Die kwaliteit van ons lewe voor die Vader in die hemel

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-04-22
Teks: 
Matthéüs 6:2b & 4b
Preek Inhoud: 

Matthéüs 6:2b & 4b

Ds HH van Alten - Sondag 22 April 2007

Lees: Matthéüs 6:1-18
Teks: Matthéüs 6:2b & 4b
Sing: Sien liturgie

Tema: die kwaliteit van ons lewe voor die Vader in die hemel

  1. Jesus beklemtoon die belang van persoonlike geloof,
  2. maar daarmee maak hy persoonlike geloof nog geen privaatsaak nie.

Gemeente van ons Here, Jesus Christus,

In hoofstuk 6 begin Jesus met ‘n volgende gedeelte van sy bergrede. Maar dit staan nie los van die voorafgaande nie; die bergrede is nie maar opgebou uit geïsoleerde onderwerpe wat geen verband het met mekaar nie. Kom ons kyk vinnig na wat Jesus alreeds gesê het.

In hoofstuk 5:3-16 het Jesus sy gebooie vir die koninkryk gegee, gebooie waaraan die loon verbonde was om in die koninkryk te kan ingaan. U onthou miskien hoofstuk 5:3 en 10: “… want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” En ook vers 12: “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele…” In hoofstuk 5:17-20 wys Jesus vervolgens dat Hy die rég het om hierdie gebooie vir die koninkryk af te kondig, aangesien Hy die Een is wat gekom het om elke gebod tot in sy diepste betekenis te vervul; Hy het verdien om die Wetgewer van die hemelse koninkryk te wees. En dán, vanaf vers 21-48, gee Jesus aan die skare voorbeelde van die breedte en diepte van verskeie van God se gebooie.

Die laaste van hierdie voorbeelde wat Hy in hoofstuk 5 bespreek, is die gebod tot barmhartigheid (vv. 43-48). Aansluitend hierby begin Jesus nou in hoofstuk 6:1 praat oor die gevaar dat ‘n mens hierdie barmhartigheid vir ménse sou wil doen, en nie vir God nie. En net soos wat die loon by hierdie laaste voorbeeld ter sprake gekom het – kyk maar vers 46: “Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle?” – net so kom dit ook weer in hoofstuk 6:1 ter sprake: “… anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie.”  

Ons sien dus ‘n duidelike lyn en ontwikkeling in Jesus se betoog: Hy gee sy gebooie vir die Koninkryk, máár – en dit is waaroor dit vandag in hoofstuk 6 gaan – Hy waarsku tegelykertyd dat ons nie hierdie gebooie moet nakom om deur mense gesien te word nie. Ons fokus moet op God wees! En Jesus spits dit dan toe op drie spesifieke onderwerpe: liefdadigheid (verse 1-4), gebed (verse 5-15), en vas (verse 16-18). Ek hierdie gedeelte van Jesus se bergrede soos volg saamgevat:

Tema: die kwaliteit van ons lewe voor die Vader in die hemel

  1. Jesus beklemtoon die belang van persoonlike geloof,
  2. maar daarmee maak hy persoonlike geloof nog geen privaatsaak nie.

1. Broers en susters, altyd weer bestaan daar die wesenlike gevaar in die gemeente van die Here dat die geloof ‘n buitekant het vir die mense om te sien, sonder dat daar ‘n binnekant is wat daaraan beantwoord; dus, ‘n geloof wat pragtige uiterlike vorme en tradisies het, maar wat nie meer in die harte van mense lewe nie. Maar laat ons goed besef: dán het geloof toneelspel geword. En dit is presies wat Jesus verskeie kere in Mattheus 6:1-18 vir sy luisteraars aan die verstand wil bring. Hy praat tot drie maal toe – in verse 2, 5 en 16 – van geveinsdes, maar die woord wat Jesus eintlik hier gebruik – in die Grieks ‘hipokriet’ – beteken letterlik ‘toneelspeler’. Jesus gebruik hier dus ‘n beeld uit die wêreld van drama en teater.

Toneelspel was in die Grieks-Romeinse wêreld van Jesus se dae ‘n bekende en gewilde vorm van vermaak. Toneelspelers is hipokriete genoem, maar dan moet ons nie dink aan die betekenis van die woord hipokriet soos ons dit vandag ken nie; deur die eeue het die woord ‘hipokriet’ die betekenis gekry van ‘iemand wat huigel’ of ‘iemand wat skeinheilig is’. Maar in Jesus se dae was daar ‘n ander rede vir hierdie benaming. Die toneelspeler in die Griekse teater het naamlik nie grimering gedra soos toneelspelers vandag doen nie; nee, hulle het maskers gedra, wat verteenwoordigend was van die rol wat hulle gespeel het. En dit gee vir ons ‘n lewendige prentjie van die hipokriet, die toneelspeler – hy gee voor om iemand te wees, terwyl hy eintlik iemand totaal anders is. Hy kan sy rol fantasies vertolk, maar die rol is nie die speler nie… Die toneelspeler is as mens dikwels ‘n totaal ander soort mens as die persoon wat hy uitbeeld. Maar hy tree op ter wille van die gehoor, ter wille van die mense voor hom speel hy sy rol!  

Gemeente, dit is hierdie agtergrond wat ons in gedagte moet hou wanneer die Here Jesus ons hier waarsku oor die manier waarop ons sy gebooie vir die koninkryk nakom. Net soos wat die toneelspeler voor die mense optree, eintlik vir húlle optree, net so kan dit gebeur dat mense, kerkmense, ‘n gelowige ‘optrede’ begin gee vir die mense om hulle heen, vir die kerk en vir die wêreld. Dit gebeur so maklik – en die gevaar lê en loer vir almal van ons, broers en susters – dat ons toneel begin speel. En moenie fout maak nie, ons kan ons rol soms verbasend goed vertolk, maar die groot probleem is: die rol is nie jy nie! Die buitekant wat jy vertoon, is nie ‘n egte weerspieëling van die binnekant nie.  

Jesus gee vervolgens drie voorbeelde waarby die gevaar dreig dat mense die wette van die koninkryk slegs nakom om deur mense gesien te word.

In die eerste plek gee Hy die voorbeeld van liefdadigheid (verse 1-4): liefdadigheid dui in hierdie konteks op alle soorte dade van naasteliefde – hulp in nood, versorging van siekes, uitdeel van aalmoese ens. En hiervan sê Jesus vir die skare: “Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ‘n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen” nie. Natuurlik het niemand letterlik ‘n trompet geblaas of laat blaas nie. En tog het baie mense – op watter manier ook al – daarvoor gesorg dat hulle gesien word wanneer hulle liefdadigheid bewys. En dit, sê Jesus, is eintlik maar presies dieselfde as wanneer die trompet geblaas word om die begin van ‘n opvoering aan te dui. Toneelspelers het naamlik in daardie tyd die trompet laat blaas voordat hulle begin optree het, sodat hulle die mense se aandag kon kry. Net só sorg ‘toneelspelers’ in die geloof daarvoor dat mense wéét wanneer hulle ander in hulle nood help, wanneer hulle die siekes versorg, wanneer hulle aalmoese uitdeel… Terwyl Jesus soek na die barmhartiges, die reines van hart, die vredemakers ens. (gaan kyk maar na die saligsprekinge), waarsku Hy vir die toneelspelers, dáárdie mense vir wie godsdiens afspeel voor die oë van die medemense. Jesus het hierdie soort godsdienstigheid teëgekom – in die sinagoges en in die straatjies – en Hy waarsku die skare ernstig hiervoor.

In die tweede plek wys Jesus op die praktyk van gebed (verse 5-15) – en ook hier warrsku Hy vir die gevaar van mense wat graag deur ander gesien wil word. Hierdie mense is nie skaam om hulleself mense van gebed te noem nie; hulle is baie opgewonde wanneer hulle kan bid. Maar hulle staan graag en bid in die sinagoges, en op die hoeke van die breë strate waar daar besige verkeer is. Ons kan by die besige straathoeke moontlik dink aan die gebed op die tyd van die môre- en aandoffer: sommige mense het daarvoor gesorg dat hulle elke keer juis op hierdie verpligte uur op die strate is, sodat ander mense kon sien dat hulle selfs dán die gebedstye nougeset nakom.

In die derde plek wys Jesus ook nog op die praktyk van vas (verse 16-18) – vas, soos wat Jesus hier daaroor praat, is ‘n teken van berou oor ons sonde, en ‘n ondersteuning van ons gebed tot God. En ook hier waarsku Jesus dat ons dit nie vir die mense moet doen nie: “… moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas.” Jesus waarsku dus die skare dat hulle nie moet wees soos toneelspelers wat ‘n treurige rol vertolk nie, toneelspelers wat ‘n hartseer masker dra net om te kan wys watter rol hulle speel nie. Ook hier geld: geen toneelspel nie! 

Broers en susters, daar is dus geen deel van ons godsdiens, ons geloofslewe, wat vry is van die gevaar van toneelspel wat op mense gerig is nie. En so dikwels mis ons die gevaartekens, sien ons nie die gevaarligte flikker nie. Meer nog: so dikwels is ons bewustelik daarop uit om mense te beïndruk, om deur mense gesien te word. Maar hoor dan die woorde van Jesus in ons teks: “Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg.” Ons vertaling is nie heeltemal duidelik op hierdie punt nie; “hulle het hul loon weg” skep die indruk asof Jesus bedoel dat hierdie mense geen loon sal ontvang nie. Maar dit is nie wat Jesus wil sê nie.

Nee, die woord wat Jesus hier gebruik is ‘n tegniese uitdrukking wat dikwels gebruik is wanneer ‘n kwitansie uitgeskryf is. En dit het die betekenis gehad van “ten volle ontvang” of – soos wat ons vandag dikwels op kwitansies skryf – “BETAAL”. Jesus sê dus vir ons dat as ons die toneelspel van die geloof wil speel, ons ons loon reeds ten volle ontvang het! Van wie? Van die mense! En wanneer jy die eer van die mense ontvang het, moet dan nie meer die eer van God verwag nie. Nee, dan het jy jou betaling ontvang… ten volle! Dan staan daar op jou kwitansie: BETAAL! Wie vir die mense optree, moet tevrede wees met menslike eer. 

Gemeente, hiermee wil Jesus ons leer en oproep dat die ware godsdiens, die ware geloof, homself op Gód rig! Dit gaan daaroor dat, wanneer ons die wette van die koninkryk nakom, ons dit sal doen met ons oog gerig op ons Vader in die hemel. Ek kyk nie om my heen om te sien hoe mense reageer nie, ek soek nie menslike reaksie nie. Dit gaan daaroor dat ons Gód sal sien, en dat ons dan ook deur Hom gesien word. En God sien ons wanneer die mense nie by is nie. Hy sien ons in ons binnekamer, in die aand, in die nag. Hoe is ons agter die geslote deure van ons huise, hoe is ons wanneer niemand by is om te sien wat ons doen nie, hoe is ons in ons harte waar slegs God kan lees? – dít, gemeente, is die spannendste vraag vir elke gelowige… God keur die mense agter die verhoogskerms van die lewe, en dan blyk of hy ‘n toneelspeler vir mense is of ‘n ware gelowige, gerig op God. Geloof is daarom werklik Godsdiens – diens aan God! Dit gaan oor die verhouding tussen jou en die Here God, baie persoonlik en baie intiem. Hoe is jou verhouding met Hóm?

Jesus leer ons dat die oordeel oor die geloofslewe nie deur mense gevel word nie, en dat daardie oordeel ook nie val in die sinagoge of op die hoeke van die besige strate nie; nee, die Hére ondersoek en oordeel, en Hy doen dit in die stilte van elkeen se persoonlike lewe. Gemeente, mense se oordeel is beperk, hulle kan vir die grootste deel slegs oordeel op wat hulle sien – hulle sien iemand woon twee keer per Sondag die eredienste by, hulle sien iemand betaal getrou sy kerklike bydraes, hulle sien iemand is betrokke by een of meerdere kommissies, en hulle trek die konklusies: dit is ‘n kind van die Here. Maar die Here bepaal nie of jy sy kind is op grond van jou betrokkenheid en optrede in die openbare kerklike lewe nie. Nee, Hy kyk in die hart, in die verborgene, daar waar die werklike beraadslaginge en oorwegings afspeel. In die hart lê die diepste wortels van jou geloof in Jesus Christus, jou Verlosser, en daarna soek die Here. Hy soek nie ‘n paspoort vir die hemelryk met die lof van mense daarin nie, die Here herken vervalste paspoorte met een oogopslag. Nee, Hy soek ‘n geloofspaspoort met jou naam en jou getuienis daarin: Ek glo in die Drie-enige God, my Verlosser! My hart en lewe behoort slegs aan Hom! 

Broers en susters, ons erediensbywoning, ons betrokkenheid in die gemeente, ons finansiële bydraes, ons omgee vir mekaar – dit is allesbehalwe onbelangrik. Maar laat dit asseblief spruit uit die wortel van die geloof, vanuit die persoonlike verhouding wat jy met die Here het. Soek en bid in Christus vir daardie persoonlike verhouding; soek en bid deur die krag van sy Gees vir groei in daardie verhouding. En wanneer ons daardie persoonlike verhouding begin ervaar, as ons God se wonderlike weg in ons eie lewe begin raaksien, dan leer ons ook dat geloof nie iets is wat ons kan afdwing nie; ons kan ons kinders en jongmense nie forseer om gelowiges te wees nie. Nee, wanneer ons die persoonlike verhouding met die Here ken, dan leer ons om hulle geduldig en met liefde in te lei in die misterieuse weë van die Heilige Gees wat deur die verkondiging van die evangelie en deur gebed hierdie persoonlike band met God bewerk. Broers en susters, ywer vir hierdie persoonlike band met jou God, soek daarna om juis dit met mekaar te deel. Mag God dit aan elkeen van ons skenk!

In die tweede plek: die persoonlike geloof is nog geen privaatsaak nie. 

2. Die gevaar is groot dat ons persoonlike geloof nou as ‘n privaatsaak begin sien. Is dit nie wat Jesus hier leer nie? En meer as ooit word ons in ons tyd beïnvloed en gedwing om dit so te sien. Almal is geoorloof op ‘n persoonlike oortuiging – só sê die wêreld – maar dit moet buite die openbare lewe gehou word. Die geloof moet genoeë neem met die binnekamer. En die rede hiervoor is dat die wêreld God nie meer erken as God nie; waarom sou ons Godsdiens dan nog ‘n plek in die openbare lewe gee?

Maar gemeente, dit is nie wat Jesus hier leer nie, ook al mag dit moontlik so lyk. Jesus beklemtoon die belang van ‘n persoonlike geloof, maar dit is heelwat anders as om te sê dat daardie geloof slegs tot ons privaatlewe beperk moet bly. En dit blyk ook duidelik as ons weer ‘n slag kyk na die drie voorbeelde wat Jesus in hoofstuk 6:1-18 gebruik.  

In die eerste plek: “Wanneer jy dan liefdadigheid bewys…” Jesus sê nie: “As jy liefdadigheid bewys” nie; nee, ‘wanneer’: Hy gaan uit van die feit dat sy volgelinge liefdadigheid aan hulle naaste bewys, Hy aanvaar eenvoudig dat God se kinders uitreik na mense om hulle heen. Maar Hy leer ons wel dat dit in stilte moet gebeur. Ons mag nie op ons vingers aftel hoeveel helpende dade ons verrig het nie, en ons mag ook nie selfvoldaan ons hande vryf nie. Laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie – natuurlik sal jy by die doen van liefdadigheid beide hande nodig hê, maar laat die hande mekaar nie agterna goedkeurend streel nie.

Laat jou barmhartigheid vir die Here wees, in alle stilte en nederigheid, sonder ophef voor die mense of onsself; broers en susters, waak ook vir daardie subtiele maniere waarop ons tog daarin slaag om die ander te laat weet watter goeie dinge ons gedoen het. Laat ons vanuit ons persoonlike verhouding met die Here die geloof uitleef na die naaste in ware liefdadigheid. En dit sluit alle mense in, almal wat die Here op ons pad plaas. Liefdadigheid is nie beperk tot vriende nie, ook nie tot hierdie gemeente nie; nee, ook die motorwag en die arm bedelaar mag baat vind by my persoonlike verhouding met die Here.  

In die tweede plek: “Wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is…” Dus, gebed moet voor die aangesig van God plaasvind – in jou binnekamer. Nou, as óns die woord ‘binnekamer’ hoor, dan dink ons onmiddellik aan ‘n groot huis met baie kamers, waar elke persoon – ook die kinders – sy eie slaapkamer het, sy eie privaat vertrek. Maar die meeste mense in Jesus se tyd het slegs oor ‘n kleinerige eenslaapkamerwoning beskik. Nee, Jesus gebruik hier ‘n woord wat dui op ‘n voorraadskuur of ‘n voorraadkas. By elke huis is daar êrens ‘n bêrekas of ‘n spens wat nie as leefruimte gebruik word nie. Dáárnatoe moet jy gaan! En wanneer jy die deur agter jou toemaak, staan jy in donkerte. Maar in die donkerte is alles lig voor God; daar kan jy, sonder ‘n ydele herhaling van woorde, tot God bid. Daarvoor hoef jy nie ‘n eie kamer te hê nie. ‘n Klein, afgeslote ruimte, waar daar geen deurgaande verkeer van mense of huisgenote is nie, is goed genoeg om die hemel te kan bereik.

Maar gemeente, my gebed in die kas beteken nog nie dat gebed ‘n privaatsaak is nie. Kyk maar na die gebed wat die Here Jesus vervolgens vir sy leerlinge leer – dit het alles te make met die wêreld waarin hulle geleef het: laat U Naam geheilig word, nie net hier in hierdie donker voorraadkas nie, maar in die hele wêreld; laat U koninkryk kom, tot aan die eindes van die aarde; laat alle mens U wil doen; gee óns vandag ons daaglikse brood, vergewe óns skulde, lei óns nie in versoeking nie. Sien u die wêreldomspannende krag van die gebed? Vanuit hierdie diep intieme, een-tot-een gesprek met my God kom elke aspek van die wêreld aan die orde, is daar niks wat ons gebedsaandag ontgaan nie. Die gebed is persoonlik, maar nie privaat nie; dit omvat alle dinge.  

In die derde plek: “… as jy vas, salf jou hoof en was jou gesig…” Vas, soos ek reeds gesê het, is ‘n teken van berou oor ons sondes, ‘n daad van kleinheid en verootmoediging voor die Here. Dit hoef die mense nie te sien nie… Maar hoe kan dit dan gekontroleer word? Wel, dit hoef nie gekontroleer te word nie, dit is immers sigbaar aan die uitwerking daarvan. Wie homself klein en ‘n sondaar voor God weet – en dit is in werklikheid wat dit beteken om te vas – hy leer ook om in liefde en vergewingsgesindheid met sy naaste om te gaan.  

Sien u, broers en susters, in al drie voorbeelde gaan dit oor die persoonlike verhouding met die Here, maar dit bly daarom nog nie beperk tot die binnekamer nie. Wie in harmonie met sy God lewe, kry oog vir die wêreld om hom heen. En dan hoef die oog van die wêreld nie op hom te wees nie, dit is vir die gelowige nie meer belangrik nie om raakgesien te word nie, maar hy kry wel oog vir die wêreld.  

En gemeente, wie se godsdiens op dié manier gefokus is – die oog gerig op God met ‘n gepaardgaande liefde vir die wêreld – daardie gelowige mag van God loon verwag. En  hier sal by uitstek blyk dat die persoonlike geloof nie ‘n privaatsaak is nie, want God beloon persoonlike Godsdiens in die openbaar van sy publieke koninkryk: “… jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde”. Wie die eer van mense soek, sal die eer van mense kry – beperk en verganklik. Maar wie God dien, sal die eer van God ontvang, en almal sal dit sien!

En dan ontvang ons ‘n ryk loon! Die loon vir hulle wat in stilte gehelp het, is dat aan hulle barmhartigheid bewys sal word (Matt. 5:7); die vergeldiging vir hulle wat in afsondering gebid het, vol honger en dors na die geregtigheid, is dat hulle versadig sal word (5:6); die loon vir hulle wat ongemerk gevas en getreur het, is dat hulle vertroos sal word (5:4); die loon vir hulle wat in sagmoedigheid versorg het, is dat hulle die aarde sal beërwe (5:5). Die persoonlike geloof word dus in die openbaar vergelde, maar meer nog: u mag weet dat die openbare vergelding ook baie persoonlik is… Vir u, vir jou, vir my… 

My broer en my suster, soek na die Here! Soek na die persoonlike verhouding met Hom. Oefen daardie verhouding, beoefen dit. Maak tyd sodat jy in bybelstudie en gebed gemeenskap met die Here kan beoefen. Persoonlike geloof – elkeen van ons moet dit hê. Persoonlike geloof – Christus wil dit gee. Daarvoor het Hy gekom. Bid, en vir jou sal gegee word.

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 135:1, 2, 8
Wetslesing
Sing Ps. 142:1, 2, 4 en 6
Gebed
Lees: Mattheus 6:1-18
Kollekte
Sing Ps. 96:4 en 5 (loof die Here vir sy gawes wat ons nou aan Hom mag teruggee)
Teks:  Mattheus 6:2b en 4b (hierdie sinne is ‘n refrein wat ons ook in verse 5b & 6b terugvind, asook in verse 16b en 18b).
Preek
Amenlied Ps. 63:1-3
Gebed
Slotsang Ps. 42:1, 5 en 7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)