Christus roep op tot die aanvaarding van die konsekwensies van die navolging van Hom

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-10-29
Teks: 
Matthéüs 16
Preek Inhoud: 

Mattheus 16:24

Ds C Kleijn - Sondag 29 Oktober 2006

Lees: Mattheus 16:13-28.
Sing: Ps 92:1,2; Ps 119:1,2; Ps 94:6,7,12; Ps
119:19,29; Ps 89:6,7; Ps 92:6,7.

Tema: Christus roep op tot die aanvaarding van die
konsekwensies van die navolging van Hom.

Die konsekwensies is:

  1. Dat jy jouself verloën
  2. Dat jy jou kruis op jou neem

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dis pragtig dat vanoggend weer ’n aantal jong mense hul
geloof wil bely. Ons sien daarin ’n verhoring van gebede. By
hulle doop het ons as gemeente gebid: “Ons bid u dat U
hierdie kinders altyd met u Heilige Gees wil regeer, sodat hulle
Christelik en godvresend opgevoed mag word en in die Here Jesus
Christus mag groei. Gee dat hulle u vaderlike goedheid en
barmhartigheid sal erken en bely.” God het daardie gebed
verhoor. Is hulle belydenis nie daarvan ’n lewende bewys nie?

Jong broeders en susters, die ’n pragtige saak om jul
geloof so openlik voor God en die gemeente te bely. Besef julle
wel wat julle daarmee doen? Julle gee daarmee antwoord op jul
doop. Julle verklaar dat julle aan Christus wil behoort. Dat jul
identiteit deur Hom bepaal word. Julle verklaar dat julle as
Christene bekend wil staan en as Christene deur die lewe wil gaan.
Besef julle wel wat dit behels, watter gevolge dit het?

Gemeente, julle ken almal wel die uitdrukking: navolging van
Christus. By die doop van hierdie jong mense het ons ook gebid:
Gee dat hulle, terwyl hulle Christus daagliks navolg, hulle kruis
blymoedig sal dra deur Hom aan te hang met opregte geloof, vaste
hoop en vurige liefde.” As jy geloofsbelydenis aflê, gee jy
daarmee te kenne dat jy Christus wil volg in jou lewe. En dat jy
die konsekwensies daarvan blymoedig aanvaar. Ja, feitelik doen
elke ware Christen dit. Jou lewe as Christen word gekenmerk deur
die navolging van Christus; deur jou lewe heeltemal op Christus
te rig en Hom in die middelpunt van jou lewe te plaas, met alle
gevolge daarvan.

Ek verkondig vir julle: Christus roep op tot die aanvaarding
van die konsekwensies van die navolging van Hom.

Die konsekwensies is:

  1. Dat jy jouself verloën
  2. Dat jy jou kruis op jou neem

Christus roep sy volgelinge op: As iemand agter My aan wil kom...
Met die uitdrukking: agter my aan kom wil die Here aangee dat jy
jou by hom aansluit. Die uitdrukking is gebruik vir leerlinge wat
by ’n rabbi hulle aangesluit het. Daardie aansluiting was
nie net ’n tydelike aansluiting nie. Dit was ’n
lewenskeuse. Jy aanvaar daarmee die leiding van jou rabbi, jou
leermeester. Jy onderwerp jou gewillig aan hom. Onder die Jode is
so ’n leerling selfs seun van die rabbi genoem. Dit is
vergelyk met ’n Vader-seun verhouding. Jy sluit jou aan by
’n sekere persoon, wat dan alle seggenskap oor jou ontvang.

So praat Christus van ’n aansluiting by Hom en ’n
volg van Hom. Om agter Hom aan te gaan wys dat jy jou gewillige
aan sy leiding onderwerp. Jy gee jou aan Hom oor. Jy bind jou aan
Hom met jou hele persoon. Hy het voortaan die seggenskap oor jou.

Gemeente, ons kan ons voorstel dat dit aantreklik is solank as
Christus met aangename dinge kom. Wie sou nie wil aansluit by
’n rabbi wat blindes weer laat sien en dowes weer laat hoor
nie? Wie sal Hom nie wil volg wat kreupeles weer laat loop en
stommes weer laat praat, Hom wat rus gee aan almal wat vermoeid
en belas is nie. So ’n rabbi, so ’n Christus is wel
aantreklik. Ons kan ons ook voorstel dat dit aantreklik sou wees
om jou by Christus aan te sluit indien Hy ’n aardse
koninkryk sou oprig. Dis wat baie van sy volgelinge van hom
verwag het. Hy sou hulle bevry van die Romeinse onderdrukking en
’n glansryke koninkryk hier op aarde stig. Dit sou vir die
volgelinge ’n pragtige toekoms gee, aarde geluk en
heerlikheid.

Christus help hulle uit hul droom. Petrus het netnou so
pragtig bely: U is die Christus, die seun van die lewende God. U
is die beloofde messiaanse koning. Onmiddellik daarna begin
Christus egter praat oor sy lyding en dood. Waarom doen Christus
dit by hierdie hoogtepunt? Christus wil vir sy dissipels duidelik
maak wat dit vir hom beteken om die Christus te wees, watter
gevolge dit vir hom het. Hy moet immers juis as die Christus sy
lewe gee as ’n losprys vir baie. Die Christus moet as
’n lam vir die oortreding van sy volk sterwe. Hy gaan die
mikpunt van Satan se aanslae en die haat van die wêreld wees. So
sien ons dat Christus die konsekwensie noem van Petrus se
belydenis: U is die Christus.

Christus laat dit egter nie daarby nie. Christus wys
vervolgens ook op die gevolge van die belydenis vir sy volgelinge.
Daaroor gaan dit in ons teks. Om Hom die Christus te volg sit wel
iets aan vas. Die weg gaan nie oor rose nie. Moenie jou as
volgeling vergis nie.

Geliefdes, wat Christus nou sê is ongetwyfeld baie anders as
wat jy as volgeling sou verwag het. Dit het duidelik geblyk uit
die reaksie van Petrus op Christus se lydensaankondiging. Hierdie
dissipel wil niks daarvan weet nie. Petrus neem die Here selfs
opsy om hom te bestraf. Moet Christus ly? Nee, dit nooit, mag God
dit verhoed, dit sal u nooit oorkom nie. Petrus sal daar wel
’n stokkie voor steek. Ja, so is jy as mens wanneer jy jou
deur jou gevoel laat lei, wanneer jy by vlees en bloed te rade
gaan. Die belyer van die kerk word as hy na die mens gaan
redeneer ’n satan. “Gaan weg agter my, satan! Jy is vir
my ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink
nie, maar die dinge van die mense.”

Dit het dus duidelik geblyk dat vlees en bloed die weg van die
Christus en so ook die weg van die Christen nie kan ontdek of
begryp nie. Daarom is ook die eerste vereiste: selfverloëning.
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën.”
Jouself verloën dit is nee sê vir jouself. Dit beteken dat jy
jou nie langer laat beheers deur jou eie gedagtes en insigte nie.
As jy jou eie gedagtes volg, wil jy, blykens Petrus se reaksie,
nie Christus volg nie, maar Hom die les lees. Jy sal Hom vertel
wat moet gebeur. Nee, om Christus te volg hou in dat jy jou eie
gedagtes en gevoelens prysgee. ’n Volgeling bepaal mos nie
self sy weg nie, hy laat hom die weg bepaal deur die persoon wat
hy volg. Daarom: as iemand agter my aan wil kom, moet hy homself
verloën. Moet hy nee teen homself sê. Ek moet ophou om myself
in die middelpunt te plaas. Ek moenie langer agter my eie ideale,
belange en begeertes aanloop nie. Ek moet inteendeel agter
Christus aanloop en Hom volg. Dit is die konsekwensie van die
feit dat ek volgeling van Christus wil wees. As ek dit nie wil
nie, kan ek Christus dissipel nie wees nie, sê Christus. Alle
selfhandhawing is hier uit die bose. Wie homself wil handhaaf kan
Christus se dissipel nie wees nie.

Dit sê ook baie vir ons, broers en susters. Besef jy nog wel
voldoende wat dit beteken om Christus in jou lewe te volg, om
’n leerling van Christus te wees? Om Hom te volg, sit ek my
eie wil en verlangens aan die kant. In die kerk van Christus,
waar die volgelinge van Christus hulle laat vergader, pas dit nie
meer: daarvoor is ek nie lus nie, ek voel dit of dat nie. Die
norm is nie waarvoor ek lus is of wat ek oulik vind nie. Ook nie
wat ek vind of voel nie. Nee, as ek Christus volg, dan aanvaar ek
sy leiding. Ek onderwerp my aan Christus se wil. Vir volgelinge
van Christus is die wil van Christus bepalend. Volgelinge verbind
hulle immer aan Hom en aanvaar sy seggenskap. Ek bepaal dan nie
self wat ek sal doen nie. Nee, my Meester, my Here bepaal dit. Sy
sterwe vir my is bepalend vir my hele lewe. Terwille van Hom is
ek bereid om alles te gee. Daar mag niks tussen my en Hom staan
nie. Daarom moet ek my sondige, selfgesentreerde lewe prysgee.

Dink aan die bekende teks uit Rom 14: “want niemand van
ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. want
as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe,
sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe,
ons behoort aan die Here.” Dis presies wat dit is om
Christen te wees, om ’n volgeling van Christus te wees. Vir
my as volgeling van Christus gaan dit nie oor die bevrediging van
my eie wil en begeertes nie, maar dit gaan oor my Here. My eie
wil en wense word aan sy wil onderwerp.

Broer, suster, seun, dogter, word dit ook so deur jou beleef,
is dit ook sigbaar in die gemeente, wanneer ons mekaar aanspreek
oor dinge. As ek binne die gemeente gevra word om iets te doen,
wat is dan die rede waarom ek soms daarvoor bedank? Is dit om die
Here of omdat ek net nie daarvoor lus is nie? Dink aan die besoek
van die eredienste wat tweemaal per Sondag plaasvind. Waarom kies
ek om sommige dienste nie by te woon nie, terwyl ek wel die
geleentheid daartoe het? Is dit tot eer van die Here? Dink ook
aan ons betrokkenheid by die gemeentelewe, bv die bywoning van
bybelstudie verenigings of die daadwerklike meelewe met mekaar.
As ek myself daarvan afsydig hou, is dit tot eer van my Here wie
se volgeling ek is, of is dit net omdat ek nie lus is nie.

Wat dink julle: wat is bepalend vir my as volgeling van
Christus: my gevoelens of die gevoelens van my Here Jesus
Christus? Die antwoord op daardie vraag moet vir die volgeling
van Christus duidelik wees. Dit gaan vir my tog om die wil van my
Meester? Dit bepaal wat ek wel of nie doen nie. Dit bepaal ook my
vryetydsbesteding, wat ek doen en waar ek na toe gaan in my vrye
tyd. Om Christus te volg het tog as eerste konsekwensie dat ek
myself verloën? Ek behoort nie aan myself nie. Ek behoort aan
Jesus Christus. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten
volle betaal het en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.
Wanneer ek belydenis van my geloof aflê, verbind ek myself
vrywillig en met vreugde aan Hom. Hy is my verlosser. Net Hy kan
my lewe waarborg, my egte en ewige lewe in gemeenskap met die
lewende God. Mag sy wysheid en sy wil my gedrag dan ook volkome
bepaal. Mag my gedrag dan ook op Hom gerig wees.

As tweede konsekwensie vir die volg van Hom noem Christus die
opneem van jou kruis. Dis die tweede gedagte van die preek.

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën
en sy kruis opneem en My volg.”

Die Here Jesus maak dit nie maklik vir ons wanneer ons agter
Hom aan wil gaan nie, wanneer ons tot die gemeente van sy
volgelinge wil behoort nie. Hy praat onomwonde van die opneem van
ons eie kruis.

Dis opvallend dat Christus hier vir die eerste keer van die
kruis praat. Toe Hy oor sy eie lyding gepraat het, het Hy nog nie
die kruis genoem nie. Maar nou kom Hy daarmee voor die dag,
wanneer hy praat oor die lot van sy volgelinge. Daarin lê
’n aanduiding dat Hy ook self die kruisdood tegemoetgaan.
Die kruis is ’n verskriklike woord. Dit sien op die
smadelikste ondergang. In die mond van Christus en in die ore van
die dissipels het daardie woord ’n baie skerper en dieper
betekenis as vir ons. Hulle weet uit ervaring wat ’n kruis
beteken. Die Romeinse besetters het hulle onderdane daarmee skrik
aangejaag.

Nou, Christus se volgelinge sal op die kruis moet reken. Die
volgeling is nie meer as sy Meester nie. Nee, dit beteken nie dat
ons Christus se lyding aan die kruis moet oordoen nie. Dit kan
ook nie. Daar is in die hele geskiedenis net plek vir een ware
soenoffer en die offer het Christus al lang gelede gebring.

Tog praat Christus oor ons kruis en dit baie persoonlik:
elkeen moet sy kruis opneem. Julle ken dalk die uitdrukking: elke
huis het sy kruis. Daarmee word dan bedoel: elke gesin het sy eie
moeilikhede. In die een gesin is daar siekte of rou, by die ander
gesin is daar armoede of sosiale onreg. Met die kruis vat mense
dan saam al die leed wat die mense kan oorkom. Elke huis het sy
eie kruis. Kan dit die bedoeling van die Here Jesus wees wanneer
hy praat van die opneem van jou kruis? Uit die verband is dit
duidelik dat dit nie die bedoeling kan wees nie. Die kruis
waarvan Christus praat hoort enkel by die volgelinge van Christus.
Dit sien op die lyding wat iemand oorkom as gevolg van die
navolging van Christus. Dit is ’n lyding om Christus ontwil.

Hierdie kruis dui dan ook nie op allerhande teëspoed wat
sowel Christene en nie Christene oorkom nie. Die goddelose kan
ook saampraat oor siekte en teenspoed, maar hulle ken nie hierdie
kruis waarvan Christus praat nie. Hierdie kruis bestaan in die
konsekwensies van die goeie geloofskeuse. Soos Christus self die
mikpunt van Satan se aanslae en van die haat van die wêreld was,
so moet al Jesus se dissipels reken op dieselfde aanslae en haat.
As jy Christus volg dan roep jy die haat en stryd na jou toe.
Daar is geen ontkoming aan nie. Om Christus te volg beteken: die
stryd ingaan. Daarom jong mense: welkom in die stryd!

Christus vra van sy volgelinge van jou en my ’n keuse en
’n daad. Hy sê immers hy moet sy kruis opneem. Hier
sinspeel Christus op die gewoonte dat ’n veroordeelde self
sy kruis moes dra. Soos Christus waarskynlik tot buite die stad
sy eie kruis gedra het. Ek moet die kruis self opneem. Dit moet
’n bewuste daad wees. Dit is iets anders as my goedskiks of
kwaadskiks by die onvermydelike neerlê. Dit sien op iets wat jy
willens en wetens aanneem, aanvaar. Jy neem jou kruis op om
Christus ontwil.

Dink aan die gebed by elke doopsbediening: Ons bid U dat u
hierdie kind van U genadiglik wil aansien en deur u Heilige Gees
in u Seun Jesus Christus wil inlyf. Gee dat hy terwyl hy Hom
daagliks navolg, sy kruis blymoedig sal dra deur Hom aan te hang
met opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde.

Om daagliks my kruis blymoedig te dra, dis geen kleinigheid
nie. Ek aanvaar daarmee ’n pad wat tot my ondergang hier op
aarde lei. Dit beteken om daagliks met Christus te ly. Om ter
wille van sy naam gesmaad, bespot te word. En dit is vir niemand
aangenaam nie. Dit kan beteken dat ek agteruitgesit word, dat ek
in my inkomste en posisie skade lei, dat ek in die
besigheidwêreld nie die winste kan maak wat ander maak nie. Dit
kan vervolging beteken, gevangenskap, selfs die dood. Jesus
Christus vra dat ek bereid moet wees om vir Hom te sterf, om my
aardse geluk en welvaart vir Hom prys te gee. My selfgesentreerde
lewe met sy sondige begeerlikhede moet aan die kruis vasgespyker
word.

Niemand kan die keuse ontwyk nie, die keuse tussen die
vriendskap van die wêreld of die vriendskap van Christus. Dit is
’n keuse tussen die lewe hier ten alle koste wil behou of
die lewe om Christus ontwil.

Dit is. broers en susters, jong mense, geen ligte keuse nie.
Daar is tallose mense, ook mense wat belydenis afgelê het, wat
die kruis laat lê: Om Christen te wees, om Christus te volg, lyk
vir hulle te swaar, te moeilik. Hulle los liewer die kruis. Dit
is inderdaad geen maklike saak om Christus te volg nie. As jy
Christus wil volg, moet jy goed besef wat jy doen. As jy
belydenis van jou geloof aflê, moet jy jou eers goed besin. Daar
sit baie aan vas om jouself aan hierdie Meester te verbind. Dit
is geen goedkoop en ligvaardige saak nie. Dit het as konsekwensie
dat jy jouself verloën en dat jy jou kruis opneem. Jy gee
jouself helemaal aan Hom oor. Jy wil ter wille van Hom alles
prysgee, ja, alles gee. En wie is daartoe bereid?

Maar geliefdes, soos dit met Christus gegaan het van lyding
tot heerlikheid, so lei ook juis hierdie pad van selfverloëning
tot heerlikheid. Immers elkeen wat sy lewe en geluk hier op aarde
in selfhandhawing wil red, sal dit verloor. Maar elkeen wat sy
lewe om Christus ontwil verloor, sal dit vind, sal dit ewig behou.
Want wat baat dit jou as jy die hele wêreld win, as jy hier op
aarde baie rykdom, eer en invloed verwerf, maar aan jou siel, aan
jou lewe met God skade ly? Dan staan jy bankrot voor die Here en
daar is niks wat jou kan red nie. Wat sal ’n mens immers gee
as losprys vir sy siel? Geen geld of mag kan my siel loskoop nie.
Net Christus. Net in Christus is daar behoud, redding. En wanneer
Christus in heerlikheid terugkom sal hy elkeen vergeld volgens sy
werke. Elkeen wat Christus liefgehad en gevolg het sal dan in sy
heerlikheid deel, nie net tydelik nie, maar ewig. Soos daar
sonder Christus geen lewe is nie, so is daar sonder kruis geen
kroon nie. Bly dan Christus daagliks navolg, jou kruis blymoedig
dra deur Hom aan te hang met opregte geloof, vaste hoop en vurige
liefde.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)