Die betekenis van die doop

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-10-22
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 34
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 34

Ds C Kleijn - Sondag 22 Oktober 2006

Lees: Mattheus 28:16-20; Romeine 6:1-14;
Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 33 & 34.
Sing: Apost Gel; Ps 111:1-3; Ps 146:1,4,8; Ps
111: 4,5.

Tema: Die betekenis van die doop.

  1. Die doop is ’n teken en seël van die belofte van
    die evangelie.
  2. Die doop is ’n teken van identiteit.
  3. Die doop roep op tot ’n nuwe gehoorsaamheid.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit opvallend dat ons belydenis die doop verbind aan wat God
inwendig in ons hart doen. Ons bely in art 33 dat God die
sakramente by die Woord gevoeg het om vir ons uitwendige sintuie
des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy woord te kenne
gee en wat Hy inwendig in ons hart doen. In die artikel oor die
doop lees ons iets soortgelyks. “Soos die water die vuilheid
van die liggaam afwas, so bewerkstellig die bloed van Christus
deur die Heilige Gees dieselfde inwendig in die siel: dit
besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en laat ons, wat
kinders van die toorn is, as kinders van God wedergebore word.”
’n Mens sou in verband hiermee ook kan wys op die Skrif wat
die doop die bad van wedergeboorte en die afwassing van sondes
noem.

Gemeente, as daar so ’n noue band is tussen die
uitwendige teken en wat God inwendig in ons hart doen, die
wedergeboorte, is dit dan nie logies dat die doop net aan hulle
wat reeds glo, bedien word nie? Moet daar nie ’n inwendige
wedergeboorte wees wanneer die doop bedien word nie? Is die doop
nie ’n teken van die feit dat daardie wedergeboorte reeds
plaasgevind het of besig is om plaas te vind nie? Sluit dit dan
nie die doop van jong kinders uit nie? Of moet ons, soos die
Kuyperiane in die tyd van die Vrymaking gedoen het, veronderstel
dat die kinders as hulle gedoop word reeds wedergebore is?

Verwant hiermee kan ons vra: waarvan is die doop ’n teken
en seël? Van God se belofte of van my wedergeboorte? Of dalk
albei? En wie is aktief by die doop? Is die doop ’n
verlossingsdaad van God of is dit ons antwoord van geloof?

Kom, laat ons kyk na die betekenis van die doop. Waaroor gaan
dit in die doop?

Ons let op drie dinge:

  1. Die doop is ’n teken en seël van die belofte van
    die evangelie.
  2. Die doop is ’n teken van identiteit.
  3. Die doop roep op tot ’n nuwe gehoorsaamheid.

Die doop is dus ’n teken en seël. As teken is dit
’n prentjie of illustrasie van iets. Waarvan? Dit is ’n
prentjie van die belofte van die evangelie. Art 33 sê vir ons
dat God die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan
ons te beseël. “Hy het dit by die Woord van die evangelie
gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel
wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in
ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons
meedeel.” In die sakramente beeld God op ’n sigbare
manier uit wat ons in die evangelie hoor. Die sakramente gee
daarom vir ons geen nuwe openbaring nie. Hulle beeld uit en
bevestig eenvoudig wat reeds in die evangelie genoem is. Hulle
’n ’n skildery van die evangelie. Gemeente, hierdie
eenheid van die hoorbare evangelie en die sigbare evangelie in
die sakramente is beslissend vir ons verstaan van die sakramente.
Dis waar die Roomse, Baptiste en Pinkster kerke foutgaan. Hulle
ruk die sakramente los van die Evangelie en laat dit ’n eie
lewe lei. Hulle laat die sakramente meer sê as wat God in Sy
evangelie vir ons sê. Feitelik voeg die sakrament egter niks toe
aan die woord nie. Dit verduidelik net die evangelie op ’n
sigbare en persoonlike manier.

Waaroor gaan dit dan in die evangelie? Dit gaan oor redding
van sondaars deur Jesus Christus. In een woord: Christus of die
drie-enige God. In die evangelie ontvang ons Christus en al sy
weldade. Daarom bely ons dat Jesus Christus die waarheid van die
sakramente is. Die sakramente rig ons aandag juis op Christus en
sy verlossingswerk. Hulle is prentjies van sy verlossingswerk. As
teken vir die doop word water gebruik. Daardie uitwendige water
beeld uit ’n inwendige, onsigbare werk van God, naamlik die
afwassing van ons sondes deur Christus se bloed en Gees, oftewel,
die vergewing van sondes en die vernuwing van ons lewe.

Broeders en susters, die sakramente is meer as net tekens.
Hulle is ook seëls. ’n Seël op ’n dokument, waarborg
die betroubaarheid daarvan. So waarborg die doop vir ons die
betroubaarheid van die evangelie. Jy sou dit kan vergelyk met
’n handtekening. Die doop is so te sê God se handtekening
onder sy woord. God verbind homself daartoe om sy beloftes na te
kom.

So kry jy daardie sterk sakramentele taal. Die uitwendige
teken van die sakrament word vereenselwig met die inwendige
werklikheid wat daarmee aangedui word. Dink aan Christus se
woorde by die instelling van die Heilige Nagmaal: neem, eet, dit
is my liggaam. Natuurlik is daardie stukkies brood wat Christus
vir sy dissipels gee nie letterlik sy liggaam nie. Christus staan
daar in lewende lywe en hy vermink nie homself om sy dissipels
stukkies van sy liggaam te gee nie. Christus wil net hulle
verseker dat so seker as Hy hulle daardie brood gee, so seker Hy
sy lewe vir hulle wil gee. Dis ’n waarborg van sy genade vir
hulle.

Dieselfde geld vir die doop. Daarom word die doop ook die bad
van die wedergeboorte en die afwassing van sondes genoem (Titus 3:5;
Hand 22:16). Die uitwendige teken van water word vereenselwig met
dit wat daarmee uitgebeeld word, naamlik die vergewing van sondes
en die vernuwing van ons hart en lewens, oftewel die afwassing
van sondes deur Christus se bloed en Gees. Dis wat ons noem die
sakramentele spreekwyse. Jy kan dit vergelyk met ’n tjek.
Gestel iemand gee jou ’n tjek van R1000. Met reg sê jy dat
jy R1000 ontvang het. Tog het jy streng gesproke nie R1000
ontvang nie, jy het net ’n tjek van R1000 ontvang. Dit sal
vir jou geen waarde hê nie, tensy jy dit by die bank inwissel of
op jou rekening sit. So is dit met jou doop. Jy kan dit die bad
van wedergeboorte noem, maar as jy dit nie in geloof gebruik nie,
inwissel so te sê, sal dit jou nie baat nie. Jou doop is wel
’n prentjie van die vergewing van sondes en die vernuwing
van jou lewe, dis ook ’n versekering dat God dit wil gee,
soos die tjek ’n waarborg is van die R1000, maar dit wil nog
nie sê dat dit reeds ’n werklikheid in jou lewe is nie.
Daardie prentjie en waarborg van die evangelie moet in geloof
toegeëien word. Vir hulle wat glo is dit dan ook volle
werklikheid. Dan kan jy inderdaad sê dat Christus inwendig in
jou hart doen wat uitwendig met die water van die doop afgebeeld
word. Dis jammer dat die Baptiste blykbaar geen oog vir hierdie
sakramentele spreekwyse het nie. Daarom is hulle slotsom dat die
doop ’n teken is dat die inwendige wedergeboorte reeds
plaasgevind het.

Gemeente, wat die eerste punt betref kan ons die afleiding
maak dat die sakramente eenvoudige, uitwendige tekens en seëls
is. Hulle is geen magiese formules wat outomaties genade meedeel
nie. Hulle verduidelik en bevestig vir ons die beloftes van die
evangelie, naamlik die vergewing van sondes en die vernuwing van
ons lewe deur Christus se bloed en Gees. In Rom 4:11 word die
sakrament van die besnydenis ’n seël van die geregtigheid
van die geloof genoem. Let daarop dat die besnydenis nie ’n
seël van Abraham se geloof genoem word nie. Nee, dis ’n
seël van dit wat hy deur die geloof ontvang, naamlik die
geregtigheid van God, die vryspraak van sondes. In Hand 2 roep
Petrus die mense op om hulle te bekeer en te laat doop. Op grond
waarvan motiveer Petrus hulle om hulle te laat doop? Op grond van
hul geloof? Nee op grond van God se belofte. Luister maar:
“Want die belofte kom julle toe en julle kinders” (Hand
2:39).

Nou die tweede gedagte: die doop is ’n teken van
identiteit.

In art 34 bely ons: “Deur die doop word ons in die kerk
van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste
afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en
vaandel te dra.”

Die doop is ’n teken van die verbond. Die doop wys by wie
ons behoort. Die doop is ’n soort paspoort of
identiteitsbewys van God se kinders. Christus het die apostels
opdrag gegee om te doop in die naam van die Vader en die Seun en
die Heilige Gees (Mt 28:19). Letterlik staan daar: doop hulle tot
die naam van. Wat beteken dit? Dit dui aan ’n oorgang na
’n nuwe sfeer of status van lewe, ’n verandering van
eienaarskap. Deur my doop word ek simbolies verbind aan die drie-enige
God. Ek word geïdentifiseer as sy eiendom. Die doop dui aan ons
band met God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. So word ons
onderskei van die ongelowiges.

Gemeente, die doop simboliseer in die besonder ons band met
Christus, die Middelaar van die verbond. In Rom 6 noem Paulus
hierdie eenheid met Christus in sy dood en opstanding met
verwysing na die doop. Ons lees in verse 3-5: “Of weet julle
nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood
gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in
die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur
die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe
kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die
gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur die
aan sy opstanding.”

As ’n mens dit so lees, geld dit dan nie net vir
gelowiges nie? Kan dit wel op jong kinders toegepas word? Die
Baptiste gebruik inderdaad hierdie tekste om te probeer bewys dat
die doop as teken van vereniging met Christus in sy dood en
opstanding nie vir jong kinders geld nie. Hulle kan mos nog nie
in ’n nuwe lewe opstaan nie?

Hier moet ons egter onthou dat die doop ’n verandering
van eienaarskap simboliseer, ’n nuwe status. Waarom kan
kinders van gelowiges nie met Christus geïdentifiseer word nie?
Dis tog waaroor daardie Skrifgedeelte gaan? Die doop simboliseer
die band met Christus. Jy dra sy merkteken en vaandel. Waarom sou
kinders Christus se merkteken en vaandel nie kan dra nie? Sê
Christus self nie aangaande die jong kinders wat vir hom gebring
word: “Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle
nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God” (Mk 10:14).
Die kinders van gelowiges word in 1 Kor 7:14 tog ook heilig
genoem? En heilig beteken tog: afgesonder om vir die Here te wees?
Waarom sou die kinders van die gelowiges dan nie met Christus
geïdentifiseer kan word nie?

Dikwels word die fout gemaak dat die fokus verskuif word van
God na die gelowige. Die antwoord van die geloof van die Christen,
word dan deel van die sakrament self. Die doop sou dan die
uitwendige teken wees van ons begin met God. Hier word alle
nadruk gelê op die keuse en lewe van die mens. Jy moet eers vir
God kies, deur geloof ’n verbondsverhouding met God aangaan
en ’n Christelike lewe begin lei. Volgens die Skrif is die
doop egter ’n teken van God se begin met ons. By die doop
val die nadruk op God se verlossingswerk, nie op my geloof of
bekering nie.

Waar begin die genadeverbond? By my keuse, by my geloof, by my
Christelike lewe? Nie, dit begin by God. Die woord genade wys
reeds dat die verbond eensydig in sy ontstaan is. God neem altyd
die eerste stap, om ons te soek en om ons in sy liefde te laat
deel. Die doop as teken van die begin van daardie
verbondsverhouding is daarom tipies ’n eensydige sakrament.
Jy word gedoop. Ook by grootdoop bly dit so dat die sakrament
self op ’n eensydige daad van God wys. As gelowige was jy
nie jouself nie, jy word gedoop. Die fokus is op wat God in jou
lewe begin het. God het jou van die ongelowiges afgesonder om aan
Hom te behoort. God gee sy beloftes van vergewing en vernuwing.

Inderdaad, die grootdoop vereis dat die geloof eers bely word
voordat die teken van die doop bedien word. Maar dit neem niks
weg van die eensydige karakter van die doop nie. Watter plek neem
die geloof dan in? Die geloof is net vir ons ’n aanwysing
dat God sy verlossingswerk in daardie persoon se lewe begin het.
Daarom, moenie alle aandag op die aksie van dopeling rig nie en
moenie dit tot ’n deel van die sakrament self maak nie. Die
doop fokus uitsluitend op God se verlossingswerk, op sy begin met
jou.

Nou die derde gedagte: die doop roep ons op tot ’n nuwe
gehoorsaamheid.

Gemeente, as die doop ons as God se volk identifiseer, dan
roep dit ons ook op tot liefde, trou en gehoorsaamheid aan God.
Die verbond behels nie net voorregte nie, maar kom ook met
verpligtings. Om die woorde van die doopsformulier te gebruik:
“Omdat alle verbonde uit twee dele bestaan, naamlik ’n
belofte en ’n eis, daarom word ons ook weer deur God in die
doop geroep en verplig tot ’n nuwe gehoorsaamheid. Ons moet
naamlik hierdie enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, aanhang,
vertrou en liefhê met ons hele hart, met ons hele siel, met ons
hele verstand en met al ons kragte; ons moet van die wêreld
afsien, ons ou natuur doodmaak en ’n godvresende lewe lei.”
Die feit dat ek kragtens my doop die naam van die drie-enige God
mag dra, behoort in my die verlange op te wek om getrou en
gehoorsaam te wees aan Hom wat my so uitnemend liefgehad het en
my wil verlos. Die doop behoort my te motiveer om te groei in
heiligmaking.

Dis presies waartoe Paulus ons oproep in sy briewe. Op grond
van ons nuwe status in Christus, wat deur die doop aangedui word
(Rom 6:1-11) spoor Paulus ons aan in vers 12 e.v. “Laat die
sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy
begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel
tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie,
maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die
dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van
geregtigheid in die diens van God.” Met ander woorde: wys in
die praktyk van die lewe jou nuwe status as kind van God.

Uit hierdie oproep blyk ook dat die nuwe gehoorsaamheid nie
noodwendig altyd reeds by die dopeling aanwesig is nie. Selfs by
die grootdoop kan dit gebeur dat die kerk hom in sy oordeel
vergis. Daardie persoon kan later homself as ’n ongelowige
openbaar. Maak dit sy doop dan waardeloos, leeg? Volgens die
siening van die Baptiste moet dit wel die geval wees. Die doop
word daar immers gesien as ’n teken van ’n wedergebore
hart. Maar as dit later blyk dat die hart nie wedergebore was nie?
Dan was die doop ’n groot vergissing. Dit wys hoe dwaas dit
is om alle aandag te rig op die persoonlike getuienis en ervaring
van die dopeling. Dan bou jy op dryfsand, want die persoonlike
ervarings kan kom en gaan.

Volgens die Skrif bou ons egter op die blywende en vaste basis
van God se onveranderlike beloftes. Jy kan altyd terugval op wat
God in die aanwesigheid van baie getuies vir jou gesê het. Die
doopsformulier sê dit so mooi: “En as ons soms uit swakheid
in sondes val, moet ons nie aan die genade van God twyfel of in
die sondes bly lê nie: die doop is immers ’n seël en
volkome betroubare getuienis dat ons ’n ewige verbond met
God het.” In my doop onderstreep God sy evangelie van genade
dat Hy my Vader wil wees, dat Hy my sondes wil vergewe en my lewe
wil vernuwe. Daardie woorde, daardie teken en seël bly geldig,
maak nie saak wat ek daarmee doen. Ek kan altyd daarop staatmaak.

Dit beteken natuurlik nie dat almal wat gedoop is, ook
metterdaad gered word nie. In die verbond gebeur niks outomaties
nie. Daar is ’n belofte en ’n eis. Net langs die weg
die geloof sal ek ontvang wat God so duidelike en nadruklik vir
my belowe het. Calvyn skryf in hierdie verband: “Die
sakramente bied die genade van God aan aan goeies én slegtes.
Hulle bedrieg nie wanneer hulle die genade van die Heilige Gees
belowe nie. Gelowiges ontvang wat aangebied word. Maar deur dit
wat aangebied word af te wys, maak die goddeloses dit vrugteloos
vir hulleself. Hulle kan egter nie die getrouheid van God en die
ware betekenis van die doop vernietig nie.” Jy kan jou altyd
beroep op God se trou. Paulus skryf in Rom 3:3: “Wat maak
dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die
getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie!”

Broeders en susters, dit is belangrik om te onderskei tussen
die betekenis van die doop en die effek van die doop. Die Here
het die uitwerking van die doop nie verbind aan die oomblik van
die doop self nie. Christus het geleer dat die Gees werk wanneer
en waar Hy wil. Die doop self bewerk nie die geloof of
wedergeboorte nie. Wie dit suggereer, verwar die teken en dit wat
daarmee aangedui word. Die doop is die uitwendige teken van die
inwendige werk van vergewing en vernuwing wat die Heilige Gees op
sy tyd en wyse doen. Die doop is daarom nie ’n teken van
iets wat reeds in die hart van die dopeling aanwesig is nie, maar
’n teken van God se evangelie van verlossing. Laat elkeen
dan sy doop so gebruik. Glo wat God in sy evangelie vir jou
verkondig en wat God baie persoonlik en nadruklik vir jou in jou
doop bevestig het. Glo Jesus Christus. Dan sal jy dit wat in jou
doop uitgebeeld is ervaar, naamlik die afwassing van jou sondes
deur Christus se bloed en Gees. Dan sal jy die nuwe lewe ervaar
in verbondsgemeenskap met God drie-enig.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)