Soldate in Christus se diens moet

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-10-22
Teks: 
Efésiërs 6
Preek Inhoud: 

Efesiërs 6:10-12

Ds C Kleijn - Sondag 22 Oktober 2006

Lees: Efesiërs 6.
Sing: Ps 91:1,2,5; Ps 94:6-8; Ps 46:1,4,6; SB 28;
Ps 121.

Tema: Soldate in Christus se diens moet:

  1. Met bonatuurlike wesens stry
  2. Hulself met die wapenrusting van God toerus

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Aan die einde van sy brief aan die Efesiërs skryf Paulus oor
stryd en wapenrusting. Ons word tot die stryd opgeroep. Paulus
gaan daarvan uit dat elkeen sonder uitsondering in ’n stryd
om lewe en dood betrokke is. Ons stryd is nie teen vlees en bloed
nie, maar teen geestelike magte. My lewe as Christen is ’n
voortdurende stryd. Daarom: trek die wapenrusting van God aan.

Maak Paulus dit nie erger as wat dit is nie? Is elkeen van ons
werklik betrokke in ’n stryd om lewe en dood? Op die oomblik
is dit tog nie so sleg nie? In ons land ondervind ons geen
vervolging nie. Die kerk geniet van volkome vryheid. Waar is dan
die stryd hier in Suid Afrika en in my lewe?

Ja, daar is mense wat nog steeds kom aandra met die antitese,
met die onversoenlike teenstelling tussen kerk en wêreld. Hulle
bly verkondig dat daar stryd is en geen vrede nie. Wat moet ek
daarvan dink? Geniet ons nou in elk geval nie van vrede nie? Moet
ons werklik praat van stryd en wapenrusting? Soek ons dan nie
juis die stryd nie? Veroorsaak ons dan nie die stryd nie?

Geliefdes, vanoggend wil ek julle aandag vra vir die
Christelike stryd. Is julle nog bewus van daardie stryd? Is julle
nog gereed vir die stryd?

Ek verkondig vir julle die woorde van die teks: Paulus spoor
ons aan om gereed te wees as soldate van Christus.

Soldate in Christus se diens moet:

  1. Met bonatuurlike wesens stry
  2. Hulself met die wapenrusting van God toerus.

As jy ’n stryd wil wen, moet jy die vyand grondig ken en
sy mag en vermoëns respekteer. As jy jou vyand onderskat, sal jy
jouself onvoldoende bewapen en sal jy sommer so verslaan word.

Teen wie moet jy as soldaat van Christus stry? Die teks
benadruk dat die duiwel en sy trawante die ware vyande is. Vers
11 noem die liste van die duiwel. Dis veral teen die duiwel dat
ons moet veg. Die naam duiwel beteken: lasteraar, een wat valslik
beskuldig, een wat mislei. Satan word die duiwel genoem. Hy is
die lasteraar wat altyd en orals probeer om te mislei en
verwarring te stig.

“Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af”,
sê Christus in Joh 8:44, “en staan nie in die waarheid nie,
omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal
praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die
vader daarvan.”

Die teks verwys na die liste van die duiwel. In die
oorspronklike taal herken ’n mens die woord metodes. Daardie
groot moordenaar en leuenaar wat mense van God wil vervreemd,
werk metodies, sistematies. Hy handel nie lukraak nie met die
gedagte: ek sal sien waar ek uitkom. Nee, hy werk sistematies,
doelgerig. En as jy weet dat dit die plan van die duiwel is, dan
sal jy ook besef dat dit ’n slinkse en listige plan moet
wees. As Christen het jy te doen met die krygsliste van die
duiwel, sy slim en verraderlike praktyke. Hy weet presies wat hy
wil. Hy weet ook watter metodes om te gebruik om sy doel te
bereik. Hy herken die swak en onbewaakte plekke. Dis juis daar
waar hy sy aanval doen. Om deur te breek.

Geliefdes, let ook op die meervoud in die teks: die liste van
die duiwel, sy krygsliste. Hy het meer as een pyl op sy boog. As
hy op een manier nie slaag nie, sal hy ’n ander manier
probeer. Hy is ’n gevaarlike wolf wat in skaapsklere onder
Christus se kudde inkom. Soms brul hy soos ’n leeu, maar
dikwels is hy so listig soos ’n slang. Daarom, moenie dink
dat direkte vervolging en openlike versoeking tot sonde sy
enigste of selfs sy meer gebruiklike wapens is nie. Hy probeer om
ons tot kompromisse en tot dwaling te verlei. Opmerklik is dat
dieselfde woord liste ook in Hoofstuk 4:14 gebruik word vir valse
leraars en hul slu bedrieëry. Satan wissel intimidasie af met
insinuasie. Hy speel beide die boelie en die bedrieër. Hy bied
die leuen op so ’n manier aan dat dit lyk asof dit die
waarheid is. As jy nie bewus van sy taktieke is nie, merk jy dit
nie eers nie. Jy word sommer meegevoer.

Broers en susters, besef dit goed. Anders is jy verlore
voordat die stryd begin. Die duiwel is natuurlik bly wanneer hy
jou onverwags kan vang. Wanneer jy sy taktieke nie herken nie.
Hoe minder mense van hom praat, hoe blyer is hy. Hy hou van die
duisternis. Hy is op sy listigste wanneer dit hom geluk om mense
te oortuig dat hy nie bestaan nie. As jy sy bestaan ontken, is jy
des te kwesbaarder vir sy sluheid. Iemand het eens geskryf:
“Ek is seker dat die belangrikste oorsaak van die slegte
toestand van die kerk vandag is die feit dat die duiwel vergeet
word. Alles word aan ons toegeskryf. Ons het almal so psigologies
geword in ons houding en denke. Ons is onbewus van daardie groot
objektiewe werklikheid van die bestaan van die duiwel, die
teenstander, die lasteraar en sy vurige pyle.”

Paulus ontmasker hom. Hy sit hom in die volle lig en lê so sy
duistere planne bloot.

Paulus laat ons agter die skerms kyk. Voorafgaande aan die
teks praat Paulus oor allerlei verhoudings waarin ons leef. Die
verhoudings binne die huwelik, binne die gesin, by die werk.
Elkeen word sy eie plek en verantwoordelikheid gewys. As jy jou
lewe binne al die verhoudings sien, kan jy dink dat jy net met
mense te doen het. Vergeet dit, sê Paulus aan die einde van sy
brief, daar is baie meer aan die gang as wat jy met jy blote oë
sien, Daar is meer partye en kragte besig. Kyk maar agter die
skerms. Dan sien jy die duiwel en sy trawante. In en agter die
mense wat jy ontmoet, is bonatuurlike wesens aktief.

In vers 12 gee Paulus ’n vreeswekkende beskrywing van die
magte wat teen ons opgestel is. “Want ons worstelstryd is
nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die
magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie
eeu, teen die bose geeste in die lug.” Uit die verband is
dit duidelik dat hierdie owerhede en magte bondgenote van die
duiwel is, demoniese kragte. Hulle word owerhede en magte genoem
om aandag te vestig op die mag en gesag wat hulle uitoefen. Die
owerste van die wêreld en sy bondgenote het groot mag en invloed
in hierdie wêreld. Hulle beklee sleutelposisies, hulle heers in
die samelewing. En hulle beoefen hul demoniese mag. Ja, demoniese
mag, want hulle is wêreld heersers van die duisternis van
hierdie eeu. Hulle haat die lig. Duisternis is hul natuurlike
woonplek, die duisternis van valsheid en sonde. Hulle word
beskryf as bose geeste in die lug. Hulle opereer in die sfeer van
die onsigbare werklikheid. Ons het te doen met bonatuurlike
vyande wat buite ons observasie val. Hulle is in die lug. Hulle
is geestelike kragte wat mense beheers, wat mense in die hande
van die duiwel lei en hou.

Geliefdes, hoeveel bose geeste is nie in ons samelewing besig
nie? Dink aan die gees van vryheid. Absolute vryheid word
gepropageer. Jy behoort om jou eie lewe te lei soos jy dit wil.
Jy behoort heeltemal vry te wees. Hierdie gees van vryheid het
die massas in sy greep. En daarom ook die gees van selfsug,
individualisme en subjektivisme. Die mens gee veral om homself.
Die lewe van die mens draai om homself. Selfs die Bybel moet aan
hierdie gedagtes aangepas word. Deur herinterpretasie laat mens
die Bybel sê wat die moderne mens wil hoor en pas.

Is daar iemand wat nie deur die geeste van hierdie eeu bedreig
word nie? Is daar iemand wat nie die gevaar loop om daardeur
beïnvloed te word nie? Dit word immers baie aantreklik
voorgestel en dit spreek ons van nature aan.

Die bose geeste is in die lug. Jy ontmoet hulle orals. Hulle
verkry toegang tot ons huise en lewens. Deur die internet, die
selfoon, radio en televisie. Jy kan vandag op ’n baie
letterlike manier praat van bose geeste in die lug. Hulle is
onsigbaar, ongrypbaar, tog is hulle daar. Hulle kom ons huise
binne, ook deur die voordeur. Deur besoekers wat as baie
vriendelik kan oorkom. Die duiwel en sy bondgenote is baie slim.
Hulle gebruik mense waarvan jy dit nie sou verwag het nie. Dink
net aan die geskiedenis van Jesus Christus op aarde. Nadat die
direkte aanval op Jesus Christus tydens die versoeking in die
woestyn gefaal het, mobiliseer Satan Christus se eie volgelinge.
Luister na Petrus kort na sy pragtige belydenis in Mt 16:16:
“U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
Wanneer Christus begin praat oor sy lyding en dood, bestraf
Petrus hom met die woorde: “Mag God dit verhoed, Here, dit
sal U nooit oorkom nie!” Aanvanklik sou ’n mens kan
dink dat dit ’n baie simpatieke gebaar van Petrus is. Maar
Jesus Christus sien raak wat aangaan. Hy sien Satan daaragter wat
probeer om Hom van sy lyding te weerhou. Daarom reageer Jesus so
skerp na Petrus toe: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir my
’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie,
maar die dinge van die mense.”

Jy moet dus altyd waaksaam wees. Die duiwel huiwer nie om
selfs jou beste vriende, jou skoolmaats, jou familie, jou
kerkvriende teen jou te gebruik nie. Nee, nie in ’n openlik
vyandige manier nie. Maar deur verleiding. Mense wat self niks
vermoed nie, kan as Satan se instrumente funksioneer. Hulle doen
dit te goeder trou. Laat jou egter nie daardeur mislei nie. As ek
iets te goedertrou doen, dan is dit geen waarborg dat my siening
en praktyke reg is nie. Ek kan ’n ernstige gelowige wees en
tog op ’n onbewaakte oomblik as Satan se instrument optree.
Laat die voorbeeld van Petrus jou waarsku. Na sy pragtige
belydenis word Petrus deur Jesus selfs ’n satan genoem.

Verblind jou nie deur goeie bedoelings van mense nie. Wees
waaksaam, selfs wanneer jy jou beste vriende op besoek het. Dalk
is julle besig om mekaar in die verkeerde rigting te lei. Dalk is
julle besig om onder mekaar twyfel te saai. Dalk is julle besig
om die aandag van God af te trek om alle aandag op die mens te
rig sodat die mens met sy gevoelens en belewing in die middelpunt
staan.

Maar, broers en susters, is dit nie ’n baie somber
prentjie nie? Is ons vyande dan orals? Moet ek altyd en orals op
my hoede wees? Ja, Paulus spoor jou daartoe aan. Jy moet altyd en
orals waaksaam wees, gereed wees as soldaat van Christus.

Is die stryd so ernstig? Ja, dit is ’n stryd om lewe en
dood. Die duiwel gaan rond soos ’n brullende leeu op soek na
prooi. Hy wil jou, as kind van God, van God probeer skei. Daardie
mensemoordenaar van die begin wil God se kinders die dood injaag,
die ewige dood. En hy laat geen middel onbeproef nie. Die doel
regverdig by hom die middele. Hy is uiters geweteloos en
meedoënloos in die najaag van jy bose planne. Solank as hy jou
van God en sy diens kan wegtrek, solank as hy maar ’n wig
tussen God en jou kan dryf.

Moenie dink dat daar vrede is, noudat jy nie vervolg word nie.
Die duiwel sou jou graag daarvan wil oortuig. As ’n engel
van die lig roep hy uit: vrede, vrede, geen gevaar nie. Maar
ondertussen val hy jou aan met sy vurige en dodelike pyle.
Daardie stryd gaan aan genadeloos. Voor die einde van jou lewe of
van die geskiedenis is daar geen tydelike wapenstilstand nie.
Elkeen van julle is betrokke in die konflik met God en Sy vyande.
Dis ’n stryd waarmee jy in alle areas van die lewe
gekonfronteer word. Ook wanneer jy siek of bedroef is. Hoor mense
suggereer – en as jy nie versigtig is nie, jou eie hart ego
– kan dit wees dat God dit so wou hê? Is Hy nie ’n God
van liefde nie? Waar is dan sy liefde? Of is Hy self nie in staat
om iets daaraan te doen nie? is hierdie lyding dalk iets wat
buite hom omgaan?

Geliefdes, die stryd raak ons in die geslotenheid van ons
huise of slaapkamers. Mag ek daar nie dinge lees, na dinge kyk of
dinge doen wat ek self wil nie? Is ek daar in die privaatheid van
my eie kamer nie vry nie? Die stryd is daar by die werk: waarvoor
moet ek werk? Tog vir my eie voordeel. Die stryd is daar by die
skool of universiteit: waarom studeer ek? Tog om self daarvan
beter te word, vir my eie gewin en plesier. Met al die mooi
woorde is die mens geneig om net op homself te fokus pleks om op
God te fokus. Amptelik het ek God nie dood verklaar nie, maar in
die praktyk lyk dit dikwels wel die geval te wees.

Broers en susters, seuns en dogters, die stryd is werklikheid.
En hewig. Dis immers nie teen vlees en bloed nie, teen swak
mensekinders nie. Die ware vyand is die duiwel en sy bondgenote.
Bonatuurlike wesens. Bose geeste. Magtige geeste. Wie kan hulle
ewenaar?

Sou jy as Christen nie moedeloos raak nie? Ten minste as jy
nie Christus voor oë hou nie. Daar is ’n hewige stryd.
“Gord ons met eie krag ons aan, dan is die stryd verlore;
net Een kan satansmag weerstaan, deur God daartoe verkore. Vra u
sy Naam, so weet dat Hy die Christus heet; gaan Hy voor in gevaar,
Heer van sy eng’leskaar, nooit is die stryd verlore!”

Dit sien ons in die tweede punt. Ons sal dit kort hou omdat
ons nog oor die volgende verse wil preek.

Soldate in Christus se diens moet nie net teen bonatuurlike
wesens stry nie, hulle moet ook hulleself met die wapenrusting
van God toerus.

Uit myself is ek te swak om sulke vyande te weerstaan. My
natuurlike krag en voornemens sal my nie staande hou teen sulke
bonatuurlike wesens nie. Vergeet maar die idee dat jy in eie krag
dit wel kan hanteer. In eie krag sal jy onherroeplik struikel en
val. Tog is baie van ons nederlae ’n gevolg van ons dwase
selfvertroue wanneer ons of die vyand onderskat of onsself
oorskat.

Net die krag van God kan ons beskerm en bevry van die mag en
lis van die duiwel. Daarom: “Word kragtig in die Here en in
die krag van sy sterkte.” Versterk jouself in die Here. Soek
jou krag in Hom. Hou Hom vas in geloof. Leef in gemeenskap met
Hom en jy sal weerstand kan bied en staande kan bly. Sy krag is
immers ’n almagtige krag. Dit is duidelik uit die woorde wat
in die teks gebruik word: “in die krag van sy sterkte.”
Hierdie uitdrukking is reeds in hoofstuk 1:19 gebruik. Daar het
Paulus daardie krag gewys in die opstanding van Jesus Christus en
sy troonsbestyging aan God se regterhand. Daar het Paulus gewys
na God se krag en sterkte. Deur sy Seun uit die dood op te wek
het die Vader immers ongekende krag getoon.

Nou, in ons teks word die goddelike krag en sterkte aan Jesus
Christus toegeskryf. Die krag waardeur God Jesus Christus uit die
dood opgewek het en Hom die troon laat bestyg het, daardie selfde
krag besit Christus. Daarom: “Word kragtig in die Here en in
die krag van sy sterkte.” Net in daardie krag is jy in staat
om te stry. Dis ’n krag wat die vyand oortref. Dis ’n
krag oor dood en Satan. In gemeenskap met Hom sal jy wen.

Beteken dit geliefdes, dat jy nou niks self hoef te doen nie,
dat jy passief alles aan Christus kan oorlaat? Moet jy dan
passief wag totdat Christus jou met sy krag begiftig? Die vervolg
van die teks wys dat dit nie die geval is nie. Dis nie hoe dit in
die verbond werk nie. Ook al kan jy dit nie in eie kragte doen
nie, God mobiliseer jou wel. Daarom word jy aangespoor om die
wapenrusting van God aan te gryp. Hoe word jy kragtig in die Here?
Deur die volle wapenrusting van God aan te trek. Jy hoef die
wapenrusting nie self uit te dink of te maak nie. Nee, dit lê
vir jou gereed. God self sorg daarvoor. Hy bied dit vir jou aan.
Hy gee dit aan jou in die kerk. Wat ’n liefde en sorg. Ons
wat van nature vriende van die duiwel was, ontvang wapenrusting
teen die duiwel. Ons ontvang wat ons nodig het om uit die greep
van die moordenaar te ontsnap en om daarvan weg te bly. Ons
ontvang wat ons nodig het om by die lewende God te bly. Wat
’n liefde en sorg.

Broer, suster, seun, dogter, jy is dan tog nie so dwaas om
daardie wapenrusting ongebruik te laat lê nie? Jy wil tog gered
word en staande bly, of nie? Nou, neem die wapenrusting wat God
jou aanbied, aan, trek dit aan. Wees gereed as soldate van
Christus.

Dalk klink dit nie baie aanloklik in hierdie tyd van massale
geestelike ontwapening. Maar dis werklik pragtig, dit is jou
redding, jou lewe.

Geliefdes, as jy goed kyk, is die wapenrusting wat God vir jou
gee, nie wonderlik nie? Jy kan al die onderdele van die
wapenrusting saamvat met die een naam Jesus Christus. Dis waaroor
die hele wapenrusting van God gaan. Trek die volle wapenrusting
van God aan, beteken feitelik: Trek Jesus Christus aan. Beklee
jou met Christus. Dan is jy veilig teen die vurige pyle van Satan
en sy bondgenote. Met Christus staan jy sterk. In Hom is jy meer
as oorwinnaar.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)