Jesus Christus stig sy kerk in Antiochië deur die verkondiging van die evangelie

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-03-11
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Verwysing: 
HK 21-0
Preek Inhoud: 

Sondag 21

Ds HH van Alten - Sondag 11 Maart 2007

Lees: Handelinge 13:13-52
Teks: Sondag 21 HK
Sing: Sien liturgie

Tema: Jesus Christus stig sy kerk in Antiochië deur die verkondiging van die evangelie; hierdie evangelie:

    1. vertel van Christus, as die sin van die geskiedenis (verse 16-37)
    2. bied Christus aan, as die Regverdiger van sondaars (verse 38-41)
    3. bewys Christus, as die hoop vir die toekoms (verse 42-52)

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die gemeente van Pretoria-Maranata bestaan hierdie jaar 10 jaar. 10 Jaar van baie lief, maar ook baie leed. 10 Jaar waarin baie mense die Here leer ken het onder die geklank van die prediking, die werk van kategese en die huisbesoeke. ‘n Dekade waarin die tug toegepas moes word en mense hulle onttrek het aan die gemeenskap van die heiliges. ‘n Dekade waarin kinders gebore is, maar waarin ons ook geliefdes aan die dood moes afstaan. ‘n Dekade van kerk koop, pastorie koop, ‘n predikant wat gegaan het, en ‘n predikant wat gekom het.

Maar gemeente, wie hou dit alles aan die gang? Wie staan aan die stuur van hierdie kerkskip? Die predikant? Die Kerkraad? Of miskien die Kerkraad saam met die Finansiële kommissie en die Sendingskommissie? Is dit hulle wat hierdie skip die afgelope 10 jaar op koers gehou het? Gelukkig nie! Anders sou hierdie skip al lankal in die storms van menslike sondigheid, eie belang en jaloesie ondergegaan het. Dan sou ook hierdie gemeente lankal skipbreuk gely het. Nee gemeente, die Stuurman sélf bring hierdie skip waar dit moet wees. Jesus Chrisus, wat op aarde vir sy kerk gely het, wat ook vir híérdie gemeente sy bloed vergiet het, dit is HY wat ook ná sy verhoging aan die regterhand van die Vader, vanuit die hemel sy Stuurmanswerk voortsit. ‘n Groot bemoediging, ook vir die ouderling wat vanoggend bevestig word! Dit is Jesus Christus wat sorg dat die evangelie uitgaan tot aan die uiterste van die aarde, ook tot in Pretoria…  

En dit begin in Handelinge 13! – die gedeelte wat ons saam gelees het. In die hoofstukke voor hoofstuk 13 was die evangelie nog net verkondig in Jerusalem en die wyer Judea en Samaria (sien 1:8), maar in hoofstuk 13 word vir die eerste keer manne afgesonder en uitgestuur vir die verbreiding van die evangelie na alle volke, nasies en tale (13:2-4). Vir die eerste keer word manne deur die gemeente uitgestuur om sendingwerk te gaan doen. By hierdie hoofstuk verkeer ons dus op ‘n strategiese punt in die boek Handelinge, naamlik op die punt waar die evangelie vir die eerste keer op georganiseerde wyse die wye wêreld ingaan.

En dan lees ons dat Antiochië in Pisidië Paulus en Barnabas se eerste groot stop is; hier gaan hulle die sinagoge binne om die evangelie te bring, die evangelie van vergifnis van sondes en regverdiging deur die geloof – waar dít geglo word, dáár ontstaan die kerk, dáár vergader Christus sy kinders.

Ek verkondig aan u die evangelie van Christus se kerkvergaderende werk, soos ons dit bely in Sondag 21 van die Kategismus, onder die volgende tema:

Tema: Jesus Christus stig sy kerk in Antiochië deur die verkondiging van die evangelie; hierdie evangelie:

    1. vertel van Christus, as die sin van die geskiedenis (verse 16-37)
    2. bied Christus aan, as die Regverdiger van sondaars (verse 38-41)
    3. bewys Christus, as die hoop vir die toekoms (verse 42-52)

1. Paulus begin sy preek in die sinagoge te Antiochië met ‘n oorsig, ‘n voëlvlug, oor die heilsgeskiedenis. Oor die geskiedenis van God se bemoeienis met sy volk deur die eeue. Hy begin in vers 17 met die aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob. Hy vertel verder van die verblyf in Egipte en die verlossing daaruit. Daarna volg die reis deur die woestyn, die inname van die land Kanaän en die verwoesting van die verskillende nasies. Vanaf vers 20 vertel Paulus van die rigtertyd en daarna volg die tyd van die konings, eers Saul en daarna Dawid.

En dan is dit opvallend dat Paulus vanaf Dawid direk na Jesus Christus toe spring. Hy ignoreer eeue se geskiedenis, waarvan ons nog verder in die Ou Testament kan lees, om by Jesus van Nasaret uit te kom. Hoekom sou Paulus dit doen? Wel, Paulus fokus in vers 23 op die belofte wat God aan Dawid gemaak het, naamlik dat uit sy geslag die Verlosser gebore sou word. En daarom maak hy nou vervolgens ook die sprong na daardie Verlosser, om die vervulling van God se belofte vir sy luisteraars te toon. Gemeente, dít is uiteindelik waaroor dit vir Paulus gaan – sy voëlvlug deur die heilsgeskiedenis gaan nie in die eerste plek oor die heilsgeskiedenis nie. Nee, Paulus wil via die geskiedenis uiteindelik by Christus uitkom.  

Ons moet dit goed raaksien: Paulus preek hier in die sinagoge in Antiochië vir ‘n hoofsaaklik Joodse gehoor, en hy wil vir hierdie Jode wys dat die geskiedenis waarop hulle so trots was, dat die beloftes van God waarop hulle hulself beroem het, dat hulle hele volksbestaan nêrens heen lei as dit nie na Christus toe lei nie. Abraham, Isak en Jakob, die verblyf en uittog uit Egipte, die Beloofde land, die rigters en die konings kry hulle ware betekenis slegs in Jesus van Nasaret. Daarheen het die hele geskiedenis van God se bemoeienis met die volk Israel gestreef, gehunker. Die geskiedenis van die Ou Testament het as’t ware “Maranata” geroep: “Kom, Here Jesus! Want as U nie kom nie, dan stort ons totale roemryke geskiedenis in duie!” Dít is wat Paulus aan sy Joodse gehoor wou wys: “Julle geskiedenis is sinloos as dit nie sy sin in Christus vind nie, want julle geskiedenis is van nature een van afval, ongehoorsaamheid en verbonds-ontrou; gaan lees maar weer julle eie geskrifte en sien hoe gruwelik daar deur die eeue teen die Here gesondig is. Maar sien hoe die Here, deur al hierdie sondigheid en afval heen, sy beloftes lewendig gehou het om in Christus vervul te word. In Hóm kry die geskiedenis, julle volksbestaan, betekenis!”  

En, gemeente, soos wat die geskiedenis van die Ou Testament gehunker het na Christus, so vind die geskiedenis van die Nuwe bedeling haar voedingsbron in dieselfde Christus, sy leef vanuit daardie selfde Verlosser. Die geskiedenis van Israel, maar óók die geskiedenis van die kerk van die Here deur alle eeue, óók die geskiedenis van die kerk hier in Suid-Afrika en die geskiedenis van hierdie gemeente, het slegs betekenis in ons Verlosser, Jesus Christus.

Ons hoor deesdae dikwels hoe kerke en kerkgroepe hulleself afvra wat hulle bestaansreg is, hoekom hulle eintlik bestaan. En dan begin hulle visies en missies formuleer, hulle soek daarna om hulle beeld in die samelewing te verbeter, hulle begin doele stel wat hulle wil bereik, groeiteikens… Asof óns, mense, die bestaansreg van die kerk bepaal, asof óns betekenis moet verleen aan die bestaan van die kerk, asof óns teenoor die samelewing moet regverdig waarom daar nog ‘n kerk behoort te wees. Nee, broers en susters, ons bestaansreg lê in Christus, ons Hoof. Ook hierdie gemeente en haar geskiedenis het betekenis slegs wanneer ons in alles wat ons doen volledig op Hom gerig is. Ons het die reg om te bestaan, slegs wanneer ons onsself deur Christus laat vergader, op die manier wat Hy gekies het, naamlik deur sy Woord en Gees.  

Laat ons ons daarom nie beroem op ‘n geskiedenis waarin Christus geen plek het nie; laat ons nie breëbors rondstap en grootpraat oor ‘die’ VGK as Christus nie meer sentraal staan in ons kerklike lewe nie, as Hy ons nie meer saambind nie; laat ons nie praat van die ware kerk waarby almal hulle moet voeg as die Waarheid, Jesus Christus self, nie meer hier heers nie.

Jesus Christus is die enigste norm vir die bestaansreg van die kerk; dit is immers Hy wat, deur sy Gees en Woord, vir Hom uit die hele menslike geslag ‘n gemeente vergader, dit is Hy wat sy kerk vergader, beskerm en onderhou (Sondag 21), wat die gemeente van Pretoria-Maranata die laaste 10 jaar gedra het soos ‘n moeder haar baba dra, wat elkeen van ons se lewens beheer en stuur soos dit goed is… Laat ons daarom dankbaar en nederig Chrístus se werk in ons gemeente herken, laat ons Hom loof vir sy kerkvergaderende werk – vandag, hier – maar ook deur alle eeue en oor die hele wêreld. 

Ja gemeente, Jesus Christus se werk van verlossing verlig die hele geskiedenis; alles word daardeur verlig, tot verlossing van God se skepping en van elkeen wat glo. Dít was die Lig waarheen die gelowige van die Ou Testament uitgesien het, maar dit is ook dié Lig vanwaaruit die gelowige van die Nuwe Testament leef. Dit is slegs in daardie Lig, die Lig van die verkondigde evangelie, dat ons kerk in hierdie wêreld kan wees. Vandag en in die toekoms.

En daarom maak die kerk haarself ook nie los van die wêreld nie, as gemeente gaan staan ons ook nie teenoor die tyd waarin ons leef nie, ons loop nie as kerke van Christus met jammer-dat-ons-leef uitdrukkings op ons gesigte nie. Ons staan in die geskiedenis, want dit is Gód se geskiedenis – Christus het dit immers kom verlig, Christus het daaraan betekenis kom gee! Seuns en dogters by die skool en jongmense by die universiteit, u wat daagliks werk toe gaan, pa’s en ma’s wat kinders in ‘n goddelose wêreld grootmaak, ons wat in angs die wêreldgebeure dophou, onthou dít: Christus is die Lig vir die wêreld. En in dié Lig mag ons lewe; in dié Lig kan ons kerk wees.

Die evangelie bied Christus vervolgens aan as die Regverdiger van sondaars. 

2. Paulus het nou die hoogtepunt van sy toespraak bereik. Hy het Jesus Christus aangewys as die sin en die betekenis van die geskiedenis van die volk Israel. En nou wil hy wys dat hierdie Christus, deur sy verlossende werk, ook betekenis gee aan die lewens van die Jode in Antiochië. Hy wil die betekenis van hierdie Christus dus nou ook konkreet gaan maak in die lewe van elkeen van sy luisteraars. Paulus bied daarom in verse 38-39 aan elkeen van hulle vergifnis van sondes en regverdiging aan. Nie deur iets wat hulle gedoen het nie; nee, slegs deur die geloof. 

Paulus beweeg homself met hierdie boodskap op gevaarlike terrein, want hy is besig om die Joodse oortuiging van verlossing deur besnydenis en onderhouding van die wet openlik teen te staan. Teenoor hierdie Joodse oortuiging stel Paulus: “Nee, slegs verlossing deur Jesus Christus!” Slegs deur Hom is daar vergifnis van sondes, slegs deur Hom is daar regverdiging. En die wet van Moses dan? Nee, nie die wet van Moses nie, want die geregtigheid van God is geopenbaar sonder die wet! Soos ons lees in Romeine 3:21-24: “…die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”

“Maar Paulus… Sonder verdienste, goed. Maar, vir almal wat glo?” “Ja, vir almal, ook vir die heidene wat net daar buite die deur staan en gretig luister na wat ek te sê het.” Die bedding van God se verlossingswerk is vir eeue lank doelbewus vernou tot die volk Israel, sodat uit hierdie volk die Verlosser gebore sou word. Maar noudat Hy gebore is, gely het en gesterf het, noudat Hy na die hemel opgevaar het vanwaar Hy die volheid van God se genade, naamlik die Heilige Gees, uitgestort het, nou verbreed daardie bedding weer. Nou stroom die rivier van God se genade oor sy walle na alle volke en nasies en tale, ja ook vir die heidene!  

Die verlossing is dus deur die geloof alleen, én dit is vir elkeen wat glo, én dit word gevind by Jesus Christus alleen. Christus se kerk bestaan dus nie uit ‘n sekere volk nie, dit word nie gebou op ‘n sekere kwaliteit wat by mense te vinde is nie. Nee, daar waar in geloof gebou word op Christus en sy werk, daar is die kerk! En andersom: daar waar die kerk is, daar word uiteraard die evangelie verkondig met die oproep tot geloof en bekering.

Paulus plaas hier sy luisteraars, Jode sowel as heidene, voor die keuse. Hy het in die eerste deel van sy toespraak gewys op die belang van die Lig wat die hele geskiedenis verlig, maar nou wys hy aan sy luisteraars dat hulle slegs in daardie Lig kan leef, wanneer hulle vandag, op hierdie oomblik, gehoorsaam is. Nou, op hierdie oomblik bied hy aan sy luisteraars die grootste geskenk van alle tye: vergifnis (dus wegneming van die sondes), en daarby ook regverdiging (herstel van die verhouding met God). Nou, op hierdie oomblik vra hy daarom ook geloof en bekering.

Gemeente, sien u die erns wat Paulus hier maak met sy luisteraars, hier is geen middeweg nie; dis reg of weg, dis alles of niks, dis vergifnis en regverdiging of dit is die “pas dan op” van vers 40: “Pas dan op dat daar nie oor julle kom wat deur die profete gesê is nie: Kyk dan, julle veragters, en wees verwonderd en verdwyn.” Wanneer die evangelie verkondig word, dan het ons te make met die lewende Christus, Hy wat deur die inwoners van Jerusalem en hulle leiers gekruisig is, maar wat deur God tot onverderflikheid opgewek is. Met Hom staan ons van aangesig tot aangesig, elke keer wanneer die evangelie hier in die kerk verkondig word.  

En, gemeente, die skrikwekkende realiteit van die oordeel wat Paulus hier aankondig in vers 40 word ons in Handelinge 13 nie gespaar nie. Hierdie oordeel is nie slegs iets van die jongste dag nie. Hierdie oordeel word nie eeue lank uitgestel nie. Hierdie oordeel duur in die geval van die Jode in Antiochië om presies te wees, EEN week. Presies sewe dae later, wanneer die hele stad saamkom om na Paulus en Barnabas te luister, verwerp die Jode hierdie verlossingsboodskap. En dan word gerealiseer waarvoor Paulus die Jode gewaarsku het, en sê hy in verse 46-47: “Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie – kyk, ons wend ons tot die heidene.”

En daarom die dringende oproep van die evangelie wat hier in die kerk weerklink: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie…” (Hebreërs 3:7-8). Paulus smeek dit ook in 2 Korinthiërs 5:20: “Ons bid julle om Christus wil, laat julle met God versoen.” Broers en susters, leef in die Lig wat die hele wêreld en die hele geskiedenis verlig! Laat die Lig van die evangelie ons tot oorgawe bring, soos dit die broers in Jerusalem tot oorgawe gebring het tydens Petrus se Pinksterpreek in Hand. 2:37 toe hulle gevra het: “Wat moet ons doen, broeders?” Laat hierdie Lig ons daartoe bring om met bewing te vra: “Here, wat wil U hê moet ek doen?”, soos Paulus dit gevra het op die pad na Damaskus (Hand. 9:6). Wat wil U hê moet ek doen? Glo in Hom wat alles vir jou gedoen het! Glo in Hom deur wie daar vir jou, dooie sondaar, vergifnis van sondes en regverdiging is. En glo nou, vandag – só ernstig is die oproep; dit kan nie wag tot môre nie… Dán, my broer en suster, dan word jy ‘n lewende lid van die kerk van Christus.

Ten slotte let ons daarop dat die evangelie Christus bewys as die hoop vir die toekoms. 

3. Paulus se aanbod vra geloof en bekering op daardie oomblik. En hoe mooi is dit dan om te sien dat hierdie reaksie ook nie uitbly nie. Dis nie slegs die oordeel wat binne ‘n kort tydsbestek gerealiseer word nie. Ook geloof en bekering word sigbaar. Ons sien in verse 42-52 dat dit spesifiek die heidene is wat met blydskap die woord van die Here aanneem. En dan kóm daar ook tot geloof “almal wat verordineer was tot die ewige lewe” – almal wat bestem was om die ewige lewe te beërwe het daar tot geloof gekom.

Die geloof in Jesus Christus bied dus uitsig op die toekoms, op die ewige lewe. Ja, broers en susters, ons almal wat tot geloof gekom het, se toekoms lê skielik helder verlig voor ons, want ons is dan verordineer tot die ewige lewe, ons weet waarheen ons oppad is. Dié wat gelowig geword het, hoef nie meer in duisternis rond te tas nie, maar kan nou wandel in die lig, die lig wat wys dat ons ‘n toekoms het. En die kerk wat trou wil bly aan haar Here hoef nie te wonder waar sy gaan eindig nie – die toekoms lê helder verlig voor ons! 

Gemeente, hoe dikwels beskou ons nie die geloof as ‘n blinde sprong nie? Hoe dikwels is geloof nie maar vir ons ‘n sprong in die duister nie? Maar die Gees wys hier vir ons in Handelinge 13 dat die toekoms vir die gelowige nie duister is nie. Nee, natuurlik weet ons nie presies wat in die toekoms gaan gebeur nie. Maar, wie aan die Here gehoorsaam is in geloof en bekering, weet waarheen hy oppad is. Die gemeente van Antiochië – ja broers en susters, daar het ‘n kerk in Antiochië ontstaan – hierdie gemeente het geweet waarheen hulle oppad is; hulle was immers verordineer tot die ewige lewe.  

Waarheen is die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika oppad? In voortdurende geloof en voortgaande bekering, dus in gehoorsaamheid mag ons weet waarheen ons oppad is, naamlik na die ewige lewe. So bewys die Christus van die evangelie Homself as die hoop vir die toekoms. Daardie hoop wat gelowiges saambind in ‘n gemeente, in ‘n kerk. Ons is nie hier as los individue bymekaar in die gemeente nie; nee, ons is die gemeenskap van die heiliges, saam verbonde in die één hoop op die ewige lewe, ons is saam verbonde in Chrístus wat vergifnis en regverdiging gee vir elkeen wat glo.  

Gehoorsaamheid aan die Here, in geloof en bekering, verlig die toekoms; dit gee sig op waarheen ons oppad is. En dan maak dit ons nie passief nie; dit werk nooit gearriveerdheid in die hand nie. Die Jode het geglo dat hulle gered is bloot omdat hulle Jode was, die heidene het geweet dat hulle gered is deur die geloof in Hom wat hulle gered hét. Afkoms, kerkgemeenskap, nee, dit red nie. Geloof, eenvoudige en kinderlike oorgawe aan Christus: dit red! Geloof wat weet dat ons self niks kan doen nie, en dan tog aktief raak omdat Christus alles vir ons gedoen het. Kyk maar na die gemeente in Antiochië: die dissipels dáár, is vervul met blydskap en met die Heilige Gees en het die woord van die Here deur die hele land verbrei (vers 49).

Dink daaroor: die blydskap om die verlossende woord van die Here te hoor; die rus om nie meer self die las van ons sonde hoef te dra nie; die seker wete dat ons verhouding met God weer herstel is; die geloofsoë wat weet waarheen ons oppad is… Gemeente, kan ons dan nog stilsit terwyl die ongelowiges vergaan van ellende? Kan ons dan nog vrede hê met die feit dat daar ware gelowiges in hierdie omgewing is met wie ons nog nie kerklik een is nie? Kan ons dan nog ons kop wegdraai van die werk van sending en soos die Jode die rykdom vir onsself hou? Kan ons dan nog toelaat dat een onder ons die pad van die Here byster raak? Nee, ons mag soos Paulus en Barnabas ligte vir die nasies wees (v. 47), ons mag DIE LIG laat skyn, ons mag Christus verkondig as die redding tot aan die einde van die aarde. Laat ons met blydskap en met die Heilige Gees vervul wees, want vir ons wag die ewige lewe – ek is ‘n lewende lid van die kerk van Christus, en ek sal dit ewig bly!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 138:1 en 3
Wetslesing
Sing Ps. 112:1-4
Gebed
Lees: Handelinge 13:13-52
Sing Ps. 2:4 en 6
Teks: HK, Sondag 21
Preek
Amenlied Ps. 87
Bevestiging van ouderling
Sing Ps. 134:4
Formulier- en dankgebed
Kollekte
Slotsang Skr. 27:4 en 5
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)