Laat die regverdige vir die goddelike regte bly opkom

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-09-24
Teks: 
Psalms 11
Preek Inhoud: 

Psalm 11:3

Ds C Kleijn - Sondag 24 September 2006

Lees: Psalm 11.
Sing: Ps 122:1; Ps 122:2; Ps 100:2,4 na doop; Ps
11; SB 28:1,2.

Tema: Laat die regverdige vir die goddelike regte bly
opkom.

  1. Die regte word op aarde bestry.
  2. Die regte word vanuit die hemel gehandhaaf.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die vraag van ons teks moet ons vandag wel aanspreek: As die
fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen? Ons sien
hoe die fondamente op verskillende maniere omgegooi word. Die
fondamente word stukkend geslaan. Dit sal duidelik wees dat ons
hier die fondamente van die samelewing bedoel. Dis ook wat die
Psalmis bedoel. Dit gaan oor die fondamente van die openbare lewe.

Wat is dan die fondamente van die openbare lewe? Ons kan noem
reg en geregtigheid, waarheid en trou. Daarop rus ’n
geordende samelewing. As dit omgegooi word, dan heers daar die
chaos en wetteloosheid. Ons sien dit in ons land. God se reg word
vertrap. Sy wette word nie meer as die norm vir die samelewing
beskou nie. Die regering van ons land maak wette wat glad nie
Christelike waardes en norme in ag neem nie. Dink maar aan die
wette wat aborsie legaliseer en aan die seksuele immoraliteit wat
in verskeie wette sy weerslag vind. Terwyl politieke leiers
rolmodelle sou moet wees, leef sommige leiers uitgesproke
immoreel en onchristelik. Korrupsie en magsmisbruik is aan die
orde van die dag, juis in staatsdepartemente en onder amptenare.
Die oppergesag van die reg word selfs deur sommige leidende
figure in ons samelewing net gerespekteer solank as dit hulself
nie benadeel nie. Is dit dan vreemd dat misdaad en geweld so
’n ontstellende omvang in ons land het? As gevolg van die
immorele en onchristelike lewenstyl wat deur leiers van ons land
aangemoedig word, versprei die pandemie van HIV/Vigs nog steeds
as wildvuur in ons land. Nie net reg en geregtigheid, maar ook
waarheid en trou ontbreek grotendeels in ons land. So word die
huwelik en gesin meer ’n meer afgebrokkel en vier die leuen
hoogty. Wie kan ’n mens nog vertrou? So word die fondamente
van ons samelewing omgegooi.

Broers en susters, dit moet julle aangryp, ja, juis julle.
Julle ken immers die Woord van God wat vir ons die fondamente
aanreik, ja wat die fondament self vorm. Hoe destruktief is dit
as daardie fondament verag word.

As ons die afbraak rondom ons sien, dan klem ook vir ons die
vraag: as die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige
doen? Kom, laat ons nagaan wat die Skrif daaroor sê.

Ek verkondig vir julle:

Laat die regverdige vir die goddelike regte bly opkom.

  1. Die regte word op aarde bestry
  2. Die regte word vanuit die hemel gehandhaaf.

Die vraag: wat kan die regverdige doen? het Dawid besiggehou.
Sy vriende is bekommerd daaroor. Dawid spreek hulle aan in vers 1:
“Hoe kan julle dan vir my sê: Vlug na julle berg soos
’n voël!” Die vriende raai Dawid dus aan om soos
’n voël die wyk te neem en in die berge veiligheid te soek.

Dis ’n goed bedoelde advies. Dawid hoef nie daaraan te
twyfel nie. Hulle is sy vriende en soek die beste vir hom. Hulle
is besorg oor Dawid se lewe en veiligheid. Laat hy tog red wat hy
nog kan red, dit is sy lewe. Oor die omstandighede waarin Dawid
verkeer, kan ons min met sekerheid vasstel. Dalk word Dawid deur
Saul, die ontroue koning, vervolg. Miskien het Dawid hier te make
met die opstand van sy seun Absalom.

Wat in elk geval opval, is dat Dawid die advies van sy vriende
om na die berge te vlug, afwys. Hulle praat selfs van julle berg
of berge, die gebied wat vir Dawid en sy manne bekend en vertroud
is, waar hulle hulle veilig kan voel.

Dawid is verontwaardig oor die advies: Hoe durf julle vir my
sê: vlug na jul berge toe soos ’n voël? Waarom is Dawid
verontwaardig? Is dit ’n kwessie van trotse selfhandhawing?
Voel hy hom persoonlik beledig so van: wat dink julle wel van my?
Dink julle dat ek sommer my onder laat kry? Het ons hier te make
met ’n Dawid wat op sy eie krag en wysheid vertrou, asof hy
daarmee teenoor sy vyande kan klaarkom?

Nee, niks van dit alles nie. Geen trotse selfversekerdheid of
selfhandhawing nie, ook geen vertroue op vleeslike sekerhede, op
menslike bystand en mag nie. Nee, Dawid begin die Psalm juis met
die woorde: By die HERE skuil ek. Dit is die geheim van sy
optrede. Vanuit hierdie belydenis verwerp hy die advies van sy
vriende. By die HERE skuil ek. Dis bekende woorde in die Psalms.
Woorde wat beskryf hoe seer die Verbondsgod ’n vaste toevlug
vir die gelowige is. Met so ’n toevlug is Dawid veilig,
midde in die stryd. Veilig, selfs vir Saul of Absalom. Met so
’n toevlug ag Dawid dit hom onwaardig om te vlug soos
’n voël wat net aan sy eie lewe dink.

Maar gemeente, moet ’n mens ook nie aan sy eie lewe dink
nie. Moet ons nie alles daarvoor doen om ons lewe te red nie? Ons
lewe hier op aarde is tog baie werd? Het Christus self nie gesê
dat ons baie meer werd as die voëls is nie?

Inderdaad. Ons sien Dawid sy lewe op sy regte waarde skat.
Dawid weet dat hy ’n man van God is Ja, meer nog: hy weet
dat Hy God se gesalfde is wat ryke beloftes van die Here ontvang
het. As die gesalfde van die Here het hy goddelike regte ontvang,
kan hy hom rustig aan die Here toevertrou. Hoe hy ook al in
gevaar verkeer, wat hom kan noodsaak om te vlug, sy vlug is nie
’n vlug soos ’n voël, soos ’n klein, bang skepsel,
wat net aan sy eie lewe dink nie. Nee, sy vlug is die vlug van
’n man van God, wat dink aan die belofte en wat van God
uitsig ontvang het.

Hy besit goddelike regte. En dit gee hy op geen enkele manier
prys nie. Sy regte as gesalfde van die Here bly hy vashou. Immers
God self eis die regte op. Daarom laat Dawid hom nie van sy
stukke bring nie. Hy bly staan op sy regte. Daarom gee hy die
stryd nie op nie. Hy sal bly stry teen die vyande van God se reg.
As regverdige gaan dit vir hom oor die handhawing van God se reg.
Daarom gee Dawid sy plek nie prys nie, die plek wat God hom gegee
het. By die Here skuil ek. Hoe durf julle dan vir my sê: vlug na
die berge toe soos ’n voël!

Diep in sy hart besef Dawid wel dat sy vriende nie heeltemal
ongelyk het nie. Hulle het goeie gronde vir hul advies. Lees maar
die verse 2 en 3. Mbt die verse sê sommige kommentare: dit vorm
’n vervolg op die woord wat in vers 1 aangehaal is. Dit sou
die motiewe wys waarom Dawid se vriende hom adviseer om te vlug:
Let maar op wat die goddelose doen. Hulle rig hulle pyle op die
opregtes van hart. Hulle staan klaar om te skiet, om dodelik te
tref. Hulle soek op ’n verraderlike wyse die ondergang van
die vromes. Hulle skrik nie terug vir die gebruik van geweld om
hul teenstanders uit die pad te ruim nie. Daarom moet die
regverdige wel die onderspit delf. Die goddelose sorg wel
daarvoor dat sy planne deurgevoer word. Wat kan dan die
regverdige doen? Die stryd lyk vantevore verlore.

En dit des te meer nou die fondamente van die samelewing
opgebreek is. Pleks van reg en geregtigheid heers immers die
willekeur van tirannie, misbruik van mag. Die heilige
verordeninge van God is verlaat en die kwaad triomfeer. Ons kan
die situasie vergelyk met die beeld wat Hosea ons van sy tyd
skets: “daar is geen trou en geen liefde en geen kennis van
God in die land nie. Hulle sweer en lieg en moor en steel en
pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad
raak” (Hosea 4:1,2). In so ’n tyd lyk dit sinloos om
jou nog teen die verval en die vervolging te versit. Wat kan die
regverdige nog doen? Wat kan jy in so ’n situasie met jou
geloof en gehoorsaamheid, met jou verdediging van God se reg
bewerk? Die stryd lyk sinloos. Die inspanning is tevergeefs, dink
baie. Daarom raai hul Dawid aan om te vlug. Laat hy die stryd
opgee, sy plek ontruim en hom in ’n veilige oord terugtrek.

Gemeente, of die verse 2 en 3 die gedagtes van die vriende
vertolk of nie, Dawid moet hulle ten dele gelyk gee. Die situasie
is menslikerwys gesproke uitsigloos. Teenoor die metodes van die
goddeloses staat die regverdige magteloos. Die stryd lyk
vantevore ’n verlore stryd te wees. Wat kan die regverdige
nog doen?

Die vraag kom vandag ook op ons af. In die inleiding het ek
gewys op die aantasting van die fondamente van die samelewing.
Ons sien die afbraak van dinge wat vir ons as Christene dierbaar
is. Die enige fondament, naamlik die Woord van God, word verlaat
en so word die pylers van die samelewing stukkend geslaan. Ons
kan protesteer. Ons kan steun soek. Maar is die stryd nie reeds
verlore nie. Die regverdiges – hulle wat vir die reg van die
Here bly opkom – word steeds kleiner in aantal. Baie
kerkgemeenskappe het juis saamgewerk en werk nog saam aan die
omwenteling en afbraak van die samelewing. Wat kan die regverdige
nog doen? Die stryd word net swaarder, die teenstand feller.

Kan ons nie beter tou opgooi nie? Kan ons ons nie beter
terugtrek, pleks dat ons die haat van die wêreld oor ons uitroep
nie? Is dit nie verstandiger om ons met ons godsdiens terug te
trek binne die vier mure van die kerk, as dat ons in die publieke
lewe op die regte van die Here bly staan nie? Om vir die
aansprake van die Here in die breë lewe op te kom, maak ons dit
vir onsself net moeiliker. Is dit nie beter om ’n veilige en
rustige bestaan in teruggetrokkenheid te soek nie?

Gemeente, so is die verleiding ook vandag groot om te vlug na
die berge soos ’n voël, terwyl jy net dink om jou lewe hier
op aarde te red. As dit van ons sou afhang, sou ons onsself
terugtrek van die strydtoneel. Die regte van die Here en so ook
ons regte as erfgename van God, word hier op aarde bestry. Maar
– en dit is die geheim van hierdie Psalm – dit hang nie
van ons af nie. Daarop let ons in die tweede punt.

Die tema was: laat die regverdige vir die goddelike regte bly
opkom. Die eerste gedagte was: die regte word op aarde bestry.
Die tweede gedagte is: die regte word vanuit die hemel gehandhaaf.

Die laaste woord is nog nie gesê nie. Wat die regverdige nie
self kan doen nie, omdat hy saam met sy geloofsgenote net ’n
kleine minderheid vorm, dit sal die Here sy God wel tot stand
bring. Die Here handhaaf sy regte. Hy gee geen duimbreed prys nie.
Die sig daarop laat Dawid standhou, bewaar hom daarvoor om vir
mense te swig.

Met ’n ruk wend die digter sy blik af van die chaotiese
toestande op aarde na die hemel toe. Op aarde heers onreg en
geweld, maar in die hemel het ons ’n regverdige Regter: Hy
sal die reg laat seëvier. Die HERE is in sy heilige paleis. Ons
lees voortdurend die naam HERE met hoofletters, Jahwe, Ek is wat
Ek is. Dawid rig sy blik op Hom, die Verbondsgod wat trou bly tot
in ewigheid, wat sy beloftes waarmaak, wat sy woorde gestand doen,
maak nie saak hoe die vyande te kere gaan nie.

Die HERE troon bo in die hemel, bo die gewoel hier op aarde.
Verhewe bo alle magte op aarde. Nie so egter dat Hy hom van die
aarde afsydig hou nie. Hy sit daar nie in afgetrokkenheid of
werkloos nie. Nee, vanuit sy troon kyk Hy, sy oë keur die
mensekinders. Niks van wat hier op aarde gebeur ontgaan hom nie.
Hy wat die hart en niere toets, laat hom nie deur ’n skyn
van reg of deur regsverkragting mislei nie. Hy toets die
regverdige en die goddelose.

Broers en susters, moenie oor die hoof sien dat Hy ook die
regverdige toets nie. Ons wat glo is ook die voorwerp van sy
keuring. En wat sien Hy as Hy ons keur? Volmaakte toewyding aan
Hom? Is ek die lig van die wêreld wat ek moet wees? Is ek die
sout van die aarde? Weerspieël ek God se deugde in ons
samelewing? Is ek, by al die gebrek aan liefde en trou in ons
samelewing ’n voorbeeld van liefde en trou? Probeer ek
werklik met my woorde en dade ’n verskil te maak? Kan mense
rondom my aan my sien dat daar nog ’n almagtige en
regverdige God in ons land is? Skep ons aanwesigheid in ons
samelewing nuwe hoop vir mense?

Ongelukkig moet ek bely dat ek hierin baie tekortskiet. My
toewyding aan die Here en sy reg is verre van volmaak. Ek is
dikwels maar ’n swak voorbeeld en ’n dowwe lig in
hierdie duistere wêreld. Daar is dus alle rede om myself te
verootmoedig oor die nood in ons land. Ek is nie vry van skuld
nie. Ek het daaraan bygedra deur my tekorte aan liefde en trou,
deur my liefdelose woorde en dade waardeur ek ander onnodig seer
gemaak het, deur my oneerlikheid waardeur mense nie altyd op my
kon staatmaak nie. Ek het aan die nood bygedra deur my slapheid,
deur my weiering om te praat wanneer ek moes gepraat het en te
swyg wanneer ek moes geswyg het. Ja, broers en susters ons kan
nie anders as om onsself te verootmoedig oor die nood wat ons in
ons land ervaar. Ons is nie onskuldig daaraan nie. Ons het op
bepaalde maniere daaraan bygedra.

Tog praat die Psalmis van regverdiges. Nie op grond van wat ek
in myself is nie. Ek is net ’n regverdige in Christus, deur
die geloof. God kyk na my in Christus. Dis net deur Christus, uit
genade, dat ek die toets van die goddelike regter kan deurstaan.
Daarom is die ware geloof so belangrik. Glo in die Here Jesus, en
jy sal gered word. Deur Christus vergewe God my sondes en tekorte.
Deur Christus gee God my ’n ernstige voorneme en nuwe kragte
om volgens sy reg te begin lewe.

Gemeente, daar blyk in die Psalm ’n groot verskil te wees
tussen die regverdige en die goddelose. In vers 5b word God se
haat teenoor die goddelose so kragtig moontlik uitgedruk.
Letterlik staan daar: sy siel haat die goddelose en die wat
geweld liefhet. In die Bybel lees ons nie baie van die siel van
die Here nie. Die uitdrukking word hier gebruik om die diepste
gevoelens van die Here aan te gee. In die diepste van sy wese
haat God sulke persone.

En die haat is aktief. Die Here laat die haat op ’n
verskriklike manier voel. Ons word herinner aan die lot van Sodom
en Gomorra: “Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en
swawel laat reën; en ’n gloeiende wind sal die deel van
hulle beker wees.” God keer die situasie om. Terwyl die
goddeloses aanvanklik die verbete jagters was, is hulle nou self
soos gejagde wild wat onder die oordeel van God val.

"Want die Here is regverdig.” Hy bly regverdig ook
as op aarde alle fondamente omgegooi word. Hy handhaaf die reg.
Hy waarborg die uiteindelike oorwinning van die reg. Die onreg
bly nie ongestraf nie. Die Here, die regverdige, laat sy reg
seëvier. Die goddelose word uitgeroei. Maar die opregtes sal sy
aangesig sien. Hul reg sal deur die regverdige God herstel word.

Gemeente, oor die Ou Testamentiese vervulling, in die
gesuiwerde aarde Kanaän, heen word ons blik gerig op die laaste
oordeel. Dan sal die goddelose vir ewig uitgeskakel word. Dan sal
die regverdiges ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde ontvang,
waarin geregtigheid woon. Die fondamente word vir ewig herstel.

Wanneer ons vra: As die fondamente omgegooi word, wat kan die
regverdige doen, dan wys Dawid ons in hierdie Psalm die weg. By
die Here, die getroue Verbondsgod, die Regverdige, skuil ek. By
Hom is ek ewig veilig. By Hom is my regte ewig veilig.

Laat jou dan nie deur vrees of ongeloof opjaag nie, so van:
vlug na die berge toe soos ’n voël. Laat nie die vrees vir
mense jou dryfveer wees nie, maar God se beloftes, sy regte wat
ewig vasstaan. Hy veg nie vir ’n verlore saak nie. Onthou:
die aarde en alles wat daarop is, behoort aan die Here. Ook ons
pragtige Suid Afrika wat deur onreg en geweld ontsier word. God
bly hierdie land en wêreld vir homself opeis. En die regverdiges
mag erfgename van die wêreld wees. Gee jou regte nie prys nie,
ook al word dit bestry. Bly staan op die regte van die Here,
solank dit nog moontlik is. Bly die volle lewe, ons land en
wêreld met alles wat daarin is, vir die Here opeis. Gee die
stryd nie op nie. Want jou stryd is nie sonder uitsig nie. Jy het
uitsig op die hemel. En in die hemel troon die Here wat die
vervulling van sy beloftes waarborg. Hy sal die reg, jou reg laat
seëvier. Wie op Hom bou, sal nie beskaamd staan nie. Want die
Here is regverdig; Hy het geregtigheid lief. Hy sal uitkoms gee.
Dit staan vas. Dit gee perspektief. Dit gee nuwe moed en kragte
en vreugde. Die kroon van die oorwinning lê klaar. Die opregtes
sal sy aangesig sien.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)