Romeine 1:1 en 7
Ds HH van Alten - Sondag 21 Januarie 2007
Lees: Romeine 1:1-17
Teks: Romeine 1:1 en 7
Sing: Sien liturgie
Tema: die kerk is God se inisiatief
- Hiervoor gebruik Hy geroepe verkondigers
- Hiervoor laat klink Hy sy verkondigde roepstem
- En so maak Hy geroepe heiliges
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Hoe kyk ons na die kerk? Vat nou hierdie gemeente – hoe kyk ons na die gemeente van Johannesburg? Kleinerige gemeente, onaansienlike kerkgebou, ampsdraers wat hulle werk gebrekkig doen, sonder predikant vir die laaste halfjaar, nie geweldige aktiwiteite of projekte nie, verskeie onttrekkings na charismatiese kerke… En gepraat van hierdie charismatiese kerke – hoe kyk u na hulle? Pragtige kerkgeboue, 5, 6 predikante, groot gemeentes, baie aktiwiteite…
Broers en susters, die dinge wat ek nou genoem het, is presies die dinge waarna daar in ons tyd gekyk word wanneer dit oor kerk gaan. Daar is geweldig baie aandag vir menslike aktiwiteite, ménse neem die inisiatief om ‘n gemeente te stig, ménse word lid van ‘n gemeente waar hulle tuis voel. Dit wil amper voorkom asof die kerk ontstaan deurdat ménse saamkom om die geloof wat hulle het, te bely, en om die belewing van die geloof wat hulle deel, saam te vier. En as dít die maatstaf is, ja, dan moet ons erken dat hierdie gemeente maar sleg afsteek. Miskien voel u ook ‘n effense minderwaardigheids-kompleks?
Gemeente, iets soortgelyks vind ons ook in die gemeente van Rome, aan wie Paulus sy brief skryf. In Rome vind ons ‘n gemeente van Christus wat vir die oorgrote meerderheid uit heidenchristene bestaan het. Die teks van Paulus se brief bewys dit. In 1:5-6 byvoorbeeld, lees ons dat Paulus die genade en apostelskap ontvang het om geloofsgehoorsaamheid te verkry onder al die heidene ter wille van sy Naam, onder wie julle ook is – sy lesers, die gemeente in Rome, kom dus oorspronklik uit die heidendom. En in 1:13 sê Paulus dat hy nog altyd na die gemeente in Rome wou kom om onder hulle ook een of ander vrug in te samel, net soos onder die ander heidene – weereens blyk duidelik dat Paulus se lesers oorspronklik vanuit die heidendom gekom het.
En teenoor hierdie jong gemeente van heiden-christene staan daar in Rome die groot, geëerde sinagoge van die jode. Ja, die joodse volk was sterk verteenwoordig daar in die middelpunt van die wêreldryk van daardie tyd; die joodse gemeenskap het groot bekendheid in Rome geniet, en sommige lede het selfs tot in die keiserlike hof invloed gehad. Die joodse gemeenskap rondom die sinagoge was indrukwekkend, hulle het ou tradisies gehad, ‘n grootse verlede en ou Heilige Geskrifte. Hoe moes die jong gemeente, wat nog nie ‘n eie tradisie en geskiedenis gehad het nie, wat nog nie kerktorings, geskiedenisboeke of identiteitskenmerke gehad het nie, hoe moes hulle nou teenoor die joodse sinagoge staan? Miskien het hulle ook ‘n effense minderwaardigheidskompleks gehad, net soos ons as ons onsself vergelyk met die glans en die vonkel van kerk-wees vandag…
Maar dan, broers en susters, skryf Paulus sy brief aan… ja, aan wie eintlik? Aan ‘n klein gemeentetjie van heiden-christene? Aan ‘n groepie christene sonder behoorlike kerkgebou, sonder geskiedenis, sonder predikant? Nee, Paulus skryf aan die geroepe heiliges in Rome! Geroepe heiliges – dit sê iets oor die inisiatief waaruit die kerk gebore word. Die kerk is nie die produk van menslike kreatiwiteit of menslike aktiwiteit nie, die kerk is nie die inisiatief van mense nie, die kerk ontstaan nie deur die wil of deur die keuse van mense nie. Nee, dit is slegs deur die roeping van God dat die kerk ontstaan en bestaan. Deur sy roeping, deurdat Hy mense roep, skep die Drie-enige God vir Homself ‘n volk; dit is deur en deur sy werk! Geroepe heiliges van Johannesburg, wees hierdeur getroos en luister nou na die roepstem van God.
Tema: die kerk is God se inisiatief
- Hiervoor gebruik Hy geroepe verkondigers
- Hiervoor laat klink Hy sy verkondigde roepstem
- En so maak Hy geroepe heiliges
1. Paulus begin sy brief aan die gemeente in Rome met ‘n langer inleiding as wat ons van hom gewoond is. Hy gee ‘n uitgewerkte selfpresentasie: wie is hy wanneer hy vir die gemeente in Rome skryf, in watter hoedanigheid skryf hy aan hulle? Dit is goed om reg aan die begin van hierdie eerste punt duidelikheid hieroor te kry: Paulus was ‘n apostel, een wat deur Christus hiertoe geroep is – so noem hy homself ook: ‘n geroepe apostel (1:1). Die apostoliese amp was ‘n baie spesifieke amp wat Christus ingestel het met die oog op die beginsituasie van die christelike kerk, ‘n amp wat Hy gegee het vir die kerk wat nog in haar kinderskoene gestaan het. Toe die laaste apostel gesterf het, het hierdie amp daarmee ook tot ‘n einde gekom. Geen apostels meer vandag nie, geen apostoliese gesag meer nie. Dit is daarom ook nie my doel om die geroepe verkondigers van vandag, en in besonder u nuwe herder en leraar wat vandag bevestig word, op gelyke vlak met die apostels te stel nie. Dit sou nie reg wees om ‘n is-gelyk-aan-teken te plaas tussen die apostel Paulus en die Woordbedienaars van vandag nie. En tog is daar heelwat uit die manier waarop Paulus homself in hierdie eerste verse presenteer waaruit ons kan leer. Kom ons kyk wat sê Paulus van homself.
In die eerste plek noem Paulus homself dienaar van Jesus Christus – letterlik staan daar: slaaf van Jesus Christus. Deur homself so te noem, raak Paulus ‘n gevoelige snaar. Sy lesers daar in Rome het immers alles van slawerny afgeweet; slawerny was wettig – en boonop ‘n bloeiende praktyk – in die Romeinse Ryk. En jy kon ‘n slaaf duidelik herken – hy het ‘n swaar ysterband om sy nek gehad, een wat hy nooit eiehandig sou kon afhaal nie. Dit het hom as ‘n slaaf gemerk. Paulus se slaweverhouding tot Christus is egter anders. Hy is ‘n slaaf, nie omdat hy een moet wees nie, maar omdat hy dit so verkies; hy het ‘n ysterband om sy nek, nie omdat dit daar moes wees nie, maar omdat hy dit daar gehou het met die vingers van sy wil. Hy wou self die wil van God doen, hy het daarvoor gekies om terug te keer tot die posisie van gehoorsame afhanklikheid aan God. Paulus het geweet dat slegs daar vryheid en vreugde is. Slaaf van Jesus Christus – dit beteken om vir Hom, jou Verlosser, te lewe, Hom in alles na te volg. Slaaf van Jesus Christus – dit is die énigste houding wat die verkondigers vandag vrugbaar sal maak in die dinge van die Here!
Vervolgens sê Paulus ook van homself dat hy afgesonder is tot die evangelie van God. In die Romeinse Ryk, as daar ‘n keiser gebore is, dan is daar ook gepraat van evangelie = goeie nuus: die evangelie van die geboorte van die keiser (‘n mens!). Paulus kom egter na Rome met die evangelie van Gód. Vir die verkondiging van hierdie hemelse boodskap is Paulus afgesonder. Nou gemeente, afsondering behels altyd twee aksies: afsondering weg van iets, en afsondering vir iets anders. Paulus was afgesonder van die normale gemak van die lewe, afgesonder van ‘n huwelik en gesinslewe, afgesonder van ‘n vaste blyplek. En deurdat hy daarvan afgesonder was, kon hy ook afgesonder word tot die bediening van die evangelie aan die heidene. Die geroepe verkondigers van vandag moet besef dat daar baie dinge is wat ons van God af kan weghou, wat ons van Hom kan verwyder. En dit is nie moontlik om vir God afgesonder te wees as ons nie van hierdie dinge afgesonder is nie. En daarom moet daar die bereidheid wees om van alle dinge afgesonder te wees ter wille van die roeping tot verkondiging van die evangelie van God in die gemeente en in die wêreld.
In vers 5 sê Paulus tenslotte nog dat hulle (let op die meervoud: hy dui dus nie slegs op homself nie, maar ook sy kollegas), dat hulle deur Christus genade en die apostelskap ontvang het. Sommige vertaling vertaal met “die genade van die apostelskap”. Maar dit is nie wat hier staan nie. Paulus noem hier twee aparte dinge: genade (die guns van die Here) EN die apostelskap (die uitsending om die evangelie te gaan verkondig). Die uitsending as apostels is te danke aan die voorafgaande genade oor hulle lewe. Die uitsending word voorafgegaan deur die roeping tot geloof in Christus en sy verlossingswerk: niemand kan prediker wees sonder om vooraf self ook van die genade te lewe nie. Slegs wanneer jy weet wie jou Verlosser is, kan jy met oortuiging en toewyding oproep tot geloofsgehoorsaamheid aan die lewende God.
Ds. Kleijn, u is ‘n geroepe verkondiger, die Here self het u deur sy gemeente tot hierdie heilige diens geroep – so lui die eerste vraag van die bevestigingsformulier wat ons hierna sal lees. U is ‘n geroepe verkondiger! Maar laat ons uit Paulus se selfpresentasie leer wat dit alles inhou:
- Dit hou in dat u ‘n slaaf van Jesus Christus sal wees, dus dat u Hom in alles sal navolg, nie in leer of lewe agter Hom sal wegdraai om u eie pad te volg nie. Volg Hom slaafs na wanneer u die gemeente leer en onderrig, wanneer u die katkisante die weg van die Here voorhou, wanneer u vertroos en vermaan en bemoedig. Wees as vryman ‘n slaaf van Christus, en dan mag u uself as slaaf van Christus volledig vry weet, watter moeite daar ook in u lewe en werk mag kom.
- Om geroepe verkondiger te wees hou verder in dat u, saam met u vrou en gesin, uself sal afsonder van alles wat u van die Here kan weghou, alle verleidinge, alle valse leer, alle sonde – juis om vir die Here afgesonder te wees, juis sodat u uself volledig aan die evangelie van God kan toewy. Wy uself sodanig aan die evangelie van God toe, dat die evangelie van hierdie wêreld u nie van God af wegtrek nie.
- En om geroepe verkondiger te wees hou ten slotte in dat u self van genade sal lewe. U het die genade ontvang voordat u die roeping tot Bedienaar van die Woord ontvang het, u was ‘n kind van God voordat u predikant geword het. Laat dit altyd so bly. Leef elke dag vanuit die genade van die verlossing, lees elke dag van die liefde van God wat Hom daartoe gebring het om sy eie Seun aan die dood oor te gee, maak dit u eie. Dit sal oortuiging en egtheid gee aan die werk wat u in hierdie gemeente mag verrig.
Broers en susters, die kerk is God se inisiatief, sy werk. Maar daarvoor gebruik hy geroepe verkondigers. Hier is van vandag af u geroepe verkondiger. Ontvang hom ook so.
Ons let vervolgens daarop dat die Here sy verkondigde roepstem laat klink.
2. Die Here bou sy kerk deur die diens van mense, mense wat Christus navolg en van sy genade lewe. Nie mense wat hulle eie boodskap bring nie. Nee, hulle moet verkondigers van sy roepstem wees. En watter pragtige stem is dit nie – die evangelie van God!
Maar, gemeente, Paulus weet dat hierdie evangelie in Rome waarskynlik nie so baie indruk sal maak nie. Ons moet onthou dat Rome al ‘n ou stad was met ‘n lang geskiedenis van digters, profete en filosowe. Hierdie, sê maar, antieke ‘geloofsbriewe’ van die Romeine was geweldig belangrik vir hulle selfbewussyn. Hulle het geroem op hulle antieke herkoms.
En dan kry hulle skielik ‘n berig oor ‘n onlangse teregstelling van ‘n jood (Jesus) en sy opstanding uit die graf. U kan u self voorstel dat dit vir die Romeinse burgers nie werklik indrukwekkend was nie: “Dit het dan pas gebeur, dit het nog glad nie eens die toets van die tyd deurstaan nie.” U kan u self ook voorstel dat dit daarom vir die gelowiges daar in Rome baie moeilik was om hierdie boodskap as gesaghebbend aan hulle stadsgenote te presenteer.
Paulus wys egter dat die goeie nuus wat hy verkondig diep wortels het; hy wys dat wat onlangs met Jesus gebeur het, lank tevore (letterlik: van die begin af) deur God beloof is deur sy profete, en vasgelê is in heilige geskrifte (vers 2). Ja, Moses en die profete is baie ouer as al die wetgewers en profete in die Griekse en Romeinse wêreld. Die evangelie hoef in ouderdom en dokumentasie niks terug te staan vir die ou, religieuse geskiedenis en literatuur van Rome nie. Immers, die Jesus waaroor die evangelie gaan, se wortels gaan terug tot by Dawid (vers 3). Jesus is afkomstig uit adelstand, en daarby ook nog ‘n adelstand wat teruggaan tot lank voor die stigting van die stad Rome.
Paulus wys dus dat dit nie nodig is om terug te staan vir hierdie wêreld nie, dat dit nie nodig is om terug te staan vir allerhande leringe wat ons vandag om ons heen hoor nie. Laat u nie onder die indruk bring van die indrukwekkende boodskappe wat in hierdie wêreld uitgebasuin word nie. Want die CV, die curriculum vitae, die papiere, van die evangelie is beter as enige ander boodskap wat in hierdie wêreld gevind kan word.
God se roepstem is ouer as enige iets in hierdie wêreld, dit is ouer as die wêreld self. Dit is immers daardie einste roepstem wat hierdie wêreld laat ontstaan het: “God het gespreek, en dit was so!” – gaan lees maar Genesis 1 en Psalm 33:9. Dit is daardie einste roepstem wat die sterre by hul name roep (Ps. 147). Dit is daardie einste roepstem wat vir Abraham geroep het uit Ur van die Chaldeërs (Hebr. 11:8), wat Israel uit Egipte geroep het (Hosea11:1), wat al die profete geroep het, wat die dissipels geroep het (Matt. 4), wat Paulus op die pad na Damaskus geroep het (Hand. 9).
Gemeente, daar is slegs een roepstem wat deur alle eeu heen kragtig vanuit die hemel geklink het: die roepstem van God. En dit is daardie selfde roepstem wat julle vorige herder en leraar laat klink het, en wat julle nuwe herder en leraar mag en moet laat klink. Outentiek, gesaghebbend, die woord van die Alfa en die Omega, die begin en die einde. In vergelyking daarmee is elke ander boodskap nog nat agter die ore, en dit sal ook altyd so bly. Gemeente, bly by die beproefde evangelie van God, die evangelie wat die toets van die tyd deurstaan het, die boodskap wat al oor en oor bewys het dat God trou is wanneer Hy roep, dat Hy doen wat Hy sê. Dit sal nooit so wees dat God deur sy Woord roep, en niks gebeur nie; God se woord, sy roepstem, keer nooit leeg na Hom toe terug nie, dit werk altyd iets uit, dit is altyd effektief. En daarom kan Paulus in Romeine 1:16 ook sê: “… ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie…” Hoekom nie? “… want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo!” Moet u nie skaam vir die evangelie nie, moet u nie skaam om kerk te wees waar eenvoudig elke Sondag gepreek word nie. Laat dit u trots wees as kerk: ons is gebou op die verkondigde roepstem van God!
Ons let ten slotte nog daarop dat God vir Homself geroepe heiliges maak.
3. God bou sy kerk, Hy neem die inisiatief. En Hy doen dit baie eenvoudig deur middel van mense wat die evangelie van Jesus Christus verkondig. Geen tongetaal nie, geen toneelspel nie, geen debat nie; nee, eenvoudige verkondiging: “die geloof is uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” – so sê Paulus later in hierdie selfde brief (10:17). En skynbaar is dit genoeg… Ja, dit is genoeg, want hierdie evangelie is, soos Paulus dit noem, ‘n krag! Hierdie evangelie het genoeg krag om harde harte sag te maak, om mense tot bekering te bring, om wat onheilig is heilig te maak. Dit is immers die evangelie van die Seun van God (vers 4)! Goddelike krag is in hierdie evangelie aan die werk!
En die bewys lê in die resultaat! Die bewys dat Jesus die Seun van God is, lê in die resultaat van die prediking van die evangelie. (herhaal) Dit is wat Paulus in vers 5 probeer sê. Kom ons volg sy argumentasie: Hy sê dat, sedert Jesus Christus uit die dood uit opgestaan het en die troon in die hemel bestyg het, Hy kragtig verklaar is as die Seun van God. Hoe? Deur die Gees van heiliging. In ons vertaling lees ons “die Gees van heiligheid”, maar letterlik staan daar “die Gees van heiliging”. Dit is die Gees wat mense heilig tot diens aan God. En dit gebeur in Paulus se dae op groot skaal: sowel jode as heidene word “geroepe heiliges”. Daar ontstaan ‘n nuwe gemeente van Jesus-volgelinge, toegewyd aan die Skepper, aan die Vader van Jesus Christus!
Toe Jesus nog op aarde rondgewandel het, was sy aanhang maar gering, en dit het steeds meer afgeneem totdat uiteindelik die meeste van sy volgelinge Hom verlaat het. Maar ná sy opstanding, en met name na Pinkster, kom daar ‘n omgekeerde beweging op gang. In ‘n asemrowende tempo en op ‘n oorweldigende wyse wen Jesus aanhang – eers in Jerusalem, daarna in Judea en Samaria en tot aan die eindes van die aarde – gaan lees maar die boek Handelinge. Sedert Jesus se opstanding waai die Gees van die heiliging vol energie deur die wêreld. Dit is dié Gees wat waai wanneer die evangelie van Jesus Christus verkondig word, dit is dié Gees wat van rebelle aanhangers van Jesus Christus maak. Húlle is die bewys dat Jesus die Seun van God is; elkeen wat Jesus Christus aanhang, elkeen wat vir Hom sê: “ons Here!”, is die bewysmateriaal dat Jesus Christus die Seun van God is. Die beste bewys van die goddelike seunskap van Jesus is Paulus se lesers self. Hulle is Christene in die hartjie van die wêreldryk van daardie tyd: ook dáár is dus alreeds geroepenes van Jesus Christus. Die Gees van heiliging maak hulle tot ‘n kragtige aanwysing van Jesus as die Seun van God wat van ouds af belowe is.
Gemeente, dít is die krag van die gepredikte Woord! Die Gees werk deur middel van daardie Woord in die harte van mense. Hierdie werking is, soos die Dordtse leerreëls sê, ‘n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Mense word op dié manier geroep om afgesonder vir God te lewe: geroepe heiliges! Ook hier in Johannesburg! Broers en susters, ú is die bewys dat Jesus Christus die Seun van God is. U, sy onderdaan, sy volgeling, is die bewys dat die evangelie vol krag is. Die feit dat u in die evangelie van Jesus Christus glo, bewys dat daardie evangelie vol goddelike krag is. O ja, dan lyk ons klein, dan lyk hierdie gemeente so gering, so onbelangrik. Maar moet u nie laat bluf nie – hierdie gemeente is ‘n godswonder! Hierdie gemeente is ‘n bewys dat Jesus Christus die Seun van God is, en dat Hy leef! Wees dan ook lewende bewysmateriaal, gaan met hierdie evangelie uit in die wêreld, oorwin hiermee die valse leer, oorwin hiermee die verleiding van die sonde. En ontvang die seën van die Here, soos Paulus dit ook uitspreek in vers 6: “Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus.”
Amen.
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 50:1, 2 en 7
Wetslesing
Sing Ps. 124:1, 3 en 4
Gebed
Lees: Romeine 1:1-17
Sing Ps. 34:6-8
Teks: Romeine 1:1 en 7
Preek
Amenlied Skr. 38:1 en 3
Bevestiging
Sing Ps. 134:3, 4
Formulier- en dankgebed
Kollekte
Slotsang Skr. 34
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.