Christus se wêreldnuus agter die wolke…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2007-05-17
Teks: 
1 Petrus 3:17-22
Preek Inhoud: 

HH van Alten : 1 Pet 3:17-22

1 Petrus 3:17-22

Ds HH van Alten - Hemelvaart 17 Mei 2007

Lees: 1 Petrus 3:8-22;  Handelinge 1:9-11;  Efesiërs 6:10-13
Teks: 1 Petrus 3:17-22
Sing: Sien liturgie

Tema: Christus se wêreldnuus agter die wolke…

  1. Ons stryd
  2. Christus se oorwinning
  3. Ons stryd deur Christus se oorwinning

Geliefde gemeentes van ons Oorwinnaar, Jesus Christus,

Die hemelvaart van ons Heiland word in die evangelies met slegs ‘n paar woorde vertel. In Markus lees ons: “Nadat Hy dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.” Lukas sê slegs: “En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem.” Mattheus en Johannes vermeld nie eens ‘n enkele woord oor Jesus se hemelvaart nie. Die meeste inligting kry ons waarskynlik in Handelinge 1:9: “En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het hom voor hulle oë weggeneem.” Maar weereens is dit nie geweldig baie nie… 

Die enigste wat ons waarskynlik uit hierdie paar sinnetjies oor Jesus se hemelvaart wys kan word, is 1) dat slegs die elf dissipels iets van die hemelvaart gesien het, 2) hoe die hemelvaart begin het, naamlik dat Jesus opgeneem is en dat ‘n wolk Hom aan die sig van sy dissipels onttrek het, en 3) waarmee die hemelvaart geëindig het, naamlik dat Hy sy plek aan die regterhand van die Vader ingeneem het. Dit is ongeveer die stukkies van die legkaart wat vir ons beskikbaar is. Of … is daar meer?

Sou dit nie geweldig boeiend gewees het nie, broers en susters, om te weet wat presies gebeur het in die periode vandat Jesus aan die gesig van sy dissipels onttrek is, totdat Hy in die hemel aangekom het? Sou dit ons in ons geloof verder kon help as ons Jesus se hemelse reisroete tot agter die wolke kon naspeur? Wel, die bybel lig vir ‘n oomblik die sluier oor Jesus se reis van die aarde na die hemel. Kom ons luister op hierdie Hemelvaartsdag na die Gees se verkondiging oor Christus se hemelvaart in 1 Petrus 3.

Tema: Christus se wêreldnuus agter die wolke…

  1. Ons stryd
  2. Christus se oorwinning
  3. Ons stryd deur Christus se oorwinning

 

1. Broers en susters, teen wie of waarteen is ons stryd as gelowiges? Teen wie veg ons? Wie is jou groot vyande in die stryd van die geloof? Hierdie is geen onsinnige vrae nie. Want sonder dat ons dit agterkom, raak mense en instellings en aardse dinge dikwels ons groot vyande: die regering is ons groot vyand, want hulle voer allerhande liberale wetgewing oor homoseksualiteit en aborsie deur. Of: die televisie is ons groot teenstander, want daarop word dinge vertoon wat ons en ons kinders se morele waardes aantas. Of: ongelowiges is ons groot vyande, want hulle belaster God en ons geloof.

Nou, Petrus stuit, by diegene aan wie hy sy eerste brief skryf, op hierdie selfde saak. Sy lesers was christene binne ‘n agressief-vyandige omgewing. Laster en diskriminasie was vir Petrus se lesers nie onbekend nie; en as hulle nie belaster is nie, dan was daar in elk geval altyd kritiese vrae oor die geloof. Hoe moes hulle hiermee omgaan?

Petrus leer sy lesers in hoofstuk 2 en 3 hoe hulle hulself moet opstel teenoor die vyandige omgewing waarbinne hulle as christene gelewe het. Dit kon naamlik so maklik gebeur dat die lesers – net soos wat ons dit vandag dikwels doen – hulle geloofstryd teen die vyandige omgewing begin rig; dat die vyandige omgewing hulle vyand word…

Maar dan leer Petrus: teenoor julle omgewing, teenoor die mense om julle heen, moet julle aanhou om die goeie te doen! Ons lees byvoorbeeld in hoofstuk 2:12: “… hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.” En in hoofstuk 2:15: “Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring.” Vervolgens konkretiseer Petrus hierdie oproep tot ‘goed doen’; verskillende groepe in die gemeente kry raad oor hoe om hierdie ‘goed doen’ gestalte te gee in hulle unieke situasies: diensknegte word begelei in hulle houding tenoor hulle here (2:18-25), vroue kry raad in hulle optrede teenoor hulle manne (3:1-6), en manne word begelei in die regte optrede teenoor hulle vroue (3:7).

 In die laaste gedeelte van hoofstuk 3, dus vanaf vers 8, herhaal Petrus nou dieselfde opdrag om die goeie te bly soek – maar nou vir alle lede van die gemeente. Dus, hou aan om die goeie te doen, want “wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie?” (vers 13) Natuurlik, dit is soms makliker gesê as gedaan. En Petrus weet dit ook… Petrus weet dat die gelowiges, ook al doen hulle die goeie, tog nog dikwels gespot en belaster sal word. Dit kan gebeur dat christene vanweë die goeie lyding sal moet verduur. En tog bly die oproep onveranderd: hou aan om die goeie te doen. Moet dus nie julle stryd rig teen die mense of teen die vyandige omgewing nie. Wees hulle goedgesind, doen goed aan hulle, want húlle is nie julle groot vyande nie… Maar wie dan wel?

Om dit te beantwoord wys Petrus vervolgens op die lyding van Jesus Christus – as daar iemand was wat met ‘n vyandige omgewing te make gekry het, was dit Hy. Maar ons lees nêrens dat Jesus vyandig teenoor sy vyandige omgewing opgetree het nie. Inteendeel, Jesaja leer ons in hoofstuk 53 dat die Regverdige sy mond nie oopgemaak het nie (vers 7) en dat Hy vir die oortreders gebid het (vers 12). Jesus rig Homself dus nie teen sy vyandige omgewing nie; nee, tot die einde toe gaan Hy voort om goed te doen, ook aan sy vyande.

Maar dan kom daar ‘n opvallende wending in Petrus se betoog. Ons lees in verse 19 en 20 dat Jesus ná sy opstanding heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis wat eertyds ongehoorsaam was in die dae van Noag. Ons sal net hierna kyk wat dit beteken wat Jesus hier gedoen het. Maar dit gaan vir my nou oor die ongehoorsame geeste in die dae van Noag. Hierdie geeste, broers en susters, verwys na die opstandige engele in die tyd van voor die sondvloed. Hierdie opstandige engele het in die tyd van Noag ‘n onweerstaanbare verleiding op geweldig baie mense uitgeoefen. Hierdie opstandige engele was die oorsaak daarvan dat die ongehoorsaamheid en afval op die aarde in daardie tyd ‘n ongekende dieptepunt bereik het, sodanig dat die Here in Genesis 6:5 moes konstateer dat die boosheid van die mens op die aarde groot was, en dat al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was.

Petrus wys dus vir sy lesers wat die agterliggende krag was vir die vyandige en afvallige omgewing waarin Noag gelewe het. En daarmee wil hy sy lesers laat besef waar die groot gevaar lê, wie die groot vyande is. Die grootste gevaar vir sy lesers is nie soseer geleë in die lyding wat mense hulle aandoen nie. Die groot gevaar lê nie in mense wat kritiese vrae stel oor die geloof, of wat die gelowiges belaster, of wat hulle selfs vervolg nie. Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, soos Paulus in Efesiërs 6:12 sê. Nee, ons groot stryd is teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug! Dit was húlle wat in die tyd van Noag die oorsaak van die afval was, en dit is húlle wat ook in Petrus se tyd nog daarna soek om mense tot ongehoorsaamheid te bring, en wat ongehoorsame mense tot vyandigheid teen die gelowiges bring. Petrus weet dat menslike ongehoorsaamheid veroorsaak word deur duiwelse ongehoorsaamheid. Sonder dat hulle dit agterkom, raak mense vasgevang in die mag van ongehoorsame geeste, gevalle engele, en word hulle ‘n prooi vir die duiwel. Op die agtergrond van die menslike geskiedenis is opstandinge en duiwelse geeste besig om te opereer, besig om mense te manupileer tot afval van God.

Ook in die wêreld van die 21ste eeu is dit nie vlees en bloed teen wie ons stry nie, broers en susters. Dit is nie mense wat ons vyande is, en teen wie ons ons stryd moet rig nie. Inteendeel, ons word juis opgeroep om op ‘n goeie manier met mense om te gaan. Kyk maar na hoofstuk 3:9: “Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel…” En in hoofstuk 3:15 word ons opgeroep om op enige oomblik wanneer dit van ons geëis word, rekenskap af te lê van die hoop wat in ons is. Nee, broers en susters, ons stryd is nie teen mense nie, die groot gevaar wat ons, as gelowiges, in die gesig staar, is nie die regering of die televisie of selfs die grootste ongelowige nie. Nee, ons groot stryd is teen die bose magte in die lug, wat hulleself agter die wolke verskuil en soek wie hulle kan aanval. Húlle is die aanhitsers van dít wat onder mense as sondig en vyandig te voorskyn kom. Sien daarom u groot stryd teen die sonde ook in daardie lig: vanuit die lúg kom die dreiging op u en my lewe af. Agter die wolke skuil ons werklike vyande…

En lees nou weer Handelinge 1:9: “… en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.” Wat het tydens Jesus se hemelvaart daar agter die wolke, die skuilplek van die bose geeste, gebeur?

Daarop let ons vervolgens: Christus se oorwinning

2. Christus moes as Regverdige vir die onregverdiges ly. Hy is uiteindelik doodgemaak deur die mense, maar God die Gees het Hom weer lewend gemaak (vers 18). Vervolgens – so lees ons in vers 19 – het Hy deur die krag van dieselfde Gees heengegaan. Heengegaan waarheen? Wel, ons vind hierdie woord ‘heengaan’ in vers 19 sonder enige nadere toeligting, maar in vers 22 vind ons hierdie woord weer, en dan word bygevoeg waarheen Hy ‘heengegaan’ het – “na die hemel”. Dit gaan hier dus oor Christus se heengaan na die hemel, sy hemelvaart.

En ons lees dan dat daar iets tydens hierdie heengaan gebeur het. Petrus gee vir ons inligting oor iets wat tydens Christus se hemelvaart plaasgevind het. Ons kry ‘n unieke kykie in die periode tussen sy verdwyning voor die oë van die dissipels en sy aankoms in die hemel by die Vader. Petrus, wat self een van die dissipels was wat Jesus agter die wolke sien verdwyn het, kry op ‘n later stadium van God insig in ‘n andersins onbekende gebeurtenis, wat hy weer vir sy lesers en vir ons deurgee. Wat sien hy?

Wel, Petrus vertel vir ons dat Jesus tydens sy hemelvaart gepreek het vir die geeste in die gevangenis (vers 19). Nou het ons reeds hierbo gesê dat hierdie geeste die gevalle engele is, wat die mense in Noag se dae tot ongehoorsaamheid aan die Here gebring het. “In die gevangenis” dui daarop dat hierdie geeste – anders as die ménse in Noag se dae wat in die vloedwater verdrink het – deur God in bewaring gehou word in afwagting op hulle veroordeling. Dieselfde lees ons in 2 Petrus 2:4: “Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word”, en ook in Judas 6: “En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar…” Vir hierdie gevalle engele preek Jesus nou tydens sy reis na die hemel.

Hoekom? Om hulle tot bekering te bring? Dit is hoogs onwaarskynlik, aangesien ons niks lees oor die inhoud van die prediking of die gevolg van die prediking nie. Ons lees eenvoudig dat Hy gepreek het vir die ongehoorsame geeste, die gevalle engele. En dan moet ons nie dink dat Jesus agter die wolke gestop het en met woorde tot hulle gespreek het nie; nee, sy hemelvaart was sy prediking. Dit was prediking met die daad: die boodskap was opgesluit in die feit van sy heengaan. Jesus se hemelvaart was genoeg verkondiging om die ongehoorsame engele in skaamte aan Hom te onderwerp.

Deur middel van sy hemelvaart het Jesus dus sy oorwinning oor die bose magte bekend gemaak. Die nuus van sy triomf het by sy hemelvaart wyd en syd bekend geword vir die bose magte in die lug. Broers en susters, by Jesus se hemelvaart was daar dus meer toeskouers as slegs mense. Ja, die mense – sy dissipels – het uitgegaan en Christus se oorwinning oor die breedte van die aarde gaan verkondig. Maar Hy self het dit in die hemelse sfeer verkondig. Hoeveel magte daar ook tussen hemel en aarde is, geen van hierdie magte was in staat om Jesus op sy reis na die hemel te keer nie. Triomfantlik het Hy al hoër en hoër gegaan, tussen alle magte deur, oppad na die hoogste ereplek aan die regterhand van die Vader. Hiermee het Christus self met die daad sy oorwinning oor al sy vyande bekend gemaak.

En noudat Christus aan die regterhand van God sit, is alle engele en magte en kragte aan Hom onderwerp (1 Petr. 3:22). Op sy plek aan God se regterhand is Christus verhewe bo alle bo-aardse wesens. Hoeveel outoriteit hierdie bo-aardse wesens ook mag hê, en hoeveel druk hulle ook al kan uitoefen – almal moet in Hom hulle meerdere erken. Van nou af moes sy teenstanders met eerbied na Hom opkyk.

Broers en susters, wat ‘n heerlike boodskap vir die gelowiges aan wie Petrus sy brief skryf, en vir die gelowiges deur alle tye, ook vandag hier in Pretoria; ‘n heerlike boodskap vir almal wat besef dat hulle groot stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose geeste in die lug – en wat daardie stryd ook so knaend ervaar in hulle lewens. Wat ervaar dat in die regering en in die televisie en in elke ongelowige en in watter vorm die sonde homself ook al uit, die bose geeste besig is om hulle duiwelse werk te doen. Vir elkeen wat hierdie stryd ervaar en wat soms dreig om moed op te gee, mag ek die evangelie verkondig van Christus se wêreldnuus agter die wolke: dit is die evangelie van ons Oorwinnaar wat heers oor alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige (Ef. 1:20-22). Dit is hierdie Christus aan wie die HERE gesê het: “Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete!”

Broers en susters, ons groot vyande is verslaan – hulle moes dit self met skaamte erken. Tydens sy lewe al moes die bose geeste Hom gehoorsaam, en het hulle voor Hom gebewe. Maar met sy hemelvaart het Hy hulle die finale nekslag toegedien. Ja, hulle probeer nog, hulle rig nog hulle aanvalle vanuit die lug, maar op die mespunt van die geskiedenis het Christus die oorwinning behaal en Hy het dit openlik gaan verkondig aan al sy en ons teenstanders. Ons is daarom, vandag alreeds, meer as oorwinnaars deur Hom vir Wie ons mag lewe en vir Wie ons mag stry.

Hierop let ons ten slotte: Ons stryd deur Christus se oorwinning.

3. Broers en susters, die bose geeste was in die dae van Noag die drywende krag agter die groot afval – net soos deur die hele geskiedenis heen. Maar, let op, in die dae van Noag was daar nie slegs afval en ondergang nie; nee, daar was ook redding. Vir agt mense… God laat dus nie toe dat die bose geeste sy kinders in hulle mag kry nie. Tussen die watergolwe deur het God Noag en sy gesin in die ark bewaar.

Petrus trek dit nou deur na die doop. Soos wat God Noag en sy gesin deur water heen gered het, so is die doop vandag redding vir God se kinders. Nou moet ons nie dink dat die doop outomaties ook alle sondes en onreinheid vir goed uit ons lewens wegwas nie. Petrus sê immers: “die doop … is nie ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie.” ‘n Gedoopte kan dus nie sy hande in onskuld was nie. Met die doop het daar geen definitiewe einde gekom aan die invloed van die vervuiling deur die bose geeste nie. Nee, Petrus tipeer die doop as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete. En met gewete bedoel Petrus ‘n houding, ‘n mentaliteit, wat op God gerig is. Die gewete funksioneer eers goed wanneer iemand bewustelik met God in sy lewe rekening hou. Met die doop word dus ‘n dringende appél op God gedoen om so ‘n gewetensvolle lewenshouding vir sy kinders te skenk. Die dopeling wil, ten spyte van die sonde wat hy nog daagliks doen en waartoe die bose geeste hom moontlik nog verlei, tog vir die res van sy lewe op God gerig bly, die naald van sy kompas wil hy boontoe laat wys.

Petrus wys egter dat hierdie gewetensvolle lewenshouding slegs ons s’n is deur die oorwinning van Jesus Christus. Ons Godgerigtheid, waarvoor ons in die doop vra, is slegs moontlik omdat Christus die oorwinning behaal het. Sy publieke oorwinningstog, sy hemelvaart, is die grond waarop ons mag weet dat ons die stryd, om op God gerig te bly, kan volhou. En dit is ook hierdie krag wat Petrus graag in sy lesers se lewens werksaam wil sien. Die krag van Christus se oorwinning wat hulle help om ‘n lewe te lei wat pas by die Oorwinnaar.

En dan hoef hulle nie vyandig op te tree teen mense wat hulle belaster en hulle vervolg nie; dan hoef hulle hulself nie te verdedig wanneer hulle ter wille van die geloof moet ly nie. Nee, dan kan hulle eenvoudig voortgaan om die goeie te doen – dan help dit diensknegte om aan hulle here onderdanig te wees, dan help dit vroue om hulle ongelowige mans sonder woorde vir die Here te wen, dan help dit manne om aan hulle vroue eer te bewys, dan help dit elke gelowige om enige oomblik van die dag verantwoording te doen van sy geloof.

Broers en susters, sien u watter krag die oorwinningstog van Jesus Christus bring in die lewe van elke gedoopte. Nie die krag van geweld wat kwaad met kwaad, en skeldwoorde met skeldwoorde vergeld nie. Maar die krag van ‘n goeie gewete wat die stryd teen die bose geeste kan aangaan. Die krag van die geloof wat ons help om teenoor medegelowiges eensgesind, medelydend, vol broederliefde, ontferming en vriendelik te wees. Die krag van die geloof wat jou in staat stel om enige oomblik – waar mense dit ook al mag eis – rekenskap te gee van die hoop wat jy het op die ewige lewe. Die krag van die geloof wat bereid is om onregverdige lyding te verduur.

Want ons weet: ons stry nie teen mense nie, ons stry teen die bose geeste – en in daardie stryd is die oorwinning reeds behaal. Lewe dan soos oorwinnaars, mense wat weet dat hulle eendag saam met Christus op trone sal sit en sal oordeel en regeer oor elke mag en krag. Laat blyk dat jy ‘n oorwinnaar is – dit is immers geen geheim nie! Christus het dit dan publiek bekend gemaak. Dit is nie so dat die triomferende kerk in die hemel is, terwyl die strydende kerk op aarde is nie; nee, hier op aarde is ons reeds triomferend in ons stryd. En ons stryd met die belofte in Romeine 16:20 dat die God van vrede die Satan spoedig onder ons voete sal verbrysel. 

Amen

Liturgie (oggend)

  • Groet en afkondigings
  • Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
  • Sing Ps. 68:8 en 9
  • Gebed
  • Lees:     1 Petrus 3:8-22
    •     Handelinge 1:9-11
    •     Efesiërs 6:10-13
  • Sing Ps. 34:7 en 8
  • Teks: 1 Petrus 3:18-22
  • Preek
  • Amenlied Ps. 110:1-4
  • Gebed
  • Belydenis van geloof (staande en singende)
  • Kollekte
  • Slotsang Ps. 47:1-4
  • Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)