Die HERE antwoord die gebed van dié wat tot Hom roep

Predikant: 
Ds E Viljoen
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-04-20
Teks: 
I Samuel 1
Preek Inhoud: 

1 Samuel 1:10-11

Ds E Viljoen - Sondag 20 April 2003

Lees: 1 Samuel 1
Sing: Sien liturgie

Tema: Die HERE antwoord die gebed van
dié wat tot Hom roep
        1. Hanna se ellende
        2. Hanna se gebed
        3. Die antwoord wat sy ontvang het

Geliefde gemeente van ons HERE Jesus
Christus.

In 1 Samuel hoofstuk 1 ontmoet ons ‘n
gesin.  ’n Gesin wat in die tyd van die Rigters deel was van die volk van die
HERE.  ’n Gesin wat vir ons eintlik heeltemal herkenbaar behoort te wees. ’n
Gesin wat, ons sal kan sê, gereeld kerk toe gegaan het. ’n Heel getroue gesin. 
Maar tegelyk ook ‘n gesin aan wie die gewone ellende van die daaglikse lewe nie
verby gegaan het nie.

Daar was kinderloosheid, met al die
gepaardgaande hartseer, verwyte, vrae, twyfel, worstelinge.  Daar was ook twis
in daardie gesin.  Vir ons herkenbaar waarskynlik.  Daar was ook in ‘n mate
onbegrip van die man vir die werklike diepte van die nood van ten minste sy een
vrou.

Dit is ook ’n huweliksituasie waarin alles
duidelik nie net maanskyn en rose was nie.  En ’n man wat ook nie merkbaar
geestelike leiding in die huis gaan neem dan nie.

Tegelyk was dit ’n gesin wat lidmate was
van ‘n gemeente, as ons dit in Nuwe Testamentiese terme kan sê, lidmate van ’n
gemeente waar dit ook weer nie so geod gegaan het nie.  Elkeen het in daardie
gemeente - die volk van de HERE - gedoen wat hy of sy goed vind in eie oë.  Dit
was ’n gemeente in die tyd van die Rigters.  Dit was ’n gemeente waar die
koningskap van Christus, waar die koningskap van die HERE, nie sigbaar erken was
nie. 

En te midde van al hierdie geharwar in die
lewe van die gesin en die gemeente, ontmoet ons ‘n vrou. Die vrou van ‘n sekere
man, Elkana.  Sy was een van twee.  Die ander een se naam was Peninna. 
Laasgenoemde was geen maklike persoon om mee saam te leef nie.  Sy het seuns en
dogters gehad, en Hanna geen. 

Hanna was ‘n vrou wat baie ellende in haar
lewe geken het.  Maar Hanna was ‘n vrou wat gebid het.  Wat in geloof haar
ellende voor die HERE uitgestort het. En die HERE het in antwoord op haar gebed,
sy verlossing, sy genade weer sigbaar gemaak in haar lewe, in die eerste plek;
in die lewe van hulle gesin, maar uiteindelik ook in die lewe van die gemeente
van die HERE van daardie tyd.  In die lewe van die volk Israel het daar weer ’n
sigbare koningskap van die HERE gekom. 

Die tema van die preek vanoggend is:
Die HERE antwoord die gebed van dié wat tot Hom roep
           
1. Hanna se ellende
            2. Hanna se
gebed
            3. Die
antwoord wat sy ontvang het

1.  Laat ons eers kyk na wat was werklik
die ellende wat sy dan ook voor die HERE bely, waarvan ons lees in vers 10 en
11.

Broeders en susters, ons leef vandag elkeen
in ’n eie omstandigheid. As man, vrou, jongmens in die gemeente, of ’n kind.  En
u leef hierdie lewe persoonlik, as deel van ’n gesin, as deel van die gemeente. 
En die gemeente gaan staan ook weer te midde van die landspolitiek, en staan reg
in die middel van alles wat gebeur in die groot wêreld rondom ons.  En dit is
omstandighede waarin daar dikwels baie gebrokenheid is.  Waar daar baie
tekortkominge is.  Waar daar baie sonde is.  En die vraag waarmee ons dikwels
worstel is: Wat kan ek daaraan doen?  Kan daar werklik iets aan verander word? 
Kan daar aan my situasie - persoonlik, my lewe in die gesin, my lewe in die
gemeente – kan daar iets verander word?  Wat kan ek en wat behoort ek te doen om
dit te verander?  Of is ek maar ’n magtelose toeskouer van alles wat met my
gebeur en rondom my gebeur?  Is ons nie maar net toeskouers wat niks kan
beïnvloed nie.  Is ons dalk in ‘n slegter situasie as wat Hanna was?

Laat ons bietjie kyk na Hanna se situasie
in 1 Samuel hoofstuk 1. 

Ons het reeds in die begin nou iets gehoor
van haar persoonlike en haar gesinsituasie.  Sy is wel deel van ’n meelewende
gesin in die gemeente.  Ons hoor hoe hulle getrou jaarliks, jaar na jaar, uit
hulle stad Rama gegaan het na Silo, waar hulle dan die HERE aanbid het en offers
gebring het.  Hulle het almal saam keurig opgegaan, as gesin.  Vader, moeder,
kinders, almal - oud tot jonk.  Maar daarmee hou so ongeveer die positiewe op
wat oor hierdie gesin gesê kan word.  Daarna hoor ons eintlik maar ’n klomp
ellende. 

Hanna, een van die vroue, was kinderloos.
 En dit terwyl sy moes meeding vir haar man se liefde met Peninna wat seuns en
dogters gehad het.  Ons lees daar in die meervoud: sy moes ten minste 2 seuns en
ten minste 2 dogters gehad het.  Op daardie stadium reeds.  En hierdie tweede
vrou van Elkana was bepaald geen aanwins vir die vrede in die huis nie.  Terwyl
Elkana nog vir Hanna probeer troos met die geskenke wat hy vir haar gee, van die
offervleis telkens as hulle daar in Silo kom, het Peninna haar wreed gespot oor
haar kinderloosheid.  Haar behoorlik getreiter en die lewe vir haar onaangenaam
gemaak.  En dit juis soveel te meer wanneer hulle saamgekom het om die HERE te
aanbid! 

Sal ons dit vandag sê: oppad na die
erediens toe, dan is daar in die motor ‘n bakleiery nog onderling.  Die een
treiter nog die ander een; die een maak dit nog moeilik vir die ander een om te
lewe en in blydskap as kind van die HERE na die erediens te gaan en te gaan
lewe. 

Haar swakheid word gedurig onderstreep en
dit ontneem haar al die vreugde in die lewe.  Sy word maar gedurig weer daaraan
herinner – jong, eintlik het jy geen toekoms nie, want jy het geen kinders nie. 

Dit was die ellende in die huisgesin.  Maar
nog belangriker is die vraag hoe dit met die volk van die HERE op daardie
stadium gegaan het. Want as alles in ’n mens se persoonlike lewe eintlik
skeefloop en as dinge in die gesinslewe begin verbrokkel, begin uitmekaar uit
val; wat ‘n heerlike toevlug as jy dan nog na die gemeente kan kom, na die volk
van die HERE, en daar is alles stabiel.  Daar het jy iets aan.  As jy in die
kerk kom en die Woord word ryklik aan jou verkondig; jy kry gereeld ouderling-
en diakenbesoek; jy word bemoedig, jy word as ’t ware op die hande gedra; jy
word meegeneem deur broeders en susters in die gemeente.  Wat ‘n geweldige
uitkoms en ondersteuning in jou lewe!

Dikwels is die lewe in die gemeente ons
laaste behoud.

Maar het Hanna enige steun van die gemeente
gekry?  Broeders en susters, dit is geen oordrywing as ons sê dat dit chaoties
gegaan het in die lewe van die volk van die HERE nie.  Die volk het nié in
afhanklikheid van die HERE geleef nie.  Daar was ‘n noodsituasie in die kerk,
sal ons maar kan sê.  Dit was die tyd van die Rigters.  Nou wat was so
kenmerkend van hierdie tyd van die Rigters?  Ek lees vir u die woorde waarmee
die Rigter-boek dan afsluit - Rigters 21:25 - en dit is die boek waarop dan ook
Samuel volg.  In dié dae [dit was die dae van die Rigters] was daar
geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.  Dit was
‘n geharwar in die lewe van die volk van die HERE.  Geen eenheid nie, en elkeen
doen maar wat hy goedvind.  Geen begeerte om te vra na wat wil die HERE hê moet
ek doen nie. 

Die hele boek Rigters is dan ook ‘n roep om
die koms van die koning van die HERE.  En daarop sal die boek Samuel – eintlik
is 1 en 2 Samuel een boek, dit is maar later deur die Griekse vertalers van die
Septuagint in 2 boeke gedeel, maar dit is eintlik 1 boek - hierdie boek Samuel
is ‘n antwoord op hierdie roep van die Rigters.  Waar is die koning wat oor ons
sal regeer?  Wat God se heerskappy oor ons weer duidelik sal maak?

Deur die hele geskiedenis in die boek
Rigters gaan daar ’n ontwikkeling deur van kwaad tot erger.  Die volk kom in
nood; ‘n klein deel van die volk roep in hulle nood tot die HERE; die HERE gee
weer uitkoms in antwoord op hulle gebed.  Maar dis asof die hele gees in die
gemeente maar daardie groepie mense oorweldig, en dan is daar weer totale afval
in die gemeente.  Dis asof die gees wêrelds is.  Niks te sien van die koningskap
van God nie.

En dit alles in die boek Rigters, kort
nadat die HERE hulle gaan red het uit Egipte, uit die slawerny.  Deur die
woestyn het Hy hulle gelei; soos ’n Vader sy seun gedra; Hy het daar as
bruidegom sy bruid in die woestyn ontmoet, by die berg Sinaï tot by haar gekom;
sy Woord, sy wet aan hulle gegee op kliptafels met sy eie vinger geskryf – God
se liefdesbrief vir sy gemeente – heel letterlik met sy eie vinger geskryf. 
Maar van dit alles het hulle lankal vergeet.  Vergeet op watter wonderlike
manier die HERE hulle in die beloofde land ingelei het.  Hoe die mure van Jerigo
geval het, sonder dat hulle ‘n vinger verroer het.  Hoe hulle eenvoudig die land
wat oorloop van melk en heuning kon instap en kon gaan lewe van wat die HERE vir
hulle gee. 

En van al hulle skandes kan ons lees in die
geskiedenis van Debora, Barak, Gideon, Jefta, Simson.  Chaos in die kerk. 
Puinhoop.  En juis in dié tyd gaan Elkana met sy 2 vroue na Silo om te offer. 
En om te laat sien hoe erg dit gegaan het, ook nog in dié tyd, selfs met die
priesters hoor ons dan ook – heel aan die begin van die boek Samuel – van Eli se
seuns Hofni en Pinehas.  Hulle was priesters daar in Silo.  En dit was berugte
kêrels.  Dit was nie priesters wat eer gebring het oor die volk van die HERE en
oor die Naam van die HERE nie.  Ons lees in 1 Samuel 2 van alles wat hulle
gedoen het.  Deur hulle optrede het hulle eenvoudig die aanbidding van die HERE
belaglik gemaak.  Daarvan ‘n sirkus gemaak.  In so ’n mate dat die volk van die
HERE gedink het dit is belaglik as jy nog kerk toe gaan.  Wie wil kerk toe gaan
as dit in die kerk so ‘n sirkus is?  Die vroue word getreiter; daar word van die
gawes wat gebring word na die tabernakel gesteel deur Hofni en Pinehas.  Hulle
wat hulle vurke daar in die vleis insteek en die beste porsies vir hulleself
neem. 

En hulle vader, Eli, kom ook nie sy
verantwoordelikheid na nie.  Hy neem geen drastiese maatreëls om hulle tot orde
te bring en te roep nie.  En só werk Eli mee aan die geestelike agteruitgang. 
Eli het ook nie die nood van Hanna herken wanneer sy daar kom bid terwyl hy by
die ingang staan van die tent van samekoms nie.  Haar dringende gebed om nood,
haar geestelike nood wat sy uitstort voor die HERE in gebed.  Dit herken hy nie
eers meer nie.  Hy dink hierdie vrou is dronk.  Kennelik was sulke ernstige
gebed tot die HERE, vir hom nie meer herkenbaar nie.  Hy het dit self nie geken
nie.  Onherkenbaar, dat iemand só voor die HERE kan wees – dringend in gebed. 

Werklik, gemeente, ‘n hopelose situasie. 
Van die heerskappy van die HERE byna niks sigbaar nie.  Kerk en volk vervalle.

En so kan dit gaan.  In die kerk van
Christus ook.  Verbonds-ouers en –kinders wat deel is van die gemeente, wat
Christus met sy kosbare bloed gekoop het, maar heel ligsinnig omgaan met wat die
HERE vir ons alles in die gemeente gee.  Dalk heel ligsinnig omgaan met die
rykdom wat ons vanoggend ook weer hier by die doopvont gesien het.  Nie werklik
erns maak met ons beloftes om ons kinders te leer en te onderrig as ons sit en
as ons opstaan, as ons op die pad is, of waar ons ook al is – vir ons kinders
vertel wat die beteken, wat die rykdom is daarvan om ’n kind van die HERE te
wees nie.

Ligsinnig gaan die jeug na die vereniging,
na die katkisasie, na die erediens.  Totaal slordig in ’n Christelike
lewensstyl.  Dit kan wees dat ons nie meer weet hoe om uitdrukking te gee aan
die Koningsregte wat Christus op sy gemeente het nie.  Dit kan wees dat
ampsdraers nie eers meer goeie geestelike leiding kan gee.  Nie eers meer die
nood kan herken – die geestelike nood van ’n lidmaat soos Hanna nie – wat dink
die vrou is dronk, terwyl sy  in nood is en roep: Asseblief, gee vir my leiding
om die HERE weer te kan dien en in sy vreugde te kan lewe.  Maar die ampsdraer
Eli is blind daarvoor.  Dalk moet hierdie vrou eerder onder tug kom, dat ons van
haar ontslae raak.

Broeders en susters, in hierdie spieël moet
ons as gemeente vandag gaan kyk.  En dan heel eerlik vra: Hoe lyk óns vandag? 
En dan nie na dié of na daardie kyk nie.  Nie na daardie tydperk in die
geskiedenis van die gemeente, of hoe sal dit dalk in die toekoms wees nie.  Maar
waar staan óns vandag?  Leef ons nie ook eiesinnig en eiewys nie?  Doen ons nie
dalk ook wat reg is maar net in ons eie oë nie?  Ons sal besluit wat in
ons lewe gebeur.  Wie gaan vir my sê wat ek moet doen?  Ja, ons gaan gereeld
kerk toe, gereeld!  Ons trek mooi op – pa, ma, kinders.  Ons sit gereeld in die
kerk, ons is gereeld by die vereniging en die katkisasie.  Alles lyk mooi in
orde. 

Maar kom daar werklik uitdrukking in ons
lewe van die aansprake van die Koningskap van God oor ons lewe?  Hy wat op ons
en ons kinders beslag kom lê, ons vir Hom wil hê, wat vir ons en ons kinders kom
sê: Jy behoort aan my, Ek sal jou God wees en jy sal My volk wees.  Kry dit
gestalte in die manier hoe ons leef in die gesin?  Of treiter ons mekaar?  Maak
ons die lewe vir mekaar byna onleefbaar? 

Die tyd van die Rigters het geroep om
bekering.  En dit het geroep om ‘n Verlosser wat weer moes kom heers oor die
volk van die HERE.  Dit was ’n vraag na die heerskappy van die HERE.  Dit was ‘n
vraag na die koms van die koning van die HERE.  HERE, laat U koninkryk kom. 

In die lig daarvan, broeders en susters,
moet ook ons lewens getoets word. 

Dit was die ellende van Hanna waarna ons
heel eerlik moet kyk. Ook vanuit ons situasie.  Maar was Hanna magteloos?  Kon
Hanna niks doen nie?

Ons kyk in die 2de plek nou na Hanna se
gebed.

2.  In sulke omstandighede in ’n huisgesin;
jou persoonlike lewe; in die gemeente, kan dit vir die wat werklik gebroke leef
voor die HERE heel moeilik word.  Wat het Hanna gedoen? ‘n Vrou, kinderloos,
magteloos... op die oog af het sy geen seggenskap in die lewe van die gemeente
nie.  Wat is nou eintlik mevrou Hanna se bydrae?  Wat doen sy nou eintlik in die
gemeente?  Wat kan sy doen? 

Weet u wat doen sy?  Sy gaan met haar
ellende na die HERE toe.  Hanna bid.  En dis die tema van die hele boek Samuel. 
Dis ’n boek wat handel oor gebed – dit begin met Hanna se gebed en dit sluit af
met die gebed van Dawid.  Dis ’n boek van gebed – in die hele boek Samuel lees
ons die hele tyd van die gebede wat opgestyg het tot die HERE.  En Hanna word
heel aan die begin daarvan geplaas. 

Wanneer dit só gaan onder die volk van die
HERE dan is die oproep tot die lidmaat:  bring jou ellende na die HERE
toe.  Jou gesinsomstandighede.  Jou lewe.  Met al sy geharwar.  Met al sy nood
en ellende.  Bring jy dit na die HERE toe.  En dit doen Hanna dan ook.

Sy gaan stort haar siel uit (vers 15) voor
die aangesig van die HERE.  Hanna doen dus wat ons daarna, dwarsdeur die hele
boek Samuel nog telkens weer sal sien.  Sy bid.  Sy doen dit op grond van die
HERE se genade.  Want hulle het opgegaan na Silo.  Jaar na jaar.  Nou wat was so
besonder aan Silo?  Daar was die tabernakel.  Daar was die altaar van
versoening.  Daar was die verbondsark.  Die aangesig van die HERE was daar te
vinde.  Daar was die verbondsark waarop die verbondswoorde, die liefdesbrief van
die HERE aan sy volk, geskryf was.  Waar die HERE verklaar: Ek wil jou God wees,
jy moet my volk wees.

Hanna se gebed en haar omstandigheid is dan
ook heel besonder.  Kennelik het meerdere mense gaan offer en aanbid.  Daarvan
lees ons ook in die volgende hoofstuk.  Die volk kom maar nog gedurig.  Maar
hoeveel was daar wat werklik gebid het om hulle stem in die hemel te laat hoor? 
Hoeveel was daar wat werklik hulle hart uitgestort het voor die HERE?  Hoeveel
van die gebede van daardie tyd was nie maar vertoon, gewoonte, deel van die
roetine nie?

Maar Hanna was opreg bedroef.  Sy het
bitterlik gehuil lees ons in vers 10.  En sy het haar nood na die HERE gebring. 
Gewoon haar nood.  Heel persoonlik.  Sy bring haar persoonlike nood voor die
HERE. 

Broeders en susters, só moet gebid word. 
In opregtheid.  Vir my eie gesin, met my eie nood en gebreke en tekortkomings en
sonde.  Gewoon die getroue gebed: elkeen in sy persoonlike lewe, vir die
persoonlike omstandighede, met die persoonlike lewe in die gesin in die kerk. 
Bid vir mý met mý plek in die midde van die gemeente van Christus.

En dit het niks, broeders en susters, te
doen met selfgesentreerdheid nie.  Hanna bid vir eie nood.  Sy bid: HERE, mag ek
’n seun van u ontvang.  Dis haar nood.  Dit bring sy na die HERE.  En ons moenie
onmiddellik groot spronge maak en sê maar sy bid om die koms van die Christus
nie.  Ja, dit is ook waar, maar dit is nie waaroor dit in die eerste plek gaan
nie.  In die eerste plek gaan dit oor háár nood.  Sy is kinderloos.  Maar nie
selfgesentreerd nie.  Sy doen haar gebed kennelik in verbondenheid met die volk
van die HERE.  Want daar staan: sy bid voor die aangesig van die HERE.  Dit was
daar in die heiligdom van die HERE.  Daar waar die HERE by die verbondsark
getroon het onder die volk.  Daar waar die troon van die HERE was by sy volk –
dáár kom sy na toe.  As ’n lidmaat van die kerk.  Sy kom bid as lidmaat van die
gemeente.  Sy erken die koningskap van die HERE oor sy volk in ‘n tyd wat elkeen
gedoen het wat hy en sy wou.

Sy kom na die troon van die HERE en sê:
HERE, U is Koning.  En dit wil ek kom bely.  En HERE wil U u koningskap in my
lewe, met my nood, weer sigbaar maak.  Met my huwelik, puinhoop soos wat dit
is.  Met ons gesinsomstandighede – wat lyk soos wat dit lyk.  Met my lewe, wat
lyk soos wat dit lyk.  Kom ek as lidmaat van die gemeente.

Dan roep sy ook die HERE aan as die HERE
van die leërskare, in ons teksvers, vers 11.  Ons sien dit ook in vers 3 waar
die HERE genoem word: die HERE Sebaot.  Die eerste keer in die hele Ou Testament
dat God só aangeroep word.  Die HERE, Sebaot.  Wat beteken Sebaot? Dis die HERE
wat sy koninklike mag ten toon stel.  Die HERE wat die magtige, koninklike
Kryger is, tot redding van sy volk.  Die HERE wat as Koning Verlosser is van sy
gemeente. 

Sy kom na híérdie God toe.  En sy maak haar
ellende bekend.  En sy doen ‘n gelofte.  Ja, in ’n tyd wat mense nie meer die
HERE ernstig opneem nie; in ’n tyd in die lewe van die gemeente wat mense nie
eers meer daaraan dink dat hulle lewens aan God gewy moet wees nie - kom hierdie
vrou en sy wy haar lewe aan die HERE.  Sy beloof om die eersgebore seun uit die
moederskoot te heilig aan die HERE.  En dit was tog die reël.  Dit was wat die
HERE gesê het in Exodus 13.  Die reël, die wet van die eersgeborenes – dat die
eersgebore seun wat uit die moederskoot sal kom – dié moet aan My gewy wees,
want julle is my volk!  En wat gebeur?  Hanna erken presies dit.  Sy sê: hierdie
kind.  En dan doen sy ’n heel uitsonderlike belofte.  Hy sal met sy héle lewe
aan die HERE gewy wees.  Hy sal selfs diens doen daar in die tabernakel.  Ja,
hulle kom ook uit die Levitiese stam.  Dit sien ons ook later.  Ja, hy is ’n
Leviet.  Maar selfs die Leviet was nie die hele tyd daar in die tabernakel nie. 
Maar hierdie seun Samuel, hy sál daar wees.  Te midde van ‘n volk, wat nie meer
hulle lewe wy aan die HERE nie, kom Hanna en erken God se reg op haar en haar
gesin se lewe. 

Tot 3 maal toe noem sy in haar gebed wat
ons lees in vers 11: diensmaagd van die HERE.  Sy gaan neem haar plek weer in
soos wat dit moet wees.  Dienskneg.  Nie ek, koning, wat sal besluit nie!  HERE,
hoor die gebed van u diensmaagd.  Tot 3 keer toe.  HERE, Sebaot, HERE die groot
Koning, ek is U diensmaagd.  En dit terwyl dit maar heel sleg gaan in die
gemeente.  HERE, U is die Koning wat reg het op my lewe.  U is die Een wat reg
het op alles.  Op my, én my kinders, het U reg. 

Hanna bid: laat U koninkryk kom.  Dis heel
konkreet waarvoor sy bid, broers en susters.  Geen selfgesentreerde gebed nie! 
Ja, heel persoonlik, uit haar nood uit.  En so het u elkeen u eie nood van
waaruit u moet bid.  U weet wat u krisis is.  Bring dit na die HERE.  Maar in
erkenning van Sy koningskap.

Met ons nood, met ons vrees, met ons sonde,
gaan neem ons ons plek in te midde van die gemeente van Christus.  Dan bid ons
saam met Hanna, laat U koningskap sigbaar word in die lewe van die gemeente,
HERE.  Sy wil dat sy ’n kind van die HERE ontvang sodat hierdie kind ook
uiteindelik ‘n taak mag hê om die Koningskap van die HERE sigbaar te laat word. 
Dit wil sy doen deur haar kind totaal en al aan die HERE te wy.  Dit was haar
gebed.

En dan nou in die derde plek: hoe lyk die
verhoring van haar gebed.

3.  Ons lees in vers 19: die HERE het aan
haar gedink.  Die HERE het aan hierdie ellendige vrou gedink.  En in antwoord op
haar gebed, gee die HERE dat Sy koningskap weer sigbaar word oor sy gemeente. 
In ’n tyd waar elkeen sy eie koers kies, wat elkeen doen net wat hy wil.  In
antwoord op daardie vrou se gebed laat die HERE sy koningskap weer sien.  Want
Hanna se gebed loop uit in die gebed van haar seun Samuel vir die volk van die
HERE.

Ek lees vir u weer die laaste 2 verse van
hoofstuk 1.

Om hierdie seun het ek gebid en die HERE
het my bede aan my gegee wat ek van Hom gebid het.  So staan ek hom dan ook af
aan die HERE, al die dae wat hy leef.  Hy is aan die HERE afgestaan. 

En dan lees ons wat doen Samuel: en hy het
die HERE daar aanbid.  Ons kan dit beter vertaal: Samuel het daar tot die HERE
gebid.  En dit sou Samuel se lewenstaak word. 

Samuel sou die laaste Rigter word wat deur
sy gebed, deur sy voorbidding vir die volk van die HERE, die Koningskap van die
HERE oor Israel weer duidelik laat word.  Samuel sou die een wees wat die eerste
2 konings oor Israel sou salf.  Saul en Dawid.  Die HERE gee verlossing vir sy
volk deurdat hy weer koningskap gee onder sy volk.  In antwoord op haar gebed. 

Samuel word voorbidder tot redding vir die
volk van die HERE.  Voorbidder vir die volk, net soos Moses.  Hy word die laaste
Rigter.  Die HERE gee verlossing, op haar gebed - vir haar, én vir die
gemeente.  Die Koningskap van die HERE word weer deur almal gesien.

Hanna het meer gevra as net ’n kind.  Sy
wou nie maar net in kompetisie met Peninna ook wel saampraat en sê: kyk, ek het
ook ’n kind nie.  Daarvan lees ons niks.  Dit gaan nie maar daaroor dat sy in
kompetisie is met Peninna nie.  Dit gaan nie maar net oor ‘n kind nie.  Dit gaan
vir haar oor die Koningskap van die HERE.  Sy het gebid vir die opheffing van
die ellende van die gemeente van die HERE.  Sy sien hoe die opheffing van
daardie ellende te doen het met die Koningsheerskappy van die HERE oor haar
lewe. 

Broers en susters, dáár mag ons ons plek
inneem.  In die midde van die gemeente van die HERE.  In die midde van die
gemeente van Christus – Hy wat Koning is oor sy gemeente.  Dáár mag ons ons plek
gaan inneem.  Dáár mag ons bid vir al ons persoonlike
ellende en sorge en bekommernisse.  En daar mag ons bid: HERE, laat U koninkryk
kom.  Laat U Koningskap in my lewe sigbaar word. 

En die HERE sal gedenk wat Hy beloof het. 
Hy sál sy Koningskap in antwoord op ons gebed sigbaar maak.  Want Hy is die HERE
Sebaot, die koninklike Krygsman wat veg vir die verlossing van sy volk.  Hy gee
ons verlossing, uit genade, sonder verdienste.  Hy is die HERE, die groot Redder
wat sy volk bevry.  Hy is die magtige Koning wat Kryger is.

Hy is die Koning van die konings.

Amen

Liturgie
Seën
Ps 30:1 en 3
Wetslesing
Ps 1:1 en 4
Gebed
Lees: 1 Samuel 1
Teks: 1 Samuel 1:10 en 11
Preek
Ps 31 : 1, 2 en 5
Gebed
Kollekte
Ps 84 : 4 en 6
Seën 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)