Die Here Jesus leer ons om die spieël van sy woord eers voor onsself te hou…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-06-03
Teks: 
Matthéüs 7:12
Preek Inhoud: 

Matthéüs 7:12

Ds HH van Alten - Sondag 3 Junie 2007

Lees: Matthéüs 7:1-12
Teks: Matthéüs 7:12
Sing: Sien liturgie

Tema: die Here Jesus leer ons om die spieël van sy woord eers voor onsself te hou…

  1. Eers my bekering
  2. Die pêrels is myne
  3. Gebruik die hulp van die Vader

Broers en susters, gemeente van Jesus Christus,

Ons het gekom by die laaste hoofstuk van Jesus se bergrede, Mattheus 7. En dit is sekerlik die hoofstuk met die mees onsamehangende struktuur, spesifiek die gedeelte waarna ons vandag wil kyk – verse 1-12. Jesus gebruik ‘n verskeidenheid van beelde wat met die eerste oogopslag niks met mekaar te make het nie. Dit gaan oor splinters en balke, honde en varke, brode en klippe, visse en slange. Waar lê die verbinding tussen al hierdie beelde? Is daar ooit ‘n verbinding?

Wel, gemeente, in ons teks – vers 12 – vind ons ‘n soort afsluiting of konklusie van hierdie hele gedeelte, wat met die woordjie ‘dan’ (of ook ‘dus’) aangedui word: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.” Terloops, hierdie woordjie ‘dan’ of ‘dus’ vind ons ook as konklusie tot die gedeelte net hiervoor, hoofstuk 6:25-34, en ook as konklusie tot die gedeelte net hierna, hoofstuk 7:13-27. As ons dus die verbinding tussen die verskillende dele van verse 1-12 wil raaksien, moet ons waarskynlik by die konklusie in vers 12 gaan soek; dáár sal ons waarskynlik die antwoord vind.  

Vers 12 gaan oor ons houding teenoor ons naaste. Hoe gaan ek met my naaste om, hoe behandel ek hom? Geen onbelangrike vraag nie, want – sê Jesus – daaroor gaan dit in die wet en die profete. En, broers en susters, wat Jesus ons dan leer, is: om te kan sien hoe ons met ons naaste behoort om te gaan, moet ons eers na onsself kyk: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen…” Die vraag moet beantwoord word: hoe wil ek hê moet die mense teenoor my optree? Dus, dan moet ek eers myself bekyk … deur die spieël van God se woord. Wie homself daarin leer ken, wie leer ken wie hy voor God is en hoe God hóm behandel, leer ook hoe om op die regte manier met sy naaste om te gaan.

Nou, gemeente, hierdie boodskap van vers 12 is die konklusie op alles wat Jesus in die voorafgaande verse gesê het. En hierby wil ons vandag stilstaan, as ek aan u die Woord van God verkondig onder die tema:

Tema: die Here Jesus leer ons om die spieël van sy woord eers voor onsself te hou…

  1. Eers my bekering
  2. Die pêrels is myne
  3. Gebruik die hulp van die Vader

1. Ek het aan die begin van die reeks oor die bergrede gesê hoe bekend baie van Jesus se uitsprake is, selfs onder ongelowiges. Die wêreld gebruik talle van Jesus se uitsprake as slagspreuke – dikwels sonder om die konteks in gedagte te hou, en dikwels sonder om te weet waar hierdie uitsprake eintlik vandaan kom. En min uitsprake van die Here Jesus is so bekend as sy uitspraak in vers 1: “Moenie oordeel nie…” Veral in ons tyd is dit ‘n baie gewilde uitspraak.

Ons leef naamlik in ‘n wêreld, broers en susters, waar die ‘ek’ sentraal staan. Elke mens eis sy eie ruimte en vryheid op; elke ‘ek’ staan op sy regte – ongelukkig dikwels ook in die kerk. Die gevolg hiervan is natuurlik ‘n groot mate van toleransie. Want net soos wat ek my ruimte en vryheid en regte opeis, só moet daardie persoon dit ook kan doen, en daardie een, en daardie een. En wie is ek dan om iets oor hom te sê? En wie is hy om iets oor my te sê? Ons sien dus ‘n groot mate van verdraagsaamheid – mense gee mekaar die vryheid om te doen en te laat wat hulle wil, juis sodat hulle sélf ook na goeddunke hulle lewens kan invul. Hierdie gees van verdraagsaamheid en toleransie word dikwels verdedig en verwoord met die uitspraak van Jesus in vers 1: “Moenie oordeel nie…” “Moenie iemand anders oordeel nie, en meer nog: moet asseblief ook nie my oordeel nie…” 

Maar gemeente, is dit wat Jesus hier bedoel? Bedoel Hy dat ons moet afsien van elke sedelike oordeel, dat ek ‘n ander geensins tereg mag wys oor sy sonde nie, dat ek hier in die gemeente niemand mag vermaan nie? Dit kan mos nie wees nie… As ons geensins toegelaat was om te oordeel nie, hoe sou ons dan ‘n onderskeid kon maak tussen ‘n splinter en ‘n balk – waaroor dit net hierna in vers 2 gaan. Om te kan sê: dit is ‘n splinter en dit is ‘n balk – dit vra tog oordeelvorming!?

Nee, gemeente, Jesus wil ons nie elke oordeelvorming ontneem nie. Maar Jesus wil ons wel leer waar die oordeel moet begin! Met hierdie woorde rig Jesus my aandag op myself! En Hy doen dit nie omdat Hy besig is om die vryheid van my naaste te beskerm nie, Hy doen dit nie omdat ek geen oordeel oor die doen en late van my naaste mag uitspreek nie. Nee, Hy doen dit omdat Hy besorg is oor my! Hy is besorg dat die oordeel wat ek oor ander uitspreek dalk téén myself gekeer kan word; Hy vrees dat ek dalk die slagoffer van my eie oordeel kan word; Hy wil my beskerm teen die oordeel wat kom.  

Want, broers en susters, luister weer mooi na vers 1. Vers 1 is nie klaar as ons net sê: “Moenie oordeel nie…” Nee, daar is ‘n vervolg: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” En dan gaan dit vir Jesus by hierdie laaste woorde oor die oordeel van God wat kom. Ja, daar sál geoordeel word in hierdie wêreld. Ook ek, met my doen en late, sal onder God se gerig deurgaan. En juis omdat dit Gód is wat elke mens, ook myself, oordeel, daarom moet elkeen eers op homsélf let! Ja, in hierdie slegte wêreld, en selfs in die kerk, is daar altyd wel iemand wat ek kan oordeel. Dit is so maklik – ek is seker daar waar jy sit, kan jy sonder moeite iemand raaksien wat jy sal kan veroordeel. Maar, gemeente, ons kan onsself hierdie luukse nie veroorloof nie, omdat ons sélf onder die oordeel van God verwerplik is.  

In die vervolg, verse 2-4, werk Jesus hierdie gedagte uit. En dan blyk weer dat dit vir Jesus nie gaan oor die vryheid van die mens om te doen en te laat wat hy wil, sonder dat hy beoordeel mag word nie. Nee, Jesus wil ons nie verhoed om te oordeel nie. Die gedagte is daarom ook nie: bly weg van die oordeel, dan loop jy die minste risiko, dan is jy veilig. Nee, Jesus wil sy luisteraars en ons leer: voordat jy begin om jou naaste te veroordeel, kyk eers na die oordeel waaronder jy gaan kom; stel eers jousélf voor die aangesig van God wat elke mens regverdig gaan oordeel, en maak as’t ware eers daar met Hom reg.

Jesus wil hê dat ons met beoordeling en oordeel by onsself moet begin: “… waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” En, broers en susters, natuurlik moet die splinter uit die oog van my naaste gehaal word; natuurlik moet ook sy lewe voortdurend volgens die wil van God vernuwe word. Maar ek kan so besig raak met sy splinter wat ek wil uithaal, dat ek nie eers meer my eie balk raaksien nie. Nee, nie eers die splinter van my naaste nie; eers is dit my beurt. Eers is dit ek en my balk voor God en sy oordeel.  

Gemeente, in die oordeel moet ons dus die volgorde reg hou! “Geveinsde (toneelspeler), haal éérs die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.” Splinter en balk is hier aanduidings van iets wat verkeerd is. Maar hoekom betrek Jesus hierby die beeld van die oog? Hoekom is die splinter en die balk in die oog te vind? Wel, gemeente, die oog is die liggaamsdeel waarmee ‘n mens na die broeder kyk: dit is dus die simbool van die verhouding tussen my en my broeder. En ek sien iets by my broeder wat nie heeltemal reg is nie, iets wat verander moet word. Maar op die oomblik as ek iets daarvan wil sê, moet ek mooi raaksien dat my sig op hierdie splinter by my broeder belemmer word deur die balk in my eie oog. En die balk is groter… Daarom moet eers die balk verwyder word! Eers ek! Nie in ‘n egoïstiese en individualistiese sin nie: eers ek! Nee, in ‘n bybelse sin: eers my bekering, eers my skuldbelydenis voor die Here wat elke mens regverdig sal oordeel.  

En dán, broers en susters, dán kan ek my broeder help. Want dan benader ek hom nie meer met my veroordelende oog nie, maar dan benader ek hom met ‘n begenadigde hart, ‘n hart wat self die vergewende genade van die Here ervaar het! Die oog waaruit die balk verwyder is, kan helder sien deur nederigheid en begrip en liefde. Só ‘n oog kan help; nou word my broeder werklik my broeder vir wie ek kan bystaan. Wie leer om eers self van die genade van die Here te lewe, hy kan barmhartig en sagmoedig wees in die omgang met die gebreke van ‘n ander.

Broers en susters, laat dit die manier bepaal waarop ons mekaar in die gemeente verder help. Ons word nie verbied om mekaar se doen en late te oordeel nie; inteendeel, ons moet dit doen, ons moet mekaar se lewens weeg. Laat ons nie in ‘n wêreldse toleransie verval waar ek maar net moet stilbly, en elkeen sy gang kan gaan nie. Maar eers plaas ek my eie lewe voor die aangesig van God, eers sien ek wat eintlik sy oordeel oor my moet wees – ‘n geweldige balk wat die ewige dood verdien. Eers sien ek in verwondering sy vergewing oor my deur die werk van Jesus Christus. En dan, ja dan kan ek in liefde en met baie begrip my broeder en suster benader. Dan wíl ek dit ook doen, want dit gaan oor sy en haar verhouding met die Here. As elkeen van ons ons lewens só voor die Here plaas, sal u waarskynlik iets opmerkliks in die gemeente sien gebeur: waar die beoordeling nou soms hard en dikwels agterlangs gebeur, sal dit dan baie openliker maar ook baie sagter gedoen word. Dit is heilsame beoordeling van mense wat self van genade lewe.

Ons let vervolgens daarop dat die pêrels myne is. 

2. In vers 6 kry ons ‘n uitspraak van die Here Jesus wat oënskynlik geen verband hou met die vorige of met die volgende uitsprake nie. Sommige meen daarom ook dat hierdie woorde later deur die skrywer of bewerker van Mattheus se evangelie ingevoeg is. Ons gaan egter uit van die betroubaarheid van die woorde van Jesus, en daarom aanvaar ons dat hierdie woorde juis op hierdie plek en in hierdie konteks deur Jesus uitgespreek is. Maar daarmee word dit nog nie makliker om ‘n goeie verklaring vir hierdie woorde te gee nie. Wat is die verband met die res van hierdie gedeelte?

Wel, gemeente, die verband lê in die boodskap van die voorafgaande woorde van Jesus (verse 1-5). Daar het Jesus ons gewaarsku vir ‘n beoordeling van ander wat uiteindelik teen onsself gekeer kan word. Ons moet dus met die oordeel by onsself begin. Net so waarsku vers 6 ons nou vir ‘n aksie wat kan lei tot ons eie nadeel: “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.” Sien u, hier is dus sprake van ‘n aksie wat uiteindelik teenproduktief kan werk. Met ander beelde wys Jesus dus weer op die gevaar dat ons ander mense iets wil voorhou en dat ons daarby juis self te gronde gaan. 

Die beelde wat Jesus in hierdie vers gebruik, moes vir die skare redelik vergesog geklink het. Maar daarin lê dan ook hulle krag. Kom ons kyk kortlik na die twee beelde wat Jesus gebruik. Eers praat Jesus van ‘wat heilig is’. Nou, gemeente, die heilige dinge (die heilige gawes) het by die priesters behoort. Dit het so gewerk dat alles wat die Israeliete gebring om aan die Here te offer, en wat nie op die altaar verbrand is nie, vir die priesters bestem was (lees maar Lev. 7:30-34). Die Here het hierdie heilige gawes, wat eintlik vir Homself bestem was, aan die priesters geskenk om op ‘n heilige plek daarvan te eet. Geen priester sou dit oor sy hart kry om hierdie heilige geskenk van die Here buite by die vullis te gooi, waar die veragte en onrein straathonde dit kon eet nie. Want dit was juis húlle voorreg, as priesters, om van hierdie heilige gawes te eet; daarom het hulle dit ook vir hullesélf gehou. Die tweede beeld wat Jesus gebruik moes net so vreemd in die ore van die skare geklink het. In Israel was varke naamlik onrein diere, niemand het hulle aangehou nie. Nog minder sou iemand sy goeie kos vir die varke as voer gegee het, om dan nie eens te praat van ‘n string egte pêrels nie. Dit was absurd! Nee, enige vrou het haar string pêrels sélf gedra.  

Beide hierdie vergesogte beelde het dus dieselfde boodskap: as priester hou jy die heilige gawe vir jouself, en as vrou dra jy die string egte pêrels self! Dit gaan dus nie soseer oor wie met die honde en die varke bedoel word nie. Die honde en die varke dien in werklikheid slegs as sterk kontrasbeelde; die vraag is nie: vir wie is die heilige dinge en die pêrels nie bestem nie; maar die vraag is eerder: vir wie is dit wél bestem?

Broers en susters, hierdie gedagte sluit baie goed aan by die gedagtegang in verse 1-5 waaroor dit in die eerste punt gegaan het. In hierdie eerste vyf verse het Jesus mense aangespreek wat goed en kwaad baie duidelik kan onderskei; hulle ken die geregtigheid van God se ryk, sodanig dat hulle selfs die splinter by die broeder kan raaksien. Hulle moet hierdie kennis van die geregtigheid egter nie eers op ander nie, maar op hullesélf toepas deur eers die balk uit eie oog te verwyder. Nou, presies hierby sluit vers 6 aan: dra jou sierade sélf – en die sierade verwys dan na die gebooie wat Christus gegee het. Christus het nie sy sierade, sy gebooie, vir ons gegee om hulle voor ander te werp nie, dit is nie ons eerste taak om hulle aan ander voor te hou nie. Nee, Christus het sy gebooie vir ons gegee sodat ons dit sélf moet nakom en onssélf daarmee moet tooi.  

En Jesus sê hierdie dinge nie om dowe neute nie. Immers, in Israel was daar baie mense wat die wet aan ander voorgehou het sonder om sélf daarvoor te buig; hulle het die spieël van die wet selfvoldaan vasgehou sodat ánder daarin kon kyk, maar self het hulle nie daarin gekyk nie. Self was hulle soos die Fariseër wat die Here gedank het dat hy nie soos die tollenaar is nie. Maar, gemeente, Christus het die juwelekisse met sy gebooie nie vir ons gegee om dit voor ander se voete te gooi nie. Nee, Hy dit óns gegee, vir elkeen persoonlik om homself te tooi deur gehoorsaamheid daaraan. Dit is ‘n heilige gawe en ‘n sieraad om Christus se gebooie te ken en te verstaan. Laat ons dit dan ook sélf nakom. Anders, ja anders sal die einste mense wat deur ons met God se gebooie gegooi is, omdraai en ons ondergang beteken. Dan sal plaasvind wat Jesus sê in Mattheus 12:41 en 42: “Die manne van Nineve sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en – meer as Jona is hier! Die koningin van die suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en – meer as Salomo is hier.” Die einste mense waarvan ons in ons hoogmoed meen dat hulle die gebooie nodig het, sal ons oordeel as ons nie self daardie gebooie nakom nie. Gemeente, ter wille van ons omgang met ons naaste, ter wille van die eise wat ons aan hulle stel, moet ons eers na onsself kyk: doen ek Christus se gebooie? Versier ek myself met sy gebooie? Ja? Dán gee dit ook geloofwaardigheid en aansporing waneer ek dit aan ander voorhou. Maar eers sélf…

Ten slotte nog die oproep: Gebruik die hulp van die Vader. 

3. Wie God se ryk wil binnegaan, se oë moet dus eers geopen word vir die balk in sy eie oog, en vervolgens moet hy hierdie balk verwyder en in die plek daarvan Christus se gebooie nakom – dit is wat ons tot dusver gesien het. Maar hoe verkry ons dit, broers en susters? Want dit is nie iets wat uit onsself kom nie; uit onsself is dit maklik om die foute van die ander uit te lig, en om God se gebooie voor die ander se voete te gooi. Maar self? Gemeente, Christus wys ons op die enigste manier hoe ons hierin kan slaag: die gebed tot die hemelse Vader. Sonder sy hulp sal geen balk uit ons oog verdwyn nie, en sal sy gebooie nooit ‘n sieraad om ons hals word nie.

En daarom roep Jesus ons op ‘n baie indringende wyse op om tot die Vader in die hemel te bid. Tot drie keer toe herhaal Hy die oproep, elke keer op ‘n ander manier: bid, soek en klop. Jesus maak ons hier bewus van ons absolute afhanklikheid van die hemelse Vader. As daar, nadat Jesus gewys het dat die beoordeling eers by onssélf begin, en dat ons eers sélf die gebooie moet nakom, as daar nog enige hoogmoed oor was, dan word dit nou weggeneem. Ja, dis waar, ons moet by onsself begin, maar ons kan nie. Ons het die hemelse Vader daarby nodig. En daarom: bid tot Hom, soek Hom, klop op die deur van sy ryk.

Maar, broers en susters, dit is nie net: bid, soek en klop nie. Nee, aan hierdie dringende oproep is daar die drievoudige belofte verbonde: en vir julle sal gegee word, en julle sal vind, en vir julle sal oopgemaak word. Die betroubaarheid van hierdie drievoudige belofte hang saam met die aard van die hemelse Vader. Reeds sondige mense, soos ons, weet hoe om vir ons kinders goeie dinge te gee. Geen ouer sal, as sy kind hom ‘n brood vra, aan hom ‘n klip gee nie; geen ouer sal, as sy kind ‘n vis vra, aan hom ‘n slang gee nie. Hoeveel te meer sal ons hemelse Vader dan nie goeie dinge gee aan die wat Hom bid nie!  

Gemeente, in ons soeke na die geregtigheid van God se koninkryk – lees maar vers 33: soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid – in hierdie soeke moet ons nie eers na ander wys en kyk nie. Ons kan so besig wees met die heil van die ander – en dikwels baie selfvoldaan – dat die gevaar dreig dat ons self die bus mis. Dit is ‘n gevaar wat Paulus ook raakgesien het, sodanig dat hy in 1 Korinthiërs 9:27 sê: “… ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”

Broers en susters, ons moet allereers sélf ingaan, en sélf die oordeel ondergaan deur bekering, en sélf die gebooie van Christus nakom. Maar – en dit is die wonder – ons hoef dit nie self te doen nie. Ons mag in gebed tot God gaan om te vra dat Hy hierdie oproep van Christus in ons sal uitwerk. En Hy doen dit deur Christus! Christus wat ons in bekommernis leer om die spieël van sy woord eers voor onsself te hou, Hy is die Een wat dit in ons bewerk. Hy het die oordeel ondergaan, sodat ons van die oordeel vrygespreek word; Hy het Homself in volmaakte gehoorsaamheid met God se gebooie getooi, sodat ons onsself met sy verdienste kan tooi. Bid hiervoor, soek hierna, hou aan klop. En dit sal jou geskenk word.

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 30:3, 7 en 8
Wetslesing
Sing Ps. 17:1-3
Gebed
Lees:  Mattheus 7:1-12
Sing Skr. 17:1, 5 en 6
Teks: Mattheus 7:12
Preek
Amenlied Skr. 19:3-7
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 44:2-4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)