Die ses dele van die Christelike wapenrusting

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-11-05
Teks: 
Efésiërs 6
Preek Inhoud: 

Efesiërs 6:13-17

Ds C Kleijn - Sondag 05 November 2006

Lees: 1 Thessalonicense 5:1-11; Efesiërs 6:10-20.
Sing: Ps 62:1,5; Ps 119:4,5; Ps 18:1,9; Ps 18:14-16;
Ps 144:1,6.

Tema: Die ses dele van die Christelike wapenrusting.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Paulus maak duidelik dat elkeen van ons in ’n stryd om
lewe en dood betrokke is. Hy laat ons agter die skerms kyk.
Netnou het hy al die interpersoonlike verhoudings genoem: die
verhouding binne die huwelik en gesin en by die werk. In al die
verhoudings het jy nie net met mense te doen nie, maar daaragter
is daar ook ander kragte aan die werk. Ons worstelstryd is nie
teen vlees en bloed nie, maar teen geestelike magte, die duiwel
en sy handlangers. Niemand kan in eie krag staande bly nie. Die
Lutherlied sê so mooi: “Gord ons met eie krag ons aan, dan
is die stryd verlore; net Een kan satansmag weerstaan, deur God
daartoe verkore. Vra u sy Naam, so weet dat Hy die Christus heet.”

Daarom word kragtig in die Here. Soek jou krag in die Here.
Hoe doen jy dit? Deur die volle wapenrusting van God aan te trek.

Paulus wil sien dat julle as Christene weerstand kan bied en
vas bly staan. Onvaste Christene wat geen goeie vastrapplek het
nie, is ’n maklike prooi vir Satan. Paulus wil hê dat julle
so sterk is dat julle selfs in die dag van onheil vas bly staan.
Die dag van onheil, dit is die dag waarop die kragte van onheil,
boosheid aktief is. Volgens Ef 5:16 is die huidige dae boos.
Hierdie Nuwe Testamentiese periode word deur die kragte van
onheil beheers. Die dag van onheil is die dag van beproewing, die
dag waarop die versoeking sterk is; die dag van vervolging,
lyding. Die dag van onheil, is nie noodwendig dieselfde vir elke
persoon nie.

Om weerstand te kan bied en vas te kan staan moet jy die
wapenrusting van God hê. “Daarom, neem die volle
wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die
dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan
bly.” Daar lê ’n pragtige wapenrusting gereed vir jou,
presies wat jy vir die stryd nodig het. Jy hoef dit net aan te
trek.

Paulus gee daarna ’n beskrywing van die verskillende dele
van die wapenrusting wat nodig is. Dis waarna ons vanoggend wil
kyk: die ses dele van die Christelike wapenrusting.

Die eerste deel wat Paulus noem is die gordel van die waarheid:
“julle lendene met die waarheid omgord.” Julle herken
dalk hierdie beeld uit die geskiedenis van Israel se vinnige
vertrek uit Egipte. Die Israeliete moes die paaslam eet met hul
lendene omgord, gereed om te vertrek. Die lang klere wat die
mense gedra het, het tot die voete gereik. Dit moes onder die
gordel of riem opgebind word sodat die mense onbelemmerd kon
voortbeweeg. Sou die lange rok nie opgebind word nie dan sou dit
hulle pla en hulle kan laat struikel. Om jou lendene met die
waarheid te omgord beteken dus dat jy gereed is om op te ruk,
mobiel, gereed om te stry.

Ons riem word hier die waarheid genoem. Die waarheid maak jou
gereed om op te ruk. Sonder die waarheid maak jy geen vordering
nie, sal jy struikel en val. Sonder die waarheid sou jy jouself
in die pad staan. Daar is niks wat jou werk en krag as Christen
meer skade doen as die leuen nie. Jy is dan ’n prooi van die
vader van alle leuen. Hoe kan jy dan hom weerstaan? Jy is verlore
voordat jy begin. As jy die waarheid nie besit nie, soos Christus
die waarheid is, of as jy die waarheid nie ernstig neem nie, sal
jy verloor in die stryd teen die bose geeste. Die eerste wat jy
nodig het is dat jy die waarheid jou eie maak, dat jy Christus
die waarheid vasgryp en volg. Maak jou oë oop. Wees bewus van
die volle werklikheid van hierdie wêreld. Moenie ’n
verkeerde beeld van die mense en dinge om jou heen hê nie. Dink
aan wat ons die vorige keer genoem het van Petrus wat na sy
pragtige belydenis ’n satan geword het. Moenie jouself laat
mislei nie. Dan sal jy sekerlik struikel.

Jy moet ook self waar wees, eerlik en betroubaar. Om
bedrieglik te wees, om huigelagtig te wees, om met lis en bedrog
te werk te gaan, speel jy die duiwel se spel. En jy sal dit nooit
van hom wen in sy eie spel nie. Om vals en onbetroubaar te wees,
maak jou magteloos, ongeskik vir die stryd. Jy kan dan niks
bereik nie. Daarom, omgord jou lendene met die waarheid. Wees
eerlik met jou self, wees eerlik teenoor ander, wees eerlik
teenoor God. Probeer om in alle opsigte opreg te wees. Dikwels
moet ons agteraf beken dat ons tog nie opreg was nie – ons
motiewe was nie suiwer nie. Herstel dit onmiddellik deur jou
skuld te bely en om vergewing te vra. Moenie jou ooit aan die
leuen oorgee nie. Die leuen verlam jou. Dit maak jou onrustig,
bang, wantrouend. Jy leef dan mos in vrees dat die waarheid jou
sal agterhaal. Die leuen veroorsaak dat jy altyd op jou hoede
moet wees en een leuen volg maklik op die ander omdat jy jouself
moet verdedig. Hoe frustrerend is die leuen dan nie vir die
soldaat van Christus. Jy staan jouself in die pad. Jy maak geen
vooruitgang.

Net die waarheid stel jou in staat om die goeie stryd te stry.
Daar is dan niks wat jou verhinder nie. Die waarheid maak jou
werklik vry. Jy hoef nie bevrees te wees nie, jou verhouding met
God is goed. Jy kan God en jou naaste so te sê reg in die oë
kyk. Jou verhouding met jouself en met jou naaste is eerlik en
oop. Jy kan opruk, gereed vir die stryd.

Geliefdes, die tweede deel van die Christelike wapenrusting is
die borswapen van die geregtigheid. Jy sou hierdie borswapen met
’n koeëlvrye baaitjie kan vergelyk. Dit beskerm jou
belangrikste organe teen dodelike wapens.

Waar wys die borswapen van die geregtigheid op? Dink aan Satan
se pogings om jou uit te skakel. Hoe doen hy dit? O.a. deur jou
van allerlei dinge aan te kla. Hy is mos die groot lasteraar. Hy
sê bv: kyk na hom of haar. Wil jy ander mense vertel hoe hulle
hul moet gedra? Jy is self nie reg nie. Jy sondig self nog steeds
teen God. Hou op met jou vroom gepraat. Jy het geen reg om te
praat nie. Hou op met jou Christelik onderrig van jou kinders.
Hou op met jou bediening in die kerk. Hou op met jou huisbesoeke,
met jou woorde van vertroosting en vermaan. Hou op met jou
Christelike getuienis in die samelewing. Dis net een groot leuen.
Jou eie hart en hande is vuil van die sonde.

Ja, gemeente, gewoonlik sou sulke beskuldigings jou
diskwalifiseer. Want Satan het in baie opsigte gelyk. Ek is
’n sondaar. My motiewe is nie altyd reg nie. Ek doen baie
dinge verkeerd. As ek net na Satan sou luister, dan sou ek myself
onttrek aan die stryd, my werk in diens van die Here, staak. Maar
God gee my die borswapen van die geregtigheid. Geregtigheid
verwys na my vryspraak in Christus. Christus is my geregtigheid.
Hy het die wet in my plek vervul en die straf op my sonde gedra.
Ek mag aangaan in diens van die Here, ondanks al my sondes, want
al Satan se aanklagte stuit af teen die harde borswapen, Jesus
Christus, ons geregtigheid. Die koeëls van Satan skaad my nie
meer nie. Ek mag my verheug in die vergewing van my sondes en
moedig opruk as soldaat van Christus.

Gemeente, die derde deel van die wapenrusting is die skoene
van die bereidheid vir die evangelie. Die skoene is van leer
gemaak, die tone oop, met swaar dik stewige sole en gebind om die
enkels en voete. Die soldaat kan dus lang ente stap en kan lekker
vastrap.

Letterlik praat die teks van die skoene van die bereidheid van
die evangelie. Die woord bereidheid kan ook met gereedheid of
vastheid vertaal word. Dis nie heeltemal duidelik wat met die
genitief “van die evangelie” bedoel word nie. Is die
evangelie die onderwerp of voorwerp? Word daarmee aangedui die
bereidheid wat die evangelie gee of die bereidheid om die
evangelie te hoor en uit te dra? Dit kan albei wees.

Eers dan die bereidheid wat die evangelie gee. Die evangelie
maak jou as gelowige gereed, gee jou vastheid, soos die stewige
skoene die soldate ’n sterk vastrapplek gee. Inderdaad as jy
die evangelie van vrede ontvang het, het jy die sterkste
vastrapplek wat moontlik is in die stryd teen die bose. Daardie
geweldige evangelie van vrede met God en met mekaar maak jou
bereid, gereed vir diens en vir die stryd.

Dan is daar die tweede opsie waarvoor ook ons vertaling kies
wanneer dit praat van die bereidheid vir die evangelie van vrede.
Dan is my skoene my bereidheid om die evangelie van vrede te
ontvang en uit te dra. Om ’n goeie soldaat van Christus te
wees moet ek ongetwyfeld altyd bereid wees om die evangelie te
hoor en uit te dra. Daardie bereidheid om na die evangelie te
luister en dit uit te dra, het ’n stabiliserende invloed op
my lewe. Dit gee vrede, rus en vastheid. Dit motiveer jouself en
ander. Dit hou jou in beweging. As jy deur die evangelie
oorweldig is, dan staan jy nie terug nie, aarsel jy nie, maar is
jy gereed vir aksie.

Onthou ons praat van die evangelie van vrede. In ’n
wêreld vol twis en onenigheid het jy die evangelie van vrede.
Ware vrede met God en met mense. In Jesus Christus ons Here. Hy
is mos ons vrede. Hierdie evangelie bring ook vrede. As jy aan
die evangelie vashou, kry jy innerlike vrede en rus. Hierdie
vrede wat God gee, is ’n magtige wapen in die stryd. Dis ook
iets wat jou nie koud of inaktief kan laat nie. Jy kan dit nie
vir jouself hou nie. Jy wil dit met ander deel. Daarvoor hoef jy
nie ver van huis te gaan nie. Die evangelie word hier en nou aan
jou gegee. Te midde van jou gewone lewe en verhoudings. Miskien
moet jy jou eie man of vrou in die vrede laat deel, jou eie kind
of broer of suster. Miskien moet jy daardie eensame vrou of man
wat in jou straat woon gaan besoek. Miskien moet jy met die seun
of dogter uit jou klas gaan praat. Soms soek ons dinge te hoog en
te ver weg, terwyl ons sendingveld so naby is dat ons dit oor die
hoof sien. Met die bereidheid om die evangelie van vrede te
ontvang en uit te dra is jy gereed vir aksie, en begin jy by die
huis, naby, om die draai. En Satan? Hy kan hopeloos toekyk. Jy is
gereed vir die Here. Jy het ’n sterk vastrapplek.

Die vierde deel van die wapenrusting is die skild van die
geloof. Met jou linker arm het jy daardie skild gedra. Jy moes
die skild so beweeg dat jy daarmee allerlei aanvalle van die
vyand kon afkeer, waaronder sy vurige pyle.

Die Satan is besig om sy vurige pyle na jou af te skiet. Dis
’n vreeslike ervaring om die vurige pyle op jou af te sien
kom. Hul beweging deur die lug veroorsaak dat die pyle nog feller
gaan brand. As hulle jou tref, kan hulle lelike vleis en
brandwonde veroorsaak.

Hierdie vurige pyle van die Bose kan enigiets wees. Dit kan
die pyle van twyfel wees. Satan kan suggereer: is dit werklik
waar wat jy van jongs af geleer het? Jy ontmoet mense wat
heeltemal nie glo nie. Hulle is baie oordentlik en aangenaam. Wat
is verkeerd aan hul lewe? In jou studies kom jy in aanraking met
die moderne wetenskap. Dit val nie jou geloof direk aan nie. Dit
ignoreer dit eenvoudig. Is jou geloof werklik relevant? Jy
ontmoet mense van ander godsdienste. Baie godsdienstige en
ernstige mense. Hulle glo net nie wat die Bybel sê nie. Sou
hulle dit dan almal werklik mis hê? Dalk begin jy om aan die
Bybel te twyfel. Is die Bybel waar? Is dit werklik die Woord van
God? Of jy kan selfs aan God begin twyfel. Bestaan Hy werklik? Is
Hy werklik in beheer van alles? Dit gaan van kwaad tot erger. Jy
verloor al jou vastheid, sekerheid. Die pyle van die Bose het hul
doel getref.

Satan kan ook pyle van laster afskiet. Hy probeer om mense
teen jou aan te hits. Om jou so uit te skakel sodat jy niks meer
met die mense, met die gemeenskap, te doen wil hê nie.

Vurige pyle van misleiding. Met indrukwekkende woorde probeer
hy jou op die verkeerde pad te lei. Vurige pyle van vrees,
besorgdheid, toorn. So sou ’n mens kan aangaan met die noem
van allerlei vurige pyle wat Satan afskiet om te probeer om jou
uit te skakel, dood te maak. Jy ontdek dit op ’n pynlike
manier wanneer hy tot jou deurgedring het. Jy is dan minder
gemotiveer in jou geloof. Die Bybel sê nie baie vir jou meer nie.
Jou gebedslewe verkwyn.

Hoe kan jy daardie vurige pyle afweer? Net met die geloof as
jou skild. Deur God op sy woord te glo. Deur eenvoudig te sê:
God het dit gesê – Hy die Skepper is baie groter as enige
skepsel – daarom moet dit so wees, ook al kan ek dit nie
heeltemal verstaan nie. Deur eenvoudig in geloof aan te gaan met
die werk waartoe God jou roep. Die geloof vang nie net die vurige
pyle van die Bose op nie. Die geloof doof die pyle ook uit. Sodat
jy ongedeerd bly. Gereed vir diens as soldaat van Christus.

Gemeente, die volgende deel van die wapenrusting is die helm
van verlossing. Die helm was bedoel as versiering en as
beskerming. Wat is dit wat jou as Christen versier en beskerm?
Dit is die feit dat jy gered is. Met die helm van verlossing op
jou kop kan jy nie verbrysel word nie. Jy kan jou kop in vertroue
ophef. Jy is verlos. Satan het geen seggenskap oor jou meer nie.
Jy het oorgegaan van die koninkryk van die duisternis na die
koninkryk van die lig, na die koninkryk wat ’n toekoms het,
die ewige koninkryk. Satan se kop sal vermorsel word. Dink aan
die belofte wat reeds in Gen 3:15 gegee is. Jy kan die stryd
aanvaar as meer as oorwinnaar deur Hom wat jou liefgehad het. Jy
kan selfs die magtigste vyand sonder vrees in die oë kyk. Jy is
verlos.

Die sesde en laaste deel van die wapenrusting is die swaard,
die swaard van die Gees – dit is die woord van God. Tot nou
toe is net verdedigingswapens genoem. Hulle was wapens wat jy
moet aantrek om jouself teen die vyand te beskerm. Nou ontvang jy
’n wapen wat vir die aanval gebruik kan word sowel as vir
die verdediging. Dit is die swaard van die Gees, die swaard wat
die Gees gegee het, die woord van God, soos dit in die Bybel na
ons toekom. Die Gees gebruik dit om deur allerlei
verdedigingswerke te breek, om die bolwerke van Satan stukkend te
maak. Die Gees plaas hierdie swaard in jou hande sodat jy dit kan
gebruik om die versoeking te weerstaan en om daarmee aan te val,
uit te reik.

Elke Christelike getuie weet dat God se woord skerp is. Dit is
skerper as enige tweesnydende swaard. Jy hoef daarom nie skaam te
wees om dit te gebruik nie. Jy kan dit gerus met vertroue gebruik.
Daar is geen beter wapen nie. Hoe meer jy daardie woord opneem,
des te meer ontdek jy sy rykdom en krag.

Hoe belangrik is dit dan vir ’n soldaat van Christus om
die tyd te neem om die Bybel te lees en om dit te probeer
verstaan, saam met ander. Jy kan sê: die Heilige Gees kan dit
tog vir my verklaar? Dis waar, maar vergeet nie dat die Heilige
Gees dikwels juis deur mense werk, deur gewone mense soos jy en
ek. Jy kan mekaar geestelik opbou, baie van mekaar leer. Baie vir
mekaar deurgee. As jy dit doen dan is die Heilige Gees besig om
jou met sy swaard te oefen.

Ja, ons het almal ons goeie voornemens. Ons beplan om ons meer
te beywer om die Bybel te bestudeer. Dis egter nie voldoende nie.
Jy moet uit die Woord lewe. Jy moet die woord wat jy hoor, lees
of bestudeer verwerk en in praktyk bring. Teorie en praktyk moet
een wees. Anders sal jy die swaard van die Gees tog nog nie kan
gebruik nie. Die swaard sal dan tog nog ongebruik bly.

Wil jy jou vyand oorwin? Nou, bly jouself voed met die woord
van God. Soos brood nodig is om jou fiks en aktief te laat wees,
so is die woord nodig om jou fiks vir die stryd, vir jou lewe in
diens van Christus te laat wees. Wat is die Bybel vir jou werd as
jy byna nie weet wat dit sê nie? Wat kan jy daarmee bereik as jy
die woord nie jou eie gemaak het nie, as jy nie daarmee toegerus
is nie.

Is jy toegerus? Laat dan die vyand maar kom. Jy sal hom oorwin
met die woord van God. Jy sal sy versoeking weerstaan. Dink aan
Christus se weerstand teen die duiwel by die versoeking in die
woestyn. Al Satan se aanslae breek stukkend teen die swaard van
die Gees: Daar is geskrywe, daar is geskrywe, daar is geskrywe.
Verstaan jy wat egte bybelkennis beteken? En hoe jy dit in
praktyk moet toepas? Maak nie saak hoe Satan jou aanval, neem
altyd die swaard in jou hand. Lees dit, bestudeer dit, oordink
dit. Bly jou kennis van die Skrifte ontwikkel. Want hier
impliseer kennis mag, mag oor die Bose. Neem die swaard van die
Gees te hand, wees besig daarmee, maak dit jou eie. Om dit te kan
gebruik. En om weerstand te kan bied in die dag van onheil

Hier het ons dan die ses dele van die wapenrusting van God.
Die waarheid as gordel, die geregtigheid as borswapen, die
bereidheid van die evangelie as skoene, die geloof as skild, die
verlossing as helm, die woord van God as swaard. Dit alles is
deel van die wapenrusting wat God aanbied. Neem dit dan op, trek
dit aan en gebruik dit teen die magte van die bose. So alleen kan
jy weerstand bied en staande bly. In Christus is jy dan meer as
oorwinnaar.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)