Die amptelike reëling van Rut se lossing

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-10-01
Teks: 
Rut 4
Preek Inhoud: 

Rut 4:1-12

Ds C Kleijn - Sondag 01 Oktober 2006

Lees: Rut 4.
Sing: Ps 37:2-4; Ps 38:1,15,17; Ps 36:2; Ps 116:1-5;
Ps 128:1,4.

Tema: Die amptelike reëling van Rut se lossing

  1. Die weiering van die naasbestaande
  2. Boas se aanvaarding daarvan
  3. Die seënwens van die getuies

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Rut 4 vertel ons van die afloop van die geskiedenis van Rut.
’n Wonderlike afloop. Rut die Moabitiese, ’n arm
kinderlose weduwee, word die bruid van Boas, ’n vermoënde
man, maar veral ’n man ryk in die geloof. Boas het homself
reeds gewys as werklik ’n godsdienstige man. Hy aanvaar
verantwoordelikheid vir Rut en Naomi. Hy stem openlik daarmee in
om Rut te trou terwille van Elimeleg se naam en erfdeel.

Ek wil hierdie evangelie verkondig onder die tema:

Die amptelike reëling van Rut se lossing

  1. Die weiering van die naasbestaande
  2. Boas se aanvaarding daarvan
  3. Die seënwens van die getuies

Die toneel verskuif na die stadspoort. Op baie maniere was die
stadspoort die sentrum van die stadslewe. Daar het die stadsmense
saamgekom om met mekaar te gesels. Daar het mense besigheid
gedoen. Daar het die regspraak plaasgevind. Daar is regsake
aangehoor en afgehandel. Ja, in daardie dae het die regspraak op
’n baie meer gewone, alledaagse manier plaasgevind as vandag.
Vandag word ons regsake aangehoor en beslis in die hof. Die
regter is ’n geleerde man of vrou. Hy verskyn in spesiale
gewade. Alles verloop op ’n baie formele manier.

In Ou Israel was dit alles baie eenvoudiger. Die regters was
boere in hul werkklere. Op pad na hul stuk grond is hulle gevra
om vir ’n oomblik by die poort te stop om ’n saak aan
te hoor en te besleg. Dis hoe God sy reg onder sy volk bedien het.
Nie net in Betlehem nie, maar in die hele Israel.

Boas verloor geen tyd om die saak wat voor hom lê, af te
handel nie. Een van God se kwesbare kinders het tot hom gekom om
reg te soek volgens God se wet. Dis is nie iets wat jy uitstel
totdat dit jou die beste pas nie. Boas maak onmiddellik werk
daarvan. Voordat die manne na hul land gaan, gaan Boas by die
stadspoort sit. Hy soek vir die naasbestaande waarvan hy gepraat
het. Kyk, daar kom hy. Boas roep hom op vriendelike wyse en nooi
hom om saam met hom te gaan sit. Daarna roep hy ’n groep van
10 oudstes om as getuies en regters op te tree.

Die saak moet publiek en amptelik afgehandel word voor die
volle regbank. Sodat die afspraak wetlik en bindend is. Die
lossing van familiegrond en die aangaan van ’n swaershuwelik
is geen private saak wat net privaat tussen twee persone gereël
kan word nie. Dis ’n publieke aangeleentheid soos enige
huwelik ’n publieke aangeleentheid is. Dit raak die hele
gemeenskap. Die gemeenskap moet daarom ook daarby betrokke wees.
Soos ons vandag voorgenome huwelike publiek afkondig vir die
gemeente en soos die egpaar ook in die midde van die gemeente
trou.

So maak Boas die saak aanhangig. Hy handel met spoed. Die
vroue wat sy hulp ingeroep het, moet nie langer as nodig in
onsekerheid gelaat word nie. Hy moet hulle help so gou as
moontlik. Dit geld des te meer aangesien dit hier uiteindelik
gaan oor die reg van die Here self. God se reg is hier in geding.
Dit verdien voorrang. Laat die werk op die land of ander
besighede vir die oomblik rus. Maak nie saak hoe besig dit by die
werk is nie, God se saak het voorrang. Dit mag nie uitgestel word
nie. Stem julle hier saam geliefdes? Maar moenie vergeet wat dit
in jou eie lewe beteken nie. Dit beteken ook dat jy ondanks jou
besige program by die werk of by die skool, jy altyd tyd vir die
Here moet maak, vir aanbidding en gebed. Dit beteken dat jy
ondanks alles ook tyd moet maak om die dag met die Here te begin.
Dit beteken ook dat jy jou elke Sondag vir die Here se Woord
oopstel, sodat jy van daaruit elke dag van jou lewe van jou bose
werke rus en die Here deur sy Gees in jou laat werk. God se saak
is tog nr 1 in jou lewe? Ek herhaal: God se saak is tog nr 1 in
jou lewe?

Dis hoe Boas die saak in Betlehem behandel het. Met de
naasbestaande en die tien oudstes gereed, stel hy die saak aan
die orde: die stuk grond van ons broer Elimeleg moet gelos word.
Naomi staan op die punt om dit te verkoop. Boas nooi die
naasbestaande om as losser op te tree en die grond te koop om dit
in die familie te hou. Boas gee die man die volle geleentheid om
Elimeleg se grond te los. Hy bied dit aan hom in die
teenwoordigheid van die oudstes by die poort. Boas dring homself
nie na vore nie. Hy maak geen inbreuk op die regte van die
naasbestaande nie. In hierdie regtelike aangeleentheid laat Boas
hom deur Christelike liefde lei. Daarom skuif hy eie belange aan
die kant.

Die man stem ooreen om die grond te los. Maar dan wys Boas dat
daar ’n dubbele verpligting is. As jy die grond los, moet jy
ook die verantwoordelikheid vir die weduwee Rut aanvaar en
’n swaershuwelik met haar aangaan. Ook hier gee Boas die man
die volle geleentheid om daardie verantwoordelikheid te aanvaar.
Soos hy dit op die dorsvloer vir Rut gesê het: as hy wil los,
goed, hy kan los. Boas het bedoel wat hy gesê het. As die man
bereid is om te los, kan hy dit doen. Boas wys ware liefde vir
God en sy naaste. Hy soek nie eie belange nie, want dan sou die
liefde in selfsug verander. Terwyl liefde volgens 1 Kor 13 nie sy
eie belang soek nie. Jy eerste, sê Boas vir die man, dan ek. Dis
wat die Here eis. En net wanneer jy God se wil opvolg, is jy op
die regte pad.

Geliefdes, lossing van die grond en lossing van Rut is hier
aan mekaar verbind. Waarom? Nou, watter nut het dit om die grond
in die familie te hou, as daar niemand is wat die familie naam
lewend kan hou nie? Sonder erfgenaam sal die geslag uitsterf en
die grond tog weer in vreemde hande teregkom. Die naam van die
oorledene moet deur ’n erfgenaam herstel word saam met die
grond, die familie erfenis.

Nou dit blyk dat die naasbestaande ook Rut die Moabitiese moet
los, wys hy dit af. Die rede wat hy daarvoor gee is: “anders
bederf ek my erfdeel.” Wat bedoel hy daarmee? Hoe sal dit sy
erfdeel bederf? Twee moontlikhede kom o.a. in gedagte

Dit kan wees dat hy gierig was. As hy net die grond sou los
sou hy finansieel armer wees maar die grond sou tenminste van hom
wees, hy sou meer bates hê. Die feit dat die twee weduwees Naomi
en Rut albei kinderloos is, sou beteken dat hy min risiko loop
dat hy die grond sou verloor aan ’n erfgenaam van Elimeleg.
Dit sou sy grond bly. As hy egter met Rut sou trou dan sou die
situasie heeltemal anders wees. Dan sou hy beide sy geld en
uiteindelik sy grond verloor. As Rut immers ’n kind sou kry
uit daardie huwelik, dan sou die seun die wettige erfgenaam van
Elimeleg word. Die grond sou dan sy grond word. Dit kon dus
’n dure storie vir hierdie losser word. Dit sou sy eie
erfdeel behoorlik verswak.

’n Ander moontlikheid is dat hierdie naasbestaande bang
was om die Moabitiese Rut te trou. Hy het gehoor wat met sy
bloedverwante Maglon en Giljon gebeur het. Hulle het albei
’n Moab gesterwe. Eweas Elimeleg. Die hand van die Here was
duidelik teen hulle. Gestel dat hy daardie Moabitiese sou trou.
Sou daar nie ’n groot risiko wees dat die Here hom ook teen
hom sou keer nie. Dit sou sy erfdeel in gevaar bring. Dan sou hy
in dieselfde posisie as Elimeleg en sy seuns kan teregkom.

Dis moeilik om tussen die twee moontlikhede te kies. Dalk het
albei motiewe gegeld. Dis in elk geval duidelik dat die man hom
deur wêreldse, materialistiese motiewe laat lei. Hy was bereid
om die grond te los. Geen probleem nie, hy het genoeg geld. Maar
om Rut te los, nee, dit sou te veel kos, dit sou hom kan benadeel.
Hy sou sy eie erfdeel kan skaad. Hy is nie bereid om die offer te
bring nie. Hy durf homself nie toevertrou aan God se weldadige
wette van lossing van ’n gesin in nood nie. Sy grootste sorg
is: wat gaan dit my kos? Wat wen ek self daaruit. Hy is bereid om
God se wet te vervul in sover dit hom nie skaad nie.

Broers en susters, herken julle hierdie mentaliteit nie ook
vandag nie? Hoe dikwels is ons belange nie nr 1 nie, ook onder
God se volk. Ek is bereid om die Here te dien, so lank my eie
belange maar nie in gevaar kom nie. Wanneer dit daarop aankom,
stap ek terug: nee, dit kan ek nie doen nie, dit is te riskant,
te duur. Waar is dan die vertroue in die Here? Dit totale
onderwerping aan die Here? Die selfverloëning, terwille van God
se koninkryk? Het Christus nie gesê: Wie sy lewe vind, sal dit
verloor. Wie vader of moeder ... of seun of dogter bo My liefhet,
in my nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter my volg
nie, is My nie waardig nie. (Mt 10:37-39). En: “Voorwaar Ek
sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers en susters en
vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en
van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie
tyd honderd maal soveel ... en in die eeu wat kom, die ewige lewe.”
(Mk 10:29,30).

Wat gebeur met die man wat sy eie erfdeel, sy eie naam wil
veilig stel? Hy bly ’n naamlose figuur in die
heilsgeskiedenis. Is dit nie opvallend dat sy naam nie in ons
teks genoem word nie. Hy bly ’n naamlose figuur. Terwyl Boas
se naam met eer in die Bybel vermeld word. Die getroue Boas
ontvang ’n naam.

Dit bring ons by die tweede gedagte: Boas se aanvaarding van
die lossing

Uit wat ons reeds genoem het is dit duidelik dat dit ’n
dure saak is om in hierdie spesifieke situasie as losser op te
tree. Dit vra persoonlike offers. Die losser sal ’n deel van
sy erfdeel (die prys van die grond) moet prysgee terwille van
Elimeleg se familie naam en besit. Dit vereis ’n daad van
liefde en opoffering. Boas is bereid om dit te doen.

In die teenwoordigheid van die 10 getuies en ander omstanders
ontvang Boas die skoen van die man wat weier om losser te wees.
Hierdie skoen seremonie wys dat die naasbestaande sy reg om te
los aan Boas afstaan. Die naasbestaande sal geen voet op die
grond wat gelos moet word, sit nie. Daarom trek hy sy skoen uit
en gee dit aan Boas. Boas mag sy plek inneem, in sy skoene staan.

Boas aanvaar die aanbod, maak nie saak hoe groot die koste kan
wees nie. Maak nie saak dat hy volgens die letter van die wet nie
daartoe verplig is nie. Die wet praat mos van ’n
swaershuwelik, terwyl hy geen swaer van Rut is nie. Boas verstaan
die gees van die wet en wil dit nakom. Boas doen sy woord wat hy
vir Rut op die dorsvloer gespreek het, gestand. Hy roep die
getuies daarby om die ooreenkoms te bevestig. “Julle is
vandag getuies dat ek alles wat aan Elimeleg en alles wat aan
Giljon en Maglon behoort het, uit die hand van Naomi koop. En ook
Rut, die Moabitiese, die vrou van Maglon, verwerf ek vir my as
vrou.”

Dit mag ook vir elkeen duidelik wees waarom hy Rut as vrou
neem. Dis nie vanweë die begeertes van die vlees nie. Ook nie
met die stille hoop dat geen erfgenaam vir Maglon sal gebore word
nie. Nee, dit is vir die uitdruklike doel “om die naam van
die dode oor sy erfdeel in stand te hou, sodat die naam van die
dode onder sy broers en uit die poort van sy woonplek nie
uitgeroei word nie.” Met ander woorde: Boas wil juis uit
hierdie huwelik ’n seun ontvang wat die wettige erfgenaam
van Elimeleg kan wees en wat so die familie naam op die familie
grond kan behou. Boas wil voorkom dat daardie familie naam uit
Israel verdwyn. Boas noem dit uitdruklik in die teenwoordigheid
van baie getuies.

Gemeente, hoe wonderlik is dit om sulke woorde te hoor onder
God se volk van daardie tyd. In daardie dae van die Rigters,
waarin elkeen gedoen het wat goed was in eie oë. Hier het ons
’n man wat nie homself eerste plaas nie, maar wat eers God
se koninkryk en sy geregtigheid soek. Hy is bereid om die wil van
die Here te doen tot heil van sy naaste. Hy is bereid om te dien,
nie met teensin nie, maar met vreugde, in selfopofferende liefde.

Hierin is Boas werklik ’n beeld van ons groot losser
Jesus Christus. Jesus ons bloedverwant deur die maagd Maria. Wat
Homself in selfopofferende liefde gegee het om sy volk te verlos.
Wat ons wou red van ewige verderf sodat ons naam en erfdeel behou
sou kan bly in die hemel.

In daardie dae van die rigters tree Boas vorentoe as ’n
groot Hervormer. Daardie tyd was gekenmerk deur deformasie:
elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë. Die begin van die
boek Rut gee daarvan ’n duidelike voorbeeld. Elimeleg
besluit om sy God gegewe erfdeel te verlaat om ’n beter lewe
in Moab te soek: eiewilligheid, ongehoorsaamheid.

Hoe wonderlik is dit om te sien dat God ook in daardie tyd
gehoorsaamheid aan Homself bewerk. Boas doen wat God wil hê hy
moet doen, nie net volgens die letter van die wet nie, maar
volgens die gees van sy weldadige wet. Boas stel ’n
voorbeeld van eenvoudige gehoorsaamheid. In woord en daad erken
hy die Here as sy Koning en bewaarder. Dis hoe hy die deformasie
bestry. En dit het ’n impak. Luister hoe sy werkers sy
Christelike begroeting beantwoord in hoofstuk 2. En luister na
die seënwens van die getuies by die stadspoort in antwoord op
Boas se verlossende liefde. Die getuies keur Boas se daad goed
deur te verklaar: Ons is getuies en deur God se seën toe te wens.
Hulle huiwer nie. Hulle waarsku hom nie teen so ’n huwelik
met daardie Moabitiese. Die tragiese geskiedenis van die huis van
Elimeleg kon hulle rede gegee het om dit te doen. Maar nee, hulle
kom net met ’n seënwens. Hulle is beïndruk met Boas se
trou. Daarom het hulle niks om te sê nie, behalwe om hom God se
seën toe te wens.

Ons hoor ’n drievoudige seënwens.

Eers vir sy jong vrou. “Mag die Here die vrou wat in jou
huis inkom, maak soos Ragel en soos Lea wat saam die huis van
Israel gebou het.” Ja, mag die Here dit doen, sê hulle. As
jy kyk na die mense wat God vir sy planne gebruik, dan lyk dit
nie baie rooskleurig nie. Dink aan die geskiedenis van Ragel en
Lea, die twee vroue van Jakob met al hul jaloesie en wedywer.
Maar God wou hulle gebruik om die huis van Israel te bou. Daarom:
Mag die Here hierdie vrou maak tot ’n moeder van baie
nakomelinge.

Dan is daar die seënwens vir Boas self: Mag jy mag verwerf in
Efrata en ’n naam maak in Betlehem. In selfopofferende
liefde wil Boas Elimeleg se familie naam en besit red. Hy is
bereid om sy eie naam daarvoor te riskeer. Nou wens die getuies
hom ’n naam, ja, faam onder God se volk.

Ten slotte spreek hulle ’n seënwens uit vir die nuwe
gesin wat gestig word. “Mag jou huis word soos die huis van
Peres wat Tamar vir Juda gebaar het.” Ons word opnuut
herinner aan ’n skandelike stuk geskiedenis. Peres wat Tamar
vir Juda gebaar het. Wat ’n geskiedenis om hier te noem. As
dit van mense afgehang het, sou niks van daardie geslag tereg
gekom het nie. Maar God het soewerein sy gang gegaan en soewerein
sy instrumente gekies. Peres het die voorvader geword van Boas en
baie ander Betlehemite. Die getuies bid dat Boas soos sy
voorvader ’n talryke en roemryke gesin van nakomelinge sal
hê.

In hierdie verband het dinge duidelik verander. Die meeste
mense wil nog beroemd wees. Maar wie soek dit nog in ’n
groot nageslag? In ons huidige samelewing maak ’n groot
aantal kinders ’n mens nie baie roemryk nie. Maar in
Betlehem het die mense nog verstaan dat die mooiste erfdeel wat
’n mens van die Here kan ontvang, kinders is (Ps 127:3).
Mense het geleef na die dag van die Messias toe. Hulle wou hê
dat hul kinders daarby sou wees, onder hulle wat Hom verwelkom
wanneer hy kom. Of selfs dat die Messias as nageslag van een van
hulle sou gebore word.

Bowendien, hulle het geweet dat God tallose mense wou hê om
hom te dien en te vereer. Die getuies by die stadspoort moet ook
dit in gedagte gehad het toe hulle hul seënwens uitgespreek het.
Hulle noem uitdruklik die huis van Israel wat deur Ragel en Lea
gebou is. Dis baie werd om moeder te word. Dis nog meer werd om
moeder in Israel te word, om aan God se volk te bou, om aan God
se kerk te bou. Ja, dis werklik ’n eer en ’n seën.

Geliefdes, hoe anders is dinge hier in die huis van Elimeleg
in vergelyking met sê 10, 12 jaar daarvoor. Nou is daar ’n
man aan die hoof wat God se koninkryk en sy geregtigheid as
eerste soek. En dit roep ’n positiewe reaksie los onder God
se volk. Hulle besef opnuut: dis hoe dit moet wees. In die
onderhouding van God se wette is groot loon. Prys die Here vir Sy
goedheid en genade.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)