Ons goeie God het owerhede aangestel

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-11-12
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 36
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 36

Ds C Kleijn - Sondag 12 November 2006

Lees: Romeine 13:1-7; 1 Petrus 2:11-17;
Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 36.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 106:1,2;
Ps 106:20 (HN); Ps 47:1,4; Ps 72;1,2; Ps 72:10,11.

Tema: Ons goeie God het owerhede aangestel.

  1. die hoë posisie van die owerheid
  2. die taak van die owerheid
  3. ons houding as onderdane

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanaand gaan dit oor die burgerlike owerheid. Oor die
president en sy ministers, oor die ANC regering, oor die
plaaslike owerhede. En veral ook oor ons houding teenoor hulle.
Ja, hoe is jou houding teenoor die owerhede? Hoe word daar onder
ons oor die regering gepraat? Is dit nie dikwels in negatiewe sin
nie? Daar word dikwels baie gekla. Frustrasies word geuit nav die
hoë vlakke van misdaad en geweld, HIV wat nog massaal versprei,
slegte dienslewering, allerlei onchristelike ideologieë wat deur
die regering gepropageer word ens ens. Dis beslis nie moeilik om
te kla nie. En om neerhalend oor die owerhede te praat nie.
’n Mens kan ook sekere frustrasies verstaan. Maar nou die
vraag: Is dit wat ons houding as Christene tipeer? Wat is dan die
verskil tussen ons houding en die houding van nie-christene? Pas
so ’n houding wel by Christene wat die woord van God liefhet?

In ons belydenis praat ons ander taal. Let op die eerste
woorde van die artikel: “Ons glo dat ons goeie God vanweë
die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en
owerhede aangestel het.” Sien ons nog wel ons goeie God raak
wanneer ons praat oor owerhede? In sy goedheid het God regerings
aangestel. Dis sy wyse beskikking. Moenie dink dat die opsteller
van die belydenis Guido de Bres dit maklik so kon skryf nie. Hy
het hierdie belydenis juis opgestel in ’n tyd waarin die
kerk tot bloedens toe vervolg is. Hy is uiteindelik self opgehang.
Tog begin hierdie vervolgde Guido en saam met hom die vervolgde
kerk met ’n positiewe getuienis oor die owerhede. Hulle stel
as eerste dat ons die owerhede aan “ons goeie God” te
danke het. Dink ons nog wel daaraan? En dank ons God nog wel
daarvoor?

Waarom is dit God se goedheid dat die daar owerhede is? Ons
belydenis verwys na die verdorwenheid van die menslike geslag en
die losbandigheid van die mense. Vanweë hierdie verdorwenheid
sou dit ’n ramp wees as daar geen regering sou wees nie.
Dink aan die situasie in die tyd van die rigters toe daar geen
koning in Israel was nie en elkeen gedoen het wat goed was in sy
eie oë. Dink ook aan dit situasie in verskillende Afrika lande
waar daar vir tye geen stabiele regerings was nie en krygshere
’n skrikbewind gevoer het met baie geweld en bloedvergieting.
Sonder regering het ’n land geen uitsig nie, word die
situasie onleefbaar, word dit so te sê ’n hel op aarde.
Moenie dit vergeet nie wanneer jy oor jou regering praat nie. Ook
al mag jy wens dat ons owerheid meer bekwaam sou wees en dit
beter sou doen, dit bly tog ’n gawe van ons goeie God dat
ons ’n regering het.

Ek verkondig aan u die woord van die Here: ons goeie God het
owerhede aangestel.

  1. die hoë posisie van die owerheid
  2. die taak van die owerheid
  3. ons houding as onderdane.

Hoe verrassend is die manier waarop Paulus oor die owerhede
praat. In Rom 13:1 sê hy: "Laat elke mens hom onderwerp aan
die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe
van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel."
Verrassend, sê ek. Waarom? Omdat Paulus in daardie tyd onder die
Romeinse owerheid leef. En Paulus weet baie goed dat die Romeinse
allermins onskuldig is. Hul swaard drup van bloed. Deur middel
van geweld en onreg het hulle ander volke aan hulle onderwerp.
Die keisers het ook dikwels die swaard gebruik om hulle eie
belange te beveilig pleks om die reg te handhaaf.

Paulus was self ook meermale ’n slagoffer van
magsmisbruik. Hy het ervaar dat owerhede die goeies soms vervolg
pleks van beloon. In Damaskus het die goewerneur van koning
Aretas die stad laat bewaak om hom te vang (2 Kor 11:32). Paulus
het verskillende kere in die tronk gesit en is meermale gemartel.
Paulus laat hom egter nie deur sy emosies en deur sy pynlike
ervarings lei nie. Hy laat hom deur God lei. Hy beskou die
situasie vanuit sy geloof in God. So kan hy sê dat daar geen mag
is behalwe van God nie en die wat daar is, is deur God ingestel.

Paulus sê niks oor die vorm van die regering nie, ook nie oor
hoe die maghebbers aan die bewind gekom het nie. Dit is vir hom
nie ter sake nie. Hy gaan daarvan uit dat die bestaande magte
onder die voorsienigheid van God daar is. Is daar dan geen
uitsonderings op die reël nie? Dit is moontlik, maar wie te gou
oor uitsonderings praat, verswak die reël. En die reël is dat
ons ons nie slegs hoef te onderwerp aan gematigde of Christelike
owerhede nie, maar aan die owerhede wat daar is.

Maar, gemeente, wat van die slegte magte wat aan die bewind
kom of die magte wat deur rewolusie die seggenskap verkry? Kan
ons ook van hulle sê dat hulle deur God ingestel is? Ja, God is
daaroor duidelik in die Bybel. Dink aan Koning Nebukadneser, die
wrede koning van Babel, wat Jerusalem verower het en die Judeërs
in ballingskap weggevoer het. In Jer 43:10 word hy God se kneg
genoem. God het hom geroep en uitgestuur. Kores, die koning van
Persia, wat nasies en konings neergewerp het, word in Jes 44:28
en 45:1 selfs God se herder, God se gesalfde genoem. In Hosea 13:11
sê die Here: Ek gee jou ’n koning in my toorn, en Ek neem
hom weg in my grimmigheid. En in Daniel 2:21 lees ons oor die
Here: “Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit
konings af en stel konings aan.”

Broers en susters, dit is ’n kwessie van die geloof in
God se voorsienigheid. Ons glo in die almagtige en
oralteenwoordige krag van God waardeur Hy al die skepsels asof
met sy hand nog onderhou en regeer. Dit is vir ons ’n sterk
bemoediging. Wat daar ook in die wêreld of in ons land gebeur,
dit is God die Vader wat sy hand ontsluit. En waarom doen Hy dit?
Met die oog op die koms van sy Koninkryk. Ek is dus nie
oorgelewer in die hande van mense nie, maar in die hande van God.
Daarom sê ons na ’n algemene verkiesing nie in die eerste
plek: die kiesers het gespreek nie, maar God het gespreek.

Let maar op Rom 13:1: daar is geen mag behalwe van God nie en
die wat daar is, is deur God ingestel. "Van God" wys op
die oorsprong van die gesag. "Deur God" wys op God se
aktiewe betrokkenheid daarby. Deur God ontvang ons die owerheid.
In ons land praat ons van ’n demokrasie en van ’n
demokratiese verkiesing. Dit beteken dat die owerheid deur die
volk gekies word. Tog is dit die Here wat die regering deur
middel van die stemme vir ons gekies het. Vergelyk dit maar met
die verkiesing van ampsdraers. Die gemeente kies maar ons
verklaar daarna dat God self hulle tot daardie diens geroep het.

Dink u die vergelyking met ampsdraers is onvanpas? Let maar op
die hoë titels wat die owerheid van die Here ontvang in Rom 13.
In vers 4 word die owerheid ’n dienaar van God genoem,
letterlik staan daar ’n diaken van God. En in vers 6 staan
daar dat die owerhede letterlik liturge is, ’n woord wat
juis vir die diens van priesters gebruik word. Hulle is dus
dienaars van God. Hulle staan in diens van God ten behoewe van
die volk waaroor God hulle gestel het.

Dit beteken dat die regering in sy beleid aan God se norme,
aan God se wet gebind is. God weet wat goed vir ’n nasie is!
Hulle moet die reg van God handhaaf en bevorder. So kom ons uit
by die taak van die owerheid, die tweede gedagte van die preek.

Ons art noem verskillende aspekte van die taak van die
owerheid. Vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag moet
hulle die losbandigheid van mense bedwing sodat alles ordelik kan
verloop. Ons art verwys uitdruklik na die staatsbestuur waaraan
hulle aandag moet gee. Dit sluit in die uitgebreide
staatsmasjinerie van onder meer die wetgewende, uitvoerende en
regsprekende aktiwiteite. Hulle moet reg en orde handhaaf en
bevorder. Om dit te kan doen het God aan die owerheid die swaard
gegee om kwaaddoeners te straf en die deugsames te beskerm.
Daarom moet ’n bekwame en goed toegeruste polisiemag in
stand gehou word. Daarom moet daar ’n goed funksionerende
regsstelsel wees. Daarom is selfs ’n sterk weermag nodig.
Die uiteindelike doel is dat die lewe kan ontplooi en blom en die
burgers rustig met hul lewe en hul werk kan aangaan,
ooreenkomstig die gawes wat God hulle gegee het.

Dis ’n groot verantwoordelikheid. Wie is daartoe in staat
in die huidige Suid Afrika? Daarom sal ons baie vir die owerheid
moet bid sodat hulle werklik kan wees wat hulle moet wees: God se
dienaars ten behoewe van die Suid Afrikaanse nasie. Ons moet bid
vir wysheid en krag, vir onderskeidingsvermoë en moed om te doen
wat werklik die heil van ons nasie dien.

Gemeente, ons artikel noem ook as taak van die owerheid om die
heilige Woordbediening te beskerm. Waarom word dit genoem? Die
rede is dat die owerheid en die kerk albei in diens van Koning
Christus staan. Elkeen moet op sy eie wyse en op sy eie terrein
Christus se koninkryk bevorder. Die kerk verkondig die woord. Dis
sy taak. Dis nie die taak van die owerheid nie. Die owerheid is
die uitvoerende mag. Die owerheid moet die samelewing volgens God
se norme orden. Dit hou o.a. in dat die owerheid daarvoor moet
sorg dat die kerk haar taak onbelemmerd kan vervul.

Beteken dat nou dat die owerheid selfs met geweld en dwang die
troue Woordbediening moet bevorder en alle valse godsdiens moet
uitroei? Sommige het so gedink. Maar julle moet let op hoe ons
art hierdie taak van die owerheid omskryf. Ons bely dat dit die
taak van die owerheid “om die heilige Woordbediening te
beskerm om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan
en uit te roei, die ryk van die Antichris te vernietig en die
koninkryk van Christus te bevorder.” Let veral op die woorde:
om sodoende. Dit is dus nie die taak van die owerheid om alle
afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei nie. Maar
wanneer die owerheid sorg dat die kerk die ruimte het om
ongehinderd die evangelie te verkondig, dan sal afgodery en valse
godsdiens as gevolg daarvan teengegaan word, die ryk van die
Antichris vernietig word en die koninkryk van Jesus Christus
bevorder word.

Dit gee die owerheid natuurlik nie die vryheid om die valse
godsdiens dan maar te bevorder nie. Laat staan dat die owerheid
die valse godsdiens dwingend sou oplê. Die owerheid staan mos in
diens van Christus. Die owerheid moet daarvoor waak dat geen
valse ideologieë dwingende krag in die samelewing kry nie. Dit
dreig bv die geval te wees met die moderne gelykheidsideologie en
die multigodsdienstigheid wat die owerheid aan die skole wil
opdring. Hier tree die owerheid duidelik buite haar bevoegdheid
op en teen haar opdraggewer, Jesus Christus.

Tog mag ons broers en susters God dankbaar wees vir die ruimte
wat ons owerheid ons nog gee om te lewe en te werk en veral om
voort te gaan met die bediening van die evangelie.

Hiermee het ons by die derde gedagte uitgekom: ons houding as
onderdane.

Paulus begin onmiddellik daarop te wys dat elke mens, hom moet
onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is. Ons moet ons
gewillig skik onder hulle gesag. Dit veronderstel ’n houding
van gehoorsaamheid. Dit blyk ook uit Rom 13:7: Betaal dan aan
almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat
belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan
die wat eer toekom. Dit staan teenoor ongehoorsaam wees, jou teen
die owerheid versit. "Hy wat hom teen die owerheid versit,
weerstaan die instelling van God en hulle wat dit weerstaan, sal
hulle oordeel ontvang," lees ons in vers 2. Dit wil sê: God
sal oordeel.

Waarom moet ek die owerheid gehoorsaam wees? Nie vanweë hul
goeie eienskappe nie. Nie vanweë hul bekwaamheid of goeie
bestuur nie. Nie vanweë my persoonlike simpatie nie. Nee, ek
moet gehoorsaam wees omdat God hulle aangestel het. Of hulle goed
of sleg is, maak hier nie saak nie. Hulle is dienaars van niemand
minder as God nie, daarom sal ek my nie teen hulle versit nie.
Let daarop dat ons nêrens in die Skrif lees dat ons gehoorsaam
moet wees vir solank as hulle goed doen nie. Die nadruk val
daarop dat ons die goeie moet doen. "Maar wil jy nie die mag
vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want
hy is ’n dienaar van God, jou ten goede." (Rom 13: 3,4).

Waarom moet ek my dus onderwerp? In vers 5 skryf Paulus:
"Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen
ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete."
Hier sien jy die verskil tussen die gelowiges en die ongelowiges.
Ook hier moet jy as Christen geheel anders wees. Hoe dan? Nou,
hulle wat sonder God lewe onderwerp hulself aan die owerheid
omdat dit sinvol lyk of omdat hulle bang vir straf is. Hulle sal
hul onderwerp teen wil en dank. As Christen sal jy jou egter nie
alleen onderwerp omdat dit die veiligste is nie, maar veral
terwille van die gewete, om voor God ’n goeie gewete te hou.

Om my te onderwerp aan die gevestigde owerheid het alles te
doen met my verhouding tot God. Ek weet as Christen dat dit God
se wil is dat ek my onderwerp aan die owerheid wat Hy in sy
voorsienigheid oor my gestel het. Die apostel Petrus bevestig dit
as hy skryf: "Wees dan onderdanig aan elke menslike
verordening ter wille van die Here – of dit die koning is as
opperheer of die goewerneurs as sy gesante." (1 Pt 2:13).
Ons moet dus onderdanig wees ter wille van die Here.

Hierdie houding van gehoorsaamheid is so wesenlik vir my as
Christen dat ek in moeilike situasies liewer sal ly as om te skel
of te dreig. Wanneer Petrus ons oproep om God te vrees en die
koning te eer (2:17), laat hy onmiddellik daarop volg dat
diensknegte hulle here onderdanig moet wees, nie alleen aan die
wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is (2:18).
Dit ’n kwessie van navolging van Christus. Toe Hy uitgeskel
is het Christus nie terug uitgeskel nie; toe Hy gely het, het Hy
nie gedreig nie, maar dit oorgegee aan Hom wat regverdig oordeel
(1 Pet 2:23).

Beteken dit dan dat blinde gehoorsaamheid van ons gevra word?
Nee, die feit dat ek gehoorsaam moet wees ter wille van die
gewete en ter wille van die Here gee al die grens van die
gehoorsaamheid aan. Voordat Petrus ons opdra om die koning te eer
sê hy: vrees God. Dit is in die volgorde: vrees God en eer die
koning. As die owerheid dinge van my vra wat teen die woord van
God ingaan, dan moet ek gehoorsaamheid weier ter wille van die
gewete, ja, ter wille van die Here. Dink aan die geloofsmoed van
Daniel en sy vriende om die bevele van die koning, wat strydig
was teen die wet van God, te weier. Die apostels het altyd
geweier om gehoor te gee aan die verbod om Christus te predik. So
het hulle ook altyd geweier om die keiser as Heer te aanbid.
Nooit sou hulle toegee aan sulke eise wat teen God se wil ingaan
nie.

Wat kan ons doen as ons onreg ly of as ons sien dat die
regering ontrou is in die uitoefening van sy goddelike amp? In
elk geval nie uitskel, dreig of kla nie. Nog minder: in opstand
kom. Dit beteken nie dat ons alles gelate oor ons heen moet laat
gaan nie. Waar moontlik mag ons protesteer. En die regering
herinner aan sy eie afsprake, toeseggings, wette, en hom hou aan
die grondwet. Paulus het nie geaarsel om kragtig te protesteer
toe hy sonder regs-proses in die openbaar geslaan is en in die
gevangenis gewerp is nie (Hand 16: 37 ev). Ons moet stry met die
wapens van ons Koning Christus. Watter wapens is dit? Die gebed
en die woord. En as ons ten onregte moet ly, laat ons dan kalm en
gelowig ons beroep op die Hoogste Gesag, naamlik Jesus Christus.
Ons sal eerder deur geestelik krag ’n slegte owerhede oorwin
as deur geweld. En die oorwinning sal meer duursame vrugte afwerp.

Broer, suster, seun, dogter, pas dan op vir ’n negatiewe
houding teenoor die owerheid. Laat jou nie lei deur jou emosies
of deur pynlike ervarings nie. Wys eerder ’n Christelike
houding, ’n positiewe en opbouende houding. Dit is nie
genoeg om slegs jou belasting te betaal nie. Jy moet die owerheid
ook respekteer en eer betoon (Rom 13:7). Hoe doen jy dit? Deur
jou met die verskuldigde gehoorsaamheid aan hulle te onderwerp.
Deur die hoë posisie wat God aan hulle gegee het, te erken en te
eerbiedig. Deur as profeet hulle te herinner aan hul hoë amp en
plig en hulle te ondersteun vanuit die woord van God. En deur as
priester voorbidders vir hulle te wees sodat hulle kan wees wat
hulle moet wees. En deur as koning in jou eie gesin en lewe te
demonstreer wat dit is om werklik in beheer te wees, tot eer van
God en tot heil van ander.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)