In die Nagmaal bied Christus Homself aan, is Hy teenwoordig

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-11-05
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 35
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 35

Ds C Kleijn - Sondag 05 November 2006

Lees: Johannes 6:47-58; 1 Korinthiërs 11:23-34;
Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 35.
Sing: Ps 136:1-3; Ps 136:19,20; Ps 105:22,23; Ps
116:1,4,7,10; Ps 118:7,14.

Tema: In die Nagmaal bied Christus Homself aan, is Hy
teenwoordig.

  1. Wie mag die Nagmaal vier?
  2. Wat is die karakter van die Nagmaal?
  3. Hoe moet ons die Nagmaal vier?

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Volgende week hoop ons weer die Heilige Nagmaal te vier.
Daarom is dit goed om ons nou daaroor te besin. Besef ons nog wel
voldoende waaroor dit gaan aan die tafel van die Here? Vanaand
wil ek nav ons belydenis fokus op drie vrae.

Ek verkondig vir julle: In die Nagmaal bied Christus Homself
aan, is Hy teenwoordig.

  1. Wie mag die Nagmaal vier?
  2. Wat is die karakter van die Nagmaal?
  3. Hoe moet ons die Nagmaal vier?

Ons belydenis leer ons dat H Nagmaal vir die wedergeborenes is.
Christus het die Nagmaal ingestel om hulle wat Hy reeds wederbaar
en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het, te voed en te onderhou.

Die NGB gaan voort en vertel ons dat as jy wedergebore is, jy
tweërlei lewe het: ’n liggaamlike en ’n geestelike
lewe. Jou liggaamlik lewe is die lewe wat jy van jou eerste
geboorte ontvang het. Dis iets wat alle mense besit. Dit is
tydelik. Jou geestelike lewe het jy by jou tweede geboorte
ontvang, deur die verkondiging van die evangelie. Dis is ’n
nuwe geboorte deur die Gees van God. Dit is hemels. Nie alle
mense het daaraan deel nie, slegs die uitverkorenes van God.

Om my liggaamlike en aardse lewe in stand te hou, gee God
aardse en gewone brood. Hiervan lewe almal en dit behoort aan
almal. Om my geestelike en hemelse lewe in stand te hou, het God
Jesus Christus as die lewende brood uit die hemel gestuur.
Hierdie lewende brood moet, soos die gewone aardse brood, ook
geëet word. Die NGB stel dit duidelik: “Jesus Christus voed
en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges wanneer Hy
geëet word.” Christus is die geestelike voedsel vir ons
siele.

Gemeente, dit was Christus self wat gesê het dat Hy ons
geestelike voedsel is. In die bekende “broodrede” van
Joh 6 tref Jesus ’n duidelik onderskeid tussen aardse en
hemelse brood. Israel het in die woestyn brood geëet wat deur
God self aan hulle gegee is. Maar dit was nie die ware brood nie.
Die ware brood is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die
lewe gee. En dan sê Jesus vir hulle: “Ek is die brood van
die lewe.” Ek gee nie net die brood nie, maar Ek is ook self
die ware brood uit die hemel. Die Vader het My aan julle gegee om
julle eintlike honger te stil: "wie na My toe kom, sal nooit
honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie."(vers
35).

Na die sondeval is ons mense van die boom van die lewe
weggedrywe. Ons het gekies vir die dood, geskei van Hom wat die
Lewe is. So sit alle mense van nature op die pad van die dood.
Dit is nie slegs 'n pad wat na die dood lei nie, maar 'n pad wat
ook self as die dood getipeer kan word, 'n pad buite die
gemeenskap met die lewende God.

Gemeente, wanneer Christus Homself as die brood van die lewe
aanbied, dan wys Hy op die herstel van die gemeenskap met die
lewende God. Wie Hom, die brood van die lewe eet, besit die lewe.
Wie deur die geloof Hom aanneem, het die ware lewe wat bly in
ewigheid. Ek kan weer voor die lewende God verskyn sonder om
verteer te word. Ek kan weer as mens met die lewende God omgaan.

Christus konkretiseer sy prediking van die brood van die lewe
deur te wys op sy vlees: "Die brood wat Ek sal gee, is my
vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee" (vers 51).
'n Wonderlike gedagte. Christus se vlees is brood. Wat bedoel
Christus hiermee? Hy sinspeel op sy sterwe. 'Vlees' is die
bestaan van die sterflike mens. Jesus sal die bestaan prysgee ter
wille van die lewe van die wêreld. Sy sterwe sal 'n offergawe
wees, brood wees.

Gemeente, hier is 'n duidelike sinspeling op die Pasga. In
vers 4 van Joh 6 lees ons dat die Pasga naby was. Die
vermeerdering van die brode en die prediking van die brood van
die lewe staan in verband met die Pasga wat naby is. Christus
praat hier tot mense wat binnekort die paaslam sal eet. Christus
sinspeel op die vlees van die paaslam wanneer Hy praat van sy eie
vlees. Hy wys Homself aan as die Paaslam wat die sonde van die
wêreld wegneem. Gewoonlik het mense die paaslam geslag om daarna
aan die maaltyd daarvan te eet. Dit was 'n teken van lewe in die
versoende gemeenskap met God.

In reaksie op die ongeloof van die Jode, kom Christus tot die
klimaks: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie
die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie,
het julle geen lewe in julle self nie. Hy wat my vlees eet en my
bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die
laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik
drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom"
(verse 53-56).

Christus se vlees is waarlik spys en sy bloed is waarlik drank.
Hoe moet ek dit verstaan? Spys en drank is voedingsmiddele. Dit
hou die lewe in stand. Christus se vlees en bloed sien op sy
selfofferande aan die kruis. Juis daar is Jesus my groot
lewensmiddel. Sy dood in my brood. Sy dood is my lewe.

Maar hoe kan ek dan Christus se vlees eet en sy bloed drink?
Joh 6 wys daarop dat die verhouding tussen Jesus en ons deur
geloof bepaal word. Sonder geloof kan ek Christus nie as ware
brood uit die hemel aanvaar nie. Sonder geloof in Hom sal ek nie
deur Hom gevoed word nie Om Christus se vlees te eet is 'n
kwessie van deur die geloof Christus toe-eien en ontvang. Deur
geloof deel ek in Christus en al sy weldade. Kyk maar na Joh 6:
35 en 47. Vers 35: "En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood
van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie
in My glo, sal nooit dors kry nie." En vers 47 "Voorwaar,
voorwaar Ek sê vir julle, wie in my glo, het die ewige lewe.”

Broers en susters, in hierdie Skrifgedeelte is daar hoegenaamd
nie sprake van die Heilige Nagmaal nie. Die Nagmaal was toe nog
nie ingestel nie. Tog kan ons die woorde wel deeglik op die
Heilige Nagmaal betrek. Sê Christus nie by die instelling van
die Nagmaal nie: dit is my liggaam vir u en hierdie beker is die
nuwe testament in my bloed? Christus stel 'n maaltyd in om die
werklikheid van Joh 6 uit te beeld en te gedenk. Brood en wyn
word gebruik, voedsel en drank. Beelde van Christus se
selfofferande aan die kruis vir ons lewe.

En wat in Joh 6 oor die geloof gesê word is presies dieselfde
as wat in verband met die Nagmaal gesê word. Ook daar is geloof
nodig, nie net om Christus as die hemelse brood te aanvaar nie,
maar om ook in te sien dat die tekens van brood en wyn na Hom
heenwys en dat elkeen wat hierdie brood eet en hierdie wyn drink,
aan niemand minder nie as aan Jesus Christus self deel kry.

Daarom is die antwoord op die vraag wie Nagmaal mag gebruik,
eenvoudig: alleen hulle wat werklik in Christus glo, hulle wat
reeds wederbaar is. Durf jy dit van jouself te sê wanneer jy
volgende week die Nagmaal hoop te vier? Durf jy te sê dat jy
opnuut gebore is, dat jy deur die Heilige Gees ’n geestelike
en hemelse lewe besit?

Maar gemeente, kan die jong mense, selfs die kinders nie reeds
die geloof in Christus besit nie? God se Gees kan tog ook reeds
in hulle besig wees om hulle harte en lewens te vernuwe? Kinders
kan soms ons beste getuies wees, wat vrymoedig oor God as hul
Vader en Jesus Christus as hul Verlosser praat. Behoort hulle dan
ook nie die Nagmaal te vier nie?

Bowendien, neem die Nagmaal nie die plek van die Pasga
ingeneem nie? En het kinders ook nie deel aan die Pasga gehad nie?
Gemeente, die laaste is waar. Dat die Nagmaal die plek van die
Pasga ingeneem het, wil egter nie sê dat dit presies dieselfde
as die Pasga is nie. Om te weet hoe die Nagmaal gevier moet word
en deur wie, moet jy nie kyk na die Pasga nie. Daarvoor moet jy
luister na wat God in die Nuwe Testament oor die Nagmaal sê. By
die instelling van die Nagmaal is dit reeds opvallend dat
Christus dit in die kring van sy dissipels gevier het. Hy het dit
nie in die familiekring gevier, soos met die Pasga gebruiklik was
nie. Hy het dit gevier saam met sy dissipels. As ons dan let op
wat ons in 1 Kor 11 gelees het, dan is dit duidelik dat van elke
persoon wat aan die Nagmaal deelneem, ’n sekere
verantwoordelikheid gevra word. Om die Nagmaal te vier, moet jy
jouself beproef, moet jy die liggaam van die Here onderskei (op
sy regte waarde skat) en moet jy Christus gedenk. Die viering
self is ’n verkondiging van die dood van die Here. Kan
’n mens dit van kinders vra? Sou ons daarmee hulle nie
oorvra nie? Om Nagmaal te vier, is blykbaar ’n sekere
rypheid, volwassenheid in die geloof nodig. ’n Mens kan dit
nie van kinders verwag nie. Daarom ken ons die reël dat net
hulle wat hul geloofsbelydenis afgelê het en dit met ’n
Christelike lewe bevestig, tot die Nagmaal van die Here toegelaat
word.

Nou die tweede vraag van die preek: wat is die karakter van
die Nagmaal?

Soos die doop, so is ook die Nagmaal ‘n teken en seël
van die belofte van die evangelie, van die verlossing deur
Christus. As teken gee die Nagmaal vir ons heel eerste meer
duidelikheid. Jesus noem Homself die “lewende brood wat uit
die hemel neergedaal het”. Christus as mens is egter
onsigbaar, ver weg in die hemel, en ook as God is Hy onsigbaar.
Dit beteken dat ek van daardie wonderlike brood niks kan sien nie.
Om ons op hierdie punt tegemoet te kom, het Christus besluit om
“hierdie geestelike en hemelse brood vir ons af te
beeld”. En daarom het Hy ’n “aardse en sigbare
brood as ’n teken van sy liggaam en wyn as ’n teken van
sy bloed ingestel”. Artikel 33 praat daarvan dat God die
sakrament gegee het “om vir ons uitwendige sintuie des te
beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en
wat Hy inwendig in ons hart doen.”

Behalwe dat die Nagmaal vir ons meer duidelikheid gee, gee dit
hoofsaaklik ook meer sekerheid aan ons. Dit wil sê, dat dit nie
net ’n mooi illustrasie is wat Jesus vir my wil gee nie,
maar dat Hy ook ’n waarborg vir my gee. Die waarborg naamlik:
so seker as wat jy daardie brood sien, en dit in jou hande hou en
dit met jou mond opeet, so seker gee Ek vir jou My liggaam wat
vir jou gekruisig is. Die beslissende vraag is nou: Waarom is die
een net so seker soos die ander? Dus, waarom is die sien, neem en
eet van daardie aardse brood, net so seker soos die ontvang van
Christus en Sy genade? Dit berus op wat Christus self by die
instelling van die Nagmaal sê: “neem, eet, dit is My
liggaam.” En: “Dit is my bloed.” (Matt. 26:26,28).
Dit klink snaaks. Maar dit is baie eenvoudig en duidelik.
Christus se taal is uitdruklike, veelseggende taal. Kort en
kragtig. In ons daaglikse lewe gebruik ons dikwels sulke kort en
kragtige uitdrukkings. Gestel jy wys vir my 'n foto van jou pa.
Word so ’n foto dikwels nie kort en kragtig aanbied, met die
woorde: dit is my pa nie. 'n Kind kan weet dat dit nie letterlik
jou pa is nie. Dis net 'n foto van hom. Tog sê jy sonder dat
enigiemand jou misverstaan: dit is my pa.

So kan Christus ook sê: dit is my liggaam en bloed. Ons noem
dit die sakramentele spreekwyse. Dis die taal van die liefde.
Wanneer Christus gereed is om sy liefde tot die dood toe te wys,
praat hy kort en kragtig. Jy hoor sy liefde daarin weerklink. Kyk,
sê Christus, Ek gee nou my lewe oor sodat julle ewig mag lewe.
En so seker as wat julle hierdie normale brood eet en hierdie
normale wyn drink, so seker ontvang julle wat ek deur my lyding
en dood verdien.

Gemeente, soos ons reeds by die doop genoem het, kan jy ook
hier dit vergelyk met iemand wat van ’n betroubare tjek sê:
dit is R1000. Daardie papiertjie gee aan jou net die rég op
daardie geld. Maar daardie reg lê so vas en seker, dat jy rustig
kan sê: dit is R1000. Ek het R1000 ontvang. So mag jy ook met
die stukkie nagmaalsbrood in jou hand en mond sê: dit is die
liggaam van Christus. Ek ontvang Christus se liggaam. Ek ontvang
wat Hy deur Sy lyding verdien het.

As maaltyd is die Nagmaal baie skraal: een stukkie brood
sonder iets lekkers daarop, en een slukkie wyn per persoon. Maar
die uitwerking van hierdie maaltyd is beslis nie skraal nie. Want
hierdie eenvoudige lewensmiddels van brood en wyn, onderhou my
geestelike lewe. Is dit dan nie vreemd dat sulke eenvoudige dinge
so diep op my siel kan inwerk nie? Op hierdie vraag antwoord die
artikel: Jesus Christus “doen immers in ons alles wat Hy vir
ons deur hierdie heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons
verstand te bowe en is dit vir ons onbegryplik hoe dit gebeur,
net soos die werking van die Heilige Gees ondeurgrondelik en
onbegryplik is”. Ek staan hier dus voor ’n
verborgenheid wat nie deur my ontdek kan word nie. Ek kan
inderdaad nie verstaan dat deur so ’n eenvoudige maaltyd,
sulke geweldige groot dinge in my siel kan gebeur nie. En
inderdaad is dit alleen die Heilige Gees wat dit alles in my
bewerkstellig.

Maar in die tussentyd bly dit ook volkome waar, dat Christus
hierdie eenvoudige maaltyd aanwys as ’n betroubare middel,
waardeur my geestelike lewe gevoed word. Die diepe misterie van
die Nagmaal is sy geestelike werklikheid: dat Jesus Christus self
in die Nagmaal teenwoordig is. Dit is die waarheid van die
Nagmaal. Dis ’n geestelike maaltyd waar Christus Homself met
sy weldade aan ons meedeel. In ons art bely ons selfs: “Tog
dwaal ons nie as ons sê dat wat deur ons geëet en gedrink word,
die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus is
nie.” Daarmee is dit so sterk moontlik uitgedruk, dat ek
werklik Jesus in my opneem, soos Hy vir my gesterf het. Die
voorwaarde hiervoor is natuurlik, dat ek glo wat Hy gesê het oor
die voedingswaarde van Sy Nagmaal.

Trouens as jy daaroor nadink is dit ook by ’n gewone
maaltyd onbegryplik, dat gewone brood my lewe onderhou. Ook dít
is ’n misterie. Maar ek glo dat dit my voed, en in daardie
vertroue gebruik ek my hand en mond om daardie voedsel te nuttig,
in die vaste sekerheid dat dit my aardse lewe onderhou.

As ek die Nagmaal gebruik, verstaan ek glad nie hoe dít my
geestelike lewe kan onderhou nie. Maar ek glo Christus op Sy
Woord. En daardie vertroue is die hand en die mond waarmee ek die
Nagmaal gebruik. En die uitwerking daarvan is inderdaad dat dit
my geestelike lewe onderhou en my geloof versterk. Dit erváár
ek. Want dit staan vas “dat Jesus Christus nie tevergeefs sy
sakrament vir ons voorgeskryf het nie”.

Gemeente, hiermee is ons reeds by die derde vraag van die
preek: hoe moet ons die Nagmaal vier. Ek moet dit doen in geloof
en vertroue, in nederigheid en met eerbied. Ons het reeds gesien
dat teken en seël van die Nagmaal nie leeg of ydel is nie. Die
sakramente en die sake waarvan hulle tekens is, hoort bymekaar.
Daarom het elkeen aan die nagmaalstafel met Christus self te make.
Hy is daarin teenwoordig. Hy gee daarin Homself met al sy weldade.
Niemand ontkom aan Christus nie.

Dit wil egter nie sê dat elkeen Christus outomaties tot heil
ontvang nie. Jy kan ook ’n oordeel oor jouself eet en drink.
Dit gebeur as jy nie waarlik glo nie. As jy net uit gewoonte of
in onverskilligheid die Nagmaal vier. As goddelose mens ontvang
jy dan wel die sakrament. Maar jy verwerp dan die waarheid, die
eintlike inhoud van die sakrament, dit is Christus. Jy ontvang
dus nie vir Christus nie. Maar omdat jy nie ’n leë
sakrament afwys nie, maar die volle sakrament, naamlik Christus,
ontvang jy die sakrament tot jou verdoemenis.

Daarom sal elkeen hom of haarself moet ondersoek voor die
viering van die Nagmaal. Toets jou geloof in die lig van die
Skrif. Besef die karakter van die Nagmaal. Wys ’n houding
wat pas by hierdie heilige sakrament.

Die formulier vir die viering die heilige Nagmaal kan ons by
hierdie selfbeproewing help. Laat ek mag afsluit met die
relevante gedeelte uit die kort formulier: p 26,27.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)