Die volk in nood bid in verlange tot hulle God

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2006-12-17
Teks: 
Jesaja 63:11 & Jesaja 64:1 & 12
Preek Inhoud: 

Jesaja 63:11, 64:1 en 12

Ds HH van Alten - Sondag 17 Desember 2006

Lees:  Jesaja 63:7-64:12
Teks: Jesaja 63:11, 64:1 en 12
Sing: Sien liturgie

Tema: die volk in nood bid in verlange tot hulle God

  1. die volk kla oor God se omkeer
  2. die volk smeek vir God se terugkeer
  3. die volk pleit op God se eer

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Spreek u ooit in u gebed u verlange na God uit? U begeerte om sy teenwoordigheid in u lewe te ervaar, jou verlange om God as ‘n werklikheid in jou lewe van elke dag te mag hê, jou verlange om naby Hom te mag wees? Nee, nie slegs ‘n gebed vir pa en ma, vir die kinders, vir die werk en die skool en die kerk nie; nee, los van dit alles, ‘n verlange na God self!

Kom ons stel die vraag anders: kan jy agterkom as God vir ‘n tydjie nie so ‘n groot realiteit in jou lewe is nie? Miskien dat jy êrens in jou lewe, êrens in die verlede, vir ‘n tyd lank die pad van die geloof heeltemal byster geraak het – het jy dit besef? Het jy na God verlang? Het jy daaroor gebid? Of miskien dat jy op hierdie stadium in jou lewe, hier waar jy in die kerk sit, besef dat jy nie so naby aan God lewe as wat Hy van ons vra nie, dat Hy nie so naby aan jou is as wat nodig is nie – verlang jy na daardie nabyheid? Gee jy in jou gebed uiting aan daardie verlange?  

Gemeente, iets van hierdie verlange kom ons ook teë in Jesaja 63 en 64, wat ons saam gelees het. Die profeet Jesaja het meer as 100 jaar voor die ballingskap geleef en geprofeteer. Maar in baie van sy profesieë, spesifiek die laaste aantal hoofstukke, neem hy die volk in gedagte saam na die tyd van die ballingskap. In hoofstukke 63 en 64 is dit ook die geval. Dus, hoewel hierdie hoofstukke lank voor die ballingskap uitgespreek is, plaas dit ons midde in die ballingskap, en moet ons onsself probeer inleef in die atmosfeer van die ballingskap – die gevoel by die volk dat hulle deur God verstoot is, die besef dat hulle nou tussen heidene moet lewe, dat hulle nie meer na God se huis toe kan gaan nie, dat die Beloofde Land hulle ontneem is. En, gemeente, dit is in hierdie konteks dat Jesaja vanaf hoofstuk 63:7 namens die volk ‘n gebed uitspreek, ‘n gebed van verlange. Kom ons leer vandag uit daardie gebed.

Tema: die volk in nood bid in verlange tot hulle God

  1. die volk kla oor God se omkeer
  2. die volk smeek vir God se terugkeer
  3. die volk pleit op God se eer

1. Jesaja – terwyl hy in sy gees in die ellende van die ballingskap sit – begin sy gebed met ‘n loflied op God se genadige dade in die verlede. Hy prys die goedertierenhede van die HERE, sy roemryke dade, sy veelvuldige goedheid, wat Hy aan Israel bewys het. En – in vers 8 en verder – begin Jesaja om hierdie genadige dade van die Here konkreet in te vul, hy wys wat dit konkreet behels het. Dit het konkreet behels dat die Here ‘n verbond met Israel gesluit het – uit alle ander volke het Hy húlle Vader geword, hulle het sý kinders geword. Die Here het ‘n intieme verhouding van vertroue tot stand gebring, ‘n verhouding van vertroue tussen ‘n Vader en sy kinders. En net soos wat God, van sy kant af, trou bly in die verbond, so het Hy dit van sy kinders ook verwag – nie in die sin dat Hy dit van sy kinders geëis het nie, maar meer in die sin dat Hy eenvoudig daarop gereken het; God wou nie daarmee rekening hou dat sy kinders ontrou sou kon word nie, dit het vir God na ‘n onmoontlikheid gelyk dat sy kinders ontrou sou word: “Hulle is tog my volk, kinders wat nie sal lieg nie…” (vers 8). God het dus, toe Hy Homself met hierdie volk geïdentifiseer het, slegs goeie reaksie van hulle kant af verwag… 

En, gemeente, dit wil voorkom asof dit in die eerste tyd ook so was. Vers 9 beskryf ‘n soort heerlike wittebrood in die verhouding van God met sy volk. God word vir sy volk ‘n Heiland, ‘n Verlosser, wat – so blyk uit die vervolg – sy volk uit Egipteland bevry het, wat hulle uit die slawehuis gered het. En ook nadat Hy hulle verlos het, was Hy trou aan hulle – dit dui waarskynlik op die tyd na die uittog uit Egipte. So nou was Hy met hierdie volk verbonde dat Hy in al hulle benoudheid ook benoud was. Soos wat ‘n vader ly wanneer sy kind seerkry, so het die Here as’t ware saam met sy volk gely. En verder het Hy hulle deur sy Engel verlos; sy liefde en medelye was die dryfveer vir Hom om hulle te verlos; Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd

Al die dae van die ou tyd – duidelik grens Jesaja met hierdie woorde die ou tyd af van die huidige tyd. Ja, in die ou tyd was dit so, toe was dit die wittebrood. In daardie tyd was God vrygewig bo enige verwagting, Hy het uitgereik om ‘n volk, wat geen waardigheid gehad het nie, te verlos, Hy het hulle persoonlik naby Hom gebring en hulle gelei na ‘n toekoms vol belofte. Maar die huidige tyd is anders… Die huidige tyd is anders omdat een van die partye nie trou was, soos wat ‘n mens kon verwag nie; die huidige tyd is anders omdat een van die partye wederstrewig geword het, omdat een van die partye gerebelleer het! God het verwag dat sy volk hulle soos die volk van die HERE sou gedra, maar die werklikheid het anders geblyk – hulle was wederstrewig en het die Heilige Gees van God bedroef.  

En, broers en susters, God laat dit nie toe nie, God laat nie toe dat sy volk soos ondankbare en geniepsige kinders kan optree soos wat hulle wil nie. Verwerp deur die wat Hy liefhet, het God daarom gereageer met die passie van iemand wat volledig aan die verhouding toegewy is: God het hulle vyand geword, God self het teen hulle gestry (vers 10). Die God wat eers hulle Heiland was, wat vír hulle gestry het, het nou hulle vyand geword. Hosea beskryf dieselfde in beeldende taal in hoofstuk 13 van sy profesie: “Tog was Ek, die HERE, jou God van Egipteland af, en buiten My het jy geen God geken nie, ja, behalwe My is daar geen Heiland nie. Ek het jou in die woestyn geken, in die land van droogtes. Ooreenkomstig hulle weiveld het hulle versadig geword; toe hulle versadig was, het hulle hart hoogmoedig geword; daarom het hulle My vergeet. Toe het Ek vir hulle soos ‘n leeu geword, soos ‘n luiperd lê Ek by die pad en loer. Ek val hulle aan soos ‘n beer wat van kleintjies beroof is, en Ek skeur hulle borskas oop; en soos ‘n leeuin verslind Ek hulle daar, die wilde diere van die veld sal hulle verskeur. Dit is jou verderf, o Israel, dat jy teen My, jou helper, is.”  

Gemeente, dit kan gebeur… Dit kan gebeur dat die Here teen ons draai! Die Here kan verander van Heiland tot vyand – juis omdat Hy so lief is vir sy volk, juis omdat Hy so ‘n jaloerse God is, juis omdat Hy hulle harte wil terugwen! As die Here nie so ‘n passie vir die verhouding met sy kinders gehad het nie, as die verhouding met elkeen van ons en met sy volk as geheel nie vir Hom dodelike erns was nie – ag, hoekom sou Hy Homself daaroor opgewerk het? Maar nou kan die Here nie aanvaar dat sy volk hulle teen Hom verset nie, Hy kan dit nie aanvaar dat hulle los van Hom verder lewe nie! Hy soek hulle terug, Hy wil hulle weer die lewe gee! En daarom word Hy hulle vyand, daarom gaan Hy oppad soos ‘n verskeurende leeu…

En die Here kry presies die reaksie wat Hy soek. Die volk in ballingskap begin weer dink oor hulle verhouding met die Here, hulle dink met heimwee terug aan die dae van die ou tyd. Kyk maar verse 11-14: hulle dink terug aan die tyd toe die Here sy volk deur die Skelfsee gelei het, toe Hy die waters voor hulle gekloof het, toe Hy hulle sonder struikeling deur die woestyn laat trek het, toe Hy hulle soos skape na die rustige weiveld van die beloofde Land gebring het. En dit alles ontlok by die volk die versugting: “Maar waar is Hy dan ?” “Waar is Hy wat hulle uit die see laat optrek het saam met die herder van sy kudde? Waar is Hy wat sy Heilige Gees in hulle midde gegee het?” Die volk kla in hulle nood oor God se omkeer – van Heiland tot vyand…  

Is dit ‘n ongelowige klag? ‘n Klag uit hoogmoed? Nee, gemeente, dit is ‘n klag in die besef dat ons sonder hierdie God nie kán lewe nie. Skielik besef die volk dat daar vir hulle, sonder hierdie God, géén heil is nie: “Waar is Hy? – ons het Hom nodig!”

Broers en susters, op die erf van die verbond is daar ruimte vir sodanige klag; let wel, geen aanklag nie, maar ‘n klag, ‘n roep uit nood, ‘n roep uit die diepte van ons sonde, ‘n roep tot die God van ons heil. Wanneer die Here Hom as gevolg van ons afval teen ons keer – omdat Hy ons wil behou! – laat ons nie in onverskilligheid nog verder van Hom wegloop nie. So dikwels sien ons dit: mense wat sê: “Ag, dit gaan met my geloof nie so goed nie, ek lewe nie so naby die Here nie” – en dan gaan hulle ook maar nie meer kerktoe nie, dan hou ook maar op met bid want … dit gaan al klaar maar sleg. Nee, gemeente, wanneer ons besef dat die Here Hom teen ons gedraai het, of besig is om Hom teen ons te draai – dan het juis nodig om kerktoe te kom, dan het ons juis nodig om Hom in gebed aan te roep. Roep na Hom, kla by Hom, spreek Hom aan op sy beloftes: “Here, sonder U kán ons nie staande bly nie, sonder U is ons nie by magte om die verhouding in stand te hou nie. Moet Uself daarom nie verberg nie. Waar is U, HERE?”

Vervolgens let ons daarop dat die volk smeek vir God se terugkeer. 

2. In hoofstuk 63:15 rig Jesaja hom tot die Here in die hemel. Sien u, gemeente, die sonde het skeiding gemaak tussen die Here en sy volk, en gevolglik het die Here na sy woonplek in die hemel teruggekeer. Eintlik was daar nie meer ‘n woonplek op aarde by sy volk nie – die woonplek wat daar was, die tempel, is vernietig; Jesaja sê dit self in vers 18: “… ons teëstanders het u heiligdom vertrap”. En ons weet dit ook vanuit die geskiedenis – die Babiloniërs het die tempel van die Here verwoes vanweë die sonde en afval en gruweldade van die volk (kyk maar na 2 Kronieke 36:11-21). Die Here het daarvoor gesorg dat sy woonplek onder sy volk verwoes is, Hy het sy woonplek oorgegee in die hande van Nebukadnesar, Hy wou nie meer by sy volk woon nie – en daarom het Hy teruggekeer na sy woonplek in die hemel. Die Here sê dit ook letterlik so in Hosea 5:15: “Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle My soek.” Die Here verwyder Homself dus van sy volk, daar het afstand gekom, met die gevolg dat sy teenwoordigheid ook nie meer sigbaar is nie. Jesaja vra daarom ook namens die volk: “Waar is u ywer en u magtige dade? Waar is die ontroering van u hart en die barmhartigheid teenoor u volk?”  

En gemeente, nou gebeur inderdaad wat die Here in Hosea 5:15 gesê het: “In hulle nood sal hulle My soek.” Jesaja, in die gees verplaas na die ballingskap in Babilonië, verwoord die nood van die volk. Nie net hulle fisiese nood nie, nie slegs hulle verwydering van Jerusalem en die tempel nie. Nee, hulle geestelike nood, hulle verwydering van God af! – dit is as gevolg van God se afwesigheid dat die volk weggedwaal het van sy weë, dit is as gevolg van God se afwesigheid dat die volk hulle harte verhard het, dit is as gevolg van sy afwesigheid dat hulle Hom nie meer vrees nie (lees vers 17).

Natuurlik, dit is nie die Here se skuld nie, maar wat die digter hier doen is om deur middel van ekstreme uitsprake te erken dat hulle dit sonder die Here nie kan doen nie. Sonder die Here kan hulle nie op sy weë bly nie, kan hulle nie hul harte aan Hom toewy nie, kan hulle Hom nie reg vrees nie. Ons het u nodig, Here. Keer daarom terug! – dit is wat die digter hier ten slotte uitroep. Keer terug, ter wille van u volk – ja, heeltemal reg, daar is geen woonplek meer nie, dit is verwoes; ja, heeltemal reg, ons het geword soos al die ander volke en ons bevoorregte posisie verloor; ja, heeltemal reg, U het ons verlaat en teruggekeer na u woonplek in die hemel. Maar nogtans Here, keer terug! Laat asseblief die skeiding opgeheg word; en let dan op die emosionele wens in 64:1: skeur die hemele oop en daal neer!  

Gemeente, in geweldige emosionele bewoording bid Jesaja hier namens die volk dat die Here sal terugkeer van sy omkeer, dat Hy weer van vyand Heiland sal word. Hierdie is die gebed van iemand wat tot in sy diepste wese verstaan dat die volk van die Here sonder sy teenwoordigheid nie kán bestaan nie. Hulle volksbestaan beteken niks sonder die Here nie; selfs Abraham en Jakob wil niks van hulle weet nie (kyk maar vers 16). Maar Here, Vader, as U maar net wou neerdaal (64:3)! Hier bid iemand in volle verwagting op die koms van die Heiland!

En, broers en susters, God hét die hemele geskeur en neergedaal – miskien nie letterlik soos wat Jesaja dit in simboliese taal beskryf het nie, miskien nie in die magsvertoon van hierdie wêreld nie. Maar Hy het neergedaal in die stal in Betlehem. Daar het God ‘n begin gemaak om die tentdoeke van die hemel oop te skeur. En op dié dag toe Jesus gedoop is in die Jordaan, toe het God daarmee voortgegaan – ons lees daarvan in Markus 1:10: “En dadelik toe Hy opgeklim het uit die water, sien Hy die hemel skeur en die Gees soos ‘n duif op Hom neerdaal.” En die hemele is heeltemal oopgeskeur met Christus se kruisiging – toe het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder geskeur en het die hemel vir ons oopgegaan.  

God het neergedaal in die Persoon en werk van ons Here Jesus Christus! En sy neerdaling tussen die mense het dieselfde onweerstaanbare krag as waarvan Jesaja in hoofstuk 64:2 en 3 praat. Jesaja beskryf daar God se koms as vuur wat die hout onvermydelik aan die brand steek en die water onvermydelik laat kook en borrel. Dít is die krag wat met sy koms gepaard gaan. Daardie selfde krag, gemeente, sien ons in die koms van ons Here Jesus. Sy koms het ‘n onvermydelike uitwerking – hetsy geloof, hetsy ongeloof. Geen persoon staan neutraal teenoor God wat uit die hemel neergedaal het nie; geen persoon word koud gelaat deur die evangelie nie. Nee, Jesus Christus is ‘n krag wat óf lei tot geloof, en dan gaan die hemel vir jou oop en straal die vriendelike aangesig van God op jou, óf dit lei tot ongeloof, en dan gaan die hemel oop en staan jy voor die Regter van hemel en aarde.

Broers en susters, laat hierdie gebed van Jesaja namens die volk in ballingskap ons asseblief deurdring van die besef dat ons sonder God nie kan lewe nie. Jou rykdom, jou werk, jou familie, jou huwelik – dit is alles sinneloos as die hemel vir jou toe bly! As God se vriendelike aangesig nie oor jou skyn nie, dan kan jy die wêreld besit, maar jou siel het jy verloor… Laat ons daarom God se neerdaling na hierdie aarde in geloof omhels, laat ons Kersfees vier as God se verhoring van Jesaja se gebed, laat ons Jesus Christus in geloof omhels – Hy is God se krag in hierdie wêreld. ‘n Onweerstaanbare krag – tot verderf vir dié wat nie glo nie, maar tot redding vir elkeen wat in geloof sê: Daal neer, Here!

Ons let ten slotte daarop dat die volk pleit op God se eer. 

3. Hoofstuk 64:5-7 is een groot skuldbelydenis. Jesaja erken dat die volk in ‘n toestand van sonde verkeer – en nie sommer kort nie; nee, “in dié toestand was ons baie lank”. En dit laat die vraag by Jesaja ontstaan: sal ons nog hieruit verlos word? Hy beskryf in vers 6 hierdie sonde-toestand in beeldende taal: almal het geword soos ‘n onreine, al ons ongeregtighede soos ‘n besoedelde kleed, ons het almal verdor soos blare. In hierdie toestand was daar niemand wat die Naam van die Here aangeroep het nie. Jesaja draai geen doekies om oor die sondigheid van die volk nie, hy draai nie doekies om oor die feit dat hulle sondigheid die oorsaak van alle ellende is nie, dat deur hulle sondigheid die heilige stede van die Here, Sion en Jerusalem, ‘n woestyn geword het, dat deur hulle sondigheid die tempel met vuur verbrand is en ‘n puinhoop geword het nie. Nee, dit bely Jesaja openlik namens die volk.  

Maar nogtans, ten spyte hiervan, vind Jesaja tog grond om die Here te kan oproep. Kyk vers 8: “Maar nou, HERE, U is ons Vader…” En as Vader is God ook die Maker van Israel, die Pottebakker wat die klei formeer. As kinders van hierdie Vader, as maaksels van hierdie Formeerder, mag die volk tog verwag dat die Here Hom die lot van sy volk sal aantrek? En daarom ook die woorde aan die einde van vers 9: “… aanskou dit tog dat ons almal u volk is.”

Jesaja beroep hom dus op die verbondsverhouding waarin die volk met die Here staan; meer nog: hy beroep hom op die eer van die Here. Dit is immers die eer van die Here dat Hy sy volk gemaak het – al die omringende nasies het daarvan gepraat, het gepraat oor die God van Israel; dit is sy eer dat Hy vir hulle ‘n Vader is, dit is sy eer dat Hy ook sodanig met hulle omgaan. Maar as Hy Homself in hierdie haglike situasie van die volk sou bedwing, as Hy sou swyg en toelaat dat hulle verdruk word, sou dit nie sy eer te na wees nie?

Die volk pleit hier in Jesaja 64 op dieselfde grond as waarop Moses gepleit het net ná die geskiedenis met die goue kalf. Toe wou die Here sy volk vernietig, Hy wou slegs met Moses voortgaan. En toe het Moses Hom herinner aan sy eer: “Waarom sou die Egiptenaars spreek en sê: In kwaadwilligheid het Hy hulle uitgelei om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af te vernietig?” En: “Gedenk aan Abraham, Isak en Israel, u knegte, vir U by Uself gesweer en aan wie U gesê het: Ek sal julle nageslag vermenigvuldig soos die sterre van die hemel, en hierdie hele land waarvan Ek gespreek het, sal Ek aan julle nageslag gee, dat hulle dit vir ewig kan beërwe” (Exodus 32;12-13). Sien u, dit is die eer van die Here dat Hy gevrees word onder die nasies, dit is die eer van die Here dat Hy sy beloftes nakom. En daarop beroep die volk in die ballingskap hulle dan ook. Wil die Here toelaat dat hulle in die heidense land moet vergaan? Wil Hy toelaat dat die nasies Hom spot as die klein ou godjie van Israel wat deur Nebukadnesar verslaan is. Soos Jesaja in 64:12 sê: “HERE, sal U by hierdie dinge U bedwing? Sal U swyg en ons uitermate verdruk? Tog nie!? 

En daarom het die volk pleitgrond – nie in hulleself nie; immers, hulle sonde is groot. Maar hulle vind pleitgrond by die Here in die Here self! En dit, gemeente, het ons vandag nog. Die Here verskaf self die pleitgrond waarop ons gebede seker is. Jesus Christus – Hy is ons pleitgrond. Ons bid tog: om Christus ontwil? Ja? Dan bid ons mos op God se eer, dan bid ons dat Hy sal optree vir ons, dat Hy ons sondes sal vergewe, dat Hy ons sal versorg, dat Hy ons Vader sal wees – nie omdat ons dit verdien nie – maar op grond van sy eer in Christus Jesus.

Bid daarom, broers en susters, spreek u verlange na die Here uit, sê vir Hom dat ons na Hom verlang, nie as ons vyand nie, maar as ons Heiland. As u voel hoe die sondes daagliks trek, hoe die verleidings u van die Here wil weglok, hoe die gebrokenheid van die lewe diep spore laat, kyk dan na die toekoms en smeek God dat Hy sal terugkeer. Laat die wonder van Kersfees ons verlang na die heerlikheid van die wederkoms. Ag, Here, skeur die hemel en daal neer!

Amen

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 144:2, 5 en 6
Gebed
Lees: Jesaja 63:7-64:12
Sing Ps. 78:13, 14, 19 en 20
Teks: Jesaja 63:11, 64:1, 12
Preek
Amenlied Ps. 18:3, 5 en 15
Gebed
Belydenis van geloof
Antwoord met Ps. 34:4 en 6
Kollekte
Slotsang Skr. 8:1, 2
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)