God is altyd dieselfde, en daarom ook die patroon vir sy omgang met mense!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-06-03
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Verwysing: 
HK 27b-0 (2007)
Preek Inhoud: 

Sondag 27b

Ds HH van Alten - Sondag 3 Junie 2007   

Lees: Genesis 17:1-14, Galasiërs 3
Teks: HK Sondag 27 (v/a 74)
Sing: Sien liturgie

Tema: God is altyd dieselfde, en daarom ook die patroon vir sy omgang met mense!

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“Moet die jong kinders ook gedoop word?” – dit is die laaste vraag wat die Kategismus in verband met die doop stel. “Maar natuurlik moet die jong kinders ook gedoop word! Dit is mos hoe ons dit in ons kerke doen, en hoe ons dit binnekort weer gaan doen.” Die Kategismus se vraag mag vir ons moontlik effens oorbodig klink.

Maar, broers en susters, die Kategismus stel hierdie vraag nie om dowe neute nie. In die tyd waarin die Kategismus opgestel is, het die kerke wat uit die Reformasie ontstaan het naamlik te make gekry met die sogenaamde Wederdopers. Dit was ‘n groep wat aanvanklik saam met die Reformasie gegaan het, maar wat geleidelik begin voel het dat die reformatore nie ver genoeg gaan in hulle hervormingswerk nie. Volgens die Wederdopers moes die breuk met die Rooms-Katolieke Kerk baie radikaler wees, en gevolglik het hulle die kerke van die Reformasie verlaat en hulle radikale idee’s deurgevoer. En een van hierdie idee’s was dat die doop eers bedien kon word wanneer iemand wedergebore en bekeer is. Klein kindertjies kon nog nie glo nie, en het daarom nog buite die heilige gemeente van God gestaan – so het die Wederdopers geglo. Teen die agtergrond van hierdie stryd in die 16de eeu, is v/a 74 van die Kategismus geen oorbodige luukse nie.  

En gemeente, ook vir vandag is hierdie vraag geen oorbodige luukse nie. Want die gedagtes van die Wederdopers is vandag nog springlewendig in kerke en groepe om ons heen. Ook ons word hiermee gekonfronteer. En die vraag is dan: ken ons nog die bybelse gronde vir die kinderdoop? Ken ons nog die skriftuurlike antwoord op die vraag: Moet die jong kinders ook gedoop word? Weet jy nog wat om te antwoord as iemand teenoor jou opmerk dat die Nuwe Testament nêrens van die kinderdoop praat nie?

Kom ons luister vanmiddag saam na God se Woord om bevestig te word in ons belydenis dat ook die jong kinders gedoop moet word. Die tema vir die preek is:

God is altyd dieselfde, en daarom ook die patroon vir sy omgang met mense!

Ek wil hierdie tema vervolgens uitwerk deur na God se omgang met mense – sy verbond, dus – deur die loop van die geskiedenis te kyk: ons kyk agtereenvolgens na God se verbond met Adam en Eva, met Abraham, met die volk by die Sinai, en uiteindelik na die nuwe verbond in Jesus Christus. Kom ons begin by Adam en Eva in die paradys.  

* Reeds in die paradys het God in verbondenheid met Adam en Eva gelewe; dus, reeds voor die sondeval was daar ‘n verbondsverhouding tussen God en die mens. God het die inisiatief geneem om die mens, wat Hy na sy beeld en gelykenis gemaak het, in ‘n verhouding tot sy Skepper te plaas. Dit was ‘n verhouding waarin God vir die mens heerlike beloftes van lewe en vrede geskenk het – soos blyk uit die boom van die lewe in die middel van die tuin; dit was ‘n verhouding waarin God van die mens gevra het om Hom, en Hom alleen, te dien en te gehoorsaam – soos blyk uit die gebod om nie van die boom van kennis van goed en kwaad te eet nie; dit was ‘n verhouding waarin God duidelik laat blyk het dat Hy enige ongehoorsaamheid nie sal duld nie – soos blyk uit die dreiging in Genesis 2:17: “… want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” En dit was ‘n verhouding waarin Adam en Eva se kinders gedeel het – soos blyk uit die skeppingsopdrag om vrugbaar te wees en te vermeerder.

Hier is dus sprake van ‘n egte verbond tussen God en die mens.  

Dikwels word hierdie verbond die ‘werkverbond’ genoem. Hierdie term word gebruik omdat mense van mening is dat Adam deur sy gehoorsaamheid – wat op daardie stadium nog volmaak was – hierdie verbond kon hanfhaaf en só die belofte van ewige lewe kon verkry. Maar gemeente, die term ‘werkverbond’ is nie een wat ons op Skriftuurlike gronde kan handhaaf nie. In die verbond van God met Adam en Eva het dit nie oor ‘n werk-loon verhouding gegaan nie. Nee, reeds in die paradys was God se verhouding met die mens ‘n bewys van sy genade, ‘n genadebewys wat die Here met geloof en liefde beantwoord wou hê. Want reeds in die paradys het dit vir die Here oor ‘n intieme verhouding tussen Homself en mense gegaan. Geen saaklike verhouding tussen werkgewer en werknemer nie; nee, ‘n egte liefdesverhouding. En natuurlik het die geloof en liefde van die mens vir sy God uitgekom in gehoorsaamheid aan God se wil, die gebod wat God gegee het. Maar die grondtoon van die mens se reaksie op God se genade, was geloof en liefde – reeds in die paradys… 

Tydens die Sinode van Dordt in 1618/19 was juis dit een van die strydpunte wat die gereformeerdes met die Arminiane gehad het. Volgens die Arminiane was God se aanvanklike eis in die paradys volmaakte gehoorsaamheid aan die Wet. Ná die sondeval kon die mens ongelukkig nie meer hierdie eis nakom nie. Gevolglik – so het die Arminiane beweer – het God sy Seun gestuur om hierdie eis na te kom. Nadat die Seun dít gedoen het, was dit vir God moontlik om nou ‘n nuwe verbond met die mens aan te gaan waarin Hy nuwe – en laer – eise gestel het, naamlik geloof en onvolmaakte gehoorsaamheid. Die mens kon dus nie meer die volmaakte gehoorsaamheid volbring nie; daarom stel God laer eise: geloof en onvolmaakte gehoorsaamheid – lees maar Dordtse Leerreëls VD 2:4. Vir die Arminiane is geloof dus iets van ná die sondeval. Maar nee, broers en susters, reeds in die paradys wou God gelóóf as antwoord op sy genade en sy beloftes ontvang. Reeds in die volmaakte begin wou God gelowige oorgawe by die mens sien, gelowige oorgawe as antwoord op sy genadige inisiatief om in verhouding met die mens te lewe.

Dus, gemeente, baie belangrik: hou die basispatroon vir die verbond vas, wat reeds in die paradys bestaan het, ‘n basispatroon wat nie deur die sondeval verander word nie. Ja, die mens het verander – daaroor is geen twyfel nie. Maar die God wat sy verbond met mense sluit, het nie verander nie. Sy verbond met die mens ly ook nie skipbreuk ná die sondeval nie; God het nie skielik nodig om na plan B oor te spring nie. Nee, Hy bly in sy verhouding tot mense dieselfde – dieselfde liefdevolle God wat uit genade met mense en hulle kinders wil omgaan, dieselfde liefdevolle God wat geloofsoorgawe aan Hom as antwoord eis, en dieselfde liefdevolle God wat in toorn uitbreek wanneer sy liefde vertrap word! Hou hierdie patroon vas…

Kom ons kyk vervolgens na God se verbond met Abraham. 

* In Genesis 12 lees ons dat die Here Abraham geroep het uit Ur van die Chaldeërs om met hom sy verbond te sluit. Die Here kies dus vir Abraham, om deur middel van hom sy volk verder te bou, sy volk waaruit uiteindelik die Verlosser gebore sou word. En met hierdie Abraham sluit God sy verbond.

Let wel, gemeente, dit is geen nuwe verbond wat die Here met Abraham sluit nie; nee, dit is eenvoudig ‘n voortsetting van die verhouding wat die Here van die begin af met die mens gehad het. En daarom sien ons hier ook dieselfde grondpatroon as in die paradys. Lees maar ‘n slag Genesis 12, 15 en 17 – dit is een en al verbondstaal. Kom ons kyk of ons vanuit hierdie hoofstukke dieselfde grondpatroon kan raaksien. 

In die eerste plek sien ons dat die verbond die Here se inisiatief is: “Ek wil my verbond sluit tussen My en jou…” (17:2). Dit is geen voorstel wat die Here aan Abraham maak nie, dit is geen aanbod nie; nee, dit is God se soewereine ingrype in die lewe van Abraham, waarop Abraham slegs kan reageer deur met sy aangesig op die grond te val (17:3). Verder sien ons dat die Here beloftes aan Abraham gee, spesifiek die beloftes van ‘n groot nageslag (17:4-7) en van die land Kanaan as besitting (17:8). En dan sien ons ook nog die oproep van die Here aan Abraham om opreg voor sy aangesig te wandel (17:1). En, broers en susters, wat is dan Abraham se reaksie op hierdie verbond? Hoe reageer hy op God se beloftes? Deur te glo! Abraham het in die Here geglo, en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken (15:6, lees ook maar ‘n slag Romeine 4). Geloof – presies die antwoord wat God wou hê. Gelowige oorgawe van ‘n man wat – menslike gesproke – in die grootste onsekerheid verkeer het: waarheen het God hom gevat? Hoe moes daar nog ‘n kind gebore word uit die afgetakelde liggame van hom en Sara, om nie een te praat van ‘n groot volk nie? En tog het Abraham homself in geloof aan God oorgegee.

Sien u, al die elemente van die verbondspatroon wat ons alreeds in die paradys raakgesien het, kom hier weer na vore – God se inisiatief, sy beloftes, sy oproep, die mens se geloofsantwoord. 

En, gemeente, wie word by hierdie verbond ingesluit? Wie is deel van hierdie verbond? Wel, dit word duidelik wanneer die Here ten slotte aan Abraham nog die teken van sy verbond gee, naamlik die besnydenis. Al die manspersone van Abraham se huis moes besny word. En vir die toekoms het gegeld dat alle pasgebore babaseuntjies op agt dae besny moes word: “So moet dan my verbond in julle vlees wees as ‘n ewige verbond” (17:13). Ook die kindertjies is dus deel van die verbond!

Maar hoe kan dit dan wees? Is geloof dan nie die antwoord op God se verbond nie? Hoe kan pasgebore kindertjies die antwoord van die geloof gee? Wel, gemeente, belangrik is hier om te besef dat die verbond God se inisiatief is, onafhanklik of mense glo of nie. Natuurlik moet mense wel met tyd die antwoord van die geloof leer gee – en daarom sien ons in die Ou Testament ook die dringende oproep dat ouers die kinders vertel van God se groot dade, en hulle opvoed in die vrese van sy Naam; ons sien dus die belangrikheid dat die kinders katkisasie ontvang – maar geloof is nie ‘n bepalende element van die verbondsluiting nie. Wanneer God sy verbond met Abraham sluit, dan word die nageslag, van jongs af, daarby betrek. Hulle is deel van die verbond, die teken in hulle vlees is die bewys daarvan. Ook aan hulle behoort God se heerlike beloftes.

Kom ons kyk nou kortliks na die verbondsluiting by die Sinai. 

* By die Sinai sluit die Here opnuut met sy volk ‘n verbond, en gee Hy sy wet as riglyn vir hulle lewens. Dikwels word gesê dat ons hier met ‘n totaal ander soort verbond te make het as by Abraham. By Abraham sou ons te doen hê met ‘n verbond van genade, terwyl die verbond by die Sinai weer meer beweeg in die rigting van ‘n werkverbond. Maar is dit so, broers en susters?

Deur die groot aantal wette en gebooie wat ons by hierdie verbondsluiting teëkom, wil dit inderdaad soms voorkom asof ons hier met ‘n ander soort verbond te make het. Ons lees immers in Exodus 24:8: “Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat die HERE met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde.” ‘Al hierdie woorde’ verwys dan na al die wette en bepalings wat ons in die boek Exodus vind. Is dít nou die grond van hierdie verbond? Is dit ‘n verbond van wette en reëls? 

Nee, gemeente, ons moet naamlik ‘n bietjie verder terug gaan in die boek Exodus, na hoofstuk 6:2-4. Daar lees ons hoe die Here aan Abraham, Isak en Jakob verskyn het, en met hulle ‘n verbond opgerig het om aan hulle die land Kanaan te gee. En dan sê die Here in vers 4: “en Ek het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink.” Die verbond met Abraham, wat die Here teenoor Isak en Jakob herhaal het, is dus die rede en die grond waarom die Here nou met Israel bemoeienis maak. Hy gaan dus verder met sy een verbond; Hy gaan ook verder met sy belofte van ‘n groot volk, en sy belofte van die land Kanaan. En nog steeds geld dieselfde oproep: glo in My!

Maar wat dan van al die wette en bepalings? Wel, sê Paulus in Galasiërs 3:17, die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het – dus, 430 jaar ná God se beloftes aan Abraham – hierdie wet maak die verbond en die belofte nie tot niet nie. God se wette en bepalings skuif dus nie die beloftes opsy nie. Maar, gaan Paulus verder in vers 19, wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad – totdat Christus – sou kom. In vers 24 noem Paulus die wet selfs die tugmeester, die lyfwag as’t ware, totdat Christus gekom het. Die wet het die volk by God se verbond met Abraham bewaar totdat die Verlosser gekom het.

Die verbond by die Sinai staan dus volledig in die lyn van God se verbond met Abraham, al het die wet addisioneel bygekom om die volk by daardie verbond te hou. Dus weereens, gemeente, dieselfde grondpatroon.

Maar wat nou van die nuwe verbond? Kom ons let vervolgens daarop. 

* Op verskeie plekke in die Ou Testament word gepraat van die Here wat ‘n nuwe verbond met sy volk gaan sluit. Dink aan gedeeltes in Jeremia 31 en 32 en Esegiël 37. Gemeente, as ons hoor van ‘n nuwe verbond, dan moet ons nie dink dat dit ‘n totaal ander verbond is nie. Al die elemente wat in die ou verbond bestaan het, kom ook in die nuwe verbond weer na vore. God se beloftes, sy wet, sy oproep tot geloof – die hele grondpatroon is nog dieselfde as deur die loop van die Ou Testament. Wat ons wel kan sê, broers en susters, is dat die nuwe verbond kragtiger is. Nie kragtiger wat betref inhoud nie, maar hierdie verbond funksioneer kragtiger vanweë die werk van Jesus Christus aan die kruis. Deur sy kruisdood het Christus die Gees in oorvloed verdien waardeur die beloftes kragtiger in ons harte beseël word, waardeur die wet dieper op ons harte geskrywe word, en waardeur die antwoord van die geloof soveel kragtiger deur die Gees gewerk word. In hierdie sin is die verbond nuut, kragtiger, maar dit is nie ‘n ander verbond nie.  

Ons kan wel sê dat sekere aspekte van die verbond verander het. In die eerste plek, die beloftes in die ou verbond het baie meer die klem gelê op die fisiese en aardse – ‘n groot nageslag en ‘n vrugbare land, beloftes wat as voorbereiding gedien vir die koms van die Messias om die Nuwe verbond in te lui. En ‘n ander aspek wat verander het, is dat deur Christus se bloedstorting aan die kruis die besnydenis oorgegaan het in die doop. Wat eers ‘n bloedige teken was – die besnydenis – as heenwysing na die bloed wat nog moes vloei, word nou deur Christus omgesit in ‘n nie-bloedige teken – die doop.

Gemeente, dit was ‘n lang pad wat ons geloop het om nou weer by die doop uit te kom. Maar dit is nie sonder belang nie. Want as ons nie hierdie oorsig steeds weer voor oë hou nie, gaan ons êrens die begronding en die krag van die kinderdoop verloor. Wat ek probeer aantoon het, is dat die leer van die kinderdoop alles te make het met wat ons van God glo! Ons doopsleer is onlosmaaklik aan ons Godsleer verbonde!  

Vanaf die begin vertoon God se omgang met mense ‘n baie duidelike patroon – ons het rofweg gesien hoe daardie patroon lyk. En een van die aspekte van daardie patroon is dat kindertjies deel is van die verbond; vanaf die begin werk God in die lyn van die geslagte: kyk maar na Adam en Eva wat vrugbaar moes wees en moes vermeerder; kyk maar na God wat vyandskap stel tussen die slang se saad en die vrou se saad – die heil, maar ook die onheil, werk dus via die geslagte; kyk verder maar na Abraham wat die babaseuntjies moes besny, kyk na die geslagsregisters in die Ou Testament, kyk na die geslagsregisters in Matheus en Lukas, kyk na Paulus se aanwysings oor die belangrikheid om ons kinders onderrig te gee, kyk na Paulus se aanwysing dat die kinders deur die gelowige ouers geheilig is. Genoeg aanduidings!

Maar wag… ons lees dan nêrens in die Nuwe Testament dat kindertjies gedoop word nie. Nee, natuurlik nie, want die christene het eenvoudig God se grondpatroon van eeue se omgang met die mens voortgesit. Hoekom? Baie belangrik, broers en susters: omdat hulle geweet het wie hulle God is; omdat hulle geweet het dat God gister, vandag en môre dieselfde is; hulle kon sien dat daar kontinuiteit is in God se omgang met mense omdat Hy self onveranderlik is. En daarom was dit vir hulle ‘n uitgemaakte saak dat die kindertjies deel is van die verbond – soos deur alle eeue heen! Ons lees daarom ook op verskeie plekke in die boek Handelinge dat so en so gedoop is en hulle hele huisgesin. Almal – ook die kinders was deel daarvan. Of daar babatjies in daardie gesinne was? Ons weet nie, maar as daar was, is hulle verseker ook gedoop!  

Gemeente, moet die jong kinders ook gedoop word? Ja, antwoord die Kategismus, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is. Ons weet dit, ons sien dieselfde grondpatroon deur die loop van die heilsgeskiedenis, ons vind die grond vir die kinderdoop in ons onveranderlike en troue Bondsgod, God van wordende geslagte, tot in ewigheid die Heer. En wat ‘n troos is dit nie! Ons kindertjies is vanaf hulle allereerste begin in God se hand, ons kindertjies kan vanaf die allereerste begin ‘n beroep doen op God se beloftes van vergifnis en nuwe lewe – en as hulle nog te klein is om dit self na behore te doen, dan doen ons dit vír hulle. Ons kindertjies kan vanaf die allereerste begin opgeroep word om hulle God te dien – en natuurlik gaan ‘n eenjarige dit nie doen soos ‘n twintigjarige of ‘n tagtigjarige nie, maar hy kan antwoord – léér hom dit. Ons kindertjies is ook vanaf hulle allereerste begin veilig by Vader. En sou God besluit om hulle vroeg uit hierdie lewe weg te neem, dan ontvang ons as gelowige ouers egte verbondstroos – hy was gedoop, sy was gedoop. Die God van ons lewe is ook hulle God! 

Broers en susters, laat ons – soos die Kategismus sê – ons kinders onderskei van die kinders van die ongelowiges. Laat ons nie ophou om aan hulle die merkteken van Christus te gee nie. Laat ons hulle opvoed om die verbond te leer verstaan en daarop te antwoord – bid daarom ook vir die opvoeding en die katkisasies en die gereformeerde onderwys. En laat ons, wanneer ons volwasse geword het, ook vanuit die rykdom van ons doop lewe. God het Hom aan jou verbind – dit is sy inisiatief! Jou lewe is daarom goed veranker, hoe woes die golwe van jou daaglikse bestaan ook al slaan. Glo dit! Meer nog: glo in Hom! Dan is jy ‘n kind van Abraham, en volgens die belofte erfgenaam van die ewige lewe.

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 29:1, 2 en 4
Gebed
Lees: Galasiërs 3
Sing Ps. 47:1 en 4
Teks: HK, Sondag 27, v/a 74
Preek
Amenlied Ps. 105:4, 5, 6 en 23
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 89:1, 3 en 11
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)