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en
te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en
eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid
aan God te onderhou.” Daarmee het ons nog geen eenvoudige
skema van wat wel en wat nie in die kerk gereël moet word nie.
Maar daar word so wel rigting gegee: reëls is middele om die
eenheid van die geloof en die gehoorsaamheid aan God te bevorder
en te bewaar.

Gemeente, hierdie dubbele norm bepaal nie net watter reëls
ons as kerke vasstel nie, maar ook hoe ons met die reëls omgang.
Die kerkorde is nie ’n wetboek wat altyd volgens die letter
van die wet nageleef moet word, maak nie saak wat die gevolge is
nie. Ons nalewing van die kerklike reëls moet altyd staan in die
lig van die doel wat ons daarmee beoog, naamlik dat die eenheid
van die geloof en die gehoorsaamheid aan God bevorder en bewaar
word. As ons nalewing van die reëls met die dubbele doel in
stryd is, dan is ons verkeerd besig, dan hanteer ons die kerkorde
op ’n formalistiese en krampagtige manier tot skade en nie
tot opbou nie.

’n Mens moet altyd let op die geestelike bedoeling van
die reëls. Wat is die agtergrond waarteen ’n bepaling staan?
Wat is die relevante Bybelse beginsels? Watter geestelike belang
is daarmee gedien? Hoe dra so ’n bepaling by aan die vrede
en opbou van die kerk? Dit is nodig om mekaar op te wek om in die
kerk positief met reëls om te gaan. Dit beteken: sorg vir goeie
reëls wat die opbou en die vrede dien. Maar ook: hanteer die
reëls op ’n geestelike manier. Pas op vir slordigheid maar
ook vir krampagtigheid.

Laat ek as voorbeeld noem die hantering van art 65b van die
kerkorde. Daar staan: “Die kerke sal hulle hou by die orde
van diens wat deur die sinode goedgekeur is.” ’n
Gesonde uitleg van art 65 is dat ons met die orde van ’n
erediens sorgvuldig sal omgaan. Daar word in ons ordes van diens
’n grondpatroon geteken met ’n aantal basiselemente.
Ons sal ons lojaal daaraan hou. Jy mag geen elemente (byvoorbeeld
die seën of die wet of die Skriflesing) weglaat nie. Jy mag ook
nie elke willekeurige volgorde in die diens aanbring nie. Ons wil
mekaar beskerm teen ordeloosheid of wanorde in die eredienste.
Dit het ons saam afgespreek. Dit beteken egter nie dat die kerke
in ’n keurslyf gesit is en dat daar liturgies geen ruimte
vir variasie is nie. Binne die grens van die ordes van diens, wat
as riglyne funksioneer, bly daar ’n sekere vryheid. Ons kan
gerus nou en dan ’n ekstra Psalm sing of die
geloofsbelydenis ’n ander plek in die erediens gee sonder
dat dit direk ’n afwyking van die kerkorde is. Daar is in
ons eredienste voldoende variasie moontlik sonder dat ons in
stryd met die kerkorde kom. Laat ons tog onbekommerd gereformeerd
wees. Kerkreg is nie om die kerklike lewe te frustreer nie, maar
om die eenheid in die geloof en ons gehoorsaamheid aan God te
bevorder en te bewaar.

Nou die laaste gedagte: die tug as onderdeel van die orde in
die kerk.

Nadat die artikel oor die algemeen oor die orde van die kerk
gepraat het, vra dit in die laaste sinne aandag vir een onderdeel
daarvan. “Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee
saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.” In
hierdie korte aanduiding word drie belangrike sake genoem.
Eerstens die doel (daarvoor is nodig) van die
aansluiting is: die eenheid van die gemeente en gehoorsaamheid
aan God. Tweedens is dit ’n vereiste (daarvoor is nodig).
Derdens moet dit uitgevoer word “ooreenkomstig die
Woord van God

In 1 Kor 5 lees ons dat ’n lidmaat van die gemeente in
’n sondige verhouding met sy stiefmoeder leef. Paulus sê
dat hierdie hoerery van so ’n aard is dat dit selfs onder
die heidene nie bekend is nie. Daardeur word die naam van die
Here onteer. ’n Kerk wat publieke sondaars ongestraf laat
bly, gee mense die geleentheid om God se kerk en dus God self te
skend. Die eerste doel van die tug is dan ook die eer van God.

Paulus wys in daardie gedeelte ook op die twee ander doele van
die tug. Hy wys die gemeente daarop dat hulle teen hierdie broer
met optree. Daar is geen verskoning vir so ’n sondige gedrag
nie. Paulus praat daarvan om so iemand aan die Satan oor te lewer
tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die
dag van die Here Jesus. Ja, sodat sy gees gered kan word.
Dis die tweede doel van die tug: die redding van die sondaar. Jy
wil die sondaar nie afskryf nie, maar hom uiteindelik red. Ook as
dit die uiterste middel van die uitsluiting uit die gemeente verg.
Om so met ’n sondaar te handel is nie hard en liefdeloos nie,
maar juis ’n daad van liefde, medisyne, ’n blyk van
omgee.

Van die derde doel van die tug lees ons in vers 6: “Weet
julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak
nie?” Die sonde wat nie bestry word nie, is soos kanker. As
jy dit laat gaan, sal dit die hele liggaam siek maak en
uiteindelik tot die dood kan lei. So moet die sonde in die
gemeente onmiddellik aangespreek word sodat die gemeente nie
daardeur besmet en beskadig word nie.

Sien hier gemeente een van die dinge wat in die gemeente
volgens die Woord van God gereël moet word. Daarin sien ons God
se sorg vir sy gemeente en vir die individuele lidmate. Hy het
geen behae in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat hy
hom bekeer en leef. Daarom moet die kerk ook ’n bepaalde
orde instel en handhaaf. So word die liggaam van die kerk in
stand gehou. Met sulke afsprake help die kerke mekaar om in die
goeie spoor te bly en om beter te funksioneer. Daarmee wil ons
die eenheid van die geloof en die gehoorsaamheid aan God bevorder
en bewaar. Laat ons dan dankbaar wees met die beproefde
gereformeerde kerkorde wat ons van ons vaders ontvang het en laat
ons dit op ’n geestelike manier hanteer sodat die eenheid
van die geloof en die gehoorsaamheid aan God werklik daarmee
bevorder word.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)